Psalm 17:14: Tekskritiek as kritieke eerste stap tot Bybelvertaling
ABSTRACT
Psalm 17:14: Text criticism as critical first step to Bible translation
The aim of this article is more to pose and articulate a certain problem rather than to provide solutions. The subject is often associated with some emotional and confused responses when presented to the ordinary Bible reader, and through the ages it still continues to baffle the most learned academics, namely that of text critical problems in the source texts of the Bible. Using Psalm 17:14, an exceptionally difficult verse to translate, as an example the author wishes to draw attention not only to a responsible approach to the text from a translator’s or minister’s point of view, but also to the sensitive conveyance of such information to the ordinary reader who might consider the book-physically-inhand as the very Word of God. It should be noted that this article is not intended to be technical in nature, since its main purpose is simply to pose a problem and make a few short remarks on the subject, which might hopefully be useful to a wider audience as well.
1. INLEIDING: KLEMVERSKUIWING IN BYBELVERTALING
Alhoewel die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap op 23 Augustus 1820 gestig is, het dit eers op 1 November 1965 onafhanklik van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap begin funksioneer. Hierdie onafhanklikheidswording het groot optimisme laat opvlam vir Bybelvertaling.
Daar kan twee tydvakke in Bybelvertaling in ons land onderskei word. Aanvanklik word Bybelvertalings gekenmerk daaraan dat dit gemaak is volgens die voorbeeld van die Bybels wat aan die sendelinge bekend was. Die sendelinge het aanvanklik woord vir woord, funksioneel ekwivalent vertaal. Die probleem hiermee was dat deur so na aan die Grieks en Hebreeus te hou, dikwels onreg aan die idioom van die reseptortaal gedoen het, tot by die punt waar die vertaling dikwels moeilik was om te verstaan (Hermanson 1999:3). Tydens ’n seminaar by Turfloop (8-26 Julie 1967) is die teorie van dinamies funksionele ekwivalensie as normatief aanvaar vir vertalers wat onder die vaandel van die Bybelgenootskap in Suid-Afrika werksaam was. ’n Basiese uitgangspunt van hierdie teorie was dat verstaanbaarheid van die eindproduk voorrang geniet bo die vorm van die oorspronklike (Omanson 1995:408). Die huidige Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983) is volgens hierdie teorie gedoen. ’n Vertaler wat volgens hierdie teorie te werk gaan, moet probeer om die betekenis van die grondteks akkuraat weer te gee sodat die leser in die teikentaal gelei kan word om die teks korrek te verstaan en om dieselfde respons by die reseptorgehoor te wek as wat daar was by die brontaalgehoor (Noss 1998:67).
In Augustus vanjaar1 word ’n konferensie gehou deur die Bybelgenootskap met die tema “The future of Bible translation in South Africa in the light of recent developments in the field of translation studies”. Alhoewel Eugene Nida grootliks ’n skuif in Bybelvertaling veroorsaak het, weg van vorm na betekenis, veronderstel so ’n konferensie dat daar in die laaste tyd verdere skuiwe in vertaalkunde gemaak is. Aangesien funksionele ekwivalensie die een teorie is waarmee die meeste predikante en Afrikaanssprekende kerkgangers nog steeds te doen kry in die vorm van die huidige Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (NAV), gaan ek ’n kort beskrywing gee van hierdie teorie en miskien ’n paar kritiese opmerkings maak. Die doel hiervan is om die leser bewus te maak van ’n behoefte by gewone Bybellesers en dalk ook kerkgangers na iets meer as wat die NAV bied. Moontlike tekortkominge van hierdie manier van vertaal word geïllustreer aan die hand van Psalm 17:14. Daar sal in ’n addendum verwys word na die maniere waarop ander vertalings hierdie moeilike vers gehanteer het.
Alhoewel hierdie artikel slegs die punte van verskeie ysberge aanraak, is die doel om vertalers van ’n moontlike volgende Afrikaanse Bybelvertaling – maar ook predikante wat tydens hulle voorbereiding met die komplikasies in ons teks te doen kry, komplikasies waarvan gewone Bybellesers nie altyd bewus is nie – daarop te wys dat nog lank voordat daar gefilosofeer kan word oor ’n vertaalteorie en, in die geval van predikante, nog lank voordat daar eksegese gedoen kan word, elkeen eers baie duidelik vir hom- of haarself moet formuleer presies wat hulle beskouing van hulle grondteks is.
2. FUNKSIONELE EKWIVALENSIE2
2.1 Kenmerke en werkmetode
’n Basiese vooronderstelling van die funksioneel ekwivalente vertaalteorie is dat Eugene Nida aanvaar het dat tale in hulle oppervlakstruktuur mag verskil, maar dat hulle ooreenstem in terme van ’n kernbetekenis. Die taak van die vertaler is om die Bybelse grondtale se komplekse oppervlakstrukture af te breek tot op die vlak van daardie onderliggende kernbetekenisse, wat geherformuleer word in die reseptortaal (Naudé 2000:5).
In verskeie geskrifte3 beskryf Nida sy teorie in kontras met formele ekwivalensie. Nida (1997:24) beskou woord vir woord vertalings selde as geslaagd, aangesien letterlike vertalings soms nie sin maak nie en misleidend kan wees. Die teorie van funksionele (dinamiese) ekwivalensie streef na akkuraatheid in vertaling deur dit te definieer in terme van dié mate waarin ’n vertaler daarin kon slaag om die kernbetekenis oor te dra tussen die bron- en die reseptortaal (Naudé 2000:6).
Olivier (1973:iii) beskryf Nida se vertaalmetodiek as bestaande uit drie fases:
i. Die semantiese komponente van die brontaal word ontleed met die doel om dit te herlei na basiese konsepte en kernsinne, waaruit die woorde, frases en sinne ontwikkel het. Dit vorm die sogenaamde oppervlakstruktuur.
ii. Eenvoudige kernsinne in die gedagte van die vertaler word in die ekwivalent van die reseptortaal oorgedra.
iii. Die ekwivalente kernvorme word geherformuleer en aangepas by die gepaste oppervlakstruktuurvorme in die reseptortaal.
2.2 Leeshulpe
Dit is duidelik dat die verstaanbaarheid van die eindproduk baie hoog op die prioriteitslys is, naamlik dat ’n vertaling verkieslik maklik verstaanbaar moet wees, selfs as dit net voorgelees word. Ds J C Oosthuysen (aangehaal deur Hermanson 2000) vertel glo die verhaal van ’n ouerige, ongeletterde Xhosasprekende dame wat hom kom vra het waarom dit so is dat hy heel goed Xhosa kan praat in ’n normale gesprek, maar dat sy Xhosa so sleg is wanneer hy uit die Bybel lees. Hierdie Xhosa-Bybel waarvan die dame gepraat het, was natuurlik die ou Xhosavertaling. Hermanson (2000) gebruik hierdie gebeurtenis om die verskille tussen die ou en die nuwe (1996) vertaling in Xhosa te illustreer, naamlik dat die vertaling meer tred wil hou met die hedendaagse spreektaal.
Behalwe vir die leesbaarheid van die teks van die vertaling wil ons die aandag verskuif na verskeie hulpmiddele wat moontlik in so ’n Bybel aangebring word om dit vir die leser makliker te maak om te verstaan. Waarop ek veral wil fokus, is die gebruik van voetnotas, wat ons later sal bring by die voorbeeld van Psalm 17:14.
Die Good News Bible/Today’s English Version (GNB/TEV) is volgens funksionele ekwivalensie vertaal. In sy bespreking van die kenmerke van hierdie vertaling noem Nida (1977:22) dat daar verskeie tipes kant- en voetnotas aangebring is. Hy gee spesifiek meer aandag aan daardie soort voetnotas wat alternatiewe vertalings weergee. Aan die een kant vra Nida (1977:80) wat ’n vertaler te doen staan wanneer hy gekonfronteer word met ’n moeilike lesing. Dit kan wees dat die Hebreeus net eenvoudig nie sin maak nie (tekskritiek). Op ’n ander vlak: sommige Hebreeuse woorde se betekenis is onseker.4 Sy grootste oorweging is dat die vertaling moet sin maak vir die hedendaagse leser. In wat volg, gee hy baie aandag aan die manier waarop die vertalers met tekskritiese probleme omgegaan het in die maak van die GNB.5 Hy verwys na ’n sekere komitee wat deur die UBS6 aangestel is om aanbevelings te maak in verband met die rekonstruksie van moeilike lesings in die Hebreeuse Teks (MT) (Nida 1977:93).
Volgens Nida (1997:28) behoort agtergrondinligting in voetnotas, inleidings tot Bybelboeke en woordelyste vervat te word, eerder as om dit tot die teks te voeg. Bykomende informasie sou kon wees ’n voorwoord tot die vertaling waarin die beginsels waarvolgens die vertaling gedoen is, verduidelik word.
2.3 Kritiek
Daar word baie kritiek op die funksioneel ekwivalente vertaalteorie gelewer. Dit is sekerlik ’n baie edele beginsel om die Bybel in die eerste plek vir die leser verstaanbaar te wil maak, maar een van die vele implikasies daarvan is dat ’n vertaling grootliks die produk van ’n interpretasieproses is,7 naamlik dat dit die vertaler se taak is om die grondteks vir en namens die leser te interpreteer en hierdie interpretasie so duidelik moontlik in die reseptortaal te formuleer. “Die prys wat die lesers betaal, is dat hulle verlief moet neem met die tekortkominge en interpretasies van die vertalers” (Van der Merwe 1999:296).8
Dieselfde sou gesê kon word van die funksioneel ekwivalente teorie se hantering van tekskritiese probleme in die MT. Aangesien die teorie hoofsaaklik beweeg vanuit die vasstel van ’n kernbetekenis, sou na analogie hiervan gevra kon word wat die vertaler te doen staan indien hy gekonfronteer word met ’n teks waarin hierdie kernbetekenis blyk om juis baie obskuur te wees. Volgens hierdie teorie moet tekskritiese arbeid gebruik word om ’n beste/oorspronklike lesing vas te stel sodat dit kan dien as basis vir die vasstel van ’n kernbetekenis.9
Uiteindelik, in sekere sin na ’n baie lang inleiding/agtergrondinligting, beweeg ek na die probleem wat hierdie artikel aan die orde probeer stel: die hantering van tekskritiese probleme in die aanbieding van ’n vertaling. Dit is duidelik dat daar in die afgelope tyd heelwat verskuiwings plaasgevind het op die gebied van vertaling. Wishart (1999:36) gee ’n breë oorsig oor verskeie vertaalteorieë en daarna formuleer hy kriteria waaraan ’n goeie vertaling gemeet kan word. Alhoewel, soortgelyk aan Nida se uitgangspunt, ’n hoë premie geplaas word op verstaanbaarheid en leesbaarheid, word daar ’n paar kriteria bygevoeg wat dalk, na my mening, meer rekening hou met die kompleksiteit van menslike kommunikasie, asook die kompleksiteit van ons grondteks. Behalwe vir leesbaarheid en verstaanbaarheid, wil ek die aandag plaas op nog twee kriteria wat Wishart (1999:36-37) noem, naamlik dat die moeilikheidsgraad van die taalgebruik in die grondtaal en die moeilikheidsgraad van die interpretasie in die vertaling weerspieël moet word. Dit beteken dat ’n onduidelike lesing in die grondteks in die vertaling net so onduidelik daar moet uitsien. Met dit in gedagte beweeg ons na Psalm 17:14.
3. DIE PROBLEEM VAN PSALM 17:14
3.1 Voetnotas en moeilike lesings
Een van die reëls wat neergelê is aan die vertalers van die King James Version (KJV) was om voetnotas tot ’n minimum te beperk. Coleman (1989:49) haal aan: “No marginal notes at all to be affixed, but only for the explanation of the Greek or Hebrew words, which cannot without some circumlocutions so briefly and fitly be expressed in the text.”
’n Mens sou nogal kon spekuleer oor die nawerking van so ’n tradisie van min voetnotas wanneer jy kyk na die skaarsheid van voetnotas in ons NAV. As voorbeeld sou ook genoem kon word die Revised English Bible (REB), waar die hersiening van die New English Bible (NEB) juis probeer het om voetnotas te verminder. Die REB se voetnotas het spesifiek gehandel oor die rekonstruksie van die Hebreeuse teks. Voetnotas is aangebring om aan te dui waar ’n lesing van die antieke vertalings (bv Septuagint, Vulgaat, Peshita) gevolg is. Daar is aangedui waar die NEBvertalers alternatiewe betekenisse probeer vind het vir Hebreeuse woorde deur gebruik te maak van verwante Semitiese tale. In die REB is egter daarna beweeg om sover moontlik die Hebreeuse teks te volg (Coleman 1989:50) en voetnotas moes aantoon waar die REB ’n ander lesing as die NEB gevolg het op grond daarvan dat hulle ’n Hebreeuse lesing kon rekonstrueer.
Die gebrek aan voetnotas in ons huidige NAV is sekerlik ’n aanduiding daarvan dat hierdie stipulasie aan die KJV, wat sekerlik ’n nawerking kon gehad het in die destydse Nederlandse Statevertaling, wat deurloop na die Ou Afrikaanse Vertaling (1933/53), wat in ’n mate neerslag vind in die NAV, ’n invloed gehad het op ’n lang tradisie van vertaling, naamlik dat ’n vertaler meestal baie suinig moet wees in die gebruik van voetnotas. By moeilike lesings moet die leser dan maar net vertrou dat die vertaler na die beste van sy vermoë ’n beste lesing vasgestel en dit so in die vertaling weergegee het.
In sekere sin keer Psalm 17:14 egter vele sienings in verband met tekskritiese arbeid op sy kop. Sonder om te diep te delf in die vraag na wat presies die taak van die tekskritiek is,10 word ons hier grootliks gekonfronteer met die kompleksiteit van ons Hebreeuse teks. Dit is ’n voorbeeld wat tekskritiese oplossings uitput.11 Selfs verwysings na die antieke vertalings, wat elkeen ’n ouer Hebreeuse manuskrip sou kon verteenwoordig, gaan hier nie veel help nie, aangesien selfs hierdie antieke vertalings dramatiese verskille in interpretasies toon. Craigie (1983:161) vra selfs of dit nie dalk daarop kon dui dat die teks in ’n baie vroeë stadium van sy oorleweringsgeskiedenis verdorwe geraak het nie. Sowel Craigie (1983:161) as Kraus (1988:244) werk via die Septuagint, bespiegelings oor haplografie, dittografie, moontlike defektiewe spellings en qere-lesings om uiteindelik deur tekstuele amendasies te probeer sin maak uit die Hebreeus. Selfs al sou daar op ’n gerekonstrueerde teks besluit kon word, is die vraag waarna die vers terugverwys (Leveen 1961:52) en of die sin (“sense”) van die vers positief of negatief is. Die magdom verskillende vertalings in Addendum A gee ons dalk ’n idee van hoe problematies Psalm 17:14 is en dat sommige vertalings dit interpreteer as deel van die gebed om uitkoms/seën en ander weer as ’n oproep om die digter se vyande te vervloek. Albei interpretasies is moontlik afhangende van hoe die teks gerekonstrueer word. Ons sien hier geïllustreer hoe baie afhang van die interpretasie van die vertaler asook sy siening van die teks, byvoorbeeld Leveen (1961:48) wat aanspraak maak daarop dat sy interpretasie die minste geweld aan die konsonantale teks doen. In Addendum A, waar die vertalings saam met hulle voetnotas (indien enige) weergegee word, kry ons ’n idee hoe ander vertalings met hierdie moeilike teks omgegaan het en dit gee ons dalk ’n breër perspektief op die hantering van so ’n probleem.12
3.2 Die hantering van Psalm 17:14 in vertaling
Bratcher (1991:157) haal aan uit “Old Testament Translation Problems” dat “translation here involves guesswork, for the text is corrupt”.
By Psalm 17:14 is ons dalk inderdaad gekonfronteer met ’n teks waar die vertaler, nadat alle ander hulpbronne uitgeput is, gedryf word tot die uiterste opsie of laaste uitweg om die teks te amendeer. Dit gebeur op ’n plek waar die teks op sigself so obskuur is en geen lig daarop gewerp kan word deur ’n ander manuskrip of ander teksgetuienisse nie (Deist 1978:247). Dit gebeur slegs by daardie punt waar die vertaler oortuig is dat die teks soos dit daar staan oninterpreteerbaar is. Deist waarsku dan dat dit egter nie goed genoeg is om ’n raaiskoot te waag nie, aangesien daar ’n verantwoordelike manier is om met die stof om te gaan.
Ek sou graag wou uitbrei op hierdie idee van ’n verantwoordelike omgaan met die stof deur te vra of ’n mens nie ook sou kon praat van ’n verantwoordelike weergee van sulke inligting aan die leser nie. ’n Vraag, wat sekerlik op ’n heel ander vlak lê, sou kon wees of dit hoegenaamd so teksgetrou is om ’n obskure lesing te probeer verbloem in die vertaling. Sonder om voorskriftelik te wees, verwys ek weer na Addendum A, waar die leser self sou kon oordeel oor die hulpvaardigheid al dan nie van sommige voetnotas by Psalm 17:14. Daar word gepleit vir ’n verantwoordelike omgaan met tekskritiese gegewens in plaas daarvan om dit te ignoreer, asook ’n verantwoordelike weergee daarvan in die vertaling. Dit moet egter met veel takt en sensitiwiteit gedoen word aangesien voetnotas sekerlik die potensiaal het om ’n gewone Bybelleser te verwar of te ontstel.
4. KONKLUSIE
In hierdie artikel het ek vlugtig – en sekerlik op ’n baie lukrake manier, weens die geweldige kompleksiteit van die onderwerp – die volgende probeer aantoon:
i. Daar is ’n verband tussen ’n vertaalteorie en die hantering van tekskritiese gegewens.
ii. Ek het probeer pleit vir ’n verantwoordelike omgaan met tekskritiese gegewens.
iii. Die moontlikheid van verantwoordelike en sensitiewe aanbieding van sulke inligting is aangeraak.
iv. Ek het probeer om vertalers en predikante bewus te maak daarvan dat, nog lank voordat daar geteoretiseer kan word oor ’n vertaalteorie of metodiek van eksegese, die vertaler/eksegeet se beskouing van die teks baie duidelik geformuleer moet wees.
Daar moet doelbewus nagedink word oor die aard van tekskritiese gegewens, aangesien ’n vasstelling van die fisiese teks wat vertaal word die kritieke eerste stap is vóór vertaling of eksegese kan plaasvind, met ander woorde, ’n mens moet eers ’n teks wat uitgelê kan word, vasstel. Daar moet gevra word wat ons probeer doen in tekskritiese arbeid, naamlik of ons probeer om ’n “beter” of “meer oorspronklike” lesing vas te stel. Dalk kan ons tekskritiese gegewens beskou as heenwysend na ’n bepaalde tradisie van interpretasie of dit kan in ’n voetnota aan die leser gebied word as ’n rekord van hoe daar deur die eeue met hierdie selfde teks omgegaan is.
Aangesien vertaling deesdae meestal ’n spanpoging is en daar soveel siftingsprosesse is voordat daar vir ’n bepaalde lesing in ’n Bybelvertaling gekies word, moet ons besef dat die lesing in die NAV se weergawe van Psalm 17:14 sekerlik die eindproduk van ’n lang eksegetiese debat is. Die vraag wat hierdie artikel wil stel, is of ons nie meer sal moet nadink oor die manier waarop ’n moeilike lesing in ’n vertaling aan die breë lesersgehoor weergegee word nie.
Is ’n vertaling wat so vlot lees nie juis om die leser te mislei oor die realiteit van die kompleksiteit van hierdie korpus wat ons as vertalers so graag as Woord van God sou wou kommunikeer nie? Die insluit van sulke inligting – nie op so ’n kriptiese wyse dat dit die leser dalk mag verwar nie (vgl sommige vertalings se hantering van voetnotas in Addendum A) – sou dalk juis die meer ernstige Bybelleser kon help in sy of haar worsteling met die teks, sodat selfs hierdie wissellesings ingespan kan word om te kan “dien om die Woord van God in te dra in die hart en lewe van almal wat Afrikaans praat”.13
BIBLIOGRAFIE
Bratcher, R G & Reyburn, W D 1991. A Translator’s Handbook on the Book of Psalms. New York: UBS.
Bratcher, R G 1995. Current Trends in Bible Translation in English. The Bible Translator 46(4), 439-444.
Coleman, R 1989. New Light and Truth: The making of the Revised English Bible. Oxford/Cambridge: University Press Oxford/Cambridge.
Craigie, P C 1983. Psalms 1-50. Waco, Texas: Word Books.
Deist, F E 1978. Towards the Text of the Old Testament. Pretoria: DR Church Booksellers.
Hermanson, E A 1999. A brief overview of Bible translation in South Africa. Referaat gelewer by Seminaar oor Bybelvertaling, Universiteit van Pretoria, 23-25 Feb 1999. Roggebaai: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Hermanson, E A 2000. Hearing the Wonders of God in our own Languages: Functional Equivalent Bible Translation in Southern Africa with special reference to Xhosa. (ongepubliseerde artikel). Roggebaai: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Kraus, H-J 1988. Psalms 1-59. Minneapolis: Augsburg Publishing House.
Leveen, J 1961. The Textual Problems of Psalm XVII. Vetus Testamentum 11, 48-54.
Naudé, J A 2000. Translation Studies and Bible Translation. Acta Theologica 2000(1), 1-27.
Nida, E A 1977. Good News for Everyone. Waco, Texas: Word Books.
Nida, E A 1997. Bible Translation, in Baker, M (ed). Routledge Encyclopedia of Translation Studies. London: Routledge.
Noss, P A 1998. Scripture Translation in Africa: The State of the Art. Journal of Northwest Semitic Languages 24(2), 63-76.
Olivier, J P J 1973. Sefanja: ’n Gemotiveerde vertaling uit Hebreeus in Afrikaans. Ongepubliseerde MTh-tesis, Universiteit van Stellenbosch.
Omanson, R L 1995. Translation as Communication. The Bible Translator 47(4), 407-413.
Van der Merwe, C H J 1999. ’n Konkordante vertaling van die Bybel in Afrikaans. Is dit hoegenaamd verantwoordbaar en hoe sal dit lyk? Ned Geref Teologiese Tydskrif 1999, 293-306.
Wishart, S 1999. Bible Translation and the Sermon on the Mount. Ongepubliseerde MA-tesis, Universiteit van Stellenbosch.
1 Hierdie artikel is afgesluit in Junie 2001. Die konferensie het intussen in Augustus 2001 plaasgevind.
2 Op hierdie punt is dit belangrik om by te voeg dat daar in die veld van die tipe vertaalteorie wat deur Eugene Nida voorgestaan word, verwikkelinge was in die afgelope dertig jaar: Daar is sedertdien ’n onderskeid gemaak tussen funksionele en dinamiese ekwivalensie. Alhoewel dit mag voorkom asof hierdie twee terme grootliks as sinonieme gebruik word, is ons wel bewus van hierdie verwikkelinge, maar dit is tog nie so van toepassing vir hierdie artikel nie. Ons gebruik albei hierdie terme om te verwys na die tipe vertaling wat normaalweg in die volksmond as ’n “idiomatiese” vertaling in die breedste sin bekend staan.
3 In baie van Nida se geskrifte ter verduideliking van sy teorie kry ’n mens soms die indruk dat hy sy teorie probeer verdedig.
4 Koehler & Baumgartner se woordeboek dui ’n onseker woord aan met die simbool †.
5 Hy doen dit in antisipasie van wat die reaksie sou wees van ’n leser wat gewoond geraak het aan die bekende slot tot die Ons Vader en wat nou Matt 6 lees en geskok is om die bekende en geliefde woorde te vermis. Nida verseker dan sy lesers dat die vertalers van die beste en oudste manuskripte gebruik gemaak het en dat hierdie lesing nie in die beste manuskripte voorkom nie.
6 United Bible Societies.
7 Dit is in elk geval nooit moontlik om te vertaal sonder om terselfdertyd te interpreteer nie.
8 Om te verhoed dat die kritiek te fel voorkom: Die doel van hierdie artikel is nie om die funksioneel ekwivalente teorie te diskrediteer en vertalings soos die NAV verdag te maak nie. Ek probeer net ’n paar opmerkings maak in die lig daarvan dat ’n funksioneel ekwivalente vertaling nie noodwendig ’n gehoor bevredig wat dalk juis met die andersheid van die brontaal en -kultuur gekonfronteer wil word nie. Daar is sekerlik ’n groep lesers wat die kompleksiteit en gans andersheid van die Bybelse teks ernstig wil opneem en nie afhanklik wil bly van besluite wat namens hulle deur vertalers gemaak is nie (Van der Merwe 1999:298). Dit is ’n lesersgehoor wat na die téks toe kom en nie andersom nie (Bratcher 1995:443). Die funksioneel ekwivalente teorie is moontlik gemotiveer daardeur om ’n vertaling as instrument in die sending te gebruik.
9 Daar ontwikkel ook kritiek op ander aspekte van funksionele ekwivalensie se vooronderstellings, bv of dit inderdaad moontlik is om interkulturele kommunikasie so akkuraat te kan laat plaasvind op grond van die aanname van ’n universele mensheid verhewe bo tyd en ruimte.
10 Is dit die taak van die tekskritiek om ’n oorspronklike(r), ouer of meer kanoniese lesing vas te stel? Wat word bedoel met elkeen van hierdie terme? Hoe beïnvloed die vertaler se opinie van die teks die manier waarop hy met die teks omgaan, asook hoe dit in die vertaling weergegee word? ’n Vertaler moet homself sekerlik vergewis van wat presies hy probeer doen wanneer ’n Hebreeuse lesing rekonstruksie nodig het. Die teks kan sekerlik nie net gebuig en gebreek word na willekeur nie.
11 Die magdom verskillende vertalings vir hierdie vers in Addendum A is ter illustrasie dat daar vele diverse interpretasies bestaan.
12 Nog ’n vraag is of dit wys is “to smooth out” tekstuele probleme en of daar nie dalk meer breedvoerig van voetnotas gebruik gemaak moet word nie. Die NAV se basiese uitgangspunt om ’n verstaanbare produk die veld in te stuur (Eugene Nida se geliefde frase “translating sense not nonsense”) laat ons sekerlik verstaan waarom die NAV eerder na gelang van ’n deeglike eksegetiese debat op ’n lesing besluit het eerder as om ’n dubbelsinnige vertaling te maak wat deur ’n voetnota aangevul word.
13 Sien die voorwoord tot die NAV.