Positiewe aspekte van die see se rol in die Ou Testament
ABSTRACT
Positive aspects of the role of the sea in the Old Testament
Most scholars interpret the role of the sea in the Old Testament as one of perennial hostility against God and his people. Although it cannot be denied that the Old Testament often pictures the sea in a rather negative role, the author of this article is convinced that there is also an alternative to this picture. He points out a number of positive perspectives on the sea, which should be taken into account when rating the role of the sea in the Old Testament. Some theological-ecological implications of these are spelled out briefly for the people of the new covenant.
1. DIE PROBLEEM
Daar kan nie ontken word nie dat die see meermale sterk negatief in die Ou Testament voorgestel of met sterk negatiewe gebeure geassosieer word. So word die see soms geassosieer met die rumoerende, onbekeerlike volkerewêreld (Ps 65:8); met die gedreun van die opruk van die vyandelike magte teen die volk van God (Jes 17:12), of direk met hierdie vyandelike mag self, soos in Psalm 18:17-18 en 144:7-8, waar “baie waters” ook op die see kan dui (vgl Van Uchelen 1971:121). Job se vraag aan God of hy dan ’n see of ’n seemonster is wat bewaak moet word (7:12), laat duidelik blyk dat Job aan die see as ’n vyand van God dink. Die goddelose is vir die profeet van Jesaja 57:20 soos ’n woelende see waarvan die golwe in die stormgety slyk en modder opwerp. In sy profesie teen die Aramese stede Hamat en Arpad sê die profeet Jeremia volgens een moontlike vertaling van die Hebreeus dat, as gevolg van die slegte tyding wat hulle gehoor het, “they are tossed up and down in anxiety like the unresting sea” (49:23, REB). Vir die digter van Psalm 89 is die see met sy opstuwende golwe ’n beeld van trotsheid (v 10: gē’ût, “proud swelling”) wat deur Jahwe self tot bedaring gebring moet word (vgl Ps 93:4). In ouere en nuwere kommentare en ander werke waarin die see in die Ou Testament ter sprake kom, word die see dan ook meestal geïnterpreteer as ’n vyandige chaosmag wat God en sy volk teëstaan. Ek hoop egter om in die volgende paragrawe aan te toon dat die Ou Testament soveel positiewe perspektiewe op die see open dat dit eensydig en selfs misleidend mag wees om hierdie perspektiewe te ignoreer by ’n totaalbeoordeling van die see se rol in die Ou Testament.
2. DIE SEE AS INTEGRALE DEEL VAN GOD SE GOEIE SKEPPING
Dit is opvallend dat reeds die eerste hoofstuk in die Ou Testament die skepping van die see beskryf as ’n integrale deel van die oorspronklike goeie skepping van God (Gen 1:9-10). Vers 10 noem spesifiek land en see as één goed geordende geskape geheel en sê daarvan: “En God het gesien dit is goed.” Soos Westermann (1984:123) uitdruklik opmerk: “The judgment is pronounced after the naming of the land and the sea” (my kursivering; vgl Van Selms 1967:30; Gispen 1974:56). Wanneer die Skepper dan volgens Genesis 1:31 die hele skepping oorskou en sien dat alles baie goed is (tôb meōd), geld dit vanselfsprekend ook van die see. Ryle (1914:22) merk in verband met hierdie vers op: “The Divine approval of the material universe constitutes one of the most instructive traits of the Hebrew cosmogony. According to it, matter is not something hostile to God, independent of Him, or inherently evil, but made by Him, ordered by Him, good in itself, and good in relation to the purpose and plan of the Creator.”
Herhaaldelik verwys die Ou Testament na God as die Skepper van die see en alles daarin (bv Eks 20:11; Neh 9:6; Job 38:8-11; Ps 95:5, 146:6; Jona 1:9). Psalm 24 sing in verse 1-2 van die aarde en die see wat as een geheel aan God behoort (vgl Ridderbos 1962:254; Kidner 1977:114). In haar studie Yhwh’s combat with the sea kom Kloos (1986:85) dan ook tot die slotsom dat wat die oorspronklike skepping betref, daar nie sprake van ’n stryd was nie. “We can only say that according to the OT the sea was given its proper place at creation; but the same holds true for heaven, earth and the mountains” (vgl Day 1985:61; Mathews 1996:151).
God wil die werk van sy hande geniet. Ook sy see. Die digter van Psalm 104 druk dit op ’n eg speelse manier uit wanneer hy volgens een moontlike vertaling van die Hebreeus van vers 26 sê dat Jahwe selfs van die Leviatan (’n voorwêreldse seemonster uit Oud-Oosterse mitologie) ’n gewone seedier maak “om mee te speel” (Ieśaḥeq-bô; vgl Noordtzij 1973:153; Dahood 1970:45; Brüning 1998:255; NEB; NAV; LaB). Een vertaling (JB) lui vrolik: “Leviathan whom you made to amuse you.” Ridderbos (1958:492) meen die gedagte dat Jahwe die seedier geskep het om mee te speel nie in die verband pas nie, moeilik voorstelbaar is en die vraag kan oproep of so iets God waardig is. Daarom verkies hy die ander moontlike vertaling: om daarin te speel (dit wil sê, die see as speelplek vir die seedier). So vertaal ook Burden (1991:59; vgl OAV; NIV; REB). Ridderbos se argumente oortuig egter nie werklik nie. Vrolik besing die digter die grootheid van God in sy skepping: Jahwe maak van wolke en wind sy rytuig (Ps 104:3) en laat die krioelende menigtes van groot en klein seediere uit sy hand eet (vv 25-28). “The poet means to bring every living thing, no matter how strange or terrible some of them appeared to the mind of his day, within the defining compass of one category – ‘the works of the LORD’” (Mays 1994:334-335; vgl Allen 1983:34). In elk geval laat Genesis 1:31 reeds duidelik blyk dat God Hom in sy skeppingswerk wil verlustig (vgl Ps 104:31).
3. SEE EN LAND LY SAAM WEENS MENS SE OORTREDINGS
By ’n beoordeling van die rol van die see in die Ou Testament moet in ag geneem word dat die see sáám met die land ly onder die oortredings van die mens. Volgens Hosea 4 kla Jahwe die tien stamme aan weens hulle menigte sondes. In vers 3 sê Hy dit is waarom die land en al sy bewoners, ook wilde diere en voëls, wegkwyn, ja, waarom selfs die visse van die see omkom. Op sy beurt kom die profeet Sefanja met ’n oordeelswoord van Jahwe teen die koninkryk van Juda weens sy afvalligheid. Die oordeelswoord is teen mense gerig, maar as gevolg van hulle oortredings ly ook hulle hele leefwêreld: die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see (1:3). “When the people of God break covenant, the whole creation suffers the consequences of their sins” (Mays 1969:65; vgl Laetsch 1970:42-43). Agter Hosea 4:3 en Sefanja 1:3 lê die gedagte wat elders in die Ou Testament na vore kom, naamlik dat daar ’n baie nou verband is tussen die mens en die res van die skepping (bv Gen 3:17; Jes 11:6; Hos 2:17), sodat die res van die skepping deel in die gevolge van die mens se oortredings (vgl Van Leeuwen 1968:100).1 Maar soos die mens deur genade nie volledig boos geword het nie maar steeds beeld van God is, al is dit nou ’n erg geskende beeld, so vertoon ook die geskende skepping steeds die handewerk van die Skepper. En nie die minste nie die see.
4. DIE SEE VAN DIE UITTOG: “VYAND” EN/OF “VRIEND” VAN GOD EN SY VOLK?
4.1 Die impak van die Rietseegebeure
Dit is te begrype dat Israel se deurtog deur die Riet- of Rooi See (Eks 14:14-31) ’n onvergeetlike indruk moes gelaat het op die omliggende volkere, soos ’n mens uit Ragab se getuienis teenoor die Joodse verspieders verneem (Jos 2:10), maar veral op Israel self, wat by die deurtog getuies was van hoe God op en in en deur die see sy majesteit en genade aan sy volk betoon. Reeds daar aan die oorkant van die see klink hulle danklied op teenoor die reddende Beheerser van die see (Eks 15) – iets wat selfs tot in die laaste boek van die Bybel sy weerklank vind in een van Johannes se wonderlike visioene (Op 15:2-3). Wat die Ou Testament betref, kom die Psalms en die profete herhaaldelik met verwondering terug op hierdie seewonder, hetsy direk of indirek.2 Jubelend klink dit in die laaste twee verse van Psalm 77 (NAV):
U het deur die see gekom,
u weg deur magtige waters gebaan.
Niemand het u spoor gesien nie.
U het u volk soos ’n kudde gelei
deur die hand van Moses en Aäron.
So het Jahwe die waters van die Rietsee voor Hom uit gekloof tot verheerliking van sy Naam (Jes 63:12). Weens die geweldige belang van die uittog in die geskiedenis van Israel is dit nodig om die rol van die see in dié verband van nader te bekyk. Is dit dié van ’n “vyand” of dié van ’n “vriend”? Of is hier iets van albei?
4.2 Psalm 106
In hierdie geskiedenispsalm waarin telkens op Israel se sonde gewys word, maar ook op Jahwe se onbegryplike goedheid, skryf die digter dat Jahwe die Rietsee gedreig het, sodat dit opgedroog en Israel oor die seebodem getrek het soos oor droë grond (v 9). Dit skep inderdaad die indruk dat die see hier ’n vyand is wat in die pad staan van Israel se verlossing uit Egipte (vgl Ridderbos 1958:509). Maar dit is interessant dat die tweede deel van vers 9 dieselfde sê as Eksodus 14:22, naamlik dat Israel droogvoets deur die see is, en dat dit in die tweede deel van die Eksodusvers nog verder soos volg verduidelik word: die waters was aan weerskante vir Israel ’n muur (vgl Ps 78:13). So gesien, was die see dan tog vir Israel ’n vriend? En as daar voorts in Psalm 106:10-11 staan dat die waters deur God se toedoen Israel se teëstanders oordek het sodat niemand oorgebly het nie (vgl Eks 14:23-28; 15:1, 4-5, 10; Ps 136:15; Jes 43:16-17), het die see dan nie hier die vyand van Israel se vyand geword nie? Dus, vriend van God en sy volk? Die NAV se vertaling van Psalm 106:9 (“Hy het die Rietsee aangespreek …”) vertolk dan ook die milde gees waarin die “dreiging” (ge‘ārâ) van die see geskied het. Die Skepper van die see maak die see die vriend van sy volk.
4.3 Psalm 114
Psalm 114 besing die wonder van die uittog uit Egipte en sê daarin van die see en die Jordaanrivier (v 3a, NAV):
Die see het dit gesien
en op die vlug geslaan,
die Jordaan het teruggedraai …
Wat het die see gesien? Die wonder van die uittog? (v 1-2). Of God self, soos Psalm 77:17 dit stel? Albei moet seker saam genoem word. Die een sluit die ander in: God aan die werk deur die uittog. Sommige uitleggers wil die vlug van die see en die rivier hier verstaan as vyande van God wat voor Hom moet wegvlug. Dit sou dan geskied na aanleiding van die Oud-Oosterse voorstelling van die stryd van die Skeppergod teen die watermonster (vgl Gemser 1949:146; Burden 1991:153). Maar hier in Psalm 114 kyk die digter blykbaar vanuit ’n ander perspektief na die gebeure, want hy sien ook berge wat rondgespring het soos ramme en heuwels soos lammers (v 4). Die hele verband binne die lied maak dit baie meer waarskynlik dat see, rivier, berge en heuwels alles in gunstige sin verstaan moet word (vgl Leupold 1972:795; Noordtzij 1973:190-191). Die natuurelemente word verpersoonlik. Daarom vra die digter aan hulle waarom hulle doen wat hulle doen (vv 5-6). En die antwoord wat hy self in verse 7-8 gee, kom in die vorm van ’n bevel aan die hele aarde:
Sidder, aarde, in die teenwoordigheid van Jahwe,
in die teenwoordigheid van die God van Jakob.
Wat die digter vir die hele aarde vra om te doen, is presies wat die see saam met die aarde gedoen het! Psalm 77:17, 19b sê dit in soveel woorde (NAV):
Toe die waters u sien, o God,
toe die waters u sien het hulle gebewe,
die diep waters het gesidder …
die aarde het geskud en gebewe.
Die see en ander natuurelemente het by die uittog die eerbied, die heilige ontsag (“awe”) geopenbaar wat elke skepsel teenoor God verskuldig is: “sea and river falling over themselves, so to say, to make way for Him” (Kidner 1975:403). Of soos Weiser (1965:711) ewe tereg opmerk: “It is the dread of the terrible majesty of God which causes the sea to flee from him, the Jordan to turn back and the mountains to tremble.” Hiermee stel die see en ander natuurelemente vir die volk van God die voorbeeld van eerbied, van heilige ontsag vir die reddende Skeppergod van hemel en aarde. Die Rietsee: vyand of vriend van God en my volk? In die lig van die bespreekte perikope sou ’n mens dit met ’n wedervraag kon beantwoord: Kan hierdie see sonder meer as vyand getipeer word?
5. GEVALLE VAN SKYNBARE NEGATIWITEIT TEENOOR DIE SEE
Talle gedeeltes mag op die oog af die indruk laat dat die see daarin negatief beoordeel word, sonder dat dit werklik die geval is. Hier volg van die vernaamste gedeeltes:
5.1 Amos 9:3
In sy vyfde visioen (9:1-4) hoor die profeet Amos die oordeelswoord van die Here dat al die aanbidders in die tempel (te Bet-El?) doodgemaak moet word. Niemand gaan ontvlug nie, al word daar byvoorbeeld gevlug tot in die hemel of tot in die doderyk, geskuil op die top van berg Karmel of weggekruip op die bodem van die see. Daar van die bodem van die see af sal die Here die gevaarlike slang (nâḥâš) ontbied om so ’n vlugteling te pik (v 3). Dit is duidelik dat see en slang geensins negatief gesien word in die sin van ’n gode-vyandige mag soos in Oud-Oosterse mitologieë nie, waar die slang byvoorbeeld as personifikasie van die gode-vyandige see deur die godheid gedood word (vgl Brongers 1945:68). Inteendeel, see en mitologiese slang staan hier in Amos 9:3 volledig tot beskikking van die Here vir die uitvoer van sy oordele oor onberoulike sondaars. Die bedoeling van die visioen is dan ook om Israel te laat verstaan dat daar van die straf vir ’n onopregte dien van God nêrens in die skepping enige wegkomkans is nie (vgl v 10). Ook die diepste diepte van die see bring hierdie boodskap namens sy Skepper tuis. “Even the sea-serpent, a figure prominent in ancient mythology, is nothing more than an agent of God’s destruction. That this should have been stated so clearly so early in the history of prophecy is truly remarkable” (Kelley 1966:92).
5.2 Jona 2:3
Die see met sy siedende golwe is ook ’n beeld van beproewing vir Ou-Testamentiese gelowiges. In ’n gebed herinner die profeet Jona aan wat met hom gebeur het toe hy in die diepsee gewerp is (2:3):
U het my die diepte ingegooi,
in die hart van die see,
sodat ’n stroom my omring het.
U het golf op golf oor my laat spoel.
Jona sê hiermee dat hy in ’n uiterste noodsituasie was, verstote van alle menslike hulp in die aangesig van die dood (Van der Woude 1978:36; Limburg 1993:67). Hy spel dit self verder uit in verse 5-6. Keil (1954:461) wys nog daarop dat Jona deur sy eie skuld in dié situasie beland het. Vir die doel van ons ondersoek is die belangrikste punt dat dit ook hier nie om ’n vyandiggesinde see gaan nie. Dit gaan, wat die boek Jona betref, om beproewing wat Gód om die een of ander rede oor gelowiges toelaat of laat kom, waarvan die see dan ’n beeld is (vgl ook Ps 42:8; 88:8).
5.3 Habakuk 3:3-15
As finale antwoord op sy worsteling met God oor die geweld in die wêreld en teenoor sy volk, ontvang Habakuk ’n aangrypende visioen van Jahwe se koms om dinge reg te stel (3:3-15). Hy trek uit as hemelse krygsman teen verdrukkernasies en tot redding van sy volk (vv 9, 12-14). Die skepping “sien” dit en bewe van angs: aarde, berge, wêreldvloed (tehôm), son en maan (vv 6, 1011), riviere (v 8a), maar ook die see (vv 8b, 15). Wanneer die profeet sien hoe God se strydwaens met hulle perde vooraan oor die see aanstorm (’n beeld van die magtige stormwolke wat oor die see saampak), wil hy weet (v 8b):
Is U woedend vir die see
dat U daaroor ry met u perde,
met u triomferende strydwaens?
Die antwoord hierop is ’n implisiete nee, want in 3:13 word dit duidelik dat die eintlike vyand teen wie Jahwe uittrek ’n menslike vyand van God se volk is (Kruger 1987:69; vgl Laetsch 1970:348). Ook hier by Habakuk word die see dus nie werklik in ’n negatiewe lig gesien nie.
5.4 Jesaja 50:1-3
In vers 2 van hierdie perikoop sê Jahwe dat Hy die see deur sy dreiging (ge’ārâ) drooglê. Dit kan moontlik ’n sinspeling op die Rietseegebeure wees (Young 1972:297; Oswalt 1998:320). Die klem val egter op Israel se verlossing uit Babel. Die twyfelende Israel moet besef: Al sit hulle deur eie skuld in ballingskap, God is magtig om hulle terug te bring. Die waarborg? Sy vermoë as Skepper om radikale kosmiese transformasies te bewerk (vv 2-3): om nie net ’n see te laat opdroog nie, maar riviere in woestyne te verander en die hemel met ’n roukleed te bedek (vgl Young 1972:297-298; Westermann 1969:225). Eerder as om die see negatief te beoordeel, moet dit saam met die res van die skepping as getuie gesien word van Jahwe se transformasiemag ter wille van sy verbondsvolk.
5.5 Job 38:16-17
Op grond van ’n gedeelte soos Job 38:16-17 word die see deur sommige uitleggers selfs met die doderyk geassosieer (bv Schmidt 1994:240). Hierdie twee verse vorm deel van Jahwe se vraende antwoord aan Job (38:1-41:25):
Het jy gekom tot by die bronne van die see
of rondgestap in die dieptes van die wêreldvloed?
Is die poorte van die dood aan jou gewys
en het jy die ingange na die doodskaduwee gesien?
Dit is egter ’n groot vraag of see en doderyk hier met mekaar vereenselwig word, want vir die antieke Israeliet was die doderyk selfs nog dieper geleë as die verborge oeroseaan (die tehôm van v 16b) wat die sigbare see voed (Bleeker 1926:220; Kroeze 1960:266). Die doderyk was die diepste punt waaraan ’n Israeliet kon dink (Job 11:8; Ps 139:8; Jes 7:11). Dit kan dus op ’n ongeregverdigde siening van die see neerkom om dit met die doderyk te wil vereenselwig.
5.6 Daniël 7
Gedurende die eerste regeringsjaar van koning Belsasar van Babel sien Daniël in ’n naggesig hoe die wind uit alle rigtings die groot see onstuimig maak, sodat verskillende diere daaruit opkom wat opeenvolgende koninkryke simboliseer. Die uitdrukking jammâ rabbâ in vers 2 dui nie noodwendig ’n geografiese see soos die Middellandse See aan soos sommige meen nie (bv Goldingay 1989:160). Ook nie noodwendig ’n mitologiese chaossee soos ander meen nie (bv Gardner 1999: 412-415). Dit kan heel gewoon die see as sodanig beteken (Leupold 1973:285), waarvan die opwellende waters dan ’n gepaste simbool is van die onstuimige nasies van die wêreld (Aalders 1951:135; Hartman & Di Lella 1978:211; Miller 1994:195). ’n Mens moet oplet hoe die boek Daniël in 7:17 en 23 self die see en vier diere verklaar. Soos Ferch (1983:64) dit in sy doktorale studie oor Daniël 7 stel: “The sea and the beasts … are interpreted as the earth and four kings or kingdoms and not as chaos symbols …” As Collins (1993:123) hierteenoor sê dat die siening van die diere as chaossimbole nie met verse 17 en 23 bots nie omdat hulle op ’n ander betekenisvlak lê, kan daarop gewys word dat verse 17 en 23 die profeet se eie eksplisiete verklaring van die see en die diere bevat, sodat die hele gedagte van chaossimbole hiermee wegval, of in elk geval nie werklik in hierdie hoofstuk funksioneer nie. Al sou ’n mens nie in Daniël 7 sonder meer van ’n gunstige siening van die see kon praat nie, kan dit tog ook nie sommer as ongunstig beoordeel word nie. Indien wel, sou dieselfde van die land moes geld, wat hier vir dieselfde werklikheid gebruik word, net soos in die veel latere Openbaring 13:1 en 11 (vgl Du Preez 2000:11-12). Die see is nie “beter” as die land nie, maar ook nie “slegter” nie.
6. GUNSTIGE ASSOSIASIES MET DIE SEE OP JAHWE SE HEILSPAD MET SY VOLK
Die Ou Testament bevat talle eksplisiet gunstige assosiasies met die see op Jahwe se heilspad met sy verbondsvolk. Hier volg van die belangrikstes:
6.1 Die see as voorsiener van lewensonderhoud vir die verbondsvolk
God het in sy wet vir Israel voorsiening gemaak vir die gebruik van seekos as voedsel. Wat waterdiere betref, mag hulle alles geëet het wat vinne en skubbe het (Lev 11:9). In Moses se seëninge van die twaalf stamme van Israel kort voor sy dood (Deut 33) is daar minstens twee gedeeltes wat gunstig na die see verwys: verse 18-19 en vers 23. Die stamme van Sebulon en Issaskar word in verse 18-19 geseën. In vers 19, waarvan die betekenis van die eerste twee reëls onduidelik is (vgl bv Thompson 1974:314), word in die laaste twee reëls hierdie duidelike belofte gegee:
Hulle sal die oorvloed van die seë geniet
en die skatte verborge in die sand.
“The source of their prosperity would be found in the seas (in fishing, maritime commerce …) and at the seashores (in shellfish; dye, made from shellfish; glass made from sand)” (Craigie 1976:399; vgl Merrill 1994:444). Ook Naftali ontvang ’n seën wat met die see verband hou (v 23):
Naftali word versadig met die guns en seën van Jahwe.
Hy neem see en suide in besit.
Sommige vertaal jâm (see) met “weste” om saam met suide te gaan (vgl AV; Segond; Craigie 1976:401). Die woord kan wel hierdie betekenis ook hê (Koehler & Baumgartner 1974:396). Maar indien dit hier met “see” vertaal moet word (vgl OAV en NAV), sal die see van Gennesaret (Galilea) bedoel wees, waaraan die gebied van Naftali in werklikheid gegrens het (Ridderbos 1951:134; JB:263, voetnoot). En dan kom die toesegging aan Naftali neer op lewensonderhoud uit visvangs.
6.2 Die onophoudelike dreuning van die see as getuie van God se verbondstrou
In Jeremia 31:31-37 kondig Jahwe sy onvernietigbare nuwe verbond met sy volk aan. Om die bestendige voortbestaan hiervan te beklemtoon, gebruik die Here sulke “vaste” punte van sy skepping soos die skyn van die son, maan en sterre as tekens of getuies van sy verbondstrou (v 35a). Maar saam met die hemelliggame dien ook die onophoudelike dreuning van die see as deel van God se vaste skeppingsorde om sy verbondstrou te beklemtoon (v 35b):
Hy wat die see laat beweeg
sodat sy branders dreun,
Jahwe die Almagtige is sy Naam.
Binne die verband van die teks dui die Hebreeuse werkwoord rōga` (“to stir up”) hier nie op ’n seestorm nie, maar eerder op die normale onophoudelike beweging van die see as deel van die vaste orde van God se skepping (vgl Van Selms 1974:82). In verse 36-37 sê die Verbondsgod dus dat, eers as hierdie vaste orde van sy skeppingswerk sou verdwyn, sy liefde vir sy volk sou verdwyn. Dit is ’n besondere manier om te sê: “Wees verseker, dit sal nie gebeur nie. Soos Ek hemelliggame onophoudelik laat skyn en die see voortdurend laat dein, só sal Ek my verbondsliefde bestendig aan julle bewys” (vgl Thompson 1980:582; Holladay 1989:199; Keown et al 1995:136).
6.3 Die see as beeld van die onmeetlikheid van God se verbondsliefde
Waar Jeremia die onophoudelike dreuning van die see as ’n beeld van God se verbondstrou gebruik, laat die digter van Psalm 36 die grootsheid van die see dien as ’n beeld van die onmeet-likheid van God se verbondsliefde (ḥɛsɛd). Teenoor die goddelose se dwase optrede soos in verse 2-5 uiteengesit, besing die gelowige digter hierdie onmeetlike liefde (“lovingkindness”) van Jahwe in verse 6-10. ’n Weergawe van verse 6-7 is reeds voldoende om dit aan te toon:
Jahwe, u ontfermende liefde is hemelhoog,
u trou tot in die wolke,
u geregtigheid soos die hoogste berge,
u regsprake ’n geweldige oseaan.
Jahwe, U ontferm U oor mens en dier.
Jahwe is onvoorstelbaar groot in sy ontfermende liefde, trou, geregtigheid en regspraak (Ridderbos 1955:312). Die woorde “Jahwe, U ontferm U oor mens en dier” (v 7c) sowel as die daaropvolgende verse 8-11, waarin die woord vir God se verbondsliefde nog twee maal voorkom, laat duidelik blyk hoe dit reeds in verse 6 en 7a-b eintlik om die allesomvattendheid van God se ontfermende liefde gaan (vgl Van Uchelen 1971:240-241). God se trou, geregtigheid en regsprake is eintlik omskrywings van hierdie liefdevolle goedheid. En die magtige oseaan moet saam met die hemelruim, die wolke en die hoogste berge aan hierdie onvoorstelbaar groot liefde uitdrukking help gee. Baie uitleggers verklaar die Hebreeuse uitdrukking tehôm rabbâ (letterlik: “groot diepte”), hier bo vertaal as “’n geweldige oseaan”, as ’n aanduiding van die Ou Nabye Ooste se idee van ’n magtige oeroseaan bo en onder die aarde (oa Van der Ploeg 1971:232; vgl Kraus 1978:434; Brinkman 1995:170-171). Maar Craigie (1983:292) meen dit dui eenvoudig op die oseaan, “not the chaotic waters of mythology”. Laasgenoemde siening pas eintlik baie goed binne die fisiese konteks van wolke, berge, mens en dier. Ook die geweldige oseaan word hier gebruik om die onmeetlikheid van God se verbondsliefde te help omskryf, meer spesifiek soos hierdie liefde in sy regsprake tot openbaring kom.
6.4 Die see as voorbeeld van gehoorsaamheid
In ’n aangrypende gedeelte in Jeremia hou Jahwe self die see as ’n voorbeeld van gehoorsaamheid aan sy hardnekkige volk voor (5:20-22). Terwyl die see met al sy onstuimigheid die permanente grense erken wat God daarvoor gestel het (vgl Spr 8:29) en daarmee Jahwe se koningskap eerbiedig, doen sy volk presies die teenoorgestelde weens hulle hardheid van hart (vv 23-31). In die mitologie van die Ou Ooste was daar voortdurende konflik tussen die gode en die chaosmonster (see). Maar hier in Jeremia word elke herinnering aan so ’n mitologiese godestryd uitgewis (vgl Brongers 1945:79). Jahwe staan buite sulke oorwegings. By die skepping van die wêreld het Hy eenvoudig vir die see sy grense gestel. En die see was gehoorsaam. Moet Hy dan nie des te meer met die nodige ontsag deur sy verbondsvolk gedien word nie? Sulke ongevoeligheid is eenvoudig onbegryplik en verdien die goddelike oordeel (v 29). “God complains, that there was so much madness and stupidity in the people, that they did not obey him as much as the sea, even the stormy sea” (Calvyn 1851:296-297; vgl Huey 1993:93; Harrison 1973:78).
6.5 Die aarde vol heilskennis, soos waters die seebodem oordek
Wanneer Jesaja die Messiaanse vrederyk beskryf, sê hy onder meer dat die aarde vol sal wees van die kennis van Jahwe soos die waters die see (-bodem) oordek (11:9). Habakuk gebruik in 2:14 dieselfde beeld wanneer hy midde-in God se oordeelswoord oor die Chaldeërs in die Naam van die God van die genadeverbond hierdie profetiese woord soos ’n helder lig in ’n donker nag laat opgaan. By albei profete moet “die aarde” (hā` āres) in die eerste plek verstaan word as die land Israel, maar dan as onderpand en waarborg van die ganse verloste en vernieude aarde (Verhoef sj: 51; Delitzsch 1969:287). Die hele aarde sal uiteindelik gevul word met die kennis van die Here en sy heerlikheid soos die waters die seebodem oordek. Dit wil sê: “in overflowing abundance” (Laetsch 1970:337).
6.6 Standhoudende geregtigheid soos die golwe van die see
In Jesaja 48:18 kla die Here oor sy volk:
Ag, as jy maar my gebooie gehoorsaam het,
sou jou vrede wees soos ’n rivier
en jou geregtigheid soos die golwe van die see.
Vrede (šālôm) en geregtigheid (sedāqâ) druk saam die volle verlossing uit wat God sy volk skenk. Die rivier en golwe is hier heel waarskynlik gesamentlik beelde van die volheid en veral die duursaamheid van die vrede en geregtigheid wat God aan sy volk gee. “Just as the river flows on without cessation, rich and full, so is the peace of Israel. As the waves, with mighty force, follow one after another in continuous succession, so the righteousness of God will roll in upon the people” (Young 1972:261; vgl Motyer 1999:306). In ’n sleutelgedeelte in Amos, naamlik 5:24, sê God vir sy afvallige volk (OAV):
Maar laat die reg aanrol soos watergolwe en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom.
Watergolwe (majim, letterlik: waters) kan hier moontlik op seegolwe dui wat onafgebroke voortrol soos die water van ’n standhoudende stroom onafgebroke voortvloei (vgl Kelly 1966:69). Die twee lede van vers 24 vorm dan ’n sinonieme parallelisme met die klem op standhoudendheid (vgl Du Preez 2001:97-98). Indien hierdie uitleg korrek is, dien die golwe van die see as ’n dubbele beeld van geregtigheid in die Ou-Testamentiese geskrifte: God se verlossende geregtigheid vir sy volk is naamlik standhoudend soos die golwe van die see (Jesaja) en Hy verwag van sy volk dat hulle reg en geregtigheid teenoor mekaar en teenoor ander sal beoefen, so konstant as wat die golwe van die see mekaar opvolg (Amos).
6.7 Die see as getuie van Jahwe se oordeelsmag oor sy ongehoorsame volk
Twee lofverheffinge in die profesieë van Amos (5:8; 9:5-6) eindig albei soos volg:
(Hy) wat die waters van die see roep
en dit oor die oppervlakte van die aarde uitgiet –
Jahwe is sy Naam!
In die konteks van die eerste lofverheffing, waar daar na gewone natuurverskynsels verwys word, kan die see-uitspraak op gewone reën dui, terwyl in die konteks van die tweede lofverheffing, wat ook ’n aardbewing as buitengewone natuurverskynsel insluit (9:5), die see-uitspraak veral op oorstromings kan dui. Of hierdie doksologieë nou op hulle oorspronklike plekke in die teks staan of nie (vgl Mays 1969a:83-84, 95; Gowan 1996:389), die bedoeling daarmee is om dit vir Israel des te meer op die hart te druk dat Jahwe as God van die reg deur sy ontsagwekkende majesteit wat Hy in sy skepping openbaar, in staat is om sy volk oor hulle onregverdige dade teenoor Hom en die verdrukte naaste te tugtig ten einde hulle weer op die pad terug na God te kry (Am 5:24). En die see dien as een van Jahwe se “medegetuies” in dié saak.
6.8 ’n Onstuimige see as teken van Jahwe se reddende mag
Jesaja 51:12-16 is die antwoord van Jahwe op die roep van die volk (51:9 ev) dat Hy tog ter wille van hulle mag optree (vgl Oswalt 1998:340). Die Here kondig Homself hier aan as die God van Israel wat die see onstuimig laat word sodat sy golwe dreun (v 15). Hierdie magsopenbaring op see moet vir Israel dien as illustrasie van die feit dat God “die Here die Almagtige” is (JHWH šebā’ôt), Heerser van sy skepping, en dus in staat om die aangekondigde heil vir sy volk waar te maak. So maak die Here die onstuimige see hier vir Israel tot ’n geloofsversterkende teken van sy komende verlossing.
Op 17 Oktober 520 vC kom die woord van die Here vir die derde keer deur die profeet Haggai tot die teruggekeerde volk van God en sy leiers, hierdie keer met ’n belofte van besondere glorie vir die toekomstige tempel (2:1-9). In die weg van die vervulling van die belofte kom hemel en aarde, see en land en al die nasies met hulle skatte in bewende beweging tot verheerliking van God (vv 6-7). Die vervulling van die belofte loop deur verskillende historiese fases totdat dit sy finale vervulling vind in die heerlikheid van die nuwe Jerusalem, die woonplek van God by die mense (Op 21:3, 24-26; vgl Ridderbos 1935:20-22; Verhoef 1989:53-54). In hierdie ontsaglike proses word dus ook die bruisende see as deel van God se skepping Godverheerlikend betrek.3 4
7. KOSMIESE VERNUWING OOK VIR DIE SEE
7.1 Selfs die Dooie See herstel (Eseg 47:1-12)
In ’n visioen ongeveer uit die jaar 573 vC aanskou die profeet Esegiël die herstel van die stad Jerusalem en die land Israel (hfst 40-48). In hierdie herstel speel die herboude tempel, gevul met die heerlikheid van Jahwe (43:1-5), ’n sentrale rol. Uit die tempel, sinnebeeld van die lewewekkende teenwoordigheid van Jahwe (vgl Blenkinsopp 1990:231-232), vloei ’n stroom lewewekkende water (47:1) wat hoe verder hoe dieper word soos dit oor die land beweeg (vv 25), terwyl ’n ryk verskeidenheid genesende vrugtebome aan weerskante daarvan ontspring (vv 7,12). Clements (1996:203) noem dit tereg “the river of grace”. En waar mond hierdie stroom uit? In die see van die dood wat nou ’n see van lewe word, so ryk aan vis soos die Middellandse See (vv 8-10). “Zoo word de landstreek der Doode Zee omgezet in een paradijs des levens” (Noordtzij 1957:222).
Ietwat verrassend klink die mededeling in vers 11 dat net die moerasse en kuile van die see nie vars sal word nie, maar vir sout bestem is. Dit word deur sommige as ’n latere toevoeging beskou (Eichrodt 1970:581; Zimmerli 1983:514). Daar is egter nie teksgetuienis hiervoor nie. Verder wys Blackwood (1972:269) nog daarop dat die vers se inhoud, en Allen (1990:277) dat die styl daarvan, goed by die res van die visioen inpas. Verreweg die meeste eksegete aanvaar dan ook die oorspronklikheid van vers 11 en interpreteer dit boonop positief deur daarop te wys dat sout vir huislike gebruik nodig was, sowel as vir die offerkultus, soos vir laasgenoemde byvoorbeeld uit 47:24 blyk (Taylor 1969:280; Blenkinsopp 1990:231; Cooper 1994:413). ’n Enkele eksegeet meen so ’n siening is heeltemal te positief gestel (Aalders 1957:352). Maar selfs al sou dit die geval wees, bly die merkwaardige feit staan dat die Dooie See as see deel in die unieke kosmiese vernuwing waaroor die visioen handel.
Katheryn Darr (1987:271-279) argumenteer dat Esegiël se toekomsvisioen net op Israel self betrekking het en nie ook op ander lande nie. Trotse en hebsugtige nasies sal wel verplig word om in die straf van Jahwe wat oor hulle kom, sowel as in die toekomstige herstel van Israel, die oppergesag van Jahwe te erken. Dit is egter opvallend dat Esegiël se toekomsvisioen self reeds aan die ander nasies gelyke regte saam met Israel gee deur middel van die vreemdelinge (gērîm) wat reeds ’n geslag lank oral tussen hulle woon (47:21-23). En in die siener van Patmos se eindvisioen (Op 21:1-22:5), waarin soveel trekke uit Esegiël 47 oorgeneem word dat dit byna as ’n vervollediging van Esegiël se visioen beskou kan word, figureer ’n nuwe hemel en nuwe aarde voluit (21:1), word Esegiël se vreemdelinge volledig met herbore nasies vervang (21:24) en woon God self vir altyd vertroostend en nuutmakend tussen hulle in ’n hemelse Jerusalem op ’n herbore aarde (21:1-5). En ook Esegiël se lewend gemaakte Dooie See suggereer iets hiervan.
7.2 Seë geseën en tot seën (Sag 14:8)
Soos Sagaria se tweede hoofdeel (hfst 9-14) vorder, word al hoe meer klem gelê op die finale koms van die dag van die Here met betrekking tot Israel en die ander nasies, die dag waarop Jahwe as die enigste en ware God erken sal word (14:9). Sagaria 12-14 herhaal oor en oor die uitdrukking “op daardie dag” (bv 12:3, 4, 6, 8-9) en bereik sy klimaks in die apokalipties gekleurde hoofstuk 14. Vir die doel van die artikel is vers 8 van besondere belang. Dit herinner sterk aan Esegiël 47:112: “Daardie dag sal daar ’n vars stroom water uit Jerusalem vloei, een helfte na die see in die ooste toe en een helfte na die see in die weste toe, somer en winter” (NAV). Hierdie vers vorm deel van die perikoop (vv 6-11) wat deur Leupold (1971:264) goed getipeer word as: “The new state of things after the Lord’s Day”. In Jerusalem sal ’n fontein ontspring waardeur die volk van God van hulle sonde gereinig word (13:1). Maar uit die fontein vloei ook ’n konstante stroom vars water oor die hele land, onafhanklik van die reënseisoen. Baldwin (1972:203) sê die skrywer laat dit aan die verbeelding oor watter welige transformasie van die natuur hierdeur plaasvind. Brown (1996:184) spel dit so uit: “Fertility, blessing, purity, and life all figure in this evocative image of abundant water flowing from the city of God.”
Maar hoe deel die twee genoemde seë in die vernuwing? Die een helfte van die lewegewende stroom vloei na die oostelike see (hajjām haqqadmônî), gewoonlik verstaan as die Dooie See, die ander helfte gaan na die westelike see (hajjām hâ’aḥarôn), gewoonlik verstaan as die Middellandse See (Smith 1984:288-289; Ollenburger 1996:837). So word die twee seë omskep in massiewe varswaterbronne tot heil van die hele land (Leupold 1971:266-267). Trouens, tot heil van die ganse wêreld. Want al sou “die hele land” (kol-hā’āres) in verse 10 en 11 in die eerste plek van die land Israel geld, laat die hele konteks vanaf verse 5b-21 duidelik blyk dat die herstelde land Israel hier die hele bewoonde wêreld impliseer. “Zo zal de gehele bewoonde wereld delen in de vruchtbaarheidszegen, die het uit Jeruzalem stromende water des leven teweegbrengt” (Van der Woude 1984:260).5
8. DIE SEE OPGEROEP OM GOD TE PRYS
Die hoogste waartoe die skepping opgeroep kan word, is om God te loof, want daarin vind die skepping sy bestemming. En nou val dit op dat daar etlike gedeeltes in die Ou Testament is waarin die see saam met die res van die skepping opgeroep word om God te prys: 1 Kronieke 16:32a; Psalm 96:11b; 98:7a; 69:35; 148:7.6 Die eerste drie hiervan lui helder en klaar (NAV):
Die see en alles daarin moet druis …
Volgens die Kroniekeskrywer vorm die Kroniekevers deel van ’n geleentheidsloflied (16:7-43), gesing tydens koning Dawid se plasing van die verbondsark in ’n tent op berg Sion, deur Dawid self gekomponeer en deur Asaf en sy medesangers uitgevoer (v 7). Die ganse mensdom en die ganse kosmos word opgeroep om Jahwe die God van die genadeverbond, wie se teenwoordigheid deur die ark gesimboliseer word, te loof oor sy magtige reddingsdade ten behoewe van sy volk (16:8-36). Na aanleiding van die oproep tot die see in vers 32 om deel van hierdie magtige koor te wees, merk Noordtzij (1937:139) treffend op: “De Middellandsche zee, die, opgezweept door de westerstormen, zoo vaak Kanaäns rotsachtige kust beukt, moet meer dan ooit geweld maken, haar stem verheffen als een blijden jubel, alles doen dreunen van haar stormachtig juichen.” So moet selfs die stormgedruis van die see omskep word in ’n bruisende loflied aan God.
In die tweelingpsalms 96 en 98 word die hele skepping met insluiting van die see geroep om in te val by ’n nuwe lied waarin Jahwe as enigste en ware Skepper, Regeerder, Regter en Redder besing word. Wat Noordtzij (1973:126) van die nuwe lied van Psalm 96 sê, geld van albei psalms: “Nu moet de ganze schepping met blijden jubel den nieuwen tijd begroeten. Hemel en aarde, zee en veld, niets mag ontbreken. Niets!” Hierdie nuwe lied druk ’n nuwe besef en ’n nuwe erkenning uit dat die toekoms aan Jahwe behoort (Tate 1990:514; Du Preez 1991:127). In ’n aangrypende klaaglied (Ps 69) roep die digter “die seë en alles wat daarin wemel” om Jahwe saam met hemel en aarde te prys (v 35). Die rede? Hy vertrou dat die Here nie net vir hom persoonlik uit sy diepe ellende sal verlos nie (vv 30-34), maar eweneens die hele volk van God sal uitred uit hulle noodsituasie en aan hulle ’n nuwe toekoms sal gee (vv 36-37). So loop hierdie klaagsang uit op ’n lied van dankbare aanbidding waarin die hele skepping, oseane inkluis, opgeroep word om aan God die gepaste lof toe te bring.
Die Psalmboek sluit af met ’n laaste kort versameling van vyf hallelujaliedere (146-150). Almal begin en eindig met hallelû-Jâ en sluit daarmee die Psalmboek af met ’n crescendo van lof (McCann 1996:1262). Ongeveer in die middel van die middelste lied, naamlik Psalm 148, deur Burden (1991:182) “’n koraal vir die skepping” genoem, word groot seediere en die see (kol-teh-omôt, letterlik: alle dieptes; NAV: al die oseane) soos volg tot lof aan God opgeroep (v 7):
Prys Jahwe van die aarde af,
groot seediere en alle waterdieptes.
Vers 7 vorm die inleidende deel van ’n perikoop (vv 7-10) waarin land en see met hulle ganse diere-inhoud gepersonifieer en tot lof aan God opgeroep word (Prinsloo 1991:116). Sommige uitleggers (bv Weiser, Burden, Kraus) meen dat die Hebreeuse tannînîm hier na mitologiese seemonsters verwys. Brüning (1998:254), wat hier ook aan mitologiese monsters dink, sê hulle is egter al so getem en ontmitologiseer dat die digter vir hulle “wie alle anderen Geschöpfe Gottes ganz getrost auffordern kann, den Lobgesang Gottes zu singen”. Met verwysing na Genesis 1:21 noem Kraus (1989:563) ook die volgende moontlikheid (en in die lig van die konteks van die psalm wat die hele bestaande skepping insluit, seker met goeie reg): “Of course, it could also be that in v 7 the thought is only of the sea in which the great sea animals live.” Of hier nou na mitologiese of gewone reuseseediere verwys word, of selfs na albei groepe, hulle word saam met die res van die skepping opgeroep tot lof aan die een ware God. In ’n lied waarin die sleutelwoord halleluja tien maal gebruik word, word die hoogste hemele en diepste dieptes geroep om saam met die Godsvolk die Here te prys. Selfs die laaste vers van die laaste psalm (150:6) roep by implikasie ook alle lewende wesens in die see tot lof aan God op wanneer dit uitjubel:
Laat alles wat asem het vir Jahwe loof!
Halleluja!
9. SLOTSOM EN TEOLOGIES-EKOLOGIESE IMPLIKASIES
Al die perspektiewe aangaande die see soos in die voorafgaande bladsye uiteengesit, lei tot die slotsom dat dit geensins ten volle verantwoord is om die see in die Ou Testament te evalueer slegs in terme van die negatiewe dimensies wat daaraan verbonde is, soos byvoorbeeld Kloos (1986:85) doen nie. Hy konkludeer “that the sea was regarded as a perennial enemy of whom it can be said, even in a late text as Rev 21:1 that in the new creation, he will exist no more” (vgl ook Schmidt 1994:204).7Uit die positiewe Ou-Testamentiese gegewens aangaande die see volg teologies-ekologiese implikasies soos die volgende vir die Nuwe-Testamentiese volk van God:
• Die see is ’n integrale deel van God se oorspronklike goeie skepping om deur Hom as Skepper geniet te word (punt 2).
• Die see en die res van die skepping ly saam weens die mens se oortredings (punt 3). In Pauliniese taal uitgedruk: Die hele skepping (dus ook die see) sien sugtend met gespanne verwagting uit na die bevryding uit die verganklikheid om te kan deel in die heerlike vryheid van die kinders van God (Rom 8:18-25).
• Omdat eienskappe van die see aangewend word om verskillende aspekte van God se verlossingspad met sy volk te verduidelik soos by punt 6 uiteengesit (bv die onophoudelike dreuning van die see as herinnering aan God se verbondstrou; die uitgestrektheid van die see as beeld van die onmeetlikheid van God se verbondsliefde; die onafgebroke opeenvolging van die golwe van die see as getuie van die duursaamheid van God se geregtigheid vir sy volk; die bruisende beweging van die see as aankondiging van die komende Godsryk), behoort elke Christen met nuwe oë na die see te kyk en dit met egte respek te behandel.
• Wys Esegiël se visioen van ’n herstelde Dooie See en Sagaria se Godswoord oor die Dooie See en die Middellandse See (punt 7) nie ten diepste profeties heen na ’n uiteindelike kosmiese vernuwing van die aarde se oseane saam met die res van die skepping nie?
• Op talle plekke in die Ou Testament word die see saam met die res van die skepping opgeroep om God te loof (punt 8). Dit, saam met al die reeds gestelde teologiesekologiese implikasies, wys hoe noodsaaklik dit is dat die Ou Testament nie antroposentries ten opsigte van die skepping gelees word nie (asof die mens die reg het om na eie goeddunke met die skepping en met name die see om te gaan). God alleen het die reg om met die see te maak soos dit Hom behaag (Ps 135:6). Die Ou Testament moet dus, soos trouens die hele Skrif, teosentries in verband met die skepping gelees word (vgl Van den Brom 1998). Dit beteken dat die mens in God se wêreld as sy dienskneg tot sy eer met sy skepping sal omgaan, by name met die see (vgl Gen 1:28; 9:1-3; Ps 8:89). Al is dit dan onbewustelik, moet die see as see van God op ’n eie unieke manier saam met die res van die skepping die loflied van die groot heelal kan sing. En die Nuwe-Testamentiese volk van God word geroep om die hele skepping in hierdie loflied voor te gaan (Bohren sd:166). Met hart en mond kan hulle reeds hier en nou saam met Christopher Wordsworth8 lofsingend bely:
Lord of heaven and earth and sea,
to you all praise and glory be …!
BIBLIOGRAFIE
Aalders, G Ch 1951. Daniël. Kampen: Kok (KV).
Aalders, G Ch 1957. Ezechiël II. Kampen: JH Kok (COT).
Allen, L C 1983. Psalms 101-150. Waco, Texas: Word Books (WBC).
Allen, L C 1990. Ezekiel 20-48. Dallas, Texas: Word Books (WBC).
AV nd = The Holy Bible. Authorized Version. Oxford: University Press.
Baldwin, J G 1972. Haggai – Zechariah – Malachi. Londen: Tyndale (TOTC).
Blackwood, A W Jr 1972. Ezekiel, prophecy of hope. Grand Rapids: Baker Book House.
Bleeker, L H K 1926. Job (Tekst en Uitleg).
Blenkinsopp, J 1990. Ezekiel. Louisville: John Knox (Interpretation).
Bohren, R sd. Sending en gemeente, in Sundermeyer, T (samesteller). Sending, kerk en sakramente. Genadendal (Teologiese Boekreeks 17).
Brinkman, J M 1995. Psalmen I. Kampen: Kok (Text en Toelichten).
Brongers, H A 1945. De scheppingstradities bij de Profeten. Amsterdam: Uitgeverij HJ Paris.
Brown, W P 1996. Obadiah through Malachi. Louisville, Kentucky: Westminster John Knox Press.
Brüning, C 1998. “Lobet den Herrn, ihr Seeungeheuer und all ihr Tiefen!” Seeungeheuer in der Bibel. Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft 110:250-255.
Burden, J J 1991. Psalms 101-119, Psalms 120-150. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Calvyn, J 1851. Jeremiah I. Edinburgh: T Constable.
Clements, R E 1996. Ezekiel. Louisville, Kentucky: Westminster John Knox Press.
Collins, J J 1993. Daniel. Minneapolis: Fortress (Hermeneia).
Cooper, L A Sr 1994. Ezekiel. Broadman and Holman Publishers (NAC).
Craigie, P C 1976. The Book of Deuteronomy. Grand Rapids: Eerdmans (NICOT).
Craigie, P C 1983. Psalms 1-50. Waco, Texas: Word Books (WBC).
Dahood, M 1970. Psalms III. Garden City, New York: Doubleday (The Anchor Bible).
Darr, K P 1987. The wall around paradise. Ezekielian ideas about the future. Vetus Testamentum 37:271-279.
Day, John 1985. God’s conflict with the dragon and the sea. Cambridge: Cambridge University Press.
Deden, D 1953. De Kleine Profeten. Roermond & Maaseik: J J Romen & Zonen (De Boeken van het Oude Testament).
Delitzsch, F 1969. Isaiah (2 volumes in one). Grand Rapids: Eerdmans.
Du Preez, J 1991. Reading three “enthronement psalms” from an ecological perspective. Missionalia 19:2 (Aug), 122-130.
Du Preez, J 2000. Die rol van die see in die Patmos-visioene. Acta Theologica 20:2 (Des), 1-25.
Du Preez, J 2001. “Let justice roll on like …” (Some explanatory notes on Amos 5:24). Journal of Theology for Southern Africa, no 109 (March), 95-98.
Du Preez, J 2001a. The new song of Isaiah 42:10-12. Vir publikasie aanvaar in Missionalia in loop van 2001.
Du Preez, J 2001b. Die eskatologiese rol van die see volgens Lukas 21:25. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 41:4 (Des), 129-242. Eichrodt, W 1970. Ezekiel. Londen: SCM (OTL).
Elliger, Karl 1978. Deuterojesaja I. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag (BKAT).
Ferch, A J 1983. The Son of Man in Dan. 7. Berrien Springs (Andrews University Seminary Doctoral Dissertation Series).
Gardner, A E 1999. The great sea of Daniel 7:2. Vetus Testamentum 49:412-415.
Gemser, B 1949. De Psalmen III. Groningen-Batavia:Wolters (Tekst en Uitleg).
Gispen, W H 1974. Genesis I. Kampen: Kok (COT).
Goldingay, J 1989. Daniel. Dallas: Texas.
Gowan, D E 1996. The Book of Amos, in The New Interpreter’s Bible VII. Nashville: Abingdon, 339-431.
Gray, J 1970. I & II Kings. Londen: SCM (OTL).
Harrison, R K 1973. Jeremiah and Lamentations. Londen: Tyndale (TOTC).
Hartman, L F & Di Lella, A A 1978. The Book of Daniel. New York: Doubleday (The Anchor Bible).
Holladay, W L 1986, 1989. Jeremiah I, Jeremiah II. Philadelphia: Fortress (Hermeneia).
Huey, F B Jr 1993. Jeremiah, Lamentations. Nashville, Tennessee: Broadman (NAC).
Hymns 1987 = Hymns for today’s church. Londen: Hodder & Stoughton.
JB 1966 = The Jerusalem Bible. Londen: Darton, Longman & Todd.
Keil, C F 1954. The Twelve Minor Prophets (2 volumes). Grand Rapids: Eerdmans.
Kelley, P H 1966. The Book of Amos. Grand Rapids: Baker.
Keown, G L, Scalise, P J & Smothers, T G 1995. Jeremiah 26-52. Dallas: Word Books (WBC).
Kidner, D 1977. Psalms 1-72. Leicester: Intervarsity Press (TOTC).
Kidner, D 1975. Psalms 73-150. Leicester: Intervarsity Press (TOTC).
Kloos, C 1986. Yhwh’s combat with the sea. Amsterdam: GA van Oorschot (Leiden: Brill).
Koehler, L & Baumgartner, W 1974. Hebräisches und Aramäisches Lexikon zum Alten Testament. Lieferung II. Leiden: Brill.
Kraus, H-J 1978. Psalmen 1-59. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag (BKAT).
Kraus, H-J 1989. Psalms 60-150. Minneapolis: Augsburg.
Kroeze, J H 1960. Het boek Job. Kampen: J H Kok.
Krüger, P A 1987. Die boek Habakuk. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
LaB 1986 = La Bible. Alliance Biblique Universelle.
Laetsch, T 1970. The Minor Prophets. Saint Louis, Missouri: Concordia.
Leupold, H C 1971. Exposition of Zechariah. Grand Rapids: Baker.
Leupold, H C 1972. Exposition of Psalms. Londen: Evangelical Press.
Leupold, H C 1973. Exposition of Daniel. Grand Rapids: Baker.
Limburg, J 1993. Johah. Louisville, Kentucky: Westminster (OTL).
Lubetski, M 1977-1978. New light on old seas. The Jewish Quarterly Review 68:65-77.
Mathews, K A 1996. Genesis 1-11:26. Broadman & Holman Publishers (NAC).
Mays, J L 1969. Hosea. Londen: SCM (OTL).
Mays, J L 1969a. Amos. Londen: SCM (OTL).
Mays, J L 1976. Micah. Londen: SCM (OTL).
Mays, J L 1994. Psalms. Louisville: John Knox (Interpretation).
McCann, J C Jr 1996. The Book of Psalms, in The New Interpreter’s Bible IV. Nashville: Abingdon, 641-1280.
McKenzie, J L 1968. Second Isaiah. Garden City, New York: Doubleday (The Anchor Bible).
Merrill, E H 1994. Deuteronomy. Broadman & Holman (NAC).
Miller, S R 1994. Daniel. Broadman & Holman (NAC).
Motyer, A 1999. Isaiah. Leicester: Intervarsity Press (TOTC).
NAV 1997 = Die Bybel. Nuwe vertaling. Eerste uitgawe 1983. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
NEB 1970 = The New English Bible. Oxford & Cambridge University Press.
NIV 1979 = The Holy Bible. New International Version. New York: New York International Bible Society.
Noordtzij, A 1937. De Boeken der Kronieken I. Kampen: Kok (KV).
Noordtzij, A 1957. Ezechiël II. Kampen: Kok (KV).
Noordtzij, A 1973. De Psalmen III. Kampen: Kok (KV).
NRSV 1993 = New Revised Standard Version (The Harper Collins Study Bible). New York: Harper Collins.
OAV 1996 = Die Bybel (Ou Afrikaanse Vertaling). Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika (1933-uitgawe soos hersien in 1953).
Ollenburger, B C 1996. The Book of Zechariah, in The New Interpreter’s Bible VII. Nashville: Abingdon, 735840.
Oswalt, J N 1986, 1998. The book of Isaiah (vol 1: chapters 1-39; vol 2: chapters 40-66). Grand Rapids: Eerdmans (NICOT).
Prinsloo, W S 1991. Die Psalms leef! Pretoria: NG Kerkboekhandel.
REB 1989 = The Revised English Bible. Oxford University Press/Cambridge University Press.
Ridderbos, J 1935. De Kleine Profeten III. Kampen: Kok (KV).
Ridderbos, J 1951. Het Boek Deuteronomium: Kampen: Kok (KV).
Ridderbos, J 1953. Jesaja II. Kampen: Kok (KV).
Ridderbos, J 1955, 1958. De Psalmen I & II. Kampen: Kok (COT).
Ridderbos, N H 1962. De Psalmen I. Kampen: Kok (KV).
Ryle, H E 1914. Genesis. Cambridge: University Press (Cambridge Bible for Schools and Colleges).
Schmidt, T E 1994. And the sea was no more: water as people, not place, in To tell the mystery (Essays on New Testament Eschatology in honor of Robert H Gundry, ed. T E Schmidt & M Silva). Sheffield: Sheffield Academic Press.
Segond 1959 = La Sainte Bible (par Louis Segond). Paris: 58 Rue de Clichy.
Smith, Ralph L 1984. Micah-Malachi. Waco, Texas: Word Books (WBC).
Tate, M E 1990. Psalms 51-100. Dallas, Texas: Word Books (WBC).
Taylor, J B 1969. Ezekiel. Londen: Tyndale (TOTC).
Thompson, J A 1974. Deuteronomy. Londen:Inter-Varsity Press (TOTC).
Thompson, J A 1980. The Book of Jeremiah. Grand Rapids: Eerdmans (NICOT).
Van den Brom, L 1998. Ecological hermeneutics, in Initiation into theology (eds A König & S Maimela). Pretoria: J L van Schaik.
Van der Ploeg, J P M 1971. Psalmen I. Roermond & Maaseik: J J Romen & Zonen (De Boeken het Oude Testament).
Van der Woude, A S 1977. Micha. Nijkerk: Callenbach (POT).
Van der Woude, A S 1984. Zachariah. Nijkerk: Callenbach (POT).
Van Selms, A 1967. Genesis deel I. Callenbach: Nijkerk (POT).
Van Selms, A 1972, 1974, 1974. Jeremia I, Jeremia II, Jeremia III en Klaagliederen. Nijkerk: Callenbach (POT).
Van Uchelen, N H 1971. Psalmen I. Nijkerk: Callenbach (POT).
Verhoef, P A sj. Krisiswoorde in krisistye (Die prediking van Habakuk en Nahum). Kaapstad/Pretoria: NG Kerk-Uitgewers.
Verhoef, P A 1989. Die Profeet Haggai. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Weiser, A 1965. The Psalms. Londen: SCM (TL).
Westermann, C 1969. Isaiah 40-66. Londen: SCM (OTL).
Westermann, C 1984. Genesis 1-11. Londen: SPCK.
Young, E J 1972. The Book of Isaiah III. Grand Rapids: Eerdmans (NICOT).
Zimmerli, W 1983. Ezekiel II. Philadelphia: Fortress (Hermeneia).
1 Nah 1:2-11, veral verse 3-6, laat duidelik blyk hoe Jahwe deur sy oordeelsmag see en land sáám sou kon laat ly weens die uitdagende optrede van ’n sondige mensheid, hier spesifiek Assirië, destydse vyand van Israel (vgl 2 Kon 18).
2 Vergelyk o m Ps 66:6; 74:13-4; 77:17-21; 78:13; 106:8-11; 114:3-5; 136:13-15; Jes 11:14-16; 23:11; 43:16-17; 50:2; 51:9-10; 63:11-13; Nah 1:4; Hab 3:8-15; Sag 10:11.
3 Vir ’n moontlike Nuwe-Testamentiese parallel, kyk Luk 21:25-27; vgl Du Preez 2001b.
4 Behalwe die reeds gemelde gunstige assosiasies met die see self, moet hier nog gewys word op die interessante feit dat ’n integrale deel van die opset van die tempel van Salomo bekend gestaan het as “die see” (hajjām), ’n geweldige bronswaterbak in die voorhof, suidwes van die brandofferaltaar, vyf el hoog (2,62 m) en tien el (5,24 m) in deursnee (1 Kon 7:23-26; 2 Kron 4:2-5, 6, 10; Jer 27:19; 52:17, 20). Behalwe vir die gewone see is dit nog net hierdie bronswaterbak wat in die Hebreeuse Ou Testament as sodanig aangedui word (Gray 1970:189). Die belangrike punt is dat die term hier gebruik word om iets so positief soos die tempelwaskom aan te dui.
5 Onder meer na aanleiding van die Rabbyne se verstaan van oos en wes in sommige van hulle geskrifte, verklaar Lubetski (1977-1978:65-77) dat die twee seë nie geografies verstaan moet word nie, maar as oeroseane wat die mitologiese oostelike en westelike eindes van die aarde simboliseer. En omdat sommige volke rondom die Middellandse See (soos die Grieke en Egiptenare) en selfs ’n Joodse pseudepigrafiese geskrif soos die boek Henog (in 17:1-7) die weste met die ryk van die dooies verbind, verstaan Lubetski die betrokke uitdrukking in Sag 14:8 as ’n verwysing na die opwekking van die dooies wat daar vertoef. Oor die aanvaarbaarheid van dié siening kan hier nie uitgewei word nie. Vir die doel van die artikel is die belangrike punt dat die twee seë in alle geval sterk positief in Sagaria se eskatologiese vernuwingsvisioen funksioneer.
6 Jes 42:10 (10-12) sou ook by dié lofoproepe ingesluit kon word, of ’n mens nou saamstem met sommige se voorgestelde tekswysiging om met Ps 96:11 en 98:7 ooreen te stem (so bv McKenzie, Elliger, en vertalings soos JB en NRSV), of met handhawing van die masoretiese teks (bv Delitzsch, Ridderbos, Oswalt en vertalings soos NAV, NIV en LaB). Vgl Du Preez 2001a.
7 Vir ’n bespreking van Op 21:1 in dié verband, vgl Du Preez 2000:15-17.
8 Uit Lied 287 in Hymns 1987.