Die gebruik van lofprysing in die aanbidding van God
ABSTRACT
Using praise in worshipping God
The purpose of the article is to describe the use of praise in worshipping God. “Praise and worship” seminars are becoming quite popular in the Dutch Reformed Church, but the theological context of and relationship between key concepts are not well defined. This article discusses the concepts “worship”, “praise” and “thanksgiving” and their relationship to one another.
Vandat die “lofprysings- en aanbiddingsbeweging” ongeveer twintig jaar gelede in Suid-Afrika sy aanvang geneem het, het die Christelike kerke begin om met nuwe oë na konsepte soos “lofprysing”, “aanbidding” en “danksegging” te kyk. In baie NG gemeentes word die liturgie tans aangepas om meer aandag aan hierdie aspekte te skenk. Verskeie halwe waarhede word egter in NG gemeentes en by lofprysingseminare ten opsigte van hierdie konsepte verkondig. Die beklemtoning van lofprysing en aanbidding word byvoorbeeld toegeskryf aan die paradigmaskuif wat die samelewing tans ondergaan; lofprysing word as voorbereiding vir aanbidding beskou, en aanbidding word dikwels in isolasie van die res van die liturgie en die mens se alledaagse lewe gesien.
Uitgaande van Heitink (1999:6) se definisie van Praktiese Teologie as ’n “empirically oriented theological theory of the mediation of the Christian faith in the praxis of modern society”, probeer hierdie artikel om een stap in die prakties-teologiese navorsingsproses te verhelder. Die skrywers het met hulle navorsing oor die gebruik van lofprysing in aanbidding besef dat dit noodsaaklik geword het om die betekenis van hierdie konsepte vanuit die Gereformeerde tradisie te omskryf, ten einde die betekenis en praktiese toepassing daarvan vir die liturgie te bepaal.
1. AANBIDDING
Aanbidding is in die eerste plek ’n lewenswyse. Dit is nie iets wat tot ’n sekere kompartement van ons lewe behoort, net op ’n bepaalde dag en in ’n spesifieke gebou beoefen en met bepaalde taalgebruik geassosieer word nie. Jennings (1982:9-10) beklemtoon dat Christene se getuienis nie primêr geestelike of kerklike aktiwiteite is nie, maar die manier waarop hulle in die wêreld lewe. Aanbidding is nie ’n gevoel nie, maar ’n lewenstyl en dit is gewortel in ’n doelbewuste besluit om die Here Jesus Christus te dien en te gehoorsaam.
Aanbidding is in die tweede plek ’n gemeentelike aktiwiteit. Hoewel God in die week en op ander plekke aanbid moet word, is die erediens die primêre geleentheid waar gelowiges saamkom om God te ontmoet. Ons openbare aanbidding van God neem ’n bepaalde orde en vorm aan wat die liturgie genoem word. Volgens Jones (1992:22) is die uitsluitlike doel daarvan om gemeenskap met God en gemeentelike aanbidding moontlik te maak. Uit gesaghebbende boeke kon die volgende kenmerke oor gesamentlike aanbidding afgelei word:
a) Dit is gebaseer op ’n verhouding tussen Christus en sy kerk en word deur ’n ontmoeting en gemeenskap met God gekenmerk. Aanbidding is meer as bloot rituele en liturgie; dit behels meer as om na die Woord en ’n preek te luister. Dit is die ontmoeting met God wat aanbidding ’n unieke gebeure maak (Foster 1988:141-142).
b) Aanbidding behels ’n tweerigtingkommunikasie tussen God en die gelowige, met God wat altyd die inisiatief neem en die kerk wat met verering antwoord. Soos God besig is om te praat met sy kerk, antwoord die gelowiges deur woorde en aksies (Webber 1992:16-18).
c) In kontras met die charismatiese tradisie waar danksegging, lofprysing en aanbidding as verskillende opeenvolgende ondervindings beskou word, sien die Gereformeerde kerke aanbidding as die somtotaal van die aktiwiteite van gelowiges in hulle samekomste. Dulles (1992:85) skryf dat dit nie net sang nie, maar elke bevestigende reaksie teenoor God – lofprysing, danksegging, belydenis, toewyding en smeekgebede – insluit.
d) Aanbidding moet om Christus se lewe en verlossingsdade sentreer. Die beklemtoning van Christus as die middelpunt van ons geloof toon dat God waardig is om aanbid te word. Die sentrale persoon in die erediens is nooit die aanbidder of sy ervaring nie, maar God (Keck 1992:1169).
e) Aanbidding gaan gepaard en is ’n reaksie op ’n visioen van God. ’n Visioen is nie noodwendig ’n ekstatiese ondervinding nie, maar wel ’n ervaring van ’n ontmoeting, hetsy kognitief, emosioneel of intuïtief, met die Skepper (Thompson 1992:51).
f) Die Woord van God is sentraal in die aanbidding van God. Burger (1999:5-6) skryf dat die Woord nie net ’n informerende nie, maar ook ’n formerende funksie moet hê. Benewens die luister na die Woord soos verkondig in die prediking, moet geleer word om ook na die formatiewe kant van die Woord te luister met die oog op die liturgiese inrigting van die diens.
g) Ware aanbidding sal ’n element van misterie bevat, omdat God groter en gans anders as ons is en nie in menslike kategorieë ingedeel kan word nie. Ware aanbidding is onmoontlik sonder eerbied en verwondering vir die verborgenheid van God (Saliers 1994:45).
h) Aanbidding kan nie vir ons gedoen word nie, maar moet deur ons gedoen word. Skrywers soos Hustad (1980:64) en Jones (1992:9) beklemtoon dat aanbidding nie kan plaasvind sonder ons reaksie op die selfopenbaring van God nie, waar ons as individue en as gemeente na Hom uitreik. Die predikant moet nie net na die diens gaan om die Woord van die Here aan die gemeente te bedien nie, maar ook om hulle voor te gaan en in gebed en aanbidding te begelei (Long 2001:107-108).
i) Die totale mens – liggaam, emosies en verstand – behoort by aanbidding betrokke te wees. Daar moet ’n balans wees tussen die rasionele en die emosionele. Eensydighede moet vermy word en die hele mens met verstand, wil en gevoel moet die Here aanbid (Barnard 1994:5-6).
j) Aanbidding behels meer as net die gelowige se reaksie op God. Aanbidding is ook besig om ’n alternatiewe werklikheid daar te stel en die fokuspunt daarvan is die wete dat God teenwoordig is en ons wil aanraak, genees en herstel (Keck 1992:1169-1172).
k) Aanbidding verander ons. Foster (1980:148-149) skryf: “If worship does not change us, it has not been worship. If worship does not propel us into greater obedience it has not been worship. Just as worship begins in holy expectancy it ends in holy obedience.”
2. LOFPRYSING AS KOMPONENT VAN AANBIDDING
Een van die belangrikste komponente van aanbidding is die lofprysing van God. Alhoewel aanbidding meer as lofprysing behels, kan dit nie daarsonder plaasvind nie. Volgens Saliers (1994:85-86) begin en eindig liturgiese aanbidding in lofprysing en danksegging.
Lofprysing is nie vreemd in ons lewe nie, dit is eerder ’n integrale deel daarvan. Dit is deel van die menslike aard om dít wat ons van waarde ag spontaan te prys. Lewis (1961:94-95) glo dat wanneer die psalmdigter gelowiges oproep tot lofprysing en danksegging dit eenvoudig ’n beroep is om dit te doen wat alle gesonde, normale mense doen wanneer hulle vir iets omgee en dit bewonder.
Lofprysing is ’n mondelingse aktiwiteit wat deur middel van die gesproke woord of sang ’n buitengewone kwaliteit of daad erken. Dit is meer as ’n houding van waardering of ’n emosie van genot, alhoewel dit gewoonlik albei elemente insluit. Lofprysing is die uitdrukking daarvan. As ’n mondelingse erkenning is lofprysing ’n reaksie op dit wat ons sien of ondervind. Dit druk nie ’n wens of behoefte uit nie, maar reageer op iets wat aan ons gegee is (Keck 1992:1167-1168)
2.1 Eienskappe van lofprysing
a) Wanneer daar na die Psalms gekyk word as rigtingwyser om die unieke eienskappe van lofprysing te bepaal, is dit duidelik dat die belangrikste onderskeidende eienskap van lofprysing die inhoud is. Lofprysing se inhoud sentreer om die verheerliking van God. God, en nie die mens nie, staan sentraal daarin. Die werk van God die Heilige Gees is om Jesus aan ons bekend te maak sodat ons in Hom kan glo en van sy verlossing sal spreek en sing (vgl Barnard 1994:3-4).
b) Lofprysing word voorafgegaan deur ’n aansporing of oproep van God se kinders om sy lof te besing. Daarnaas word ’n motivering gegee met konkrete redes waarom lofprysing noodsaaklik is (Seel 1995:50). Brueggemann (1988:79-81) skryf dat hierdie imperatiewe of gebiedende lofgesang die kenmerkendste wyse van lofprysing in Israel was. Die geloofwaardigheid van die oproep was afhanklik van die betroubaarheid van die motivering. Wanneer die motivering oortuigend was, sou ook ander nasies God loof en die nuwe wêreld van Israel se liturgie onderskryf. Die motivering moes egter die getuienis wees van God se transformerende krag te midde van menslike nood, pyn en weerloosheid. Dit is die besonderhede van God se aksies in die alledaagse lewe wat mense tot die oortuiging lei dat Hy getrou, lojaal en lofprysenswaardig is.
c) Lofprysing openbaar dankbaarheid. Lofprysing is ’n opwelling van dankbaarheid oor die skepping, redding en die verloste lewe (Mays 1994:70-71). In Paulus se skrywe vind ons verskeie kere hierdie lied wat losbars. Seel (1995:81-82) skryf dat ’n mens ware Christelike godsdiens kan beoordeel aan sy vermoë om mense te laat sing.
d) Lofprysing is vreugdevol. Lofprysing is ’n uitgelate en uitbundige vreugde oor die teenwoordigheid en liefde van God (Mays 1994:70-71). Vreugde is ’n eienskap van alle lofprysing, al ontspring dit nie direk vanuit ’n spesifieke ondervinding nie. Jennings (1982:105-107) noem dat ons in lofprysing God nie net dank vir die wyse waarop Hy naby sy kinders gekom het nie, maar dat ons ons ook verheug oor die lewe wat God in die hele skepping bring.
e) Lofprysing is poëties, asook musikaal, en daarom is die musikale digkuns die beste medium om God mee te prys (Mays 1994:70-71). Die woord “psalm” beteken om ’n lied van lof te sing. Volgens Hayford (1987:147-148) word God se Woord deur die hart ingeasem en deur die lied uitgeasem. Die liturgie kan sonder sang en musiek gevier word, maar dit sal die feestelike karakter daarvan skend (Jones 1992:495)
f) Lofprysing is triomfantlik. Die Christelike evangelie het ’n oorwinningsboodskap. Dit besing Christus se oorwinning en sondaars se verlossing en is daarom nie triomfalisties, mensgesentreerd nie. Daar is iets verkeerd met ’n teologie wat nie glorieryke en triomfantlike musiek voortbring nie (Seel 1995:81-82).
Die vraag ontstaan onwillekeurig of die gebrek aan vreugde en dankbaarheid by baie gelowiges nie daaraan te wyte is dat hulle nie hulle geloof na elke aspek van hulle lewe deurtrek nie. Mense wat daagliks met God leef, Hom in hulle gewone bestaan en deur krisisse as getrou ervaar, behoort met ’n dankbaarheid en ’n nuwe lied gevul te wees. Paradoksaal word die oproep en imperatief tot lofprysing iets spontaans in die teenwoordigheid van die lewende God. Hulle sal nie God prys bloot omdat hulle daartoe opgeroep word nie, maar hulle sal dit uit vrye wil en met dankbaarheid en oorgawe doen. Hoewel anders bedoel, is lofprysing in die NG Kerk is dikwels eensydig, ’n kopervaring waarin ’n blye persoonlike ervaring van God se teenwoordigheid vervang word met ’n intellektuele spel. Juis in die erediens behoort gelowiges met dankbaarheid getuienis te lewer van God se werking in hulle lewe.
3. LOFPRYSING IN WISSELWERKING MET DANKSEGGING
Soos die bevel om sonder ophou te bid, impliseer die opdrag om God in alles te loof en dankbaar te wees ’n lewenswyse. ’n Lewenstyl wat gevorm word deur lofprysing en dankbaarheid is een wat reageer op die genade wat ons ontvang en wat God se gawes geniet en sigbaar daarin verheug is (Jennings 1982:110-112).
3.1 Dankbaarheid, danksegging en lofprysing
Ons begrip van dankbaarheid en danksegging in die Christelike tradisie is onvolledig as daar nie na die intieme verband met lofprysing verwys word nie. Lofprysing is ’n sterk en wye konsep wat danksegging insluit. Met verloop van tyd het daar ’n skeiding tussen die begrippe “lofprysing”, “dankbaarheid” en “danksegging” ontstaan. In die Bybelse tyd was dankbaarheid en danksegging deel van die begrip “lofprysing”. In die moderne gemeenskap het daar egter ’n skuif vanaf lofprysing na danksegging plaasgevind. Terwyl ons hedendaagse danksegging in privaatheid of selfs in jou hart gedoen kan word, het al die Hebreeuse terme ’n openbare en mondelingse konnotasie. In die gelowige se verhouding met God kon lofprysing en dankbaarheid of dankbetuiging dus nie van mekaar losgemaak word nie. In die Ou Testament was die teenoorgestelde van smeking nie danksegging nie, maar lofprysing. Wanneer die psalmdigter getuig dat hy die Here sal prys, bedoel hy nie dat hy dankbaar teenoor God sal wees nie, maar dat hy op God se genade sal reageer en in die openbaar sal vertel wat God gedoen het (Liesh 1988:165-166; Westermann 1961:29-31).
3.2 Beskrywende en verklarende lofprysing
Alhoewel sowel die danklied as die lofgesang lofprysing aan God is, is die danklied verklarende of belydende lofprysing (tôdah) waarin God vir ’n unieke daad geloof word. Danksegging is die erkenning van God se dade in die fisiese werklikheid. Verklarende lofprysing kan omskryf word as ’n voordrag van hoe God die wêreld op ’n spesifieke tyd en plek verander het. Die verklarende lofprysing word onmiddellik aan ’n konkrete herinnering en ondervinding verbind.
Die lofgesang, aan die ander kant, loof God vir wie Hy is, asook vir sy handelinge in totaliteit. Hierdie soort lofprysing wat meer beskrywend van aard (tehillah) is, is op verering ingestel. Met beskrywende lofprysing word verwys na ’n voordrag van God se kenmerkende handelinge, maar sonder dat ’n spesifieke tyd of plek genoem word (Brueggemann 1988:96-97; Westermann 1961:31-32).
Sowel beskrywende as verklarende lof is nodig in die aanbidding van God. Alhoewel beskrywende lofprysing uit verklarende lofprysing ontwikkel het, word laasgenoemde sporadies in die Gereformeerde erediens toegepas. Brueggemann (1988:105) waarsku teen ’n sporadiese gebruik van verklarende lof. Indien slegs van beskrywende lof gebruik gemaak word, raak God ’n God wat niks kontekstueel doen nie.
Doksologie mag nooit die kerk van sy konkrete geheue ontneem nie. Lofprysing geskied nie in isolasie – verwyderd van die alledaagse lewe – nie. Dit is reaktief, ’n antwoord op iets wat aangebied is. Dit is belangrik dat die kerk nie haar verklarende lof sal vergeestelik nie, maar dat ruimte vir gelowiges gelaat sal word om op ’n konkrete wyse te getuig oor wat God in hulle lewe doen. Gelowiges moet deur middel van getuienisse, voordragte, individuele dankliedere en ander kunsvorme hierdie dank kan verwoord en uitbeeld tot versterking van die gemeente. As dit die kerk se begeerte is dat gelowiges en ongelowiges in aanbidding voor God moet kom, is dit nodig om te getuig dat God lewe en steeds in mense se lewe betrokke is en wonderwerke doen.
4. GEVOLGTREKKING
Die skuif van die kerk terug na die aanbidding en lofprysing van God is nie die gevolg van ’n paradigmaverandering wat in die samelewing plaasgevind het nie, maar ’n terugkeer na die roeping en eindbestemming van die kerk. As die eintlike funksie van gelowiges daarin lê om God te verheerlik, sal dit ’n bepaalde implikasie vir hulle daaglikse lewe en die liturgie hê. Om die aanbiddingsaard van die liturgie te herstel, sal daar opnuut op die lofprysing van God, wat die kern van aanbidding is, gefokus moet word.
BIBLIOGRAFIE
Barnard, A D 1994. Lofprysing. Bloemfontein: Algemene Jeugkommissie van die NGK.
Brueggemann, W 1988. Israel’s praise. Doxology against idolatry and ideology. Philadelphia: Fortress.
Burger, C 1999. Erediens in Gereformeerde styl. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 14:1, 1-22.
Dulles, A S J 1992. Theology and worship: the reciprocity of prayer and belief. Ex Auditu 8:85.
Foster, R J 1988. Celebration of discipline. The path to spiritual growth. San Francisco: Harper.
Hayford, J 1987. Worship his majesty. Dallas: Word Publishing.
Heitink, G 1999. Practical Theology: history, theory, action domains.
Hustad, D P 1980. Jubilate. Church music in the Evangelical tradition. Illinois.
Jennings, T W J 1982. Life as worship: Prayer and praise in Jesus Name. Londen: Eerdmans.
Jones, Cheslyn (red) 1992. The study of liturgy. New York:Oxford University Press.
Keck, L E 1992. Caught in the act: Praise and renewal in the church. Christian Century 109:1167-1172.
Lewis, C S 1961. Reflections on the Psalms. Glasgow: Fount.
Liesh, B 1988. People in the presence of God. Models and directions for worship. Michigan: Zondervan.
Long, T C 2001. Beyond the worship wars. Building vital and faithful worship. The Alban Institute.
Mays, J L 1994 The Lord reigns. A theological handbook to the Psalms. Louisville: Westminister John Knox.
Saliers, D E 1994. Worship as theology. Foretaste of glory divine. Nashville: Abingdon Press.
Seel, T A 1995. Atheology of music for worship derived from the book of Revelation. Londen: Scarecrow.
Thompson, M M 1992. Some reflections on worship in Revelation. Ex Auditu 8:51-53.
Webber, R E 1992. Worship is a verb. Eight principles for transforming worship. Massachusetts: Hendrickson Publishers.
Westermann, C 1961. The praise of God in the Psalms. Virginia: John Knox.