C F C Coetzee
Die Gereformeerde Kerk

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die verhouding tot die owerheid: geleenthede en knelpunte

ABSTRACT

The Reformed Churches in South Africa and the relation with the government:

opportunities and problematic areas

Since its founding in 1859, the Reformed Church in South Africa (RCSA) has maintained a critical distance in the relationship with the magistracy (civil government). The churches of the RCSA also adhere to the biblical principles regarding the position and calling of the government as we confess in Article 36 of the Belgic Confession. According to this confession, a neutral state is not acceptable. Every government is a servant of God and called by Him to play a positive role in the coming of his Kingdom. With the transition to a new political dispensation in 1994, a constitutional state has been established in South Africa. At the same time, the South African state is also a secular state. In this state the executive powers are subject to the Constitution with its Bill of Rights in which, inter alia, religious freedom is guaranteed. The South African Constitution, as well as the government, simultaneously maintains a policy of the equality of religions, a policy that is in contrast with the biblical truth that the Triune God is the only true God. In future, this policy could have a negative impact on the relation between church and state. Nevertheless, the church, under all circumstances, has to continue to fulfil her God-given calling, especially in witnessing the true gospel of Jesus Christ.

1. INLEIDING

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het, tot op datum, twee lidmate as staatshoofde opgelewer, naamlik president S J P (Paul) Kruger en president F W de Klerk. Dit is ’n interessante historiese feit dat, gedurende die ampstermyne van albei genoemde staatshoofde, radikale en unieke wendings in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika plaasgevind het. Op 31 Mei 1902 het die Vrede van Vereeniging ’n einde gebring aan die Anglo-Boereoorlog en, as gevolg van die Britse oorwinning, ook aan die destydse Transvaalse Republiek. Op 31 Mei 1994, na die eerste demokratiese verkiesing waaraan alle inwoners van die land kon deelneem, het Suid-Afrika ’n nie- Christelike owerheid en staatsbestel gekry onder ’n ANC-meerderheidsregering. Albei hierdie wendings het die verhouding van die kerk en die owerheid in die brandpunt geplaas.

2. HISTORIESE AGTERGROND

Die stigting (daar is diegene wat die woord “herstigting” verkies) van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op 11 Februarie 1859 het plaasgevind tydens die “kort tydperk van ’n aantal dekades gedurende die 19de eeu” dat Suid-Afrika wel ’n staatskerk gehad het (Coertzen 2001a:115). Die Grondwet van de Zuid-Afrikaansche Republiek van 1858 het naamlik die Nederduitsch Hervormde Kerk as die staatskerk beskou. In die Vrystaat is die Nederduitsch Hervormde Kerk tot in 1866 as die staatskerk beskou en daarna die Nederduitse Gereformeerde Kerk tot in 1902 (Coertzen 2001a:116). Onder ’n staatskerk verstaan Coertzen (2001a:115) “’n kerk wat amptelik deur die staat as die kerk van die staat erken is en wat volgens wetsbepalings in ’n bevoorregte posisie geplaas is”.

Juis in hierdie tyd het die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika ’n niebevoorregte posisie gehad en selfs vyandigheid van die kant van die owerheid ervaar. Hulle moes hulle kerkgeboue en ander eiendomme self finansier en hulle predikante uit eie fondse trakteer.

Dit was egter nie net vanweë hierdie praktiese omstandighede nie dat die GKSA van die begin af ’n “kritiese afstand” teenoor die owerheid gehandhaaf het, ’n beginsel wat vandag steeds van die grootste belang is (Vorster 2000:117, 128). Hierdie duidelike prinsipiële onderskeid tussen die roeping en terrein van kerk en owerheid is deur die eerste Gereformeerde staatspresident treffend onder woorde gebring. In sy presidensiële rede ter geleentheid van sy laaste inswering as president op 12 Mei 1898, het president S J P Kruger ook die predikante toegespreek en gewys op die plig van die staat om die kerk te beskerm, maar ook gesê dat God aan elke instituut sy eie werksaamheid aangewys het en dat die een nie op die terrein van die ander inbreuk moet maak nie. Hy het onder meer gesê: “Wij zullen u eerbiedigen en beschermen, ja, zelfs helpen en steunen om de Kerk te helpen opbouwen; maar ook niet verder dan Gods Woord voorschrijft, en weet, dat wanneer de aardsche Rechter zoover gaat dat hij begint te tasten in het inwendige bestuur der Kerk, hij dan bezield is met den gees van den Antichrist, immers dan treedt hij in het ambt van Christus, die het Hoofd der Kerk is. Indien de wereldlijke macht dat doet, dan eigent die zich het toetsingsrecht van den duivel toe, om dit in zijn klouwen te krijgen en den Godsdienst te vernietigen. God heeft deze Christelijke Staat opgericht en een Christelijk Gouvernement, dat de Kerk buiten om zal beschermen en ook u, eerwaarde Heeren; maar indien gij tast buiten het Lichaam, dat gezegd heeft: ‘Weidt Mijne lammeren en hoedt Mijne schapen,’ dan tast gij in het politieke lighaam en zij bezeten met de geeste van de lucht, en dan is uwe prediking niet eene liefelijke prediking van het Evangelie. Zoo lang elkeen in zijn eigen werkkring blijft, zal er eene gezonde samenwerking zijn en zal Gods Geest op ons rusten en de Heere zal ons zegenen” (aangehaal deur Du Plessis 1935:120, 121).

Tydens die Eeufeesvieringe van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in 1959 in Rustenburg het die destydse eerste minister, dr H F Verwoerd, ’n rede gelewer. Hy het die verhouding tussen kerk en staat soos volg gestel: “Nog altyd was dit so dat Kerk en Staat elkeen op sy eie terrein, elkeen met onafhanklikheid onder God se gesag, mekaar mog ken en erken” (1959:93). Wat die spesifieke saak van godsdiensvryheid betref, het dr Verwoerd (1959:95) gesê: “Maar dit is nie alleen so dat die Staat en die Volk, die Kerk en die godsdiens ken en erken nie. Ook op ander meer tasbare maniere blyk dit, naamlik in die wetgewing en in die gedrag van die land waar die Staat die vryheid van die godsdiens nie alleen erken nie, maar waar hy hom bemoei om dit vir die Kerke moontlik te maak om die godsdiens uit te lewe. Hy meng hom nie in die vrye reg van die Kerke in nie, behalwe vir die handhawing van wet en orde wat sy plig is. Hy moedig die Kerk aan op elke manier tot sy beskikking om die geleentheid tot bediening van die Woord te benut, ook onder die nie-blankes, wat aan ons sorg as Christelike voogde toevertrou is. Ons tref dit selfs aan waar die Staat te doen het met diegene wat in sy ampsdiens is. In die verdedigingsmag word byvoorbeeld die kerklike bearbeiding bevorder. Ons sien dit in die pogings om diegene wat langs die Spoorweë versprei is, ver weg van kerklike geleenthede, tog ook binne bereik van die bediening van die Kerk te bring. Ons sorg dat die Kerk in die gevangenisse met vergunning van die owerheid die Woord indra.”

Verwoerd (1959:96, 97) noem ook enkele voorbeelde van terreine van samewerking tussen die kerk en die staat, waaronder die gesinslewe, openbare sedelikheid en onderwys. Vir die doeleindes van ons onderwerp is dit van belang om te let op wat hy oor die onderwys sê: “Op die terrein van die onderwys is dit ook Kerk en Staat wat hulle pligte het. Die Staat moet die geleenthede skep. Die opleiding van onderwysers moet moontlik gemaak word. Die Staat moet die kind desnoods na die skoolbanke dwing, tot op ’n leeftyd wanneer hy so goed moontlik toegerus die lewe mag ingaan. Dit is ’n taak wat die Staat teen ’n bedrag van miljoene ponde moet onderneem. Dit is egter

’n taak waarin ’n geestelike funksie verrig word. Die Staat kan dit nie na behore vervul sonder dat die hand van die Kerk bykom nie, sonder dat die godsdiens die hoë rol speel wat hy in die onderwys behoort te speel nie … Karaktervorming van die mens eis besieling deur die ideale wat die godsdiens en die Kerk stel, en wat alomvattend is soos die Bybel self.”

Samevattend kan dit gestel word dat Verwoerd in sy opvatting oor die verhouding tussen kerk en owerheid die Calvinistiese beginsel gehandhaaf of eerbiedig het, naamlik dat daar sowel skeiding as samewerking tussen kerk en owerheid moet wees (Du Plessis 1935:117).

3. DIE VERHOUDING TUSSEN KERK EN OWERHEID, PRINSIPIEEL GESIEN

3.1 Artikel 36, NGB

Die Bybelse verkondiging oor die amp en taak van die owerheid en die verhouding tussen die kerk en die owerheid, word deur die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika saam met ander kerkgemeenskappe uit die Calvinisties-Reformatoriese tradisie in Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) bely. Vir die doeleindes van ons onderwerp is veral dié deel van die artikel van belang wat soos volg lui: “En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord van die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel.”

Wat die Nederlandse Geloofsbelydenis self betref, is dit belangrik om te onthou dat dit geskryf is in die tyd van die Roomse Inkwisisie. Vanweë die gevaar van vervolging, moes Guido de Bres anoniem bly by die skryf daarvan. Saam met die belydenis het ook ’n brief aan die koning verskyn, asook ’n skrywe aan die laer owerheid. Albei hierdie skrywes het die bedoeling gehad om te bewys dat die Gereformeerde Reformasie niks met die rewolusionêre beweging van die Wederdopers te doen gehad het nie, dat hulle lojaal teenoor die owerheid gestaan en van laasgenoemde verwag het om sy plig ten opsigte van die ware kerkdiens na die eis van God se Woord na behore en ten volle te vervul (Van Itterzon 1971:63). Die brief van De Bres herinner op sy beurt sterk aan die skrywe van Calvyn aan die Franse koning, ter motivering van sy Institusie. Die uiteensetting van Calvyn in sy Institusie IV, xx oor die burgerlike owerheid kan dan ook in groot mate as die uitgangspunt vir Artikel 36 beskou word.

Teen hierdie agtergrond moet Artikel 36 dan ook gelees word. So gesien, is hierdie artikel ’n worsteling om die gelowiges uit die greep van die rewolusie te hou, teen die Anabaptiste (Van Bruggen 1980:187). Terselfdertyd wil dit aan die Roomse owerheid duidelik maak dat die gereformeerdes die mees gesagsgetroue onderdane is, want hulle erken (teenoor die gedagte van die volksoewereiniteit) dat ons in die amp van die owerheid God ontmoet (Van Bruggen 1980:187).

Vir die doeleindes van hierdie artikel is die volgende opmerkings ter sake:

As die primêre beginsel waarop Artikel 36 rus, geld die waarheid van die Skrif (vgl bv Spr 8:15; Dan 2:21, 37; Joh 19:11; Rom 13:1-7) dat die owerheid ’n instelling van God is en nie uit die soewereine volkswil opkom nie (Polman s j, Dl II:302). Die owerheid regeer daarom deur die genade van God (Polman sj, Dl II:304, 305) as ’n dienaar, diaken, liturg van God (Rom 13:4, 6).

Die Skrif en die belydenis leer nie so iets soos ’n “neutrale owerheid” nie. Die gebooie van God moet ook deur die owerheid gehou en toegepas word (Deut 8:19-20; 16:18-20) en dan nie slegs dié van die Tweede Tafel nie, maar ook dié van die Eerste (vgl GKSA, Acta 1970:406).

Die GKSA huldig die standpunt (Acta 1970:407) dat, aangesien die koninkryk van God met die koms van Christus aangebreek het (Mark 1:15), daar aanvaar kan word dat God ook van die owerheid die bevordering van sy koninkryk eis (vgl ook Van Bruggen 1980:188).

Sowel kerk as owerheid ontmoet mekaar in Christus. Die owerheid het daarom die taak om te sorg dat die kerk sy godsdienstige handelinge ongestoord kan verrig. Deur middel van wette en andersins moet die owerheid op sy terrein sodanige Christelike stempel afdruk dat daar vir die kerk volle ruimte geskep word vir die uitdra van die evangelie (vgl bv GKSA, Acta 1970:408 vir die verwysing na maatreëls rakende arbeidsverpligting). Die owerheid is dus geroep om positief te staan teenoor die prediking van die evangelie ( Koopmans 1939:259).

Kragtens sy opdrag het die owerheid die reg op gehoorsaamheid behalwe waar dit teen die gehoorsaamheid aan God ingaan (Hand 4:19; 5:29). Hierdie gehoorsaamheid moet deur die kerk verkondig en deur die onderdane beoefen word. Teenoor die rewolusie moet die owerheid gesteun word. In hierdie opsig moet ook die owerheid wat nie positief teenoor die evangelie staan nie, as wettige owerheid erken word. Gehoorsaamheid aan die owerheid bly ten diepste gehoorsaamheid aan God wat die oorsprong is van alle gesag.

Die kerk het die roeping om, waar nodig, voor en teen die owerheid te getuig, en dit op grond van die evangelie.

3.2 Artikel 28, Kerkorde

Kerkordelik word die verhouding tussen die kerk en die owerheid gereël in Artikel 28 van die Kerkorde van die GKSA. Hierdie artikel lui soos volg: “Soos dit die plig van die owerhede as instellings van God is om aan die kerk en sy ampsdraers hulp en beskerming te bied, so is dit die plig van alle predikante, ouderlinge en diakens om die gehoorsaamheid en eerbied wat aan die owerheid verskuldig is, getrou en ywerig by die gemeente in te skerp en hulle moet trag om in die vrees van die Here, die guns van die owerheid jeens die kerke op te wek en te behou in belang van die kerke. Dit is ook die plig van die kerklike vergaderings om korrespondensie met die owerheid te onderhou om die nodige medewerking van die owerheid te verkry en in voorkomende gevalle as kerk van Christus voor die owerheid te getuig.”

Dit is opmerklik dat die Skrifbeginsels waarna hier bo verwys word ook in die Kerkorde neerslag vind. Die aansluiting by Artikel 36, NGB is sonder meer duidelik (Vorster 1999:86, 88, 89).

Die roeping van die kerk om “korrespondensie” met die owerheid te onderhou, is deur die GKSA nog altyd met groot erns bejeën. Deputate met ’n welomskrewe opdrag in hierdie verband word deur elke Nasionale Sinode en ook deur Partikuliere Sinodes aangewys. Daar is veral drie opvallende opdragte wat telkens deur die Nasionale Sinode aan die deputate opgedra word:

• Eerstens dat die deputate in die lig van genome sinodebesluite en die Kerkorde aandag moet gee aan sake wat na die deputate verwys word;

• tweedens dat die deputate wetgewing voortdurend moet dophou en in die lig van sinodebesluite moet optree, en

• derdens dat gesprekke met parlementslede of streeksverteenwoordigers gereeld moet plaasvind (Vorster 2000:123; vgl GKSA, Acta 1997:857).

3.3 Godsdiensvryheid

Vorster (1997:83) wys daarop dat godsdiensvryheid in die gereformeerde etiek as ’n basiese reg beklemtoon word. Hy verwys onder meer na die sogenaamde Pastoral Statement wat deur die Gereformeerde Ekumeniese Sinode van Chicago in 1984 opgestel is en waarin die volgende gestel word: “the right to religious liberty – challenging us in religiously pluralist world to plead the cause of all persons and communities to freely choose and change their religions, to live out their beliefs freely, both privately and publicly, within the various structures of society, without infringing upon the similar rights of others …”

Die GKSA het amptelik instemming betuig met genoemde Pastoral Statement sowel as met die “RES testimony on human rights” (vgl Acta 1985:651).

Die uitdrukking “godsdiensvryheid” word deur Vorster (1997:83) in teologies-etiese sin soos volg omskryf: “die reg en moontlikheid van godsdienste om vryelik in ’n samelewing te funksioneer volgens die eie beginsels van die betrokke godsdiens”.

4. DIE VERHOUDING TUSSEN DIE KERK EN DIE OWERHEID SEDERT 1994

4.1 ’n Nuwe bedeling

Sedert 1994 het Suid-Afrika nie meer met ’n owerheid te doen wat die oortuigings huldig van staatshoofde soos S J P Kruger en H F Verwoerd nie. En wat die staatsvorm betref, het Suid-Afrika juridies oorgegaan van ’n “Christelike-Nasionale staat” na ’n regstaat (Vorster 1999:95). Ideologies het Suid-Afrika oorgegaan na ’n sekulêre of neutrale staat.1

4.2 ’n Regstaat

Onder ’n regstaat word verstaan dat die Parlement nie op ’n pragmatiese wyse wette maak op die basis van die eise van die praktyk volgens norme wat vir daardie situasie alleen bestaan nie, maar volgens ’n vooraf vasgestelde beginselbasis. Hierdie beginselbasis word dan vervat in ’n handves van menseregte waaraan wetgewing moet voldoen. ’n Onafhanklike konstitusionele hof word dan bemagtig om alle wetgewing aan die hand van die beginsels van die handves te toets (vgl Vorster 1997:80). In ’n regstaat is die Grondwet dus die hoogste gesag (vgl bv Vorster 1999:117). Dit beteken dat grondwetlike waardes voorkeur geniet bo godsdienstige en kulturele waardes indien die verskillende waardes sou bots (Vorster 2000:127).

Strauss (1998:110) verstaan onder ’n regstaat ’n staat waarin “op basis van die monopolie oor die swaardmag op ’n territoriaal-begrensde kultuurgebied – burgerlike en nieburgerlike privaatregtelike burgervryhede, sowel as publiekregtelike burgervryhede aanwesig is en beskerming geniet”. In die lig van hierdie definisie verskil Strauss (1998:110) van die standpunt dat die grondwet die hoogste gesag in die staat het. “Die owerheid wat die owerheidsamp beklee – kragtens die bepalings van die grondwet – vorm die hoogste gesag in die staat.”

Strauss (1998:109) pleit ook vir die erkenning van die “eie interne regsfere” van die niestaatlike samelewingsvorme, waaronder ook die kerk. Hy maak konkluderend die stelling dat die kritiese vraag vir ’n waardering van die moontlikhede en beperkings van die regstaat in Suid- Afrika is in watter mate die owerheid die fundamentele “samelewingsvryhede” waaraan ons deel het en soos beliggaam in die verskillende niestaatlike lewensvorme, nie alleen erken nie maar ook effektief beskerm (1998:114).

4.3 ’n Sekulêre of neutrale staat

Wat die kwessie van ’n sekulêre of neutrale staat betref, stel Vorster (1997:83) die volgende: “In die aanhef van die 1996-Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika is twee sake opvallend. Eerstens is daar ’n gebrek aan ’n duidelike belydenis van die drie-enige God as die gewer van gesag en die feit dat die owerheid as gesagsdraer ten diepste aan God verantwoording verskuldig is. Met hierdie weglating is doelbewus gekies vir die konsep van ’n sekulêre staat. Daarmee word bedoel dat die staat lewensbeskoulik neutraal is en nie ’n bepaalde ideologie of godsdiens as basis het nie. Die vraag is egter of so ’n grondwet neutraal kan wees. Alhoewel daar nie ’n duidelike keuse gemaak word nie, moet die een of ander lewensbeskouing as voorveronderstelling latent teenwoordig wees. Sekularisme is ’n lewensbeskouing op sigself en met die weglating van die belydenis van God Drie-enig is by implikasie gekies vir sekularisme.”

In hierdie verband wys Van der Westhuizen (1994:5) daarop dat ’n neutrale owerheid of ’n ongekerstende owerheid vir Calvyn en sy tydgenote ondenkbaar en onaanvaarbaar was. Ook die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake (AKLAS) van die Sinode van Suid-Transvaal van die NG Kerk wys sodanige staatsvorm af omdat dit die eer van God aantas (1995:9). Die kommissie beskou neutraliteit as ’n hersenskim en stel dit dat ’n sekulêre staat óf godsdiensgelykheid handhaaf óf godsdienstige onderrig en gebede byvoorbeeld in onderwysinrigtings en by openbare byeenkomste verbied (1995:9). Die kommissie beklemtoon dat die erkenning van die heerskappy van God op al die gebiede van die lewe vir die Christen ononderhandelbaar is en dat ons ons behoort te beywer vir ’n Christelike staat, wat beteken:

• God Drie-enig word erken as die enige ware God;

• die owerheid onderwerp hom aan die gesag van die Woord;

• die owerheid skep ruimte vir die Christelike kerk om sy roeping uit te leef, en

• aanhangers van ander godsdienste word die vryheid gegun om hulle godsdiens te beoefen, maar die staat gee nie amptelike erkenning aan sodanige godsdienste nie (1995:9).

4.4 Die Grondwet en godsdiensvryheid

Wat die nuwe grondwetlike bedeling sedert 1994 betref, word die reg op vryheid van godsdiens, oortuiging en mening in die 1996-Grondwet omskryf in hoofstuk 2 onder die opskrif “Handves van Regte, Artikel 15”, waar dit soos volg geformuleer is:

15(1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening.

15(2) Godsdiensbeoefening kan by staats- of staatsondersteunde instellings geskied mits

a) daardie beoefening reëls nakom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is;

b) dit op billike grondslag gemaak is;

c) bywoning daarvan vry en vrywillig is.

In Artikel 31(1) van die Grondwet word voorsiening gemaak dat persone wat aan ’n spesifieke kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort, nie die reg ontsê mag word om saam met ander lede van daardie gemeenskap hulle kultuur te geniet, hulle godsdiens te beoefen en hulle taal te gebruik nie; en ook nie die reg ontsê mag word om kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.

Artikel 29(3) bepaal wat die onderwys betref dat ouers op grond van godsdienstige oortuigings private onderwysinrigtings kan oprig.

Landman (2001:13) beweer dat die werklike betekenis van die regstaatsidee is dat dit die taak van die owerheid is om in allerlei soorte onderwysbehoeftes van ’n pluraliteit van ouers te voorsien en dat die reg van ouers op onderwysinstellings met ’n spesifieke religieuse duiding nie andersoortig behandel behoort te word as sogenaamde openbare staatskole nie.

In hoofstuk 9 van die Grondwet word voorsiening gemaak vir die aanstelling van ’n “Kommissie vir die beskerming en die bevordering van die regte van taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe” (Art 185). Hierdie kommissie behoort binne afsienbare tyd te begin funksioneer en kan in die toekoms ’n belangrike rol vervul in die handhawing van die beginsel van godsdiensvryheid (Landman 2001:18-23).

4.5 Geleenthede vir die kerk

Daar is in die algemeen eenstemmigheid dat die regstaat en die Grondwet wat in 1994 in Suid-Afrika tot stand gekom het aan die kerk die ruimte en die geleenthede bied om sy roeping te vervul. Coertzen (2001b:7) bestempel die geloofsvryheid wat in die Grondwet gewaarborg word as ’n kosbare reg wat deur die kerke gekoester en benut moet word. Hy wys dan ook op die roeping van die kerke om hulle te beywer dat die vryheid neerslag sal vind in al die tersaaklike wette van die land (2001b:7).

Volgens Vorster (2000:127) perk die Handves van Regte die mag van die owerheid in, sodat die kerk nou ’n regskanaal het waarop hy hom kan beroep. Hy is oortuig dat ’n regstaat wat fundamentele regte erken aan die kerk ’n besondere geleentheid bied om sy roeping met betrekking tot die Suid-Afrikaanse owerheid uit te leef (2000:131).

4.6 Knelpunte

Daar is egter ook knelpunte waarvoor die oë nie gesluit kan word nie. Inteendeel. Indringende besinning en optrede deur die kerk is ’n saak van die hoogste prioriteit.

4.6.1 Korrespondensie misluk

Daar het van die korrespondensie tussen die kerk en die owerheid soos dit in Artikel 28 van die GKSA se Kerkorde gereël word, sedert 1994 feitlik niks tereg gekom nie. Die owerheid reageer nie op skriftelike korrespondensie nie en dit is feitlik onmoontlik om ’n afspraak vir gesprek te kry. Daar is geen aanduiding dat die Bybelsgefundeerde getuienis oor sake soos dobbelary, aborsie, doodstraf en onderwys enige gewig dra nie. Dit is een van die redes waarom die Redaksiekommissie van Die Kerkblad enkele maande gelede in ’n tema-uitgawe ’n “ope brief aan die President” gerig het. In hierdie “ope brief” is probeer om met ’n Bybelsgefundeerde getuienis voor en teen die owerheid te getuig oor sake soos dobbelary, aborsie en die regte van taal-, kultuur- en godsdienstige gemeenskappe. Van die kant van die owerheid was daar weer eens geen reaksie nie.

Vorster (1999:94) wys op ’n verdere probleem in hierdie verband, naamlik dat die deputate wat die opdrag het om die korrespondensie met die owerheid te onderhou, geen afhandelings- bevoegdheid het nie. Dit is ’n probleem wat deur die GKSA aangespreek moet word.

4.6.2 Godsdiensgelykheid

Die Grondwet sowel as die owerheid in Suid-Afrika handhaaf die beginsel van godsdiensgelykheid. Hierdie gelykheid is nie net ’n gelykheid voor die reg nie, maar ook ’n ideologiese gelykheid in ooreenstemming met die ideologie van die New Age.

In die lig van die Bybelse waarheid dat daar net een ware God is, naamlik die drie-enige God, en daarom ook net een ware godsdiens is hierdie standpunt problematies. Daar is ’n wesenlike verskil tussen godsdiensvryheid in dié sin dat elke godsdiens vrylik beoefen kan word en godsdiensgelykheid wat daarop neerkom dat alle godsdienste gelykerwys bevoorreg en bevorder word.

4.6.3 Regstaat versus sekulêre staat

In aansluiting by punt 4.6.2 hier bo moet gestel word dat daar in die optrede van die owerheid dikwels ’n spanning bemerk kan word weens die feit dat Suid-Afrika juridies ’n regstaat is, maar ideologies ’n sekulêre staat. Dit is naamlik so dat godsdiensvryheid juridies, in die Grondwet gewaarborg word. Maar Suid-Afrika is terselfdertyd ’n sekulêre of neutrale staat en dit bring mee dat die juridies gewaarborgde vryheid dikwels bedreig word.

Ons vind ’n baie duidelike voorbeeld van hierdie spanning in uitsprake en beleidstandpunte van die Minister van Onderwys oor sake soos godsdiensonderrig in skole en die Christelike karakter van die PU vir CHO. Die verklaring van minister Kader Asmal dat onderrig in bepaalde godsdienste op skool plek moet maak vir ’n vergelykende studie van godsdienste het ’n koor van protes, veral uit Christelike geledere, laat opgaan (Rapport, 14 Okt 2001:17). In ’n ope brief aan die minister skryf dr Isak Burger onder meer die volgende (Rapport, 14 Okt 2001:17): “Ons glo kerk en staat het elk ’n rol in die gemeenskap. Ons glo ons kan mekaar help om ’n groter vaderland te skep. Maar ons glo die rolle kan nooit vermeng word nie. U beleid oor godsdiensonderrig op skool erken die ryke verskeidenheid van ons godsdienserfenis, maar dit oortree die grondslag van ons grondwet deurdat dit geen keusevryheid laat vir onderwys uit ’n perspektief gegrond op ’n godsdiensstelsel nie. ’n Vooraanstaande opvoedkundige sê: ‘Die leerplan dwing leerders om ’n staatsontwerpte (New Age) mengsel van alle godsdienste te aanvaar en te bely.’ Ons kan dit nie aanvaar nie en sal dit teenstaan. Ons sien dit as ’n opsetlike aanval op die Christelike godsdiens in ooreenstemming met u aanvalle die laaste jare op ons godsdiens en ander gelowe … U sê dat u nuwe beleid op die waardes van die grondwet gegrond is. Maar die grondwet beklemtoon die vryheid van keuse. Dit lyk of u alles in u vermoë doen om daardie reg by ons skole uit te wis.”

4.6.4 Die implementering van Artikel 36, NGB

Sowel J M Vorster (1997:88) as N Vorster (1999:80-82; 2000:122) is van mening dat die huidige Grondwet en staatsbestel voldoende ruimte bied vir die uitlewing van Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Hierteenoor moet gestel word:

• Dit is wel so dat die kerk die ruimte en vryheid het om die evangelie te verkondig. In dié opsig word “die heilige Woordbediening” beskerm (Art 36, NGB).

• Terselfdertyd egter word in die huidige staatsbestel ook die “afgodery en valse godsdiens” beskerm, bevoorreg en bevorder. Die vraag is of dit die bedoeling is van wat ons in Artikel 36 bely. Die owerheid is dan juis ingestel “vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag”.

• Daar kan van die owerheid verwag word om die koninkryk van God te bevorder (GKSA, Acta 1970:407). Vervul die owerheid hierdie roeping as hy terselfdertyd ook godsdienste en magte wat juis die koninkryk van God beveg, bevorder? Dit lyk inderdaad of Vorster (2000:120) die rol van die owerheid in diens van die koninkryk wil beperk tot die handhawing van reg en orde. Die vraag is of so ’n standpunt reg laat geskied aan die verklaring van die belydenis.

5. DIE ROEPING VAN DIE KERK

Met die oog op ons volgehoue roepingsvervulling as kerk in Suid-Afrika en die handhawing en beskerming van ware godsdiensvryheid, is die volgende opmerkings belangrik:

• In die verhouding tot die owerheid moet die kerk getrou bly aan sy wese as instelling van God, volk van God, unieke gemeenskap (Vorster 1984:3-6). Hierdie totale andersheid van die kerk moet duidelik blyk uit die optrede en getuienis, ook teenoor die owerheid.

• Aansluitend hierby moet die kerklike getuienis voor en teenoor die owerheid onvermoeid volgehou word en wel op ’n “kerklike wyse”, wat daarop neerkom dat dit Skrifgefundeerde getuienis moet wees.

• Alles moontlik moet gedoen word om die “korrespondensie” met die owerheid vol te hou in die sin van die monitering van wetgewing, ensovoorts.

• In die gesprek met die owerheid moet volhardend gepleit word vir die erkenning van die eie interne regsfeer van die kerk en vir die erkenning dat die owerheid deur die genade van God regeer en sy dienaar is, en daar moet beklemtoon word dat sowel kerk as owerheid onder die hoofskap van Jesus Christus geroep is om saam en afsonderlik sy Koningskap te gehoorsaam en sy koninkryk te dien en te bevorder.

• Die gebed vir die owerheid volgens 1 Timoteus 2 mag nooit verstom nie. Daar is nie ’n meer kritiese optrede teen die owerheid moontlik nie (Koopmans 1939:262).

BIBLIOGRAFIE

Burger, I 2001. Ons leer nie ons kinders volgens die Boek van Asmal nie (Ope brief aan Asmal). Rapport, 14 Okt, 31 (41):17.

Coertzen, P 2001a. Die regsposisie van kerke in Suid-Afrika. NGTT, 42(1-2):115-122.

Coertzen, P 2001b. Geloofsvryheid is ’n kosbare reg … en ’n groot verantwoordelikheid. Die Kerkbode, 3 Aug, 8:7.

Du Plessis, J A 1935. Kerk en staat, in Federasie van die Calvinistiese Studenteverenigings in Suid-Afrika. Koers in die krisis. Stellenbosch: Pro Ecclesia Drukkery, 111-121.

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika 1970. Handelinge van die sewe en dertigste Sinodale Vergadering in sitting byeen te Potchefstroom op 21 Januarie 1970 en volgende dae.

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika 1985. Handelinge van die twee en veertigste Nasionale Sinode in Potchefstroom op 8 Januarie 1985 en volgende dae.

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika 1997. Handelinge van die ses en veertigste Nasionale Sinode in Potchefstroom op 6 Januarie 1997 en volgende dae.

Koopmans, J 1939. De Nederlandsche Geloofsbelijdenis. Amsterdam: Holland.

Landman, J C H 2001. Gemeenskapsreg en die Suid-Afrikaanse grondwet 1996 binne die raamwerk van die regstaat. Pretoria: Afrikaanse Protestantse Akademie (diktaat).

Nederduits Gereformeerde Kerk van Suid-Transvaal, Sinode 1995. Ons behoort ons te beywer vir ’n Christelike staat: meeste burgers van SA is aanhangers van Christelike geloof. Die Kerkbode, 156(16):9.

Polman, A D R s j. Woord en belijdenis: eenvoudige verklaring van de Nederlandse Geloofsbelijdenis. Deel II. Franeker: Wever.

Strauss, D F M 1998. Prinsipiële besinning oor die regstaat in Suid-Afrika: gesien vanuit ’n historiese perspektief met verrekening van nie-Christelike en Christelike beskouinge van die staat, in Onafhanklike Navorsingsinstituut: VF. Konferensie: Christelike geloof en politiek, 2(1):88-122, April.

Suid-Afrika 1996. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker. Tema-uitgawe 2001. Ope brief aan die President. Die Kerkblad, 103(3103):1-34.

Van Bruggen, J 1980. Het amen der Kerk: de Nederlandse Geloofsbelijdenis toegelicht. Amsterdam: Ton

Bolland.

Van der Westhuizen, H G 1994. Aanvaarding van neutrale owerheid by kerkhervormers ’n onmoontlikheid.

Die Hervormer, 87(15):5.

Verwoerd, H F 1959. Rede van Sy Edele die Eerste Minister, in Du Toit, S, Coetzee, P J, Bingle, H J J & Venter, H (reds). Eeufees te Rustenburg. Potchefstroom: Algemene Sinode, Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, 92-104.

Van Itterzon, G P 1971. Belijn belijden. Kampen: Kok.

Vorster, J M 1984. Die roeping van die kerk in die Suid-Afrikaanse politieke problematiek. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO, F (194):1-24, Feb.

Vorster, J M 1997. Teologies-etiese perspektiewe op die 1996-Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika.

In die Skriflig, 31(1/2):79-91.

Vorster, N, ZA, 2. 2000. Kerk en owerheid binne ’n regstaat: die profetiese roeping van die kerk met betrekking tot die Suid-Afrikaanse owerheid. In die Skriflig, 34(1):109-134.

Vorster, N 1999. Kerk en owerheid binne ’n regstaat: die roeping van die kerk met betrekking tot die Suid- Afrikaanse owerheid. Potchefstroom: PU vir CHO (MTh-skripsie).

1 Daar is diegene wat meen dat ons nie van ’n sekulêre staat kan praat nie, omdat die owerheid en die Grondwet wel erns maak met godsdiens. Coertzen wil daarom slegs praat van ’n neutrale staat. Daar is egter ook diegene wat die woorde “sekulêr” en “neutraal” as sinonieme of wisselvorme gebruik (bv Vorster 1997:83; vgl ook die standpunt van die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake van die Sinode van Suid-Transvaal van die NG Kerk in Die Kerkbode, Dl 156, 16: 9). Dit is seker nodig dat daar duidelikheid gekry word oor die terminologie wat gebruik word.