Vryheid van godsdiens: onbenutte en onderbe- nutte geleenthede vir die NG Kerk?
ABSTRACT
Freedom of religion: unutilised and under-utilised opportunities for the Dutch Reformed Church?
The Dutch Reformed Church considers its right to freedom of religion, which includes its biblical-prophetic witness to the state authority and the world in which it stands, as inalienable. In the exercise thereof it claims the protection of the government determined in law (Church Order 1998). The basis of this claim can be found in the 1986 document, Kerk en samelewing in which the church acknowledged certain human rights (including freedom of religion and worship) and responsibilities.
The implications and practical implementation of freedom of religion are not explained in recent church documents, which highlights the need to formulate this more clearly.
This paper proposes that the following elaboration of freedom of religion could be considered:
(1) The right to practise religion; (2) the right to formulate a creed(s); (3) the right to worship freely; (4) the right to formulate a church order; (5) the right to solemnise marriages in terms of church creeds and policy; (6) the right to take pastoral care of members of a church; (7) the right to censure or excommunicate members of the church; (8) the right to teach religious beliefs; (9) the right to welcome new converts freely; (10) the right to appoint officials, and (11) the right to keep information regarding members confidential.
The paper suggests that the churches should approach the Human Rights Commission in order to establish clarity on the implications of freedom of religion.
1. VRYHEID VAN GODSDIENS WORD DEUR DIE GRONDWET GEWAARBORG
Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika is ’n waardegedrewe grondwet wat belangrike bepalings oor godsdiensvryheid bevat – bepalings wat ingrypende gevolge vir geloofsgemeen- skappe, kerke en dus die NG Kerk het.
Die Grondwet konstateer uit die staanspoor in Artikel 1 die volgende uitgangspunt:
1. Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes:
(a) Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.
(b) Nie-rassigheid en nie-seksisme.
(c) Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg.
gereelde verkiesings en ’n veelparty-stelsel van demokratiese regering, om verant- woordingspligtigheid, ’n responsiewe ingesteldheid, en openheid te verseker (Grondwetlike Vergadering, Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 1997).
Die besondere waarde wat aan menseregte en vryhede geheg word, word uitgedruk in ’n aantal regte wat in ’n Handves van Regte uitgespel word. Die volgende artikels is van besondere belang in die gesprek oor die verhouding tussen die kerk en die staat:
Artikel 15 wat lui:
Vryheid van godsdiens, oortuiging en mening
15. (1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening. (2) Godsdiensbeoefening kan by staats- of staatsondersteunde instellings geskied, mits –
(a) daardie beoefening reëls nakom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is;
(b) dit op billike grondslag geskied; en
(c) bywoning daarvan vry en vrywillig is
(3) (a) Hierdie artikel belet nie wetgewing wat erkenning verleen aan –
(i) huwelike wat aangegaan is kragtens enige tradisie, of ’n stelsel van godsdiens-, persone- of familiereg nie; of
(ii) stelsels van persone- en familiereg kragtens enige tradisie, of wat nagevolg word deur persone wat ’n besondere godsdiens aanhang nie.
(b) Erkenning ingevolge paragraaf (a) moet met hierdie artikel en die ander bepalings van die Grondwet bestaanbaar wees (Grondwetlike Vergadering 1997).
Artikel 18 wat vryheid van assosiasie reël, speel ook ’n rol:
Vryheid van assosiasie
18. Elkeen het die reg op vryheid van assosiasie. Artikels 30 en 31 is veral van belang:
Taal en kultuur
30. Elkeen het die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem, maar niemand wat hierdie regte uitoefen, mag dit doen op ’n wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.
Kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe
31. (1) Persone wat aan ’n kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort, mag nie die reg ontsê word om, saam met ander lede van daardie gemeenskap –
(a) hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en (b) kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.
(2) Die regte in subartikel (1) mag nie uitgeoefen word op ’n wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie (Grondwetlike Vergadering 1997).
Artikel 9(3) bepaal ook baie duidelik dat die staat nie teen iemand mag diskrimineer op grond van (onder meer) godsdiens nie.1
2. DIE UITDRUKKING VAN DIE VERHOUDING TUSSEN DIE NG KERK EN DIE STAAT
Die NG Kerk druk sy verhouding tot die staat formeel in die Kerkorde Artikel 65 uit:
65.1 In die lig van Romeine 13 erken die Kerk die staat as ’n dienaar van God tot ons beswil. Dit is God wat aan die staat die opdrag gegee het om die reg te handhaaf en die kwaaddoeners te straf.
65.2 Die Kerk erken dat die staatsowerheid wat deur sy fisiese swaardmag in beheer van
’n bepaalde staatsgebied is, deur God beskik is en as sodanig eerbiedig moet word. Die norm vir die Kerk se deelname aan die publieke regsverkeer en uitoefening van burgerlike regte is die Woord van God.
65.3 Christus is die Hoof van die kerk. Daarom beskou die Kerk sy reg op vryheid van godsdiens, wat sy Bybels-profetiese getuienis teenoor die staatsowerheid en die wêreld waarin hy staan, insluit, as onvervreembaar. In die uitoefening hiervan maak hy aanspraak op die regsbepaalde beskerming van die owerheid.
65.4 Die Kerk nader staatsowerhede op alle vlakke op ’n ordelike wyse. Hierdie skakeling word gedoen deur sy erkende kerkvergaderings of die kommissies wat hulle daarvoor aanwys. Skakeling oor sake wat die Kerk in sy algemene sinodale verband raak, geskied deur die Algemene Sinode of sy betrokke kommissie. Skakeling sonder ’n opdrag van die Algemene Sinode geskied deur die betrokke kommissie in oorleg met die Algemene Sinodale Kommissie.
Die neo-Calvinistiese aard en die feit dat hierdie uitdrukking van die verhouding in die tradisie van die ou Dordtse kerkorde staan, is tydens ’n vorige konferensie bespreek (Strauss 2001:192-202). Dit is opvallend dat die NG Kerk sy reg op vryheid van godsdiens as onvervreembaar beskryf en ook aanspraak maak op regsbepaalde beskerming van die owerheid (Art 65.3). Die konteks waarbinne hierdie aanspraak gemaak word, word in die beleidsdokument Kerk en Samelewing (Algemene Sinodale Kommissie 1986) gevind. Die NG Kerk erken in hierdie stuk onder meer die volgende regte:
Wat sy Godsverhouding aanbetref, gaan dit om sy reg
• op vryheid van geloof, godsdiens en aanbidding,
• om verantwoordelik en aanspreeklik voor God te leef.
Wat sy medemenslike verhoudings aanbetref, gaan dit om die reg
• om ’n huwelik te sluit,
• op ’n gesinslewe en kinders,
• op opvoeding, onderwys en opleiding,
• op sosiale verband en groepsidentiteit ... (1986: 33, 34).
Dit is opvallend dat die NG Kerk klem plaas op die feit dat mense nie net regte het nie, maar ook pligte en verantwoordelikhede (1986:32) en dat die pligte en verantwoordelikhede saam met die regte wat uitgeoefen word ter sprake kom.
Die NG Kerk se aanspraak op vryheid van godsdiens open onmiddellik die vraag oor die aard en inhoud van godsdiensvryheid en die aard van beskerming waarop die kerk aanspraak sou kon maak, maar ook watter verpligtinge hierdie reg op die kerk lê. Artikel 65 in die NG Kerk se Kerkorde en die kerk se siening oor menseregte bied ’n handige aansluitingspunt by die bepalings van die Grondwet. Dit behoort die vertrekpunt te wees waarvan die NG Kerk verdere geleenthede en verpligtinge met betrekking tot godsdiensvryheid uitbou.
3. DIE AARD VAN VRYHEID VAN GODSDIENS
Vryheid van godsdiens kan gedefinieer word as dat ’n burger van ’n land vry is om die godsdiens van sy of haar keuse te beoefen. Die staat behoort vryheid van godsdiens te handhaaf sodat mense op geen manier druk van die staat sal ervaar oor die godsdiens wat hulle beoefen nie.
Die NG Kerk het nog nie in sy Kerkorde of in ander besluite sedert die nuwe Grondwet in werking getree het, die aard en inhoud van hierdie vryheid van godsdiens omskryf nie. Daar bestaan inderdaad onsekerheid oor wat die grondwetlike bepalings beteken en hoe vryheid van godsdiens ekklesiologies vertolk moet word. Kerke en die staat (of organe van die staat, soos die regspraak) het in dié verband nog nie juis indringend dialoog gevoer nie. Die indruk bestaan ook dat die regspraak oor vryheid van godsdiens nog nie baie ontwikkel het nie en dat daar nie soveel duidelikheid oor die aard en praktiese gevolge van hierdie mensereg bestaan as byvoorbeeld oor die vryheid tot seksuele oriëntering nie. Waar daar reeds verskeie uitsprake met betrekking tot hierdie mensereg die lig gesien het, is weinig soortgelyke helderheid oor godsdiensvryheid beskikbaar. Kerke is dalk huiwerig – of het nie die vermoë nie – om aspekte hiervan in die Konstitusionele Hof te toets.
Waar die definisie van vryheid van godsdiens dalk maklik omskryf kan word, sal die betekenis daarvan nog heelwat nadenke verg. Kerke sal ten minste die betekenis van die reg tot vryheid van godsdiens en die gepaardgaande verpligtinge helder moet uitspel. Vryheid van godsdiens beteken immers dat daar nie van ’n lid van die kerk verwag sal word om op so ’n wyse aan die eise van die reg te voldoen dat basiese geloofsvereistes verloën word nie. Dit is so ’n belangrike beperking dat die kerk baie sober en prinsipieel sal moet wees in die formulering van die praktiese gevolge van die vryheid van godsdiens en dit nie gebruik om aansprake te vestig wat nie tot die aard en wese van die kerk behoort nie. Dit is uiteraard ook ’n verklaring wat die wese van die kerk uitspel en behoort te fokus op die kerk se unieke identiteit. Natuurlik behoort ekumeniese gesprek deel van die aanloop tot die formulering van sodanige verklaring te wees.
Sodanige verklaring van kerke oor hulle siening van die implikasies van vryheid van godsdiens is die basis waarop verdere gesprek met die staat gebou behoort te word. Dit kan in die benutting van vryheid van godsdiens een van die heel belangrikste dokumente en beleidstandpunte vir die afsienbare toekoms wees.
Die gesprek oor die betekenis van vryheid van godsdiens sal tussen verskillende akademiese dissiplines, maar ook tussen die verskillende rolspelers soos die kerk, staat en politiek moet plaasvind. Die volgende inhoud met betrekking tot die betekenis van vryheid van godsdiens en gepaardgaande verantwoordelikhede kan tereg kom:
Reg | Verantwoordelikheid |
(1) Die reg van lidmate van kerke om godsdiens te beoefen. | Die verantwoordelikheid om godsdiens te beoefen op ’n wyse wat nie ander regte van landsburgers benadeel nie. Die Grondwet bepaal ook duidelik in Artikel 31: “Die regte in subartikel (1) mag nie uit- geoefen word op ’n wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie” (Grondwet 1997). |
(2) Dit reg van lidmate om kollektief, as lede van ’n geloofsgemeenskap en kerkverband, ’n eie belydenis te kies. | Die verantwoordelikheid om toe te sien dat die belydenis nie ander regte benadeel nie. |
(3) Die reg om godsdienstige byeenkomste vrylik en sonder hindernis te hou, wat insluit die rituele wat kenmerkend van die godsdiens is. | Die verantwoordelikheid om nie byeenkomste te hou en rituele te vier op ’n wyse wat ander regte van landsburgers benadeel nie. |
(4) Die reg om sy eie interne orde te kies en sy werksaamhede daarvolgens in te rig. Dit sluit die reg in om sy kerklike sake te bestuur op ’n wyse wat pas by die kerk se aard en belydenis. Dit beteken ook die reg om sy eie kerk- regering te bepaal. | Die verantwoordelikheid om sy orde en werk- saamhede so in te ruim dat dit voldoen aan die ruim dat dit voldoen aan die goeie orde van die samelewing en nie bots met landswette nie |
(5) Die reg om sy huwelike te sluit inge- volge die kerk se belydenis en beleid en ook die reg om te weier om huwelike te sluit wat nie versoenbaar is met die kerk se belydenis en beleid nie. | Die verantwoordelikheid om te voldoen aan wette en reëlings wat die owerheid daarstel met betrek- king tot huwelike. |
(6) Die reg om lidmate herderlik te versorg. | Die verantwoordelikheid om te voldoen aan die goeie orde in die samelewing en om nie te bots met landswette nie. |
(7) Die reg om norme vir lidmate se gedrag te stel en lidmate te sensureer en selfs af te sny van die kerk indien dit nie nagekom word nie. In die woorde van Kerk en Samelewing: “die reg om verant- woordelik en aanspreeklik voor God te leef” (1986:33). | Die verantwoordelikheid dat sodanige prosedures voldoen aan die reëls van natuurlike geregtigheid. |
(8) Die reg om sy godsdienstige oortuigings te onderrig en die reg om dit selfs by staatsinstellings soos skole te doen. | Die verantwoordelikheid dat staatskole nie soos kerkskole ingeruim word nie en dat ruimte gelaat word vir leerlinge wat nie dieselfde oor- tuigings deel nie. |
(9) Die reg om nuwe lidmate wat by die kerk wil aansluit vrylik te ontvang | Die verantwoordelikheid om reg te laat geskied aan vryheid van assosiasie. |
(10) Die reg om sy eie ampsdraers volgens sy eie vereistes aan te stel of af te dank. | Die verantwoordelikheid dat sodanige prosesse in ooreenstemmingmet arbeidswette sal wees en vol- doen aan die reg op billike arbeidspraktyke (Art 23, Grondwet 1997). |
(11) Die reg om inligting oor sy lidmate vertroulik te hou. | Die verpligting om ander fundamentele regte, soos die reg om lewe, te beskerm in die uitoefening van hierdie reg. |
So ’n praktiese uiteensetting bied die NG Kerk ruim geleentheid om sy siening van die betekenis van vryheid van godsdiens en die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan in ’n beleidsdokument te verwoord en behoort desnoods by wyse van ’n reglement in die Kerkorde opgeneem te word.
4. GRYS GEBIEDE EN MOONTLIKE KONFLIK
Daar bestaan onduidelikheid oor twee implikasies van die erkenning van godsdiensvryheid.
Dit het eerstens te doen met die balans tussen die verskillende menseregte wat deur die Grondwet gewaarborg word en die hantering van die botsing wat daar tussen sulke regte kan ontstaan. Die ander handel oor die impak van gewaarborgde godsdiensvryheid op ander wette.
Die Grondwet waarborg ’n aantal menseregte. Die regte in die Handves van Regte kan ingevolge Artikel 362 van die Grondwet slegs beperk word indien aan ’n aantal voorskrifte voldoen word, naamlik in dié mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Die wyse waarop moontlike konflik in die handhawing van ander regte en godsdiensvryheid gehanteer word, verdien verdere ondersoek, soos enkele voorbeelde illustreer:
(1) Vryheid van godsdiens – gelykheid (wat insluit die beperking op diskriminasie op grond van seksuele oriëntering). Die vryheid van godsdiens en die beperking dat daar nie onbillik teen ’n persoon op grond van seksuele oriëntering gediskrimineer mag word nie, laat vrae ontstaan oor byvoorbeeld kerke se standpunt in verband met homoseksualiteit.
(2) Vryheid van godsdiens – vryheid van assosiasie. Die kerk se reg om sy eie bepalings en voorwaardes vir lidmaatskap te stel en ook sy eie reëlings te mag tref vir die beëindiging van lidmaatskap. Die handhawing van die kerklike aard van tug is ook hier ter sprake.
(3) Vryheid van godsdiens – vryheid van toegang tot inligting. Artikel 32 bepaal dat elkeen die reg het op toegang tot “enige inligting wat deur ’n ander persoon gehou word en wat vir die uitoefening of beskerming van enige regte benodig word”. Veral kerklike ampsdraers is moreel gebonde om inligting wat in ’n pastorale opset bekendgemaak is in alle omstandighede as vertroulik te handhaaf. Daar kan egter omstandighede wees waarin sodanige inligting ander regte van mense kan aantas.
Die moontlike konflik tussen godsdiensvryheid en ander wetsbepalings, veral in die lig van Artikel 9(3) se bepaling dat die staat nie teen iemand se geloofsoortuiging mag diskrimineer nie:
(4) Vryheid van godsdiens – bepalings van Inkomstebelastingwet. Nuwe regulasies vereis dat kerke ook as Public Benefit Organs moet registreer en dat aan sekere bepalings in hierdie verband voldoen moet word, soos die aard van die kerk se beheerliggaam (kerkraad).
(5) Vryheid van godsdiens – bepalings van arbeidswette. Die Grondwet bepaal dat alle ander regsreëls onderhewig is aan die Grondwet. Hoewel Artikel 36 die moontlikheid ooplaat vir beperkings op sekere fundamentele regte, sal die mate waarin arbeidswette godsdiensvryheid beperk verder getoets moet word. In hierdie verband kom die volgende vrae onmiddellik na vore:
(a) Kan die kerk sekere vereistes stel met betrekking tot werknemers wat in stryd kan wees met arbeidswette? ’n Voorbeeld is dat ’n kerk vereis dat ’n potensiële amptenaar moet behoort aan die kerkgenootskap of dat die werknemer nie ’n vrye seksuele oriëntering mag hê nie.
(b) Kan die kerk van ’n kerklike ampsdraer (bv ’n predikant) verwag om op grond van sy roeping en kerklike praktyk diens te verrig wat in stryd is met arbeidswetgewing – soos om op ’n Sondag te werk sonder aanspraak op oortydvergoeding? ’n Ander probleem is om arbeidsverhoudinge tussen die predikant en sy werkgewers op ’n wyse te reël wat reg laat geskied aan die feit dat ’n predikant ook ’n godsdienstige roeping ontvang en inderdaad VDM – Bedienaar van die Goddelike Woord – en dus in eerste instansie dienaar van God is? Kan ’n kerk sy predikant afdank omdat hy van sy vrou geskei het?
(6) Vryheid van godsdiens en bepalings met betrekking tot die staat se voorgenome godsdiensbeleid in staatskole. In hierdie verband spreek die amptelike kommentaar van die NG Kerk vanself: “Die NGK het kennis geneem van wysigings ten opsigte van godsdiensonderrig wat nuwe wetgewing voorstel. Namate die konsekwensies van die voorgestelde wetgewing oordink word, is dit duidelik dat die NGK nie dié nuwe beleid sonder meer kan ondersteun nie. Die NGK is ten gunste van die aanbied van ander godsdienste as deel van die kurrikulum. Beter begrip, respek vir mekaar en verdraagsaamheid kan op dié wyse gekweek word. Indien ’n multi-religie benadering egter die enigste opsie gaan wees, skep dit probleme waarmee die NGK hom nie mee kan vereenselwig nie.
“Die NGK vind dit vreemd dat daar oënskynlik onverskillig omgegaan word met sekere regte wat in die Grondwet verskans is. Dit wil voorkom asof die beginsel van godsdiens- vryheid, wat inhou dat ouers mag aandring op hul kinders se reg om hul geloof in skooltyd in skoolgeboue te beoefen, op voorwaarde dat dit op ’n redelike wyse sal geskied en dat by- woning vry en vrywillig sal wees (SA Grondwet, Art 15(2)), geïgnoreer word. Dié regte is ook vervat in die Suid Afrikaanse Skolewet en in ander wetgewing” (NG Jeug E-Nuus 2001/3).
Die reaksie word beaam deur die Interkerklike Kommissie vir Opvoeding en Onderwys. (Die IKOO bestaan uit die VGK, RCA, NGK, Hervormde en Gereformeerde Kerk). “Die Grondwet is die hoogste reg en alle ander wette en beleid is daaraan ondergeskik. Artikel 15(1) en 15(2) asook die onderwyswet Artikel 7 gee die Christenouer soos vir ouers uit ander godsdienstige groepe, die geleentheid om hulle kinders binne die raamwerk van hulle geloofsoortuiging en geloofstradisie te laat onderrig. Die inhoud van hierdie wetgewing is in lyn met internasionale praktyk. Na die volgende kan verwys word: Universal Declaration of Human Rights, African Charter on Human Rights, United Nations Convention on the Rights of the Child. Dit wil voorkom asof hierdie reg van ouers vervreem gaan word deur nuwe wetgewing” (NG Jeug E-Nuus 2001/3).
Die NG Kerk sal hierdie en ander botsings eers op ’n verantwoorde wyse kan hanteer indien die kerk duidelikheid het oor sy oortuiging met betrekking tot vryheid van godsdiens en nadat daar meer regsekerheid oor vryheid van godsdiens gevestig is.
5. HOE WORD DIE ONBENUTTE EN ONDERBENUTTE GELEENTHEDE GEBRUIK?
Regsekerheid kom in die meeste gevalle by wyse van regspraak tot stand. Dit beteken dat kerke die land se howe sal moet nader in gevalle waar die oortuiging bestaan dat wette en ander reëlings bots met die fundamentele reg op vryheid van godsdiens. Dit is uiteraard ’n duur proses wat meer as net finansiële eise stel. Dit mag egter in gevalle waar fundamentele regte ter sprake is, die enigste weg wees wat sekerheid oor godsdiensvryheid bring.
’n Ander moontlikheid is om die Menseregtekommissie te nader, aangesien dit ’n staatsinstelling is aan wie die beskerming, ontwikkeling en verwesenliking van menseregte toevertrou is.3 ’n Versoek om duidelikheid in verband met die implikasies van vryheid van godsdiens aan die Menseregtekommissie vanuit ekumeniese oord blyk dringend te wees. Dit kan nuwe geleenthede vir kerke (en die NG Kerk) ontsluit om eg kerk te bly in ’n nuwe Suid-Afrika. Indien kerke gesamentlik ’n verklaring oor hulle siening van die implikasies van vryheid van godsdiens kan opstel, kan dit ’n belangrike vertrekpunt vir die gesprek met die Menseregtekommissie wees.
Hierdie werkwyse laat ook meer reg geskied aan die kerk se aard as versoenende gemeenskap.
BIBLIOGRAFIE
Grondwetlike Vergadering 1997. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996. Logos Information Systems. NG Kerk 1998. Die Kerkorde. Wellington: Hugenote-Uitgewers.
NG Kerk 1986. Kerk en Samelewing. Bloemfontein: Algemene Sinodale Kommissie.
NG Kerk 2001. Godsdiensbeleid.
NG Jeug E-Nuus, nr 3, Okt 2001.
Strauss, P J 2001. Die Ned Geref Kerk: kerk en staat in die Kerk. Ned Geref Teologiese Tydskrif 42/1 & 2, 192-202.
1 Artikel 9 (3) Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid.
2 Artikel 36 (1) Die regte in die Handves van Regte kan slegs kragtens ’n algemeen geldende regsvoorskrif beperk word in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, met inagneming van alle tersaaklike faktore, met inbegrip van —
(a) die aard van die reg;
(b) die belangrikheid van die doel van die beperking; (c) die aard en omvang van die beperking;
(d) die verband tussen die beperking en die doel daarvan; en
(e) ’n minder beperkende wyse om die doel te bereik.
3 Let op die bepalings in die Grondwet in hierdie verband:
184. (1) Die Menseregtekommissie moet —
(a) respek vir menseregte en ’n kultuur van menseregte bevorder;
(b) die beskerming, ontwikkeling en verwesenliking van menseregte bevorder; en
(c) die handhawing van menseregte in die Republiek monitor en die stand daarvan bepaal.
(2) Die Menseregtekommissie het die bevoegdhede, soos deur nasionale wetgewing gereguleer, wat nodig is om sy funksies te verrig, met inbegrip van die bevoegdheid —
(a) om ondersoek in te stel na en verslag te doen oor die handhawing van menseregte;
(b) om stappe te doen ten einde gepaste herstel te verseker waar menseregte geskend is;
(c) om navorsing te doen; en
(d) om op te voed.