Hiermee die tweede en laaste uitgawe van die NGTT vir 2002. Hierdie uitgawe bevat weer eens ’n wye verskeidenheid artikels uit al die velde van die teologie. Die NGTT wil inderdaad op hierdie manier diensbaar wees aan die beoefening van teologie en ons sê baie dankie aan almal wat bydraes ingestuur het. Soos u sien, is hierdie uitgawe, soos die vorige een, ’n baie omvangryke uitgawe.

Die Redaksie het kennis geneem dat die Totius-prys vir Teologie aan prof Bethel Müller van Stellenbosch toegeken is. Baie geluk en baie dankie vir alles wat u vir teologie gedoen het en nog steeds doen.

Dit was met leedwese dat ons kennis geneem het van die heengaan van medewerkers en van eggenotes van medewerkers van die NGTT. Sedert die vorige uitgawe het proff D W de Villiers en E P Groenewald ons deur die dood ontval, asook die eggenotes van proff Danie du Toit en Pieter Verhoef. Aan ons kollegas en al hulle naasbestaandes bid ons die vertroosting van die Here ons God toe. Met groot dankbaarheid eer ons die nagedagtenis van hulle wat nie meer met ons is nie.

Hoewel publikasiemoontlikhede vir Afrikaanse teologiese werke tans baie beperk is in Suid-Afrika, is die NGTT baie dankbaar dat daar nog altyd werke verskyn waarvan ons resensies kan plaas. In hierdie uitgawe is daar ’n hele paar sodanige resensies. Ons wens die skrywers geluk en beveel graag hierdie publikasies by u as leser aan.

Mag u groot vreugde hê by die lees van hierdie uitgawe van die NGTT.

P Coertzen (Redakteur)

Fakulteit Teologie

Universiteit Stellenbosch

September 2002