Bevryding tot eenwording en getuienis: die geskiedenis van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika 1950-2001
ABSTRACT
Liberation to unity and witness: the history of the Uniting Reformed Church in Southern Africa 1950-2001
The Uniting Reformed Church in Southern Africa (URCSA) was established in 1994 after the unification of the Dutch Reformed Mission Church (DRMC) and the Dutch Reformed Church in Africa (DRCA). Three years later the Evangelical Reformed Church in Africa (ERCA) also joined the URCSA. These three churches were all established as a result of the vast and impressive mission work of the Dutch Reformed Church (DRC) in our country. I am of the opinion that the history of these three churches can be rightly described as a process of liberation to unity and witness. It is interesting to note how these three Reformed Churches embodied their confession, which is that Jesus Christ is the sole Lord of life and the church in the course of history. In their struggle, especially against apartheid and church domination, they were continuously inspired by the Word and the articles of faith and the undaunted witness of fellow Christians. The eventual (but incomplete) church unity is indeed a witness to our communal faith and the experience thereof in this world.
INLEIDING
Die titel van hierdie artikel is geneem van die doktorale studie van dr Chris Loff wat gehandel het oor die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) en wat hy aan die Theologische Universiteit Kampen in Nederland voltooi het.1 Myns insiens kan die geskiedenis van die NGSK,2 die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (NGKA)3 en die Evangeliese Gereformeerde Kerk in Afrika (EGKA)4 tereg beskryf word as ’n proses van bevryding tot eenwording en getuienis. Daar is versoek dat ek aandag sal gee aan die laaste vyftig jaar van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) se geskiedenis. Die VGK sal op 14 April 2002 agt jaar oud wees en daarom het ek besluit om die geskiedenis van genoemde drie kerke sedert 1950 te beskryf en te evalueer. Die rede vir hierdie keuse hang saam met die feit dat die NGSK in hierdie betrokke jaar die apartheidsbeleid vir die eerste keer op hulle sinode bespreek het.5 Daarbenewens is dit tog nodig om kortliks iets oor die ontstaan van hierdie kerke te vermeld. Al drie kerke is gestig deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) en vir afsonderlike (aparte) bevolkingsgroepe. Die NGSK is as ’n “Kleurling”kerk in 1881 gestig. Die NGKA is as vier afsonderlike provinsiale kerke op verskillende tye in die geskiedenis gestig. Die NGSK van die Oranje-Vrystaat is in 1910 gestig; die NGSK van Transvaal in 1932; die NG Bantoekerk in Suid-Afrika in 1951 (Kaapland), en die NGSK van Natal in 1952.6 Hierdie vier NG Sendingkerke het in 1963 in Kroonstad in een kerkverband verenig onder die naam die NG Kerk in Afrika.7 Die EGKA is in 1975 in die noorde van Namibië gestig en het ook uit etlike etniese bevolkingsgroepe bestaan.8
Die vraagstelling waarop ek graag wil konsentreer in soverre dit die geskiedenis van hierdie drie kerke (wat toe later die VGKSA geword het) aangaan, is hoe hulle as gereformeerde kerke hulle geloof veral sedert 1950 (vir sommige het dit veel later gebeur) bely en beleef het. Die wyse waarop Christene in die genoemde kerke hulle geloof in hierdie periode bely en beleef het, het uiteraard ook ’n belangrike invloed op hulle getuienis in die samelewing gehad. Vandaar die titel van die artikel. Vervolgens wil ek kortliks aandag gee aan die NGK wat met groot sendingywer kerke vir die verskillende bevolkingsgroepe gestig het, asook aan hulle sendingbeleid wat daaraan ten grondslag lê. Die belydenis- en kerkregtelike grondslag van die drie kerke sal dan ook aan die orde kom. Die kerkregtelike ondergeskiktheid van hierdie drie kerke aan die NGK asook hulle stryd om ’n belydende kerk te wees sal ook die nodige aandag geniet.
DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK (NGK) EN DIE SENDING ONDER DIE VERSKILLENDE BEVOLKINGSGROEPE
Alhoewel die NGK reeds op sy eerste sinode in 1824 die amp van sendeling ingestel en die eerste sendeling op sy tweede sinode georden het, het hulle gedurende die periode 1652-1824 geen of byna geen sendingwerk gedoen nie. Dit is eers na die tweede helfte van die 19de eeu dat die kerk in alle erns sendingwerk begin doen het.9 Dit was die begin van indrukwekkende en omvangryke sendingwerksaamhede wat deur min kerke in hierdie periode geëwenaar kan word. In hierdie verband wil ek graag verwys na die geskrifte van mense soos G B A Gerdener,10 D Crafford,11 J M Cronje,12 WJ van der Merwe,13 J J Kritzinger14 en andere. Uit hierdie sendingwerk het daar in ons land sowel as in die buiteland in die loop van die geskiedenis kerke ontstaan. In ons land self het die NGSK (1881), die NGKA (1910) en die RCA (1968) ontstaan wat saam met die NGK bekend staan as die familie van NG Kerke.
Dit is opvallend dat die NGK in meerdere of mindere mate beïnvloed is deur verskillende konfessionele tradisies soos die Gereformeerdes in Nederland. In hierdie verband word daar veral verwys na die werk van Gisbertus Voetius (1598-1676); die Piëtisme afkomstig van graaf Nicolaus von Zinzendorf (1700-1760); die Angel-Saksiese Sending en veral die bekende “three-self formula” van die Anglikaan Henry Venn (1796-1873), en die “Congregationalist” Rufus Anderson (1796-1880) – die model van “selfuitbreidende, selfonderhoudende en selfregerende” kerke en die Duitse Lutherse sending. Die NGK het die begrip “selfstandige kerke” opgevat in die betekenis waarin Venn dit gebruik het en nie soos Anderson dit verstaan het nie. Venn sien die “selfstandigheid” van die inheemse kerk as die eindproduk van ’n ontwikkelingsproses terwyl Anderson van die selfstandigheid uitgaan.15 Gedurende die proses van selfstandigwording van die inheemse kerke vervul die NGK dan sy rol as voog totdat hierdie kerke hulle “selfstandigheid” bereik het. Prof D J Bosch,16 vroeër van Unisa, was van mening dat die NGK in sy sendingdenke sterker beïnvloed is deur die Duits-Lutherse tradisie as deur die Calvinisme in Nederland. In hierdie opsig word die sendingidees van Gustav Warneck (1834-1910), Bruno Gutmann (1876- 966) en Christian Keysser (1877-1961) genoem. In 1935 het die NGK sy sendingbeleid aanvaar waarin onder meer hierdie standpunt van selfstandigwording ’n belangrike rol speel. ’n Verdere kenmerk van hierdie sendingbeleid is die aparte maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van die onderskeie bevolkingsgroepe. Die sendingbeleid was dus identiek aan die rasseskeiding wat ook op die Volkskongresse van 1944 en 1947 as die beleid van die Afrikaner aanvaar is.17 Die EGKA van Namibië is ook in 1975 as ’n aparte kerk gestig. Die NGSK en die NGKA het in 1994 met mekaar verenig as die VGK, terwyl die EGKA drie jaar later ook by hierdie kerk aangesluit het.
DIE KERKREGTELIKE ONDERGESKIKTHEID VAN DIE NGSK, DIE NGKA EN DIE EGKA AAN DIE NGK
Wat betref die belydenis- en kerkregtelike grondslag van die NGSK, die NGKA en die EGKA het dit in feite ooreengestem met dié van die NGK. Dieselfde kerkregeringstelsel sowel as die bekende belydenisskrifte, naamlik die drie Formuliere van Eenheid - die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls – het die belydenisgrondslag uitgemaak. Tog was hierdie drie kerke nie net apart nie maar ook kerkregtelik ondergeskik aan die NGK. Hierdie kerkregtelike ondergeskiktheid het op verskillende wyses na vore gekom. Wat die NGSK betref, het dr Chris Loff na die volgende aspekte verwys:
Die konstitusie en grondwet
Met sy stigting in 1881 het die NGSK ’n konstitusie en later ’n grondwet van die NGK ontvang. Daar was geen sprake van ’n kerkorde nie. Volgens hierdie konstitusie het die NGSK geen bevoegdheid gehad om oor sy eie sake te besluit nie. Dit is op hierdie punt dat eerwaarde Paulus Teske reeds by die stigting sy beswaar teen die ondergeskiktheid bekend gemaak het. In die boek ’n Oomblik van waarheid skryf prof Chris Botha oor hierdie saak en noem hy dit ’n eeue lange proses, dit wil sê dat die proses van kerkregtelike bevryding vanaf 1881 tot in die tagtigerjare van die 20ste eeu geduur het.18 Selfs die grondwet van 1915 het nie wesenlik verskil van die konstitusie van 1881 nie.
In 1974 lees artikel 14 van die grondwet van die NGSK soos volg: “Die uitsluitende reg om hierdie grondwet te verander, uit te brei of te herroep berus by die Sinode van die NGK in Suid-Afrika, of sy wettige opvolgers.”19 Hierdie en nog ander soortgelyke kerkregtelike “voorskrifte” in ’n gereformeerde kerk is vreemd in die lig van die bekende goue reël van Emden (1571). In sy intreerede tydens die aanvaarding van ’n professoraat in die Teologie aan Unisa, getitel “Om die regering van Christus in sy kerk”, verklaar W D Jonker20 : “Dat Jesus Christus die Hoof en Here van sy kerk is en as Koning direk en persoonlik oor sy kerk regeer, is die grondwaarheid waarvan die kerkreg moet uitgaan … Kerkreg wat nie van voor tot agter beheers word deur die waarheid van die Koningskap van Christus nie, is valse kerkreg. Dit misken die grondwaarheid van alle reg en orde in die kerk, omdat dit die besondere verhouding tussen Christus en die kerk misken … Kerkreg kan alleen egte Bybelse kerkreg wees as dit uitgaan van die belydenis dat Christus self sy gemeente vergader, beskerm en regeer (Sondag 21, Heid Kat), dat Hy die handelende Subjek in die gemeente is en dat aan Hom alleen alle mag en seggenskap in die gemeente toekom.”
Die amp van sendeling in die NGSK en die NGKA
Die sendelingamp was ’n belangrike rolspeler in die opbou en werk binne die verskillende sendingkerke. Hierdie amp egter het op ’n fundamentele punt afgewyk van die gereformeerde gebruik. ’n Ouderling of diaken mag slegs as sodanig in die kerk dien indien hulle lidmate is. Hierteenoor was die sendeling nie ’n lidmaat van die Sendingkerke nie, maar het tog as predikante in die onderskeie kerke gedien. Die Sendingkerk het ook geen seggenskap in die toelating en ordening van sendelinge gehad nie. Dit beteken verder dat die sendelinge ook nie onder die tug van die kerk gestaan het nie. Daarbenewens het hulle as voorsitter van die kerkraadsvergaderings opgetree en ook as stemgeregtigde lid van meerdere vergaderings die toekoms van die NGSK (en NGKA) help bepaal.21
Die “Kleurling”- en swart predikant in die NG Sendingkerke
Aan die einde van 1932 het die eerste twee teologiese studente in die NGSK hulle studie voltooi. Gedurende hierdie tyd was daar ook die gebruik dat so ’n student eers ’n proeftyd van drie jaar moes deurmaak voordat hy as predikant in die gemeente bevestig kon word. Hierdie proeftyd is later van drie na een jaar verminder.
Teologiese opleiding vir die NG Sendingkerke
Teologiese opleiding vir die Sendingkerke is ’n werksaamheid wat uitsluitlik deur die NGK beheer is. Die naam van die inrigtings het dit ook baie duidelik gemaak, naamlik die Teologiese Skool vir die NGSK en die NGKA. Die NGK het eers op 1 Maart 1982 die geboue asook die beheer van die inrigting aan die NGSK oorgedra.22
Teologiese opleiding in die NGKA het ook volledig onder die beheer van die NGK geval. In die kerk is daar vier opleidingsplekke vir verskillende taalgroepe, naamlik Turfloop (naby Pietersburg) vir Noord-Sotho; Witsieshoek vir Suid-Sotho; Dingaanstat vir Zoeloe, en Decoligny vir Xhosasprekendes.23
Finansies
Ook wat hierdie aspek betref het die NGK die NGSK en die NGKA oorheers. Die NGK was in baie gevalle die voorsiener van finansiële hulp vir die salarisse van sendelinge, swart en “Kleurling”-predikante en evangeliste. Hierdie afhanklikheid het in bepaalde gevalle gelei tot spanning en soms tot ongelukkige optredes.
Die vraag wat in hierdie stadium gestel kan word met betrekking tot die NGK se oorheersing oor die Sendingkerke is in hoe ’n mate dit ooreengestem het met die bekende goue reël van Emden (1571) wat soos volg lui:
Geen kerk zal over andere [kerken], geen dienaar over [andere] dienaren, geen ouderling over [andere] ouderlingen, geen diaken over [andere] diakenen voorrang of heerschappij uitoefenen (primatum seu dominationem obtinebit), maar veeleer zal ieder zich wachten voor alle verdenking daarvan en gelegenheid daartoe.24
Prof Jonker25 het net soos dr Loff kritiek gelewer teen die oorheersing van die NGK in Transvaal oor die NGSK daar. Die NGK was al 80 jaar lank besig met sendingwerk in die Transvaal en uit hierdie volgehoue werk is die NGSK van Transvaal in 1932 gestig met 145 gemeentes en werkkringe (p 6). Jonker lewer egter ’n ernstige pleidooi dat die sendingbepalinge wat vir hierdie doel gebruik word Bybels verantwoord moet wees. Hy bevraagteken die feit dat daar twee afsonderlike kerke bestaan terwyl albei dieselfde belydenis en kerkregering deel (p 9). In artikel 9 van die sendingbepalinge word benadruk dat daar in die kerk geen gelykstelling tussen swart mense en blankes sal wees nie. Slegs blankes mag lede van die NGK wees en hulle mag slegs met die toestemming van die kerkraad lidmate van die Sendingkerk word. Daarbenewens mag lidmate van die Sendinggemeente nie gebruik maak van die geboue van die NGK nie. Die NGK beskou ook nie die Sendingkerk as ’n “volwaardige, selfstandige outonome kerk nie”. In hulle grondwet waarin die verhouding tussen dié twee kerke beskryf word, is dit duidelik dat die NGK volle beheer oor die afhanklike kerk het. In die grondwet word bepaal dat sake soos die belydenis, die kerkregeringstelsel en die samestelling van die moderatuur van die sinode alleen deur die NGK gewysig mag word. Die NGK het sy verteenwoordigers op die meerdere vergaderinge van die Sendingkerk. Die onselfstandigheid van die Sendingkerk word duidelik sigbaar in die posisie wat die blanke sendeling in die kerk beklee. Die onselfstandigheid van die Sendingkerk kom nog duideliker na vore wanneer daar gelet word op die rol van die plaaslike en sinodale sendingkommissies in hierdie kerk. Die onselfstandigheid van die Sendingkerk hang in groot mate ook saam met sy finansiële posisie.
Jonker lewer egter nie net kritiek nie, maar maak ook sinvolle voorstelle om die situasie te korrigeer. Onder die opskrif “Die beginsels waarvan die bepalinge behoort uit te gaan” stel hy die volgende voor:
i) Jonker bepleit dat daar een kerkverband moet kom vir al die verskillende bevolkingsgroepe en dat daar voorsiening gemaak moet word vir die eie aard van die verskillende bevolkingsgroepe. Die grondwette kan dan opgehef word.
ii) Hy stel voor dat daar voorlopig ’n federale band tussen die twee kerke kan bestaan tot tyd en wyl sy voorgestelde struktuur in plek is.
Onder die opskrif “Die selfstandigheid van die Sendingkerke” verdedig hy die volgende standpunte:
i) Elke gemeente ongeag van watter bevolkingsgroep is volwaardig en selfstandig.
ii) Dieselfde geld vir die ringe en streeksinodes van die onderskeie kerkverbande.
Dit beteken dat die jong gemeentes volwaardige, selfstandige gemeentes van Jesus Christus is wat alleen aan die Woord van God gebonde en onderworpe is. Hulle het dan ook die vryheid om hulle eie bepalinge op te stel indien dit nie in stryd is met die Bybel en die kerkorde nie. Die NGK moet afsien van alle vetoreg op die Sendingkerke. Die gebruik dat daar verteenwoordigers namens die NGK met stemreg op die vergaderings van die Sendinggemeentes is, is onnodig.
Die NGK moet ophou om besluite vir die Sendingkerke te neem en so die volwaardigheid en selfstandigheid van die Sendingkerke aan te tas.
Die NGK kan ook nie langer hulle sendingaksie in die bestaande gemeentes van die Sendingkerke voortsit sonder erkenning van laasgenoemde nie.
Erkenning van die volwaardigheid van die Sendinggemeentes as kerk van Jesus Christus sal beteken dat hulle onbelemmerd toegelaat moet word om te beroep wie hulle wil en dat daar nie mense van die NGK aan hulle opgedring moet word nie.
Die NG gemeentes moet dit as ’n eer en voorreg beskou om aan die Sendinggemeentes finan- siële steun te verleen waardeur hulle hulle werk beter kan doen.
Die bestaande praktyk dat werkkringe onder die NGK se jurisdiksie val en nie onder dié van die Sendingkerk nie, is volgens genoemde beginsels inkorrek en moet gestaak word.
Daar waar die NGK en die Sendinggemeente gesamentlik sendingwerk doen, moet aan albei gemeentes verslag gedoen word.
Dit het ook tyd geword dat daar geleidelik oordrag van vaste eiendomme deur die NGK aan die Sendinggemeente gegee sal word.
Die posisie van die sendeling
Die volwaardigheid en selfstandigheid van die Sendinggemeentes word duidelik indien elke Sendinggemeente die vryheid het om hulle eie predikant (sendeling) te beroep ongeag hulle finansiële situasie. Die feit dat die NG gemeentes nog hulp verleen, mag nie beteken dat hulle medeseggenskap by die beroepingsproses moet hê nie.
Die leraar wat beroep word na die Sendinggemeente moet lid word van die gemeente waarin hy dien en onder die tug val van daardie gemeente en die kerkvergaderings van die kerkverband.
Daar waar sendelinge tydelike werk doen in Sendinggemeentes is dit vanselfsprekend dat hulle nie onder die tug van die Sendinggemeente kan val nie en ook geen regeermag in die Sendinggemeente mag uitoefen nie.
Toe ek vir die eerste keer hierdie boek van prof Jonker in 1967 in die Transkei gelees het, het ek gewonder hoe die NG Sendingkerke daar sou uitgesien het indien hierdie gereformeerde beginsels van kerkregering (in die gees van Emden) in ons land toegepas sou gewees het. Dit is verskriklik jammer dat die kerk nie in dié tyd na gereformeerde teoloë soos Willie Jonker en ander geluister het nie.
Dit bring my by die vraag hoe die NGSK en NGKA in die geskiedenis probeer het om ’n belydende kerk te wees (maw om te wees wat ons bely, nl kerk van Jesus Christus).
DIE STRYD OM ’n BELYDENDE KERK
Die NGSK en apartheid
In dieselfde jaar (1948) waarin dr D F Malan se party die nuwe regerende party van die land geword het, het daar ’n beweging teen apartheid in die NGSK ontstaan. Eerwaarde (later dr) I D Morkel, predikant in die Ring van Wynberg het ’n belangrike rol in hierdie verband gespeel. Hierdie ring het ’n beskrywingspunt oor apartheid na die Sinode van die NGSK in 1950 opgestuur. Eerw Morkel was deel van ’n groep van 116 lidmate uit 27 gemeentes wat van oordeel was dat “apartheid onchristelik is en dat dit as beleid in staat en kerk verwerp moet word”.26 Daar het egter ’n meningsverskil ontstaan tussen eerw Morkel bygestaan deur ’n groep van 26 kerkraadslede en die NGSK. Die uiteindelike gevolg was dat hierdie groep hulle van die NGSK afgeskei het op 30 September 1950. Hierdie kerkskeuring het plaasgevind voordat die Sinode van 1950 in aanvang sou neem. Dit het ook verder gelei tot die stigting van die Calvyn Protestantse Kerk van Suid-Afrika op 15 Oktober 1950 onder leiding van eerw Morkel.27 Die Ring van Wynberg het die Sinode van 1950 versoek om uitspraak oor die skriftuurlikheid van apartheid te gee. Die sinode het nog ’n beskrywingspunt oor apartheid ontvang van die kerkraad van Wellington waar die bekende eerwaarde (later prof) J C Kriel die predikant was. Met hierdie beskrywingspunt doen die NGSK ’n beroep op die NGK om hulle te onttrek van die politieke apartheidsbeleid sodat die getuienis van die Christelike kerk in ons land nie ’n struikelblok sal wees nie.28 Toe die sinode die saak in behandeling neem, besluit hulle om ’n onderskeid te maak tussen politieke apartheid en die beleid van eiesoortige ontwikkeling op kerklike gebied. Die sinode besluit om hulle nie te begeef op die terrein van die politieke apartheid nie. Hulle verklaar dat hulle nie medepligtig of verantwoordelik is vir die optrede van enige kerk ten opsigte van politieke apartheid nie. Hulle ondersteun wel die afsonderlike en eiesoortige ontwikkeling van haar “Kleurling”- lidmate en wil volhard in haar Godgegewe taak van opheffing van die Kleurlingbevolking omdat dit in ooreenstemming is met die opdrag in Matteus 28:29-30 waartoe die Bybel die kerk oproep. In die praktyk is daar voldoende redes en grond om op kerklik-godsdienstige gebied eiesoortigheid te beoefen.29 Die uiteindelike besluit wat die sinode hier oor apartheid geneem het, was dat hulle nie ’n politieke beleid sal goed of afkeur nie. Uit die verdere geskiedenis van die NGSK blyk tog duidelik dat hulle wel op ’n baie konkrete wyse met die vraagstuk van apartheid te doen gehad het.
DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK IN AFRIKA (NGKA) EN HULLE SINODE VAN 1975 OP WORCESTER
Hierdie sinode was ’n belangrike byeenkoms van groot historiese betekenis. Die persoon wat hier as moderator gekies is, is die bekende ds Ernest Buti (die vader van ds Sam Buti) wat beskik het oor besondere leierseienskappe en ’n baie belangrike rol in die verdere uitbou van die NGKA gespeel het. Op hierdie sinode het ’n verslag gedien oor die Bybel en apartheid. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die familie van NG Kerke het hierdie sinode ’n duidelike standpunt oor die onskriftuurlikheid van apartheid laat hoor. Dit was my voorreg om teenwoordig te wees tydens hierdie belangrike debat in die sinode. Wat my veral opgeval het, was die erns, die oortuiging en die vrymoedigheid waarmee die saak deur ’n groot groep lede bespreek is. Hierdie verslag is aanvaar en gepubliseer onder die titel The Bible and the relationship between races and people.30
Die feit dat hierdie kerk in daardie stadium van hulle geskiedenis so ’n besluit geneem het, is merkwaardig omdat hulle in groot mate finansieel afhanklik was van die NGK. Daar is deur verskillende persone daarop gewys dat heelwat van die leiersfigure in die kerk in daardie stadium lede van die Christelike Instituut (CI) en van die Belydende Kring (BK) was en dat hulle ook ’n groot rol in hierdie verband gespeel het.31 Die name van sommige van die leiers wat in dié verband genoem is, is di Sam Buti, Elia Tema, Piet Moatshe, Lukas Mabusela, Llewellyn Mazamisa, en nog ander.32
Die Sinode van die NGSK in 1978
By hierdie sinode het die bespreking en besluitneming oor apartheid baie besondere momentum gekry. Tydens hierdie sinode het die kerkraad van die gemeente Blanco die moderatuur se hulp ingeroep omdat hulle woongebied kragtens die Groepsgebiedewet tot blanke gebied verklaar is. Hulle het die saak in behandeling geneem en besluit om hulle teen die Wet op Groepsgebiede uit te spreek en te versoek dat die owerheid die wet moet herroep. Die sinode het ook sy besorgdheid te kenne gegee vir die wyse waarop genoemde wet uitgevoer en toegepas is.33
Nog ’n stuk apartheidswetgewing wat hulle in behandeling geneem het, het gehandel oor die praktyk van aanhouding sonder verhoor. Volgens hierdie praktyk is mense, waaronder lidmate en predikante van die kerk wat van anti-apartheidsaktiwiteite verdink is, gevange gehou is sonder dat hulle in ’n geregshof van die een of ander misdaad aangekla is.34 Die voorstel wat gevra het dat ook hierdie stuk wetgewing, naamlik die aanhouding sonder verhoor, afgeskaf moet word saam met ’n soortgelyke voorstel deur die destydse Gereformeerde Ekumeniese Sinode van 1978 wat oor dieselfde onderwerp gehandel het, is aanvaar.35 Dit het in daardie stadium baie duidelik geword dat die sinode sy eie besluit van 1950 oortree het deur hierdie stuk apartheidswetgewing af te keur.
Daar het egter ’n stadium in die geskiedenis van die NGSK aangebreek waar hulle besef het hulle kan nie langer besluite neem oor afsonderlike of bepaalde aspekte van die apartheidswetgewing nie, maar dat hulle ’n teologiese beoordeling van die apartheidsbeleid self moet maak. In hierdie verband het die teologiese studente en prof J J F Durand van die Teologiese Skool vir die NGSK op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) ’n baie belangrike rol gespeel. Die uitkoms van hierdie gesamentlike optrede het gelei tot die voorlegging van beskrywingspunte oor apartheid aan die sinode. Die rede waarom die kerk dit gedoen het, is dat die kerk ’n profetiese opdrag het om die beleid van die owerheid te toets aan die evangelie aangesien die owerheid verklaar het dat hulle Christelik is. Die NGSK verklaar dus:
Die Kerk wil dit as sy oortuiging uitspreek dat die apartheidsbeleid soos deur die owerheid gehandhaaf, in stryd is met die evangelie:
(1) omdat teenoor die evangelie van Christus se gerigtheid op die versoening van die mens met God en met sy medemens, die gedwonge skeiding van mense op grondslag van ras en kleur ten diepste gebaseer is op die oortuiging van die fundamentele onversoenbaarheid tussen mense wat op so ’n wyse geskei is;
(2) omdat die sisteem wat uit so ’n beleid na vore kom, noodwendig moes lei en gelei het tot ’n toenemende polarisasie tussen mense, veral omdat die praktyk onteenseglik aangetoon het dat binne die sisteem een bevolkingsdeel, nl die blankes, bevoorreg is en dat daar gevolglik nie voldoen is aan die evangeliese eis dat geregtigheid aan almal sal geskied nie; en
(3) omdat daardeur nie alleen die menswaardigheid van die nie-bevoorregte bevolkingsdele nie, maar ook die menswaardigheid van almal wat daarby betrokke is, aangetas is.36
Na ’n grondige bespreking is hierdie beskrywingspunt aanvaar en daarmee het die sinode die politieke beleid van apartheid as strydig met die evangelie en as sonde aanvaar, iets wat die NGKA drie jaar tevore al gedoen het. Noudat die sinode hulle op so ’n wyse uitgespreek het, het die kerk hiermee ook die “sendingbeleid van apartheid” verwerp en konstruktief begin werk vir kerkvereniging binne die familie van NG Kerke. Dit is interessant om in hierdie verband te verwys na die noue verbintenis wat daar in die verlede gemaak is tussen die sending en apartheid. In dié verband wys dr Chris Loff daarop dat die Nasionale Party van dr D F Malan ook ’n “sendingbeleid” gehad het. In Die Burger van 29 Maart 1948 word verklaar:
Die Party wil dat alle nie-blankes op ’n kragtige wyse gelei word om die Christelike godsdiens te maak tot grondslag van hulle lewe en sal die kerke in hierdie taak met alle moontlike hulp bystaan. Kerke en genootskappe wat die beleid van apartheid ondermyn en volksvreemde beskouinge propageer, sal hierin teengegaan word.37
In aansluiting hierby het die bekende kerkhistorikus prof T N Hanekom en redakteur van Die Kerkbode twee hoofartikels in Die Kerkbode geskryf onder die titel: “Apartheid as kerklike beleid”. ’n Samevatting hiervan kan soos volg opgesom word:
In hierdie opsig kan daar met reg gepraat word van apartheid as ’n kerklike beleid. Lank voordat hierdie vraagstuk op maatskaplike gebied enige moeilikheid opgelewer het, is die erns daarvan in kerklike kringe aangevoel en is na ’n oplossing gesoek. En ons Hollandse Kerke het nog altyd gemeen dat die ideale oplossing gevind moet word in die ontwikkeling van aparte lewenskringe sodat die nie-blankes, ook kerklik, op sy eie terrein en in ooreenstemming met sy eie aard en aanleg kan groei tot selfstandigheid, sy dit onder leiding (voogdyskap) van die blanke.38
Kerkvereniging in die familie van NG Kerke
Noudat sowel die NGKA as die NGSK die apartheid afgewys het as in stryd met die evangelie, het albei hulle beywer vir kerkvereniging. Op hierdie pad het daar egter etlike probleme ontstaan. Die vraag het ontstaan wat die korrekte struktuur sou wees waarin hierdie eenheid tot uitdrukking kon kom. In hierdie verband is daar gedagtes genoem oor die vorming van ’n “oorkoepelende Sinode” en dat selfs die Federale Raad uitgebou sou word tot ’n volwaardige sinode. Die NGSK het in 1970 besluit dat die kerke van gereformeerde belydenis verenig sal word.39 Vyf jaar later het die NGKA besluit dat hulle ten gunste is van ’n strukturele vereniging van die vier NG Kerke in Suid-Afrika.40 Die Reformed Church in Africa (RCA) het ook hierdie standpunt ondersteun. Die NGK het egter nie die standpunt gesteun dat die Federale Raad in ’n sinode omskep moet word nie. Na hulle mening kon dit slegs ’n belangrike stap in die regte rigting wees.
Die NGSK het drie jaar later dieselfde besluit geneem as die NGKA, naamlik dat aangesien die Nuwe Testament die eenheid van die kerk as liggaam van Christus baie duidelik leer “… om die beginsel van eenwording van die NG Kerke in Suid-Afrika te aanvaar”.41 In aansluiting by bogenoemde besluit oor kerkvereniging het die sinode verder besluit dat kerkvereniging vanaf gemeentevlak beskou moet word as die enigste gereformeerde basis waarop onderhandelinge gevoer sal word met die oog op die konkrete realisering van die Godgegewe eenheid binne die familie van NG Kerke. Aangesien die NGK hom in daardie stadium nog nie duidelik hieroor uitgespreek het nie, is ’n bepaalde metode aanvaar waarvolgens die onderhandelinge met ’n kerk of kerke oor kerkvereniging voortgesit kon word. Dit het daarop neergekom dat indien ’n kerk (in die familie van NG Kerke) nie hulle weg oopsien nie, die onderhandelinge nie mag versand nie, maar dat die deur moet oopbly vir die ander kerk of kerke vir latere aansluiting. Daar is voorts geen bepaalde formule met die oog op onderhandeling gegee nie, aangesien die betrokke kommissie van die NGSK die wydste onderhandelingsmoontlikheid moet kry. Met die aanvaarding van hierdie belangrike besluit het die NGSK ’n belangrike mylpaal in hulle geskiedenis bereik en om hierdie rede was daar ook groot vreugde en dankbaarheid onder die sinodegangers.42
DIE TAGTIGERJARE VAN DIE VORIGE EEU
Die begin van die tagtigerjare van die vorige eeu was myns insiens vir die NG Kerk-familie ’n tydperk van groot uitdagings en gespanne onderlinge verhoudinge. In 1982 het die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) hulle algemene vergadering vanaf 17-27 Augustus in Ottawa (Kanada) gehou.43 Die WBGK het in daardie stadium ’n ledetal van ongeveer 80 miljoen mense gehad. Hierdie byeenkoms was vir die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika van groot belang omdat al vier kerke in die familie van NG Kerke lede van hierdie ekumeniese liggaam was. Daarbenewens het die NGKA en die NGSK alreeds bepaalde besluite oor apartheid geneem. Laasgenoemde twee kerke het verklaar dat apartheid volledig in stryd is met die evangelie van Jesus Christus. Dr Allan Boesak, predikant van die NGSK, is ook tydens hierdie byeenkoms as die president van WBGK gekies. Die Nederduitse Hervormde Kerk in ons land het ook as ’n lid die byeenkoms bygewoon.
Die besluite wat die WBGK oor apartheid en oor sommige Gereformeerde Kerke in ons land geneem het, het groot spanning tussen die kerke veroorsaak.
Die WBGK het nie net die apartheidsbeleid verklaar as in stryd met die evangelie nie, maar het selfs ’n stap verder gegaan, naamlik deur af te kondig dat die Suid-Afrikaanse situasie ’n status confessionis vir die kerke daarstel. Dit beteken dat daar nou ’n situasie aangebreek het waarin dit vir die kerke onmoontlik geword het om so ’n situasie te handhaaf sonder om die integriteit van die gereformeerde belydenis aan te tas.44 Die gevolgtrekking waartoe WBGK gekom het, was dat apartheid as ’n sonde beskou word en dat die morele en teologiese regverdiging daarvan ’n karikatuur van die evangelie en die volgehoue ongehoorsaamheid aan die Woord ’n teologiese kettery is.45
Hierdie besluite van die WBGK oor apartheid en die Suid-Afrikaanse situasie was ’n uitspraak met verreikende gevolge. Hulle het ook hiermee die lidmaatskap van die NGK en die Hervormde Kerk opgeskort tot tyd en wyl hulle tot ander insigte kom. Hulle sou alleen tot die WBGK hertoegelaat word indien hulle aan bepaalde voorwaardes voldoen.
Na die byeenkoms van die WBGK het die NGSK hulle sinode in Oktober van dieselfde jaar gehou. Dit was myns insiens ’n sinode waartydens nie net verreikende besluite geneem is nie, maar wat ook as ’n keerpunt in die geskiedenis van die NGSK beskou kan word. In feite het die NGSK dieselfde besluite geneem as die WBGK, naamlik dat die sekulêre evangelie van apartheid ten diepste die belydenis van versoening in Jesus Christus en die eenheid van die kerk van Jesus Christus in sy wese bedreig, en dat dit vir die NGSK daarom ’n status confessionis daarstel.46 Die NGSK het verder besluit dat “apartheid (afsonderlike ontwikkeling) ’n sonde is, (en) dat (die) morele en teologiese regverdiging daarvan ’n bespotting van die evangelie is en dat sy volgehoue ongehoorsaamheid aan die Woord van God, ’n teologiese kettery is”.47 Daar is ook besluit om bogenoemde besluite persoonlik oor te dra aan die sinode van die NGK wat later in dieselfde jaar hulle sitting sou hê.
Nadat die sinode sulke ingrypende besluite oor apartheid geneem het, het prof Gustav Bam die vergadering se aandag gevestig op die implikasies van dergelike besluite en die vergadering versoek om ’n kommissie te benoem om ’n belydenis op stel waarin die kerk dan opnuut sy geloof moet bely teenoor die afwysing van die valse leer van apartheid.48 Die sinode het positief hierop gereageer en die resultaat hiervan was die bekende Belydenis van Belhar wat by die Sinode van 1986 as ’n vierde belydenis deur die NGSK aanvaar is.49 Die kommissie aan wie daar gevra is om die konsep-belydenis op te stel was ds I J Mentor (moderator), dr A A Boesak (assessor), proff D J Smit, J J F Durand en G Bam (voorsitter).
Die eenwording van die kerke
Soos alreeds vermeld, het die NGKA in 1975 en die NGSK in 1978 alreeds besluite geneem in verband met kerkvereniging in die familie van NG Kerke. Intussen het die besluite van die NGSK rakende die status confessionis en die Belydenis van Belhar by sommige kerke in die familie van NG Kerke groot spanning veroorsaak. Dit was veral die NGK wat groot probleme hiermee gehad het. Dit is om dié rede dat die gesprekke binne hierdie kringe ook nie soveel sukses gehad het nie. Daarteenoor het die ontmoetings tussen die NGKA en die NGSK in 1987 met die oog op kerkvereniging baie positief verloop. Reeds by die eerste ontmoeting van die twee groepe verteenwoordigers is ’n beginselverklaring opgestel en aanvaar.50 Dit het egter ook gou duidelik geword dat die NGK nie te vinde was vir kerkvereniging nie.51 Die NGKA en die NGSK het sedertdien in alle erns die proses van kerkvereniging met groot entoesiasme aangepak. Die bedoeling was dat die twee kerke in 1990 sou verenig. Dit kon egter nie gebeur nie aangesien die NGKA nog nie die Belydenis van Belhar as ’n vierde belydenis aanvaar het nie. As gevolg hiervan het die kerkvereniging eers op 14 April 1994 in die kerkgebou van die gemeente Suid-Afrikaanse Gestig in Belhar plaasgevind. Dit was ’n indrukwekkende en betekenisvolle oomblik waarna baie lidmate verlangend uitgesien het. Voorafgaande aan hierdie uiters belangrike gebeurtenis het die sinode eers die voorgestelde kerkorde goedgekeur. Wanneer kerke met mekaar verenig, is dit omdat hulle opvatting van die Bybel en hulle belydenis ooreenstem. Die kerkorde wat op die Bybel en belydenis gebou is, is ’n noodsaaklike hulpmiddel vir die reëling van die kerklike lewe. Die Bybel, belydenis en kerkorde word in die gereformeerde teologie op ’n besondere wyse op mekaar betrek. Gereformeerdheid het onder meer met die lewe te make, en die kerkorde wil as hulpmiddel die kerklike lewe juis dien deur dit ordelik te reël. Verder streef die gereformeerde kerkreg daarna om die vernaamste beginsels van gereformeerde kerkregering so bondig moontlik te formuleer, eerder as om vir alle moontlike sake en situasies voorskrifte te voorsien. Die kerkorde wil juis bevrydend wees en lidmate, ampsdraers en kerkvergaderings aanmoedig om die inisiatief te neem om aan die hand van die kerkorde in hulle verskillende situasies verantwoordelike besluite te neem.52 Hierdie nuwe goedgekeurde kerkorde bevat daarom slegs twaalf artikels met ’n beperkte aantal reglemente.53
Bevryding tot eenwording en getuienis
Die jaar 1994 is vir die VGKSA ’n uitsonderlike gebeurtenis van groot betekenis. Die stigting van die nuwe kerk was die bereiking van ’n lank gekoesterde ideaal. Hierdie besondere gebeurtenis was egter meer as dit. Dit was ook die verhoring van talle gebede en die volharding in die geloof in die God wat getrou bly tot in ewigheid. Dit is en bly nog steeds die gebed van die VGKSA dat die ander lede van die familie van NG Kerke ook spoedig deel sal word van hierdie verenigingsproses. Ek is dankbaar vir die positiewe ontwikkeling wat daar te bespeur is na die hou van die onlangse konvent in Wellington.
Die belangrikheid van die byeenkoms in 1994 was dat die kerk gestig is sonder noemens- waardige kerkregtelike of ander struikelblokke. Inteendeel, een van die heel merkwaardigste en verbasendste “verskynsels” was myns insiens die uitdrukking van ons gemeenskaplike geloof in
Jesus Christus as die hoof van die kerk. En soos dit in die Belydenis van Belhar uitgedruk word:
… dat dit ’n samebindende krag is deur die werking van Gods Gees maar terselfdertyd ’n werklikheid is wat nagejaag en gesoek moet word en waartoe die volk van God voortdurend opgebou moet word dat hierdie eenheid sigbaar moet word sodat die wêreld kan glo dat geskeidenheid, vyandskap en haat tussen mense en mensegroepe sonde is wat reeds deur Christus oorwin is en dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die kerk van Christus mag hê nie, maar bestry moet word … dat hierdie eenheid slegs in vryheid gestalte kan vind en nie onder dwang nie; dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God …54
Tydens die tweede Algemene Sinode in 1997 in Bloemfontein het die kerk veral aandag gegee aan die konsolidasie van al haar werksaamhede in die lig van haar belydenisgrondslag. Daar is ernstig aandag gegee aan in watter rigting die kerk wil beweeg in die lig van die talle uitdagings in ons land en in die wêreld. Die sinode het met ongelukkigheid kennis geneem van die spanning en uiteindelike hofsake waarby ons kerk en die NGKA betrokke was. Een van die uitstaande en heuglike gebeurtenisse tydens hierdie sinode was egter die kerkvereniging met die Evangeliese Kerk in Afrika van Namibië (EGKA). Soos alreeds vermeld, is dit ’n kerk wat in 1975 deur die NGK in Namibië gestig is. Die EGKA het alreeds sedert 1988 gesprekke gevoer met die voormalige NGSK in Namibië en vyf jaar later is die besluit geneem om te streef na kerkvereniging.55 Hierdie besluit het toe in 1997 werklikheid geword. Met hierdie belangrike stap het die EGKA met groot vreugde verklaar:
Hierdie proses word gerig deur ons verankering in die Bybelse leer, ons verbondenheid aan die gereformeerde tradisie en vroomheid en ons vrymoedige getuienis deur die Belydenis van Belhar (1986), die inspirasie is vir die vereniging wat ons nou onderneem. In die Belydenis van Belhar (1986) bely ons:
Dat hierdie eenheid van die volk van God op ’n verskeidenheid van maniere sigbare gestalte kry en werksaam moet wees, daarin dat ons gemeenskap met mekaar beleef, najaag en beoefen; en daarin dat ons skuldig is om onsself tot nut en saligheid van mekaar gewillig en met vreugde te gee.
Deur die genade van onse Here in antwoord op sy gebed (Johannes 17) word daar nou aan die eenheidsideaal gestalte gegee. Vir die eenheidskerk wat vandag tot stand kom, gaan dit om die eer van God en om die gehoorsaamheid aan sy Woord alleen.
Ons verklaar dat dit vir ons steeds maar ’n verdere stap is om die eenheid van die hele NG Kerkfamilie te bewerkstellig en ons sal met toewyding bid en dringend en verlangend werk vir die dag wanneer almal verenig die lof van die Here sal verkondig.
Ons belowe plegtig voor die Here en voor mekaar om, in die gesindheid van ons Heiland en Here en in die krag van sy Gees, mekaar se laste te dra, mekaar in die geloof te versterk en op die pad van mekaar in die gees van onderlinge liefde en troos, van ootmoed en skuldbelydenis, van vergifnis en hoop, loop ons nou op die pad saam en soek ons al ons ander broers en susters om saam te stap as die bruid van die Lam (Openbaring 19:7-9).56
Na hierdie plegtige uitspreek van woorde is die kerkvereniging gevier met ’n “Celebration of unity” deur sang, gebede en ’n verklaring deur die Sinode van die VGK wat voorgelees is met die woorde:
Ons glo:
dat ons beide kerke deel is van die een heilige algemene Christelike kerk wat deur die drie- enige God, Vader, Seun en Heilige Gees deur sy Gees en Woord versamel is om een liggaam van Jesus Christus op aarde te vorm;
dat die eenheid van hierdie kerk nie net gawe van God is nie, maar ook opdrag wat nagejaag en gesoek moet word;
dat hierdie eenheid sigbaar moet wees sodat die wêreld kan glo dat God sy Seun gestuur het, daarom besluit die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika en die Evangeliese Gereformeerde Kerk in Afrika om een verenigde kerk te word en daardeur die skeiding binne die familie van gereformeerde kerke in Suider-Afrika te oorwin.
Ons glo:
Dat die Bybelse oproep tot eenheid van die kerk nie net tot ons beperk is nie, maar uitkring na die hele kerk van Christus. Daarom bid ons dat die eenwording van die VGKSA en die EGKA maar ’n volgende stap sal wees in die volle eenwording van die hele familie van NG Kerke in Suider-Afrika;
dat hierdie geloofsdaad aan ons kant deur God in sy genade aangesien en gebruik sal word tot ’n verdere getuienis aan onsself en aan alle gelowiges dat dit onmoontlik is dat die liggaam van Christus verdeeld kan wees, want daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God ons geroep het, net één Here is, wat deur almal werk en in almal woon.57
By die tweede Algemene Sinode in 2001 in Upington was daar ’n aantal sake waaroor die kerk goeie besluite geneem het. Ek noem slegs ’n aantal:
die ekumeniese betrekkinge en die kerk se verantwoordelikhede daaraan verbonde;
kerkeenheid in die familie van NG Kerke;
kerk-staat-samelewing-vraagstukke;
die integrasie van die verskillende dienste in die kerk;
teologiese opleiding in ons tyd, en finansies.
Tydens hierdie sinode is ’n aantal onderwerpe geïdentifiseer wat vrymoedig deur die lede bespreek is, naamlik:
“HIV/Aids”;
“social justice in the global economy”; “violence, war and peace”;
“racism and ethnicity”, en
“Holy Communion for children”.58
Tydens hierdie tweede Algemene Sinode het dit vir my duidelik geword dat die kerk op ’n hegte fondament gebou en met ’n vaste oortuiging haar taak in hierdie wêreld wil uitdra. Die kerk is egter ook bewus van haar beperkings wat ’n invloed mag hê op die uitdra van hierdie verantwoordelikhede. Op grond van haar geloof in Jesus Christus is sy egter vas oortuig dat sy op die regte pad is. Hierdie sinode is ook gekenmerk deur openlike bespreking oor sake wat die onderlinge verhoudings in die kerk raak. Vir my was dit ’n besondere hoogtepunt toe hierdie onderwerp met soveel vrymoedigheid en verantwoordelikheid bespreek is. Die bespreking van dergelike onderwerpe het die onderlinge vertroue versterk. Dit is op grond van hierdie hegte verbondenheid (gemeenskaplike geloof) aan mekaar en ook aan Christus dat die verskillende uitdagings wat op die kerk wag met groter eensgesindheid aangedurf kan word.
Die VGKSA (die voormalige drie kerke) het aan die einde van hierdie periode van haar geskiedenis werklik vry geword van kerkregtelike onderhorigheid en kerklike bevoogding. Hierdie vryheid het in die vereniging van die drie kerke en die aanvaarding van die Belydenis van Belhar baie duidelik geword. Uiteraard is hierdie verworwe vryheid ’n duidelike getuienis wat deur almal waargeneem kan word. Vandaar die titel van my voordrag.
1 C J A Loff, Bevryding tot Eenwording. Die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika 1881-1994, Kampen, 1998.
2 C J Kriel, Die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika 1881-1956, Paarl, 1963.
3 D Crafford, Aan God die dank. Geskiedenis van die sending van die Ned Geref Kerk binne die Republiek van Suid-Afrika en enkele aangrensende Buurstate, Deel I, Pretoria, 1982.
4 C Lombard & J H Hunter (reds), Kom ons word een. Namibiese bydraes tot kerkeenwording in die “NG familie”, Windhoek, 1995. J M Cronje, Aan God die dank, NG Kerkboekhandel, Pretoria, 1981, 348.
5 Acta Synodi, NG Sendingkerk 1950, 160.
6 D Crafford, aw, 133, 157-158, 173, 119.
7 D Crafford, aw, 323.
8 C Lombard & J H Hunter, aw, 21-40; J M Cronje, aw, 341.
9 D Crafford, aw, 60.
10 G B A Gerdener, Recent Developments in the South African Mission field. NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad, 1958.
11 D Crafford, aw.
12 J M Cronje, aw.
13 W J van der Merwe, Gesante om Christus wil, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad, 1967.
14 J J Kritzinger, Sending en kerk in Suidwes-Afrika, NG Kerkboekhandel, Pretoria, 1973.
15 J Verkuyl, Inleiding in de Nieuwere Zendingswetenschap, Kampen, 1975, 255-257.
16 D J Bosch, “Racism and revolution: Response of the churches in South Africa”, Occasional Bulletin of Missionary Research, Vol 3, No 1, Jan 1979, 13-20.
17 R T J Lombard, Die Nederduitse Gereformeerde Kerke en Rassepolitiek 1948- 1961, Pretoria, 1974, 56-58.
18 C J Botha, ’n Eeue lange protes, in ’n Oomblik van waarheid, G D Cloete & D J Smit (reds), Tafelberg- Uitgewers, Kaapstad, 1984, 74-90.
19 Kerkwet Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk 1974, 4.
20 W D Jonker, Om die regering van Christus in sy kerk, Pretoria (Unisa), 1965, 3. Sien ook A J Bronkhorst, Schrift en Kerkorde, 1947, 208; W D Jonker, Bevrydende waarheid. Die karakter van die gereformeerde belydenis. “Terselfdertyd het die belydenisse, waarvan daar in hierdie eerste periode ’n groot aantal sou ontstaan, die onderlinge eenheid versterk deur die gemeenskaplike geloof uit te spel en te verhelder” (Hugenote-Uitgewers, Wellington, 1994, 7).
21 C J A Loff, aw, 197-201. Sien ook D Crafford, aw, Pretoria, 1982.
22 C J A Loff, aw, 220.
23 Crafford, aw, 503-507.
24 J Plomp, De Kerkorde van Emden, in D Nauta ea (reds), De Synode van Emden Okt, 1571, J H Kok, Kampen 1971, 89.
25 W D Jonker, Die Sendingbepalinge van die Ned Gereformeerde Kerk van Transvaal, Die Studiegroep, 1962.
26 C J A Loff, aw, 247.
27 C J A Loff, aw, 248. Sien ook Die Calvyn Protestantse Kerk van Suid-Afrika 2000. Dit is ’n uitgawe waarin hulle 50ste verjaarsdag herdenk is.
28 Acta Synodi NG Sendingkerk 1950, 160-161.
29 Acta Synodi NG Sendingkerk 1950, 243-244.
30 The Bible and the relationships between races and people. A report by the Dutch Reformed Church in Africa. NG Sendingpers, Bloemfontein, sj.
31 P Walshe, Church versus State in South Africa. The case of the Christian Institute, Orbis Books, New York, 1983; S P Govender (red), Unity and Justice. The witness of the Belydende Kring, Braamfontein, 1984; J de Gruchy & C Villa-Vicencio (reds), Apartheid is a heresy, David Philip, Kaapstad, 1983; C Villa-Vicencio, Civil disobedience and beyond. Law, Resistance and Religion in South Africa, David Philip, Kaapstad, 1990; A Boesak & C Villa-Vicencio (reds), A call for an end to unjust rule, The Saint Andrew Press, Edinburgh, 1986; A Boesak, Black and Reformed. Apartheid, Liberation and the Calvinist Tradition, Skotaville, Johannesburg, 1984.
32 J H P Serfontein, Apartheid change and the NG Kerk, Taurus, Pretoria, 1982, 109-126.
33 Acta Synodi NG Sendingkerk 1978, 476.
34 Acta Synodi NG Sendingkerk 1978, 505.
35 C J A Loff, aw, 250.
36 Acta Synodi NG Sendingkerk 1978, 399.
37 C J A Loff, aw, 73.
38 C J A Loff, aw, 73-74.
39 Acta Synodi NG Sendingkerk, 382.
40 Acta Synodi NG Kerk in Afrika, 253.
41 Acta Synodi NG Sendingkerk, 488.
42 C J A Loff, aw, 260-261.
43 The Reformed World Vol 37 No 3 & 4, 1982, 76-80.
44 D J Smit, Wat beteken status confessionis?, in G D Cloete & D J Smit (reds), ’n Oomblik van waarheid, Tafelberg-Uitgewers, 1984, 14-38.
45 Resolution on racism and South Africa, in The Reformed World Vol 37, No 3 & 4, 1982, 76-80.
46 Acta Synodi NG Sendingkerk 1982, 706.
47 Acta Synodi NG Sendingkerk 1982, 706.
48 Acta Synodi NG Sendingkerk 1982, 605,
49 C J A Loff, aw, 266. 400 teenoor 71 lede van die Sinode van 1986 het gestem vir die aanvaarding van die Belharbelydenis.
50 Acta Synodi NG Sendingkerk 1990, 32.
51 Acta Synodi NG Sendingkerk 1990, 807.
52 H Adonis, ’n Gereformeerde Kerkorde? Opmerkings oor die kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, in Vraagtekens oor Gereformeerdheid, W A Boesak & P J A Fourie (reds), LUS-Uitgewers, Belhar, 1998, 112-124. Sien ook die ongepubliseerde navorsingstuk van prof D J Smit, Bely en beliggaam, Universiteit van Stellenbosch, 1-15.
53 Kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, Belhar 1994.
54 Belydenis van Belhar 1986, 2-3.
55 Acta Synodi VGKSA 1997, 427.
56 Acta Synodi VGKSA 1997, 428.
57 Acta Synodi VGKSA 1997, 431.
58 Acta Synodi VGKSA 2001, 18-197; Laatstukke: Sinode 2001, 4.