Cilliers, JH
Universiteit van Stellenbosch

Liturgie as spel: ’n besinning oor die nie-funksionaliteit van die erediens

ABSTRACT

Liturgy as play: an enquiry into the non-functionality of the worship service

In this article attention is given to the tension between the so-called functionality and non-functionality of liturgy. Whilst the former can and has been described in many ways, the latter is not that easy to articulate. The concept of play is brought to fruition in this regard, as well as the dimension of fore-play. Some liturgical implications are ventured into, in terms of fundamental theological, anthropological, epistemological and eschatological questions put forward by the notion of play.

1. LITURGIE SONDER FUNKSIE?

Wat is die funksie van liturgie? Wat moet dit bewerkstellig? Hierdie (soort) vrae behoort waarskynlik voorrang te geniet bo blote orde-vrae oor die hoe van liturgie, of aanwysings oor die inrigting daarvan. Oor die sogenaamde funksionaliteit van die liturgie is al boekdele geskryf. Die Nederlandse liturgis, Gerard Lukken, het byvoorbeeld al in sy vroegste werke1 daarop gewys dat liturgie, oftewel rituele, ten minste sewe funksies het. In latere publikasies brei hy dit uit tot tien funksies, of soos hy dit noem: dimensies, naamlik ’n bemiddelende dimensie na die verlede (herinnering), ’n formaliserende dimensie, ’n konsentrerende of verdigtende dimensie, ’n verligtende (katartiese) en kanaliserende dimensie, ’n ekspressiewe dimensie, ’n eksorsistiese dimensie, ’n etiese dimensie, ’n sosiale dimensie en ’n politieke dimensie (58-70).

’n Ander bekende Nederlandse teoloog, Arnold van Ruler, verwys na nie minder nie as een en twintig redes waarom mense na die kerk toe behoort te gaan, naamlik om ’n kans op die bekering te hê, om ’n gewoonte vol te hou, om ’n tradisie voort te sit, om die eksistensie ten volle te beleef, om die arbeid van lofprysing te volbring, om die byskrif by die plaatjie van die werklikheid te lees, om voorbidding vir die wêreld te doen, om my bestaan te deurgrond, om die heil te ontvang, om tot die lig te kom, om in die gemeenskap ingelyf te word, om in die openbaar my geloof te bely, om my bydrae in die gemeente te lewer, om (mettertyd) ’n amp te beklee, om die sin van die Sondag te verwerklik, om aan die kerklike jaar mee te doen, om rus te vind, om gestig te word, om op toonhoogte te kom, om wegwys gemaak te word, om die verlossing van die wêreld te vier (1972: 9-175).

Dirkie Smit voer op sy beurt vanuit Suid-Afrikaanse, gereformeerde oogpunt aan dat die volgende agt prosesse hulle afspeel gedurende die liturgie, spesifiek in relasie tot die etiese spanning tussen liturgie en lewe: subversie, bevryding, gemeenskap, artikulasie, roeping, formasie en transformasie, konfirmasie, toewyding (2004: 887-907).

Dit is interessant om te hoor hoe kerkgangers sélf bogenoemde vraag na die funksionaliteit van die liturgie beantwoord. GB Thompson het empiriese navorsing onder kerkgangers gedoen juis om vas te stel wat húlle as die belangrikste funksies van die erediens beskou, en lys in die lig daarvan die volgende drie voorkeure: dit moet ’n oase van vrede en rus verteenwoordig te midde van die gejaagdheid van die lewe; dit moet inspirasie bied en moed gee vir die toekoms; die preek moet praktiese raad verskaf wat toegepas kan word gedurende die res van die week. Alhoewel al hierdie sake uiteraard belangrik is, is dit tog opvallend dat hulle almal op ’n individualistiese vlak bly beweeg en gerig is op private ervaring (Thompson 2003: 171).

En so sou mens kon voortgaan. Sonder twyfel sou hierdie omskrywings van die funksionaliteit van liturgie verder uitgebrei kon word - die betekenismoontlikhede daarvan blyk onbeperk te wees. In hierdie bydrae wil ek egter stilstaan by ’n dimensie wat oënskynlik teenoor alle funksionele oorwegings van die erediens staan, naamlik die (nie-funksionele) dimensie van spel. In werklikheid staan laasgenoemde egter nie teenoor eersgenoemde nie, maar vorm dit die bedding waarbinne die erediens inderdaad kan funksioneer. Liturgie as spel fokus nie op funksie nie, en is juis daarom funksioneel. Hierdie spanning tussen die funksionaliteit en nie-funksionaliteit van liturgie word treffend deur Marva Dawn verwoord:

To worship the Lord is – in the world’s eyes – a waste of time. It is, indeed, a royal waste of time, but a waste nonetheless. By engaging in it, we don’t accomplish anything useful in our society’s terms. Worship ought not to be construed in a utilitarian way. Its purpose is not to gain numbers nor for our churches to be seen as successful. Rather, the entire reason for our worship is that God deserves it… Worship is a royal waste of time that spirals into passion for living as Christians and back into more passionate worship. It is totally irrelevant, not efficient, not powerful, not spectacular, not productive, sometimes not even satisfying to us. It is also the only hope for changing the world. (1999: 1, 17)

Binne die klassiek-gereformeerde verstaan van liturgie word groot klem geplaas op die ontmoetingskarakter van die erediens, bemiddel deur Woord en Gees. Terwyl die tafel breedweg gesproke sentraal staan in die Katolieke en Ortodokse tradisies, die gemeente in die Charismatiese tradisies, staan die kansel sentraal in die Gereformeerde tradisie, as simbool van die sentraliteit van die Woord waardeur hierdie ontmoeting bemiddel word (vgl. Richter 1998:19). In feitlik alle tradisies kan mens, in minder of meerdere mate, onderskei tussen vier (of drie) klassieke komponente van die ontmoetingsgestalte van die erediens, naamlik ons toenadering tot God, sy toenadering tot ons deur sy Woord, maar ook die Sakrament, en ons toenadering tot die wêreld (of ons uitsending deur God; vgl. Webber 1992: 45-61).

In hierdie bydrae2 vorm hierdie ontmoetingsgestalte van die erediens met sy drie basiese komponente die agtergrond van alles wat verder gesê word. Ek wil egter die tipies gereformeerde klem op die ontmoetingsgestalte van die erediens op ’n ander, spesifiek nie-funksionalistiese wyse beskryf, naamlik in terme van spel. Hierdie konsep van spel moet egter van meet af aan gekwalifiseer word: dit is nie sommer enige vorm van spel waarvan hier sprake is nie, maar spel wat gegrond is in, en ’n uitvloeisel is van God se intertrinitariese vreugde.

Hiermee word bedoel dat die liturgie sy begin – en eindpunt binne-in hierdie intertrinitariese vreugde van God (moet) vind. Eberhard Jüngel noem vreugde sinoniem met geloof: ’n mens kan in die plek van geloof net so goed “vreugde aan God” sê (1978: 260). Vreugde maak dít wat vanselfsprekend lyk, tot verrassing, dié verrassing naamlik dat God in ons vreugde vind, en ons in Hom (1978: 486-487).Volgens Van Ruler is vreugde selfs belangriker as liefde, wat op sy beurt geloof en hoop oortref. Vreugde wat God het oor sy skepping, oor die wonder dat daar iéts is, en nie níks nie; vreugde oor elke sandkorrel in ’n kosmos van onmeetbare, uitdyende omvang. Maar veral ook vreugde oor die geskiedenis wat Hy met die mensdom gemaak het, ’n geskiedenis wat wel vol pyn en teleurstelling is – ook vir God – maar wat uiteindelik tog uitloop op die voltooide herskepping. Die verhaal van die God van Abraham, Isak en Jakob, en van Jesus, is die verhaal van God se ontembare vreugde. Dis presies hier waar die liturgie sy oorsprong, motief en hoogste vervulling vind: “De vreugde over God en over al zijn daden. De vreugde over onszelf en over al onze naasten. De vreugde over de totale werkelijkheid.” (Van Ruler s.j. 156).

2. LITURGIE AS SPEL

Die vraag wat ons hier moet vra, is: hoe word hierdie vreugde van God op die beste wyse moontlik liturgies uitgedruk? Woorde, begrippe en definisies sê nie genoeg nie. Wat nodig is, is ’n beeld, ’n metafoor van God se intertrinitariese vreugde, wat ook liturgies toepaslik kan wees. Dis hier waar die metafoor van spel in spel kom. Mens sou metafories kon sê dat God sy diepste vreugde oor die skepping en herskepping onder andere spelend uitdruk. Binne hierdie perspektief is die erediens dan nie primêr ’n reeks handelinge of vasgestelde volgordes wat deurloop moet word nie, maar ’n uitdrukking van die vreugde wat daar binne God self leef – oor dit wat was, is, en sal wees.

Die gebruik van die term spel is natuurlik nie iets nuuts in die teologie nie – in die Skrif hoor ons al dat die wysheid soos ’n kind voor die Vader op die vooraand van die skepping gespeel het (Spr. 8:30). Uiteenlopende denkers soos Hieronymus, Origines, Gregorius van Nissa, Maximus en ander mistieke denkers verteenwoordig ’n teologie wat as teenstroom tot die offisiële onto-teologiese tradisie beskou sou kon word, en wat as dikwels miskende bewegings die mens as homo ludens wou herwin, ’n spelende mens wat medeskeppend aan die Koninkryk werk, saam met die spelende God (deus ludens).

Die diepste motivering vir die metafoor van spel, lê inderdaad in die feit dat God self spelende is. Dit blyk duidelik uit sy skeppende én herskeppende handelinge. God het die wêreld geskep vir sy eie genot, en ons hoogste doel as geskapenes is dan ook: om God te verheerlik en Hom vir ewig te geniet (Kategismus van Westminster, 1647). Ons lewens handel minder oor “sukses” as oor die oneindige vryheid wat ons het om mee te doen aan die oneindige vreugde van die Skepper.

Die erediens handel dus in die eerste plek oor God, en oor sy vreugde. Maar uiteraard handel dit ook om mense. God wil sy vreugde, sy louter, intertrinitariese genot oor alles wat ís, met iemand, met sy (her)skepsels deel. God is die spelende God (deus ludens), maar Hy wil nie alleen speel nie. Hy inkorporeer ons in sy vreugde. Ons mag meedoen en as spelende mense (homo ludens) meespeel. Binne hierdie wedersydse samespel verkry die liturgie sy profiel.

Dit is ’n bekende feit dat Gereformeerde eredienste, wat in die Protestantse tradisie staan, soms só op (kognitiewe) prediking afgestem is, dat dit kan verword tot ’n voordrag met liturgiese omramings (Meyer-Blanck 2005: 134). ’n Mens sou waarskynlik heelwat Protestantse eredienste, ook tans nog, met reg saam met JF White kon beskryf as: “the most cerebral of the Western traditions… prolix and verbose… overwhelmingly cerebral.” (1989: 58 e.v.; vgl. ook Wheeler 2003: 348). Die konsep van spel kan in hierdie verband juis verruimend bydra tot ons begrip van die Gereformeerde erediens.

Daar is inderdaad ’n groeiende bewussyn dat die liturgie nie bloot omramings vir die preek kan wees nie, maar dat dit ’n soort beliggaamde uitdrukking van geloof in eie reg is. Die liturgie het ook ’n (estetiese) lewe van sy eie. Hierin sit daar altyd ’n spanning: liturgie is estetiese, en dus ook kulturele uitdrukking, wat dus op baie punte met iets soos teater3 vergelyk sou kon word, maar dis tegelykertyd ook uitdrukking van geloof: “Die Sache der Liturgie ist nichts anderes als ästhetische Praxis. Aber sie ist diese ästhetische Praxis als eine andere, eben als die Sache Jesu Christi.” (Meyer-Blanck 2005: 136).

Die punt is: liturgie is liggaamlike, visuele uitdrukking van ons geloof, en omdat die Bybel nie ’n uitgewerkte bloudruk vir die liturgie bied nie, is dit ook ’n kulturele en kerkhistories bepaalde uitdrukking van ons geloof. Liturgie is onlosmaaklik aan ons lewenswêreld4 verbonde, is verdigte ritueel en simbool, ja, kunsgeworde vormgewing van ons omgang met die lewe, maar ook van ons ontmoeting met God, wat in die erediens gevier word (vgl. Odenthal 2004: 409). Mense kan nie sonder simbole en rituele lewe nie, en die unieke rol van die liturgie is om ’n integrasie van ons simbool-ervaring te bewerkstellig. Liturgie is by uitstek ’n simboolgebeure (die Griekse symbállein beteken letterlik: om saam te voeg), waarin lewe en geloof, menslike en religieuse ervarings tot ’n sinvolle eenheid saamgebring word. Liturgie nooi mense trouens uit om hulle lewenservarings te bring, dit “in te meng” in die liturgie, en so in verband te bring met die heilsgeskiedenis wat God met mense maak, met die evangelie (vgl. Odenthal 2004: 412).

Hierdie (simboliese) samevoeging, of in meer gereformeerde terme gesê, hierdie ontmoeting tussen God en sy mense, sou goedskiks met die estetiese (en hier ook metaforiese) term spel beskrywe kon word. Hierdie term is waarskynlik die eerste keer in ’n omvattender sin in liturgiese verband deur die Rooms Katolieke teoloog Romano Guardini gebruik – ’n belangrike eksponent van die liturgiese beweging tydens die twintigste eeu - maar dis opvallend dat dit nie werklik verder ontwikkel is nie – nie in Katolieke, maar ook nie in Protestantse of gereformeerde kringe nie. Ek gebruik hierdie term hier, omdat die wyse waarop God ons in die ontmoeting nader, en ons Hom, asook die wyse waarop ons die wêreld met die wegsending nader, nie ’n kognitiewe of bloot verbale gebeurtenis is nie, maar ’n estetiese gebeure, waarin kognisie en die verbale uiteraard ook hulle plek het.

Indien die klem in die ontmoetingsgebeure slegs val op praat en hoor, of hoor en antwoord, sou dit maklik tot kognitiewe en serebrale eensydigheid, en dus ’n soort tirannie van die rede, kon lei. Liturgie as ontmoeting sou daarenteen eerder beskrywe kon word as ’n meedoen (meespeel), waarin God wel die inisiatief behou en die eer ontvang, maar steeds ’n egte meedoen waarin ons liggaamlik en sintuiglik meegevoer word in die skoonheid, waarheid en goedheid van God se openbaring aan ons. Hierdie meedoen vind spelenderwys plaas, as uitdrukking van die vreugde wat daar in die Triniteit self oor die skeppingswerklikheid, en veral ook die versoende skeppingswerklikheid is.

Liturgie is volgens Romano Guardini primêr ’n spel, ’n skynbare doellose oefening – in elk geval gemeet aan funksionalistiese standaarde: “Id must learn not to be continually yearning to do something, to attack something, to accomplish something useful, but to play the divinely ordained game of the liturgy in liberty and beauty and holy joy before God.” (1997: 71-72). Terwyl álles in die skepping op die oog af funksioneel is – van die kaleidoskopiese kleure van visse diep onder die see, waar geen mense-oog dit kan sien nie, tot die ragfyn vorm van boomblare in die reënwoude – is dit ook daar om ’n ander rede, naamlik om deel te wees van die spel, die drama, in die theatrum Gloria dei (Calvyn). In die liturgie word dié spel op die spits gedryf, word dit aangewakker en belééf, soos op geen ander plek nie. Die waarheid kom spelenderwys aan die bod (vgl. Leuenberger 1970: 250-262).

Daarom kan die liturgie nooit bloot soos ’n tipe gimnasium funksioneer, waar dissipline en ontwikkeling die hoogste doel is nie, maar eerder soos ’n woud, waar uit die natuur geleef word, en waarin ’n innerlike groei teenwoordig is. Die woud se bestaan as woud is genoeg. In hierdie bestaan lê vryheid en betekenis. So ook in die liturgie: die blote daar-wees voor God is waaroor dit gaan, nie net om sin te soek nie, maar veral ook om dit te vier. Ralph Sauer druk dit só uit: “Zum fest gehört das Spiel, das keinem Zweck huldigt, sondern in sich ruht, es ist selbst Zweck. Liturgie als zweckfreies Spiel ist Abbild des in sich ruhenden Gottes, der Sinn schlechthin ist.” (1996: 56)

Guardini vind ’n verband tussen liturgie en kuns juis in hierdie skynbare doelloosheid wat beide kenmerk. Liturgie is kuns, vertaal in die terme van die lewe. Guardini beskryf hierdie analogie tussen kuns en liturgie meesterlik: “Has art any aim or purpose? No it has not… The work of art has no purpose, but it has meaning – ‘ut sit’ – that it should exist, and that it should clothe in clear and geniune form the essence of things and the inner life of the human artist. It is merely to be ‘splendor veritatis’, the glory of the truth… Liturgy has no purpose, but it is full of profound meaning. It is not work, but play. To be at play, or to fashion a work of art in God’s sight – not to create, but to exist – such is the essence of the liturgy.” (1997: 64, 70; vgl ook Barnard 2001: 12)

Hiermee ontken Guardini geensins dat die liturgie inderdaad ook ander dimensies het, en dat dit bepaalde pastorale, didaktiese en etiese “oogmerke” kan en moet najaag nie. Inteendeel, die kerk het volgens hom nie die Opus Dei opgebou bloot vir die genot om pragtige simbole, kerklike taal en statige gebare te vorm nie, maar ter wille van ons desperate, geestelike nood. As ons aan laasgenoemde ontrou is, is ons ontrou aan die evangelie self. Van belang is vir hom dat die inherente verband tussen skoonheid, waarheid en goedheid hier gehandhaaf word. Pulchritudo est splendor veritatis – est species boni – skoonheid is die uitnemende volmaaktheid wat woon in die openbaring van essensiële waarheid en goedheid. In die liturgie gaan dit dus nie om skoonheid ter wille van skoonheid self nie, maar altyd in samespel met waarheid en goedheid. Waarheid is die hart van skoonheid, en goedheid is die hande van waarheid. Juis daarom is die kinderlike spel van die liturgie – die vreugde oor skoonheid, waarheid en goedheid – nie kinderagtigheid of liturgiese lawwigheid nie. Waarheid en goedheid waak daaroor dat skoonheid nie tot kitsch verword nie.

Die liturgiese spel waarvan hier sprake is, het dus bepaalde kenmerke. Dit is nie bandeloos nie. Dit speel af op ’n speelveld, en verloop volgens spelreëls – soos alle goeie vorme van spel. Dit sluit aan by die feit dat ons spelende wesens (homo ludens) is; dat ons pas waarlik mense is, wanneer ons speel - soos Schiller digterlik beweer het. In hierdie spel weet ons: wie nie speel nie, is ’n barbaar. Ons weet egter ook: wie net wil opgaan in genotsugtigheid, is óók ’n barbaar. Hierdie spel is nie ’n wedstryd, soos ’n toets tussen die Springbokke en die All Blacks nie. Die doel is nie wen nie: “Het spel in de zin van iets voorstellen, dansen, spelen met klank, kleur, lijn en taal is iets anders dan het spel om overwinning.” (Hoenderdaal 1977: 60). Die “doel” is die eer van God – Soli Deo Gloria – en, as dít verwesenlik word, val ook die ander dimensies van die liturgie in plek.

3. LITURGIE AS VOOR-SPEL

’n Mens sou die spel van die liturgie inderdaad ook ’n voor-spel kon noem, omdat dié spel nooit gelyk is aan ’n oppervlakkige vrolikheid nie, maar vol erns, dikwels vol trane – omdat God se bedoeling met die lewe, sy skoonheid, waarheid en goedheid, op soveel terreine gedwarsboom en omgekeer word. Trouens, die spel waarvan hier sprake is, word gekenmerk deur ambivalensie, deur ’n polariteit, ’n voortdurende wisselwerking tussen wat is en wat behoort te wees (Paus 1983: 300-301). Dis voluit spél, maar tegelykertyd ook voor-spel, vol antisipasie van ’n wêreld waarop spelenderwys gehóóp word. In hierdie sin moet die liturgie nie net kan lag nie, maar ook huil, moet dit ook deurdronge wees van weemoed, moet dit ook sug in die pyne van verwagting van ’n beter wêreld (vgl. Rom. 8: 22). ’n Liturgie wat hierdie ervarings van disoriëntasie uitdruk, hoef en kán daarom nie wegskram van die realiteit van wonde en verwonding nie. Liturgie is die spel van God se gryse kinders.

Liturgie as voor-spelende antisipasie sien die toekoms (dit wat nog nie is nie) nie as ’n eskatologiese hersenskim, of as pensioen of betaaldag nie, maar as ’n werklikheid wat reeds hier en nou werksaam is (vgl. Moltmann 1971:40). In hierdie liturgie word vooruitgrypend, vooruitspelend ingestem op die vreugde van God oor die realiteit van die herskepping. Die waarborg vir die realiteit van hierdie herskepping, is Christus.

Die koms van Christus versterk die beeld van die spelende God. Sy verlossingswerk is nie bloot ’n noodmaatreël om die ou spel van die skepping te herstel nie, maar om ’n nuwe spel te skep. Jesus het gely, sodat ons weer kan lag. Sy kruis – wat geen grap was nie – maak ’n nuwe spel, ’n verdiepte genot met God moontlik. By die kruis lyk dit of alle vreugde verdwyn, maar met Paasfees is alles anders: Hier begin inderdaad die lag van die verlostes, die dans van die bevrydes en die kreatiewe spel van nuwe, beliggaamde moontlikhede wat voor ons oopgaan, al moet ons nou nog lewe in toestande waarin daar weinig rede te vinde is vir lag of dans (vgl. Moltmann 1971:35).

Al spelende leer ons ook om die inkongruensies van die lewe te hanteer (vgl Theron 1996: 212; ook sy uitgebreide literatuur oor die teologie van humor). Trouens, die Christelike spel is gewortel in die geloof in die gróót inkongruensie: Christus, die Gekruisigde, is die Koning. Ons is volgens Guardini waarskynlik gans te ernstig, te verbete op soek na die waarheid. Ons verstaan nie die hartklop van die liturgie nie: “Grave and earnest people, who make the knowledge of truth their whole aim, see moral problems in everything, and seek for a definitive purpose everywhere, tend to experience a peculiar difficulty where the liturgy is concerned.” (Guardini 1997: 61). Sulke doel-gedrewe mense voel onrustig binne die ruimtes van skynbare doelloosheid; hulle hou dit gewoon nie uit met hierdie “royal waste of time” nie.

Bohren het al daarop gewys dat ons onvermoë om te speel waarskynlik dui op ons ongeloof in die werking van die Gees. Ons vertrou Hom nie om nuwe, ongekende geheimenisse aan ons te openbaar nie. Ons is spelbrekers – teen die bedoeling van die spelende God in. Daarom is ons preke en liturgieë waarskynlik ook so vervelig (1971:372). Om ’n liturg te wees en te preek, is om te speel. Bohren praat van ’n heilige spel, ’n spel met moontlikhede, met woorde, met die Woord, met die gemeente, met die lewe, met ervarings, met geleenthede, met rituele en simbole, kortom, met alles wat oor die pad van die prediker kom. Wie hom of haar aan hierdie spel wil onttrek, is ’n homiletiese nar (1971:372). En dít is geensins snaaks nie.

4. LITURGIESE IMPLIKASIES?

Wat sou die liturgiese implikasies van bogenoemde wees? Ek noem slegs, en kursories, vier:

Eerstens: Liturgie as spel herinner ons daaraan dat dit in die erediens in die eerste instansie om (die spelende) God handel. Hierdie perspektief help ons om sogenaamde “liturgiese vernuwing” nie te verwar met blote veranderings in die liturgiese orde of verskuiwings in die liturgiese ruimte nie, maar om ons te konfronteer met dieperliggende teologiese vrae. Talle van die sogenaamde “worship wars” (Long 2001: 9-12) ontstaan juis vanweë vrae en kwessies op ’n sekondêre vlak: watter liedere moet gesing word; watter musiekinstrumente is toelaatbaar, waar moet die wet in die erediens funksioneer, ens. Uiteraard is hierdie en dergelike vrae van groot belang, maar dit sou kon versand tot op die vlak van smaak, indien dit nie binne die raamwerk van bepaalde teologiese en liturgiese uitgangspunte geplaas word nie. Die eerste vraag wat gevra moet word, is nie na orde-reelings nie, maar: dien dit die eer van God? Dra dit by tot die heilige spel van die liturgie voor, en saam met God? Is dit in pas met die theatrum Gloria dei? Leonora Tubbs-Tisdale verwoord die noodsaak van hierdie dieperliggende, teologiese vraagstelling aan liturgiese vernuwing as volg: “In the midst of all these (worship) wars, which cause tremendous upheaval in local congregations, and in the midst of the arguments made pro and con on both sides of the battles, I am increasingly concerned by the question that is all too often ignored in these debates, namely, How do we keep worship ‘deep’ theologically?” (2001: 176-177)

Uiteraard beteken dit nie dat alle “worship wars” deur ’n dieper, teologiese vraagstelling noodwendig bygelê sal word nie. Inteendeel, dit mag selfs op bepaalde punte verdiep word. Maar op hierdie wyse word liturgiese vernuwing ten minste vanuit ’n teologiese ratio bedryf, en word die dikwels roekelose en eksperimentele invoering van “dit wat werk” teengewerk. Alles wat werk, is nie noodwendig waar nie. Liturgie handel primêr oor (die aanbidding van) God, en kan nie ongekwalifiseerd omgebuig word in die rigting van dit wat maar gangbaar of gewild is nie. Anders kan dit lei tot ’n verlies van die ervaring van die onuitspreeklike geheimenis van God, en dat mense God in die erediens nie meer aanspreek as heilig, heilig, heilig nie, maar as “nice, nice, nice” (Tisdale 2001: 182).

Tweedens: Liturgie as spel roep nie alleen dieperliggende teologiese vrae na vore nie, maar tegelykertyd ook dieperliggende antropologiese vrae. Dis nie net God wat speel nie; ons speel ook. Terwyl die samelewing tot ’n groot mate afgestem is op prestasie en konsumpsie, op dit wat werk en effektief is, bied liturgie binne die perspektief van spel ’n ruimte waarbinne mense nie hoef te presteer of te verbruik nie. Liturgie as spel open menslike ruimtes, ruimtes waarbinne die paradokse van die lewe plek vind. Dit verteenwoordig ’n “sagte” ruimte, in teenstelling met ’n “harde” liturgie. In ’n “harde” erediens kom menslike patos nie werklik tot sy reg nie, omdat dit geneigd is om só “korrek” te wees, dat dit nie meer met menslike broosheid rekening hou nie. Wie speel, is nie noodwendig (altyd) reg nie, en ook: wie speel, is (gewoonlik) eg. Wie speel, kan nie passief, of op ’n kognitiewe vlak bly nie; wie speel, doen dit met verstand, emosie, hart, siel en sintuie. En dalk die beste van alles: wie (in die liturgie) speel, hoef nie te presteer nie. Hier heers geen sportmoraal van wen teen alle koste nie; hier is die vreugde nie afhanklik van die (uiteindelike) uitslag op die telbord nie, maar is ons alreeds meer as oorwinnaars – danksy die triomf van Pase (vgl Rom. 8: 31-39).

Derdens: Liturgie as spel veronderstel, in aansluiting by bogenoemde konsep van “sagte” eredienste, dat ons dieperliggende epistemologiese vrae moet vra. In hierdie benadering bied liturgie naamlik nie afgeronde antwoorde nie, maar is dit oop vir nuwe ontwikkelinge en onverwagse wendings in ons verstaan van “die waarheid”. Hier kan die erediens nooit as ’n afgeronde, geslote sisteem funksioneer waarbinne alles vas en seker binne geykte patrone en volgordes verloop nie. Om ’n teoloog (en ons mag byvoeg: liturg) te wees, is eerder om te dans, het Van Ruler ook gesê (1969:16). Teologie is wesenlik disparaat. Dit leef van alternatiewe. In sinkretisme sit daar daarenteen altyd iets verstikkends. ’n Mens kan alleen asem haal, alleen maar speel en dans voor en met God, as jy in die vars lug van teenstrydighede gebring word. Wie alle oneffenhede in die Bybelse teks en teologie wil afskuur, kan nie dans nie. Wie alles “tot ’n punt wil bring”, kan nie lag nie. Wie alle misteries probeer oplos, alle teenstrydighede probeer rasionaliseer en uiteindelik ook “opklaar”, verstaan nie die spel van God nie. In al sulke pogings tot ontluistering sit die gees van die kettery (Van Ruler 1969: 39). Inderdaad: Wie ’n liturg wil wees, word nie bloot ’n kenner van erediens-volgordes nie, maar ’n medespeler, ’n danser – saam met God.

Vierdens: Liturgie as spel noop ons ten slotte om dieperliggende eskatologiese vrae aan ons eredienste te stel. Spel as voor-spel impliseer die alreeds en die nog-nie. ’n Oorbeklemtoning van die alreeds mag lei tot liturgiese triomfalisme, terwyl ’n oorbeklemtoning van die nog-nie eindig met liturgiese depressie. Die spel van die liturgie vind nie buite die verskriklikhede van die lewe om plaas nie – dis geen vorm van liturgiese ontvlugting nie. Inteendeel, hierdie spel vind midde-in die rou werklikheid plaas, en daartéén. Dit is spel met die oog op die toekoms, vol antisipasie dat hierdie toekoms tog nou sal aanbreek, nee, omdat dié toekoms alreeds hede geword het. Dis die spel van God se gryse kinders, vol vreugde oor die aanbreek van die jongste dag.

Hierin lê die hoogste “funksie” van die liturgie.

BIBLIOGRAFIE

Barnard, M 2001. Secular Festival and Christian Feast in Schleiermacher’s Practical Theology and Aesthetics – A Theoretical contribution to the study of liturgy and the arts. In: Post, P; Rouwhorst, G; Van Tongeren, L en Scheer, A (red): Christian feast and festival. Leuven 2001.

Bohren, R 1971. Predigtlehre. München: Kaiser.

Cilliers, JH 2007. Binne die kring-dans van die kuns. Die betekenis van estetika vir die gereformeerde liturgie. Stellenbosch: SunPress.

Dawn, M 1999. A Royal “Waste” of Time. The splendor of worshipping God and being Church for the world. Grand Rapids, Michigan/ Cambridge, U.K.: William B. Eerdmans Publishing Company.

Guardini, R 1997. The Spirit of the liturgy. New York: Crossroad.

Hoenderdaal, GJ 1977. Riskant spel. Liturgie in een geseculariseerde wereld. ‘S – Gravenhage: Uitgeverij Boekencentrum.

Jüngel, E 1978. Gott als Geheimnis der Welt. Zur Begründung der Theologie des Gekreuzigten im Streit zwischen Theismus und Atheismus. Tübingen: J.C.B. Mohr (Paul Siebeck).

Kabel, T 2004. Heiliges Spiel. Katechetische Blätter 6/2004. 394-397.

Kunz, R 2003. Gottesdienst: ein Stück populärer Kultur? Praktische Theologie 3-2003. 193-201.

Leuenberger, R 1970. Wahrheit und Spiel. Fur Frage der Zukunft des evangelischen Gottesdienstes. ZThK 67 1970: 250-262.

Long, TG 2001. Beyond the Worship wars. Vital and faithful worship. Alban Institute.

Lukken, G 1986. Geen leven zonder rituelen. Antropologische beschouwingen met het oog op de christelijke liturgie, Baarn (Gooi & Sticht)

Lukken, G 1999. Rituelen in overvloed.. Baarn (Gooi & Sticht).

Lukken, G 19994. No life Without Rituals. in: Louis van Tongeren and Charles Caspers (eds.) Per Visibilia Ad Invisibilia, Anthropological, Theological and Semiotic Studies on the Liturgy and the Sacraments, Kampen (Kok Pharos Publishing House).

Meyer-Blanck, M 2005. Theatralisch inspirierte Liturgie. Pastoral Theologie. 94 Jahrgang April 2005/4. 134-145.

Moltmann, J 1971. Die ersten Freigelassenen der Schöpfung. Versuche über die Freude an der Freiheit und das Wohlgefallen am Spiel. München: Kaiser Verlag.

Odenthal, A 2004. Menschenwelt und Gottesdienst. Katechetische Blätter 6/2004. 409-414.

Paus, A 1983. Liturgie als Spiel? In Communicatio Fidei: Festschrift für Eugen Biser zum 65. Geburtstag. Ed H Bürkle, G Becker. Regensburg: Pustet: 295-304.

Richter, J 1998. Het ons hart nie warm geword nie..? Riglyne vir ‘n gemeentelike eredienswerkgroep. Stellenbosch: Buvton.

Sauer, R 1996. Die Kunst, Gott zu feiern. Liturgie wiederentdecken und einüben. München: Kösel.

Smit, D 2004. Lex orandi, lex credendi, lex (con)vivendi? – Oriënterende inleiding tot liturgie en etiek. NGTT Deel 45 No 3 en 4, 887-907.

Theron, PF 1996. Liberating humour. Calvinism and the comic vision. In Studies in Reformed Theology Volume 1, 208-224.

Thompson, GB Jr 2003. Treasures in Clay Jars. New Ways to Understand Your Church, Cleveland (The Pilgrim Press).

Tisdale, LT 2001. Navigating the contemporary worship narrows. Channel markers for deep waters. Making Room at the Table. An Invitation to Multicultural Worship. Ed. BK Blount and LT Tisdale. Louisville, Kentucky: Westminster John Knox Press, 175-188

Van Ruler, AA 1970. Waarom zou ik naar de kerk gaan? Nijkerk: Callenbach

Van Ruler, AA s.j. Ik geloof. Nijkerk: Callenbach

Van Ruler, AA. 1969. Theologisch Werk. Deel 1. Nijkerk: Callenbach.

Webber, RE 1992. Worship is a verb. Eight principles for transforming Worship. Hendrickson Publishers.

Wheeler, G 2003. Revisiting the Question of the use of Visual Art, Imagery, and Symbol in Reformed Places of Worship. In: Christian Worship in Reformed Churches past and present. Ed Lukas Vischer. Eerdmans. 348- 370

White, JF 1989. Protestant Worship Traditions. Louisville: Westminster/John Knox Press.

TREFWOORDE

Liturgie, Funksionaliteit, Nie-funksionaliteit, Spel

KEY WORDS

Liturgy, Functionality, Non-functionality, Play

Kontakbesonderhede

Prof JH Cilliers

Bon Chretien 16

Stellenbosch

7600

1 Gerard Lukken, Geen leven zonder rituelen. Antropologische beschouwingen met het oog op de christelijke liturgie, Baarn (Gooi & Sticht) 1986, 25–31; ook Gerard Lukken, No life Without Rituals. in: Louis van Tongeren and Charles Caspers (eds.) Per Visibilia Ad Invisibilia, Anthropological, Theological and Semiotic Studies on the Liturgy and the Sacraments, Kampen (Kok Pharos Publishing House) 1994, 101-106.

2 Ek brei vervolgens hier uit op ’n uiteensetting van liturgie as spel in my boek: Binne die kring- dans van die kuns, 2007: 79 e.v.

3 Die Duitse regisseur en toneelspeler Thomas Kabel wys byvoorbeeld op interessante raakpunte: die publieke karakter van liturgie en teater, die kulturele inkleding, die belang van artistieke (of dan liturgiese) “presensie”, die “kuns van die eerste moment”, die spel-karakter van beide, ens. (2004: 394-397).

4 Dit beteken nie dat die erediens moet opgaan in ’n soort populêre religie nie. “Nicht alles, was gut läuft, geht im Gottesdienst.”, skryf Ralph Kunz (2003: 194). Die erediens is ook kontra-kultuur, verteenwoordig ook ’n stuk ongelyktydig met die heersende kultuur. Dit staan in ’n diakroniese en sinkroniese verhouding tot kultuur.