Doubell, FB1
Universiteit van die Vrystaat

Teologie en film – ’n aanvanklike verkenning

ABSTRACT

Theology and film – an initial research

This article is about the study of Theology and film. The article argues the point that this study is vitally important for a Theology that is serious about the context. The study of Theology and films has taken flight in other countries but in South Africa it’s been largely ignored. The importance of the study in South Africa is twofold: Firstly the South African context is unique and therefore the study of film and Theology would be different in our own context. Secondly there are a growing number of South African films that normally aren’t covered in studies abroad. The study of film and Theology has endless possibilities, for example: What influence do films have on Spirituality in South Africa? How films tell us about the time we live in? To what extent do specific films stimulate theological and spiritual questions in the mind of the viewer? In what way do films function to give purpose and a sense of well-being to the viewer? What is the influence of films on the contemporary viewer’s idea of morality and ethics? These are but a few questions that need to be answered in the South African dialogue between films, Theology and our own context.

INLEIDING

In Desember 1895 is die eerste film in Parys vertoon. Dit was minder as ’n minuut lank sonder enige storielyn of klankbaan, maar hierdie nuwe uitvinding het sy eerste kykers stomgeslaan. In die volgende 113 jaar het hierdie uitvinding ’n verbysterende invloed op die mens gehad. Die mens en sy wêreld is op totaal nuwe bane geïnterpreteer en geherinterpreteer. Die mens en sy konteks is vanuit alle hoeke uitgebeeld en film het ’n spieël geword waarmee mense hulself beter leer ken. Die wisselwerking tussen die mens en films het egter ook na die ander kant ’n invloed uitgeoefen. Die mens is nie net uitgebeeld (invloed van konteks op film) nie, maar films het ook ’n duidelike invloed op die mens uitgeoefen (Vgl. Mitchell & Plate 2007:1-3).

Die Kerk en teologie het reeds vroeg besef wat die invloed van films op die mens is en het daarop gereageer. Mitchell wys byvoorbeeld op Pous Pius X wat die wys van films in kerkgeboue, reeds in 1910, verbied het. Verder noem hy ook Jack Linn wat films as die duiwel se broeikas afgemaak het.

Sedertdien het die gesprek tussen teologie en film egter gegroei tot ’n akademiese diskoers wat, ten minste by sommiges, meer genuanseerd aangepak is. Veral in die laaste dekade het hierdie diskoers gegroei tot ’n selfstandige vakgebied in die teologie en daarom behoort dit ook binne die Suid-Afrikaanse beoefening van teologie ernstig opgeneem te word.

Hierdie artikel beoog niks meer as ’n aanvanklike verkenning van hierdie vakgebied nie.

1. DIE ONTWIKKELING VAN DIE STUDIEVELD IN DIE LAASTE DEKADE

Johnston (2007:15-26) wys daarop dat die studieveld nog in sy kinderskoene staan. Die rede daarvoor is die beskikbaarheid van films. Die eerste videowinkel is eers in 1979 geopen. Voor dit was dit bykans onmoontlik om ’n film in eie hande te kry. Na hierdie datum het die video-/DVD-bedryf egter ontplof. Die beskikbaarheid van DVD’s, met inligting oor die maak en intensie van films, het dit ’n verdere hupstoot gegee. Volgens Johnston het DVD-verkope in 2005, $45.7 biljoen in Amerika beloop. In Suid-Afrika het dié mark nie agtergebly nie. Videowinkels staan in elke klein besigheidsentrum en groot kettingwinkel en veral musiekwinkels staan al meer spasie af aan ’n verskeidenheid DVD’s. Dit behoort dus duidelik te wees dat films ’n al groter rol in ons samelewing speel.

Die vakgebied teologie en film word derhalwe by die dag meer noodsaaklik vir kerk en teologie, terwyl Suid-Afrika nog nie werklik hieraan aandag gee nie.

Johnston (2006:13) beskou films as ’n primêre bron van mag en betekenis vir die mensdom van vandag. Naas die kerk, tempel en moskee bied dit vir die mens verhale en mites waarvolgens hulle hul lewens interpreteer. In hierdie verband wys Marsh (2004:7-8) na die outobiografie van John Walsh, waarin Walsh aandui hoe die kerk hom nie kon help op sy lewenspad nie. Hy vertel sy lewensverhaal aan die hand van films wat sy lewe by bepaalde momente beïnvloed en gestuur het. Met sy biografie wys Walsh hoe films ons bedien met verhale waardeur ons onsself kan verstaan om sodoende sinvolle besluite te neem.

Hoewel die betekenis en invloed van films ál sterker en ingrypend word, is die teologiese besinning oor films nog nie werklik ’n selfstandige vakgebied nie. Die eerste doktorale studie hieroor het 40 jaar gelede verskyn en daarna het die studieveld eers werklik begin groei.

In 1997 verskyn Explorations in Theology and film onder redaksie van G. Ortiz en C. Marsh. Dit was die eerste publikasie van sy soort in Engeland en die studie het ’n nuwe benadering ingelei. Vroeëre publikasies, meestal vanuit Amerika, was meer illustratief van aard. Dit beteken dat dié studies spesifieke films meer as voorbeelde van die transendente gebruik het. Films is beoordeel ten opsigte van universele teologiese momente en is illustratief gebruik as bewys vir die relevansie van teologie en religie. Explorations in Theology and film het ’n ander doelwit nagestreef. Films is eerder demonstratief beoordeel aan die hand van teologiese gedagtes wat daarin voorkom. Films is dus nie meer gesien as ’n moontlike naprater of teëprater van die teologie nie, maar as ’n gespreksgenoot van teologie. Die vakgebied het in hierdie bydrae verskuif van ’n vergelykende studie (m.a.w. ’n vergelyking tussen teologiese stellings en stellings binne die film) na ’n dialogiese studie (m.a.w. ’n gesprek tussen teologiese standpunte en standpunte binne ’n bepaalde film). Teologie en film as nuwe vakgebied binne die derde millennium sou voortaan hiervolgens ontwikkel (Vgl. Marsh 2004:x-xi).

In 2004 verskyn Clive Marsh se Cinema & Sentiment, ’n verdere ontwikkeling binne die vakgebied. In hierdie publikasie sou mens kon praat van ’n meer narratiewe benadering in die gesprek tussen teologie en film. Teenoor ’n modernistiese benadering wat objektiewe stellings tussen teologie en film nagaan, kyk hierdie studie na die emosionele effek wat films op die mens het. Marsh sien die gesprek tussen teologie en film in hierdie publikasie as ’n interreligieuse gesprek. Die filmwêreld word in hierdie benadering ’n nuwe religie of substituut vir religie.

In 2007 verskyn ’n boek onder redaksie van Robert Johnston naamlik Reframing Theology and film – New focus for an emerging discipline. Die boek bied 15 artikels oor 6 moontlike velde binne die vakgebied. In die volgende paragraaf gaan ek opsommend met die boek om. Ek doen dit om twee redes. Eerstens is die boek ’n standaardwerk wat deur dié belangrikste kenners op die gebied saamgestel is. My doel is dus om die uitgebreide veld aan die hand van dié publikasie bekend te stel. Tweedens is die publikasie meer as net ’n inleiding tot die vakgebied. Die boek is ook die vrug van ’n driejaargesprek tussen leidende kenners van oor die wêreld. Die gesprek is juis gevoer om die vakgebied te belyn vir die toekoms. Dit is dus uiters noodsaaklik om hierdie boek in sy geheel te verreken in ’n verkennende artikel.

2. HERDEFINIËRING VAN DIE STUDIEVELD IN DIE DERDE MILLENIUM

Hierdie gedeelte neem Reframing Theology and film – New focus for an emerging discipline as vertrekpunt vir die studie van teologie en films in die toekoms.

2.1 Filmbeelde en musiek

In die eerste plek wys Detweiler(2007:29-50) en Taylor(2007:51-69) daarop dat die bestudering van films meer is as ’n literêre studie. ’n Film gaan verder as die blote storie waarop die film gebaseer is. Die teks word naamlik aangevul met beeldmateriaal en musiek. Vroeër het die studie van teologie en film net gekonsentreer op die teks. ’n Teologiese studie van die film was dus nie veel meer as ’n literêre studie nie.

Detweiler konsentreer in sy artikel op die gebruik van visuele beelde in films. Protestante was oor jare heen negatief oor afbeeldings van God. Daarom mag ’n visuele afbeelding van God in films negatief ervaar word. Hy vra egter dat ons moet beweeg na ’n teologie van beeldmateriaal. Die mens van ons tyd is ingestel op prente, foto’s en films, daarom sal ons opnuut moet nadink oor die gebruik van simbole in kerk en teologie.

Verder is teologie en literatuurwetenskap oor die algemeen geneig om meer kognitief te werk te gaan, terwyl films ’n baie sterk affektiewe element het. Dit maak die gesprek tussen teologie en film soveel moeiliker. Die teologie sal dieper in die affektiewe moet ingrawe om sinvol aan die gesprek deel te neem. Filmbeelde werk nie-verbaal op die mens in en ’n teologiese bestudering van films sal dit moet verreken.

Taylor konsentreer weer op die werking van musiek in films. Soms word nuwe musiek vir films gekomponeer en ander kere word reeds bestaande musiek gebruik. In albei gevalle dra die musiek ’n verdere betekenis en emosionele element tot die film by. Dink byvoorbeeld aan die vreesaanjaende musiek wat in die Jaws-films gebruik word of die magtige musiek in die Star Wars-films. In albei gevalle word spesifieke emosies deur dié musiek aan die nuwe teks gekoppel. Wanneer ’n advertensie of ander film die bestaande musiek van Jaws gebruik, lok dit, sonder enige ander byvoeging, reeds vrees by die kyker op. ’n Teologie van films kan nie anders as om ook hierdie element in films te verreken nie (vgl. Taylor 2007:54-59).

2.2 Filmseleksie

Ortiz en Vaux skryf oor filmseleksie wat ’n studie van teologie en film behoort te maak. Ortiz erken dat hy nie altyd lus is vir kunsfilms nie. As hy wil ontspan kyk hy ’n lokettreffer. Hy maak egter ook ’n teologiese saak uit vir die keuse van lokettreffers. Kunsfilms is nou eenmaal minder gewild en die teologie behoort ingestel te wees op die algemene publiek se filmkeuse. Dit is juis die lokettreffers wat ’n groot invloed op die mens van ons dag het. Indien die teologie kontekstueel ingestel wil wees kan die filmkeuse lokettreffers nie uitsluit nie.

Vaux redeneer nie vanuit dieselfde hoek nie. Vir haar moet die filmseleksie juis goeie films insluit (vgl. Ortiz 2007:73-87; Vaux 2007: 88-103). Dit beteken hoegenaamd nie dat Vaux die lokettreffers wil uitsluit uit ’n filmseleksie nie. Sy beskou lokettreffers as films wat ons kan help om die kultuur van die dag te verstaan, maar kunsfilms as hulpmiddel waarmee ons die mens van vandag kan leer. Hoewel hierdie onderskeid effens simplisties is, help dit ons wel om beide seleksies sinvol in ’n teologie van films te gebruik.

Ortiz bepleit ook die gebruik van films uit ander kulture. Nie-Westerse films leer hoe ander kulture leef, redeneer en ervaar. Selfs Franse en Italiaanse films verskil van tipiese lokettreffers en leer ons dat daar universele menslike belewenisse en vraagstellings is (Vgl. Ortiz 2007:73-85).

Uit bogenoemde behoort dit duidelik te wees hoe belangrik die keuse van spesifieke films is. Mense is geneig om in sekere tipe films belang te stel, maar die teologie sal by persoonlike voorkeure moet verbybeweeg tot ’n wye seleksie. Die studieveld van teologie en film sal dus ook navorsing moet doen oor die verband tussen filmkeuse en kultuur.

2.3 Die gebruik van ander gespreksgenote

Lynch(2007:109-125), wys op die belangrikheid van veral twee sake. Eerstens die bydrae wat teologie, naas sosiologie en kulturele studies, kan maak in die studie van die hedendaagse popkultuur. Tweedens die waarde wat ’n teologiese studie van film kan put uit bogenoemde vakrigtings. In die laaste jare het die studie van teologie en film wegbeweeg van ’n literêre studie na ’n studie van film as estetiese ervaring. Dit beteken dat teoloë ’n heel nuwe vakwetenskaplike taal moet aanleer. Die bestudering van films is in effek die bestudering van ’n medium wat kulturele ideologieë in die samelewing uitbeeld. Die interpretasie van films kan die teologie help om hierdie ideologieë te identifiseer en te verstaan.

Films is nie ’n objektiewe spieëlbeeld van die samelewing nie, maar weerspieël bepaalde aannames oor ’n wye reeks kulturele aspekte in die samelewing. In dié opsig is daar ook bepaalde religieuse en morele standpunte wat in films weerspieël word. Studie oor die invloed van films op die samelewing is nog skromelik verwaarloos. Dit terwyl navorsing reeds getoon het hoe groot die invloed van die media op die spiritualiteit van die Westerse samelewing is. Die beweging van ’n geïnstitusionaliseerde Christendom na ander vorms van spiritualiteit is hiervan ’n duidelike voorbeeld.

Lindvall (2007:126-142) bespreek weer wat filmgeskiedenis en kerkgeskiedenis uit mekaar se vakgebiede kan leer. Hoe groter invloed die filmwêreld op die mensdom se konteks en denke het, hoe meer sal kerkhistorici die studie van filmgeskiedenis moet benut om bewegings binne kerk en konteks te verstaan. So ’n studie sou nie net kon kyk na die invloed van films op die geskiedenis nie, maar ook kon let op die mate waarin films iets van die geskiedenis weerspieël.

2.4 Die ervaring van die gehoor

Clive Marsh(2007a:145-161) skryf oor die ontwikkeling in die fokus van filmstudie. Net soos in die literatuurwetenskap het die studie aanvanklik gelet op die intensie van die regisseur(die sender).Later is daar “objektief” gekyk na die film opsigself (die boodskap), maar vandag word die klem gelê op die subjektiewe belewenis van die kyker(die ontvanger). Daar word dikwels kritiek gelewer op die studie van teologie en film. Sommige reken dat teologie ’n ernstige wetenskap is en film bloot vermaak. Marsh reken dat sulke kritiek deurbreek kan word deur ’n empiriese studie te doen na die werking van films en spesifiek die inwerking van films op die kyker

In hierdie verband wys Marsh op die studie van Charlotte Haines Lyon in Brittanje 2004. Sy het ’n empiriese studie gedoen oor die reaksie van filmgangers na bepaalde films. Uit die inligting vanuit hierdie studie kom Marsh tot ’n vierledige slotsom(Marsh 2007a:147-156):

In die eerste plek gaan mense na ’n film met heelwat meer huis toe as wat hul verwag het. Mense dink dat hulle ’n film bloot vir vermaak gaan sien, maar die navorsing wys dat elke filmganger deur films gedwing word om te wonder oor bepaalde lewenswaarhede of vrae. Al sien filmgangers ’n bepaalde film bloot as ontvlugting, met geen werklike invloed op hulle lewens nie, het sulke films tog ’n besondere effek op hul denke en emosies.

Tweedens is vermaak besig om die plek in te neem van godsdiens as die arena waar mense gedwing word om betekenis in hul lewens te kry. Die navorsing toon hoe films mense kognitief opvoed, emosioneel stimuleer, konatief dryf tot aksie en uiteindelik aan hul lewens rigting gee.

In die derde plek bring films singewing op verskeie maniere by filmgangers tuis. Dit werk nie slegs kognitief, emosioneel en konatief op hulle in nie, maar beweeg onderbewustelik ook ’n filmganger se spiritualiteit. Hierdie vormgewing aan spiritualiteit is nie noodwendig religieus van aard nie, maar in ons tyd groei die idee dat mense hulself sien as spiritueel maar nie noodwendig religieus nie. Films help dikwels met die vormgewing van so ’n onreligieuse spiritualiteit.

Laastens moet ons besef dat baie mense ’n aversie in dogmatiese prediking, opvoeding of geforseerde refleksie het. Mense wil nie gedwing word om te luister, te oordink of te leer terwyl hul ontspan nie. Tog slaag films dikwels daarin om die mens beter as die kerk te beweeg tot emosie, denke en aksie(vgl. March 2007a:145-161).

Die sentrale gedagte wat teologie uit hierdie vierledige slotsom moet leer is dat die onderskeid tussen vermaak en lering, vermaak en religie en religie en spiritualiteit in ons tyd besig is om weg te val. Hierdie beweging vra opnuut van ons om aandag te gee aan die vermaaklikheidsaspek van godsdiens.

2.5 ’n Nuwe uitkyk op die normatiewe in film

Lyden(2007:205-218) wys op die belangrike rol wat godsdienswetenskap in die studie van teologie en film kan speel. Vanuit Christelike teologie was daar nog altyd ’n vrees dat godsdienswetenskap die belang van die Christelike godsdiens kan relativeer. Die gesprek is dikwels slegs gevoer om te sien hoe ander godsdienste van ons verskil of met ons ooreenkom. Hy wys daarop dat so ’n benadering vrugteloos is. Om net na ooreenkomste en verskille te kyk weerhou jou daarvan om die ander godsdiens werklik te verstaan. In die ooreenkomste word die ander godsdiens slegs ’n spieël van die eie en in die verskille slegs ’n standpunt wat bestry moet word. Godsdienswetenskap moet eerder beweeg na ’n nie-veroordelende gesprek tussen godsdienste met die doel om mekaar beter te verstaan. Die vrees dat die Christelike waarhede daardeur gerelativeer word, is volgens hom nie legitiem nie. Om na mekaar te luister met die doel om mekaar te verstaan, impliseer nie dat jy jou eie standpunt moet prysgee nie.

Op watter manier is bogenoemde relevant vir ’n studie van teologie en film? Soos reeds hierbo na Marsh verwys is, is daar ’n groeiende gedagte dat films ’n nuwe vorm van spiritualiteit (godsdiens?) kan word. In dié opsig sou die reëls vir ’n godsdienswetenskaplike gesprek sinvol toegepas kon word vir die gesprek tussen teologie en film.

Avila (2007:219-237) wys op die ontwikkeling van ’n kognitiewe wetenskap vir estetiese teorieë oor emosie. Die wegval van ideologiekritiek in die studie van films veronderstel ’n beweging vanaf die kognitiewe tot die emotiewe. Dit gaan dus nie meer oor die vraag na wat die regisseur wou sê of wat die film leer nie, maar watter emosies die film by die filmganger oproep. Empiriese studies oor die emosies van filmgangers bring kognitiewe norme weer terug in die studieveld. ’n Mens sou in dié opsig kon praat van ’n beweging weg van ideologie na psigologie.

Beide Lyden en Avila wys duidelik dat die beweging na die emotiewe in filmstudie nie veronderstel dat kognitiewe norme totaal wegval nie. In die opsig kan teologie, as kognitiewe wetenskap, ’n duidelike bydra lewer tot filmstudie en ook heelwat daaruit leer.

2.6 Die gebruik van teologiese tradisies in teologie en film

Johnston (vgl. 2007:304-321) wys in sy eie artikel daarop dat alle films, soos in enige ander kuns, die groot lewensvrae ondersoek en met moontlike antwoorde eksperimenteer. Protestante soos Vaux ondersoek die dialogiese tussen teologie en film terwyl Tarkovsky, die Russies ortodokse filmmaker, ’n meer sakramentele benadering volg. Die Rooms-Katoliek, Richard Blake, is teen die kerk se gebruik van films as opvoedkundige of etiese hulpmiddel. Vir hom moet films eerder gesien word as ’n vorm van goddelike openbaring.

Teologiese tradisie speel dus ’n belangrike rol in die perspektief waaruit daar na films gekyk word. Dit is egter nie al nie. Tradisionele gebruike en metodes kan ook meehelp in die studie van films. So byvoorbeeld speel Johnston met die gedagte om die Middeleeuse metode van Bybeluitleg, die viervoudige Skrifsin, te benut in sy interpretasie van films. Dit is die letterlike, allegoriese, morele en anagogiese vlakke van interpretasie. Dit sluit vir hom die moontlikheid oop om verskillende vlakke van betekenis in films te ontgin. Hy glo dat hierdie metode van interpretasie ook op die algemene openbaring in literatuur en selfs films toegepas kan word.

Johnston verwys na enkele akademici wat in dieselfde rigting dink. Burrows pleit dat tekste holisties, met verwysing na die viervoudige Skrifsin, benader moet word. Northrop gebruik die viervoudige Skrifsin om moderne literatuur te bestudeer. C.S. Lewis reken dat ’n mens ’n verhaal slegs kan verstaan as jy jou totaal daaraan oorgee. Emily Dickinson sê dat die probleem nie die afwesigheid van algemene openbaring in films is nie, maar ons onvermoë om dit raak te sien. Al bogenoemde akademici lê dus klem op ’n dieper en fyner bestudering van films.

Johnston gaan dan verder om hierdie benadering toe te pas op twee hedendaagse films, naamlik March of the Penguins en Titanic. Ek verwys slegs na eersgenoemde.

Die film March of the Penguins is ’n dokumentêre kyk na die paringsgewoontes van die Keiserpikkewyne van Antarktika. Na die verskyning het konserwatiewe Christen- en Judese groepe die film gebruik as sosiale propaganda vir familiewaardes, monogame huwelike en die wysheid agter hierdie intelligente ontwerp. Duidelik dryf dit ’n allegoriese verstaan van die film te ver, net soos die allegoriese Skrifuitleg in die Middeleeue te ver gedryf is. Hoe sou ons dus wel van allegorie gebruik kon maak in die teologiese studie van films?

Johnston wys op die ongelooflike ervaring wat filmgangers gehad het met die film. Naas The Passion of the Christ, was dit die gewildste film onder Christene. Die film roep baie emosies oor die lewe as sodanig by mense op. Die oorlewingstryd van die pikkewyne laat ons nadink oor ons eie oorlewingstryd. Die verhouding tussen tydsberekening en oorlewing by die pikkewyne is tekenend van ons eie gejaagde lewe. Dit sny egter ook dieper. Die film roep by ons respek vir die lewe op. Die samewerking tussen die groep pikkewyne laat ons nadink oor ons eie individualistiese wêreld. Dit laat ons nadink oor ons morele plig teenoor die natuur en dit laat ons verwonderd staan voor die Skepper van hierdie natuurwonder.

Hierin wys Johnston, na my mening, nie hoe hy die viervoudige Skrifsin volledig op die film toepas nie. Hy wys wel hoe die allegoriese aspek van die viervoudige Skrifsin ons kan help met die verstaan van ’n film. Verder wys hy ook hoe die misbruik van die allegoriese benadering in die Middeleeue ons kan herinner om nie dieselfde fout te maak by ’n studie van films nie. Tradisie en die foute wat ons oor eeue heen in ons eie tradisies gemaak het, kan dus vir ons van waarde wees in die studie van teologie en film.

3. MOONTLIKHEDE BINNE DIE STUDIEVELD

Met die bespreking van ’n standaardwerk in die vorige hoofstuk wil ek nou verder beweeg na die moontlikhede wat bogenoemde studie vir ons bied. Hoewel ek deurgaans verwys na bronne is dit my eie sistematiese voorstel vir aspekte wat in ’n studie van films aan die orde moet kom.

3.1 Film as teken van die tyd

Films weerspieël altyd die tyd waarin hul gemaak is. Musiek, beeldmateriaal, dialoog, tegniese versorging, akteurs en spesiale effekte verraai dikwels die konteks, dit is produksiedatum en plek van oorsprong. Al gaan die film Goodfellas oor die sestiger tot tagtiger jare en al word die musiek van daardie tyd gebruik, wys die akteurs en tegniese versorging dat die film nie in daardie tyd gemaak is nie, maar veel later. Dikwels verraai films oor ’n tydperk van eeue gelede sy eie konteks deur die denkraamwerk wat in die filmdialoog gebruik word. In die film Robin Hood het dié karakter, gespeel deur Kevin Costner, baie begrip vir die Islam gebruike van sy reisgenoot(gespeel deur Morgan Freeman). ’n Openheid wat verseker nie aanwesig was by iemand wat pas van die kruistogte af kom nie. So ’n openheid pas eerder by mense in ’n post-moderne tyd. Films sou dus met vrug gebruik kon word om die teologie te help met kennis en begrip van die tyd waarin geteologiseer word.

3.2 Film as riglyn vir hedendaagse vrae

Marsh (2007:62-77) wys op die manier hoe drie van Richard Curtis se films (Notting Hill, 4 Weddings and a Funeral en Love Actually) klem lê op die hedendaagse vraag na positiewe verhoudings. Nie net huweliksverhoudings en seksuele verhoudings nie, maar ook dié van vriendskap, familie ens. is in al drie films ter sprake. Die films beeld iets uit van die negatiewe invloede wat in ons tyd op verhoudings inwerk, maar tog laat die films jou nie verval in negatiwiteit nie. Daar is nog baie positiewe verhoudings in ons tyd, en die drie films vra van ons om dit raak te sien. Die moderne mens met al sy tegnologie het steeds ’n behoefte aan liefde in alle verhoudings waarbinne hy homself bevind. Vir die teologie is dit sinvol om aan hierdie behoefte van ons tyd aandag te gee. Al dink ons dat die moderne mens familiebande en huwelike vaarwel geroep het, is dit nie heeltemal waar nie. Die moderne mens se behoefte aan behoort is nog net so sterk soos altyd. Die massas het gespreek, al drie films was groot lokettreffers.

3.3 Film as antwoord op die mens se soeke

Films eksperimenteer dikwels met moontlike antwoorde op die mens se soeke. Indien jy na die films kyk waarin Robin Williams speel (bv. The Fisher King, Good Morning Vietnam, Dead Poets Society, Patch Adams, The Birdcage, Mrs. Doubtfire, ens.) kom jy telkens by dieselfde gedagte uit. Die mens is vasgevang in reëls, strukture en sisteme wat hom/haar wurg en die antwoord volgens Williams se films is: om daaruit te breek.

In Good Morning Viëtnam speel Robin Williams ’n omroeper by ’n militêre radiostasie in Vietnam wat moet help om die Amerikaanse soldate se moraal op te bou. Die stasie word egter so militaristies bestuur dat die sisteem die hele doel van moraal bou kniehalter. Williams probeer die sisteem omseil deur humor en deur meer moderne musiek te speel. Die sisteem duld dit nie en werk hom uit. Die film wys egter duidelik dat Williams se benadering werk: sy onortodokse manier bou wel die moraal van die soldate op.

In Dead Poets Society speel Williams ’n onortodokse Engels onderwyser by ’n baie rigiede privaatskool vir seuns. Met sy andersoortige onderwysmetodes kry hy dit reg om die seuns te laat dink en droom. Die sisteem werk hom ook in dié film uit terwyl die seuns hom, teen die sisteem in, vereer vir sy blywende invloed op hulle karakters.

In Patch Adams speel Williams ’n mediese student wat op onortodokse wyse humor gebruik as genesende krag vir pasiënte. Die mediese fakulteit spreek hom ernstig aan en wys hom daarop dat ’n dokter ernstig moet wees. Hulle voel dat daar geen plek vir humor in ’n hospitaal is nie. Die gevolg is egter dat die pasiënte besondere verbetering toon as gevolg van sy humor. Hoewel die sisteem hard probeer om hom uit te werk, kry hul dit in hierdie film nie reg nie.

In The Birdcage speel Williams die eienaar van ’n homoseksuele restaurant en teaterklub. Hy is self homoseksueel en staan in ’n lang “huweliks”-verbintenis. Sy heteroseksuele seun wil egter trou met die dogter van ’n konserwatiewe politikus. Om die goedkeuring van haar pa te kry probeer Williams vir een aand konserwatief en heteroseksueel voorkom. Die film terg met konserwatiewe politici wie se gesinslewe alles behalwe vlot verloop. Daar is nie veel liefde in die konserwatiewe heteroseksuele senator se huishouding nie, terwyl die homoseksuele verhouding van Williams en sy gesin straal van liefde en geluk. In die film noem die seun van Williams dat hy die enigste student in sy koshuis is wat nie uit ’n gebroke huwelik kom nie. Weereens daag Williams die sisteem uit en wys die film op die geluk wat mense buite die normale sisteem kan hê.

In Mrs. Doubtfire speel Williams ’n onortodokse vader van drie kinders. Sy humoristiese en onverantwoordelike pa-wees ontstel sy vrou so dat sy hom verlaat. Die hof bepaal dat hierdie onverantwoordelikheid genoeg is om aan hom geen vaderskapsregte toe te ken nie. Daarom vermom hy hom soos ’n vrou en aanvaar die werk as kinderoppasser en huishoudster by sy eie huisgesin. So onortodoks soos hierdie gedrag van hom ook al is, straal die kinders van blydskap oor hul nuwe kinderoppasser.

In die kort opsommings van bogenoemde vyf films is die boodskap in elke film duidelik dieselfde: Ons oorgereglementeerde Westerse samelewing wurg ons en bring ongelukkigheid. Die oplossing is om met humor teen die sisteem op te staan en daar uit te breek. Marsh (2004:41) wys daarop dat Williams die grootste trekpleister vir films is. Al sewe films waarin hy in die tagtigerjare gespeel het, het meer as $100 miljoen ingebring. Dit maak hom die gewildste akteur in Hollywood. As hy soos hierbo gewys in elke film die boodskap uitdra dat opstand teen die sisteem die antwoord op die mens se soeke is en as sy films so gewild is, behoort kerk en teologie tog van hierdie boodskap kennis te neem. Dit sal slegs gebeur as kerk en teologie die studie van films ernstig opneem.

3.4 Film as basis vir singewing

Ortiz en Deacy (2008) wys op die mate waartoe films kommentaar lewer op teologiese temas. In hul boek wil hul nie net die films wat eksplisiet gemik is op teologiese temas bespreek nie, maar ook films wat singewing as so danig implisiet aansny. Films soos The Devil Wears Prada hou hom besig met feministiese vrae soortgelyk aan dié in feministiese teologie. Films soos Armageddon sny die ekologiese vraagstuk en die eskatologie aan. In die film word aangevoer dat die Bybel die einde van die wêreld Armageddon noem, maar dat die mens van ons tyd die tegnologiese vermoë het om die einde van die wêreld te stuit. Geweld in films was nog altyd ’n bekommernis vir die Kerk, maar nie alle films regverdig geweld nie. Heel dikwels weerspieël films juis die negatiewe gevolge wat geweld in ons samelewing kan hê.

Ook reg en geregtigheid, skoonheid, vergifnis en die positiewe rol van die Kerk word deur baie films aangesny. ’n Goeie teologie behoort films te sien as ’n gespreksgenoot in die ewige soeke na sin en betekenis vir die mens. In sy boek Theology goes to the movies wys Marsh hoe films teologiese temas so duidelik aansny dat hy ’n sistematiese teologie kan saamstel uit ’n reeks films. Greg Garrett (2007) beskryf dieselfde gedagte in sy boek The Gospel according to Hollywood.

3.5 Film as ’n nuwe vorm van spiritualiteit

Marsh(2004:6-12) wys hoe films vir die mens van ons tyd rigting kan gee. Hy gee toe dat films kyk nie ’n bevredigende substituut vir godsdiens is nie, maar dit funksioneer wel in ons tyd as substituut vir godsdiens in baie mense se lewens. Om verder oor die saak na te dink maak hy gebruik van John Hick se definisie vir teologie2. Daarmee saam identifiseer Marsh vier belangrike aspekte van godsdiens:

3.5.1 ’n Gereguleerde lewenspatroon

Heel dikwels is fliek3 vir mense deel van hul weeklikse program. In baie gevalle is dit iets wat families of vriende saam doen. Dit word dus ’n gereelde gesamentlike ervaring vir mense om mekaar beter te leer ken en om hul gemeenskaplikheid te vier.

3.5.2 Respek vir rus

Georganiseerde godsdiens het deur die eeue klem gelê op ’n tyd vir rus en tog koppel baie mense die Kerk aan negatiwiteit oor vermaak. Die Kerk was by tye teen dans, teater, kaartspeel en kuierplekke. Om te gaan fliek is ontspannend en tog sny dit dieper as ander vorms van ontspanning in op jou spirituele sy. Films kry dit in hierdie sin beter as die Kerk reg om rus en spiritualiteit met mekaar te koppel.

3.5.3 Deelname aan ’n gesamentlike ervaring

Om te gaan fliek is ’n gesamentlike ervaring, of jy saam met vriende of alleen gaan. In die teater is daar ’n gemeenskap wat die film saam ervaar. Fliek is dus ’n religieuse ervaring in die sin dat dit in gemeenskap met ander geniet word. Jy mag dalk nie die ander persone in die filmteater ken nie, maar jy deel oomblikke van uitbundige lag, vrees, skok en trane met hulle. Die belangrikheid van hierdie gedeelde ervarings is ’n wesentlike aspek van georganiseerde godsdiens.

3.5.4 Erkenning van ’n heiligdom

In die nuwe “godsdiens” van die filmwêreld is daar ook ’n “kerkgebou” . Groot winkelsentrums het opsigself die plek geword waar baie mense hul gemeenskaplikheid vier. Die filmteater staan nie meer op sy eie nie, maar maak deel uit van hierdie massiewe bymekaarkomplekke. Hier word saam koffie gedrink, daarna volg ’n lewensverrykende “preek” by die filmkompleks en daarna word brood gebreek in die naaste restaurant. Vanuit die hoek van georganiseerde godsdiens mag dit dalk belaglik klink om hierdie nuwe komplekse met ’n kerk te vergelyk. Gaan jy egter op ’n Sondagoggend na ’n multipleks, staan jy verbaas oor die hoeveelheid mense wat hul gemeenskaplike ervaring by die kerk veruil het vir ’n soortgelyke ervaring by ’n multipleks.

Marsh(2004:13ev) bedoel met bogenoemde nie dat filmgangers implisiet teïsties besig is, of hul filmvermaak beskou as godsdienstig nie, maar dat filmervaring jou dikwels in die hart aangryp en jou laat nadink oor die sin van jou bestaan. Sulke ervarings en nadenke is onmoontlik sonder om bepaalde teologiese vrae op te roep. Die lyn van denke is nie ’n tegniek om teologie by die agterdeur in te sleep nie, teologie is reeds teenwoordig tydens en na ’n filmvertoning. Mense raak dikwels in teologiese gesprekke betrokke nadat ’n bepaalde film hulle in hul hart aangegryp het.

Terwyl georganiseerde godsdiens in gewildheid afneem, neem mense se belangstelling in spiritualiteit toe. Marsh wys byvoorbeeld op die groei in die jogabedryf en die groter verskeidenheid van boeke oor religielose spiritualiteit in boekwinkels om sy gedagte te staaf. Die filmwêreld speel verseker in op hierdie nuwe vorm van spiritualiteit. In baie films kom spirituele vrae aan die orde sonder enige verwysing na georganiseerde godsdiens.

4. TOEKOMSTIGE MOONTLIKHEDE VIR TEOLOGIE IN SUID-AFRIKA

Uit die bespreking hierbo is dit duidelik dat die studieveld van teologie en film binne die groter studie van Kontekstuele teologie, Godsdienswetenskap, Sistematiese teologie én die verhouding tussen teologie en kultuur val. Aangesien so studie ’n dialoog tussen teologie en konteks veronderstel, is dit dringend noodsaaklik dat dit ook in Suid-Afrika met sy eiesoortige konteks bedryf moet word. Films kom meestal uit ander kontekste, maar hul vind in ons eie konteks op ’n unieke manier neerslag. Studies wat binne die Amerikaanse konteks gedoen is kan vir ons rigting gee, maar dit kan nie voldoende wees vir ons eie konteks nie. Verder beskik ons natuurlik ook oor ons eie films, wat nie sommer in buitelandse studies hanteer word nie. Iets hiervan kom ter sprake in Nelus Niemandt(2007) se boek Nuwe drome vir ’n nuwe werklikheid. Niemandt gebruik filmkyk as ’n aanknopingspunt vir geestelike gesprek. In dié opsig hou hy hom nie direk met die studie van teologie en film besig nie, maar gebruik hy films reeds as bron waaruit die teologie/godsdiens ’n aanknopingspunt met die eie konteks en kultuur kan put.

Die studieveld van teologie en film bied egter nog ’n reeks moontlikhede. Daar kan gekyk word na die invloed van ’n bepaalde regisseur se reeks films (Vgl. die bespreking van Richard Curtis se films hierbo). Daar kan gekyk word na die reeks films waarin ’n bepaalde akteur speel (Vgl. die films van Robin Williams hierbo), ’n reeks binne ’n bepaalde genre, tydsverloop, tema of kultuur. ’n Studie van die reeks films met ’n Christelike inslag in ons tyd sou ook waardevol kon wees. Soortgelyke studies hoef ook nie by films te stop nie, televisiereekse het ’n groter invloed op die hedendaagse mens as wat ons besef. Wat is die teologie van Sewende Laan, Egoli, of ander reekse wat nie uit eie bodem kom nie? Lidmate van ’n kerk hoor dalk 1 of 2 preke in ’n week, maar hul sien en hoor talle reekse in dieselfde week. Die invloed hiervan moet verreken word, indien die teologie sy eie konteks ernstig wil opneem.

Hoewel teologie en film nog nie werklik in Suid-Afrika bestudeer word nie, is filmstudie as sodanig reeds ’n gevestigde vakgebied in ons land. Reeds in 1998 het Leon van Nierop sy boek Seeing Sense uitgegee. Hy skryf die boek om te dien as riglyn vir filmontleding. Volgens hom is daar ’n al groter belangstelling in filmstudie by ons Universiteite en Technikons. Sy boek gaan in op elke aspek van filmontleding en kan ’n waardevolle hulpmiddel vir teologie en filmstudie in Suid-Afrika wees. Aangesien nuwe films bykans daagliks verskyn is filmstudie ’n vinnig veranderende vakgebied. Nuwe films bring nuwe vrae en nuwe moontlike studierigtings. As gevolg van hierdie vinnige beweging het Van Nierop sy boek in 2008 herskryf onder die titel Movies made easy. In die boek kyk hy byvoorbeeld na nuwe Suid-Afrikaanse films soos Faith like Potatoes en Tsosti (vgl. Van Nierop 2008:136-137 & 147).

5. AANVANKLIKE GEVOLGTREKKING

Die doelwit van hierdie artikel is, soos dit reeds uit die titel blyk, om ’n verkennende studie te wees. Uit bogenoemde is dit duidelik dat die studie van teologie en film ’n relatief jong vakgebied is, maar dat dit wêreldwyd besig is om te groei in omvang. Terselfdertyd het teologiebeoefening in Suid-Afrika nog nie werklik aan hierdie belangrike studie deelgeneem nie. Dit is verder duidelik hoe belangrik hierdie studie vir teologie en konteks is. Enersyds het films ’n wesentlike invloed op die konteks en andersyds weerspieël films die vrae en behoeftes van vandag. Filmstudie het in die laaste dekade ’n ontwikkeling ondergaan van klem op die sender, daarna die film as sodanig en tans op die effek wat films op die kyker het. Hierdie effek wat films in ons eie konteks op mense het, is hoegenaamd nog nie in Suid-Afrikaanse teologie bestudeer nie.

Bo en behalwe bogenoemde produseer Suid-Afrika ook sy eie films wat nie in die teologie van ander lande bespreek word nie. Hierdie films weerspieël iets van ons eie konteks wat vir ons eie teologie van wesentlike belang is. Filmstudie as sodanig vind wel in ons eie land plaas, maar nog nie vanuit die teologie nie. Teologie en filmstudie sal, soos dit reeds in ander lande gebeur, ook in ons eie land moet hande vat. Vir die studie van teologie en film is dit essensieel om kennis te neem van ontwikkelinge binne filmstudie as sodanig. Indien dit nie gebeur nie, sal teologiese opmerkings oor films voorwetenskaplik en irrelevant wees. Dit het die studie van teologie en film in die buiteland dekades geneem om relevant te wees vir die filmbedryf. Dit het eers gebeur nadat die teologie met die filmwêreld in gesprek gegaan het. Voor dit het die teologie slegs kritiek gelewer op films. ’n Suid-Afrikaanse studie van teologie en film sal hierdie ontwikkeling moet meemaak om relevant te wees vir ons eie filmbedryf.

Laastens spreek films mense se spiritualiteit, moraliteit en etiek aan. Hierdie invloed is nie noodwendig in lyn met dit wat die kerk leer nie. Die invloed van films met aangrypende musiek, duidelike beelde, spesiale effekte en uitstekende dialoog mag nie deur kerk en teologie onderskat word nie. Die teologie sou hierin drie posisies kon inneem: dié van kritiese buitestander, onkritiese naprater of ingeligte gespreksgenoot. Die buitelandse studie van teologie en film het reeds aangetoon dat eersgenoemde twee posisies onsuksesvol en sinneloos is. Suid-Afrikaanse teologie sal die laasgenoemde posisie moet begin inneem.

BIBLIOGRAFIE

Avila M 2007. From film emotion to normative criticism in Johnston RK (ed) Reframing Theology and Film – New focus for an emerging discipline, p219-237. Grand Rapids: Baker

Barsotti CM & Johnston RK 2004. Finding God in the Movies – 33 Films of reel(sic) faith. Grand Rapids: Baker

Deacy C & Ortiz W 2008. Theology an Film – Challenging the sacred/secular divide. Malden:Blackwell

Detweiler C 2007. Seeing and Believing: Film Theory as a Window into a Visual Faith in Johnston RK (ed) Reframing Theology and Film – New focus for an emerging discipline, p29-50. Grand Rapids: Baker

Garrett G 2007. The Gospel According to Hollywood. Louisville: Westminster John Knox

Gritten D 2007. Halliwell’s Film Guide 2008. London: Harper

Johnston RK (ed.) 2006. Reel Spirituality – Theology an film in dialogue. Grand Rapids: Baker

Johnston RK (ed.) 2007. Reframing Theology and Film – New focus for an emerging discipline. Grand Rapids: Baker

Lindvall T 2007. Hollywood chronicles: toward an intersection of church history and film history in Johnston RK (ed) Reframing Theology and Film – New focus for an emerging discipline, p126-142. Grand Rapids: Baker

Lyden J 2007. Theology and film: interreligious dialogue and theology in Johnston RK (ed) Reframing Theology and Film – New focus for an emerging discipline, p205-218. Grand Rapids: Baker

Lynch G 2007. Film and the subjective turn: how the sociology of religion can contribute to theological readings in film in Johnston RK (ed) Reframing Theology and Film – New focus for an emerging discipline, p109-125. Grand Rapids: Baker

Marsh C 2004. Cinema & Sentiment – Film’s challenge to Theology. Milton Keynes: Paternoster

Marsh C 2007. Theology goes to the Movies – An introduction to critical Christian thinking. Abington: Routledge

Marsh C 2007b. On dealing with what films actually do to people: the practice and theory of film watching in theology/religion and film discussion in Johnston RK (ed) Reframing Theology and Film – New focus for an emerging discipline, p145-161. Grand Rapids: Baker

Mitchell J & Plate SB (eds.) 2007. The Religion and Film Reader. New York: Routledge

Niemandt N 2007. Nuwe drome vir ’n nuwe werklikheid – geloofsgemeenskappe in pas met ’n postmoderne wêreld. Wellington: Lux Verbi.BM

Ortiz GW & Marsh C 1997. Explorations in Theology and film. Oxford: Blackwell

Ortiz GW 2007. World cinema: opportunities for dialogue with religion and theology in Johnston RK (ed) Reframing Theology and Film – New focus for an emerging discipline, p73-87. Grand Rapids: Baker

Taylor B 2007. The colors of sound: music and meaning making in film in Johnston RK (ed) Reframing Theology and Film – New focus for an emerging discipline, p51-69. Grand Rapids: Baker

Van Nierop L 2008. Movies made easy – A practical guide to film analysis(2 ed). Pretoria: Van Schaik

Vaux SA 2007. Letters on better movies in Johnston RK (ed) Reframing Theology and Film – New focus for an emerging discipline, p88-106. Grand Rapids: Baker

Films waarna in die teks verwys is:

Armageddon (Touchstone, 1998)

The Birdcage (United Artist, 1996)

Dead Poets Society (Touchstone,1989)

The Devil wears Prada (TCF, 2007)

Mrs. Doubtfire (TCF, 1993)

The Fisher King (TriStar,1991)

Faith like Potatoes (Global Creative Studios, 2006)

Four Weddings and a Funeral (Channel 4,1994)

Goodfellas (Warner, 1998)

Good Morning Vietnam (Touchstone,1987)

Jaws (Universal,1975)

Love Actually (Universal, 2003)

March of the Penguins (Warner, 2005)

Notting Hill (Polygram, 1999)

The Passion of the Christ (Panavision, 2004)

Tsotsi (Tsotsi Films, 2006)

Patch Adams (Universal, 1998)

Robin Hood – King of Thieves (Warner, 1991)

Titanic (1997, TCF)

TREFWOORDE

Sistematiese teologie, Kontekstueel , Films, Spiritualiteit, Etiek

KEY WORDS

Systematic Theology, Contextual, Films, Spirituality, Ethics

Kontakbesonderhede

F B Doubell

Navorsingsgenoot Dpt Dogmatologie,

Fakulteit Teologie, UV; asook

NG Gemeente Waterbron;

Avondruslaan;

Posbus 17236;

9338 BAINSVLEI

Tel: 051-4452657 of 082-5787700

E-pos: rushoek@telkomsa.net

1 Dr. F.B. Doubell, Departement Dogmatologie, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat; en leraar van die N.G. Gemeente Waterbron.

2 Religion is- my byvoeging) “an understanding of the universe, together with an appropriate way of living in it, which involves reference beyond the natural word to God, or gods, or to a transcendental order or process” (Vgl. Marsh 2004:9).

3 Ek sukkel nog om ’n beter Afrikaanse werkwoord, vir die aksie waarin jy ’n film gaan kyk, te kry.