Snyman, AH
Universiteit van die Vrystaat

Oorreding in 1 Korintiërs 1:10-17

ABSTRACT

Persuasion in 1 Corinthians 1:10-17

The approach followed in this article differs from that of researchers, who use rhetorical models from outside to analyze a text, or who regard only a few stylistic techniques as rhetoric. The analysis is done in terms of what is called a “grounded theoretical approach”. This approach is briefly summarized, followed by a description of the rhetorical situation of the letter and a systematic analysis of these seven verses in order to determine its persuasive force. It is argued that these verses are an integral part of Paul’s rhetorical strategy, constructed from the text itself and aimed at persuading the Corinthians to be united by setting aside the reasons for their internal differences.

The conclusion is that a text-centred approach with its focus on the functional aspects of the text, provides a good (or even better) alternative to existing approaches, with their focus on the formal aspects of the text.

1. INLEIDING

In die verlede is die studie van retoriek in Paulus se briewe hoofsaaklik gekenmerk deur twee benaderings. Die eerste was om ’n retoriese model van buite te gebruik om die briewe mee te analiseer. ’n Voorbeeld hiervan is die gebruik van die Grieks-Romeinse retoriese sisteem met sy bekende exordium, propositio, narratio, probatio en peroratio om ’n hele brief mee te ontleed. In die sewentigerjare het die benadering nuwe stimulus gekry met die werk van H D Betz op Galasiërs (1979). Wat 1 Korintiërs betref, is dit onder andere Kennedy (1984), Mitchell (1991) en Witherington (1995) wat die benadering gevolg het, met verskillende resultate.

In die tweede benadering word retoriek beperk tot enkele retoriese tegnieke (soos retoriese vrae) en stilistiese opmerkings (chiasmes, parallelismes, ens.). Dit word veral gevind in kommentare op Paulus se briewe. Die werke van Fee (1988) en Thiselton (2000), wat as twee van die beste kommentare op 1 Korintiërs beskou word, is voorbeelde hiervan.

In onderskeiding van die twee benaderings word retoriek in hierdie artikel verstaan as ’n beskrywing van al die middele in die teks (appèlle, tipes argumente, ondersteunende tegnieke, ens.) wat die skrywer gebruik om sy lesers na sy standpunt oor te haal. ’n Model van buite word nie gebruik nie en alles wat bydra tot die proses van oorreding word geïdentifiseer en beskryf. ’n Resente voorstel vir so ’n teks-gebaseerde retoriese analise is die werk van Tolmie: Persuading the Galatians, wat in 2005 verskyn het as deel van die WUNT reeks. Sy voorstel behels saaklik die volgende:

• ’n Beskrywing van die retoriese situasie van die brief, dit is, ’n samevatting van wat aanleiding tot die brief gegee het of van wat Paulus in die brief wil bereik.

• ’n Deskriptiewe analise van hoe hy probeer om sy lesers te oorreed, en wel op basis van ’n minimale teoretiese raamwerk wat uit die volgende aspekte bestaan: die identifisering van die dominante retoriese strategie in elke gedeelte deur die primêre retoriese doel daarvan te beskryf en te bepaal hoe hy dit probeer bereik. In die proses word veral gefokus op die tipe argumente wat hy gebruik en die wyse waarop hy argumenteer om sy lesers te oorreed. Ten slotte word die sogenaamde retoriese tegnieke wat dien om die impak van sy kommunikasie te verhoog, geïdentifiseer en hulle funksies beskryf.

Die doel van die artikel is om Tolmie se alternatiewe benadering tot retoriese analise op 1 Kor 1:10-17 toe te pas en sy waarde te bepaal deur die proses van oorreding in die sewe verse aan die hand daarvan te beskryf.

2. RETORIESE SITUASIE

Die retoriese konteks waarin Paulus 1 Korintiërs geskryf het, kan soos volg gerekonstrueer word:

“Die mense van Chloë” (1:11) het hom mondelings ingelig oor die situasie in Korinte en waarskynlik ook die brief, waarna in 7:1 verwys word, aan hom oorhandig (Schüssler Fiorenza 1987:395). Eerstens het Paulus hieruit te wete gekom van die onderlinge twiste in die gemeente, wat implikasies vir sy apostoliese gesag gehad het. Dit is onwaarskynlik dat ’n groep anti-Paulus betogers die probleme veroorsaak het, soos Marshall (1987:23-27) beweer. Die probleme was hoofsaaklik intern en het uitgeloop op partyskappe tussen die gemeentelede onderling (soos Schüssler Fiorenza 1987:397-398; Witherington 1995:74 en veral Pogoloff 1992:237 aangetoon het). In sy kommentaar huldig Fee (1988:6) ’n soortgelyke standpunt, maar argumenteer oortuigend dat die groter probleem was die verdeling tussen Paulus as die stigter van die gemeente aan die een kant, en sekere invloedryke leiers wat die hele gemeente in ’n anti-Paulus rigting probeer lei het, aan die ander kant. Vir Paulus het hierdie groter konflik ’n krisis vir sy apostoliese gesag, sowel as vir die waarheid van die evangelie wat hy verkondig, ingehou. Skrifverklaarders stem saam dat die belangrikste verskilpunt was wat dit beteken om pneumatikos te wees. Die Korintiërs het die spreek in tale as die basiese kriterium van spiritualiteit beskou, terwyl hulle belangstelling in sophia (wysheid) en gnosis (kennis) hulle besondere wysheid en meerdere kennis gegee het. Dit alles het uitgeloop op kauchesis (selfverheffing of roem) by die Korintiërs, wat radikaal ingedruis het teen Paulus en sy boodskap.

In die tweede plek is die brief geskryf in reaksie op sekere praktiese aangeleenthede wat in die brief (waarna in 7:1 verwys word) geopper is. Die belangrikste hiervan was die huwelik en seksualiteit (hoofstukke 5-7), vleis wat aan die afgode geoffer is (8:1-11:1), aanbidding en die gawes van die Gees (11:2-14:40), die opstanding (15:1-58) en die insameling vir die heiliges in Jerusalem (16:1-4). ’n Addisionele doel van die brief is om leiding oor hierdie – hoofsaaklik etiese – kwessies te gee.

Samevattend: Aangesien Paulus verneem het van partyskappe onder die Korintiërs probeer hy om sy lesers te oorreed om sy gesag as apostel (insluitend die waarheid van sy evangelie) te aanvaar. Hy bespreek ook – op hulle versoek – verskeie probleme waarmee hulle worstel en probeer hulle oorreed om sy instruksies te volg ten einde hulle nuwe lewe in Christus te verwerklik. In die proses gebruik hy ’n aantal interessante argumente en oorredingstegnieke. Om dit te ondersoek en te beskryf in 1:10-17 is die doel van hierdie artikel.

3. ANALISE VAN 1 KORINTIËRS 1:10-17

3.1 Inleiding

Twee sake verdien aandag voordat Paulus se retoriese strategie in die gedeelte bespreek word:

(i) Geleerdes wat die Grieks-Romeinse retoriese sisteem gebruik om Paulus se briewe te analiseer, beskou 1:10 as die propositio, en 1:11-17 as die narratio van die brief (Mitchell 1991:1; Witherington 1995:94; Kennedy 1984:43). Volgens Lausberg (1960:163-164, met verwysing na Quintillianus) is die propositio “die (parteiische) Mitteilung des (in der argumentatio zu beweisenden) Sachverhalts an den Richter”. Die verhouding tussen die propositio en narratio word soos volg beskryf: “Die Bezeichnung propositio hat sich auf die kurze Zusammenfassung des zu beweisenden Sachverhalts spezialisiert, während die ausführlicher erzählende Mitteilung des Sachverhalts ... narratio ... heisst”. Albei is dus voorbereidend vir die argumentatio/probatio, wat as die kern van die toespraak beskou is en al die belangrikste argumente bevat om die hoorders tot die standpunt van die spreker oor te haal.

Die voorstel word geknel deur twee punte. Eerstens dek die propositio in 1:10 nie die hele brief, soos Witherington (1995:94) en veral Mitchell (1991:1) beweer nie. Die probleem van verdeeldheid of partyskappe, waarna die propositio verwys, kom slegs in hoofstukke 1-4 aan die orde. In die res van die brief is daar geen verwysing daarna nie en word ook nie melding gemaak van Apollos of Petrus (Sefas) se rol in enige partyskappe nie (Fee 1988:47).

Die belangrikste knelpunt in die benadering is egter dat die oorredende krag inherent aan die sewe verse nie tot sy reg kom nie. Die propositio en narratio kan nie maar slegs beskou word as voorbereidend vir die eintlike argumente in die probatio nie, soos Tolmie (2005:46-47) tereg aangetoon het in sy analise van die brief aan die Galasiërs. Hy onderskei tussen die teologiese inhoud van Paulus se argumente en die oorredende krag daarvan. Selfs as argumente of retoriese tegnieke aan die begin van ’n brief minder “teologies” lyk, moet hulle nie van minder belang of minder oorredend beskou word as dié wat later in die sogenaamde probatio gebruik word nie. Inteendeel: dit kan juis wees dat Paulus verkies om sy sterkste argumente eerste te gebruik.

(ii) In hierdie studie is 1 Kor 1:10-17 afgebaken op grond van retoriese oorwegings aan die teks self ontleen. Dit word geskei van die danksegging in 1:4-9 deur die werkwoord “ek doen ’n beroep op” in 1:10, wat ’n skuif in Paulus se retoriese strategie verteenwoordig. Die oproep eindig met 1:17, wat gebind word aan verse 13-16 deur sy verwysing na die doop en die redegewende “want” aan die begin van die vers. In die gedeelte onder bespreking (1:10-17) brei hy egter nie uit op die evangelie, wat hy in 1:17 aan die orde gestel het nie. Dit verander in 1:18-2:16, waar hy breedvoerig daarop ingaan en dit kontrasteer met die wysheid van mense. In die verband wys kommentatore tereg op die oorgangsfunksie van vers 17, wat beteken dat dit net so goed as die eerste vers van die volgende gedeelte beskou kan word . As gevolg van verandering in retoriese strategie en die bindingselemente in vers 17, kan 1:10-17 egter afgebaken word as ’n eenheid vir analise.

Hoe kan die oorhoofse retoriese strategie in die gedeelte beskryf word? Soos blyk uit die voorsetselfrase “in die naam van ons Here Jesus Christus” praat Paulus hier met gesag. Die vertaling van die werkwoord parakalo met “smeek” (soos Barrett 1986:40 voorstel), is dus nie korrek nie. Aan die ander kant druis die vertaling “beveel” in teen die strekking van die hele gedeelte. Gevolglik word die vertaling “ek doen ’n beroep op” verkies. Die saak waaroor dit in die gedeelte gaan is die twiste onder die Korintiërs. Hy roep hulle op tot eensgesindheid en wys hulle op die onsinnige redes vir hulle partyskappe. Die retoriese strategie in 1:10-17 kan dus beskryf word as “’n beroep op die Korintiërs om eensgesind te wees deur die redes vir hulle onderlinge twiste te laat vaar”.

Die res van die artikel word gewy aan ’n beskrywing van die wyse waarop Paulus sy lesers probeer oorreed om dit te doen.

3.2 Analise

Soos aangetoon verteenwoordig vers 10 ’n skuif in Paulus se oorredingstrategie wanneer hy skrywe: “Ek doen ’n beroep op julle, broers, in die naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eensgesind moet wees en daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde denke en in dieselfde gesindheid. Want dit is aan my bekend gemaak aangaande julle, my broers, deur die mense van Chloë, dat daar twiste onder julle is. Ek bedoel dit: dat elkeen van julle sê; Ek is van Paulus; ek is van Apollos; ek is van Sefas; ek is van Christus” (1:10-12).

Die frase “in die naam van ons Here Jesus Christus” is belangrik vanuit die oogpunt van oorreding. Die funksie daarvan is nie slegs om die middel of medium van die oproep aan te dui (soos die voorsetsel dia in die oorspronklike taal suggereer) nie, maar om Paulus se apostoliese gesag te beklemtoon: hy roep die Korintiërs op tot eenheid met die outoriteit wat Christus self aan hom verleen (Groenewald 1967:25 en Bratcher 1982:9). Die veronderstelling is dat eensgesindheid nie ’n gewoon menslike eis is nie, maar dat dit niks minder as God se wil is nie. Omdat dit so ’n belangrike punt is (nie alleen in die betrokke gedeelte nie, maar ook in die lig van die retoriese situasie van die brief), stel Paulus dit heel aan die begin van die eenheid aan die orde.

Verder gebruik hy terme wat dui op ’n besondere verhouding tussen hom en sy lesers. Hy spreek hulle aan as “broers” en die oproep word gedoen “in die naam van ons Here Jesus Christus” (1:10). Barrett (1986:41) en Thiselton (2000:120-121) maak veel hiervan, en wel op voetspoor van Tertullianus, wat reeds gewys het op die openheid en wedersydse begrip wat hieruit spreek. Die aanspreekvorm “broers” is nie maar net ’n formaliteit nie, maar saam met die herhaling daarvan in 1:11 (“my broers”) en die inklusiewe ons gee dit uitdrukking aan ’n familie-eenheid, wat bedreig word deur onderlinge twiste. Die funksie van hierdie inklusiewe taalgebruik is om sy lesers aan hom te bind en op basis van hulle gemeenskaplike geloof hulle op te roep tot eensgesindheid.

Die inhoud van die oproep word positief en negatief uitgedruk. Letterlik: “dat julle almal dieselfde ding moet sê; dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle saamgevoeg moet wees in dieselfde denke en in dieselfde gesindheid” (1:10). Die vertalings “denke” en “gesindheid” volg Louw en Nida (1988) se beskrywing van nous en gnome. Volgens hulle (1988:324-5) is nous “the psychological faculty of understanding, reasoning, thinking, and deciding – mind”. En gnome word beskryf as “a particular manner or way of thinking – way of thinking, disposition, manner of thought, attitude” (1988:350). Retories belangrik is egter die herhaling van dieselfde gedagte – eers positief, dan negatief en dan weer positief Die herhaling dien om die aandag op die nosie van eensgesindheid te vestig.

In vers 11 gaan Paulus voort om te verduidelik hoe hy van hulle twiste gehoor het. Chloë was blykbaar ’n welgestelde Asiese besigheidsvrou, wie se gesante heen en weer tussen Efese en Korinte gereis het. Tydens ’n besoek aan Korinte het hulle die kerk daar besoek en by hulle terugkeer na Efese vir Paulus ingelig oor die situasie daar. Hulle het hom meegedeel dat twiste ontstaan het in die naam van verskillende leiers. Oor die aard van die twiste gee die teks ons weinig inligting en geleerdes verskil daaroor. Dit val buite die bestek van die artikel om daarop in te gaan, behalwe om op te merk dat:

• die twiste nie diepgaande was nie en nog nie tot skeuringe gelei het nie. Die standpunt word deur die meeste kommentatore gehuldig en vind steun in die konteks.

• Apollos volgens Hand. 18:24 ’n geleerde en welsprekende man was, na wie Paulus weer in 1 Kor 3:4-6 verwys. Die twee hooffigure in die twiste was dus Paulus en Apollos, en die Korintiërs was opgeblase ten gunste van die een teenoor die ander. Hulle was gaande oor sophia (wysheid) en het Apollos beskou as die beste verteenwoordiger daarvan. Hulle voorkeur vir wysheid het berus op ’n waardering vir die Griekse filosofie en retoriese tradisie – iets waarop Paulus weer in vers 17 terugkom.

Die plasing van Christus se “party” op een lyn met dié van Paulus, Apollos en Sefas is problematies. Thiselton (2000:129-133) bespreek die oplossings wat voorgestel is, maar die een is so spekulatief soos die ander. Wat vas staan is dat daar grammatikaal nie ’n onderskeid tussen die vier partye getref word nie: die “Christus-party” word nie teenoor die ander drie gestel nie – soos blyk uit die partikels men ... de ... de wat hulle aan mekaar verbind. Die plasing van die “Christus-party” aan die einde van die reeks, en veral die feit dat dit onmiddellik gevolg word deur ’n retoriese vraag, kan egter – vanuit ’n oorredingsperspektief – ’n oplossing bied. Dit laat die fokus val op Christus, wat nie verdeel is nie en oor wie geen spesifieke groep alleen-seggenskap het nie. Omdat Hy nie verdeel is nie, is daar geen rede vir partyskappe onder die Korintiërs nie.

Die reeks vrae en Paulus se verdere argumentasie lees soos volg: “Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop? Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius, sodat niemand kan sê dat julle in my naam gedoop is nie. Ek het ook die huisgesin van Stefanas gedoop. Verder weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie. Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met woorde van wysheid nie, sodat die kruis van Christus nie kragteloos gemaak word nie” (1:13-17).

Die funksie van die eerste vraag is reeds bespreek. Hoewel dit nie in die oorspronklike taal gemerk is as ’n vraag wat ’n negatiewe antwoord verwag nie, kan dit slegs negatief beantwoord word: Christus is nie verdeel nie! Die rede waarom die merker (me) nie daar is nie, is waarskynlik omdat die volgende woord (memeristai) ook met me begin en dit per abuis weggeval het – soos Barrett (1986:46) tereg aantoon. Enkele swakker manuskripte het wel die me voor memeristai. Feit is dat die antwoord op die vraag slegs “nee” kan wees. Die tweede en derde vrae is in Grieks duidelik gemerk as vrae wat negatiewe antwoorde verwag: Paulus is nie vir julle gekruisig nie! Niemand is in sy naam gedoop nie!

Kommentatore verwys deurgaans na die drie vrae as retoriese vrae, maar bespreek selde hulle funksie binne die konteks. Die funksie van die vrae is egter belangrik vanuit ’n oorredingsperspektief. Retoriese vrae in plaas van gewone stellings stel Paulus in staat om sy gedagtes met meer emosionele effek oor te dra. In die brief aan die Galasiërs is dit hoofsaaklik gebruik om sy lesers te verwyt of tereg te wys (Tolmie 2000:102-109, 153, ens.). Hier word dit egter gebruik om die Korintiërs te oorreed om die onsinnige redes vir hulle twiste te laat vaar. Die vrae verleen addisionele krag aan Paulus se argumentasie. Veral wanneer ’n aantal vrae gekombineer word, soos in 1:13, word dit ’n besondere kragtige oorredingsmiddel deurdat dit die absurde redes vir hulle onderlinge twiste uitwys.

In verse 14-16 brei Paulus uit op die kwessie van die doop. Hy dank God dat hy slegs vir Krispus en Gaius gedoop het, sodat niemand kan sê dat hulle in sy naam gedoop is nie. Verder het hy ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop, maar niemand meer nie. Drie sake is hier van retoriese belang. In die eerste plek merk Conzelmann (1975:36) tereg op dat die frase “ek dank my God” ’n “rhetorical phrase” is, sonder om die funksie daarvan te probeer bepaal. Kistemaker (1993:49) beskou dit as ’n uitdrukking van tevredenheid dat hy nie baie gelowiges in Korinte gedoop het nie. Na my mening gebruik Paulus dit om sy lesers te oortuig van die feit dat sy weergawe van die doopgebeure in Korinte korrek is. Die frase verhoog sy geloofwaardigheid: die Here self is daarvan bewus dat hy slegs enkele persone in Korinte gedoop het.

’n Tweede saak is die name van die mense wat hy gedoop het. Dit is ’n argument gebaseer op historiese feite. Die tipe argument is effektief, omdat die inligting maklik geverifieer kan word. Die betrokke individue kan bevestig dat hy hulle gedoop het en as daar ander is wat hy gedoop het maar nie by name noem nie, kan hulle na vore kom. Die argument word gebruik om die Korintiërs te oortuig dat hy nie in die eerste plek gestuur is om te doop nie, laat staan nog mense in sy naam te doop! Om dit as rede vir partyskappe te gebruik, is gewoon absurd.

Die derde saak van retoriese belang is die stelling dat hy ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop het (vers 16). Hy noem die name van Krispus en Gaius in die vorige vers, maar korrigeer homself dadelik deur die huisgesin van Stefanas by te voeg en te verklaar dat hy nie weet of hy nog iemand anders gedoop het nie. Hierdie retoriese tegniek staan bekend as correctio en is besonder effektief. Dit word onder andere gebruik om die gehoor meer gunstig te stem teenoor die spreker en sy argument (Tolmie 2005:40).

Hieruit is dit duidelik dat Paulus se beskrywing in 1:14-16 nie maar ’n objektiewe weergawe is van wat hy in Korinte gedoen het nie. Hy noem nie maar net die name van persone wat hy gedoop het vir die interessantheid nie; hy is besig om te argumenteer en sy lesers gunstig teenoor hom te stem. Hy is besig met ’n proses van oorreding. Hulle moet aanvaar dat dit nie vir hom in die eerste plek om die doop gaan nie, en dus is dit onsinnig om die doop as rede vir partyskappe te gebruik.

Die enigste rede vir die Korintiërs se bestaan is die evangelie wat aan hulle verkondig is. Dit is die finale antwoord op alle partyskappe. Daarom sluit Paulus die eenheid af met vers 17, wat begin met die redegewende “want”: “want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig”. Vanuit ’n oorredingsperspektief word die vers gekenmerk deur twee dinge: ’n argument vir Paulus se apostoliese gesag en die gebruik van antiteses.

Eers sy apostoliese gesag. Soos die eenheid begin met ’n verwysing na die outoriteit wat hy van Christus ontvang het om die Korintiërs tot eensgesindheid op te roep (1:10), so sluit dit af met die stelling dat hy deur Christus gestuur is met ’n spesifieke doel. Dit wil voorkom of die Korintiërs gedink het dat sy apostelskap en die evangelie wat hy verkondig, slegs van menslike oorsprong is en dus vergelyk kan word met die Grieks-filosofiese wysheid van sy tyd. Gevolglik is dit nie nodig dat die Korintiërs hulle aan hom steur, of ag slaan op die evangelie wat hy verkondig nie.

Om dit reg te stel, beklemtoon Paulus dat Christus self hom gestuur het (apesteilen). Dit is ’n argument gebaseer op goddelike gesag, wat reeds in 1:1 gebruik is (“ ’n geroepe apostel van Christus Jesus, deur die wil van God”). Dit word herhaal in 1:10 (“ in die naam van ons Here Jesus Christus”) en nou weer in 1:17. Voordat hulle kan luister na wat hy sê, moet die Korintiërs eers weet wie hy is. Hy is ’n gestuurde van Christus self, met apostoliese gesag beklee. Die feit dat die tipe argument drie keer binne die eerste 17 verse van die brief gebruik word, bewys hoe belangrik dit vir Paulus was. Hierdie interpretasie verskil van dié van Schüssler Fiorenza (1987:398), wat beweer dat Paulus hom net op die outoriteit van Christus beroep wanneer sy argumentasie platgeval het. Die tipe argument was dus vir hom ’n laaste uitweg, ’n soort noodwiel. Daarteenoor het Tolmie (2005:33, 42, 51-52, 70-79, ens.) oortuigend aangetoon hoe belangrik die argument in die brief aan die Galasiërs is, en hier in 1 Korintiërs word dit ook as een van Paulus se belangrikste argumente gebruik.

Die doel van sy sending word beskryf in die vorm van ’n antitese: “nie om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig” (1:17). So ’n teenstellende struktuur is ’n algemeen-bekende oorredingsmiddel. Die negatief waarmee die sin begin skerp die lesers op vir die hoofgedagte wat nog moet kom. Paulus se stelling dat Christus hom nie gestuur het om te doop nie, sou iets soos die volgende by die lesers ontlok het: ”As Christus hom nie gestuur het om te doop nie, waarvoor het Hy hom dan gestuur?” Gevolglik verskuif die aandag na die stelling in die “maar”-gedeelte van die sin en word dít beklemtoon. Dit is die eerste keer dat die term “evangelie” gebruik word – een van die belangrikste konsepte in die brief – en die wyse waarop dit ingevoer word, is oorredend. ’n Teenstellende struktuur (wat Tolmie 2005:33, 60-61, ens. “antithetic presentation” noem) is meer effektief as ’n gewone positiewe of negatiewe stelling en word in alle tale gebruik vir oorreding. Met die teenstellende struktuur word die doop nie ontken nie – ’n probleem wat Skrifuitleggers steeds besig hou. Die teenstelling dien in die eerste plek as middel tot oorreding deur die klem te plaas op die verkondiging van die evangelie.

Vervolgens gaan Paulus nader in op die aard en inhoud van sy prediking. Hy skryf dat hy dit nie “met wysheid van woord” gedoen het nie. Hieraan word (volgens Groenewald 1967:27-30; Barrett 1986:49 en andere) twee verklarings gegee. Aan die een kant kan dit verwys na die wyse of metode van sy prediking. Die redenaarskuns was in daardie tyd ’n belangrike dissipline en predikers kon in die versoeking kom om dit te misbruik. Wanneer dit egter gebeur, word die kruis van Christus verydel. Aan die ander kant kan die frase “wysheid van woord” verwys na die inhoud van die prediking. Dit het te doen met Grieks-filosofiese leerstellinge oor die bestaan en eindbestemming van die mens, wat ewe-eens misbruik kan word om die evangelie meer aanvaarbaar te maak. Ook hiervan wil Paulus niks weet nie, omdat dit die evangelie van die kruis kragteloos sal maak, dit van sy inhoud sal beroof. Gemeenskaplik aan vorm en inhoud is dat die “wysheid van woord” sy oorsprong in die mens het. Dit is mens-gesentreerd en staan teenoor die kruis-evangelie, wat sy oorsprong in God het. Die teenstelling word breedvoerig uitgewerk in 1:18-2:16.

Het Paulus dan nie gebruik gemaak van die redenaarskuns van sy tyd nie? Is dit nie wat hy bedoel as hy in 2:4 eksplisiet verklaar dat sy prediking nie was “in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag?” Die antwoord hierop is weer geleë in die oorredingsfunksie van die antitese hierbo beskryf. Sonder twyfel het Paulus gebruik gemaak van die redenaarskuns, maar die klem val op die “gees en krag” van die kruis-evangelie, nie op die “oorredende woorde van menslike wysheid” nie. Die negatief dien hoofsaaklik om die aandag te verskuif na die hoofgedagte wat nog moet kom, naamlik die krag van die evangelie. Die antwoord word gesteun deur die feit dat “oorredende woorde van menslike wysheid” en “die betoning van gees en krag” nie absolute teenstellings is nie. Kortom: die twee dele van ’n antitese sluit mekaar nie altyd volledig uit nie – ten minste nie in 1:17 nie.

Die funksie van die implisiete teenstelling tussen “die woord van wysheid” en “die kruis van Christus” in 1:17 is dus om die klem te laat val op laasgenoemde. Die teenstelling is ingebed in die konteks van die onderlinge twiste tussen die Korintiërs en word verder uitgewerk in die gedeelte wat volg (1:18-2:16).

Sekere bekende retoriese tegnieke ondersteun Paulus se argumentasie in 1:10-17. Dit sluit in:

1. Die term schisma in 1:10, wat as metafoor gebruik word om die verdelings of skeuringe onder die Korintiërs op ’n grafiese wyse uit te beeld. Schisma beteken letterlik ”’n skeur in ’n kledingstuk” en word hier oordragtelik gebruik (Thiselton 2000:115-116).

2. Herhaling van “dieselfde” in 1:10: “dat julle almal dieselfde dinge sê; saamgevoeg in dieselfde denke en in dieselfde gesindheid”. Die tegniek vestig die aandag op die eenheid of eensgesindheid waartoe Paulus sy lesers oproep.

3. Die vier kort sinne in 1:12 is ’n kragtige manier van uitdrukking, wat verder verhoog word deur die feit dat al vier dieselfde struktuur het. Laasgenoemde tegniek staan bekend as parison (Nida et. al. 1983:180).

Die werkwoord “ek het gedoop” (ebaptisa) is eerste en laaste geplaas in 1:16. Die tegniek, bekend as kyklos (Nida et.al. 1983:176), word gebruik vir beklemtoning.

Om saam te vat: Die oorhoofse retoriese strategie in 1:10-17 kan beskryf word as “ ’n beroep op die Korintiërs om eensgesind te wees deur die redes vir hulle onderlinge twiste te laat vaar”. Paulus spreek hulle aan as “broers” en saam met die inklusiewe ons bind hy sy lesers aan hom en hulle gemeenskaplike geloof. Die inhoud van die oproep word positief en negatief herhaal om die gedagte van eensgesindheid te onderstreep.

Twee keer in die gedeelte gebruik Paulus ’n argument gebaseer op goddelike gesag (1:10 en 17) om sy lesers te oortuig van sy apostoliese outoriteit. Die argument is belangrik in die lig van die retoriese situasie van die brief. In 1:14-16 gebruik hy ’n argument gebaseer op historiese feite om hulle te oortuig dat hy nie in die eerste plek gestuur is om te doop nie. Die doop is dus geen rede vir partyskappe nie. Deur die sogenaamde “Christus-party” laaste te plaas en onmiddellik op te volg met ’n retoriese vraag, word gefokus op Christus: omdat Hy nie verdeel is nie, mag daar nie partyskappe onder hulle wees nie. Die reeks retoriese vrae vestig – op ’n kragtige wyse – die aandag op die absurde redes vir die twiste onder die Korintiërs. Die funksie van die correctio in 1:16 is om sy lesers gunstig te stem teenoor hom en sy argument.

Met die twee antiteses in 1:17 (die eerste eksplisiet en die tweede implisiet) probeer Paulus sy lesers oortuig dat hy gestuur is om die evangelie te verkondig – ’n evangelie wat mense oorreed deur die kruis van Christus en nie deur menslike wysheid nie. Die twee dele van elke antitese sluit mekaar nie volledig uit nie. Albei antiteses word in die eerste plek gebruik as oorredingsmiddele.

Ondersteunende retoriese tegnieke in die gedeelte sluit in die gebruik van ’n metafoor, herhaling, kort sinne, parison en kyklos.

2. KONKLUSIE

Die bevinding van die studie is dat Tolmie se voorstel vir ’n teks-gebaseerde retoriese analise van Paulus se briewe ’n sinvolle alternatief bied op ander bestaande benaderings. In plaas van ’n retoriese model van buite te gebruik of slegs enkele bekende tegnieke as retoriek te beskou, is probeer om al die oorredingsmiddele in die teks te identifiseer en hulle funksies te beskrywe. Om ’n teks vanuit hierdie perspektief te lees, is ’n bevredigende ervaring.

1 Kor 1:10-17 is afgebaken op grond van retoriese oorwegings. In die analise van die eenheid is gefokus op die manier waarop Paulus argumenteer, op die tipe argumente wat hy gebruik en op die retoriese tegnieke wat die impak van sy kommunikasie kan verhoog. Op die wyse is aangetoon hoe hy te werk gegaan het om die Korintiërs tot sy standpunt oor te haal.

BIBLIOGRAFIE

Barrett, CK 1979. A Commentary on the First Epistle to the Corinthians. London: Black. 2nd ed.

Betz, HD 1979. Galatians. A commentary of Paul’s Letter to the churches in Galatia. Hermeneia. Philadelphia: Fortress.

Bratcher, RG 1982. A Translator’s Guide to Paul’s First Letter to the Corinthians. Helps For Translators Series. New York: UBS.

Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians: A Commentary on the First Epistle to the Corinthians (Trans.). Hermeneia. Philadelphia: Fortress.

Fee, GD 1988. The First Epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans. (Reprint).

Groenewald, EP 1967. Die Eerste Brief aan die Korinthiërs. Kaapstad – Pretoria: NG Kerk Uitgewers.

Kennedy, GA 1984. New Testament Interpretation through Rhetorical Criticism. Chapel Hill: University of North Carolina Press.

Kistemaker, SI 1993. New Testament Commentary. Exposition of the First Epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Baker Books.

Lausberg, H 1960. Handbuch der literarischen Rhetorik. München: Max Hueber.

Louw, JP & Nida, EA 1988. Greek-English Lexicon of the New Testament Based on Semantic Domains. New York: UBS.

Marshall, P 1987. Enmity in Corinth. WUNT 2/23. Tübingen: Mohr-Siebeck.

Mitchell, M 1991. Paul and the Rhetoric of Reconciliation: An Exegetical Investigation of the Language and Composition of 1 Corinthians. HUT 28. Tübingen: Mohr-Siebeck.

Nida, EA; Louw, JP; Snyman, AH; Cronje, JvW 1983. Style and Discourse. Goodwood: N.B.P.

Pogoloff S M 1992. Logos and Sophia: The Rhetorical Situation of 1 Corinthians. Atlanta: Scholars.

Schüssler Fiorenza, E 1987. “Rhetorical Situation and Historical Reconstruction in 1 Corinthians”. NTS 33, 386-403.

Thiselton, AC 2000. The First Epistle to the Corinthians. A Commentary on the Greek Text. NIGTC. Grand Rapids, Michigan, Cambridge: WB Eerdmans Publishing Company.

Tolmie, DF 2005. Persuading the Galatians. A Text-Centred Rhetorical Analysis of a Pauline Letter. WUNT 2/90. Tübingen: Mohr-Siebeck.

Witherington, B 1995. Conflict and Community in Corinth: A Socio-Rhetorical Commentary on 1 and 2 Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans.

TREFWOORDE

Retoriese situasie, Funksionele benadering, 1 Kor 1:10-17, Retoriese tegnieke, Pauliniese literatuur

KEY WORDS

Rhetorical situation, Functional approach, 1 Cor 1:10-17, Rhetorical techniques, Pauline literature

KONTAK BESONDERHEDE

Prof A.H. Snyman

Navorsingsvennoot: Departement NT,

Universiteit van die Vrystaat

Posbus 339

BLOEMFONTEIN 9300

Tel: 051 4363 405

Sel: 083 651 3070

E:pos: ahs@cknet.co.za