Snyman, SD
Universiteit van die Vrystaat

Die eerste “Ebed-Jahwelied” in Jesaja 42:1-9:

eksegetiese, teologiese en homiletiese oorwegings

ABSTRACT

The first “Ebed-Yahweh song in Isaiah 42:1-9: exegetical, theological and homiletical considerations

The aim of this article is to provide an exegesis of Isaiah 42:1-9 paying attention to the literary and historical aspects of the text. On the basis of this investigation some theological conclusions are drawn. Taking the theological dimension of the text into consideration some homiletical guidelines are given in order to prepare a sermon from this text.

1. INLEIDING EN PROBLEEMSTELLING

Sedert die publikasie van Duhm se kommentaar op Jesaja in 1892 word die sogenaamde Dienaar van die Here liedere of Ebed Jahwe-liedere onderskei in Jesaja 40-55. Die gedeeltes wat as Ebed-Jahwe-liedere geëien is, is Jesaja 42:1-4 (5-9); 49:1-6; 50:4-9; 52:13-53:12. Jesaja 40-55, ook bekend as Deutero-Jesaja, is een van die bekendste gedeeltees in die Ou Testament en die Ebed-Jahwe-liedere is waarskynlik van die bekendste gedeeltes in die Deutero-Jesaja. Dit is veral die vraag na die identiteit van die dienaar wat die navorsing oor die gedeeltes gedomineer het.

Die benadering wat hier gevolg word is om die eerste Ebed-Jahwe-lied eksegeties te ondersoek sonder om die vraag na die identiteit van die dienaar as eerste prioriteit van die ondersoek te hanteer. Die probleemstelling kan dus soos volg geformuleer word: Wat sou die resultaat wees van In eksegetiese ondersoek na die eerste Ebed-Jahwe-lied? So In eksegetiese ondersoek sou moontlik ander sake ook in fokus plaas wat die vraag na die identiteit van die dienaar in perspektief met ander eksegetiese kwessies in die teks kon plaas. In Tweede vraag wat gevra word is of en hoe die teologiese intensie van die eerste Ebed-Jahwe-lied homileties bruikbaar is.

Ten spyte van In onoorsigtelike hoeveelheid van publikasies oor die Ebed Jahwe-liedere in die algemeen en die eerste lied in die besonder, is daar nog weinig sprake van In konsensus onder geleerdes oor heelwat van die eksegetiese kwessies wat die teks oproep. Westermann (1976:98) merk in verband met Jesaja 42:5-9 op dat “critics are still extremely divided as to the meaning of this passage; it is one of the pericopes in the book which so far no one has succeeded in really explaining”. Whybray (1981:72) merk ‘n paar jaar later met verwysing na dieselfde paar verse op dat “interpretations of this passage differ greatly, and none yet offered can claim more than probability”.

Die benadering wat metodologies gevolg word is In eksegese van die teks waarin daar aandag gegee word aan die literêre en historiese dimensies van die teks om dan vandaar die teologiese intensie van die teks te formuleer op grond van die eksegetiese resultate waartoe daar gekom is. Uiteindelik word daar dan homiletiese riglyne aan die hand van die eksegetiese resultate gegee.

2. ‘N STRUKTUREEL-HISTORIESE ONDERSOEK NA JESAJA 42:1-9

2.1 Die afbakening van die perikoop.

Die afbakening van die teks is een van die omstrede kwessies in die eksegese van die teks. Waar begin die perikoop en waar eindig die perikoop? Dat Jesaja 42:1 die begin van die perikoop is, is redelik seker. Anders as Jesaja 42:1 ev veronderstel Jesaja 41:21-29 In hoftoneel. Jesaja 41:21 gee In duidelike aanduiding hiervan: “Stel julle saak, gode, sê die Here, bring julle bewyse, sê die Koning van Jakob”. Die prominente “kyk” (hn) waarmee Jesaja 42:1 open is In aanduiding van nuwe perikoop wat hier begin (Beuken 1986:108; Goldingay 2005:149). Dat die laaste vers van hoofstuk 41 ook die woord “kyk” (hn) bevat, versterk die indruk dat Jesaja 42:1 In nuwe perikoop open.

Dit is egter die slot van die perikoop wat omstrede is. Daar is geleerdes wat oortuig is van die standpunt dat die perikoop moet eindig by vers 4 (Renkema 1978:178-187; Knight 1984:3; Elliger 1978:223-224). Volgens hierdie standpunt vorm verse 1-4 In koherente eenheid. Verder begin vers 5 met die bekende “So sê (God), die Here” wat normaalweg aanduiding is van die begin van In nuwe perikoop. Westermann (1976:101) sien verse 5-9 as In latere uitbreiding en kontinuering van verse 1-4. Volgens Westermann verskil die manier waarop daar van die dienaar gepraat word in die twee opeenvolgende gedeeltes van mekaar. Beuken (1986:106, 119) maak ook In onderskeid tussen die twee gedeeltes, maar hy doen dit op grond van vorm-kritiese oorwegings. Verse 1-4 is In “Präsentationswort” terwyl verse 5-9 uit verskillende Gattungen saamgestel is (Beuken 1986:120).

Daar is geen eenstemmigheid onder geleerdes oor die saak nie. Orlinksy (1977:75) gee In raak opsomming van die saak as hy sê geleerdes is “undecided between vv 1-4 and vv 1-7 or 8; some regard vv 5-9 as a separate unit, but disagree on how to associate it with vv 1-4”. Whybray (1981:71) is oortuig dat die perikoop strek tot by vers 4. Die redes wat hy aanvoer is die inhoud, vorm, struktuur en metrum van die perikoop. Volgens Smillie (2005:52) vorm verse 1-4 In afsonderlike eenheid omdat die verse die dienaar beskryf in derde persoon enkelvoudsvorme terwyl verse 5-7 van die dienaar praat in tweede persoon enkelvoudsvorme. Die parasjim aan die einde van vers 4 en weer aan die einde van vers 9 geld as In volgende argument wat aangevoer word om aan te toon dat hier inderdaad van twee afsonderlike perikope sprake is. Daar is ook geleerdes (Kaiser 1959:15-44) wat die standpunt verdedig dat Jes 42:1-9 verdeel moet word in drie onderskeie perikope (verse 1-4; 5-7 en 8-9).

Daar is ook geleerdes wat Jes 42:1-9 as In perikoop in eie reg beskou. Lindsey (1982:13) sien verse 1-9 as In eenheid wat nou saam met die voorafgaande deel (Jes 41:25-29) gelees moet word. Zehnder (2004:35) beskou ook Jes 42:1-9 as In eenheid en so ook Koole (1985:141) en Motyer (1993:318) wat Jes 42:1-9 as In eenheid sien, maar wat tog die twee onderskeibare dele (verse 1-4 en 5-9) behou. Koole (1985:142) maak die verhelderende opmerking dat verse 1-4 oor die dienaar van die Here handel terwyl verse 5-9 oor die Here van die dienaar handel. Goldingay (2005:149) hanteer Jes 42:1-9 as In eenheid maar sonder dat hy argumente aanvoer vir sy standpunt. In ‘n vroeëre publikasie (Goldingay 1984:92) kry ‘n mens tog die indruk dat hy ‘n skerper onderskeid getref het tussen verse 1-4 en verse 5-9. Dit is duidelik dat Jes 42:1-9 oor Jahwe en sy dienaar handel. Daar is ook geen dwingend oortuigende argumente op grond waarvan verse 5-9 gesien moet word as ‘n latere toevoeging tot die teks nie. Blenkinsopp (2000:209) maak in die verband die opmerking dat “the two statements (vv 1-4, 5-9) belong together even if the second was added later, an opinion often expressed but impossible to prove”.

In hierdie artikel word drie argumente aangevoer ten gunste van die standpunt dat verse 1-9 inderdaad as ‘n perikoop gesien moet word. Vers 9 bevat die term “hinne” wat ‘n opvallende herhaling is van die eerste woord in vers 1 “hn”. Op die manier kom ‘n inclusio tot stand wat die gedeelte netjies omraam. Jesaja 42:10 begin met ‘n imperatief waarin daar ‘n oproep tot die lof van Jahwe is met die sing van ‘n nuwe lied. Hierdeur word ‘n nuwe toon en aanslag begin wat onderskeie is van die voorafgaande verse. In die tweede plek is dit opvallend om raak te sien hoe en in watter mate verse 1-4 en verse 5-9 dieselfde woordeskat deel. Hier sou verwys kon word na nasies (goyim) in verse 1 en 6, gees (ruah) in verse 1 en 5, aarde (eretz) in verse 4 en 5. Dieselfde geld vir die werkwoorde voortbring/uitbring (yatsah) in verse 1, 3 en 7 en gee (ntn) in verse 1, 5, 6 en 8 wat deurgaans in die gedeelte voorkom. Dit is opvallend dat “nasies” en “volk” afwisselend gebruik word om ‘n chiastiese patroon te vorm (vers 1 nasies, vers 5 volk, vers 6 volk, vers 6 nasies). Derdens is dit ook opvallend dat daar geen aanduiding gegee word van wie die spreker is in verse 1-4 nie. Dit is slegs deur logika en by wyse van afleiding dat daar tot die gevolgtrekking gekom word dat Jahwe die spreker in die perikoop is. Dit is eers in vers 5 by wyse van die boodskapper-formule dat daar ‘n ondubbelsinnige aanduiding is dat Jahwe inderdaad die spreker is. Indien die boodskapper-formule vertaal word as “So sê (God) die Here” of ook “So het (God) die Here gesê” dan kan die formule verstaan word as verwysende na beide verse 1-4 sowel as verse 5-9 (Goldingay 2005:161). Vers 5 se boodskapper-formule kan dus opgeneem word as verwysend na beide verse 1-4 en verse 5-9 veral omdat dit die enigste plek is waar daar ‘n aanduiding gegee word van wie die spreker is in die perikoop. Beuken (1986:121) argumenteer in die rigting as hy die standpunt stel dat die boodskapper-formule aan die een kant verse 1-9 in twee dele verdeel maar aan die ander kant dit tog ook duidelik maak dat dit Jahwe is wat praat in beide verse 1-4 en verse 5-9. Volgens Koole (1985:141) kan verse 1-4 en verse 5-9 van mekaar onderskei word, maar tegelykertyd is dit ook duidelik dat die twee gedeeltes by mekaar hoort. Resente literatuur steun die eenheid eerder as die verdeling van die perikoop. Dit is op grond van hierdie argumente dat verse 1-9 as ‘n perikoop beskou word.

2.2 Tekskritiese opmerkings

Die teks van Jes 42:1-9 is relatief goed oorgelewer. Alternatiewe lesings word hoofsaaklik in die Septuagint en in die Qumran-rolle gevind. So byvoorbeeld het die Septuagint “Jakob” en “Israel” bygevoeg in vers 1 sodat die vers volgens die Septuagint lees as: “Kyk, Jakob, my dienaar/kneg en my uitverkore een Israel …”. Hierdie byvoeging van die Septuagint is duidelik ‘n interpretatiewe vertaling met die doel om die ongeïdentifiseerde dienaar te identifiseer as Jakob/Israel. Volgens Whybray (1981:72) word dit universeel aanvaar dat die Septuagint nie die oorspronklike teks weergee nie. Gevolglik is dit nie nodig om die teks te verander nie. Ook in vers 1 lees een van die Qumranrolle “mispato”, “sy geregtigheid”, in plaas van “mispat”, ‘n lesing wat moontlik beïnvloed is deur die “torato”, “sy lering/onderrig” in vers 4. Daar is egter geen ander manuskripte wat die lesing steun nie en daarom lyk dit beter om die teks te aanvaar soos wat hy is. Geen een van die ander alternatiewe lesings wat voorgestel word in die tekskritiese apparaat van BHS hoef aanvaar te word nie.

2.3n Ondersoek na die literêre en strukturele kenmerke van die teks

‘n Ondersoek na die literêre kenmerke en struktuur van die teks lewer interessante resultate op. Daar is alreeds verwys na die feit dat die perikoop open met “kyk” (hn) en sluit met dieselfde woord (hinneh). Op die wyse vorm die perikoop ‘n inclusio. Die opvallende voorkoms van eerste persoon enkelvoudsvorme in verse 1 en 8-9 versterk die inclusio verder.

Verse 1-4 hoort by mekaar. Vers 1 bied ‘n bekendstelling van die dienaar. Wat opval in vers 1, anders as in verse 2-4, is die chiastiese patroon waarvolgens die werkwoorde temporeel beskou, voorkom. Vers 1 begin met ‘n imperfektum gevolg deur twee werkwoorde in die perfektum en word dan gevolg deur ‘n imperfektum (Koole 1985:147). Verse 2-4 word gekenmerk deur die voorkoms van die partikel “nie” (“lo”) wat nie minder nie as sewe keer voorkom. Verse 3 en 4 vorm ook ‘n chiasme:

A ‘n geknakte riet sal hy nie verbreek nie
B en ‘n dowwe lamppit sal hy nie uitblus nie …
B hy sal nie dof brand nie en
A hy sal nie geknak word nie.

Die prominente posisie van “reg” (“mispat”) word treffend in die middel van die chiasme geplaas. Verse 1-4 verbind deur die voorkoms van die begrip “mispat” wat drie keer voorkom. Dit is die taak van die dienaar om “mispat” voort te bring. Blykens vers 1 en die negatiewe wat volg na vers 1 is dit die eerste en belangrikste taak van die dienaar. Die feit dat die begrip nog twee keer herhaal word binne die bestek van net vier verse is ‘n aanduiding van die belangrikheid van die begrip in die perikoop.

Samevattend sou ‘n mens dus kon sê dat verse 1-4 ‘n eenheid vorm maar wat verdeel kan word in twee onderafdelings: vers 1 (A) gevolg deur verse 2-4 (B). Vers 1 word gedomineer deur eerste persoon enkelvoudsvorme terwyl verse 2-4 weer gekenmerk word deur derde persoon enkelvoudsvorme. Die opbou wat hier geargumenteer word verskil van die voorstel van Motyer (1993:319) wat verse 1-4 in drie dele verdeel: A1 “The servant’s ministry of the truth” (v 1); B “The servant’s ministry to people” (vv 2-3b) and A2 “The servant’s ministry of the truth” (vv 3c-4). Koole (1985:146) en Beuken (1986:107) het ook ‘n driedeling van verse 1-4 raakgesien bestaande uit vers 1 as die aanstelling, toerusting en taak van die dienaar gevolg deur verse 2-3a bestaande uit ‘n korreksie van wat die dienaar nie doen nie en dan verse 3b-4 wat die waarborg gee dat die dienaar sy opdragte al volvoer.

Alhoewel verse 1-4 en verse 5-9 in twee verdeel kan word, staan hulle tog in ‘n hegte verhouding met mekaar. In vers 5 word “aarde” (ha’aretz) heropgeneem nadat die begrip ook in vers 4 voorkom. Die heropname van “aarde” (ha’aretz) in vers 5 skep dus ‘n verbintenis met die voorafgaande deel van die perikoop. Daar is vroeër ook geargumenteer dat die uitdrukking “So sê God, die Here” in vers 5 opgeneem kan word as verwysende na beide verse 1-4 en verse 5-9.

Vers 5 open met die bekende boodskapper-formule wat uitloop in ‘n doksologie waarin Jahwe geprys word as die Skepper van hemel en aarde en wat aan almal lewe gee. Die werkwoord “gee” (ntn) wat in vers 1 voorkom, word weer gebruik in terme van Jahwe. Jahwe wat sy g(G)ees gee aan die dienaar, gee dit ook aan almal op aarde. Vers 5 onderskei homself van die res van die perikoop nie net op grond van die doksologiese uitspraak oor Jahwe nie, maar ook op grond van die partisipia vorme wat oorwegend hier in die perikoop voorkom.

In vers 6 domineer eerste persoon enkelvoudsvorme soos wat die geval is by vers 1. Die werkwoord “gee” (ntn) kom weer voor in terme van Jahwe as die Een wat die dienaar gee as ‘n verbond vir/van die volk en ‘n lig vir die nasies. Dit is opvallend dat die nasies wat in vers 1 genoem is, weer hier voorkom.

Vers 7 fokus op die taak en die verantwoordelikhede van die dienaar op ‘n manier wat herinner aan verse 2-4. Die werkwoord “om voort te bring” (jatsah) wat twee keer voorkom in verse 1-4, word weer gebruik in vers 7. Vers 7 word gekenmerk deur die voorkoms van infinitief vorme van die werkwoorde.

Met verse 8-9 word die fokus weer terug geskuif na Jahwe toe met die emfatiese “Ek (is) Jahwe” (“ani’ jhwh”) wat alreeds in vers 6 gebruik is. Die werkwoord “gee” (ntn) wat alreeds prominent was in verse 1, 5 en 6 kom weer voor. Trouens, dit is opvallend dat ntn in hierdie perikoop net in terme van Jahwe gebruik word. Soos wat die geval is by vers 1 en 6 domineer eerste persoon enkelvoudsvorme in verse 8-9. Wanneer verse 5-9 as ‘n geheel bekyk word kom die volgende opbou na vore:

Vers 5 (C) bestaande uit ‘n boodskapper formule gevolg deur ‘n doksologie.
Vers 6 (A1) met die fokus op Jahwe.
Vers 7 (B1) met die fokus op die dienaar.
Verse 8-9 (A2) met die fokus op Jahwe.

Die voorgestelde strukturele opbou verskil van die een wat deur Motyer (1993:321) voorgestel is. Volgens Motyer word die gedeelte opgebou deur vers 5 A Die Here van die skepping, verse 6-7 B Die Here van die dienaar gevolg deur verse 8-9 (C) Die Here van die valse gode. Beuken (1986:121) het byna dieselfde struktuur maar met ‘n klein verskil. Vers 5 open met die boodskapper-formule gevolg deur verse 6-7 as ‘n uitspraak gerig aan die dienaar in die vorm van ‘n roepingsorakel terwyl verse 8-9 gerig is aan Israel

Wanneer die verskillende dele van die perikoop dan saamgevoeg word en verse 1-9 as ‘n literêre eenheid opgeneem word, kan die makro-struktuur so voorgestel word:

V 1 Jahwe A
Vv 2-4 Die dienaar B
V 5 Doksologie C
V 6 Jahwe A1
V 7 Die dienaar B1
V 8-9 Jahwe A2

2.4 ‘n Ondersoek na die Gattung en Sitz im Leben

Duhm het nie ‘n presiese beskrywing van die Gattung of literêre genre wat in die Ebed Jahwe-liedere gebruik word gegee nie, behalwe om die liedere “Dichtungen” of gedigte te noem (Haag 1985:28). Haag (1985:27-33) gee ‘n waardevolle oorsig oor die verskillende voorstelle wat gemaak is vir die bepaling van die Gattung van verse 1-4 as ‘n Jahwe orakel of ‘n “Einsetzungsbericht” of ook as ‘n “lied van ‘n hemelse voorstelling van die koning”.

Ongelukkig is daar geen klinkklare aanduidings in die teks self van watter Gattung gebruik word nie. As ‘n aanvanklike en breë definisie van die perikoop as geheel sou ‘n mens kon dink aan ‘n “Ich-Rede Jahwes” soos wat Kraus (1972:38, 41) doen. Meer onlangse navorsing wys dat daar ‘n groeiende konsensus onder geleerdes is (Haag 1985:31) dat in verse 1-4 gebruik gemaak word van ‘n sogenaamde “royal designation oracle” (Lindsey 1982:3) of ‘n “installation oracle” (Minn 1966:2). Alhoewel die Gattung verskillend benoem word, word daar na dieselfde saak verwys: ‘n geleentheid waar ‘n koning ‘n amptenaar in diens aanwys en voorstel. Westermann (1976:92) benoem die Gattung as die aanwysing van die God se Dienaar. Volgens Elliger (1978:224), Koole (1985:145), Beuken (1986:106) en Jeremias (1972:3) is die Gattung wat hier gebruik word dié van ‘n “Präsentationswort” met die bedoeling dat ‘n amptenaar van die koning voorgestel en/of bekend gestel word (Goldingay 2005:149), iemand aan wie daar die hoogste gesag toegeken word.

Die dienaar se bekendmaking gaan gepaard met ‘n aanduiding van sy taak. Die klem op die reg wat die dienaar moet voortbring as sy primêre taak versterk die indruk van ‘n koninklike aanwysing van die dienaar omdat die taak veral in verband met die domein van die koning verstaan is. Die meervoud “julle” (etkem) in vers 9 is ‘n aanduiding dat die volk eerder as die hemelse hofhouding van Jahwe bedoel word.

Die Gattung wat in die tweede deel van die perikoop gebruik word is moeiliker om te bepaal. Dit lyk na die beste uitweg om te aanvaar dat daar nie gebruik gemaak word van ‘n enkele Gattung nie, maar dat daar eerder van ‘n mengsel van verskillende Gattungen gebruik gemaak word. In vers 5 is die boodskapper-formule reeds geïdentifiseer gevolg deur ‘n doksologie wat ‘n mens laat dink aan ‘n psalm van lof (Elliger 1978:224). Verse 6-7 herinner aan ‘n roepingsberig van ‘n profeet maar dit sou ook beskou kon word as ‘n “assistance formula” of ‘n “bemoedigingsformule”. Verse 8-9 skep die indruk van ‘n polemiek teen die aanbidding van ander gode en kan gevolglik ‘n “Disputationwort” of dispuut orakel (Koole 1985:145-146) genoem word.

Dit word aanvaar dat die teks tuis is in ‘n eksiliese situasie waar die Babiloniese Ryk vervang is met die Persiese Ryk onder die leierskap van Cyrus. Dit is van betekenis dat alhoewel die Gattung wat gebruik word dié is van ‘n koninklike hofhouding waar ‘n dienaar van die koning aangewys en voorgestel word, daar geen enkele verwysing is na die herlewing van die Dawidiese lyn van koningskap nie. Terwyl die taak van die dienaar politieke dimensies het soos om die reg na vore te bring en om gevangenes uit die tronk te bevry, word die indruk nie geskep dat dit gedoen gaan word deur iemand uit die lyn van Dawid nie. Dit sal uitsluitlik die taak en funksie van die dienaar van die Here wees.

2.5 Tradisiemateriaal

Die mees opvallende en prominente tradisie wat in die perikoop gebruik word is die skeppingstradisie, ‘n tradisie wat ook prominent voorkom in Jes 40-55. Jahwe is die Skepper wat die hemel uitgesprei en die aarde uitgespan het. Hy is die Een wat lewe aan almal en alles gee. Dit is opvallend dat dieselfde volgorde (hemel – aarde – mense) as wat in Genesis 1 gebruik word, ook hier gebruik word. Die grootheid van Jahwe se skeppingskrag word belig met die doel om dit in verband te bring met sy dade van verlossing wat Hy nou gaan doen deur die dienaar. Met die beklemtoning van Jahwe se skeppingsmag word die aksent op sy beheersing van die wêreldgeskiedenis gelê (Whybray 1981:74). Die partisipia vorme wat gebruik word maak dit duidelik dat die skeppingshandelinge van Jahwe nie iets is wat beperk bly tot die geskiedenis nie, maar dat dit ook nou aan die werk is. Dit is ook van betekenis dat die taak van die dienaar in onmiddellike reliëf met die skeppingsmag van Jahwe beskryf word.

Die werkwoord “om voort te bring” (jatsha) is dieselfde werkwoord wat gebruik word om die verlossing van die volk uit Egipte mee te beskryf. Net soos wat Israel verlos is uit die verdrukking van Egipte, sal hulle weer verlos word soos gevangenes wat uit ‘n tronk bevry word. Hierdie waarneming lei na die Eksodus tradisie toe en inderdaad word dieselfde vorm van die werkwoord (jatsha) gebruik in Eksodus 6:13 en 27 in verband met die verlossing van die volk uit Egipte. Die uitdrukking “Ek (is) Jahwe” (ani jhwh) herinner aan Eksodus 3 en 6 waar Jahwe sy naam aan Moses openbaar het en wat ook ‘n verbintenis met die eksodus-tradisie skep. Indien die terme wat gebruik word inderdaad verwys na uittog, dien dit as ‘n kragtige herinnering vir die volk in ballingskap aan die groot dade van Jahwe in die geskiedenis van die volk toe Hy verlossend ingegryp het.

2.6 Detail eksegese

2.6.1 Aan wie is die perikoop gerig?

Dit is nie sonder meer seker aan wie Jes 42:1-9 gerig is nie. Vers 5 maak dit duidelik dat dit Jahwe is wat praat. Dit lyk asof beide die dienaar en die volk aangespreek word. In vers 6 is dit Jahwe wat Hom rig tot die dienaar en die “tot julle” aan die einde van vers 9 is ‘n aanduiding dat dit die volk is wat aangespreek word (Elliger 1978:239; Beuken 1986:107, 130; Koole 1985:146).

2.6.2 Reg/Mispat

Die betekenis van “mispat” in veral verse 1-4 is ook omstrede. In die THAT word die stamvorm “spt” beskryf as ‘n handeling wat daarop gerig is om die orde in ‘n gemeenskap te herstel. Die woord mispat gee iets weer van dit wat iemand toekom, ‘n mens sou selfs kon praat van iemand se reg. Dit gee aan die begrip ook die betekenis nuanse van “oordeel” wat dit naby die betekenis domein van “tsedek” of “tsedaka” bring (Liedke 1976:999-1010). Mispat het ook die betekenis van ‘n oordeel oor dit wat verkeerd is in ‘n gemeenskap en ook die herstel van dit wat verkeerd is omdat dat dit reg is om sake wat verkeerd is te herstel na die orde soos wat dit bedoel is.

Wat die ondersoek van die term in Jesaja 42:1-4 betref is die term verstaan as “waarheid” of as “ware godsdiens” of ook as Jahwe se genadige handeling in die verlede van die volk (Jeremias 1972:32). Volgens die ondersoek van Jeremias (1972:39) het mispat ‘n drievoudige betekenis. Dit kan verwys na koninklike heerskappy of ‘n profetiese aankondiging van Jahwe se genadige handelinge en derdens die openbaring van Jahwe se wil vir wêreld as geheel. “Mispat” het te doen met die herstel van dit wat reg is. Hierdie meer algemene aanduiding van die betekenis van “mispat” word dan in die perikoop ‘n konkrete inhoud gegee. Die reg wat die dienaar moet voortbring beteken dus dat Jahwe se oordeel gesien sal kan word in die einde van die Babiloniese heerskappy. Tegelykertyd sal dit ook die verwerkliking van Jahwe se heerskappy beteken in ‘n nuwe era van geregtigheid waar Jahwe gehoorsaam, geprys en geëer sal word. Vir Elliger (1978:206-207), handel “mispat” in die perikoop nie oor dogmatiek of oor etiek nie maar eerder oor goddelike politiek. Mispat verwys na dit wat God doen, hier en nou. Wat God nou gaan doen is ‘n gebeurtenis van wêreldwye omvang en die taak van die dienaar is om presies die boodskap aan te kondig. Motyer (1993:319) sien “mispat” as die regmaak van dit wat verkeerd is, die vestiging van ‘n regverdige orde in die samelewing. Vir die ballinge beteken dit die terugkeer na die land toe na die triomf van Cyrus.

Dat dieselfde werkwoord in verse 1-4 en ook in vers 7 gebruik word gee ook ‘n aanduiding van wat met “mispat” bedoel word. Die reg wat die dienaar sal voortbring kan vergelyk word met die gevangenes wat uit ‘n tronk bevry word. Die metafoor van bevryding uit ‘n tronk of gevangenis kan op sy beste verstaan word as die terugkeer van die ballinge terug na die land toe.

2.6.3 Die identiteit van die dienaar

‘n Eksegetiese ondersoek na een van die dienaar van die Here liedere sal net nie volledig wees sonder ‘n opmerking oor die identiteit van die dienaar nie. Daar is geleerdes wat die identiteit van die dienaar in kollektiewe terme soek. In die geval is die dienaar dan die volk Israel. Ander geleerdes soek die identiteit van die dienaar weer in indiwidue sodat die dienaar geëien word as Cyrus of as die profeet of as Moses of as ‘n Dawidiese koninklike figuur of selfs as Jesus Christus. Nie een van hierdie pogings tot identifikasie het werklik oortuig nie en die gevolg is dat die identiteit van die dienaar tot vandag toe nog ‘n misterie bly. Is die misterie wat die identiteit van die dienaar omgeef nie dalk doelbewus nie? Miskien is dit juis die bedoeling dat die dienaar anoniem moet bly. Vir Goldingay (2005:153) is die punt van die perikoop juis nie die identiteit van die dienaar nie. Giguilliat (2008:133) maak die opmerking dat “(Q)questions pertaining to the exact personage behind the ‘Servant’ theme in Isaiah 40-55 is nigh impossible to answer from a historical standpoint. The language used to describe the Servant is ‘cryptic and veiled’ with the intention of remaining historically diffuse”.

Dit lyk asof beide koninklike en profetiese kwaliteite in die dienaar gekombineer word. Die dienaar word bekend gestel op ‘n manier wat herinner aan die manier waarop amptenare in diens van die koning bekend gestel word. Terselfdertyd het die dienaar ook die taak om Jahwe se wil te verkondig. Dit herinner weer aan tipies profetiese kwaliteite. Dit is in die kombinasie van beide die koninklike en profetiese kwaliteite dat die nuutheid van die dienaar lê. Soos wat dikwels die geval is met profetiese figure is daar min bekend oor die persoon van die dienaar.

Terwyl daar min gesê word oor die identiteit van die dienaar, is daar heelwat inligting oor die taak en verantwoordelikhede van die dienaar. Die dienaar kry sy besondere gesag van Jahwe. Die dienaar word aangekondig en bekend gemaak deur Jahwe en verder geniet die dienaar die ondersteuning van Jahwe en word hy die uitverkorene van Jahwe genoem, een wat Jahwe se guns geniet. Die dienaar is verder die een wat die Gees van Jahwe ontvang. Die dienaar sal sy sending volvoer, nie op ‘n skouspelagtige manier deur sy stem te verhef op straat nie, maar deur die moedverlore ballinge te bemoedig. Terwyl die ballinge hulleself beleef as gebroke en moedeloos, sal die dienaar self sterk wees om sy sending deur te voer.

Die taak van die dienaar is om reg voort te bring. Daarmee word die kreet van die volk in Jes 40:27 beantwoord (Beuken 1972:6; Giguilliat 2008:133) en sal die reg die ervaring van die volk wees. Terselfdertyd sal die nasies ‘n getuie wees van die reg wat gaan voortspruit omdat hulle oë geopen gaan word om dit te sien. ‘n Verdere deel van die taak van die dienaar is om die wil van Jahwe te verkondig aan die wêreld selfs so ver as die mees afgeleë gedeeltes. Die volvoering van die taak sal van die dienaar ‘n verbond vir die volk en ‘n lig vir die nasies maak.

3. TEOLOGIESE REFLEKSIE

‘n Noukeurige lees van Jes 42:1-9 wys dat dit in die perikoop veel meer oor Jahwe handel as wat dit handel oor die dienaar of oor die situasie van die volk. Dit is Jahwe wat die dienaar aankondig (vers 1). Dit is Jahwe wat geëer en geprys moet word (vers 8). Jahwe word geloof as die een God wat Skepper is van die hemel en aarde (vers 5). Dat Hy Skepper is beteken verder ook dat Hy aan mense lewe gee en dat Hy ook aan mense hulle geestelike vermoëns gee (Koole 1985:157). As Skepper is Hy ook in beheer van die wêreld gebeure. Dit word bewys deur sy vermoë om gebeure in die toekoms bekend te maak. Meer nog, die geskiedenis is die bewys daarvan dat Hy dit in die verlede alreeds gedoen het. Die boodskap van Jahwe as die een en enigste God sou ‘n besonder bemoedigende boodskap wees vir die ballinge wie se praktiese ervaring dit juis anders sou beleef. Die ballinge word ook herinner aan Jahwe se groot dade van verlossing in die geskiedenis van sy volk. Met subtiele verwysings is dit veral die verlossing uit Egipte wat bedoel word – die een uitstaande daad van verlossing wat die volk ervaar het. Die verband met die ballinge word duideliker. Soos was die volk in die verlede verlos is uit die ellende van Egipte, gaan hulle nou verlos word uit die ellende van die ballingskap. Jahwe wat in die verlede van sy volk aktief was, gaan dit in die toekoms weer doen. Hierdie keer word God se dade aangekondig en bekend gemaak deur iemand nuut – die dienaar van die Here gaan dit doen.

Jahwe is die een wat die dienaar voorsien – ‘n dienaar wat deur Jahwe ondersteun word en wat die uitverkorene van Jahwe genoem word en wat die guns van Jahwe geniet. Die dienaar kan daarom ook reken op die bewaring van Jahwe.

Hoe word die dienaar beskryf? Die belangrikste taak van die dienaar word drie keer emfaties uitgespel: sy taak is om (Jahwe se) reg voort te bring sodat nie net die volk in ballingskap nie maar ook die nasies dit kan sien. Wat hy nie doen nie, word ook gesê. Die dienaar sal sy werk nie op ‘n skouspelagtige manier verrig nie en hy sal ook nie die alreeds moedverlore ballinge verder knak of breek nie. Die dienaar self sal egter sterk genoeg wees om sy sending suksesvol te voltooi. Die missie van die dienaar word nader omskryf in vers 7. Sy taak was wees om blindes te laat sien en gevangenes uit die tronk te bevry. Wanneer dit gebeur, sal die reg van Jahwe gesien word.

Uiteindelik gaan dit nie net om die redding van die ballinge uit ‘n situasie van ballingskap nie. Wat gaan gebeur moet die eer en lof van Jahwe dien (vers 8). Jahwe doen hierdie dinge sodat sy eer daardeur gedien kan word.

4. HOMILETIESE RIGLYNE

Die homiletiese riglyne wat hier aangebied word, word gedoen met die bedoeling om so naby as moontlik aan die teologiese intensie van die perikoop te bly. ‘n Eerste riglyn wat aangebied word is dat soos wat die resultaat van die eksegese wys dat die teks meer oor God as oor die dienaar of die volk sê, dit ook in ‘n preek oor die gedeelte gereflekteer sal word.

Jesaja 42:1-9 open inderdaad ‘n visie op God. Dit wat die eksegese opgelewer het in terme van God sou in ‘n preek gekommunikeer kon word. God word in die perikoop geopenbaar as Skepper, Verlosser, die een God wat lewe aan mense gee en wat wêreld gebeure rig. Hierdie visie op God wat Jesaja 42:1-9 open, kan ook ‘n visie op God wees waarin lidmate van die kerk deel.

Die resultaat van die eksegese het aangetoon dat die dienaar van die Here nie geïdentifiseer kan word nie. Juis die onidentifiseerbaarheid van die dienaar maak dit moontlik dat die dienaar en sy taak ruimer geïnterpreteer kan word. Omdat verskillende persone in die Ou Testament dienaar van die Here genoem word kan die toepassing van die dienaar van die Here uitgebrei word om lidmate in te sluit. Elke gelowige is en word ‘n dienaar van die Here. Die dienaar van die Here word aangedui as ‘n dienaar, ‘n slaaf, iemand in diens van die Here. Die eksegese het egter ook aangetoon dat om dienaar te wees iets koninkliks is. Die dienaar van die Here word soos ‘n dienaar van ‘n koning voorgestel en bekend gemaak aan die volk. Die dienaar is dienaar maar ook uitverkorene, iemand vir wie die Here ondersteun, iemand wat die guns van die Here geniet.

‘n Mens sou die begrip kon verduidelik met die (Latynse) woord “minister”. ‘n Minister is iemand van hoë aansien. Om in die kabinet van ‘n president ‘n minister te wees is ‘n voorreg maar ook ‘n hoë amp en posisie. Minister beteken egter ook dienaar. ‘n Minister is iemand wat juis kragtens sy hoë amp en posisie diensbaar is aan die een wat hom aangestel het. Gelowiges is dus ook “ministers” – mense wat deur die Here benoem is in sy “kabinet” en wat as sodanig in ‘n vertroulike en hoë posisie aangestel is – maar met die bedoeling om te dien.

Die taak van die dienaar sou verduidelik kon word as ‘n tweeledige taak. Die dienaar het ‘n taak na binne en ‘n taak na buite. Na binne het die dienaar die taak om om te sien na die geknakte riete en die dowwe lamppitte. Wie is die geknakte riete en dowwe lamppitte? Dit is die gelowiges wat moed verloor het, die mense wat boedel oorgegee het. Dit is mense wat apaties geword het, wat sê ons gee nie meer om nie. Dit is mense wat hulle al hoe meer onttrek. Dit is die mense vir wie die situasie te veel geword het. Hulle moet versterk, bemoedig word. God skryf die dowwe lamppitte en die geknakte riete nie af nie, sy dienaars kry die opdrag om na hulle om te sien.

Daar is ook ‘n tweede faset verbonde aan die taak wat die dienaars van God het. ‘n Dienaar moet die wil van die Here aan die nasies bekend maak. Dit wat reg is volgens die wil van God moet verkondig word. Vers 4 sê iemand wat ‘n dienaar van God is moet die wil van die Here vestig op aarde. Slawe van God het die wonderlike werk om die wêreld al meer te laat lyk soos wat God dit wil. Iemand wat dienaar van die Here is moet ‘n lig vir die nasies wees. Iemand wat ‘n dienaar van God is moet die wêreld van God en van God se reg vertel. As rassisme of xenofobie van alle kante sy kop uitsteek, gaan gelowiges voort om hulle naaste lief te hê want dit is deel van God se reg. As morele waardes in ‘n samelewing val, gaan gelowiges voort om op ‘n waardige wyse mens te wees. As dit vuil word in ons omgewing, maak gelowiges skoon.

Dit is interessant om te sien hoe die dienaar sy taak moet uitvoer. Vers 2 sê hy roep nie, hy skree nie hard nie. ‘n Dienaar van God werk nie op ‘n skouspelagtige manier nie. Stil, sonder groot ophef, word doen die dienaar sy werk.

Indien die prediker genoop voel om die teks ook ‘n Christologiese duiding te gee sou daar verwys kon word na Jesus Christus wat as Dienaar van die Here in die Nuwe Testament geteken word. Jesus Christus het met sy bediening op aarde vir ons gewys wat dit is om dienaar van God op aarde te wees. Want Jesus het God se wil op aarde vir mense kom verkondig. Jesus het God se wil op aarde kom vestig. Jesus het moedelose mense moed gegee. Jesus het begin om wat stukkend is reg te maak toe Hy in die mees letterlike sin van die woord blinde mense laat sien het, siek mense gesond gemaak het, honger mense kos gegee het. Gelowiges doen wat Jesus vir ons voorgedoen het. Gelowiges sit dit wat Jesus begin doen het eintlik net voort.

Vir gelowige dienaars is daar ook ‘n stuk bemoediging in die teks. Hulle word deur die Here ondersteun, hulle geniet die guns van die Here, hulle word toegerus deur die Gees van die Here, hulle word sterk gemaak vir hulle werk sodat hulle self nie sal knak of breek nie.

Die eksegese het ook die aksent van die eer en die lof van Jahwe aangetoon as ‘n belangrike dimensie in die teks. Gelowiges is dus dienaars met die doel om lof en eer aan die Here te bring.

5. GEVOLGTREKKING

Dit loon om ‘n teks noukeurig te lees en dieper te vra na die teologiese betekenis van ‘n teks. Dit is ook die geval met Jesaja 42:1-9. Dit is ‘n teks wat teologies ryk aan betekenis is en wat met vrug ook homileties aangewend kan word om lidmate van die kerk iets te laat verstaan van die nuutheid van God se handelinge wat Hy deur ‘n dienaar, sy dienaar, laat gebeur. Gelowiges het die voorreg om opgeneem te word in die kabinet van God en diensbaar te wees deur God se reg te verkondig en te realiseer in die wêreld.

BIBLIOGRAFIE

Beuken, W A M 1972. Mispat. The first Servant Song and its context. VT 22(1), 1-30.

Beuken, W A M 1986. Jesaja deel II A. Nijkerk: Callanbach. (De Prediking van het Oude Testament).

Blenkinsopp, J. 2000. Isaiah 40-55. A New Translation with Introduction and Commentary. New York: Doubleday. (Anchor Bible).

Elliger, K 1978. Deuterojesaja 1. Teilband Jesaja 40,1 – 45,7. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag. (Biblischer Kommentar Altes Testament Band XI/I).

Giguilliat, M 2008. Who is Isaiah’s Servant? Narrative identity and theological potentiality. Scottish Journal of Theology 61(2), 125-136.

Goldingay, J 1984. God’s Prophet, God’s Servant. A Study in Jeremiah and Isaiah 40-55. Greenwood: The Attic Press, S. C.

Goldingay, J 2005. The Message of Isaiah 40-55. A Literary-Theological Commentary. London: T & T Clark International.

Haag, H 1985. Der Gottesknecht bei Deuterojesaja. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft. (Erträge der Forschung Band 233).

Jeremias, J 1972. fP;v]m im ersten Gottesknechtslied (Jes XLII 1-4) VT 22, 31-42.

Kaiser, O 1959. Der Königliche Knecht. Eine traditionsgeschichtlich-exegetische Studie über die Ebed-Jahwe-Lieder bei Deuterojesaja. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Knight, G A F 1984. Servant Theology. A Commentary on the Book of Isaiah 40-55. Edinburgh: Handsel Press. (International Theological Commentary).

Koole, J L 1985. Jesaja II. Kampen: Kok. (Commentaar op het Oude Testament).

Kraus, H J 19. Das Evangelium der unbekannten Propheten. Jesaja 40-66. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag.

Liedke, G. 1976. spt richten, in Jenni, E & Westermann, C (Hrsg). Theologisches Handwörterbuch zum Alten Testament. München: Chr Kaiser Verlag, 999-1010.

Lindsey, F D 1982. The Call of the Servant in Isaiah 42:1-9. Bibliotheca Sacra 139 no 553, 12-31.

Minn, H R 1966. The Servant Songs. Excerpts from Isaiah 42-53. Introduction translation and commentary. Christchurch Auckland: Presbyterian Room.

Motyer, J A 1993. The Prophecy of Isaiah. Leicester: Inter-Varsity Press.

Orlinsky, H M 1977. The so-called “servant of the Lord” and “Sufferering Servant” in second Isaiah. Leiden: E J Brill. (Supplements to Vetus Testamentum XIV).

Renekema J. 1978. De Verkondiging van het eerste lied van de Knecht (Jes 42:1-4), in De Knecht, Studies rondom Deutero-Jesaja door collega’s en oud-leerlingen aangeboden aan prof dr J L Koole. Kok: Kampen, 178-187.

Smillie, G R 2005. Isaiah 42:1-4 in its rhetorical context. Bibliotheca Sacra 162 no 645, 50-65.

Westermann, C 1976. Isaiah 40-66. London: SCM. (Old Testament Library).

Whybray, R N 1981. Isaiah 40-66. Grand Rapids: Wm B Eerdmans. (New Century Bible Commentary).

Zehnder, M 2004. Phonological subtext: A short note on Isa 42,1-9. Biblische Notizen 123, 35-40.

TREFWOORDE

Ebed-Jahweliedere, Mispat reg, Literêre kenmerke, Tradisie materiaal, Homiletiese riglyne

KEY WORDS

Servant of the Lord Songs, Mispat justice, Literary features, Tradition material, Homiletical guidelines

Kontakbesonderhede:

Prof SD Snyman

Fakulteit Teologie

Universiteit van die Vrystaat

Posbus 339

BLOEMFONTEIN 9300

E-pos:snymansd.hum@ufs.ac.za