E Casaleggio & J Janse van Rensburg
Universiteit van die Vrystaat

Die ontwerp van ’n terapeutiese model vir die pastorale seksuologie

ABSTRACT

The design of a therapeutic model for a pastoral sexology

Although numerous theological papers have been written about sexuality, the majority of those cover the ethics of sexuality. Rendering assistance is, however, still fallow land as far as theology is concerned. A theologically based therapeutic model for pastoral sexology does not exist. The purpose of this paper is in fact to make a contribution towards addressing this need. This model is termed a phase model, as it takes both pastor and parishioner through certain phases until the sexual problems have been resolved satisfactorily.

1. NAVORSINGSPROBLEEM

Seksuele probleme maak ’n groot deel van huweliksproblematiek uit. Sommige navorsers beskou seksuele probleme in die huwelik selfs as die grootste enkele oorsaak van egskeidings. Coleman (1980:537) gebruik die seksuoloë Masters en Johnson as verwysing wanneer hy sê: “These investigators have concluded … that some 50 percent of American marriages suffer from sexual inadequacy, a factor they consider largely responsible for our high divorce rate.”

Janse van Rensburg (1987:353) raak ook die kern van die probleem aan wanneer hy sê dat elke pastor uit ervaring weet dat menige huweliksprobleem met ’n onvervulde seksuele huwelikslewe in verband gebring kan word. Beigel & Johnson (1980:176) skryf tereg: “When a marriage goes on the rocks, the rocks are most often in the marriage bed.” Dat daar dus ’n groot probleemarea in die huwelik is wat die seksuele raak, is duidelik. Die kerk en die teologie kan nie sy oë daarvoor sluit nie.

Die dilemma waarmee die predikant sit, is dat hy óf die paartjie met seksuele probleme moet ver- wys na iemand in ’n ander professie, byvoorbeeld ’n sielkundige, óf hy kan die probleem self hanteer sonder die nodige kennis en sodoende die probleem vererger. Aan die ander kant mag die persoon na wie hy die egpaar of individu verwys die saak op so manier hanteer dat dit in botsing kom met die pastorale etiek. Die groot rol wat seksuele probleme in die huwelik speel, sowel as die predikant se dilemma by die hantering daarvan, maak navorsing oor hierdie onderwerp dringend noodsaaklik.

Hoewel daar in die Teologiese Etiek heelwat oor seksualiteit geskryf is (vgl bv Thielicke 1964; Heyns 1986) gaan die Praktiese Teologie en by name die Pastorale Terapie mank aan ’n teologiese, Skrifgefundeerde seksuologie. Die verleentheid en uitdaging van die teologie op hierdie gebied word duidelik geïllustreer deur die aanhaling van die seksuoloog Gianotten (1992:8): “Sometimes I referred patients to an institution where the therapists gave care based upon religion. However, the trouble was that people with a religious background knew either nothing or hardly anything about sexual problems and sexuality. And this was the real trap we found ourselves in.”

2. ’N EPISTEMOLOGIESE KEUSE

By die ontwerp van ’n terapeutiese model vir die pastorale seksuologie is daar twee belangrike paradigmaskuiwe om mee rekening te hou. Die eerste skuif is die wegbeweeg van modernisme na postmodernisme. Die kern van die filosofie van die modernisme is geleë in die stelling van René Descartes: Ek dink, daarom is ek (Dill & Kotzé 1997:126). Die postmodernisme is ’n stroming in reaksie teen die modernisme. Die basiese uitgangspunt daarvan is dat daar nie so iets soos objektiewe waarheid bestaan nie. Van Niekerk (1998:367) stel dit só: “… ’n werklikheid daar buite bestaan volgens die postmodernisme nie. Elkeen se weergawe verwys na die een wat dit gekonstrueer het, nie na die veronderstelde werklikheid nie … Daar is nie een waarheid nie, maar baie konstruksies of weergawes (inventions) van ‘die waarheid’.”

Die postmodernisme is nie beginselloos nie, maar staan “beginsels-vir-my” voor (Van der Walt 1997:17). Dit beklemtoon die feit dat daar nie objektiewe reg en verkeerd vir die postmodernis is nie. Daar kan dus van die standpunt uitgegaan word dat postmoderniste nie noodwendig ’n immorele uitkyk op die lewe het nie, maar wel ’n amorele uitkyk. Dit spreek vanself dat ’n pastoraal- terapeutiese model vir die pastorale seksuologie nie op so ’n fondament gebou kan word nie.

Die tweede paradigmaskuif waarvan deeglik kennis geneem moet word by ’n ondersoek soos hierdie, is die skuif van diakoniologie na praktiese teologie. Hoewel albei terme dieselfde veld in die teologie aandui, is die vertrekpunte verskillend. Heyns & Pieterse (1990:9) erken ook hierdie onderskeid. Die Praktiese Teologie neem as vertrekpunt die menswetenskappe en die empirie (vgl Van der Ven 1993:106; Heyns & Pieterse 1990:10; Dingemans 1996:91).

Die skrywers wil hier ’n definitiewe keuse vir die epistemologie en metodologie van die diakoniologiese benadering tot die Praktiese Teologie maak. Onder ’n diakoniologiese benadering word bedoel dat Bybelse beginsels as vertrekpunt dien, terwyl ook van menswetenskaplike insigte gebruik gemaak word. Dit erken ook die hoofskap van Jesus Christus as die hartklop van al die kerklike aktiwiteite (Janse van Rensburg 2000:78).

3. DIE ROL VAN DIE TEOLOGIESE ANTROPOLOGIE IN DIE SEKSUOLOGIE

Wat die Bybel oor die mens sê, is vir die teologie in die algemeen baie belangrik. Dit word onderstreep deur hierdie opmerking van Anderson (1982:215): “… there is no more important issue for Christian theology than the question of the nature of human being”. Louw (1997; 1999) het belangrike merkers vir ’n pastorale antropologie daargestel. Wanneer daar dus ’n terapeutiese model vir die pastorale seksuologie ontwerp word, moet daar spesifiek na ’n teologiese antropologie gekyk word. König (1988:2) sê in hierdie verband dat ander wetenskappe nie ’n omvattende kyk op die mens vanuit ’n bepaalde wêreldbeskoulike oortuiging het nie, omdat hierdie vakwetenskappe vanuit talle verskillende grondoortuigings werk. Hierteenoor vra die teoloog spesifiek na die boodskap van die Bybel oor die mens.

Baie belangrik in hierdie opsig is die opmerking van Louw (1997:153) dat min werke in die pastorale teologie werklik aan ’n antropologie aandag gee. Dikwels word ’n spesifieke antropologie veronderstel sonder om dit eksplisiet te beskryf en aan te dui hoe dit met ’n spesifieke metode en terapie saamhang. Die skrywers vereenselwig hulle ook met Louw (1997:153) se siening dat die antropologiese vertrekpunt bepalend vir enige terapie is.

Hoewel die raakpunte tussen die teologiese antropologie en die seksuologie nie binne so ’n kort bestek volledig beskryf kan word nie, word enkele raakvlakke tóg aangedui:

3.1 Die mees basiese uitgangspunt van die teologiese antropologie behoort te wees dat die mens beeld van God is (Gen 1:27). Duvenhage (1978:253-261) wys daarop dat Calvyn in die beeld van God sien dat ons as mense aan mekaar goed moet doen en mekaar moet liefhê – nie net omdat ek beeld van God is nie, maar ook omdat ander dit is.

3.2 Volgens Genesis 1:27 staan die geslagtelikheid in die een of ander verband tot die beeld van God. Dit impliseer nie dat die geslagtelikheid as sodanig beeld van God is nie, maar wel die twee geslagte se verhouding teenoor mekaar (Heyns 1978:138). Sonder geslagtelikheid sou seksualiteit nie moontlik gewees het nie. God het die mens egter bepaald geslagtelik geskep en seksualiteit is dus ’n integrale deel van menswees. Dit gaan hier nie net oor geskape geslagtelikheid nie, maar ’n geslagtelikheid wat deel van die beeld van God is, dus ’n geslagtelikheid coram Deo.

3.3 Die mens is ook ’n verhoudingswese. Die Skrif oorbeklemtoon nie die menslike substansie ten koste van die menslike relasie nie. Die mens staan as iemand in bepaalde verhoudings, maar in die verhoudings word dit eintlik eers duidelik wie dit is wat in die verhouding staan (Heyns 1978:127 - 128). In ’n terapeutiese opsig raak hierdie aspek sake soos die lidmaat se verhouding met God en alle intermenslike verhoudings binne ’n sistemiese konteks.

3.4 Die mens is ook ’n eenheidswese. Daar is dikwels in die verlede (en selfs in die hede) ’n rangorde gemaak tussen liggaam en gees, waarin alles wat “geestelik” is as goed en opbouend verklaar is. Alles wat met die liggaam te doen het, is weer gesien as van ’n laer orde en selfs sondig en boos. Hierdie dichotomistiese skeiding tussen liggaam en siel het veral ’n impak gehad op die siening van seksualiteit. Dié dualisme kom uit die filosofie van Plato en die Orfisme en het deur persone soos Augustinus en selfs Calvyn in die kerk wortelgeskiet (Du Rand 1981:29, 35; Calvyn 1962:163; Duvenhage 1978:90). Dit is juis hierdie dualisme wat beskouings oor seksualiteit negatief beïnvloed. Masters & Johnson (1970:230-233) kom tot die gevolgtrekking dat godsdiens die enkele faktor is wat die mees destruktiewe invloed op die mens se seksualiteit uitoefen.

4. ’N FASE-MODEL VIR DIE PASTORALE SEKSUOLOGIE

Die model kan skematies soos volg voorgestel word:

Nota

A: Fondament: Diakoniologiese vertrekpunt en teologiese antropologie.

B: Proses vir die pastorale seksuologie.

C: Terapie word gedoen vanuit ’n pneumatologiese perspektief: Dit is nie in die eerste plek die tegnieke of bekwaamhede van die pastor wat die verskil maak nie, maar die vernuwende werk van die Heilige Gees.

Die beginsel waarvolgens hierdie model werk, is dat die pastor by meer algemene sake begin en dan werk in die rigting van meer spesifieke sake. Die rede hiervoor is dat seksuele problematiek baie persoonlik van aard is. Die proses verloop ook in fases op twee vlakke. Die persoon wat terapie ontvang, beweeg van een fase na ’n volgende op grond van die reël dat daar by die algemene begin word en dan beweeg word na meer spesifieke seksuele problematiek. Wat die pastor betref, werk die model ook in fases. Die doelwit is dat enige pastor in staat moet wees om die model so ver moontlik te gebruik. Die opleiding wat die pastor het, sal egter bepaal tot in watter fase hy by die hulpverlening betrokke kan wees.

4.1. Verduideliking van die fase-model vir die pastorale seksuologie

4.1.1. Die fondament

Die A-gedeelte, soos voorgestel in die skema, is die fondament van die model. As basiese vertrekpunt kies die outeur die diakoniologiese vertrekpunt (A-1) en die teologiese antropologie (A-2). Duvenhage (1978:39), met verwysing na Calvyn, sê: “Die hoofsom van ons wysheid bestaan uit twee dele, die kennis van God en die kennis van onsself” (1978:39).

4.1.2. Die proses vir die pastorale seksuologie

Fase B-1: Verwys die persoon of egpaar na ’n medikus

Nadat die persoon aangemeld het en sy of haar probleem kortliks geskets het, evalueer die pastor die situasie en oorweeg die moontlikheid om die persoon eers na ’n medikus te stuur. Daar kan baie redes vir seksuele disfunksies wees, byvoorbeeld diabetes, ’n vergrote prostaat, depressie, medikasie en alkohol – om maar enkeles te noem. Die pastor kan dus nie ’n primêre rol speel in die terapie waar een of meer van bogenoemde redes die oorsaak vir die seksuele disfunksie is nie. Verwysing in die pastoraal-terapeutiese proses is in elk geval wenslik. Clinebell (1966:176) sê in hierdie verband: “Skill in the art of referral is indispensable in parish-centered counseling.”

Indien die medikus die probleem bevredigend kan hanteer, het die pastor nie meer ’n spesifieke terapeutiese funksie nie. Hy bly egter betrokke by die lidmaat of egpaar in sy algemene pastorale bediening. Indien die probleem nie medies van aard is nie, of ander sekondêre faktore onderliggend aan die primêre organiese oorsake blootgelê word, word die terapeutiese proses voortgesit.

Fase B-2: Teken ’n geneagram van die persoon of egpaar

Seksuele terapie leen hom daartoe dat die geneagram met vrug gebruik kan word. Die individu word binne die konteks van sy of haar gesin en familie benader. Die geneagram is ’n hulpmiddel waarmee daar na die verhoudingspatrone binne ’n gesin gekyk word, sodat die historiese konteks wat aanleiding gee tot sekere patrone verstaan kan word (Kotzé 1991:645).

Aangesien die mens ’n verhoudingswese is en seksuele probleme by uitstek ’n verhoudingsaangeleentheid is (Madanes 1990:52), is die gebruik van die geneagram onontbeerlik in die terapeutiese proses in die geval van kindermolestering en ander seksuele problematiek (Casaleggio 1994:20). Sake van belang wat deur ’n geneagram uitgewys kan word, is konflik wat in die persoon se verhoudings bestaan, kommunikasieprobleme, die moontlike aanwesigheid van onverwerkte rousmart en ander sake.

Nadat die pastor deur middel van die geneagram die probleemareas uitgestippel het, word die betrokke probleme aangespreek. So kan die egpaar se kommunikasieprobleme of hulle onvermoë om konflik op te los (om maar enkele voorbeelde te noem) die sekondêre doelwit van die terapeutiese sessies word. Sukses met hierdie doelwit kan tot die bereiking van die primêre doelwit lei, naamlik die herstel van die seksuele verhouding. Indien die proses nog nie bevredigend afgehandel is nie, gaan die terapeutiese gesprek oor na die volgende fase.

Fase B-3: Verduidelik gesonde seksualiteit aan die hand van die Bybel

Navorsing (Masters & Johnson 1970:230-233) het getoon dat dit juis die verkeerde idee van wat die Bybel se siening van seksualiteit is wat die grootste oorsaak van seksuele disfunksies is. Daarom behoort die pastor seker te maak dat die lidmaat ’n duidelike beeld van die Bybelse siening van seksualiteit sal hê. Lidmate moet onder die besef kom dat geslagtelikheid en seksuele verkeer as sodanig nie vuil en sondig is nie. Hulle kan daarop gewys word dat ’n Bybelboek in totaal, naamlik Hooglied, handel oor die seksuele verhouding tussen man en vrou (vgl Beek 1984:140; Kroeze 1970:108-112). Gedeeltes soos 1 Korintiërs 7:1-5 behoort gebruik te word om aan te dui dat dit nie teen God se wil is om binne die huwelik seksuele omgang te hê nie, maar dat God dit selfs gebied.

Fase B-4: Die gebruik van narratiewe terapie en ander regterbrein-strategieë

In narratiewe terapie word dikwels ook van regterbrein-strategieë soos metafore, objektivering, inbeelding, rituele en musiek gebruik gemaak (vgl Janse van Rensburg 1998:65-78). Nog ’n terapeutiese strategie wat in hierdie fase tuishoort, is hipnoterapie. Kolb (1977:590) toon juis aan dat hipnose die mees doeltreffende metode in die behandeling van seksuele disfunksies onder vroue is. Janse van Rensburg (1987:360) wys op die wenslikheid van die gebruik van hipnoterapie wanneer hy sê: “Indien die leraar hom dus deeglik bekwaam, sou die seksuele beraad uitmuntend in die pastorale konteks tereg kon kom. As hy ook nog die hulp van hipnoterapeutiese tegnieke tot sy beskikking het, kan hy werklik sy lidmate herderlik tot diens wees in hierdie belangrike aspek van hulle lewe.” Indien die lidmaat ná hierdie fase genees is, word die terapie getermineer. Andersins word daar na die volgende fase oorgegaan.

Fase B-5: Skryf seksuele oefeninge en hulpmiddels voor

Soos reeds gemeld, werk hierdie fase-model op die progressiewe beginsel van algemeen tot spesifiek. Hierdie fase is die fase waarin daar op die mees spesifieke, eksplisiete manier met seksuele probleme op ’n terapeutiese manier gewerk word. Om in hierdie fase doeltreffend met lidmate te kan werk, beteken dat die pastor ’n gespesialiseerde kennis van alle sake rakende seksualiteit sal moet hê. Dit sluit in ’n grondige kennis van die man en die vrou se geslagsorgane, die normale seksuele reaksiesiklus, seksuele disfunksies, seksuele afwykings, spesifieke seksuele oefeninge en baie ander sake.

Seksuele oefeninge kan die volgende insluit: die sogenaamde “druktegniek” (vgl Kaplan 1987:161), sensasiefokusoefeninge (Kaplan 1987:29-59), ’n vibrator of ’n smeermiddel. Seksuele oefeninge wat aan een party in die huwelik voorgeskryf word, behoort met die medewete en goedkeuring van die ander party te geskied.

Fase B-6: Verwysing na ’n psigiater

Wanneer ’n lidmaat na ’n psigiater verwys word vir hulp met seksuele probleme, beteken dit nie dat ’n psigiater noodwendig ’n persoon beter sal kan help met sy of haar seksuele probleme as wat ’n pastorale seksuoloog dit sou kon doen nie. Dit kan onder meer gedoen word omdat sekere behandelingsmetodes nie op die gebied van die pastor val nie, byvoorbeeld die voorskryf van antiandrogeenmedikasie. Hoofsaaklik sou verwysing na ’n psigiater in verband staan met ernstige psigopatologie onderliggend aan ’n seksuele disfunksie.

Fase B-7: Genesing

Dit is nie ’n fase in die algemene sin van die woord nie. Dit is ook nie ’n fase wat noodwendig op fase 6 volg nie. Genesing kan intree ná enigeen van die fases, selfs na fase 1. Belangrik in hierdie verband is dat genesing nie die gevolg is van die bekwaamheid of tegnieke van die terapeut nie. Genesing is ’n gawe van God. Hy gebruik weliswaar medici, medisyne en predikante, maar uiteindelik kom genesing net van God af.

Die Griekse woord vir “om genees te word” (kompsoteron) kom voor in Johannes 4:52 waar daar staan: “Hy vra hulle toe presies wanneer hy begin beter word het …” (Die Bybel, 1983). Louw & Nida (1988:269) omskryf hierdie woord soos volg: “the state of being in better health after a previous state of relative lack of health – to be better, to be in better health.”

In aansluiting by bogenoemde behoort die verband wat Louw (1997:78-80) tussen heil en heling in terme van sy promissioterapie lê, genoem te word. Hy sê in dié verband (1997:79): “Heil en heling binne die eskatologiese spanning van die alreeds en die nog nie kan as twee perspektiewe op die konsekwensie van die Ryk van God verstaan word. Heil, as die verlossende, vernuwende, regverdigmakende en heiligmakende dimensie van die Ryk van God. Heling, as die herstellende, genesende en destruksie-teëwerkende kragveld van die Ryk van God.” Die pastor moet hom aan die uiteinde van die proses, ongeag in watter fase dit mag wees, probeer vergewis of die persoon of huwelik wat besig was om te disintegreer weer geïntegreer het. Die disharmonie wat daar was in die persoon of die huwelik moet verander na harmonie. Wanorde moet weer orde word.

4.1.3. Die kader waarbinne die terapeutiese gesprek plaasvind

Die C-gedeelte van die model stel die kader voor waarbinne die terapeutiese gesprek verloop. In kort kan gesê word dat die gesprek konfidensieel van aard is en dat integriteit die hoeksteen daarvan vorm. Daar moet ook ’n onvoorwaardelike aanvaarding van die persoon wees, ongeag die probleem wat ter sprake mag wees. Die gesprek is empaties, word gebou op wedersydse respek, is ondersteunend van aard en moet groei in die oog hê.

Daar is wel waarde in ’n nondirektiewe manier van terapie soos dit in ’n intersubjektiewe benadering figureer. ’n Intersubjektiewe benadering maak van dekonstruksie en ko-konstruksie gebruik om gesamentlik tot ’n assessering van die problematiek te kom. Dit word ook ’n hermeneutiese benadering genoem. Op hierdie manier het die persoon volledige inspraak in die uitkoms van die terapeutiese proses. Dit is egter onafwendbaar dat daar ’n punt kom waar daar direktief te werk gegaan moet word in ’n subjek-objek-skema (vgl Janse van Rensburg 1999:158- 167). Wat hier van belang is, is dat hierdie model vanuit ’n pneumatologiese perspektief figureer. ’n Pneumatologiese model sluit nie die mens as instrument uit nie, maar betrek die mens met sy of haar verantwoordelikheid juis in die pastorale proses.

In die terapeutiese gesprek is dit byvoorbeeld nie net belangrik dat die pastor se empatie vir die lidmaat duidelik moet wees nie, maar God se empatie moet ook in die terapeutiese situasie oorgedra word. God gebruik egter die pastor om hierdie Goddelike empatie (om maar een aspek te noem) deur middel van Skrifgebruik aan die lidmaat oor te dra. Rebel (1981:12) onderstreep ook hierdie standpunt wanneer hy sê: “De wijze van werken van de Heilige Geest is juist, dat Hij aan mensen bevoegdheid en kracht geeft als mens God te dienen in zijn komen.”

Die feit dat die karaktertrekke van die pastoraal-terapeutiese gesprek soos hier bo genoem, nie maar losstaande tegnieke of karaktertrekke van ’n terapeutiese gesprek is nie, maar vanuit ’n diakoniologiese vertrekpunt deel vorm van ’n pneumatologiese perspektief, stem ooreen met Louw (1997:214) se uitgangspunt: “’n Relasie word in die gespreksituasie geskep ... wat die komponente van gevoel, rede … wil inskakel by die groeiproses van die geloofsvolwassene … Die Heilige Gees skep tussen gelowiges ’n gespreksontmoeting wat, in die lig van die belofte van God se teenwoordigheid, ’n eksponent word van die communio sanctorum.”

5. GEVOLGTREKKING

Die huwelik is ’n instelling van God. Navorsing wat hier aangehaal en bespreek is, het aangetoon dat seksuele probleme in die huwelik waarskynlik die grootste rol in die verbrokkeling van huwelike speel. Dit is dus dringend noodsaaklik dat die kerk in sy opleiding van predikante besonder moeite sal doen om hulle te bemagtig om egpare te help om hulle seksuele probleme uit te stryk. Met ’n fase-model, gegrond op ’n diakoniologiese vertrekpunt en die teologiese antropologie, kan die predikant gehelp word om meer effektief op hierdie gebied hulp te verleen.

BIBLIOGRAFIE

Anderson, R S 1982. On being human. Essays in Theological Anthropology. Grand Rapids: William B Eerdmans Publishing Company.

Beek, M A 1984. Prediker, Hooglied. De Prediking van het Oude Testament. Nijkerk: Callenbach

Beigel, H G & Johnson, W R 1980. Application of hypnosis in sex therapy. Springfield: Charles C Thomas Publishers.

Die Bybel 1983. Nuwe Afrikaanse Vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Calvyn, J 1962. Institutes of the Christian Religion. Volume 1. Michigan: Wm B Eerdmans Publishing Company.

Casaleggio, E 1994. Die pastorale fasilitering van versoening na kindermolestering. Ongepubliseerde MTh- skripsie, Universiteit van die Vrystaat.

Clinebell, H J 1966. Basic types of pastoral counseling. Nashville: Abingdon Press.

Coleman, J C et al 1980. Abnormal psychology and modern life. 6de uitgawe. Glenview: Scott, Foresman and Company.

Dill, J & Kotzé, D J 1997. Verkenning van ’n postmoderne epistemologiese konteks vir die Praktiese Teologie. Acta Theologica. Vol 17, No 1, 1-26.

Dingemans, G D J 1996. Practical theology in the academy: a contemporary overview. The journal of religion. Vol 76, No 1, 82-96.

Du Rand, J J F 1981. Skepping, Mens, Voorsienigheid. Wegwysers in die Dogmatiek. Kaapstad: NG Kerkboekhandel.

Duvenhage, A 1978. Institusie – Calvyn. Goodwood: NG Kerkboekhandel.

Gianotten, W L 1992. Opening address, in Kerssemakers, J H N (et al). Sex and religion. Amsterdam: Rodopi.

Heyns, J A 1978. Dogmatiek. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Heyns, J A 1986. Teologiese etiek 2/1. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Heyns, J A & Jonker, W D 1977. Op weg met die teologie. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Heyns, L M & Pieterse, H J C 1990. A primer in Practical Theology. Pretoria: Gnosis.

Janse van Rensburg, J 1987. ’n Kritiese ondersoek na die moontlike gebruik van hipnose in die psigopastorale arbeid. Ongepubliseerde DTh-verhandeling, UNISA.

Janse van Rensburg, J 1998. Regterbrein-strategieë vir pastorale terapie. NGTT 39(1&2): 65-78.

Janse van Rensburg, J 1999. Etiek en pastoraat in hermeneutiese konteks. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Vol 39, No 2, 158-167.

Janse van Rensburg, J 2000. The paradigm shift. Pretoria: Van Schaik.

Kaplan, H S 1987. The illustrated manual of sex therapy. New York: Brunner/Mazel, Inc.

Kolb, L C 1977. Modern clinical psychiatry. Philadelphia: WB Saunders Co.

König, A 1988. Bondgenoot en beeld. Gelowig nagedink – Deel 4. Johannesburg: NG Kerkboekhandel.

Kotzé, D J 1991. “Van geslag tot geslag”. Die geneagram en die ontwikkeling van ’n narratiewe pastoraat. NGTT 32(4): 644-651.

Kroeze, J H 1970. Bybel en seks. Johannesburg: Boekhandel de Jong.

Louw, D J 1997. Pastoraat as vertolking en ontmoeting. Kaapstad: Lux Verbi.

Louw, D J 1999. A mature faith. Spiritual direction and Anthropology in a theology of pastoral care and counseling. Leuven: W B Eerdmans

Louw, J P & Nida, E A 1988. Greek-English Lexicon of the New Testament based on semantic domains. New York: United Bible Societies.

Madanes, C 1990. Sex, love and violence: Strategies for transformation. New York: Norton.

Masters, W H & Johnson, V E 1970. Human sexual inadequacy. Boston: Little, Brown and Company.

Rebel, J J 1981. Pastoraat in Pneumatologisch Perspektief. Kampen: Uitgeversmaatschappij J H Kok.

Thielicke, H 1978. The ethics of sex. Cambridge: James Clarke & Co Ltd.

Van der Ven, J A 1993. Practical theology: an empirical approach. Kampen: Kok Pharos.

Van der Walt, J L 1997. Postmodernisme en onderwys vir kulturele pluralisme. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Vol 37, No 1, 13-22.

Van Niekerk, A 1998. Postmodernisme en NG sending in die nuwe Suid-Afrika. NGTT 28(2): 75-86.