Korttermynterapie in pastorale sorg: krisisberaad of kompakte beraad?
ABSTRACT
Short-term therapy in pastoral care: crisis counselling or compact counselling?
Due to the complexity of ministry, the high level of stress amongst pastors, the feasibility and the affordability of professional counselling, an urgent need surfaced for pastoral models focusing on immediate demands and needs. While crisis counselling focuses more on the immediate impact of emotional crises, the article advocates for a brief approach supplementary to crisis counselling. The hypothesis is argued that “compact” or brief counselling is focused on the immediacy of attitude and aptitude. Its main concern is not necessarily to solve problems, but to empower people, that is how to live the problem and how to apply spiritual resources to vital life issues in order to create new options for future orientation.
INLEIDING
In die pastoraat is dit lank reeds beredeneer dat korttermynterapie soortgelyke resultate as langtermynberaad kan behaal (Reid & Shine in Stone 1994:11). Indien verder in aanmerking geneem word hoeveel tyd en geld aan langtermynberaad gespandeer word (Hudson-Allez 1997:32), is dit duidelik dat ’n korter vorm van terapie uiters geskik vir die pastor met ’n oorvol program kan wees.
Wanneer daar in die verlede na korttermynterapie – wat aanvullend of as alternatief op langtermynberaad beskou moet word – verwys is, was dit gewoonlik na krisisberaad (Knouwds 1979:18). Hoewel hierdie vorm van terapie oor ’n kort periode aangebied word, impliseer krisisberaad nog nie noodwendig ’n onmiddellikheid wat fokus op die konstruktiewe en positiewe moontlikhede in die situasie wat gemik is op toekomstige verandering nie. Kompakte beraad – wat ook ’n vorm van korttermynterapie is – fokus egter minder op ’n bepaalde periode of termyn en is meer gemik op onmiddellike berading waarin daar ’n behoefte is aan verantwoordelike bestuur van probleme en konstruktiewe besluitneming. Uit die aard van die saak is so ’n benadering nie toepaslik wanneer die emosionele komponente uiters negatief is nie, soos tydens akute depressie en die skokfase van ’n krisis. Dan sal daar uiteraard meer op krisishantering gefokus word. Wanneer persone egter wel gereed is vir ’n verantwoordelike benadering ten opsigte van lewensvraagstukke, kan die pastor handig van die beginsels van kompakte berading gebruik maak.
Die hipotese dat kompakte beraad net so toepaslik is as krisisberaad sal beredeneer word. Vir kompakte beraad word ’n krisis nie noodwendig verlang alvorens iemand gehelp kan word nie. Dit fokus dikwels op onmiddellike ondersteuning, ingrepe, wysheidsinformasie of groeigeleenthede. Indien ’n reële probleem geïdentifiseer is, wil dit mense toerus hoe om probleme konstruktief te hanteer. Hierdie vorm van berading is uiters geskik vir algemene pastorale situasies, soos huisbesoek met ’n beperkte tydspan, telefoonberading of die toevallige op-straat-kontakte.
Ten einde hierdie hipotese te beredeneer, is die volgende argument-ontwerp saamgestel:
In die eerste plek sal aangetoon word dat daar tans ’n paradigmaskuif is weg vanaf langtermynterapie na korttermynterapie – ook binne die konteks van die pastoraat. Tweedens sal die eiesoortigheid van krisisberaad in onderskeiding van kompakte beraad ondersoek word. In die derde plek sal probeer word om die verskille tussen hierdie beradingsvorme uit te lig en laastens sal aangetoon word hoe kompakte beraad neerslag kan vind binne die konteks van die pastoraat.
1. ’N PARADIGMATIESE SKUIF: VANAF LANGTERMYN- NA KORTTERMYNBERADING
In die sielkunde, sowel as die pastoraat, word dikwels van langtermynmodelle, soos Rogers se Persoon-gesentreerde terapie of Freud se Psigoanalise, gebruik gemaak ten einde iemand te help. Albei metodes veronderstel dat die berader ’n hele aantal sessies moet skeduleer met ’n persoon wanneer hy/sy met ’n ernstige probleem gekonfronteer word alvorens daar positiewe veranderings kan plaasvind (Switzer 1986:22). Hierdie behandelingsmetodes (veral die psigoanalise) is dus baie uitgerek en gevolglik ook duur. Daarom is dit nie toeganklik vir die meeste mense nie (Knouwds 1979:17), veral nie vir diegene wat in ’n krisis verkeer en soek na konstruktiewe alternatiewe nie (Hoff in Coetzer 1994:42).
Coetzer (1994:42) is gevolglik van mening dat daar wegbeweeg moet word van hierdie liniêre oorsaak-gevolg-benadering (wat insig aangaande die bepaalde oorsake van ’n probleem ten doel het) na ’n korter benadering waarin daar veel eerder gekonsentreer word daarop om iemand met sy/haar huidige probleme te help.
Gedurende die jongste tyd het hierdie skuif, vanaf langtermyn- na korttermynbenaderings, inderdaad begin plaasvind en word al hoe meer klem geplaas op onmiddellike betrokkenheid by die persoon met minder afsprake (Switzer 1986:22).
Verskeie redes word aangevoer om te verduidelik waarom daar op ’n meer kompakte vorm van berading gekonsentreer moet word (Wells 1994:3):
In die eerste plek vind dit hoofsaaklik plaas as gevolg van ekonomiese oorwegings (Wells 1994:3). Deur doelgerig te werk om mense te help met die oplos van hulle probleme en nie ’n onbeperkte hoeveelheid sessies in die vooruitsig te stel nie, word baie aan kostes bespaar: “Brief therapy is … cost-effective for the client” (Close 1991:134).
Tweedens is die getal beraders klein in verhouding tot die hoeveelheid mense wat in nood verkeer (Switzer 1986:23). Daar is dus nie voldoende persoonskrag om mense suksesvol met behulp van lang metodes te begelei nie.
In die derde plek dink die mense wat kom vir terapie anders as in die verlede. Die meeste mense is nie meer bereid om lank te wag ten einde insig in hulle probleme te verkry nie en veral die laer sosio-ekonomiese groepe sal terapie beëindig indien hulle onmiddellike probleme nie aangespreek word nie (Wells 1994:5). Aangesien die tradisionele benaderings insig en persoonlike groei beklemtoon, word mense se behoefte om met onmiddellike probleme gehelp te word nie aangespreek deur dié metodes nie.
Vierdens blyk dit dat baie mense beraders slegs een keer besoek (Wells 1994:5). Gevolglik behoort aandag geskenk te word aan hierdie feit, sodat ook dié kort ontmoetings effektief kan wees. ’n Langtermynmodel sal dus nie binne so ’n konteks toegepas kan word nie.
In die vyfde plek is langtermynterapie ook nie geskik vir die emosionele impakfase van krisisse nie, aangesien daar ’n behoefte is dat ’n krisis binne ’n redelike kort tyd opgelos word (Wells 1994:6). Gevolglik word korttermynkrisisberaad bo ingewikkelde prosedures verkies.
Laastens is gevind dat die resultate van korttermyn- en langtermynterapieë nie veel verskil nie (Hudson-Allez 1997:32). Kompakte beraad is dus nie ’n tweederangse metode naas die langer metodes nie, maar lewer dieselfde hoeveelheid diens, net binne ’n korter tydsbestek (Wells 1994:6). Wanneer die armoedevraagstuk in ag geneem word en die daarmee gepaardgaande probleem van werkloosheid, is dit te verstane waarom die pastorale bediening binne ’n Suider- Afrikaanse konteks moet kyk na meer bekostigbare en effektiewe vorme van berading.
In die lig van die voorafgaande uiteensetting blyk dit dat korttermynterapieë besonder geskik is vir mense wat leef met hoë stres en min tyd en wat op soek is na sin in die lig van onmiddellike oriëntasieprobleme. Gevolglik moet met groter sensitiwiteit as in die verlede na ’n kompakte vorm van berading gekyk word (Shepperson in Benner 1987:261).
Die tradisionele metodes verlang ’n passiewe houding, terwyl korttermynberaad ’n meer aktiewe deelname vra (Coetzer 1994:44). Dit is een van die redes wat dié vorm van beraad baie geskik maak vir die pastoraat, aangesien die pastor se werk in elk geval ’n meer aktiewe betrokkenheid by die persone met wie gewerk word, vereis.
Pastors het ook nie altyd die tyd om langtermynteorieë toe te pas nie (Switzer 1986:22), wat ’n korter benadering baie meer geskik sal maak. Switzer (1986:22-23) stel verder dat die gemiddelde pastor selde iemand vir meer as ses weeklikse sessies sien. Langtermynberading vind dus moeilik in die gemeente of die meer algemene en alledaagse pastorale situasies plaas (Switzer 1986:22). Gevolglik is dit belangrik dat die pastor vaardig sal word in daardie metodes wat onmiddellik op kernprobleme kan fokus en minder tydrowend is (Switzer 1986:23; sien ook Collins 1986:126).
Korttermynterapie sou in twee hoofrigtings verdeel kan word, naamlik krisisberaad en kompakte beraad. Elkeen van hierdie beraadmodelle beskik oor hulle eie unieke werkwyse en is effektief in bepaalde situasies. Die benadering wat in hierdie artikel voorgestel word, is dat die twee aanvullend tot mekaar gebruik word.
Ten einde meer helderheid te verkry oor wat presies die verskille is en wanneer vir een van hulle gekies moet word, sal eers ondersoek ingestel word na die kenmerke van elkeen.
Gevolglik ’n uiteensetting van albei, waarna die verskille uitgelig sal word.
2. DIE AARD VAN KRISISBERAAD
Die woord krisis is afgelei van die Grieks krinein wat beteken om te besluit of uit te sif (skei). Gevolglik kan ’n krisis as ’n draaipunt of kruispad in die ontwikkeling van iets of iemand gesien word – ’n decisive point (Oden 1986:3). ’n Krisis is dus ’n positiewe of konstruktiewe gebeure wat ’n wending en aldus groei kan bring.
Volgens Stone (1976:5) bestaan daar twee basiese krisisse, naamlik ontwikkelingskrisisse (voorspelbare gebeure wat deel uitmaak van menslike ontwikkeling) en situasionele krisisse (onvoorspelbare gebeure wat ontstaan as gevolg van ongewone omstandighede). Krisisberaad beoog om mense wat deur laasgenoemde krisisse gaan by te staan en hulle te help om hierdie krisisse sinvol te kan hanteer (Stone 1976:5).
Alvorens besluit kan word om van krisisberaad gebruik te maak, moet egter eers vasgestel word of ’n krisis wel aanwesig is, anders sal die bepaalde model nie van toepassing wees nie (Switzer 1986:28). Gevolglik moet die vraag na hoe ’n krisis lyk, beantwoord word voordat krisisberaad verder verduidelik kan word.
Volgens Rapopo