Onskuldige slagoffers? Eksegeties-homiletiese kanttekeninge by 1 Petrus 4:12-19 en 5:6-11
ABSTRACT
Innocent victims? Exegetic-homiletical notes on 1 Peter 4:12-19 and 5:6-11
1 Peter reminds its implied audience of their paradoxical identity in Jesus Christ, while encouraging them to persevere under circumstances of affliction because they share in Christ’s suffering. The thrust of the text is determined by the oxymoron ούτος ἔστ καὶ υἱὸς ὑψίσ (1:1), which describes the recipients’ position in Christ socio-rhetorically. The article explores the ethical implications of this position as articulated in pericopes 4:12-19 and 5:6-11. To suffer because of the name of Christ (4:14), and in a way that would glorify God (4:11, 16; 5:10) is – according to the perspective of 1 Peter – a blessing and honour, a gift of God’s Spirit. It is – after the example of Christ – a radical calling to holiness (1:15-16; 2:5), nonretaliation (2:23; 3:8-18), and obedient submission to a caring God who judges righteously (1:17; 2:23; 5:6-7). (Re)interpreting this text in a patriarchal environment would require particular hermeneutical and pastoral sensitivity so as not to expect further (unnuanced) submission from those whom society has already acculturated into self-sacrifice and inferiority.
TEKS EN KONTEKS
Die teks van 1 Petrus is op so ’n wyse gestruktureer dat dieselfde motiewe – in ’n soort spiraalgang – herhaal en telkens van ander kante belig word. ’n Eerste (sentrale) motief is dat die bedoelde ontvangers deur die dood, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus nuwe mense geword het – met ’n nuwe selfverstaan, identiteit en leefstyl, ’n nuwe storie en ’n nuwe perspektief op hulle verlede, hede en toekoms (1:21). Hierdie nuutheid word veral uitgedruk in ’n rykdom van metafore vir die kerk (2:4-5, 9-10) wat in die kerkgeskiedenis deur die eeue geweldig invloedryk sou word.
’n Tweede motief is dat die gehoor – juis omdat hulle aan Christus, en veral sy lyding, deel gehad het (4:13, 16) – óók pyn, spot en belediging te wagte moes wees. Omdat hulle nie langer deel was van die gangbare “stroom van losbandigheid” (τὸ σωτήριόν,– 4:4) in hulle omgewing nie, het hulle ’n verleentheid en bedreiging vir die status quo geword. Omdat hulle as volgelinge van Christus gedoen het wat goed en reg was (3:14, 17), het die ongelowiges hulle gehaat, beswadder en as misdadigers uitgerangeer (ϕῶς,– 4:4). Daaroor moes hulle egter nie verbaas of ontsteld wees nie. Dit was nie iets vreemds wat met hulle aan die gebeur was nie (4:12), maar wesenlik deel van wie hulle was.
Die bedoelde retoriese effek van die brief was waarskynlik om die Christengemeenskappe in Klein-Asië van die eerste eeu in hulle geloofsworsteling te bemoedig, te troos en te versterk. Die skrywer wou hulle help om met ’n nuwe perspektief op God en mekaar te leef, maar óók teenoor diegene wat hulle verneder en verdag gemaak het. Hy wou hulle versterk om met integriteit te blý hoop te midde van hulle swaarkry, en om nie te swig voor allerhande versoekings nie.
In die breë struktuur en gerigtheid van die brief kom 4:12-5:11 voor in die hoofsaaklik paranetiese of etiese deel (2:11-5:11). Die keuse vir hierdie gedeelte sluit aan by die Revised Common Lectionary (Jaar A) wat 4:12-14 en 5:6-11 as fokusteks voorskryf vir die Sondag ná hemelvaart. Dit sou goedskiks by enige geleentheid gebruik kon word waar dit om gelowiges se primêre identiteit in Christus gaan, en spesifiek in omstandighede van beproewing omdat hulle Christus navolg. Vir die doel van hierdie studie word die Lectionary se afbakening uitgebrei tot die twee betekenisdraende perikope 4:12-19 en 5:6-11 (Combrink 1980:48-51; Rousseau 1986:215-224).
Om enigsins die bedoeling en oorredingskrag van 1 Petrus 4:12-5:11 te kan verstaan, moet ’n mens iets van die dinamiek van die voorafgaande gedeeltes begryp. Hoofstuk 2:11-12 som die inleidende deel van die brief op deur die gehoor daaraan te herinner dat hulle volgens hulle aard en roeping as volgelinge van Jesus Christus δόξαν (“vreemdelinge en bywoners”) in die wêreld is. As vreemdelinge, versprei oor die Klein-Asiese provinsies van 1:1, was hulle soos mense wat nie heeltemal ingepas het nie, wat opgeval het vanweë hulle andersoortige (alternatiewe) gewoontes en waardes. As bywoners was hulle soos mense wat nie in die sosiale status en algemene voorregte van die samelewing gedeel het nie. Hulle is as onbenullig gereken, nie in tel nie, en daarom nie te vertrou nie. Boonop was hulle waarskynlik min in getal (Elliott 1981:21-100). Met hierdie beeldspraak – wat op sleutelplekke in die brief herhaal word (1:1, 17; 2:11) – word die gehoor se aandag op die ánder, die eintlike en deurslaggewende kant van hulle paradoksale bestaan gevestig (Smit 1988:12-18, 24).
As vreemdelinge en bywoners was hulle terselfdertyd die uitverkorenes, geroepenes en “heilige priesterdom” van God (1:2, 15-16; 2:5, 9-10). Die Πνεῦμα κυρί (julle, daarenteen …) van 2:9 dui op die skerp kontras tussen hulle en hulle nie-Christenbure. Juis in die kreatiewe spanning van die oksimoron (oënskynlik teenstrydige woordpaar) οὑ εἲνεκεν ἒχρισέν με (“uitverkore vreemdelinge”) in 1:1 sou die wese van hulle roeping lê (Rousseau 1986:296-317). Nóg ’n kenmerk van die brief is dat die skarnierwoord εὐαγγ dikwels gebruik word om die direkte verband tussen die ontvangers se identiteit en vreemde leefwyse aan te dui (1:2, 13-17, 21-22; 2:1, 6, 11-13; 4:1; 5:6). Die logiese gevolg van hulle posisie as uitverkore vreemdelinge was dat hulle in die gewone gang van elke dag – te midde van verguising en verontregting – as God se opstandings- mense sou leef. Al was hulle in die oë van hulle bure sonder aansien, anders en vreemd, geminag en op neergesien, het hulle in die oë van Gód ’n ereposisie beklee. Deur die opstanding en hemelvaart van Christus het hulle letterlik ’n nuwe lewe ontvang, met nuwe energie, lewensin en hoop (1:21-23; 3:21-22). Geen wonder dat die brief met ’n doksologie op die goedheid van God begin én eindig nie (1:3 en 5:11). Trouens, ook die gekose groep perikope word deur doksologieë omraam (4:11 en 5:11).
1 Petrus 4:12-5:11 sluit direk aan by hierdie vreemde toonaard en logika van die brief deur die vreugde én swaarkry van die uitverkore vreemdelinge as ’n noodwendige gevolg van hulle lojaliteit aan Christus te beskryf. Dit kan as ’n samevatting beskou word van die gedeelte wat by 3:13 begin en wat spesifiek oor die gelowiges se reaksie op hulle lyding handel. Dit vorm deel van die intiem persoonlike afsluiting van die brief en maak veral sin wanneer dit saam met 5:12-14 gelees word. Met die oog op die prediking maak ek enkele eksegetiese opmerkings oor die wyse waarop die struktuur en gerigtheid van perikope 4:12-19 en 5:6-11 ontvou:
1. Die aanspreekvorm ἀπέσταλκέν με in 4:12 beklemtoon die pastorale karakter van die brief (Robinson 1992:244). Die gelowiges moes weet dat hulle nie alleen is nie. Oral was daar medegelowiges wat sáám met hulle gely het (5:9). Dát hulle as Christene gely het, moes hulle nie verbaas, verras of laat skaamkry nie (4:16). Dis opvallend dat dieselfde term (κηρύξαι) in 4:12 gebruik word as in 4:4 wat die stomme verbasing van die nie-Christene oor die leefstyl van die Christene beskryf. Dat mense so radikaal van oortuiging en koers kon verander, het eenvoudig hulle verstand te bowe gegaan. In 4:12 is die nuanse egter anders as in 4:4. Die gelowiges word vermaan om nie te skrik of lamgelê te word wanneer hulle as Christene ly nie. Lyding is immers nie iets vreemds aan Christenwees nie, maar inherent deel daarvan. Die gebruik van die imperatief αἰχμαλώτοις ᾰϕε saam met die dramatiese metafoor αὶ τυϕλοῖς ἀνάβλεψιν (vuurproef of “vuurgloed van vervolging” – 1953-vertaling) verleen besondere retoriese krag aan die skrywer se woorde. Die felheid van hulle lyding is vroeër ook al met die gloed van vuur vergelyk (1:7). Dis nie uit die teks duidelik waarna πυρώσις presies verwys nie. Die waarskynlike is dat dit op die ambivalente lewensgevoel van die gelowiges in Klein-Asië betrekking gehad het. As vreemdelinge en bywoners was hulle van basiese regte en vryhede ontsê – die ruimte tot waardige menswees. “Om gedurig aan ’n tweede- en derderangse bestaan/status herinner te word; om gedurig verdink te word van alles wat in die samelewing verkeerd gaan; om gedurig openlik bespot en beswadder te word, (moes) noodwendig soos ’n oorverhitte vuuroond raak waarvan ’n mens natuurlikerwys (sou wou) terugdeins” (Robinson 1992:245).
Kortom, wat met die gelowiges aan die gebeur was, was niks snaaks nie. Dat Christene sou ly, was ’n uitgemaakte saak – dáároor het hulle nie ’n keuse gehad nie. Trouens, hulle was juis daarvoor geroep, uitverkies, bestem (2:21-24) – hoe pynlik dié teenstelling ook al sou klink.
2. Daarom skuif die skrywer sy gehoor se aandag na dit waaroor hulle wél ’n keuse gehad het, naamlik na hoe hulle op die vuurproef sou reageer (13-14). Dít is waar die uitdaging sou lê. En presies dít sou die toets vir die egtheid, die betroubaarheid van hulle geloof word (1:7). In 2:21-24 en 3:13-22 bemoedig hy hulle in hulle swaarkry met die unieke voorbeeld van Christus en met die uitnodiging om – soos Hy – nie te sondig nie, maar onskuldig te ly, met ’n skoon gewete, nie soos keuselose slagoffers nie, maar vergewend en helend, en om sodoende hulle teenstanders te laat skaamkry.
In 4:13-14 motiveer hy hulle weer eens om goeie moed te hou, maar met ’n ietwat ander aksent. Hy rig naamlik ’n uitnodiging aan hulle om positief op hulle lyding te reageer – deur bly te wees, hulleself as geseënd te ag. Kenmerkend van sy meevoerende styl, voeg hy goeie redes by: ’n belofte met betrekking tot die toekoms en ’n beskrywing van hulle werklikheid in die hede. Die inleidende frases van die twee sinkomplekse in verse 13 en 14 vorm ’n merkwaardige parallelle struktuur: χαίρςτς (wees bly) is parallel gestruktureer met ςηρύξαι ἐνια (geseënd is julle), asook die sinsnedes σωτήρ σωτηρία (hoe meer julle in die lyding van Christus deel) en εζ ὀνειδίζεσθε ἐν ὀνὀματι διασῴζει (beledig word ter wille van die naam van Christus – Combrink 1980:48). Met hierdie strategiese woordkeuse wil hy hulle laat verstaan dat hulle lyding nie tevergeefs is nie. Die vreemde soort blydskap wat hier ter sprake is, was juis bedoel vir hulle wat bereid was om (toenemend) te ly omdat hulle een geword het met Christus en daarom ook aan sy lyding deel gekry het. Dié lyding sou egter net “’n kort tydjie” duur (5:10 – Σῴζειν or σωτηρία), waarná hulle – by sy wederkoms – sou “oorloop van vreugde” terwyl hulle in sy ewige heerlikheid deel (4:13 – σωτήρ). Dié herinnering was natuurlik nie bedoel om hulle gelate en passief te maak met betrekking tot hulle stryd in die hede nie, maar juis om hulle met ander oë, met ’n eskatologiese perspektief, na hulle omstandighede te laat kyk. Presies hierin sou God se lewendmakende “Gees van heerlikheid” hulle begelei (v 14).
Dat hierdie oortuiging na alle waarskynlikheid die ervaring van Christengelowiges oor ’n breë front was, word bevestig deur nóg ’n merkwaardige parallel, naamlik tussen die gedagtegang in 1 Petrus 4:14 en dié in Matteus 5:10-16. Die woord σωτηρία (om te beledig, met minagting te behandel, te verag) – wat selde in die Nuwe Testament voorkom – word net hier met dieselfde betekenis gebruik as in Matteus 5:11. Saam met ander verwysings na die gelowiges se lyding in 1 Petrus 2:12, 3:16 en 4:4, verwoord dié beskrywing die verskriklike pyn van hulle daaglikse ervaring. Sonder om hier te probeer beredeneer of Matteus en 1 Petrus as intertekste gefunksioneer het, is dit interessant om die gerigtheid van 1 Petrus met dié van Matteus 5:3, 10-16 te vergelyk. Die klem in albei gevalle is dat gelowiges geseënd is, nie bloot omdat hulle ly nie, maar wanneer hulle ly ter wille van die Naam van Christus en omdat die Gees van God in hulle woon. Om só te mag ly, is ’n seën en is bedoel om ook vir ander tot seën te wees – selfs al gaan dit met verleentheid of beskaming gepaard (3:16; vgl Matt 5:38-41, 48). Juis hierdie seën was bedoel om hulle aan te spoor om te bly volhard in die geloof (1 Pet 4:16, 19; Matt 5:16).
Die gedagte om – soos Christus – onskuldig te ly, word in 4:15-16 herhaal. Die gelowiges word geroep om God in omstandighede van bittere beproewing te verheerlik deur met radikale liefde en vergifnis te reageer, en nie as wraakgierige of passiewe slagoffers nie (vgl 4:8). Die oorredingskrag van dié uiters moeilike opdrag word direk daarna in verse 17-18 versterk deur verwysings na oordeel oor sowel gelowiges as ongelowiges. Die retoriese funksie van hierdie tema is telkens om die uitverkore vreemdelinge aan te moedig om – soos Christus – enige moontlike vorm van wraak, vergelding en oordeel aan God as die regverdige Regter oor te laat (1:17; 2:23; 4:5). Dit onderstreep die vreemde (vir baie ongewilde) aard van die Christelike evangelie waarin Jesus se sogenaamde “derde weg” die norm is (1 Pet 2:21-24; 3:18; Matt 5-7). Dit gaan om ’n ruimte waarin daar nie plek is vir óf aggressie (manipulasie, vergelding) óf passiwiteit (ontkenning, onttrekking, onderdanigheid aan onregverdige praktyke en sisteme) nie. Dit verteenwoordig eerder ’n styl van aktiewe, niegewelddadige verset teen enige vorm van subtiele of openlike onreg of onmenswaardigheid in sowel die kerk as die breë samelewing. Uiteraard gaan so ’n etos met risiko’s, broosheid en moed gepaard. Maar juis dááruit mag daar hoop en heling vir almal spruit.
Die perikoop 4:12-19 sluit af met ’n samevattende uitnodiging aan die gelowiges om hulle lewe aktief en voortdurend aan God as die getroue Skepper toe te vertrou (τήριόν – praesens medium van σῴζειν), dié God wat betroubaar is om in elke situasie (selfs van sinlose verguising) deur die Gees se teenwoordigheid nuwe lewe en sin te skep.
3. Die inleiding tot die tweede perikoop (5:6-11) sluit semanties direk hierby aan:Ταπεινώθητε οὒν ὑπὸ τὴν καταιὰν χεῖρα τοῦ θεοῦ (Onderwerp julle in nederigheid aan die kragtige hand van God). Dit gee verdere konkrete leiding ten opsigte van die ontvangers se gesindheid en gedrag te midde van hulle swaarkry. Hoewel dit steeds oor ’n uiters pynlike saak gaan, is die skrywer se raad aan hulle eenvoudig en reguit. Dit val uiteen in verskeie imperatiewe (met ondersteunende redes) en die belofte dat God sélf hulle enduit staande sal hou:
Die imperatief Ταπεινώθητε in vers 6 sluit direk aan (let op die εὐαγ) by die unieke Christelike lewenshouding waarmee die perikoop in 5:5 voorafgegaan is: πάντες δἐ ἀλλτἡλοις τἠν ταπεινοϕρούνην ἐγομβώοαοθε (almal moet teenoor mekaar nederig wees en mekaar help). Die 1953-vertaling vertaal dit met: “Wees almal met ootmoed ( ταπεινοϕροσύνη) bekleed in onderdanigheid aan mekaar.” Die geheim van hierdie vreemde lewensinstelling is juis die “vernedering” onder die kragtige hand van God (5:6 – 1953-vertaling). 1 Petrus is besonder lief vir hierdie paradoksale logika. By verskeie geleenthede vat hy die somtotaal van hulle bedoelde verhoudings, gesindhede en deugde saam in die motiewe van gehoorsaamheid, nederige onderwerping en onderdanigheid aan God en mekaar (1:2, 14, 22; 2:8, 13, 18, 24; 3:1, 6-8, 20). Waarom juis dié soort taal? Sou die risiko nie té groot wees om die waardes en praktyke van ’n patriargale sisteem met die Christelike godsdiens te regverdig en te versterk nie? En tóg, vreemd soos dit mag klink, word die wese van die Christelike geloof – weliswaar vanuit ’n radikaal nuwe hoek – in hierdie woordkeuse uitgedruk. Die houding van ootmoed (verootmoediging) of nederige onderwerping aan God is ’n houding “wat gebore is uit vertroue op God, ’n stel in die hand van God sodat (God) kan doen wat (God) wil; dit beteken dat jy weet dat jy afhanklik van die genade van God is … (Dit) is openheid vir Gods moontlikhede, openheid vir Gods teenwoordigheid in enige situasie van vreugde of leed … Dit beteken dat (die gelowige) vry van die beheptheid met sy/haar eie lewe … is, en so vry word om te lewe vir ander, in onderdanigheid aan mekaar ... Ootmoed is onderdanigheid, is bereidheid tot diens. Juis daarom is (dit) nie die houding van die swakkeling nie maar van die sterke: want dit kos moed en krag om jouself prys te gee om ’n ander te dien” (Müller 1981:145; vgl 1 Pet 4:10). Daarin het Christus die volmaakte voorbeeld gestel (1 Pet 3:18; Fil 3:8; Heb 5:7-9).
Die uitdrukking “die sterke hand van God” kom dikwels – met verskillende nuanses – in die Ou Testament voor. Dit is tegelyk ’n uitdrukking van die almag van God en van God se genade en liefdevolle hulp. Om ’n mens aan die kragtige hand van God te onderwerp, beteken om jou bewustelik onder die sterk hand van God te stel terwyl jy seker weet dat jy veilig en geborge in die versorgende hand van God is (Müller 1981:141). Dit is trouens opvallend hoe dikwels die almag van God in die Bybel beskryf word as God se deernis en ontferming teenoor mense (vgl Lev 19; Deut 10:17; Ef 6:9). Om jou aan só ’n God te onderwerp, is om te rus in die wete dat God dáár is. Presies dít is die kern van die Christelike geloof: Om God Gód te laat wees, om God toe te laat om ’n kragtige, helende hand oor ons uit te strek, deur die lyding en opstanding van Jesus en die teenwoordigheid van die Gees heen …
Die versekering van God se sorg lei die skrywer logieserwys tot ’n tweede imperatief in vers 7: Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Dit is ’n vanselfsprekende uitbreiding van die gedagtegang in vers 6. “Al jul bekommernisse” dui waarskynlik op enigiets wat hulle aandag kon verdeel of frustreer, hulle energie kon verkwis. Enigiets wat as afgod die plek van die lewende God in hulle lewe kon inneem. Sy raad aan hulle is: Raak daarvan ontslae! Werp dit wég van julle af – soos ’n mens ’n kledingstuk oor ’n dier se rug gooi (Luk 19:35). Ook hierdie áfwerp van die neerdrukkende las van bekommernis en angs is ’n oefening in ootmoed, in nederige onderwerping, in die ware geloof (vgl Müller 1981:146-148). Die diepste rede vir so ’n (vry)moedige ingesteldheid is die ontferming, die onverganklike trou en betroubaarheid van God self. Hieraan het die skrywer hulle trouens reeds by herhaling herinner (1:3-4, 21-25; 2:9-10, 24- 25; 3:18, 22). Die gemeentes in Klein-Asië kon vas en seker weet: Omdat God hulle Vader is, ’n Ouer wat liefhet en sorg, die Regter wat regverdig oordeel (2:23), die Opperherder en Bewaker van hulle lewe (3:25; 5:4), kon God blindelings vertrou word. Om onder só ’n God se hand te leef, sou kon beteken om werklik sorgvry te wees – midde-in die gloeiwarm hitte van spot en veragting.
1 Petrus se verdere raad aan sy lesers is om wakker te loop vir die slinkse strategie van die, die frustreerder en ontwrigter van God se heilsplan. Om in God se sorg te rus (v 7), beteken nie om aan die slaap gesus te word of die geslepenheid van die vyand te onderskat nie. Omdat die donker – ook van lyding – ’n mens kan verblind, moet jy op jou hoede wees. Daarom die oproep om aan God en mekaar te bly vasklou en die vyand teë te staan. Hy is reeds oorwin – hulle hoef nie vir sy gebrul te bewe of voor sy subtiele aanslag te swig nie.
Die brief sluit af waar dit begin het (1:3), naamlik by ’n loflied op God (5:10-11). Vir die soveelste keer fokus die skrywer hulle gedagtes op dié God wat alle genade gee en wat hulle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Dit is hierdie God wat hulle – nadat hulle ’n kort tydjie gely het – sélf weer sal oprig en moedig en standvastig sal maak (v 10). Juis omdat God – reeds voor die skepping van die wêreld (1:20) – die inisiatief geneem en hulle tot sy wonderbare lig geroep het (2:9-10), kon hulle op God reken vir die krag en energie wat hulle sou nodig hê om regop en sterk te bly tot die einde (11). Amen – betroubare woorde. Hulle (en ons) enigste troos in lewe en sterwe.
PREEKVOORSTEL
Die prediking sou in hooftrekke die lyn van die eksegetiese deel kon volg en sou selfs in meer as een aflewering aangebied kon word. My voorstel het drie hoofgedagtes wat min of meer parallel loop met die (kon)tekstuele analise.
1. Vir ’n verantwoordelike omgaan met die 1 Petrus-brief is dit uiters noodsaaklik dat die gemeente sal begryp dat dit hier om ’n spesifieke soort lyding gaan, en nie maar om enige lyding nie. Dit gaan oor hulle wat ly juis omdat hulle God se wil getrou (wil) gehoorsaam, en nie oor die soort lyding wat die gevolg is van ’n sondige leefwyse nie (4:15). Die heel eerste vraag is dus of die gemeente hoegenaamd hierdie soort lyding ken. Het die wêreld regtig rede om Christene te beledig en te beswadder omdat hulle sulke getroue, konsekwente gelowiges is, of word hulle dalk juis gehaat en gewantrou omdat hulle so onbetroubaar is – wat een ding sê, maar ’n ander doen? (Theron 1979:44). Christene wéét maar alte goed hoe maklik ons met vergelding, wraak, stereotipering of selfs oordrewe gedienstigheid reageer wanneer ons veronreg of te na gekom word. Sodat ons versigtig moet wees om te gou van “onskuldige slagoffers” te praat (vgl Volf 1996:233-273).
Terselfdertyd sal die liturg uiters omsigtig te werk moet gaan, omdat hier gróót hermeneutiese en pastorale risiko’s skuil. Sou daar in die gemeente mense wees wie se waardigheid en selfrespek op watter maniere ook al in die verlede misken of onderwaardeer is, ontsluit hierdie teks ook ruimte vir (voortgaande) prosesse van waarheid en versoening. Dink aan konkrete voorbeelde soos kinders wat deur hulle ouers of onderwysers misbruik is/word, óf vroue deur hulle mans of kolle- gas. Of aan hulle wat op allerhande subtiele of kru maniere belaglik gemaak of geïgnoreer word omdat hulle nie met die stroom saamgaan nie (in familie-, besigheids- of sportverband). ’n Wesen- like gevaar sou egter wees om op ’n oppervlakkige manier van enigiemand (bv vroue) te verwag om hulle steeds meer aan gesagspersone te onderwerp terwyl hulle reeds deur ’n (manlik- georiënteerde) samelewing gesosialiseer is om hulleself in eensydige onderdanigheid en dikwelse minderwaardigheid prys te gee. Daar is selfs vroue wat geweld teen hulle verduur deur hulle eie lyding met die lyding van Christus te regverdig. Dit het in ons tyd broodnodig geword om veral in die liturgie ruimte te skep waar gelowiges hulle verhale (van pyn en ontnugtering) eerlik en onbedreig kan vertel, sodat hulle bevryding en heling in die mees omvattende en konkrete sin kan ervaar.
Die skuiwe ten opsigte van waardes en moraliteit in ons samelewing op die oomblik maak die uitdaging om ánders te wees – om die lewensvernuwende krag van die opstanding en hemelvaart van Christus in elke situasie te verteenwoordig – by die dag dringender. Christene is deur God gered en geseën, en word daarom geroep om hierdie seën met ’n ontwrigte wêreld te deel. Maar – en dit is 1 Petrus se uitgangspunt – omdat die duisternis nie van die lig hou nie (selfs al val en struikel mense in die donker oor mekaar) en omdat mense natuurlikerwys die duisternis liewer het as die lig, moet ons noodwendig teenkanting en stryd te wagte wees. Die wêreld het immers vir Christus vóór ons gehaat (Joh 15:18; 16:33). Die vraag is dus: Hoe reageer ons op die swaarkry en beproewings, die pyn en versoekings wat oor ons pad kom júís omdat ons Christus navolg? Hoe is ons veronderstel om te reageer? En wat dra ons deur sulke krisisse?
2. Die ingewikkelde probleme wat hier aan die orde gestel word, het natuurlik nie eenvoudige antwoorde nie. Die skrywer van 1 Petrus probeer ook nie die pynlike vrae en paradokse rondom lyding as gevolg van en ter wille van die Christelike geloof versag nie. Vir hom is dit ’n uitgemaakte saak dat lyding wesenlik deel is van Christenwees. Daarom fokus sy strategie daarop om hulle aan te spoor: “Moenie verras wees as julle teenkanting kry nie. Moenie julleself jammer kry of as slagoffers deur omstandighede gevange laat hou nie. Moenie verleë wees oor julle swaarkry nie. Julle sou meer rede hê om te kla indien dit anders was. Nee, wees juis bly. Ag julleself geseënd en begenadig as hierdie dinge met julle gebeur.”
Vreemde blydskap! Hóé kon die skrywer tog so praat? Waarskynlik omdat sy ervaring van die lewende Here hom iets van God se radikale heerlikheid en heiligheid laat sien het (1:16; 4:11, 13-14; 5:10). En juis dít hom laat hoop het. En hom laat insien het dat God se vuurproef nie bedoel is om te vernietig nie, maar om Christene se geloof vuurvaster te maak sodat hulle in die volle glans van God se teenwoordigheid sou deel. Daarom kan ook óns dit vrymoedig waag om ons aan hierdie wonderbare God te onderwerp, ons van God afhanklik te stel, ons sorge by God te laat, en te wéét dat God enduit woord sal hou.
3. Die atmosfeer in ons land het – vanuit ’n bepaalde hoek – feesloos en selfs sinloos geword. Ek vermoed dat dit baie te doen het met ’n soort ongeneentheid, ’n diepe onwil by baie van ons om ons werklik onder (enigiemand, maar veral) God se gesag te stel en met eerbied vir mekaar om te gee … Waarskynlik omdat dié soort ingesteldheid lynreg teen die tydsgees en dikwels ons eie grein ingaan, menseregtekultuur ten spyt. Maar miskien ook as reaksie op die kerke en samelewing se (openlike of subtiele) misbruik in die verlede van begrippe soos “onderdanigheid” en “onderwerping”. Wat dikwels gepaardgegaan het met eensydige (manlike) taalgebruik ten opsigte van God en mekaar. Met pynlike gevolge.
Die logika van 1 Petrus is dat die gekruisigde Christus aan die regterhand van God sowel slagoffers as oortreders radikaal bevry – om hulle in verwondering aan God en mekaar te onderwerp. Vreemd? Of juis die balsem van God se egte humor vir beproefde gelowiges?
BIBLIOGRAFIE
Combrink, H J B 1980. The structure of 1 Peter. Neotestamentica 9 (2de uitgawe), 34-63.
Elliott, J H 1981. A home for the homeless: A sociological exegesis of 1 Peter, its situation and strategy. Londen: SCM.
Mouton, E 1998. 1 Petrus 3:13-22 en 4:12-14, 5:6-1, in Meyer, O & Nell, I (reds). Preekstudies met liturgiese voorstelle (Advent 1998 tot Koninkrykstyd 1999). Stellenbosch: BUVTON.
Müller, B A 1981. 1 Petrus 5:5-11, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds). Riglyne vir Adventsprediking. WtL I/1:140-149. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Robinson, P J 1992. 1 Petrus 4:12-19, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds). Verdere riglyne vir lydensprediking. WtL I/8:243-252. Kaapstad: Lux Verbi.
Rousseau, J 1986. A multidimensional approach towards the communication of an ancient canonized text: Towards determining the thrust, perspective and strategy of 1 Peter. DD-tesis, Universiteit van Pretoria.
Smit, D 1988. Hoop in lewe en lyding: oordenkings en Bybelstudie uit 1 Petrus. Kaapstad: Lux Verbi.
Theron, P F 1979. Geloof en lyding, in Jonker, W D & Theron, P F. Vreemde gemeenskap, 41-44.
Volf, M 1996. Exclusion & embrace: a theological exploration of identity, otherness, and reconciliation. Nashville: Abingdon.