Gemeentelike bedieningsgestaltes ter bevordering van kleingroepspiritualiteit
ABSTRACT
Congregational forms of ministry for the promotion of small group spirituality
In this article it is argued that small groups became a definite part of the ministering to the church of Jesus Christ. This ministry should be accompanied by a church growth programme which should enhance the spirituality also of the small groups in the church in different ways like the worship service, preaching, catechism, camps and retraites. Connected to this should be the equipping, development of and caring for the small group leader by using ways of enriching his/her gifts, in-service training and growth in personal spirituality.
1. INLEIDING
Omdat kleingroepbediening geweldig gegroei het in kerke in Suid-Afrika die afgelope tien jaar, is dit noodsaaklik dat die groei van spiritualiteit binne die kleingroepe en hoe dit die eventueel ook kan dien tot die groei van spiritualiteit in die groter opset van die gemeente, aandag behoort te geniet. Wanneer ’n gemeente kleingroepbediening aanvaar as deel van sy strategie om die korporatiewe spiritualiteit van die gemeente te bevorder (maw as deel van sy gemeentebouplan vir die geestelike lewe en groei van die gemeente), moet dit met die totale strategie van die gemeente-bediening geïntegreer word.
In die lig van bogenoemde vertrekpunt word die volgende sake in die artikel ondersoek:
• Hoe kan die gemeentelike bedieningstrategie kleingroepleiers ondersteun om spiritualiteit in die kleingroep te fasiliteer?
• Hoe kan kleingroepleierskap ontwikkel en ondersteun word tot voordeel van die korporatiewe spiritualiteit binne die kleingroepe?
2. BEDIENINGSGESTALTES BY ’n GEMEENTEBOUSTRATEGIE
2.1. Kleingroepbediening
Kleingroepbediening in die kerk het die afgelope tien jaar besondere klem ontvang en ’n verskei-denheid studies het daaroor verskyn of daarvan melding gemaak, sowel in die buiteland (vgl bv Neighbour 1992; Arnold 1992; 1998; Song & Driskill 2001) as in Suid-Afrika (vgl bv Burger & Simpson 1996; Oostenbrink 1996; Van der Spuy 1998; Lotter 1999; Burger 1999; Heystek 2000).
Dit blyk uit hierdie studies en publikasies dat kleingroepe ’n besondere wyse is waarop gemeentes gebou en koinonia versterk kan word in gemeentes sonder dat dit verabsoluteer word (vgl in hierdie verband Nel 1998:32). Die belang van die kleingroepleier as spirituele leier in die gemeente word elders volledig bespreek (vgl Oostenbrink & Lotter 1999:43 ev). Dit gaan der-halwe in hierdie artikel om die gemeentelike bedieningstrategie met die oog op kleingroep-spiritualiteit.
2.2. Verskillende bedieningsgestaltes
Dit is noodsaaklik dat vooraf gekyk word na sekere bedieningsgestaltes wat reeds bestaan in gemeentes.
Volgens Nel (1994:96) is daar agt bedieningsgestaltes wat ’n gemeenteboustrategie moet koordineer en integreer om die evangelie te verkondig en die gemeente in diens van God, mekaar en die wereld te laat lewe:
• getuienis (marturia);
• verkondiging (kerugma);
• erediens (leitourgia);
• pastoraat (paraklese);
• onderrig (didache);
• administrasie of bestuur (kubernetiek);
• gemeenskap van gelowiges (koinonia), en
• diens van barmhartigheid (diakonia).
In Nel (1994:96) se model val kleingroepbediening onder die gemeenskap van die gelowiges. Volgens Nel (1994:255) het die praktyk uitgewys dat kleingroepe in gemeentes wat dinamies in getalle en geestelike diepte groei, ’n belangrike deel van die gemeentestrategie uitmaak. Hy verwys na “voordeur- en agterdeur-bedieninge”. Die erediens is ’n voordeurbediening waardeur nuwelinge met die gemeente kennis maak en kleingroepe is ’n agterdeurbediening waardeur lid-mate in ’n netwerk van verhoudings bedien word en waarbinne hulle met hulle gawes funksioneer (Nel 1994:259).
Deur intensiewe navorsing wat die loodsing van verskeie vraelysondersoeke insluit, wys Miller (1994:24-32) veertien “spiritual-growth facilitators” uit waardeur mense tot dieper spiri-tualiteit kan kom en dan doelbewus die gemeentebediening daarby aanpas. Die vraelys raak die volgende sake:
• worship - focussing on God and sensing God’s presence;
• music - feeling moved to give God greater attention;
• prayer - relating to God;
• fellowship - receiving God’s love through others;
• preaching - hearing God speak to me;
• service - giving God’s love to others through time and talent;
• stewardship - giving money to help with God’s work in the world;
• Bible study - trying to obtain God’s guidance for daily living;
• books - receiving inspiration, information, and motivation;
• encouragement - helping others grow spiritually through affirmation, counselling, inclusion, and spiritual mentoring;
• leadership - providing vision that helps Christians set goals consistent with God’s will, and working together to accomplish God’s work in the church and the world;
• administration - carrying out and helping others to carry out one or more of the church’s ministry tasks;
• retreats - experiencing inspiration and insights in a physical setting apart from my daily life and the local church, and
• evangelism - helping others to find God.
Volgens Miller (1994:9-23) beteken geestelike groei ’n verdieping in spiritualiteit. Die Heilige Gees bewerk hierdie spiritualiteit in ’n gemeente (Oostenbrink 1996:15). ’n Gemeente het die verantwoordelikheid om bedieningsgestaltes waardeur die Gees werk ten volle te benut. Daarom moet in afhanklikheid van God wat deur sy Gees by sy gemeente teenwoordig is, die lewe van die gemeente in al sy gestaltes doelbewus op God en die belewing van sy teenwoordigheid gerig word om so coram Deo te lewe.
3. ENKELE VOORBEELDE VAN BEDIENINGSGESTALTES MET DIE OOG OP KLEIN-GROEPSPIRITUALITEIT
Dit val buite die skopus van hierdie artikel om die bree gemeentelike bediening in al sy fasette te ondersoek. Dit is elders gedoen (vgl bv Van der Walt 1999:142 ev; Heystek 2000:208 ev). Daarom word by wyse van voorbeelde slegs enkele belangrike aspekte van die erediens uitgelig en kursories na ander bedieningsgestaltes gekyk om aan te toon hoe ander bedieningsgestaltes in die gemeente kleingroepbediening kan bevorder.
3.1. Erediens
Teoreties is die gereformeerde erediens die diens van die Godsvolk (leitourgos) waarin die lidmaat aktief aan die erediens deelneem deur onder meer saam met die liturg te bid en tydens die preek self met die Woord besig te wees (Van der Walt 1982:3-4; Handelinge 1985:406-409). Van Rensburg (1983:132) wys egter daarop dat die lidmaat in praktyk ’n passasier is wat passief sit en kyk hoe die predikant sy of haar eenmansvertoning hou en die lidmaat in plaas van ’n aktiewe deelnemer ’n passiewe toeskouer word.
Gereformeerde eredienste is oor die algemeen baie sterk op die kognitiewe gerig, terwyl die affektiewe en behavioristiese dimensies van die mens afgeskeep word (vgl Hendriks 1992:101102). Op die wyse le die coram Deo-belewing op hoofsaaklik die kognitiewe vlak terwyl die ander dimensies van menswees nie betrek word nie. Die prediking en lering oorheers die erediens sodat daar by die lidmate die gedagte leef dat hulle kerk toe gaan vir die preek (vgl Oostenbrink 1996:66), terwyl coram Deo beteken om elke minuut van die dag binne die invloedsfeer van God te verkeer (Meyer 2000:18).
Die erediens is die kulminasiepunt van die lewe van ’n gemeente (Hendriks 1992:101). Dit is by uitstek die geleentheid waar die gemeente as geheel bymekaarkom om op ’n besondere wyse voor God te kom en met God en mekaar koinonia te beoefen. Daardeur word die gemeente se eenheid as geloofsgemeenskap sigbaar.
Neighbour (1994:194-208) onderskei tussen ’n “cell”, “congregation” en ’n “celebration”. Die “cell” is ’n enkele kleingroep. ’n Blok kleingroepe vorm ’n “congregation” wat saamwerk met die toerusting, evangelisasie- en gemeenskapsprojekte en aanbiddingsamekomste. Die “celebration” is ’n massabyeenkoms waarin al die kleingroepe byeenkom vir aanbidding, getuienis, prediking en lering - kortom: vir die groot erediens. Kleingroepe se deelwees van die groter geheel word veral in die erediens sigbaar en beleefbaar.
Hoewel ’n erediens op God moet fokus, behoort dit in sekere sin ook gebruikersvriendelik te wees sonder om ’n verbruikerskarakter te kry (De Klerk 2000:453) omdat die erediens ook gaan oor mense wat God ontmoet. ’n Erediens wat die mense immers nie tot die belewing van God se teenwoordigheid lei nie maar bloot ritualisties ’n agenda afhandel, slaag nie in sy liturgiese doel nie. Natuurlik kan die sondigheid en onwilligheid van erediensgangers ook hulle saamwees met God belemmer (vgl Jes 59:1-2). Liturgiese vernuwing behoort nie by die sondige neigings van mense aan te pas nie, maar wel by hulle sosio-kulturele konteks.
Ten einde die erediens ’n aktiewe en feestelike samekoms van die gemeente met die lewende God en met mekaar te laat wees, kan die volgende gedagtes oorweeg word:
• Die liturg moet in al sy handelinge bewus wees van die teenwoordigheid van die lewende God en sy of haar belewing van God se werklikheid vertolk in die styl waarop hy of sy die gemeente lei. Hy of sy moet beleef wat hy of sy doen en nie liturgiese elemente soos agendapunte die een na die ander bloot formeel afhandel nie (vgl Burger 1995:87). Die liturg moet die gemeente saam met hom of haar neem om in al die liturgiese momente coram Deo te wees.
• Sang en aanbidding kan ’n groot deel van die erediens uitmaak (Miller 1994:33-46). Met sang kan die erediensgangers gelei word om hulle kleinheid voor God te erken en sy grootheid, werklikheid en liefde aktiefte bely en te beleef. Daarvoor moet in die keuse van musiek en sang nie in die eerste plek op die estetika en gehalte van die musiek gefokus word nie, maar op die moontlikhede van die musiek en liedere om die betrokke erediensgangers se ontmoeting met God te bevorder. Liedere moet Skriftuurlik wees of, nog beter, Skrifberymd sodat die Woord van God daardeur in die erediensgangers se harte kan leef (vgl Kol 3:16). Smit en De Klerk (2000:122) vat dit goed saam: “Wanneer die kerklied in die erediens gebruik word volgens die Skrifbeginsels wat God daarvoor gee, dien die geheimenisvolle krag van die musiek daarin by uitstek tot ’n verdieping in spiritualiteit en innerlike transformasie.” Verder moet die liedere wat in die kleingroepbyeenkomste gebruik word, nie drasties van die erediensliedere verskil nie. Wat in die kleingroep gesing mag (kan) word, behoort ook in die erediens gesing te word, en andersom.
• By geleentheid kan ruimte gegee word vir stilgebed (vgl Louw 1980:154). Erediensgebede moet deeglik beplan word, die bidders op God fokus, die behoeftes van die lidmate vertolk en so gebid word dat die erediensgangers kan verstaan en van harte kan saambid. Daar kan vir lidmate in besondere omstandighede en met bepaalde behoeftes in die erediens by die naam gebid word. Daar moet ook vir die regering van die dag en die sosio-politieke probleme van die samelewing gebid word sodat lidmate ook daardeur hulle tot hulle roeping in die wereld kan verbind (vgl 1 Tim 2:1-7). Die voorbeeld van die gebede in die erediens kan ook op die gebede in die kleingroepe ’n groot invloed uitoefen.
• Die gemeente se stilword voor God en hulle gemeenskap met Hom moet nie met allerlei aktiwiteite (bv afkondigings en vergaderings) versteur word nie (vgl Van der Walt 1982:17).
• Meer lidmate kan by die leiding van die erediens betrek word, soos by die wetlesing, Skriflesing, gebede en die lei van die gemeentesang. Met die oog op kleingroepbediening kan ’n gemeente dit oorweeg om Sondae net een “groot” erediens te he en dan die Sondag verder te benut vir kleingroepaktiwiteite soos byeenkomste, pastorale besoeke en kleingroepleierskaptoerusting.
3.2. Woordverkondiging
Ten einde die gemeente in hulle lewe coram Deo te begelei, is dit volgens Burger (1995:99) belangrik dat die prediking en ook ander studiegeleenthede in die gemeente benut moet word om “mense te vertel wie en hoe God regtig is”. Hendriks (1992:102) stel die funksie van prediking raak wanneer hy se: “Die prediking moet beide inisiatief neem (ontvries), leiding en toerusting gee, aan die gemeente ’n visie voorhou, teologies die balans hou en voortdurend bemoedig. Die Gees werk en spreek deur die Woord.”
Die eksegese, hermeneuse en die vertolking van die Skrifgedeelte moet so wees dat die gemeente in die Woordverkondiging die stem van God in en vir hulle omstandighede kan hoor en hulle met die Woord voor God kan lewe (Handelinge 1985:408). Runia (1990:399-403) beskryf Woordverkondiging as ’n ellips met twee gesigspunte, naamlik uitleg en toepassing. Hoewel God en sy Gees deur mense werk, is dit uiteindelik die Heilige Gees self wat die Woord in die harte en lewe van mense aktualiseer (Runia 1990:403). Goeie prediking bly ’n middel, maar is nooit ’n 100%-waarborg vir lewensvernuwing nie. Daarom moet die prediker sy of haar totale afhanklikheid van die Gees bely en voortdurend bid dat hy of sy met die Gees vervul mag word (De Klerk 1987:173-181). Gebede om God se seen en sy Heilige Gees se verligting kan voor en na die Woordverkondiging gedoen word.
Wanneer die prediking suiwere Woordverkondiging is, dit duidelik en verstaanbaar is en as relevant vir die mense se lewe gebring word, sal dit ook verrykend deurwerk na die korporatiewe spiritualiteit en die onderlinge opbou in die kleingroepe.
In die kleingroepe kan die verstaan en toepassing van Sondag se prediking verder bespreek word. Kleingroepe kan ook, indien dit beskikbaar is, die eersvolgende Sondag se Skrifgedeelte bestudeer en so vir die erediens en prediking voorberei. Terugvoering hieroor kan ook aan die predikant gegee word.
3.3 Kategese
Ten einde deelname te bevorder kan kategese in die vorm van ’n kleingroepbyeenkoms gedoen word sodat katkisante aktief aan die gesprek deelneem, praktiese vreugdes en probleme oor die uitlewing van hulle geloof deel, vir mekaar bid en mekaar ondersteun. Katkisante kan ook begelei word om met hulle gawes in die kategesegroep, die gemeente en die gemeenskap diensbaar te wees. So word katkisante in die volle spektrum van korporatiewe spiritualiteit begelei en toegerus om effektief in ’n kleingroep en die gemeente as geheel te funksioneer.
3.4 Gemeentekampe en retraites
Gemeentekampe en retraites bied die geleentheid om lidmate buite hulle normale omstandighede waarin hulle in bepaalde roetines en patrone vasgevang is, te neem. ’n Retraite is volgens Le Roux (1991:218) “’n periode van terugtrekking en afsondering met die oog op toewyding aan die wil van God onder leiding van ’n geestelike gids”.
In ’n eilandsituasie word lidmate aan die ervaring van koinonia blootgestel en tot ’n dieper belewing van God se werklikheid gelei (vgl Foster & Yani 1992:267-268). Lidmate kom afsonderlik, maar ook saam, met hulle lewe voor Hom te staan. Die wisselwerking tussen die individuele en korporatiewe ontmoeting met God lei tot verdiepte spiritualiteit en ’n sterker behoefte om voortaan in die gemeente korporatiewe spiritualiteit op ’n dieper vlak te beoefen.
In ’n bylaag gee Le Roux (1991:228-241) ’n program van die Buro vir Voortgesette Teologiese Opleiding en Navorsing (BUVTON) van die Stellenbosse Teologiese Fakulteit weer wat met vrug in ’n aangepaste formaat vir die hou van ’n retraite in ’n gemeente gebruik kan word.
4. DIE ONTWIKKELING EN VERSORGING VAN KLEINGROEPLEIERSKAP
4.1. ’n Belangrike funksie van die ampte
Versteeg (1980:23) toon aan: “De noodzaak van het ambt vloeit voort uit het feit, dat de charismatische structuur van de gemeente niet automatisch aanwezig is en evenmin automatisch op de juiste wijze functioneert.” Die feit dat elke lidmaat gawes ontvang het (Ef 4:7; 1 Kor 12:7), impliseer nie vanselfsprekend dat elkeen sy of haar gawes in bedieninge sal ontwikkel nie. In hierdie verband kan na Coertzen (1995:371-376) verwys word, wat duidelike Skrifgegewens oor die ampte en bedieninge in die gemeente aantoon.
Daarom het Christus die ampte as ’n bediening in die gemeente gegee om die lidmate te begelei om hulle gawes (charismata) in bedieninge te ontwikkel en hulle met hulle dienswerk as eenheid onder die Hoofskap van Christus saam te bind (Ridderbos 1966:496-498).
Ook die ontwikkeling en toerusting van kleingroepleierskap as bediening is ’n roeping van die ampte in ’n gemeente waar kleingroepbediening as bedieningsgestalte gebruik word. Natuurlik is dit in die eerste plek die roeping van elke gelowige individueel om sy of haar gawes te ontwikkel en tot praktiese dienswerk te laat oorgaan (1 Tim 1:6).
Die versorgende funksie wat die ouderlinge ten opsigte van die kleingroepleiers en die gemeente het, word volledig behandel deur Oostenbrink en Lotter (1999:80; vgl ook Hand 20:28).
4.2 Verskillende maniere waarop gawes in bedieninge ontwikkel
Op die voetspoor van Te Velde (1992:92-94) kan die volgende maniere waarop die kleingroepleier se gawes in aktiewe bedieninge kan ontwikkel, aangedui word:
• Deur te luister na die Woord, voortdurend daarmee om te gaan en daaruit te lewe, kry die gelowige insig en uitsig oor hoe om sy of haar gawes te verstaan en te gebruik.
• Gebed dat God deur sy gees die gawes “lewend” sal maak en sal gee dat die dienswerk daarmee vrugbaar sal wees.
• Oefening in godsvrug, oftewel, spiritualiteit. Die kleingroepleier moet met sy of haar ganse lewe coram Deo sy of haar dienswerk met oorgawe en toewyding doen.
• Die ontwikkeling van ’n regte siening van tyd (ook sogenaamde “vrye tyd”) as God se tyd en daarmee saam gebalanseerde tydsbestedingspatrone. Die kleingroepleier moet deur die ouderling begelei word om die tyd tot sy of haar beskikking reg te kan beplan tot eer van God.
• Die kleingroepleier se gawes en bediening kan ook ontwikkel deurdat hy of sy literatuur lees oor die Bybel, die kerk en ook oor sy of haar bepaalde dienswerk in die kleingroep. Selfstudie is van wesenlike belang. Die ouderlinge en predikante kan hierin behulpsaam wees deur literatuur te voorsien, toegang tot literatuur moontlik te maak (bv in ’n gemeentebiblioteek) en bepaalde leesstof vir sy of haar spesifieke behoeftes aan te beveel.
• Toerustings- en opleidingskursusse of -seminare waar daar binne groepsverband die nodige kennis en vaardighede aan die kleingroepleier geleer word, kan van groot waarde wees.
• Ten slotte ontwikkel die kleingroepleier se gawes eenvoudig deurdat hy of sy dit gebruik. Hier geld die spreekwoord “al doende leer ’n mens” en die Engelse spreekwoord “ministry is caught, not taught”.
Kleingroepleiers kan mekaar help in die blokvergadering waar hulle onder die leiding van die ouderling byeenkom om hulle gawes in effektiewe dienswerk te ontwikkel.
4.3 Indiensopleiding
Die belangrikste manier waarop kleingroepleiers opgelei kan word, is volgens George (1992:144149), Neighbour (1994:45-49) en Potgieter (1995:102) om hulle binne die kleingroepsituasie toe te rus. Hierdie werkwyse is in lyn met 2 Timoteus 2:2: “Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer.”
Met verwysing na bogenoemde vers, se Neighbour (1994:45) aan kleingroepleiers die volgende:
Consider the pattern of sharing which is described by Paul. His equipping was seldom, if ever, done using a “one on one” pattern. He refers to the “many witnesses” who observed the way he worked with Timothy. Both Jesus and Paul discipled men in small groups, rather than doing it in private. Follow their example by equipping your Intern (hulpleier -outeur) before the observing Cell Group. This will provide the members to follow as they themselves serve as Sponsors. Even though what you are doing with your Intern is not mentioned by them, the impact made by watching you will be real.
Met Neigbour se eksegese kan egter nie ten volle saamgestem word nie. Paulus het immers aan Timoteus minstens die twee persoonlike briewe wat in die Nuwe Testament opgeneem is, geskryf. Johannes 21:15-19 is ’n weergawe van Jesus se persoonlike gesprek met Petrus oor sy verhouding met Hom en sy dienswerk as apostel. Die waarheid is dat daar ’n balans tussen groepstoerusting en persoonlike (een tot een) toerusting moet wees. Wanneer die hulpleier sekere leierskapfunksies vervul het, kan die kleingroepleier op ’n een tot een basis aan hom daaroor terugvoering gee.
Die kleingroepleier identifiseer self of saam met die kleingroep iemand wat die kenmerke het om as hulpleier te kan optree. Om die hulpleier effektief te kan begelei is ’n intieme dissipelskapverhouding tussen die kleingroepleier en die hulpleier nodig. Die kleingroepleier se begeleiding van die hulpleier behels die volgende:
• Modellering: Die kleingroepleier lei die kleingroep terwyl die hulpleier waarneem wat hy of sy doen. Later bespreek hy of sy met die hulpleier wat hy of sy gedoen het. Die kleingroepleier kan ook handige wenke deur die terugvoering van die hulpleier kry.
• Blootstelling en inoefening: Die kleingroepleier gee algaande al hoe meer leierskaptake aan die hulpleier sodat laasgenoemde sy of haar vaardighede kan ontwikkel.
• Monitering en terugvoering aan die hulpleier deur die kleingroepleier.
Die kleingroep- en hulpleier ontmoet mekaar elke week om die kleingroepbyeenkoms te beplan, daarvoor te bid en pastorale behoeftes van kleingroeplede te bespreek. Die kleingroepleier behoort ook die hulpleier in die verdieping van sy of haar spiritualiteit te begelei sodat die hulpleier kan leer om sy of haar werk uit ’n intieme verhouding en omgang met God te doen.
Verder kan mense wat as hulpleiers dien, asook ander aspirant-kleingroepleiers, in ’n vormingsgroep toegerus word. So ’n groep kom ooreen om vir tien byeenkomste weekliks te ontmoet. Elke groeplid kry onder die toesig van ’n instrukteur (’n ervare kleingroepleier) die geleentheid om die groepbyeenkoms te lei en ontvang daarna terugvoering van die ander groeplede en die instrukteur. So kan aspirant-kleingroepleiers deur mekaar en die instrukteur toegerus en gevorm word. Na die vormingsgroep se tien byeenkomste kan die aspirant-kleingroepleiers as hulpleiers in bestaande groepe hulle leierskapvaardighede verder ontwikkel.
Wanneer ’n groep groter as twaalf volwasse lidmate word, moet voorberei word vir seldeling (of kleingroepvermenigvuldiging) waarna die hulpleier ’n volwaardige kleingroepleier van een van die twee groepe word. Ander maniere waarop ’n hulpleier ’n kleingroepleier kan word, is as hy of sy self besluit of versoek word om ’n nuwe groep te stig, of deur in te willig om ’n groep mense te lei wat graag ’n kleingroep wil vorm maar ’n leier kortkom (George 1992:145).
4.4. Toerustingskursusse
Volgens Louw (1980:155) en Oostenbrink (1996:209) kan kleingroepleiers op ’n weeklikse basis geskool word in ’n normaalklas waar hulle toeligting oor Bybelstudiemateriaal en leierskap-vaardighede kry. Wanneer ’n gemeente so ’n normaalklas het, behoort hulpleiers ook die skoling mee te maak. ’n Ander moontlikheid is om op ’n gereelde basis (bv kwartaalliks of maandeliks) onder leiding van die predikant, ’n begaafde ouderling of ’n persoon van buite ’n seminaar aan te bied.
George (1992:142) noem die volgende vyftig onderwerpe vir die toerusting van kleingroep-leiers, wat algemeen in boeke van evangeliese kerke en instansies vir die benutting van menslike hulpbronne na vore kom:
1. Luistervaardighede | 26. Identifisering van geestelike gawes |
2. Reaksievaardighede (“responding”) | 27. Hoe om uitreikprojekte te koördineer |
3. Aansporing (“challenging”) | 28. Wanneer om vir hulp te vra |
4. Konfrontering | 29. Hoe om vir genesing te bid |
5. Evangelisering | 30. Bestuursprobleme |
6. Visie en strategie | 31. Hantering van kinders in die groep |
7. Leierskap | 32. Bevryding |
8. Werwing | 33. Herkenning van mishandeling |
9. Opvolgwerk | 34. Holistiese gesondheid |
10. Versorging (“nurturing”) | 35. Tydbestuur |
11. Voorhou van die globale beeld | 36. Lojaliteit en spanwerk |
12. Administrasie | 37. Bevestiging en versterking |
13. Probleemhantering | 38. Gesindhede |
14. Hoe om ’n byeenkoms te hou | 39. Konflikhantering |
15. Hoe om lede te laat deel | 40. Persoonlike dissipline |
16. Berading | 41. Hoe om ander te leer bid |
17. Onderskeiding en besluitneming | 42. Hoe om in gebed na God te luister |
18. Geloofwaardigheid en voorbeeld | 43. Verwysing van mense met probleme |
19. Geestelike kennis | 44. Wetlike implikasies |
20. Bybelkennis en lesvoorbereiding | 45. Vertroulikheid |
21. Hoe om hulpleiers te kry | 46. Hoe om bediening as ’n span te deel |
22. Hoe om ’n groep te verdeel | 47. Hoe om skaamheid te oorkom |
23. Hoe om met potensiële nuwe lede in aanraking te kom | 48. Rentmeesterskap of begroting |
24. Hoe om nuwelinge te verwelkom | 49. Herderskapvaardighede |
25. Aanbidding en musiek | 50. Vaardighede vir een tot een dissipelmaking. |
(Vertaal en oorgeneem van George 1992:142-143.)
Keller et al (1995:25) gebruik ’n ander skema om die areas waarin kleingroepleiers toegerus moet word, aan te dui:
Geestelike volwassenheid | |
1. Belewing van die evangelie: ’n bereidheid om sonde te bely, vreugde oor verlossing. | 6. Vertroosting: bemoedig die beproefdes. |
2. Basiese Bybelkennis: wysheid. | 7. Vermaning: roep dié wat versoek word en dié wat verdwaal, weer terug. |
3. Geestelike dissiplines: toewyding, verantwoordelikheid, hantering van versoekings. en weet hoe om mense op te som. | 8. Versorging: ondersteun mense liefdevol |
4. Selfbestuur: konsekwentheid. | 9. Berading: help mense met hulle |
5. Interpersoonlike dissiplines: Christelike persoonlike probleme en gee Bybelverhoudings, geduld, warmte. gefundeerde raad. |
Basiese bedieningsvaardighede | Leierskapsvaardighede |
1. Evangelisering: wen mense vir Christus. | 1. Motivering: kommunikeer ’n visie en spoor mense aan. |
2. Dissipels maak: leer mense om te onderhou wat Christus beveel het | 2. Organisering: werf mense, doen beplanning en oriënteer die groep. |
3. Bemoediging en mentorskap: spoor ander aan tot geestelike groei. | 3. Bestuur: laat programme volgens skedule loop, hou toesig en doen evaluering. |
Veral die fasette van spiritualiteitsverdieping, wat hier bo genoem is, is belangrik (Oostenbrink 1996:103). Verder is die materiaal wat in artikels 3 en 4 vervat is, ook geskik om in ’n oplei-dingsgids verwerk te word sodat kleingroepleiers daarmee toegerus kan word om spiritualiteit in die kleingroepe te fasiliteer.
Die kerkraad het die verantwoordelikheid om toe te sien dat die toerusting aan die klein-groepleiers gegee word en dat alles ordelik en opbouend geskied (Oostenbrink 1996:188). Dit kan raadsaam wees dat iemand, byvoorbeeld die predikant, die taak het om kleingroepleier-skapskursusse of -seminare in die gemeente te reel en te koordineer.
4.5. Die versorging van ’n kleingroepleier
Vroeer in die artikel is reeds aangetoon dat die kleingroepleier die verantwoordelikheid het om hom- of haarself te versorg. Kleingroepleiers het egter ook ’n behoefte aan ondersteuning en versorging. Verskeie navorsers en skrywers oor leierskap (bv Covey 1992; Harbaugh 1992; Hands & Fehr 1993) het aangetoon dat leiers vanwee verskeie faktore aan heelwat stres blootgestel word en derhalwe ondersteuning en versorging nodig het. Burger (1991:53-54) wys daarop dat die pastorale en geestelike versorging van gemeentelike leiers dikwels nagelaat word (vgl ook Wessels & Lotter 1999:15).
Covey (1992:53-62) praat van ’n p-pv-balans waarp vir produksie enpv vir produksievermoe staan. Hy illustreer dit aan die hand van die fabel van Aesop wat ’n hoenderhen gehad het wat elke dag een eier gele het. Uiteindelik het hy oorgretig geraak en die hoenderhen geslag maar geen goue eiers gekry nie. Hy het sy produksiebron so verwoes.
Die algemene paradigma, so toon Covey (1992:55) aan, is dat hoe produktiewer iemand is, hoe meer doen hy of sy en hoe effektiewer raak hy of sy. Ware effektiwiteit is egter die verhouding tussen wat geproduseer word en die produksiebron (met sy of haar produksievermoe).
Derhalwe moet wat die kleingroepleier is, sy of haar eie geestelike, emosionele en verstandelike welwese ingeslote, vir die ouderling (wat hom of haar begelei) ten minste net so belangrik wees as wat hy of sy doen. Volgens Louw (1997:310) is die leier se “being function” belangriker as sy of haar “knowing” of “doing function”.
Persoonlike gesprekke en gebede oor sake soos die kleingroepleier se spiritualiteit, sy of haar huwelikslewe en beroepslewe behoort ’n belangrike deel van versorging uit te maak. Harbaugh (1992) wys in sy boek Caring for the caregiver op die onmisbaarheid van hierdie soort versorging.
Die kleingroepleier moet ook begelei word om binne die kleingroep vir hom- of haarself ondersteuning en versorging te kry.
4.6. Die spiritualiteitsvorming van die kleingroepleier
Wat onder 4.2 bespreek is, handel nie net oor die toerusting van die kleingroepleier met die oog op sy of haar vaardighede en funksies nie, maar beklemtoon ook die belangrikheid van sy of haar spirituele toerusting. Verder kan aanvaar word dat die gemeentebediening met die oog op gemeentelike spiritualiteit, wat onder 2 behandel is, nie net die kleingroepleier se dienswerk in die kleingroep sal bevorder nie, maar ook sy of haar eie spiritualiteit sal verdiep.
Daar is reeds na die voordele van ’n retraite in die gemeente verwys. Die program van die Buro vir Voortgesette Teologiese Opleiding en Navorsing wat Le Roux (1991:228-241) as bylaag in sy studie oor die spiritualiteitsvorming van die predikant weergee, kan as basis dien om ’n retraite vir kleingroepleiers te hou. Nicol (1989:122-128) gee ook nuttige wenke, praktiese riglyne en ’n voorbeeld van ’n program wat vir ’n retraite met die oog op Skrifstudie, meditasie en gebed gebruik kan word.
Foster (1990) het met die oog op spiritualiteitsvorming die boek Celebration of discipline oor spiritualiteitsdissiplines geskryf. (In 1992 is die boek in Afrikaans vertaal as ’n Tyd vir toewyding.) In ’n volgende boek, Celebrating the disciplines, gee Foster en Yanni (1992) verdere aanwysings oor hoe die eerste boek deur individue en groepe gebruik kan word. Die tweede boek eindig ook met riglyne en ’n program vir ’n retraite (Foster & Yanni 1992:267-272).
Gedurende blokbyeenkomste kan ’n ouderling met die kleingroepleiers en hulpleiers die boeke van Foster en Foster en Yanni as riglyn vir gesprekke oor spiritualiteit gebruik. Kleingroepleiers kan ook aangemoedig word om die boeke deur te werk en toe te pas. So kan die boek van Curran (2000:55) bestudeer word waar die wisselwerking tussen die ontwikkeling van ’n mens se karakter (aan die een kant) en jou werk/roeping (aan die ander kant) prinsipieel goed uiteengesit word. Op ’n gelee tyd kan met behulp van die voorgestelde program ’n retraite gehou word vir die ouderling, kleingroepleiers en hulpleiers saam met hulle gesinne. Hiervoor is nodige opleiding deur ’n kundige nodig.
Gemeentes het derhalwe ’n groot verantwoordelikheid om kleingroepleiers ten beste op te lei en toe te rus met die oog op hulle eie spiritualiteit en die van die kleingroepe wat hulle bedien.
5. SAMEVATTING
Die volgende blyk uit hierdie artikel:
• Die gemeentelike bedieningsgestaltes moet so benut word dat dit ook gesonde spiritualiteit binne die kleingroepe bevorder.
• Vir effektiewe bediening deur kleingroepleiers tot bevordering van die korporatiewe spiritualiteit binne die kleingroep, behoort die kleingroepleierskap op ’n omvattende wyse ontwikkel en versorg te word.
BIBLIOGRAFIE
Arnold, J 1992. The big book on small groups. Downers Grove, Il: Intervarsity Press.
Arnold, J 1998. Small group outreach. Turning groups inside out. Downers Grove, Il: Intervarsity Press.
Burger, C & Simpson, N 1996. Bybelstudiegroepe: Poorte vir die genade. Kaapstad: Lux Verbi. Burger, C 1999. Gemeentes in die kragveld van die Gees. Stellenbosch: BUVTON in samewerking met Lux Verbi.
Burger, C W 1991. Die dinamika van ’n Christelike geloofsgemeenskap. Kaapstad: Lux Verbi.
Burger, C W 1995. Gemeentes in transito. Vernuwingsgeleenthede in ’n oorgangstyd. Kaapstad: Lux Verbi.
Coertzen, P 1995. Offices in the church: contemporary questions and suggestions (proposals). In die Skriflig 29(3):371-393.
Covey, S R 1992. The seven habits of the most effective people. Powerfull lessons in personal change. Londen: Simon & Schuster Ltd.
Quran, P 2000. All the hours God sends? Practical and Biblical help in meeting the demands of work.
Leicester: InterVarsity Press. De Klerk, B J 2000. Liturgiese identiteitsvorming as antwoord op die invloed van die verbruikerskultuur. In die Skriflig 34(4):451-468, Des. De Klerk, B J 1987. Die Heilige Gees en die verhouding Skriflesing, prediking en gebed. Potchefstroom: PU vir CHO (DTh-proefskrif).
Foster, R J & Yanni, K 1992. Celebrating the disciplines. Londen: Hodder & Stoughton.
Foster, R J 1990. Celebration of discipline. The path to spiritual growth. Londen: Hodder and Stoughton, 276.
George, C F 1992. Prepare your church for the future. Grand Rapids: Flemming H Revell.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika 1985. Handelinge van die 42ste Nasionale Sinode. Potchefstroom: Administratiewe Buro van die Gereformeerde Kerke. Handelinge (kyk Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika).
Hands, D R & Fehr, W L 1993. Spiritual wholeness for clergy. New York: Alban Institute.
Harbaugh, G L 1992. Caring for the caregiver. New York: Alban Institute.
Heystek, P H 2000. ’n Prakties-teologiese ondersoek van die “mekaar” - opdragte in die Corpus Paulinum met die oog op kerklike geloofsgemeenskap. Potchefstroom: PU vir CHO (DTh-proefskrif).
Keller, T J, White, J O, Field, A E, Scott, M S & Kaufman, R P 1995. Fellowship group handbook. New York: Redeemer Presbyterian Church.
Le Roux, J G 1991. Spiritualiteit en identiteit: ’n ondersoek na die geestelike vorming van predikante. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch (DTh-proefskrif).
Lotter, G A 1999. Kleingroepe se groeiende belangrikheid in die kerk. Woord en Daad 39(368):24-26, Winter.
Louw, D J 1997. Pastoraat as vertolking en ontmoeting. Teologiese ontwerp vir ’n basisteorie, antropologie, metode en terapie. Kaapstad: Lux Verbi. Louw, D J 1980. Die stad in die mens. Pretoria: NGKB.
Meyer, O 2000. Die heelheid van gebrokenheid. ’n Nuwe styl van kerk- en Christenwees. Kaapstad: Lux Verbi.
Miller, H 1994. Connecting with God - 14 ways churches can help people grow spiritually. Nashville: Abingdon Press.
Neighbour, R W 1994. The Shepherd’s guidebook - spiritual and practical foundations for cell group leaders. Houston: Touch Publications.
Nel, M 1998. Gemeentebou: ’n Reformatoriese bediening. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 13(2):26-37.
Nel, M 1994. Gemeentebou. Halfway House: Orion Uitgewers, 320.
Nicol, W 1989. Stem in die stilte. ’n Werkboek in Christelike meditasie. Pretoria: Orion.
Oostenbrink, J & Lotter, G 1999. Die groot God by kleingroepe. Potchefstroom: DPM.
Oostenbrink, J W 1996. Korporatiewe spiritualiteit en kleingroepleierskap. Potchefstroom: PU vir CHO (DTh- proefskrif).
Potgieter, M 1995. ’n Nuwe Bybelse lewenswyse - die selgemeente. George: Lewensvreugde.
Ridderbos, H 1966. Paulus. Ontwerp van zijn Teologie. Kampen: Kok.
Runia, K 1990. De prediking van de kerk, in Van’t Spijker, W, Balke, W, Exalto, K, Van Driel, L (reds). Spiritualiteit. Kampen: Uitgeverij De Groot Goudriaan, 392-403.
Smit, E J & De Klerk, B J 2000. Die transformerende krag van die gereformeerde kerklied in die huidige Suid-Afrikaanse konteks. Praktiese Teologie 15(1):118-139.
Song, C S & Driskill, J D 2001. Deepening love - practising justice. Spiritual nurture for our time. Reformed World 51(1):3-19, Mar.
Te Velde, M 1992. Gemeenteopbouw 2. Barneveld: De Vuurbaak.
Van der Spuy, D 1998. Herlewing deur omgeegroepe. Kaapstad: Struik.
Van der Walt, B J 1999. Naby God. Christen en kerk op die drumpel van spiritualiteit. Potchefstroom: Instituut vir Reformatoriese Studie (Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO, reeks F2; no 74).
Van der Walt, J J 1982. Soek die Here in sy tempel. Potchefstroom: Potchefstroom Teologiese Publikasies.
Van Rensburg, F 1983. Die amp sonder portefeulje, in Botha, E, Steenberg, D, Taljaard, J, Van der Walt, B, Van der Walt, K (reds). Venster op die kerk. Potchefstroom: IRS, 131-143. Versteeg, J P 1980. Oog voor elkaar. Kampen: Uitgeversmaatschappij J H Kok, 112.
Wessels, S J& Lotter, G A 1999. “Mevrou dominee”, jy mag maar jy wees. Pretoria: C B Powell Bybelsentrum, UNISA.