Steyn, GJ
Universiteit van Pretoria

Die NG Kerk se identiteitskrisis

Deel 2: Huidige bewegings, tendense of mutasies

ABSTRACT

The Identity Crisis of the Dutch Reformed Church Part 2:Current Movements, Trends, or Mutations

There are at least five big movements to be identified within the Dutch Reformed Church. They are traditional(ist), charismatic, rationalist, mystic and syncretistic movements. However, the situation is more complex as there are also hybrids between different movements. The characteristics of these “big five” are nonetheless discussed. The contribution concludes with some guidelines and challenges for a way forward.

HUIDIGE BEWEGINGS EN TENDENSE IN DIE NG KERK

Nie te lank gelede nie verskyn ’n berig op die voorblad van die Sondagkoerant, Rapport: “NG Kerk kan skeur”. Hierin word gemeen dat “Kommer heers aan ’n wye front oor ’n moontlike skeuring in die NG Kerk. Kerkleiers en predikante erken daar is ’n groeiende kloof tussen twee groeperings in die kerk met onversoenbare standpunte oor Skrifbeskouing, die gesag van die Bybel en die definisie van gereformeerdheid. Daar word gepraat van ’n konflik tussen ‘behoudendes’ en ‘liberaliste’” (Rapport, 15 Mei 2005:1). Ook Wethmar het onlangs bevestig dat daar “nie slegs een gestalte van Gereformeerd-wees is nie maar dat in verskillende omstandighede verskillende variante van Gereformeerd-wees na vore tree” (2002:251). In die eerste deel oor die NG Kerk se identiteitskrisis is grotendeels gehandel oor hierdie “verskillende omstandighede”. In hierdie tweede deel wil die fokus val op die “verskillende variante” wat volgens hierdie skrywer tans in die NG Kerk waarneembaar is.

Wat hier volg sou tot ’n groot mate as breë veralgemenings gesien kon word. Die databank wat agter elkeen van hierdie stellings lê sluit egter etlike jare se betrokkenheid in verskillende bedieningsareas en plekke in. Dit sluit amptelike en nie-amptelike uitsprake in die media in en verskeie gesprekke met kollegas in die bediening in verskillende omstandighede en op verskillende plekke in die land. Wat volg is dus enersyds hierdie skrywer se eie subjektiewe waarneming van waar die NG Kerk homself tans bevind, en andersyds ’n doelbewuste simplistiese groepering van tendense ten einde perspektief op die kerk se identiteitskrisis te kan kry.

Alhoewel verskeie ander kleinere onderstrominge op verskillende plekke en onderling tussen verskeie individue bestaan, kan daar tans, myns insiens, waarskynlik minstens vyf groot basiese bewegings in die NG Kerk geïdentifiseer word: ’n rasionalistiese, ’n charismatiese, ’n tradisionalistiese (onderskei van tradisionele), ’n mistiese en ’n sinkretistiese beweging. As die kern waarvandaan hierdie bewegings uitgroei gesien kan word as die tradisionele (onderskei van tradisionalistiese) gereformeerde kern van die NG Kerk, wat aanleiding gee tot ’n tradisionalistiese sirkel, dan sou die charismatiese beweging ’n tendens verteenwoordig wat teenoor en in reaksie teen ’n rasionalistiese beweging verder terug beweeg na ’n meer gevoelsmatige godsdiensbelewenis. Dieselfde geld ook vir die omgekeerde. Hoe meer die charismatiese beweging gevoelsmatig fokus, hoe meer rasionalisties ingestel raak die rasionalistiese beweging en beweeg in teenreaksie weer reaktief verder weg van die tradisionele kern van die NG Kerk. Hierdie twee bewegings staan uiteindelik lynreg teenoor mekaar en het ontwikkel uit, enersyds, die spanning van die “verintellektualisering in die na-reformatoriese ortodoksie van die sewentiende eeu” en, andersyds, uit die “veremosionalisering in die Piëtisme van die agtiende eeu” (Wethmar 2002:251).

’n Soortgelyke tendens vind ook plaas tussen die mistiese en die sinkretistiese denkrigtings. By die mistiese tendens word groot klem gelê op die mistieke kommunikasie tussen God en die gelowige, veral op ’n individualistiese wyse en dikwels met verskraalde behoefte aan ander medegelowiges. Dis ’n beweging wat neig na asketisme en ’n eerlike soeke na die ware identiteit en wil van die Enige en Ware God. Hierteenoor staan die sinkretistiese beweging wat hulle eie god en godsdienssiening konstrueer, veral uit elemente van ander godsdienste soos byvoorbeeld die Boeddhisme. Daar is geen vaste waarheid nie en alles is uiteindelik deel van een groot tipe panteïsme. Dit verteenwoordig dus grotendeels ’n radikale reduksie vanweë die invloede van die modernisme en postmodernisme (Wethmar 2002:251).

Skematies sou dit as volg voorgestel kon word:

Image56777.PNG

 

’n Verdere verfyning van hierdie bewegings is daarin geleë dat die charismatiese beweging mistiese tendense kan vertoon (soos in die linker boonste kwadrant hieronder) – byvoorbeeld in die onthouding of ontsê van sekere dinge (drank, seks, ens). Of die mistiese beweging kan rasionalisties ingestel wees (soos in die regter boonste kwadrant hieronder). Die sinkretiese groep kan ook enersyds meer gevoelsmatig ingestel wees (linker onderste kwadrant) of andersyds meer rasionalisties (regter onderste kwadrant).

 

Image56786.PNG

 

Hiermee wil duidelik gestel word dat die saak veel meer kompleks is as wat op die oog af waarneembaar is. “Met spiritualiteit arriveer jy nooit nie; die reis gaan voort – nimmereindigend” (Jordaan 2002:62). Pieterse identifiseer byvoorbeeld ’n konseptualisasie van ses “Jesus-beelde” onder jong Afrikaanssprekende Christene (2003:1084-1090). Spangenberg weer, identifiseer vier bewegings wanneer hy deur die bril van die sogenaamde Nuwe Hervorming na die saak kyk (2004:288-289), terwyl die Rapport die onderstrominge in die NG Kerk se geledere as ’n oorvereenvoudigde tweespalt sien tussen sogenaamde “behoudendes” en “liberaliste” (Malan 2005:1). Afgesien van duidelike groeperinge rondom elkeen van die bewegings wat hieronder bespreek word, is daar ook talle lidmate wat hulleself tuis sal voel met verskeie elemente of eienskappe uit verskillende bewegings en derhalwe voel dat hulle nie in een hiervan tuishoort nie. Die idee is wel om eerder die eienskappe wat lei tot die voorkeur van ’n bepaalde beweging of tendens so aan te bied dat dit as ’n selfstandige beweging op sigself waarneembaar word – op ’n soortgelyke wyse as die persoonlikheidstipes van psigometriese toetse. Slegs die “groot vyf” bewegings in die NG Kerk word dus hieronder bespreek. Die bedoeling is dus deurgaans om ’n aantal uitstaande kenmerke te lys onder elk van hierdie bewegings. Dit beteken eerstens nie dat al hierdie kenmerke op ’n gegewe plek en omstandighede funksioneer nie. Tweedens beteken dit ook nie dat al hierdie kenmerke noodwendig negatief beskou behoort te word nie. Dis die doel van hierdie bydrae(s) om die diversiteit en sentimente binne die NG Kerk aan te toon.

DIE “GROOT VYF” BEWEGINGS IN DIE NG KERK

1. Tradisionalistiese sirkel: “Ek beskerm my identiteit, daarom glo ek

Die aanvanklike hoofstroom van die NG Kerk se denke, geloofsformulerings en liturgiese handelinge bly steeds voortbestaan in ’n tradisionele kerngroep wat groot nadruk plaas op ’n bepaalde tradisionele vorm van gereformeerde identiteit. Hier rondom ontwikkel egter ’n oordrewe soort tradisionalisme. Hierdie beweging vorm die ekonomiese magsbasis van meeste gemeentes en bestaan hoofsaaklik uit die sogenaamde “silent generation” van lidmate wat 50 jaar en ouer is. Hierdie groep is in ’n wentelbaan om die reformasie en die gestalte daarvan in die Calvinistiese tradisie. Die handhawing en bewaring van die Calvinistiese tradisie ten alle koste staan dus sentraal en vorm die basis en uitgangspunt van die meeste gesprekke. Die ironie is dat daar soms beswaarlik nog iets van die beginsel van ’n voortdurende reformasie (semper reformanda) in hierdie kerngroep te bespeur is. Predikante en lidmate van die NG Kerk se fokus in hierdie tradisionalistiese sirkel sentreer grotendeels rondom die volgende eienskappe:

1.1 Die liturgie het verval in leë rituele handelinge en die erediensbywoning is dikwels ritualisties met ’n passiewe betrokkenheid van lidmate. So skryf Danie du Toit (1980:54) reeds in die tagtigerjare: “Dit is geen buitengewone verskynsel dat mense uit ’n erediens kom en kla dat hulle weinig of niks daaraan gehad het nie. Talle lidmate kom uit die kerk met die gevoel dat wat in die erediens gesê en gedoen is, hulle verbygegaan het en nie hulle harte geraak of die gang van hulle lewe beïnvloed het nie.” Sentimentaliteit bestaan ook selfs nog hier en daar oor die ou Psalm en Gesangeboek. Slegs die pyporrel is toelaatbaar in die erediens as begeleidingsinstrument.

1.2 Die sakramente neem ’n nodige plek in, maar die nagmaal skyn oorwegend belangriker te wees as die doop. Ongemaklikheid heers rondom die gebruik van die nagmaal deur kinders. Daar is ooreenkomste met die “sakramentele spiritualiteit” waarvan Du Toit skryf (2000:169).

1.3 Die gebruik van gebede in die erediens en aan die etenstafel is meer ritualisties van aard met groter klem op die feit daarvan, as op die vorm en inhoud.

1.4 Bepaalde legitieme geestelike behoeftes en leiding rondom eietydse denkrigtings wat onder lidmate bestaan, word dikwels met ’n soort volstruispolitiek benader. Sosiale betrokkenheid in die gemeenskap (diakonia) word onder individuele lidmate en binne gemeenteverband, grotendeels onderspeel. Reële behoeftes onder die lidmate van hierdie kerngroep is die behoefte om hulle eie identiteit te bewaar en geestelik gepamperlang te word, eerder as om self uit te reik na ander.

1.5 Die instandhouding van sisteme en strukture vind plaas ter wille van die strukture self asook die feit van sekuriteit wat in die bekende te vind is. Enige ander bedieningstruktuur as dié van ouderlinge en diakens is voorts onaanvaarbaar en slegs ’n presbiteriale kerkregeringstelsel word verkies. Kruger (1980:170) skryf: “’n Groot fout wat die kerk in ons tyd maak, is om aan die organisatoriese vorme van ’n paar honderd jaar gelede vas te hou.” “As ’n mens die organisasie van ’n vorige tyd op ons tyd probeer oorplant, is die gevolg altyd stagnasie – en uiteindelik die dood. Ek vrees dat ons iets daarvan in ons tyd beleef.”

1.6 Groot klem word gelê op die normatiwiteit van die Bybel, dat dit wel kanon is en dat dit ’n sentrale plek in die erediens en die kerklike bediening behoort in te neem. Daar is ’n groter toegeneentheid ten opsigte van die meer letterlike vertalings van die Bybel en sterk sentimentele gevoelens oor die ou Afrikaanse vertaling van 1933/53. Alhoewel daar enersyds met groot erns gepraat word oor grondige eksegese, word die Bybel steeds oorwegend letterlik gelees. Dit word onderliggend beskou as ’n geskiedenis- en natuurwetenskaplike handboek met ’n soort magiese krag wat grotendeels nie binne ’n verantwoordelike kultuurhistoriese konteks verstaan word nie. Debatte soos dié rondom ewolusie, homoseksualiteit en Sondagviering word vanuit hierdie verstaanskader benader. (Sien Doubell (2004:31-48) vir ’n oorsig oor die Skrifdebat die afgelope dekade).

1.7 Die literêre vorm van die preek in die erediens word dikwels gegiet in verouderde en ongebruikte Afrikaans en word soms beleef as ’n teologiese lesing wat min of niks met die realiteit van ’n eietydse lewensituasie te make het (sien ook Nel 2003:105). Hierdie soort applicatio is uiteindelik “niks anders nie as ’n gedwonge analogie tussen historiese en kontemporêre situasies” en ’n soort “stereotipe moralistiese toevoeging” (Cilliers 2003:20). So het d’Assonville (1980:78) tereg opgemerk: “As daar reg gepreek word, sal baie van die ander kritiekpunte vanself opgeruim word, en die kerk sal weer kerk wees!”

1.8 Bewaring van die feit en vorm van die belydenisskrifte neig soms selfs om meer kanonies gesien te word as die Bybel self. Daar is nie noodwendig altyd plek vir ander eietydse belydenisskrifte, soos dié van Belhar, nie.

1.9 Polities neig hierdie kern meer konserwatief te wees en het dus groot begrip vir die APK.

1.10 Daar is nog ’n sterk siening oor die kerkgebou as “die Huis van God” en die erediens behoort ordelik en in toegewydheid te geskied. Van der Walt (1980:180) reken dus dat dit “onverantwoord is: om van die kerkgebou as ’n heilige gebou te praat; om dit die huis van God te noem in onderskeiding van byvoorbeeld ’n gewone woonhuis: om daaraan dieselfde intensiteit as aan die Ou-Testamentiese tempel toe te ken” – gelowiges self is die tempel van God.

1.11 Formele teologiese opleiding van predikante aan ’n universiteit is wel nog belangrik en die grondtale is ook nog nodig, maar die doel en inhoud van hierdie opleiding behoort egter grotendeels daarop geskoei te wees om die tradisie te bewaar.

Dis duidelik uit die eienskappe wat hierbo gelys is, dat nie alle mense wat aan hierdie groep behoort noodwendig krities-denkend ingestel is nie. Hiermee word nie geïmpliseer dat gelowiges wat tot die ander bewegings behoort noodwendig wel krities ingestel is nie! “Daar is talle gelowiges”, volgens Spangenberg (2003:147), wat gemaklik is met die tradisionele antwoorde en geloofsuitsprake”. Daar sou versigtig bepaalde ooreenkomste op ’n sosio-religieuse vlak met die Joodse Fariseërs (en selfs die Selote) tydens die eerste eeu na Christus waargeneem kon word. Hierdie tradisionele groep is die eerste rimpeling van die klippie wat in die water val. Hiervandaan volg die golwe in konsentriese sirkels verder.

2. Charismatiese beweging: “Ek ervaar, daarom glo ek

Vir ’n geruime tyd is daar nou reeds ’n vervaging van grenslyne tussen sekere NG gemeentes en lidmate, aan die een kant, en charismatiese kerkgroepe aan die ander kant (Lombard 1975:79-88). Sommige gemeentes uit nie-NG Kerk pentakostalistiese kerkverbande vertoon dikwels meer tradisioneel gereformeerd as sommige gemeentes binne die NG Kerkverband. ’n Sogenaamde “charismatiese spiritualiteit” (Du Toit 2000:169) het sy stempel duidelik afgedruk op die NG Kerk en mens sou selfs kon beweer dat die NG Kerk in die algemeen besig is om in haar wese meer en meer charismaties te word – wat anders is as 30 jaar gelede toe hierdie beweging die vorm van geïsoleerde gevalle aangeneem het met slegs 0,6% NG Kerklidmate wat hierdie rigting gevolg het (Lombard 1975:85-86). Hierdie charismatiese beweging ontwikkel grotendeels vanuit die neo- Pentekostalisme en as ’n reaksie teen die tradisionalisme. Dit word oorwegend gevoed met Amerikaanse pragmatistiese literatuur asook vanuit ’n vroeëre Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis van die Skotse piëtisme. Daar is ’n belangrike verskuiwing vanaf die sentraliteit van die Skrif na die sentraliteit van persoonlike ervaring. Vir alle praktiese doeleindes word “charismaties” dus hier as ’n versamelterm gebruik vir meer gevoelsmatige spiritualiteite. In dié verband sou dus ook elemente van ’n evangeliese en selfs ook die mistiese beweging (wat hieronder bespreek word) onder hierdie noemer gegroepeer kon word. In die pers word beweer dat daar skynbaar gelowiges is “wat ’n nuwe, praktiese belewing van die Heilige Gees soek” deur sake soos herdoop en charismatiese gebruike te beklemtoon en wat aanleiding sou gegee het tot verdeeldheid in die NG Gemeente Welgemoed, Bellville, toe di. Frik de Beer en Chris Liebenberg hulle dienste daar beëindig het” (Malan 2005b:2). Dié beweging is veral populêr onder die sogenaamde “X generasie”, die 15-35 jariges. Die mees algemene eienskappe van hierdie charismatiese beweging wat onder NG lidmate posgevat het, is die volgende:

2.1 Groter klem op die emotiewe as op die kognitiewe. Ervaring, belewenis en emosie speel ’n groot rol en juis daarom is hierdie beweging meer populêr onder die jeug, onder kinders en onder die massas. Gebore uit die behoefte aan troos, terapie en aanvaarding stroom baie mense wat seer, bang en bedreig voel na hierdie soort gemeentes vir ontvlugting en emosionele sekuriteit. “Dié kerke groei die sterkste onder arm mense met ’n gebrek aan selfvertroue en dit gee aan hulle ’n nuwe identiteit wat letterlik vir niks skrik nie” (De Villiers 2005:11).

2.2 Daar word grotendeels weggedoen met enige vaste vorm van liturgie. Musiek staan in die fokus van die erediensgebeure en die gehalte van klanktoerusting wat in hierdie gemeentes gebruik word dien as bewys hiervan. Die pyporrel word vervang met ’n “live band” wat op die verhoog begeleiding verskaf aan eenvoudige lirieke wat oor en oor herhaal word. Voorsangers en dansers dra soms by tot die musikale vermaaklikheidsaspek. Daar kan beswaarlik nog van “eredienste” gepraat word en “gemeentebyeenkoms” is meer beskrywend van ’n skouspel wat moet beïndruk deur emosionele betrokkenheid. Musiek, getuienisse, wondergenesings en formule-gebede, soos dié van Jabes, vervang grotendeels die liturgiese elemente van die tradisionele NG erediens.

2.3 Die gebruik van gebede in die gemeentebyeenkomste skep die verwagting van ’n nuwe soort “vervulling met die Heilige Gees” wat ten doel het ’n persoonlike ekstase en bonatuurlike verwagtings. Dit gaan hier veral oor die ervaring van die individu met die Heilige Gees (Lomard 1975:80).

2.4 Die preek kan gewoonlik veel eerder as ’n emosioneel-gelade motiverende praatjie beskryf word, as dat dit verantwoordelike Skrifuitleg is wat op grondige eksegese geskoei is. Die inhoud van die boodskappe wat gebring word sentreer hoofsaaklik rondom emosionele troos en wedergeboorte wat in die vorm van ’n toespraak oor eie ervarings en vriende handel. Die individu moet voortdurend verander (bekeer) en ’n appèl word dikwels gemaak op die emosie van die individu. Dit wek die indruk dat ’n mens eintlik nooit goed genoeg is nie. Waarheid word gesoek in die mens se persoonlike ervaringsveld en in sy eie gedragskodes. Die kenmerke van ’n Christen, d.w.s. Christenprediking, vervang Christusprediking. “Jou lewe, jou persoonlike ervarings wat jy met God het, het die fondament vir jou redding geword” (Nel 2003:104).

2.5 ’n Nuwe soort wettisisme, of moralisme, ontwikkel rondom bepaalde godsdienstige reëls en regulasies. Lyne (nie riglyne nie) word baie duidelik getrek tussen wat “reg” en wat “verkeerd” is en in swart-en-wit terme vertel die gemeenteleier in geen onduidelike terme wat mag en wat nie mag nie. Sondelyste word nie-amptelik opgestel en gedrag soos homoseksualiteit, voorhuwelikse seks, aborsie, egskeiding en genadedood tel onder die grootste sondes. Volgens Cilliers (2003:27) haal moralistiese prediking die verband tussen die Skrif as menslike en goddelike dokument uitmekaar. “In plaas van die evangelie word dan eerder ’n kontrolelysie vir innerlike, godsdienstige evaluering gebied”.

2.6 Sukses in gemeenteverband word gemeet aan groot getalle, emosionele betrokkenheid van groot gehore en aan ekonomiese voorspoed, wat selfs in sekere gevalle lei tot ’n soort welvaartsgodsdiens (De Villiers 2005:11). Groot kerkgeboue en makrogemeentes is daarom ook aan die orde van die dag. Die Amerkaanse beginsel van “bigger is better” word die leuse en gemeentes soos Willow Creek in die VSA word die rolmodel van ’n “suksesvolle kerk”.

2.7 Die kerkmodel word grotendeels gebou op ’n Amerikaanse pragmatistiese lewensbenadering en feitlik uitsluitlik Amerikaanse literatuur – dikwels vertaal in Afrikaans – word die teologiese basis van hierdie beweging sonder dat die ryk geskiedenis en kerklike tradisie van die Europese wêreld altyd in ag geneem word. Die fundamentele gebrek onder predikante aan die hantering van tale soos Duits, Frans en Nederlands (waarin die gereformeerde tradisie vasgelê is) dra grootliks by tot hierdie eensydige en oorvereenvoudigde teologie. Oorwegend Amerikaanse “gospel- musiek” word in “pop en rock-styl” met “brass bands” in hierdie gemeentes gebruik. Die feit dat talle Afrikaanse sangers hulle vroeër of later waag aan “gospel-musiek” is ’n bewys van die groot mark hiervoor onder Afrikaanssprekende gelowiges.

2.8 Groter klem word geplaas op die outonomie van die plaaslike gemeente as op die breër kerkverband en ’n kongregasionalistiese kerkregeringstelsel is al hoe duideliker waarneembaar (Lombard 1975:81). Daar is dus eerder ’n sterker fokus na die eie huisgesin (gemeente) as die breër familieverband (kerkverband). Kerkhereniging is derhalwe nie altyd hoog op die gemeentelike agenda nie en daar is ’n geneigdheid om eie skole en teologiese leersentrums te stig waarin die groep hulle eie styl van kerkwees kan afdruk. Evangelisasieaksies word geloods en speel ’n belangrike rol om groei in getalle aan te help. Dis dikwels vreemdes en nuwes tot die Christendom se eerste kontak met die kerk en met godsdiens.

2.9 Daar word weggedoen van die idee dat die plaaslike kerkgebou die “Huis van God” is en dit word as ’n praktiese gemeenskapsentrum benut wat gesien word as ’n vermaaklikheidsouditorium, konferensiesentrum, arbeidsburo, kleuterskool, nasorgsentrum, rehabilitasiesentrum en plaaslike kweekskool.

2.10 Groot moeite word gedoen om, ten spyte van die groot getalle lidmate, elke lidmaat individueel iewers in ’n kleingroep te laat inskakel by die een of ander “bediening”. Elkeen kry die geleentheid om iewers persoonlik betrokke te kan raak en persoonlike gawes en talente in diens van die gemeenskap aan te wend (sien ook Lombard 1975:87). Potgieter (1995) se toonaangewende werk oor die “selgemeente” het hier as model gedien vir heelwat gemeentes die afgelope dekade.

2.11 Die Bybel speel steeds ’n rol en word as normatief gesien vir die lewe van individue, hier en nou. Dis egter grotendeels ’n “magiese” boek (vgl Cilliers 2003:23) wat moderne uitsprake van hedendaagse profete sanksioneer. Klem word veral gelê op profetiese gedeeltes en Skrifgebruik is derhalwe “selektief en subjektief” (Du Toit 2000:38,167). Daar word hoofsaaklik fundamentalisties-letterlik met die Bybel omgegaan en teksverse word dikwels buite hulle literêre en sosio-historiese verband as eensydige, kort slagspreuke gebruik. Dinamiese Bybelvertalings, en veral parafrases, is uiters gewild. Die Lewende Bybel, Die Boodskap en die Bybel vir Tieners is populêr.

2.12 Die groot doop verkry ’n besondere betekenis as ’n belangrike soort inlywingsrite. So word De Beer en Liebenberg aangehaal dat hulle sou sê: “Ons ervaring in die praktyk is dat daar talle NG lidmate en predikante is wat gelei voel om hulle te laat doop. Nie eens pastorale gesprekke oor die doop laat hulle van dié oortuiging afsien nie” (Malan 2005b:2). Mens hoor van tyd tot tyd by huisbesoeke van NG Kerklidmate wat “skelm” weer (groot-)gedoop is of dit ernstig oorweeg.

2.13 Belydenisskrifte is eintlik nie meer relevant nie en ’n nuwe belydenis word deur elke individu persoonlik gemaak. Dit lei soms tot ’n gereduseerde belydenis.

2.14 Groot klem word geplaas op die rol van die Heilige Gees (Lombard 1975:80). Mens sou hierdie beweging dus eerder kon tipeer as pneumatosentries as wat dit christosentries is.

2.15 Daar is nie altyd sprake van die verhoogde Christus nie en Jesus word dikwels gereduseer tot sienings van “Jesus is my buddy”,”Jesus is in my hart”, of sommer net ’n modderskermplakker: “Jesus is the answer!” Hiermee word die mens, Jesus van Nasaret, ’n soort superhero en ’n rolmodel vir alledaagse postmoderne lewensituasies. ’n Bandjie om die arm met WWJD (“What would Jesus do?”) moet die draer daarvan hieraan help herinner.

2.16 Bepaalde charismatiese leiersfigure se leerstellinge dra groot gesag. “Groot name” vestig hulleself en hulle word beskou as eietydse profete. Lidmate sluit grotendeels by hierdie gemeentes aan op grond van die charismatiese leiersfiguur se naam, of stroom na eietydse profete vir gebed en genesing soos byvoorbeeld die “profeet” T.B. Joshua van die “Synagogue Church of All Nations” in Lagos, Nigerië. So meld De Beer en Liebenberg byvoorbeeld dat hulle “wonderwerke voor ons oë sien gebeur het” en “die kragtige werking van die Woord en die Heilige Gees ervaar” het (Malan 2005b:2). Dit gebeur dikwels dat hierdie leiers se gebede as meer aanvaarbaar beskou word en hulle uitsprake met groter outoriteit aanvaar word as die Bybel self, of selfs as die huidige tydsgees (Van der Watt 2002:74-75) en die gevaar bestaan dat selfstandige kultiese splintergroepe rondom hierdie geestelike leiersfigure kan ontwikkel.

2.17 Hierdie beweging verteenwoordig waarskynlik naas die tradisionele kern, die grootste van die bewegings in die NG Kerk tot op hede. Dit groei al hoe vinniger, sterker en aggressiewer met meer en meer NG Kerklidmate en predikante wat hulle in hierdie denkraamwerk tuis vind (vgl. Loots 2005). Enkele elemente van hierdie beweging toon noue ooreenstemming met ’n gemeente soos die NG Gemeente Moreletapark in Pretoria.

Daar sou versigtig bepaalde ooreenkomste op ’n sosio-religieuse vlak met die Joodse Esseners en die groep by Qumran tydens die eerste eeu na Christus gesien kon word.

3. Rasionalistiese beweging: “Ek verstaan (nie), daarom glo ek (nie)”

Een van die nuwer bewegings in die NG Kerk is die sterker ontwikkeling in die rigting van ’n rasionalistiese of intellektuele beweging. Dit ontwikkel grotendeels as teenreaksie teen die tradisionele stroming (wat soms as huigelary afgemaak word) en die charismatiese stroming (wat soms as emosionele manipulasie afgemaak word). Hierdie beweging toon sterk ooreenkomste met ’n soort “intellektuele spiritualiteit” waarvan Du Toit skryf: “(daar) heers ’n kritiese gees, meestal gepaardgaande met ’n goeie mate van sinisme.” “Hulle gespreksgenote is in die wetenskaplike wêreld” (2000:170). Deur kritiese denke word ’n eietydse “mens-god” geskep wat alleen kan dink en handel soos die 21ste eeuse mens dit sou doen. Daar is geen, of weinig, plek vir die bonatuurlike. Dit is tot ’n sekere mate fatalisties van aard en sinies oor die omvang van kriminaliteit, uitsigloos oor die ekonomie en magteloos oor die implikasies van vigs. Van die belangrikste eienskappe van hierdie beweging onder NG- lidmate, sluit die volgende in:

3.1 Die kognitiewe aspek staan lynreg teenoor die emotiewe van die charismatiese beweging. Die invloede van die Humanisme, Rasionalisme, Renaissance en Aufklärung (Verligting) het uiteindelik ook afgeskuur aan sommige Afrikaanssprekende NG Kerklidmate via hulle blootstelling aan die Westerse wêreld. Dis nie toevallig dat dit juis dieselfde rasionalisme is wat die Aufklärung veroorsaak het, wat ook geboorte gegee het aan die “historiese Jesus” navorsing nie (Charlesworth & Weaver 2000:3). En as “kinders van die Aufklärung word ons toenemend gekonfronteer met inligting en insigte wat dit moeilik maak om die Bybel gladweg na te spreek. Baie van wat ons nou in die Bybel aantref, het gewoon weggeraak agter mense se intellektuele horison” (Van Zyl 2003:186). In hierdie nuwe soort gnostisisme word die menslike verstand, logika en rede uiteindelik die finale kriterium vir persoonlike geloof: “Ek dink, daarom is ek” (“Cogito ergo sum”, Descartes, 1637). “Die mens het mondig geword”; “Kennis is mag”. Volgens Kant se denke oor Historie word die mens se suiwer rede die bron vir die ontsluiting van “betroubare kennis” en “egte waarheid” (Du Toit 2000:27). Historiese geloofsbakens soos die Bybel, belydenisskrifte en liturgiese praktyke word bevraagteken. Die ontsluiting van inligting alleen lei tot die verstaan van alles. In retoriek en formulering, in die vermoë om te beskryf, word ’n greep verkry op wat gesien en verstaan word die werklikheid te wees. Hier word dus grotendeels egosentries of antroposentries gedink. So skryf Japie Coetzee as afgetrede opvoedkundige byvoorbeeld: “As doodgewone N.G. Kerk-lidmaat is ek maar net geesdriftig op soek na die Bybelse waarheid en bespiegel dan in gewone taal oor sekere aspekte van ons godsdiens waaroor ek en baie ander mense ernstige bedenkinge het” (2004:186).

3.2 As kinders van die sogenaamde “liberale teologie” moet die Bybel “histories verstaan” word. Die kanon kan alleen deur historiese rekonstruksies hanteer word en daarom word daar veral groot klem op historiese gedeeltes gelê. Die sentrum van hierdie denkrigting wentel rondom die werk van die “Jesus Seminaar”. ’n Modernistiese siening van feite, geskiedenis en konstruksies bepaal die werkswyse en die vertrekpunte van hierdie beweging. Die weg hieruit lê vir Craffert tussen die twee weë van die historiese rekonstruksies van die Jesus Seminaar, enersyds, en andersyds – wat hy tipeer as die “ortodoksie” – die tradisionele, wat beide ’n soort “eenheidsdenke” veronderstel (Craffert 2002:81). (Maar lei dit nie weer op sigself tot ’n nuwe soort “eenheidsdenke” op presies dieselfde wyse deur die Nuwe Hervormers nie – net met ’n nuwe inhoud?) Die liberale teologie het volgens sommige teoloë, soos Deist, die “Woordkarakter” van die Bybel erg onderspeel. “Op die ou end is die Bybel, hoewel ’n heel besondere boek, maar net nog ’n menslike boek wat deur God gebruik kan word vir sy doel. Die verband tussen die Bybel en die Heilige Gees en die Bybel en die Woord van God is deurgesny” (Deist 1986:32).

3.3 God het wel nog oorgebly vir hierdie “andersdenkendes”. Maar hier kan hoogstens van teologie in die eng sin van die woord gepraat word, eerder as van enige vorm van Christologie. ’n Skuif het plaasgevind terug na ’n volledig monoteïsties, eerder as ’n monoteïsties-trinitariese Godsleer. Daar het weinig oorgebly van die Jesus van die kerk. Hy is hoogstens gereduseer tot ’n blote mens. Die historiese mens, Jesus van Nasaret (“Rabbi Jeshua van Nasaret”, Botha 2002:177- 195), eerder as die verkondigde en verheerlikte Christus, word bestudeer. Daarom word in hierdie geledere gevra “What is the question?” as ’n teenvraag vir die charismaties-dogmatiese stelling “Jesus is the answer”.

3.4 Die belydenisskrifte van die kerk word gewoon verstaan as ’n destydse formulering van die kerk se sienings binne ’n bepaalde konteks en binne ’n bepaalde tydstip in die geskiedenis. Geloof word eietyds bely deur elke individu en sover moontlik gestroop van alle kerklike leerstellings. Dit word gereduseer tot ’n paar basiese algemene geloofswaarhede.

3.5 Die eietydse tydsgees is normaalweg die outoritêre vertrekpunt vir wat aanvaarbaar is, nie die Bybel of die kerkleer nie (Van der Watt 2002:75-76). Wolmarans beskryf die Nuwe Hervorming as ’n beweging wat wesenlik daaroor gaan om “God op eietydse maniere te herontdek” (2002:63). So kom daar byvoorbeeld vir Spangenberg “krake in die meesterverhaal” gedurende die sestiende en sewentiende eeu, “skeure in die meesterverhaal” gedurende die agtiende en negentiende eeu, en is die “meesterverhaal aan skerwe” in die twintigste eeu (2003:151-155).

3.6 Die verwagting van ’n preek neig eerder na dié van ’n lesing. Gebede word tot God gerig (met noukeurige vermyding van die naam van Jesus) sonder die verwagting van ’n bonatuurlike ingrype of supra-menslike beantwoording .

3.7 Geen kerkgeboue word benodig nie en die gedagte aan “’n Huis van God” is afwesig. Die lokaal waar byeengekom word is bloot ’n praktiese ontmoetingsruimte en die karakter van kerkwees word gesoek in die dinamiek van die groepslede se identiteit.

3.8 Predikante wat hulleself hier tuis voel is grotendeels beïnvloed deur literatuur uit die Europese Bybelwetenskaplike kringe. Anders as predikante wat hulleself tuis voel by die charismatiese beweging en feitlik uitsluitlik Amerikaans-Engelse literatuur lees, word hier ook aandag gegee – tot ’n mindere of meerdere mate – aan Nederlandse, Duitse en Noorweegse literatuur.

3.9 Hierdie beweging word veral verteenwoordig deur middeljariges, die generasie van die sogenaamde “Boomers”, en bestaan grotendeels uit die 35 tot 55 jariges. Maar ook “yuppies” en die sogenaamde intelligentsia – veral uit ander vakgebiede as die teologie – vind hier ’n tuiste. Elemente van die sogenaamde “Nuwe Hervorming” asook die stigting van die “Kruiskerk” vertoon ooreenkomste op etlike punte met hierdie beweging.

3.10 Op etiese terrein word gewaak om nie in enige moralistiese denkwyse te verval nie. Debatte soos dié rondom homoseksualiteit is dus irrelevant.

Daar bestaan bepaalde ooreenkomste op ’n sosio-religieuse vlak met die Joodse Sadduseërs van die eerste eeu na Christus.

4. Mistiese beweging: – “Ek beleef, daarom glo ek” (neo-ortodoksie)

Net soos, enersyds, die Calvinistiese en neo-Pentakostalistiese kerktradisies, en andersyds, ’n eietydse modernisme en postmodernisme die bogenoemde bewegings in die NG Kerk beïnvloed het, het ook die meer ortodoks-georiënteerde kerkverbande ’n bepaalde invloed uitgeoefen op die NG Kerk. Veral die Rooms Katolieke en Oosters Ortodokse kerke het hier hulle stempel duidelik afgedruk. Hierdie mistiese beweging vertoon ooreenkoms met die asketiese spiritualiteit waarna Du Toit verwys (2000:170-171). Dit is minder populêr onder NG Kerklidmate as die charismatiese of selfs die rasionalistiese bewegings, alhoewel daar wel ’n klein toename tot hierdie denkraamwerk te bespeur is. Dis in ’n sekere sin nóú verwant aan die charismatiese beweging en wel in dié opsig dat albei gevoelsmatig is. Waar die charismatiese se gevoelsaspek egter ekstroverties en sterk groepsgesentreerd is, is dit by die mistiese beweging oorwegend introverties en individualisties van aard. Dis daarom minder opsigtelik. Die belangrikste kenmerke van hierdie beweging sluit die volgende in:

4.1 Waar die preekstoel sentraal staan in die liturgiese ruimte by die tradisionele beweging, die orkes en gevoelsmatige by die charismatiese, en die menslike rede by die rasionalistiese beweging, staan die kontemplatiewe sentraal by die mistiese beweging in die NG Kerk. Barnard (1981:210) verwys na ‘n “somber verwondering” by die Oosterse kerk. “Retraites”, meditasie, gebed, simboliek, goeddeurdagte en vasgestelde liturgieë en eeue oue himnes vorm die onderbou van hierdie beweging. Daar is ’n nuwe herwaardering vir die rol wat monastisisme en asketisme gespeel het. Invloede, soos dié van die Taizé-gemeenskap in Frankryk, is merkbaar in die besoeke wat Afrikaners daar aflê en in die opneem van sommige van hierdie liedere in die nuwe Liedboek (180, 210, 221, 224-227, 303, 333, 369, 384). Veral die eeue oue Gregoriaanse “chants” is gewild en die styl het selfs afgeskuur op tradisionele Afrikaanse liedjies.

4.2 Die liturgie en liturgiese ruimte speel ’n baie belangrike rol by hierdie beweging. Dis die fokuspunt van die nagmaal en van simbole, soos kerse (vgl. Barnard 1981:212-213). Musiek word nie deur orkeste begelei nie maar lê in die eenvoud van die menslike stem. ’n Kerkkoor neem ’n belangrike rol in en sing gewyde liedere uit die ryk liedereskat van die kerk oor baie eeue. Hoogstens word die pyporrel en by tye ander klassieke musiekinstrumente as begeleidingsinstrumente gebruik.

4.3 Gebede speel ’n sentrale en uiters belangrike rol. Nie net die individuele gebed of gebed wat deur die liturg gelei word namens die gemeente nie, maar veral ook formule-gebede wat gesamentlik deur die gemeente hardop gebid – of spesifiek ook gesing - word, is in algemeen gebruik. So skryf die Taizé gemeenskap byvoorbeeld: “In Christian prayer, singing has a central place, because Christ himself is the one who inspires and leads it” (2005:100). Met uiterste groot piëteit word met die transendente God gekommunikeer. Daar word eerder “geluister” as gevra. Groot klem word gelê op beide die vorm en die inhoud, alhoewel laasgenoemde eenvoudig gehou word. Daar word baie moeite gedoen om “reg te bid”.

4.4 Saam met die prominensie van gebede gaan ook die belang van, veral stil retraites. Mens sou dit kon verstaan as ’n huidige vorm van monastisisme en asketisme. Deur onttrekking uit die sosiale gemeenskap en die opsegging van bepaalde genietinge en geriewe word daar gefokus op die innerlike self. Deur masochistiese ondertone en self-opoffering word iets van die mistiese konneksie tussen God en mens beleef. In die woorde van die Taizé gemeenskap: “All who enter in this way into a relationship with the Mystery at the heart of life are immediately brought to take part in an adventure that is not always easy. In order better to know the true God, they must gradually let themselves be divested of their own habitual ways of seeing” (2005:5)

4.5 Preke is meditatief van aard en sterk gefokus op die innerlike opregtheid en suiwerheid van die individu. Daar is ’n “sakralisering van die erediens” en die gemeente word “passiewe toeskouers wat moet sien en ervaar” (Barnard 1981:213). Die strekking van Matteus se bergpredikasie wat klem lê op die gesindheid van die mens as die uitgangspunt vir alle eties- aanvaarbare gedrag, is die toonaard van hierdie mistiese beweging. Leesroosters word geïmplementeer om te verseker dat die hele Bybel binne driejaarsiklusse in die prediking aan die orde kom.

4.6 In die praktyk egter, word die Bybel grotendeels as ’n kanon-in-die-kanon gebruik. Geselekteerde dele vervul veral sentrale funksies in die liturgie en in die alledaagse lewe van die gelowige. Dis nie soseer die preek wat in die sentrum staan nie, maar die liturgie (Barnard 1981:214). Veral wysheidsliteratuur en die Psalms is hier prominent. Waarheid word gesoek in die diepe misterie wat opgesluit lê in die tradisie en ewigheid van die Skrifte

4.7 Die belydenisskrifte, kerkgeskiedenis en kerklike tradisie is belangrik in die mistiese beweging. Barnard (1981:210) verwys na “die swaar las van die tradisie” en dat hoe langer aan die tradisie vasgehou word, moeiliker word dit om te verander.

4.8 Hierdie beweging is teologies oorwegend monoteïsties en teosentries van aard. Waar die charismatiese beweging redelik sterk fokus op die immanensie van God, lê die fokus by hierdie mistiese beweging hoofsaaklik op die transendensie van God. Daar word sterk klem geplaas op God as die Almagtige en die vertikale verhouding tussen God en mens word uitgelig (Barnard 1981:210). ’n Opregte en intense soeke na die absolute wil van die Een Ware God is die dryfkrag van gelowiges in hierdie beweging en kommunikasie met God vind plaas op ’n mistiese, hoofsaaklik individualistiese, vlak.

4.9 Op etiese terrein wil dit voorkom asof die fokus eerder op die individuele etiek as op die sosiale etiek lê. ’n Andersoortige wettisisme funksioneer hier. Daar is nie ’n geforseerde onderskeid tussen reg en verkeerd in die vorm van ’n soort sondelys nie, maar eerder ’n stuk persoonlike selfdissipline en toewyding.

4.10 Hierdie beweging vind veral aanklank by die sogenaamde “silent generation” van persone wat ouer as 50 jaar is. Wanneer die tendensieuse elemente, soos hierbo geïdentifiseer, vergelyk word met Barnard (1981:209-215) se beskrywing van die belangrikste kenmerke en die liturgiese grondtrekke van die Oosterse kerk, is dit duidelik dat hierdie invloede hulle stempel reeds baie bepaald afgedruk het op enkele plekke en persone in die NG Kerk. Voorts dien dit ook vermeld te word dat daar bepaalde ooreenkomste met die Joodse mistisisme (merkabah Judaïsme) van destyds en hierdie mistiese beweging bestaan.

5. Sinkretistiese beweging: – “Ek ontwerp self, daarom glo ek”

Waar die charismatiese en die rasionalistiese bewegings in opposisie teenoor mekaar staan, posisioneer die sinkretistiese beweging homself teenoor die mistiese beweging. Die mistiese streef na kommunikasie met, en soek na die absolute Wil van die Een Ware Almagtige en Transendente God van die Christendom. Die mistiese beweging se pelgrimstog vind hoofsaaklik plaas deur ’n soort asketisme. By die sinkretistiese versmelt en vermeng verskeie aspekte uit talle godsdienste, filosofieë en ideologieë in een nuwe “godsdiens” wat panteïsties plooibaar van aard is. So skryf Naudé (2004:166): “Maar op plekke word die tradisie so afgeswak dat al wat oorbly ’n afvlerk- geloof is op soek na ’n nuwe postmoderne spiritualiteit waar God nie ’n Persoon is nie, maar ’n panteïstiese krag.” Waar die ander bewegings tot ’n groot mate deur ’n modernistiese denkraamwerk voortbestaan, is die sinkretiese beweging grotendeels postmodernisties van aard. Die ondersteuningsbasis hiervan is hoofsaaklik in die denkstruktuur van die postmoderne “millennium generasie” en in die “yuppie-kultuur” geleë. Predikante en NG Kerklidmate in hierdie beweging se denke word gevoed uit die wêreld as ’n “global village”, uit die invloed van die (nuutste) tegnologie, die kompleksiteit van sosiale vraagstukke, filantropie en ’n nuwe sin van kultuursensitiwiteit.

5.1 Hier kan hoogstens nog van ’n godsdiensbewussyn gepraat word eerder as van deelname binne ’n bepaalde fisiese geloofsgemeenskap. Geen kerkgeboue is meer nodig nie. Nel (2003:26) verwys hierna: “Ernstige mense voel dat ’n mens die Here op baie ander maniere kan dien as om elke Sondag in die kerk te sit of Bybelstudie- en selgroepe by te woon.” Hierdie groep is grotendeels Naturiste en pendel met hulle geloofsbewussyn tussen die natuur en die internet. In die natuur vind ’n tipe godsbelewenis plaas en op die internet word die behoefte aan ’n religieuse gemeenskap aangespreek.

5.2 Met ’n soort “cut-and-paste” mentaliteit word ’n persoonlike godsdiensbewussyn vir die individu geskep. Teenoor ’n belydenis soos dié van Efesiërs 1:20-23 wat Jesus Christus as die enigste Here en Hoof van die kerk bely (Coertzen 1991:86-93), word nou ’n algemene godheid ontwerp wat saamgestel word uit verskeie godsdienste, filosofieë en ideologieë wat die unieke behoeftes van die individu kan vervul. Gebore uit die postmodernisme en “New Age”-bewegings waar alles mag en kan, ontwikkel ’n soort onbewustelike holistiese sinkretisme. Dit gaan uiteindelik op in een godheid wat uit alle godsdienste ontstaan en self, individueel ontwerp word. Daar word dikwels geglo dat daar maar net een God is wat bekend is met verskillende name in verskillende godsdienste. So skryf Nel (2003:142) dat “(d)ie oorgrote hoeveelheid mense verwys na God as ‘something there.’ Hy is die gesiglose God, glad nie die drie-enige God van die teologie nie.” Spangenberg (2000:9) dink soortgelyks en vra “of die verskillende godsdienste nie maar God se ‘veelkleurige genade’ vertoon nie” (Britz 2002:365). Daar is doelbewuste pogings om, enersyds die verskillende godsdienste te versoen, en andersyds, die godsdiens met die tegnologie en wetenskap. By die mistiese beweging staan die bevrediging van die Wil van die Christene se God in die sentrum, by die sinkretistiese beweging hoofsaaklik die ontwerp en manipulasie van ’n algemene godheid om die eie wil en ekwilibrium te bevredig.

5.3 Enersyds met ’n soort passiewe houding van “laat God’s water oor God’s akker loop”, en andersyds met ’n soort aktiewe strewe na ’n “do-it-yourself” godsdienservaring word elke gelowige hier ’n spesialis in eie reg. Daar is nie eintlik meer plek vir teologiese opleiding nie, of vir een groep belydenisskrifte of een kerklike tradisie nie. Belydenisskrifte is eintlik totaal irrelevant. Alles is relatief, dekonstruktief en dinamies. Alles is gesetel in die ontwerp en verstaan deur die individu self. Nel (2003:26) skryf: “Meer en meer mense ontdek dat ’n mens eintlik heel goed op jou eie kan regkom. Die ou storie dat ’n mens jou menswees ontdek tussen ander mense, is besig om plek te maak vir ’n ongesonde individualisme van elkeen vir homself of haarself.”

5.4 Die Bybel is maar een uitdrukkingswyse van ’n geloofsboek. Hiernaas word ook die geloofsboeke van ander godsdiensgroepe geraadpleeg as geestelike literatuur. Nel (2003:120) bevestig ook hierdie neiging wanneer hy skryf: “Wat meer is, die gesag van Bybelse uitsprake word opgeweeg teen ander godsdienstige dokumente soos die Koran, die wysheid van die Dalai Lama en eenvoudige ‘do-it yourself’-oplossings vir die lewe.”

5.5 Op etiese terrein is daar geensins meer enige duidelike etiese reëls wat oorgebly het nie, alhoewel die ekologiese etiek moontlik sterker beklemtoon word. Alles mag, sodat homoseksualiteit, voorhuwelikse seks, saamwoon en genadedood grotendeels eintlik geen probleem is nie.

Daar bestaan bepaalde ooreenkomste met die sogenaamde “godvresendes” as ’n bepaalde denkgroep soos sommige geleerdes hulle in die destydse eerste eeuse konteks van die Nuwe Testament verstaan het.

PARADIGMASKUIWE?

Uiteraard sou mens kon argumenteer dat nie elkeen van die bogenoemde bewegings of tendense paradigmaskuiwe is nie. Nietemin kan die ontwikkeling en verloop van die een beweging na die ander hierbo beter verstaan word binne die paradigmateorie van Thomas Kuhn (1970). Die proses word soos volg saamgevat deur Du Toit (2000:48-49):

1. Die aanhangers van die nuwe paradigma kan wel die ou paradigma verstaan, alhoewel hulle dit nie meer onderskryf nie – hulle was daar en weet hoe die sisteem werk. Die omgekeerde is egter nie moontlik nie: Die aanhangers van die ou paradigma kan die nuwe een nie verstaan nie.

2. Vir die aanhangers van die ou paradigma is die nuwe een ’n bedreiging en hulle reageer reaksionêr daarop. Omdat die nuwe paradigma egter die oue verstaan, is daar aanvanklik by die aanhangers van die nuwe paradigma meestal ’n gesindheid van genaakbaarheid en toleransie ten opsigte van die aanhangers van die ou paradigma.

3. Terwyl die ou paradigma se houding teenoor die nuwe meestal ongenaakbaar is, lei dit in eie geledere tot ’n nuwe konserwatisme of behoudendheid.

4. Terwyl die nuwe paradigma heel dikwels kan bekostig om inklusief te dink in terme van die ou paradigma, is dit vir die ou paradigma onmoontlik en val die klem hier op eksklusiwiteit.

5. Sinvolle kommunikasie tussen hierdie paradigmas is feitlik onmoontlik. Terwyl die nuwe paradigma nou probeer om op rasionele gronde die nuwe paradigma te verduidelik en te verdedig, sou dit onmoontlik wees vir die ou paradigma om dit te hoor, aangesien die (rasionele) vertrekpunte nie dieselfde is nie. Hier word gepraat van kommunikasie- dissonansie tussen paradigmas (the incommencerability of paradigms).

Dis hartseer is dat die meeste van hierdie verskuiwings slegs binne die NG Kerk se eie huishouding is. Soos ’n huis wat oorgeverf word en waarvan die meubels rondgeskuif word, bly die verskuiwings reaktief anders lyk na binne, maar daar word nie genoegsaam proaktief uitbeweeg na buite nie. Finansiële bydraes word feitlik uitsluitlik aangewend om die kerkgebou elektronies op datum te hou en om die instandhouding van die fasiliteite en dienste se boeke te laat klop. Behoeftes wat die hartklop van ’n Nuwe Testamentiese missionêre bediening van gemeenskapsdiens, evangelisasie en ekumene weerspieël, staan nie altyd in die fokus van die NG Kerk se visie nie, maar op die periferie. So meen Coertzen (1991:151) dan ook onder meer dat “die verkondiging van die Skrifwoord in die missionêre verband” tuishoort. Uitreiking en betrokkenheid by die gemeenskap en evangelisasie bly ongelukkig dikwels die taak van ’n handjievol toegewyde individue en aksies. Dit, terwyl ’n kerk wat leef, juis ’n kerk is wat moet getuig. (Sien in hierdie verband Dreyer se bydraes (2002:319-332 en 2004:423-441) oor die missionêre karakter van die kerk). Samewerking met ander kerkverbande bly ook dikwels die taak van ’n ekumeniese komitee. Meiring (1980:207-215) het meer as twee dekades gelede alreeds teen hierdie neiging gewaarsku. Kosmetiese veranderinge beteken nog nie dat daar ’n hartoorplanting plaasgevind het nie. Die kerk se huis word net opgeknap (omgekrap?) om die nuutste modegiere te weerspieël. Die tendens van alle tendense in die NG Kerk bly steeds oorwegend eksklusivisties te wees. Nel skryf ook oor hierdie eksklusivistiese tendens van die kerk en dat daar “mense is wat met gebreekte vlerke rondloop. Hulle verwag dat hulle by die kerk ondersteuning sal kry” (2003:99-100). Elke beweging hierbo word egter opnuut weer ’n selfstandige en eksklusiewe elitistiese klub of kliek wat op sigself andersdenkendes en anderslykendes vanuit die staanspoor subtiel, of soms selfs uitdruklik, uitsluit. Die kerk beoefen ’n soort filtersisteem vir die gereformeerde beginsel van sola gratia en wil mense eers “goedkeur” alvorens hulle in die omhelsing van God se genade-arms mag inkom. Sodoende word die Bybel self ’n “manipuleringsmiddel pleks van ’n genademiddel” soos opgemerk deur Julian Muller (Nel 2003:114).

KONKLUSIE

Die NG Kerk muteer in duidelik waarneembare gestaltes of bewegings. Minstens vyf sulke bewegings kan geïdentifiseer word: ’n tradisionalistiese, ’n charismatiese, ’n rasionalistiese, ’n mistiese en ’n sinkretistiese beweging. Nie al hierdie bewegings is ewe groot nie, maar verteenwoordig onderskeidende gestaltes van die NG Kerk se tradisionele gereformeerde identiteit. Invloede van Amerika (charismatiese), Europa (tradisionele/-alistiese en rasionalistiese) en die Ooste (mistiese en sinkretistiese) word al hoe duideliker bespeurbaar in die NG Kerk se geledere. Die feit dat die NG Kerk besig is om te muteer moet positief gesien word. Dit beteken die NG Kerk is nog ’n lewende organisme. Hy is nog nie dood nie!

Daar word in die volksmond grappender verwys na die Afrikaner wat in sy wese ’n (dwars)trekker bly: Twee Amerikaners sal ’n “Society” stig, twee Engelse ’n “Club”, maar twee Afrikaners sal afstig! Predikante en lidmate van die NG Kerk sal moet leer om soos ’n eg Nuwe Testamentiese kerk akkommoderend en insluitend te wees – natuurlik binne die kernwaarhede van die Skrif. Daar sal veel eerder binne die spirituele denkwêreld inklusief en holisties gedink moet word in die verstaanskader van die postmoderne tyd (Du Toit 2000:114). Groter pluraliteit en die wegdoen van apartheid op ’n ander vlak binne die kerk sal voortdurend moet gebeur (semper reformanda). Daar sal ruimte vir mekaar geskep moet word. “If you have the Spirit without the Word, you blow up; if you have the Word without the Spirit, you dry up; if you have both the Spirit and the Word you grow up” (aanhaling in Van der Watt 2002:80). Daar behoort rekening gehou te word “met die verskeidenheid van religieuse behoeftes van mense, soos dit gevorm word uit kondisionering deur die tradisie waarin ons grootword, maar ook deur die feit van verskillende persoonlikheidstipes wat vra om alternatiewe belewingskontekste” (Du Toit 2000:171).

’n Tipe afspeling van een spiritualiteit teen ’n ander is nie vreemd in die Christendom nie. Paulus waarsku juis die Korintiese Christene in 1 Korintiërs 3 hierteen. Party sê hulle is vir Paulus, ander sê hulle is vir Apollos. Die groot gevaar is hier dat die fokus nou begin lê op die aanvaarbaarheid al dan nie van die aanbiddingstyle van NG-lidmate, groepe of bewegings. Iemand se geloofslewe word dus gemeet aan die kriteria wat individue bewustelik of onbewustelik stel. ’n Groter gevaar is selfs die navolging van bepaalde persone! Hierteenoor behoort Christen- gelowiges se lewe eerder ingestel te wees op Christus. Dit bly een van die kernwaarhede van “een heilige algemene Christelike kerk!” ’n Geesvervulde Christen hou die oë gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof – in die woorde van Hebreërs 12. Wanneer die fokus op Christus is, is die wyse waarop my medegelowige God ervaar en aanbid eintlik ’n bysaak.

BIBLIOGRAFIE

Barnard, AC 1981. Die Erediens. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel.

Botha, PJJ 2002. Rabbi Jeshua van Nasaret, 177-195, in: Muller, P (red), Die Nuwe Hervorming. Pretoria: Protea Boekhuis.

Britz, RM 2002. Twee standpunte oor die Skrif … en ’n dilemma vir die NG Kerk. NGTT 43 (3- 4), 354-367.

Charlesworth, JH and Weaver, WP (eds) 2000. Jesus Two Thousand Years Later. (Faith and Scholarship Colloquies). Harrisburg, Pa.: Trinity Press International.

Cilliers, JH 2003. Die verhouding tussen Skrifbeskouing en prediking. NGTT 44 (1-2), 20-28.

Coertzen, P 1991. Gepas en ordelik. ’n Teologiese verantwoording van die orde vir en in die kerk. (RGN Studies in Metodologie). Pretoria: RGN Uitgewers.

Coetzee, J 2004. Ek en die Bybel op soek na die waarheid. Paarl: Paarl Print.

D’Assonville, V 1980. Prediking: Dié krisis van die kerk, 78-86, in: Botha, E, et.al. (reds), Venster op die Kerk. 20 lidmate oor die reformasie van die kerk in die jare 80. Potchefstroom: Instituut vir Reformatoriese Studies.

Deist, F 1986. Kan ons die Bybel dan glo? Pretoria: J.L. van Schaick.

Doubell, FB 2004. Die Bybel steeds in diskussie: ’n dekade later, in: Tolmie, DF (red), Die Woord Verwoord. Artikels oor die Teologie. Eeufeesviering: Universiteit van die Vrystaat (Acta Theologica

Supplementum 6), 31-48. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

Dreyer, DJ 2002. ’n Kerk wat getuig, is ’n kerk wat leef (I). ’n Bybels-teologiese perspektief op die missionêre karakter van die kerk. Verbum et Ecclesia 23 (2), 319-332.

Dreyer, DJ 2004. ’n Kerk wat getuig, is ’n kerk wat leef. ’n Ekklesiologiese perspektief op die missionêre karakter van die kerk. Deel II. Verbum et Ecclesia 25 (2), 423-441.

De Villiers, J 2005. “Gelowig – en welvarender”. Die Beeld, 19 Januarie 2005, p.11.

Du Toit, B 2000. God? Geloof in ’n postmoderne tyd. Bloemfontein: CLF Uitgewers.

Du Toit, D 1980. Erediens: Formaliteit of Fees?, 54-64, in: Botha, E, et.al. (reds), Venster op die Kerk. 20 lidmate oor die reformasie van die kerk in die jare 80. Potchefstroom: Instituut vir Reformatoriese Studies.

Jordaan, W 2002. Jou meditasiemat of my feng shui-bed? Ons eksperiment met alternatiewe vorme van spiritualiteit, 38-62 in: Muller, P (red), Die Nuwe Hervorming. Pretoria: Protea Boekhuis.

Kruger, G 1980. Organisasie ter wille van…?, 169-176, in: Botha, E, et.al. (reds), Venster op die Kerk. 20 lidmate oor die reformasie van die kerk in die jare 80. Potchefstroom: Instituut vir Reformatoriese Studies.

Kuhn, T 1970. The structure of scientific revolution. Chicago: University of Chicago Press.

Lombard, E 1975. Die aard en omvang van die charismatiese beweging, 79-88. Die Kerk se Werk: Kongresreferate van die werkgemeenskap vir Praktiese Teologie 1974-1975. Pretoria: N.H.W.-Pers.

Loots, F (programaanbieder) 2005. “Word die NG Kerk Charismaties?” Paneelbespreking in: “Oop Gesprek” 13 Februarie 2005. Radio RSG.

Malan, M 2005. “NG Kerk kan skeur”. Rapport, 15 Mei 2005, p.1.

Malan, M 2005b. “Dít laat kerke leegloop, sê twee wegbrekers”. Rapport, 15 Mei 2005, p.2.

Meiring, P 1980. Eksklusief of Ekumenies?, 207-215, in: Botha, E, et.al. (reds), Venster op die Kerk. 20 lidmate oor die reformasie van die kerk in die jare 80. Potchefstroom: Instituut vir Reformatoriese Studies.

Naudé, P 2004. Drie maal een is een. ’n Besinning oor God vandag. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Nel, A 2003. Op soek na God…buite die kerk? Wellington: Lux Verbi.BM.

Pieterse, HJC 2003. A profile of the belief in Jesus and salvation among the Afrikaans speaking Christian Youth. HTS 59 (4), 1081-1105.

Potgieter, M 1995. ’n Nuwe Bybelse Lewenswyse. Die Selgemeente. George: Lewensvreugde.

Spangenberg, IJJ 2004. Om oor God te praat: ’n Kritiese oorsig van gesprekke onder Afrikaanssprekende Christene van die gereformeerde tradisie (1998-2003). Verbum et Ecclesia 25 (1), 274-293.

Spangenberg, IJJ 2003. Wat moet ons weet en wat kan ons nog glo? NGTT 44 (1&2), 147-160.

Spangenberg, IJJ 2002. Hoe dink vandag se mense oor die Bybel? Verbum et Ecclesia 23(1), 183- 195.

Spangenberg, IJJ 2000. Die Kerkbode, 18 Aug 2000, 165(4), p.9.

Taizé 2005. Seek and you will find. Questions on the Christian Faith and the Bible. London: Continuum.

Van der Walt, K 1980. Die kerkgebou – werklik Godshuis?, 177-183 in: Botha, E, et.al. (reds), Venster op die Kerk. 20 lidmate oor die reformasie van die kerk in die jare 80. Potchefstroom: Instituut vir Reformatoriese Studies.

Van der Watt, J et.al. 2002. Hoe lees ons die Bybel? Vereeniging: CUM.

Van Zyl, HC 2003. Wat moet ons as Christene nog glo? ’n Persoonlike verantwoording. NGTT 44 (1-2), 185-198.

Wethmar, CJ 2002. Die NG Kerk en Gereformeerdheid: Gestalte en uitdagings. Verbum et Ecclesia 23 (1), 250-256.

Wolmarans, H 2002. Die Nuwe Hervorming, 63-66, in: Muller, P (red), Die Nuwe Hervorming. Pretoria: Protea Boekhuis.

TREFWOORDE

NG Kerk, Identiteitskrisis,Charismaties, Misties, Sinkretisme, Rasionalisme

Prof Gert Steyn
Fakulteit Teologie
Universiteit van Pretoria Pretoria

0002

gert.steyn@up.ac.za