Tolmie, DF
Universiteit van die Vrystaat

Die uitbeelding van Petrus as herder in die Johannesevangelie

ABSTRACT

Peter as Shepherd in the Gospel According to John

In this article the way in which Peter is characterised as shepherd in the Gospel according to John is investigated. Most Johannine scholars accept that Peter’s role as spiritual shepherd is emphasised in John 21. In this article this notion is taken a step further: it is argued that, in the portrayal of Peter, shepherd imagery already plays an important role earlier on in the Gospel, in particular in Chapters 13 and 18. In order to show its significance for understanding the way in which Peter is portrayed in this Gospel, the way in which the characterisation of Peter is developed in this Gospel is considered.

1. INLEIDEND

Sedert die tagtigerjare van die vorige eeu is baie aandag aan die narratologiese benadering tot die Johannesevangelie geskenk. Soos algemeen bekend, word narratologiese analises gedomineer deur ’n fokus op die elemente wat tipies van verhalende literatuur is, byvoorbeeld karakterisering, intrige, situering en die wyse waarop tydsaspekte in ’n verhaal hanteer word. ’n Tipiese raamwerk wat deur eksegete wat narratologiese analises doen, gebruik word, kan as volg voorgestel word:1

ngtt_v47_n3_a29_Page_1.png

Figuur 1: Narratologiese raamwerk

Wanneer ’n mens karakterisering in ’n verhalende teks ondersoek, is daar verskillende procedures wat gevolg kan word,2 maar na my oordeel is die een van die mees bruikbare benaderings die een van Chatman (1978:119-133) omdat dit ’n eenvoudige dog doeltreffende manier is om karakterisering in verhalende tekste te beskryf. Sy vertrekpunt is dat ’n karakter in ’n verhalende teks as ’n versameling van karaktereienskappe omskryf kan word. Onder “karaktereienskap” verstaan hy enige relatiewe stabiele of permanente eienskap wat met ’n bepaalde karakter geassosieer word. Wat gewoonlik in ’n verhaal gebeur, is dat sulke karaktereienskappe ontwikkel word, vervang word of selfs kan verdwyn soos wat die verhaal vorder. In die praktyk beteken dit dat ’n implisiete leser3 elke keer wanneer ’n nuwe karakter in die verhalende wêreld verskyn, ’n nuwe “lys van karaktereienskappe” oopmaak waartoe die karaktereienskappe wat met die bepaalde karakter geassosieer word, gevoeg kan word. Elke keer wanneer die karakter weer genoem word of iets doen of sê, vergelyk die implisiete leser die optrede van die karakter met die karaktereienskappe wat reeds in die lys is. Indien die karaktereienskappe in die lys nie die optrede van die karakter kan verklaar nie, word ’n nuwe karaktereienskap by die lys gevoeg, of, andersins, word ’n bepaalde karaktereienskap wat reeds in die lys, is, herformuleer of selfs vervang met ’n nuwe een.

Ten opsigte van die proses waardeur karaktereienskappe deur die implisiete outeur onthul word,word gewoonlik tussen twee prosesse onderskei, naamlik direkte en indirekte karakterisering.4 In die geval van direkte karakterisering word ’n bepaalde karaktereienskap direk genoem. In die geval van indirekte karakterisering word ’n bepaalde karaktereienskap deur die optrede van die karakter geïllustreer en moet die implisiete leser self die karaktereienskap op grond van die optrede van die karakter formuleer. Indirekte karakterisering geskied gewoonlik deurdat ’n karakter se optrede, taal, uiterlike voorkoms of die situasie waarbinne die karakter voorkom, beskryf word.

Die manier waarop Petrus in die Johannesevangelie gekarakteriseer word, het alreeds heelwat aandag ontvang.5 Daar is veral twee studies wat belangrik is. In sy analise van die wyse waarop Petrus in die Johannesevangelie gekarakteriseer word, wys Alan Culpepper (1983:121-122) daarop dat Petrus, naas Jesus, die mees komplekse karakter in die Johannesevangelie is. Die wyse waarop Petrus gekarakteriseer word, wentel primêr om twee sake, naamlik sy voorbereiding vir die tweeledige taak van herder- en martelaarskap. Na my mening is hierdie analise van Culpepper nog steeds een van die akkuraatste opsommings van die manier waarop Petrus in die Johannes- evangelie uitgebeeld word.

In ’n meer onlangse studie het Timothy Wiarda (2000:117-118) die wyse waarop Petrus in al vier die Evangelies gekarakteriseer word, ondersoek. Die lys van karaktereienskappe wat hy ten opsigte van Petrus in die Johannesevangelie opstel, lyk as volg:

1. Uitgesprokenheid

2. Kan vinnig inisiatief neem

3. Onbeheerste reaksie/druk gevoelens maklik uit

4. Leier/Kan ander mense beïnvloed

5. Bied weerstand op grond van lojaliteit teenoor iemand

6. Begeerte om Jesus te eer/dien

7. Begeerte om lojaal aan Jesus te wees

8. Moed

9. Hou nie daarvan dat sy liefde vir Jesus bevraagteken word nie

10. Hou daarvan om sy lot met ander s’n te vergelyk

As ’n mens Culpepper se bevinding dat die karakterisering van Petrus primêr te doen het met Petrus se voorbereiding vir sy dubbele taak as herder en martelaar kombineer met die lys van karaktereienskappe wat met hierdie karakter in die Johannesevangelie geassosieer word, het ’n mens ’n uitstekende greep op die manier waarop Petrus in die Johannesevangelie uitgebeeld word. Dit is dus nie die oogmerk van hierdie artikel om dit wat Culpepper en Wiarda gedoen het, weer oor te doen nie. Daar is egter twee aspekte wat myns insiens nog nie genoeg aandag gekry het nie; nie in die studies van Culpepper en Wiarda nie en ook nie in die ander studies oor die uitbeelding van Petrus in die Johannesevangelie nie. Dit is die oogmerk van hierdie artikel om op hierdie twee aspekte te fokus. Die eerste aspek het te doen met wat ’n mens die dinamiese proses waardeur Petrus in die Johannesevangelie gekarakteriseer word, kan noem. Hierdie aspek word in afdeling

2 volledig ondersoek. Die ander aspek wat ondersoek sal word, is die manier waarop herdermetaforiek deur die implisiete outeur in die karakterisering van Petrus gebruik word. In hierdie artikel sal die hipotese beredeneer word dat herderbeeldspraak nie net in hoofstuk 21 voorkom nie, maar dat dit alreeds vroeër in die Evangelie ’n belangrike rol speel. Hierdie aspek word in afdeling 3 bespreek.

2. ’N EERSTE LEES VAN DIE KARAKTERISERING VAN PETRUS IN DIE JOHANNESEVANGELIE

’n Mens kan op twee maniere na die karakterisering van ’n karakter in ’n verhalende teks kyk. Die eerste manier kan as ’n statiese perspektief beskryf word aangesien dit ’n geheelperspektief op ’n karakter bied sonder om aandag te gee aan die proses waardeur die karaktereienskappe onthul word. Dit fokus dus op die volledige prentjie van ’n bepaalde karakter soos wat die implisiete leser dit aan die einde van die verhaal het. In die geval van die karakterisering van Petrus, sou ’n mens die lys wat deur Wiarda opgestel is en wat in die vorige afdeling uitgelig is, as só ’n statiese perspektief op die karakterisering van Petrus kon tipeer. In die geval van ’n statiese perspektief is die primêre oogmerk om ’n volledige lys van al die karaktereienskappe wat met ’n bepaalde karakter geassosieer word, op te stel, en, miskien, as sekondêre oogmerk, om die relatiewe gewig van die verskillende karaktereienskappe te bespreek.

In die geval van ’n dinamiese perspektief stel ’n mens in presies dieselfde karaktereienskappe belang as wat vanuit ’n statiese perspektief belangrik is, maar daar is ’n addisionele dimensie wat bykom, naamlik ’n fokus op die proses waardeur hierdie karaktereienskappe stap vir stap onthul word soos wat die verhaal vorder. Om hierdie aspek te ondersoek, moet ’n mens dus die verhaal episode vir episode ondersoek – nie net om te bepaal watter karaktereienskappe onthul word nie, maar ook om te bepaal of daar enige patroon of ontwikkeling in die proses van karakterisering is. So ver ek kon vasstel, is só ’n benadering nog nie op die karakterisering van Petrus in die Johannesevangelie toegepas nie. Dit sal in hierdie afdeling gedoen word.

Petrus word vir die eerste keer in 1:40-42 genoem as sy roeping as dissipel vertel word: Andreas, een van die eerste twee dissipels wat Jesus gevolg het, kry sy broer Simon en vertel vir hom dat hulle die Messias gevind het. Andreas bring dan vir Simon na Jesus toe wat hom aankyk en vir hom sê dat hy “Simon, seun van Johannes” is, maar dat hy “Sefas” genoem sal word – wat dan deur die verteller as “Petrus” vertaal word. Vanuit ’n narratologiese perspektief is daar twee sake wat beklemtoon moet word. Eerstens is dit duidelik dat hierdie gebeurtenis as ’n verdere karakterisering van Jesus se uniekheid dien: Hy ken vir Petrus sonder dat Hy hom vantevore ontmoet het. Tweedens is die gebeure ook belangrik vir die karakterisering van Petrus. Soos ek hierbo aangedui het, sodra ’n nuwe karakter in die verhaalwêreld voorkom, word ’n nuwe lys van karaktereienskappe vir daardie karakter oopgemaak. In die geval van Petrus gebeur daar iets besonders wanneer hy die eerste keer genoem word: die heel eerste keer wat dié karakter ter sprake kom, gebruik die implisiete outeur die Protagonis – wie se identiteit as Logos en Seun van God reeds bo enige twyfel in die verhaal bevestig is en wie se beskouinge die implisiete leser sonder twyfel as geloofwaardig sal beskou – om die karakterisering van Petrus in ’n bepaalde rigting te stuur. As ’n mens in gedagte hou hoe belangrik die gee van name in die antieke wêreld was, besef ’n mens dat die nuwe naam wat Petrus kry, bedoel is om die implisiete leser se aandag te vestig op die belangrike rol wat hy in die toekoms sal speel.6 Hy sal ’n rots wees; hy is as ’t ware “Simon Rots”, (in Engels) “Simon Rocky”7 of (in Duits) “Simon Fels” (Cullmann 1970:21). Die feit dat Jesus vir Petrus ’n nuwe naam gee, skep dus by die implisiete leser die verwagting dat Petrus in die verhaalwêreld op ’n manier sal optree wat sal pas by die nuwe naam wat hy ontvang.8 Myns insiens kan ’n mens die gedagte wat die implisiete outeur deur hierdie gebeure aan die implisiete leser probeer kommunikeer, as volg formuleer: “Hou hierdie karakter dop! Hy sal ’n belangrike rol in die res van die verhaal speel. Jesus het dit self gesê toe Hy hom die eerste keer gesien het.” Soos wat die verhaal ontvou, sal dit egter vir die implisiete leser duidelik word dat Petrus se optrede nog glad nie die van ’n “rots” is nie (Busse 2002:83). In hierdie stadium in die verhaal besef die implisiete leser dit egter nog nie. Die volgende keer wanneer hierdie karakter onder die implisiete leser se aandag gebring word, lyk dit asof hy inderdaad voldoen aan die verwagting wat in 1:42 geskep is, want dan speel hy die rol van ’n lojale woordvoerder (Koester 1995:71). In 6:60-71 word vertel hoe baie van Jesus se dissipels Hom verlaat omdat hulle nie verder bereid is om die dinge wat Hy sê, te aanvaar nie. As Jesus dan vir die dissipels vra of hulle nie ook wil weggaan nie, word Petrus uitgebeeld as die woordvoerder van die twaalf wat namens hulle sê: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. Ons glo en weet dat U die Heilige van God is.” Petrus, die karakter wat self ’n nuwe naam van Jesus ontvang het, gebruik nou self ’n unieke naam vir Jesus, naamlik “die Heilige van God”9. Wanneer ’n mens hierdie gebeure vanuit die oogpunt van die karakterisering van Petrus bekyk, blyk dit dat dit ’n voorbeeld van indirekte karakterisering deur middel van gedrag is. Dit is veral die kontras tussen die dissipels wat vir Jesus in die steek laat en die twaalf wat aan Jesus lojaal bly, wat opvallend is. Teen hierdie agtergrond word Petrus gekarakteriseer as die een wat die “Loyalitätserklärung” (aldus Wrede; kyk Busse 2002:151) namens homself en die ander dissipels formuleer.

Die prentjie wat die implisiete leser dus van Petrus aan die einde van hoofstuk 6 het, is nog steeds positief. In hoofstuk 13 verander die situasie egter heeltemal. In hierdie hoofstuk (wat handel oor die gebeure die aand voor die kruisiging) val die fokus drie keer op Petrus en elke keer word (’n) negatiewe karaktereienskap(pe) onthul.

In 13:6-11 gebruik die implisiete outeur indirekte karakterisering om drie karaktereienskappe van Petrus uit te lig. Eerstens skep Petrus se optrede nog steeds die indruk dat hy as die woordvoerder van die dissipels optree aangesien hy openlik beswaar maak oor die feit dat Jesus hulle voete was (Koester 1995:72). Alhoewel dit nie uitdruklik gesê word nie, is die indruk wat geskep word dat die ander dissipels ook ongemaklik gevoel het oor wat Jesus besig was om te doen. Verder word twee nuwe karaktereienskappe ook onthul. Die een kan beskryf word as ’n “onvermoë om Jesus te verstaan”. Dit word geïllustreer deur die feit dat Jesus en Petrus op twee verskillende vlakke oor die voetwassing praat. Die ander karaktereienskap kan as “impulsiwiteit”10 beskryf word. Hierdie karaktereienskap word geïllustreer deur die feit dat Petrus vir Jesus vra om nie net sy voete te was nie, maar ook sy hande en sy kop.

In 13:31-25 word Petrus weer genoem. Wanneer eksegete hierdie verse ondersoek, laat val hulle gewoonlik die klem op die wyse waarop die Geliefde Dissipel gekarakteriseer word, maar ’n mens moenie die feit miskyk dat hierdie verse ook belangrik vir die karakterisering van Petrus is nie. As ’n mens hierdie verse lees teen die agtergrond van alles wat reeds tot sover oor Petrus in die Johannesevangelie gesê is, is daar een ontwikkeling wat baie belangrik is, naamlik die feit dat Petrus se funksie as woordvoerder nou tot ’n mate gerelativeer word. Die implisiete leser word ingelig dat daar ’n ander dissipel is wat eintlik baie nader as Petrus aan Jesus staan. Daardie dissipel word nie net met die eretitel “die dissipel vir wie Jesus lief was” beskryf nie, maar word tydens hierdie besondere aand in Jesus se lewe fisies baie nader aan Jesus gesitueer as Petrus; letterlik “in sy boesem” – met al die simboliese ondertone wat met hierdie uitdrukking gepaard gaan (sien 1:18). Hierdie indruk word verder deur Petrus se eie optrede ondersteun. Hy, wat tot sover reeds twee keer uitgebeeld is as die een wat as die woordvoerder van die dissipels optree, moet nou iemand anders wat fisies en simbolies nader aan Jesus gesitueer word, gebruik om die dissipels se onsekerheid (sien vers 22) onder Jesus se aandag te bring. Die woordvoerder het ’n ander woordvoerder nodig!

In 13:36-38 word die twee karaktereienskappe wat in 13:6-11 onthul is, weer deur Petrus se optrede geïllustreer (indirekte karakterisering). Deurdat Petrus die plek waarheen Jesus op pad is, uitsluitlik in fisiese terme verstaan, illustreer hy weer sy onvermoë om Jesus te begryp. Die ander karaktereienskap, sy impulsiwiteit, word ook weer geïllustreer deurdat hy verklaar dat Jesus glad nie rede het om te dink dat hy nie in staat is om Hom te volg nie, aangesien hy inderdaad bereid is om sy lewe vir Hom af te lê. Die belangrikste ontwikkeling in Petrus se karakterisering in hierdie gedeelte is egter die tweeledige voorspelling wat Jesus maak. In vers 36 sê Jesus vir Petrus dat hy (anders as die Jode; kyk 7:34 en 8:21) Hom wel later sal volg. In vers 38 volg die tweede voorspelling: “Voorwaar, Ek sê vir jou, voor die haan kraai, sal jy my drie keer verloën het.” Dit is belangrik om raak te sien dat hierdie twee voorspellings in ’n sekere sin die gebeure van 1:42 herhaal. Hier – soos daar – gebruik die implisiete outeur die Protagonis wie se betroubaarheid vasstaan, om Petrus se toekomstige optrede te voorspel. In hierdie geval is ’n deel van die voorspelling egter besonder negatief, want Jesus sê dat Petrus Hom drie maal sal verloën.

In hoofstuk 13 het die karakterisering van Petrus ’n negatiewe wending geneem. Wat volg, is egter erger. Wanneer Jesus gearresteer word (18:1-11), val Petrus die slaaf van die hoëpriester aan en kap sy regteroor af (indirekte karakterisering). Alhoewel ’n mens moontlik hierdie optrede van Petrus as ’n daad van besondere moed of selfs as selfverdediging kan interpreteer,11 sorg die implisiete outeur dat daar by die implisiete leser geen onduidelikheid kan wees nie, want Jesus berispe vir Petrus: “Sit jou swaard terug in die skede. Moet Ek nie die beker drink wat die Vader vir My gegee het nie?” Petrus se optrede word dus geïnterpreteer as ’n poging om Jesus te verhoed om aan die Vader gehoorsaam te wees.

Kort hierna word Jesus se tweede voorspelling (13:38) waar. Petrus faal jammerlik (18:17; 18:25 en 18:26-27a) en ontken drie keer dat hy een van Jesus se volgelinge is. Twee keer gebruik hy selfs die uitdrukking oujk eijmiv.

In 20:1-8 gaan rapporteer Maria Magdalena aan Petrus en aan die Geliefde Dissipel dat Jesus se graf leeg is. Dit laat dié twee dissipels dadelik na Jesus se graf toe hardloop. Watter bydrae lewer die gebeure wat hierna afspeel, ten opsigte van die karakterisering van Petrus?

Aan die een kant lyk dit asof die implisiete outeur nog steeds voortgaan om die leiersrol wat Petrus onder die dissipels vervul, te beklemtoon deurdat hy eerste genoem word, vóór die Geliefde Dissipel (vers 2). Verder word dit eksplisiet genoem dat Petrus eerste in die graf ingegaan het alhoewel die Geliefde Dissipel eerste by die graf aangekom het. ’n Mens sou dit kon interpreteer as ’n aanduiding dat hy nog steeds ’n leierskapsrol onder die dissipels vervul.

Aan die ander kant kry ’n mens weer ’n vergelyking tussen Petrus en die Geliefde Dissipel soos wat in 13:24 gebeur het. In hierdie geval is daar twee aspekte in die gebeure wat só geïnterpreteer kan word. Eerstens word gesê dat die Geliefde Dissipel vinniger as Petrus gehardloop het en eerste by Jesus se graf aangekom het. Dit is wel moontlik dat daar niks simbolies hierin gesien moet word nie, maar die feit dat dit twee keer genoem word (verse 4 en 8), wys dat dit vir die implisiete outeur belangrik is. ’n Mens kan dit dus nie as iets onbeduidends interpreteer nie. Die tweede aspek is duideliker. Terwyl Petrus in die graf ingaan en die grafdoeke sien, word spesifiek gesê dat die Lieflingdissipel gesien en geglo het. Volgens die Johannesevangelie is die Geliefde Dissipel – en nie Petrus nie – dus die eerste dissipel wat tot opstandingsgeloof kom.12

Hoe moet die karakterisering van Petrus in 20:1-10 verstaan word teen die agtergrond van die wyse waarop hy tot sover in die verhaal uitgebeeld is? Soos ek hierbo aangedui het, is die gebeure in hoofstuk 18 die laagtepunt in die karakterisering van Petrus in die Johannesevangelie. Daarteenoor funksioneer die karakterisering in 20:1-10 as ’n korrektief: alhoewel Petrus Jesus verloën het en ook nie goed vergelyk met die Geliefde Dissipel nie (wat die enigste dissipel is wat Jesus tot by die kruis gevolg het en wat sowel gesien as geglo het toe hy in Jesus se graf ingegaan het), word Petrus nogtans steeds gekarakteriseer as iemand wat ’n leidende rol onder die dissipels speel.

In hoofstuk 21 is daar twee belangrike ontwikkelings in die karakterisering van Petrus. Die eerste kan in verse 5vv. gesien word waar Petrus indirek deur sy optrede gekarakteriseer word: nadat die Geliefde Dissipel Jesus geïdentifiseer het, “omgord” Petrus sy bokleed (τόν έπενδντην διεζσατο), spring in die see en swem kant toe. Die feit dat Petrus sy bokleed omgord, is al op verskillende maniere geïnterpreteer, byvoorbeeld dat dit bedoel is as ’n teken van respek vir Jesus (Wiarda 2000:111, voetnoot 145); dat groet as ’n godsdienstige handeling beskou is en dat ’n mens dit nie sonder klere kon doen nie (Barrett 1978:580); en dat Petrus sy klere omgord het sodat hy makliker kon swem (Brown 1984:1072). Na my mening is Busse (2002:288) se interpretasie egter die oortuigendste. Hy wys daarop dat die uitdrukking wat gebruik word (“omgord”), deur antieke lesers verstaan sou word as ’n aanduiding van Petrus se “Arbeitsbereitschaft”. Indien ’n mens dít besef, is dit duidelik dat Petrus se optrede geïnterpreteer moet word as ’n vorm van indirekte karakterisering met die bedoeling om aan te dui dat hy nog steeds bereid is om vir Jesus te werk. Hierdie interpretasie word verder ondersteun deur die feit dat hy later in die boot klim en die net met die 153 visse op die land uitsleep. As ’n mens dit wat hier gebeur, lees teen die wyse waarop die karakterisering van Petrus tot dusver in die Johannesevangelie ontwikkel het, is die betekenis daarvan duidelik: nadat hy ontken het dat hy ’n volgeling van Jesus is, nadat hy by Jesus se leë graf was (sonder om die ware betekenis daarvan te begryp), nadat hy (saam met die ander dissipels) die opgestane Jesus twee keer gesien het (Johannes 20), en nadat hy saam met die ander dissipels deur Jesus uitgestuur is (20:21), toon hy nou – die derde keer dat hy die opgestane Jesus ontmoet – sy bereidwilligheid om vir Jesus te werk. Deur middel van hierdie indirekte karakterisering berei die implisiete outeur die implisiete leser voor vir dit wat in verse 15-19 voorlê.

In Johannes 21:15-19 is daar ’n verdere belangrike ontwikkeling deurdat die dialoog tussen Jesus en Petrus deur herdermetaforiek oorheers word.13 Hierdie aspek is alreeds deur baie eksegete uitgelig14 en daarom is dit nie nodig om dit weer hier volledig te bespreek nie. Ek wys bloot daarop dat die implisiete outeur hier wys hoe Jesus, die Goeie Herder, vir Petrus as herder in diens neem van sy (d.w.s. Jesus se) skape. Verder kom die impulsiewe belofte wat Petrus gemaak het, nou weer ter sprake. Petrus sal inderdaad uiteindelik vir Jesus volg en sy lewe vir Jesus aflê.

Samevattend: ’n mens kan die dinamiese proses waardeur Petrus in die Johannesevangelie gekarakteriseer word, opsom as ’n proses bestaande uit drie stappe. (Sien diagram hieronder.) Petrus se karakterisering begin heel positief wanneer hy ’n nuwe naam by Jesus ontvang – ’n naam wat die verwagting skep dat hy ’n belangrike rol in die verhaalwêreld sal vervul. In hoofstuk 6 lyk dit asof hierdie verwagting inderdaad in vervulling gaan as Petrus as woordvoerder vir die dissipels optree en ’n aangrypende geloofsbelydenis verwoord. Hierna kom egter ’n drastiese verandering en is daar ’n duidelike dalende tendens. In hoofstukke 13 en 18 word negatiewe karaktereienskappe van Petrus soos sy impulsiwiteit en onvermoë om Jesus te verstaan, onthul en loop dit uiteindelik op sy verloëning van Jesus uit (die laagtepunt). Hoofstuk 20 bring egter ’n korrektief: alhoewel hy vir Jesus verloën het en nog nie die betekenis van die leë graf begryp nie, word hy nog steeds as leier onder die dissipels geteken. In hoofstuk 21 volg die derde stap: Petrus wys openlik dat hy nog steeds bereid is om vir Jesus te werk en word aangestel as herder van Jesus se skape.

 

ngtt_v47_n3_a29_Page_2.png’n Tweede aspek wat beklemtoon moet word, is die groot mate waartoe die karakterisering van Petrus gedomineer word deur dit wat die Protagonis oor hom sê. Dit gebeur by drie geleenthede:

1. Jesus gee vir hom ’n nuwe naam – iets wat die verwagting skep dat Petrus ’n belangrike rol in die verhaalwêreld gaan speel; 2. Jesus voorspel dat Petrus Hom sal “volg”; 3. Jesus voorspel dat Petrus Hom sal verloën. Van hierdie drie voorspellings is dit slegs die laaste een wat werklik ten volle in die verhaalwêreld ’n werklikheid word. Die eerste een (dat Petrus ’n belangrike rol sal speel) word gedeeltelik in hoofstuk 6 waar, maar word weer deur die gebeure in hoofstukke 13-18 oorskadu. Die tweede voorspelling (dat hy vir Jesus sal “volg”) word ook nie in die verhaalwêreld ’n werklikheid nie, maar dit word in hoofstuk 21 herbevestig as Petrus se dood voorspel word – ’n gebeurtenis wat nog in die toekoms van die verhaalwêreld lê.15 As die gevolg van die feit dat die betroubaarheid van die Protagonis reeds oortuigend in die verhaal bevestig is, sal die implisiete leser ook die betroubaarheid van hierdie twee voorspellings aanvaar.

3. ’N HERLEES VAN DIE KARAKTERISERING VAN PETRUS IN DIE JOHANNES- EVANGELIE

In die analise van die karakterisering van Petrus in die vorige afdeling het dit duidelik geword hoe belangrik herdermetaforiek is. As gevolg van die groot rol wat dié metaforiek in hoofstuk 21 speel, kan ’n mens sê dat die prentjie wat die implisiete leser teen die einde van die verhaal van Petrus het, een van Petrus as geestelike herder is: iemand wat ’n drievoudige herderlike taak van die opgestane Jesus ontvang het, en iemand wat uiteindelik sy lewe vir Jesus sou neerlê.

Teen hierdie agtergrond is daar egter nou ’n verdere aspek wat ondersoek moet word, naamlik of daar ook ander gevalle as hoofstuk 21 is waar herdermetaforiek in die Johannesevangelie gebruik word om Petrus te karakteriseer. Om dit te bepaal, is dit nodig om die karakterisering van Petrus te “herlees”, maar dan spesifiek vanuit die klem wat die herdermetaforiek in hoofstuk 21 ontvang.

Die beste plek om te begin, is hoofstuk 10 waar die metafoor van Jesus as Goeie Herder vir die eerste keer voorkom. Dit vorm deel van ’n komplekse netwerk van metafore, vergelykings en beskrywings (Van der Watt 2000:90; kyk ook 55-92). Vir die doeleindes van hierdie ondersoek is dit veral die belangrike uitspraak oor Jesus se taak as Goeie Herder in vers 10 wat uitgelig moet word:ό ποιην ό καλος την ψνχήν αντοΰ τίθησιν ύπέρ τών προβάτων16 Laat ons nou weer teen hierdie agtergrond na die kort dialoog tussen Jesus en Petrus in hoofstuk 13 kyk:

Image57484.PNG

Dit is belangrik om raak te sien dat Petrus presies dieselfde woorde gebruik om sy gewilligheid om vir Jesus te sterf, uit te druk as wat Jesus gebruik het om Homself as Goeie Herder te beskryf. Dat dit die geval is, is reeds in die verlede deur eksegete raakgesien (byvoorbeeld Barrett 1978:453 en Brown 1984:616), maar dit lyk nie of die implikasie daarvan ten volle begryp is nie. Twee aspekte is belangrik: Eerstens is dit so dat een van die maniere wat die implisiete outeur het om ’n karakter te karakteriseer, spraak is; nie net wat die karakter sê nie, maar ook hoe hy/sy dit sê.17 In hierdie geval kan die feit dat Petrus presies dieselfde uitdrukking as Jesus gebruik dus ’n belangrike rol in sy karakterisering speel. Tweedens, dit mag dalk toevallig wees, maar dit is nietemin opvallend dat dit slegs in die Johannesevangelie is dat Petrus die uitdrukking “ek sal my lewe aflê” gebruik as hy belowe om vir Jesus te sterf. Volgens Markus 14:31 is sy woorde “έαυ δέη με συναποθανειν σοι͵ ου μη ού άπαρνήσομαι͵” volgens Matteus 26:35, “κάν δέη με σύν σοί άποθανεϊν͵ ού μη σε άπαρνήσομαι͵” en volgens Lukas 22:33, “κύριε μετά σοΰ έτοιμοϛ είμι καί ειϛ ϕυλατον πορεύεσθαι”

Hoe moet ’n mens Petrus se woorde in die Johannesevangelie verstaan? Na my mening plaas die implisiete outeur doelbewus hierdie uitdrukking in Petrus se mond om Petrus se belofte aan Jesus se beskrywing van die Goeie Herder te koppel. Op dié manier beeld die implisiete outeur Petrus uit as dat hy homself as ’n goeie herder karakteriseer. Verder lyk dit asof dit ironies bedoel is, met ander woorde Petrus word uitgebeeld as dat hy iets belowe sonder dat hy werklik besef wat hy belowe. Dat dit die geval is, word gesuggereer deur die feit dat hy vroeër in dieselfde hoofstuk uitgebeeld word as iemand wat nie vir Jesus verstaan nie en ook as iemand wat baie impulsief optree. Die feit dat Petrus nie besef wat hy sê nie, beteken egter nie dat die implisiete leser nie begryp wat hy sê nie, want ironie opereer juis op die narratiewe vlak van die implisiete outeur/implisiete leser, dikwels ten koste van die karakter.

Daar is nog ’n saak wat aandag verdien, naamlik die gebruik van die word άκολουθέω in die kort gesprek tussen Jesus en Petrus in 13:36-38.(οπου ύπάγω ού δύνασαι μοι νΰν άκολουθησαι͵άκολουθήσειϛ δέ ϋστερον.)Jesus gebruik dit twee keer in 13:36 en Petrus gebruik dit een keer in 13:37 (κύριε διά τί ου δύναμαι σοι άκολουθη΅σαι άρτι) – net voordat hy beloof om sy lewe vir Jesus neer te lê. Die woord άκολουθέω word dikwels in die Johannesevangelie gebruik18– gewoonlik as ’n woord wat dissipelskap aandui (Barrett 1978:180; Schnackenburg 1967:308). Wat veral vir ons tema belangrik is, is die feit dat hierdie woord ook twee keer in hoofstuk 10 gebruik word as daar gesê word dat die skape van die Goeie Herder Hom volg (10:4, 5); en ook weer later in 10:27 waar Jesus sê dat die skape sy stem hoor en Hom volg. In 12:26 sê Jesus ook dat hulle wat Hom dien, Hom moet volg.

Is dit blote toeval dat ons in άκολουθέω’n tweede voorbeeld het van herdermetaforiek uit hoofstuk 10 wat in 13:36-38 weerklank vind; en, in hierdie geval, ’n uitdrukking wat nie op die gedrag van die herder fokus nie, maar op die gedrag van die skape? Myns insiens nie. Indien 13:36-38 teen die agtergrond van die herdermetaforiek in hoofstuk 10 gelees word, kan ’n mens die kort dialoog as volg interpreteer: In 13:36 vra Petrus vir Jesus waarheen Hy op pad is. Jesus antwoord dat Petrus nie in staat is om Hom in daardie stadium te volg nie, slegs later. As hierdie woorde van Jesus teen die agtergrond van hoofstuk 10 gelees word, word Petrus dus gekarakteriseer as iemand wat nie in staat is om te doen wat die skape van die Goeie Herder doen nie; hy kan nie vir Jesus volg nie. In 13:37 protesteer Petrus: Hoe kan Jesus sê dat hy Hom nie kan volg nie en nie soos ’n skaap van die Goeie Herder kan optree nie? Nee, hy sal selfs beter as dit doen! Hy sal sy lewe vir Jesus aflê! Hy sal Hom nie net volg soos wat die skape van die Goeie Herder doen nie; hy sal self soos ’n goeie herder optree! Jesus reageer daarop deur Petrus se woorde te herhaal (τήν ψυχήν σου ύπέρ έμοΰ θήσειϛ): Jy sê jy sal soos ’n goeie herder optree? Nee, jy sal My drie keer verloën voordat die haan kraai.

As hierdie interpretasie korrek is, word herdermetaforiek alreeds in hoofstuk 13 gebruik om Petrus te karakteriseer, maar in hierdie geval nie in ’n positiewe sin nie. Petrus belowe impulsief dat hy gaan doen wat ’n goeie herder behoort te doen, maar die Protagonis voorspel dat hy dit nie sal kan regkry nie.

Soos hierbo in afdeling 2 gewys is, word Petrus dan in die hoofstuk 18 uitgebeeld as iemand wat heeltemal in sy voorneme om sy lewe vir Jesus te gee, misluk. Speel herdermetaforiek in hierdie hoofstuk ook ’n rol? Stibbe (1992:96-105) beweer dat dit wel die geval is. Hy beklemtoon die feit dat herdermetaforiek in Johannes 18:1-27 gebruik word en som selfs hierdie hele gedeelte op as “die arrestasie van die Herder”. Hy wys ook op verskeie narratiewe “eggo’s” uit hoofstuk 10 wat in 18:1-27 voorkom (Stibbe 1992:103). In die geval van 18:1-11 lig hy die volgende uit: 1. Soortgelyke narratiewe situerings aangesien die gebeure in 18:1-11 afspeel in en rondom ’n gebied wat deur ’n muur omring is en dit in die donker plaasvind; 2. Dat Judas se koms na die tuin ooreenstem met die koms van die κλεπτήϛ in Johannes 10; 3. Dat Jesus se beskermende optrede teenoor die dissipels ooreenstem met die optrede van die Goeie Herder in Johannes 10; 4. Dat Johannes 10 alreeds die lydensgebeure antisipeer omdat dit klem plaas op die feit dat die Goeie Herder sy lewe vir sy skape neerlê.

In die geval van 18:15-27 lig Stibbe drie aspekte uit wat ’n mens aan Johannes 10 herinner: 1. Dat die binnehof van die hoëpriester deur dieselfde woord beskryf word as wat vir die skaapkraal gebruik word (αύλή); 2. Dat die θυρωρόϛ by die ingang van Annas se binnehof ’n mens herinner aan die θυρωρόϛ by die ingang van die skaapkraal in 10:3; 3. Dat die onbekende dissipel in en uit die αύλή gaan, net soos die Goeie Herder.

Dit is moontlik dat Stibbe te veel in Johannes 18 inlees, maar selfs al is al die detailaspekte van sy analise nie korrek nie, is die basiese strekking van sy argument wel oortuigend. ’n Mens kan nie ontken dat hoofstuk 10 die verwagting skep dat Jesus as Goeie Herder sy lewe vir sy skape gaan aflê nie. As die gebeure in hoofstuk 18 ooglopend in hierdie rigting begin ontwikkel, sou dit net logies wees dat die implisiete leser die kragtige metafoor van hoofstuk 10 sal onthou en dit wat met Jesus gebeur, in terme van dié metafoor interpreteer. As dit waar is van Jesus, sal dit ook waar wees van Petrus. Hy het ook (onbewustelik) belowe om soos ’n goeie herder op te tree en sy lewe vir Jesus af te lê. Wat gebeur egter? Die eerste keer wat hy die geleentheid kry om sy belofte gestand te doen, misluk hy. Hy tree as ’t ware soos ’n slegte herder op!

Later, in 18:15, word Petrus en die ander dissipel wel uitgebeeld waar hulle Jesus volg – die gedrag wat van die skape van die Goeie Herder verwag word. In die geval van Petrus is dit egter die enigste positiewe uitspraak in hierdie hoofstuk. Later verloën hy drie keer vir Jesus, op die oog af omdat hy vir sy lewe vrees. Dus is die dominante beeld wat in hoofstuk 18 van Petrus geskep word, nie een van iemand wat bereid is om sy lewe vir Jesus te gee nie, maar van iemand wat besig is om vir sy eie lewe te veg. Indien my voorstel korrek is en ons sowel die karakterisering van Jesus as van Petrus teen die agtergrond van hoofstuk 10 moet lees, is die kontras opvallend: Jesus is besig om soos ’n goeie herder op te tree, maar Petrus doen dit nie.

’n Laaste gedagte. In die vorige afdeling is reeds daarop gewys dat Petrus in hoofstuk 21 die rol van ’n herder ontvang – met die volle konsekwensies van wat dit behels, waarvan die belangrikste is dat hy sy lewe sal moet aflê. Daar is egter nog een aspek wat beklemtoon moet word en dit is Jesus se laaste woorde aan Petrus in die verhaalwêreld van die Johannesevangelie. In vers 19 roep Jesus hom op:“άκολούθει μοι”. In vers 22 sê Hy weer συ μοι άκολούθει vir hom: “ άκολουθέω.” Is dit toevallig dat dit juis weer die woord is wat gebruik word? Myns insiens nie. Dit dui die enigste manier aan waarop Petrus dit sal kan regkry om ’n herder vir Jesus se skape te wees. Hy, wat reeds een keer as herder misluk het, sal slegs ’n sukses as herder kan maak as hy sal doen wat van die skape van die Goeie Herder verwag word: om die Goeie Herder te volg.

BIBLIOGRAFIE

Barrett, CK 1978. The Gospel according to St John. An introduction with commentary and notes on the Greek text. London: SPCK. (Tweede uitgawe.)

Brown, RE 1984. The Gospel according to John. London: Geoffrey Chapman. Anchor Bible.

Brown, RE, Donfried KP & Reuman, J 1973. Peter in the New Testament. A collaborative assessment by Protestant and Roman Catholic scholars. London: Geoffrey Chapman.

Bultmann, R 1978. Das Evangelium des Johannes. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht. KEK.

Busse, U 2002. Das Johannesevangelium. Bildlichkeit, Diskurs und Ritual. Leuven: Uitgeverij Peeters, 2002. BETL 167.

Chatman, S 1978. Story and discourse. Narrative structure in fiction and film. Ithaca: Cornell University Press.

Collins, RF 1990. These things have been written. Studies on the Fourth Gospel. Louvain: Peeters Press. LTPM 2.

Cullmann, O 1970. Petrus. Jünger – Apostel – Märtyrer. Das historische und das theologische Petrusproblem. Zürich: Theologischer Verlag.

Culpepper, RA 1983. Anatomy of the Fourth Gospel. A study in literary design. Philadelphia: Fortress.

Diefenbach M 1998. Ökumenische Probleme infolge johanneischer Auslegung. Eine wirkungs- und rezeptionsgeschichtliche Betrachtung des johanneischen Petrusbildes. Catholica 52 (1), 44-66.

Doering, L 2002. Schwerpunkte und Tendenzen der neueren Petrusforschung. BThZ 19, 203-223.

Koester, CR 1995. Symbolism in the Fourth Gospel. Meaning, mystery, community. Minneapolis: Fortress.

Moloney, FJ 1993. Belief in the Word. Reading John 1-4. Minneapolis: Fortress.

Moloney, FJ 1998. Glory not dishonour. Reading John 13-21. Minneapolis: Fortress.

Resseguie, JL 2001. The strange Gospel. Narrative design and point of view in John. Leiden: Brill, 2001. BIS 56.

Rimmon-Kenan, S 1983. Narrative fiction. Contemporary poetics. London: Methuen.

Schnackenburg, R 1967. Das Johannesevangelium. 1. Teil. Freiburg: Herder. HTKNT.

Schnackenburg, R 1971. Das Johannesevangelium. 2. Teil. Freiburg: Herder. HTKNT.

Schnackenburg, R 1975. Das Johannesevangelium. 3. Teil. Freiburg: Herder. HTKNT.

Staley, JL 1988. The print’s first kiss: a rhetorical investigation of the implied reader in the Fourth Gospel. Atlanta: Scholars Press.

Stibbe, MWG 1992. John as storyteller. Narrative Criticism and the Fourth Gospel. Cambridge: Cambridge University Press. SNTS.MS 73.

Thyen, H 1991. Johannes 10 im Kontext des Vierten Evangeliums, in Beutler, J & Fortna, RT (eds), The Shepherd Discourse of John 10 and its context, 116-134. Cambridge: Cambridge University Press. SNTS.MS 67.

Tolmie, DF 1999. Narratology and Biblical narratives: a practical guide. San Francisco: International Scholars Publications.

Tolmie, DF 2004. Die impak van metodologie op die verstaan van die Nuwe Testament, in Tolmie, DF (red), Die Woord verwoord. Artikels oor die Teologie. Eeufeesviering: Universiteit van die Vrystaat, 157- 182. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat. Acta Theologica Supplementum 6.

Van der Watt, JG 2000. Family of the King. Dynamics of metaphor in the Gospel according to John. Brill: Leiden, 2000. BIS 47.

Wiarda, T 2000. Peter in the Gospels. Pattern, personality and relationship. Tübingen: Mohr Siebeck. WUNT 2.127.

TREFWOORDE

Johannesevangelie, Narratologie ,Karakterisering, Petrus ,Metafoor, Herder

KEY WORDS

Gospel according to John, Narratology, Characterisation,Peter, Metaphor, Shepherd

Prof DF Tolmie

Fakulteit Teologie,
Universiteit van die Vrystaat
Posbus 339

BLOEMFONTEIN

9300

1 Gebaseer op Chatman (1978:147); effens aangepas.

2 Vir ’n meer gedetailleerde oorsig van wat volg, kyk Tolmie (1999:39-61); asook Wiarda (2000:65-71).

3 Die begrippe “implisiete outeur” en “implisiete leser” word nie altyd op dieselfde manier in narrato- logiese studies gebruik nie. Daarom is dit nodig om aan te dui hoe dit in hierdie artikel gebruik word. Op voetspoor van Staley (1988:34) word beide begrippe primêr tekstueel verstaan. Met “implisiete outeur” word die organiserende beginsel in die teks bedoel – dit wat verantwoordelik is vir die totale organisasie van al die narratiewe elemente in die teks. Die “implisiete leser” is die intra-tekstuele literêre konstruk wat as die teenpool van die implisiete outeur funksioneer, maar wat temporeel beperk is in die sin dat dit as’t ware episode vir episode “ontwikkel” soos wat die verhaal vorder. Dit gaan dus oor twee perspektiewe op die verhaal, naamlik die verhaal as oorkoepelende geïntegreerde geheel en die verhaal soos wat dit temporeel, episode vir episode, ontvou. Staley (1988:34) verduidelik die verskil as volg: While the implied author knows the text forward and backward, the implied reader only has knowledge of what has been read up to the given moment. It is thus encoded in the unidirectional, forward movement of the text, and as such, does not know what word comes next in the text, nor does it stop reading until the narrative is ended. Although the implied reader has a perfect knowledge and memory of what has been read, it is nevertheless limited by its temporal status.

4 Vir ’n meer volledige oorsig van wat volg, kyk Rimmon-Kenan (1983:50-67).

5 Vir goeie oorsigte van navorsing oor Petrus in die Nuwe Testament, kyk Doering (2002:203-223) en Diefenbach (1998:51-64).

6 Vir meer volledige bespreking van hierdie aspek, kyk Cullmann (1970:21), Brown (1984:80) en Schnackenburg (1967:311).

7 Pevtro word gewoonlik tereg geïnterpreteer as ’n bynaam wat ’n ruwe of sterk karakter aandui. Kyk byvoorbeeld Brown et al. (1973:90, voetnoot 10). Hulle wys ook op Judas Makkabeus as ’n soortgelyke voorbeeld: “Makkabeus” het “soos ’n hamer” beteken

8 Moloney (1993:69) stel dit as volg: “Something will happen to Simon. For the moment it must wait, a chord struck, but left with the reader.”

9 Kyk Resseguie (2001:151). Soos Schnackenburg (1971:111) tereg aandui, kan ’n mens aanvaar dat die titel wat Petrus hier gebruik om Jesus te benoem, aandui dat Jesus deel het aan God se wese en dat daar ’n besondere noue band tussen hulle is.

10 Resseguie (2001:152) verkies om te praat van “over-zealousness” in plaas van “impulsiwiteit”: His is an active discipleship that becomes over-active – not unlike the religious leaders who have a propensity for over-zealousness. (Resseguie se beklemtoning.)

11 Wiarda (2000:110) bied ’n goeie interpretasie van Petrus se optrede:Through his individual action in striking the high priest’s servant Peter displays quick initiative, readiness to defend Jesus through violence, a measure of courage, misunderstanding of Jesus’ mission to lay down his life, and resistance to Jesus’ express wishes in the name of loyalty. (Wiarda se beklemtoning.)

12 Vir ’n soortgelyke interpretasie, kyk onder andere Brown et al. (1973:137-138); Collins (1990:40-41); Moloney (1998:162-163) en Resseguie (2001:154). Vers 9 is wel problematies, maar dit is beter om dit te interpreteer as ’n manier om die insig van die Geliefde Dissipel te beklemtoon (Brown et al. 1973:138, voetnoot 295) as om dit te interpreteer as ’n aanduiding dat Petrus ook geglo het. Kyk Busse (2002:253): Er konnte zwar die Zeichen Jesu (vgl. 2,11 mit 9,37f.) lesen, aber sie solange nicht angemessen deuten sowie mit Hilfe der Schrift voll substanziiert und qualifiziert bekennen (vgl. 1,35-51; 4,39-42; 9,35-39; 11,25-27), bis der Auferstehungsproze_ selbst endgültig abgeschlossen war. (Busse se beklemtoning.)

13 Let veral op die manier hoe Jesus Petrus se taak verwoord: boske ta arnia mou (verse 15), poimaine ta probata mou (verse 16), en boske ta probata mou (verse 17)

14 Kyk byvoorbeeld Bultmann (1978:550-555) en Schnackenburg (1975:429-438). Busse (2002:267) bied ’n goeie interpretasie van die gebeure: Die drei Fragen des Auferstandenen ... zielen darauf ab, Petrus seine schäbige Tat bereuen zu lassen, damit er auf diese Weise rehabilitiert, von Jesus beauftragt werden kann, dessen Herde (10,1-18.26-28) an seiner Stelle sein Leben lang zu hüten. Die Funktion des Hirten wird Petrus mit allen Konsequenzen, die Jesus in Kap. 10 schon für sich reklamiert hatte, übernehmen müssen. Denn der Auferstandene sagt ihm seinen zukünftigen Märtyretod im hohen Alter in kaum verschlüsselter Form an.

15 Die feit dat Jesus in hoofstuk 21 vir Petrus op dieselfde manier aanspreek as in 1:42 (1:42: Sivmwn o uio jIwavnnou; 21:15-16: Sivmwn jIwavnno ) dien as ’n teken aan die implisiete leser dat die gebeure in hoofstuk 21 verband hou met Petrus se roeping in 1:42. Kyk Resseguie (2001:154)

16 Volgens Thyen (1991:130) is hierdie uitspraak die oorheersende tema in hierdie hoofstuk.

17 Kyk byvoorbeeld Rimmon-Kenan (1983:63) wat dit as volg verduidelik: A character’s speech, whether in conversation or as silent activity of the mind, can be indicative of a trait or traits both through its content and through its form.

18 Dit word gebruik 1:37, 38, 40, 43; 6:2; 8:12; 10:4, 5, 27; 11:31; 12:26; 13:36 (twee keer), 37; 18:15; 20:6; en 21:19, 20, 22.