Dit is die eerste uitgawe van die NGTT vir 2003. Soos in die verlede bevat ook hierdie uitgawe ’n groot aantal artikels van hoogstaande gehalte. Dit is verblydend dat daar ook artikels met ’n teologiese strekking uit ander dissiplines soos die Opvoedkunde en die Musiekwetenskap is. In hierdie uitgawe is daar ook ’n artikel van prof Isak Spangenberg oor die Nuwe Hervorming (Wat moet ons weet en wat kan ons nog glo?) asook ’n reaksie van prof Hermie van Zyl (Wat moet ons as Christene nog glo?). Hierdie twee artikels word geplaas onder meer vanweë die aktualiteit van die debat oor die Nuwe Hervorming en om eerstehandse inligting ter tafel te kry. By die boekresensies verskyn daar ’n resensie deur prof Conrad Wethmar van die boek van Piet Muller (red), naamlik Die Nuwe Hervorming.
Die Andrew Murray-prysfonds het vanjaar vir die eerste keer óók ’n toekenning gemaak vir die beste artikel uit ’n teologiese tydskrif in Suid-Afrika. Die paneel beoordelaars was buitelandse teoloë. Dit is vir die Redaksie baie aangenaam om aan te kondig dat ’n artikel wat in die NGTT verskyn het die wenner van vanjaar se prys is, te wete die artikel van Dirkie Smit In die diens van die tale Kanaäns? Oor Sistematiese Teologie vandag wat in die uitgawe van Maart & Junie 2002 verskyn het. Dit was prof Smit se intreerede aan die Fakulteit Teologie. Baie geluk aan prof Smit. Mag hierdie ontwikkeling in die Andrew Murray-prysfonds as aansporing dien vir almal wat bydraes tot teologiese tydskrifte in ons land lewer.
By die Teologiese Fakulteit van die Vrystaatse Universiteit tree prof Pieter Potgieter eersdaags af nadat hy reeds vanaf einde Desember 2002 die dekaanspos ontruim het en met verlof is. Prof Hermie van Zyl het hom opgevolg as dekaan. Prof Potgieter was ’n gereelde skrywer in die NGTT en ook ’n sterk leier in die NG Kerk. Aan die einde van Maart vanjaar het proff Flip Theron en J C (Hannes) Adonis as dosente onderskeidelik in Sistematiese Teologie en Ekklesiologie aan die Kweekskool afgetree. By die Fakulteit in Pretoria het prof Dons Kritzinger ook in hierdie dae afgetree. Al hierdie kollegas was ook gereelde skrywers in die NGTT en baie aktief in hulle onderskeie kerkverbande. Vir al die kollegas wat afgetree het, bid ons mooi en goeie jare toe vorentoe. Prof Bram van de Beek dra sy artikel in hierdie uitgawe op aan prof Theron. Ook aan Hermie van Zyl bid ons baie sterkte toe met die verantwoordelike taak wat hy nou moet verrig.
By die Kweekskool op Stellenbosch het drr Louis Jonker en David Simon by die dosentegeledere aangesluit in onderskeidelik Ou Testament en Missiologie, terwyl prof Gert Steyn in Pretoria in Nuwe Testament aangestel is. Ons heet graag die kollegas namens die NGTT baie welkom.
Op Sondagoggend 23 Februarie 2003 is dr Willie Brown, die oudste seun van prof en mev Eddie Brown, baie skielik aan ’n hartaanval oorlede. Willie was benewens ’n geliefde leraar in die Monte Vista-gemeente ’n baie aktiewe en produktiewe kerkhistorikus en sy heengaan laat ’n groot leemte. Ons innige meegevoel aan Mariana en hulle kinders, sy ouers en skoonmoeder en sy broers en suster. Mag julle almal die vertroosting van die Heilige Gees op ’n baie besondere wyse ondervind.
In die artikels van prof H A J Kruger oor Jesaja 61 (Dele I en II, in die vorige uitgawe van die tydskrif) het die rekenaar nie die korrekte Hebreeuse lettertipe geselekteer nie. Lesers word versoek om verwysings na Hebreeuse terme in Stuttgartensia na te slaan.
P Coertzen (Redakteur)
Fakulteit Teologie
Universiteit Stellenbosch
Maart 2003