Van der Merwe, CHJ en Basson, CS
Universiteit van Stellenbosch

’n Nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans: ’n teoretiese en praktiese oriëntering

ABSTRACT

A new translation of the Bible in Afrikaans: a theoretical and practical orientation

The aim of this article is to contribute to the development of a justifiable theoretical model for a new translation of the Bible in Afrikaans. It documents the historical starting point and theoretical reflection that underlies the functionalistic model of Christiane Nord, the practical procedures that were followed to test the practical feasibility of the model, the findings that were made and the implications that it entails for a new translation of the Bible in Afrikaans. It also particularly shows that a theoretical justifiable translation of the Bible, in terms of a functionalistic approach, seems to be one that makes certain demands on the commissioning authority. First, the commissioning authority should be well informed in terms of the needs and “subjective theories” of the intended target language audience. Second, the commissioning authority should be inform the target language audience in detail in terms of the strategies that will be followed to, on the one side, fulfil their needs and, on the other side, to ensure loyalty to the source text.

1. INLEIDING

Die teoretiese onderbou van die woord vir woord benadering van die 1933/53-vertaling van die Bybel in Afrikaans kan nie meer vandag akademies verdedig word nie. Die funksioneel- ekwivalente benadering van Eugene Nida waarop die 1983-vertaling (ten minste teoreties gesproke) gegrond is, word deesdae egter ook van verskillende oorde sterk bevraagteken.1

Bybelwetenskaplikes en vertaalkundiges aan vier Suid-Afrikaanse universiteite is onlangs deur die Kerklike Advieskomitee van die Bybel in Afrikaans versoek om ses gekose Bybelgedeeltes elkeen op vier verskillende maniere in Afrikaans weer te gee:

Weergawe 1: ’n vertaling wat in hoë mate konkordant en brontaal-georiënteerd is, met behoud van die brontaalidioom.

Weergawe 2: ’n vertaling in eenvoudige, vloeiende en duidelike taal, bedoel as Leesbybel vir die breedste spektrum van gebruikers, konkordant waar dienlik en dinamies waar nodig.

Weergawe 3: ’n vertaling wat bedoel is vir voorlesing in die erediens, vir kategese en vir Bybelstudie, met besondere aandag aan letterkundige gehalte.

Weergawe 4: ’n taalkundige hersiening van die 1983-vertaling.

Geleerdes op Stellenbosch was van mening dat indien hulle hierdie opdragte op ’n akademies verantwoordbare wyse sou wou uitvoer, dit van ’n verantwoordbare teoretiese onderbou voorsien sou moes word. Aangesien bestaande Bybelvertaalteorieë bevraagteken word, sou daar met ’n alternatiewe model geëksperimenteer moes word en die praktiese uitvoerbaarheid en die implikasies daarvan vir ’n nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans bepaal moes word. Vir dié doel is insigte vanuit die teoretiese taalkunde, en veral die funksionalistiese model van Christiane Nord (1997a) gebruik.

Hierdie artikel dokumenteer2 die historiese aanloop en teoretiese besinning wat die gekose model ten grondslag lê, die praktiese prosedures wat gevolg is, die bevindings wat gemaak is en die implikasies wat dit inhou vir ’n nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans.3

In die eerste helfte van die artikel, naamlik punte 2-4, word die historiese aanloop van die funksionalistiese model van Christiane Nord bespreek. By punt 2 word aangetoon hoe die noodsaak van ekwivalensie nog altyd ’n voorveronderstelling van die meeste Bybelvertalings deur die geskiedenis was. By punt 3 word dan geargumenteer dat die onhaalbaarheid van volledige ekwivalensie tussen enige brontaal- en doeltaalteks vertaalkundiges se aandag laat draai het na die beskrywing van die faktore wat vertaalprosesse beïnvloed. In die sogenaamde funksionele modelle is die rol van ’n vertaling se skopos of funksie as bepalend geïdentifiseer. 4In hierdie kringe is soms aangevoer dat die bronteks sy sleutelrol in die vertaalproses prysgegee het ten koste van die funksie wat die vertaling vervul. 5In Nord se funksionalistiese model speel die bronteks egter nog ’n belangrike rol.6 Dit is een van die redes waarom geargumenteer kan word dat haar model ’n beter teoretiese raamwerk vir Bybelvertaling bied as die meeste ander resente modelle. Verder bied die verskillende tipes van vertaling wat sy onderskei ’n waardevolle perspektief op die besondere aard van Bybelvertaling. Ook hieraan word by punt 3 aandag gegee. Ander faktore wat die proses van vertaling beïnvloed en deur Nord verreken word, is lesers se eie persepsies of “subjektiewe teorieë” en die rol van die vertaler se “lojaliteit” teenoor sowel die bronteks as sy of haar opdraggewer of leser. Aangesien juis hierdie faktore verklaar waarom ’n duidelik gedefinieerde opdrag van die opdraggewer aan die vertaler onontbeerlik is vir enige verantwoordbare vertaalproses, word hulle by punt 4 aan die orde gestel. By punt 5 word die opdragte vir die loodsprojek en die teoretiese verantwoording daarvan uiteengesit. By punt 6 word dié bevindings van die loodsprojek bespreek wat direk vir hierdie artikel ter sake is. Hierdie stukkie is deurmekaar. Ten slotte word daar by punt 7, in die vorm van ’n reeks voorstelle, gekyk na sekere implikasies wat hierdie bevindings inhou vir ’n projek om die Bybel opnuut in Afrikaans te vertaal. Dit geskied in samehang met die gedokumenteerde ervarings uit die maak van die nuwe Nederlandse Bybelvertaling, asook met enkele punte uit die onlangse marknavorsing wat gedoen is deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

2. DIE STREWE NA EKWIVALENSIE

Die eerste vertalers van die Bybel het oënskynlik nie geglo dat ekwivalensie tussen twee vertalings moontlik was nie. Dit lei ’n mens af uit die feit dat die Targoems (Aramese vertalings) nie in die sinagoge gelees is sonder dat die Hebreeuse teks nie eers ook vooraf gelees is nie. 7Studies oor die eerste gesaghebbende Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint, illustreer baie duidelik dat hierdie vertalings se gesag nie kon lê in die konsekwente ekwivalensie tussen die Hebreeuse bronteks en die Griekse doeltaalteks nie. 8Die gesag wat hierdie vertaling geniet het, het op ’n ander plek gesetel – veral as ’n mens die legende oor die ontstaan daarvan in ag neem. 9In sy vertaling van die Bybel in Latyn het Hieronimus baie duidelik gestel dat hy primêr daarin belang stel om gedagte vir gedagte te vertaal.10 Die gesag wat die Vulgaat met verloop van tyd geniet het, het ook nie noodwendig gesetel in die feit dat dit ’n vertaling was wat uniek was in die ekwivalensie wat dit ten opsigte van die brontekste vertoon het nie.

Na my wete is een van die eerste vertalings wat die konsep ekwivalensie op woordvlak baie ernstig opgeneem het, die King James-vertaling van 1611. Ons lei dit af uit, onder meer, die feit dat elke Engelse woord in hierdie vertaling wat nie ’n grafiese ekwivalent in die bronteks gehad het nie, skuinsgedruk is.11 Die eerste hersiening van die 1611-vertaling, gepubliseer in 1885, het hierdie konvensie laat vaar. Die weergawe van 1885 het egter nooit dieselfde aansien geniet as dié van 1611 nie.12

Die rede waarom woord-ekwivalensie met ekwivalensie tussen bron- en doeltaal gelykgestel is, en ’n woord vir woord vertaling die aanvaarbare norm was, 13hou heel waarskynlik verband met die woordgeoriënteerde taalkunde van die 19de en vroeë 20ste eeu.14 Hierdie letterlike vertalings is oor die algemeen as meer betroubaar as vrye vertalings beskou. Betroubaarheid het deurgaans groter gewig gedra as verstaanbaarheid. Daar was egter ’n groeiende behoefte aan meer verstaanbare Bybels. Afgesien van ’n nuwe geslag “gesekulariseerde” Christene in Europa en die Amerikas wat nie meer bereid was om Bybels te lees wat hulle glad nie kon verstaan nie, is dit te verstane dat “eerste-generasie”-Christene (met ander woorde, nuutgekerstendes) nie veel erg sou hê aan Bybels wat hulle nie kon verstaan nie. Dit is waarom Eugene Nida so ’n groot impak op Bybelvertaling wêreldwyd gehad het. Sy benadering het beloof om verstaanbare Bybelvertalings te lewer wat betroubaar sou wees, omdat dit wetenskaplik gefundeerd sou wees in terme van die taalkunde van die 1960’s. Nida het in hierdie proses die begrip ekwivalensie verruim. 15 Hy het veral aangetoon dat ekwivalensie op woordvlak dikwels aanleiding kan gee tot ’n doeltaalvertaling wat nie dieselfde betekenis uitdruk as die brontaal nie. Dit is omdat die grammatikale strukture van tale wesenlik van mekaar kan verskil. Betekenis setel volgens Nida in sinne en nie in woorde nie. Tale verskil dus wat hulle oppervlakstrukture betref, maar wat in een taal gesê word, kan ook in ’n ander taal gesê word. Daarom moet die brontaalteks afgebreek word tot kernsinne. Die betekenis van hierdie sinne, die dieptestruktuur, moet dan bepaal en geformuleer word in terme van die grammatikale reëls van die doeltaal. In hierdie herformulering moet die vertaler daarna streef om dieselfde boodskap aan die doeltaalgehoor oor te dra as wat die brontaalteks aan die brontaalgehoor oorgedra het. Vir Nida was dit ook belangrik dat die doeltaalteks dieselfde “effek” op die doeltaalgehoor moet hê as wat die brontaalteks op die brontaalgehoor gehad het. Daarom praat hy van dinamiese ekwivalensie. Dit stel hy teenoor formele ekwivalensie wat verwys na ekwivalensie wat oppervlakstrukture betref.16

Kritiek teen hierdie aspek van Nida se benadering is elders indringend bespreek (Van der Merwe 1999). Nida het self baie ervaring ten opsigte van vertaling gehad en het ingesien dat die term dinamiese ekwivalensie en die sinsemantiese basis wat hy daaraan gegee het problematies kan wees. In Nida en Taber (1969) word die term funksioneel-ekwivalent ingevoer om die term dinamies-ekwivalent te vervang. In De Waard en Nida (1986) gee Nida blyke daarvan dat hy deeglik kennis geneem het van ontwikkelings in taalkunde, in besonder dat betekenis van taaluitings nie net gesetel is in die sinne wat ’n spreker gebruik nie, maar veral ook in die konteks en ko-teks daarvan.17 Sekulêre vertaalkundiges soos Baker (1992), Neubert en Shreve (1992) en Hatim en Mason (1997) het verder op die onontbeerlikheid van die verruiming van die konsep ekwivalensie gewys. Die probleem van hierdie nuwe ontwikkelings vir Nida was die feit dat dit die singebaseerde teoretiese onderbou van sy vroeëre model ondergrawe het.18 Die byna onmoontlike kompleksiteit van pogings om sistematies ekwivalensie op teksvlak tussen ’n brontaal- en doeltaalteks te verseker 19 het vertaalkundiges se belangstelling in die nosie ekwivalensie laat taan.20

3. VAN EKWIVALENSIE NA FUNKSIE

Soos baie taalkundiges die tekortkomings begin insien het van sistematiese analise van taal as ’n objek ten einde insig in die werking van taal te kry, het vertaalkundiges ook begin insien dat die bestudering van die proses van vertaling as ’n aktiwiteit moontlik tot teoreties meer verantwoordbare vertaalmodelle aanleiding kan gee. Gideon Toury se Descriptive Translation Studies (1995) en Reiss en Vermeer se Skopos teorie het hier die toon aangegee.21 Studies oor die proses van vertaling het onder meer insig gebied ten opsigte van die sleutelrol wat die doel van ’n vertaling speel. Volgens die sogenaamde funksionalistiese benadering soos geformuleer deur veral Christiane Nord is die doel wat ’n vertaling vir die opdraggewer van daardie vertaling moet vervul die belangrikste kriterium in terme waarvan ’n vertaling beoordeel word. Met ander woorde, uit ’n beskrywing van die prosesse wat in die praktyk van vertaling aan die orde is, blyk dit dat vertalings beoordeel word nie aan die ekwivalensie daarvan met ’n bronteks nie, maar of dit die funksie waarvoor dit gemaak is, vervul of nie (Munday 2001:82).

Op die oog af lyk dit of hierdie beskrywing van die prosesse wat die vertaalpraktyk beheers nie van baie nut kan wees vir Bybelvertaling nie. Tog verleen dit ’n waardevolle perspektief op die feit dat daar verskillende tipe vertalings is omdat vertalings verskillende funksies het om te vervul. Nord (1997b:52) tref twee hoofonderskeidings, naamlik dokumentêre en instrumentele vertalings. ’n Dokumentêre vertaling is ’n teks wat as vertaling gemerk is deur die bronteks of die naam van die vertaler te noem. ’n Instrumentele vertaling is weer ’n teks wat enige funksie kan hê wat ’n nievertaalde teks ook kan hê (Basson 2002:29).

Nord gaan verder en onderskei vier soorte dokumentêre vertalings, naamlik interliniêre, letterlike, filologiese of geleerde en eksotiserende vertalings. In ’n liniêre of woord vir woord vertaling boots die doeltaalvertaling die grammatikale eienskappe van die brontaalteks na. ’n Letterlike vertaling probeer om die woorde van die bronteks weer te gee in terme van die grammatika en idioom van die doeltaal. Wanneer ’n letterlike vertaling voorsien word van uitvoerige voetnotas om tersaaklik taalkundige of kulturele inligting te verskaf, word dit as ’n filologiese of geleerde vertaling bestempel. In ’n eksotiserende vertaling word kulturele realia wat vir die doelgehoor onbekend mag wees nie “gedomestiseer” nie. Dit skep dan ’n gevoel van afstand by die leser. Omdat die doeltaalleser van die kulturele verwysings nie verstaan nie mag die doeltaalteks dikwels nie dieselfde funksie in die doeltaal vervul as wat dit in die brontaal gehad nie.

Drie soorte instrumentele vertalings word onderskei, te wete ekwifunksionele, heterofunksionele en homoloë vertalings. Eersgenoemde word gebruik by die vertaling van resepte, handleidings en toeristebrosjures. Die doeltaallesers sal waarskynlik nie eers bewus wees dat hulle met vertalings te doen het nie. Dit sou hulle ook min skeel. Heterofunksionele vertalings is vertalings waar dit onmoontlik is om kommunikatiewe funksies wat in die brontaalteks aan die orde is net so in die doeltaalteks oor te dra as gevolg van die kulturele en/of temporele afstand. Sommige van die gevalle wat Nida dikwels aanhaal om die problematiek van Bybelvertaling te illustreer, is goeie voorbeelde in hierdie verband, byvoorbeeld die vertaling van die Griekse ekwivalent van “Lam van God” vir Eskimo’s wat nie weet wat ’n skaaplam is nie. “Met homoloë vertaling word gepoog om ’n homoloë effek te bereik deur in die literêre konteks van die doelkultuur ’n teks te skep wat dieselfde funksie het as wat die brontaalteks in die literêre konteks van die brontaal het” (Basson 2002:32).22

Dit is dus belangrik om te begryp dat daar verskillende soorte vertalings is omdat hulle verskillende funksies vervul. Volgens Stine (2001) het ook Eugene Nida konsekwent geargumenteer dat daar in enige taal omtrent drie verskillende soorte vertalings behoort te wees indien aan al die behoeftes van die kerk voldoen wil word. Hierdie vertalings sal verskillende registers gebruik en uiteenlopende funksies verrig, byvoorbeeld een vir die liturgie, ’n tweede vir evangelisasie, ensovoorts.23

4. PERSEPSIES, SUBJEKTIEWE TEORIEË EN DIE LOJALITEIT VAN DIE VERTALER

Enige studie van die geskiedenis van Bybelvertaling toon aan dat persepsies en individuele verwagtings mense se reaksie op nuwe vertalings bepaal, en nie noodwendig die inherente meriete van die vertaling nie. Nord verwys in hierdie verband na die “subjektiewe teorieë” waarmee alle mense enige kommunikatiewe handeling wat tot hulle gerig word, beoordeel.24 Volgens Nord impliseer ’n funksionalistiese benadering (soos deur haar gedefinieer) dat by die maak van ’n spesifieke vertaalproduk die subjektiewe teorieë van die doeltaalgehoor geëkspliseer word. Daarsonder sou die vertaalstrategieë en prosedures wat gevolg word om ’n spesifieke doel te bereik baie moeilik genoegsaam gemotiveer kon word.

Naas die konsep funksie speel die konsep lojaliteit vir Nord ook ’n sentrale rol in haar benadering. Lojaliteit verwys “na die interpersoonlike verhouding tussen die vertaler, die brontaalsender, die doeltaalontvanger en die inisieerder. Lojaliteit beperk die aantal verantwoordbare doelteksfunksies vir een spesifieke bronteks en vra dat daar onderhandelinge plaasvind tussen vertalers en kliënte oor die vertaalopdrag”.25 Met ander woorde, die vertaler het ’n lojaliteit teenoor die sender van die bronteks en die instansie of persoon wat die vertaalopdrag gee. Die vertaler moet, aan die een kant, die bronteks en die sender daarvan se kommunikatiewe intensies en, aan die ander kant, die verwagting van die opdraggewer en sy gehoor respekteer. Die vertaler moet sy opdraggewer dus, in die lig van die brontaalteks, inlig in watter mate aan die verwagtings van die opdraggewer gehoor gegee kan word en, indien dit moontlik is, watter strategieë gebruik gaan word om aan daardie verwagtings te voldoen.

Vir die maak van ’n Bybelvertaling beteken dit dat vertalers en hulle opdraggewers en gehore baie meer indringend sal moet onderhandel oor die problematiek van Bybelvertaling en die vraag in watter mate bepaalde tipes vertalings moontlik is. Daar moet gevra word: Is dit moontlik om ’n Bybelvertaling te maak wat “lekker lees” en wat vir moderne mense verstaanbaar is, sonder om te oorvereenvoudig en die betekenis van die bronteks te verskraal? Is dit moontlik om ’n verstaanbare Bybelvertaling te maak sonder om bykomende inligting aan die lesers te verskaf? Dit is in die lig van die subjektiewe teorieë van Afrikaanse Bybellesers,26 die eis van lojaliteit van vertalers teenoor die bronteks en die sleutelrol van die “funksie” van ’n vertaling dat ’n mens kan aanvoer dat die inhoud van die “opdragte” (sien punt 1) vir hierdie projek noukeuriger en uitvoeriger gekonseptualiseer (en bewoord) moet word, voordat dit teoreties verantwoordbaar kan wees. Die vraag is dus nou: Hoe moet hierdie opdragte dan wel daar uitsien?

5. DIE VERTAALOPDRAGTE

5.1 Inleiding

In hierdie ondersoek was dit om verskeie redes nie moontlik om met die “opdraggewer”, te wete die uitvoerende komitee van die Kerklike Advieskomitee van die Bybel in Afrikaans, uitvoerig te onderhandel oor die teikengehoor, die doel en die vertaalproduk nie.27 Daar is toe vir die doel van hierdie ondersoek besluit om in die lig van

• die aard van die bronteks, te wete ’n antieke godsdienstige dokument wat ’n bepaalde historiese ontwikkeling deurloop het, en

• ’n beskouing dat vertaling ’n kommunikatiewe handeling is,

te vra: Wat is haalbaar?, in die lig van gangbare kommunikasiemodelle. Die model van Ernst- August Gutt (2000) is geïdentifiseer as een van die bes verantwoordbare benaderings in hierdie verband. Sy onderskeid tussen ’n “direkte” en ’n “indirekte vertaling” bied die geskikste teoretiese model om opdragte 2 en 3 onder tuis te bring. Die identifisering van die teikengehoor is ’n hipotetiese rekonstruksie wat geabstraheer is op grond van die inligting wat uit die opdragte by punt 1 blyk en die inligting waarna verwys is in voetnoot 25.

Voordat elkeen van die definisies van die verskillende opdragte by punt 5.4 beskryf word, sal ons die kriteria aan die hand waarvan die opdragte gedefinieer is, motiveer by punt 5.2. By punt 5.3 beskryf ons kortliks die teoretiese agtergrond van Gutt en illustreer per implikasie die meriete daarvan. Die ooreenkomste en verskille tussen Gutt (2002) en Bergen en Nord (1999) word ook uitgelig.

5.2 Kriteria

Vir die kriteria aan die hand waarvan elkeen van die opdragte beskryf is, is Nord as uitgangspunt gebruik. Die redes hiervoor is soos volg: (1) Uit die bespreking by punt 2 en 3 behoort dit duidelik te wees dat Nord grondig besin het oor faktore wat ’n rol speel in enige vertaling.28 (2) Die wyse waarop sy hierdie faktore sistematies verreken het vir haar en haar man (Bergen) se vertaling van die Nuwe Testament in Duits, bied ’n deeglik begronde “sjabloon” wat kan dien as basis vir die inhoud en strukturering van teoreties verantwoordbare vertaalopdragte van vertalings wat ander funksies moet vervul as die vertaling wat hulle onderneem het. In hierdie projek is die templaat as volg gestruktureer (sien ook punt 5.4):

1. ’n ateoretiese formulering van die opdrag;

2. ’n meer tegniese formulering van die opdrag;

3. die teikengebruikers;

4. die produk, en

5. die proses.

’n Belangrike kenmerk van die proses is dat brontaalkenners nie die primêre vertalers is nie, maar vertaalkundiges. Nord, as vertaalkundige, en Bergen, as brontekskenner van die Nuwe Testament, het hierdie “koppeling” met groot sukses deurgevoer in hulle vertaling van die Nuwe Testament. Dieselfde prosedure word ook met groot sukses in die maak van die nuwe Nederlandse vertaling van die Bybel gevolg.29

5.3 Gutt (Gutt 2000) en Nord (in Bergen en Nord 1999)

Gutt (2000) argumenteer uitvoerig dat indien ’n mens ’n meer realistiese idee van die kompleksiteit van Bybelvertaling wil hê, jy óók met die inferensiemodel van talige kommunikasie moet werk eerder as met net die kodemodel. Volgens so ’n gekombineerde model behels talige kommunikasie veel meer as net enkodering en dekodering. Die “boodskap” wat ’n sender “stuur”, is altyd konseptueel ingebed in die sender se kognitiewe wêreld. Die hoorder, op sy beurt, interpreteer dié “boodskap” altyd aan die hand van sy of haar eie kognitiewe wêreld.

In die geval van moeilike kommunikasie is die sender en hoorder verwyder van mekaar in tyd en ruimte. Die vertaling van ’n antieke teks is ’n uiterste geval van sulke moeilike kommunikasie. Indien ’n hoorder/leser se kognitiewe wêreld nie aansienlik verryk word deur bykomende inligting nie, is die kanse op kommunikasie met die sender/teks baie klein. Die vertaler as tussenganger kan onmoontlik genoegsame inligting in die vertaling self inwerk om die kognitiewe wêreld van die sender in die teks by dié van vandag se hoorder/leser uit te bring.

Gutt stel voor dat ’n mens moet onderskei tussen twee soorte vertalings. Die eerste kan vergelyk word met indirekte rede. Jy haal iemand aan, byvoorbeeld Piet het gesê dat hy nie van sy prokureur hou nie. Jy weet dat jy interpreteer en jy gee nie voor dat jy die spreker se presiese woorde weergee nie. Dit kan wees dat Piet gesê het: “Ek hou niks van my prokureur nie.” Hierdie soort vertaling noem Gutt ’n interpretatiewe of “indirekte” vertaling. Dit is ’n vertaling wat ’n bepaalde doel moet dien, byvoorbeeld dit moet verstaanbaar wees vir kinders. Die vertalers gee nie voor dat hulle elke nuanse van die oorspronklike teks in hulle vertaling weergegee het nie. Hulle was bereid om detail op te offer om die vertaling meer verstaanbaar te maak. Die tweede soort vertaling kan vergelyk word met direkte rede.30 In hierdie vertaling probeer die vertaler die spreker se presiese woorde weergee. Vir Bybelvertaling beteken dit dat ’n vertaler probeer om byvoorbeeld Abraham Afrikaans te laat praat in die wêreld van Abraham se eie tyd. Abraham (of die verteller van die Abraham-verhale) se lewens- en wêreldbeskouing, sy kultuurgoed, word dus nie “vervang” met dit wat vir moderne lesers bekend is nie. Die teks word nie na die leser toe gebring nie; die leser word na die teks toe geneem. Die vreemdheid van Abraham se verwysingsraamwerk moet dan deur middel van verklarende aantekeninge verduidelik word.

Bergen en Nord (1999) se vertaling van die Nuwe Testament wat sy as ’n dokumentêr-eksotiserende vertaling beskryf, en waarvan die skopus “otherness understood” is, toon wel die meeste van die eienskappe wat Gutt as wesenlik aan ’n direkte vertaling beskou.31 Nord oordeel egter, in teenstelling met Gutt, dat tersaaklike kulturele inligting, sover doenlik, in die vertaling “ingewerk” moet word. Soos Gutt, besef ook Nord terdeë dat daar tussen die oorspronklike gehoor van ’n Bybelse teks en ’n gehoor van vandag altyd ’n enorme kultuurgaping bestaan wat die vertaler moet oorbrug, indien hy of sy daarna streef om reg te laat geskied aan die kommu- nikatiewe intensies van die oorspronklike skrywer.

Die sienings van Gutt en Nord verskil egter oor een kwessie radikaal van mekaar. Hierdie kwessie is die aard van die vertaalhandeling. Vir Gutt is die vertaalhandeling, in besonder Bybelvertaling, ’n geval van moeilike kommunikasie; vir Nord is dit ’n kommunikatiewe interaksie tussen persone wat spesifieke oogmerke of bedoelings het.32 Nord en Berger se vertaling het gevolglik twee oogmerke. Die eerste oogmerk is om die bronteks as ’n artefak uit ’n vreemde kultuur vir die doeltaallesers verstaanbaar te maak sodat hulle ook die andersheid daarvan kan respekteer; met ander woorde, die vertaling het ’n referensiële bedoeling. Die tweede oogmerk is om vir die moderne mens iets te sê; met ander woorde, ondanks die vreemdheid van die vertaling het dit ook ’n appellatiewe oogmerk (Basson 2002:64). Juis hierdie appellatiewe oogmerk is na my mening die rede waarom Nord probeer om sover doenlik die kultuurgaping alreeds in die vertaling te oorbrug.33

Hierdie verskil tussen Gutt enersyds en Nord en Bergen andersyds kan soos volg verstaan word: Nord en Bergen gaan te werk volgens ’n hermeneutiese model wat vereis dat die vertaling die Bybel as “spreekbuis” van God moet honoreer; maar Gutt sluit hierdie vereiste - bewustelik of onbewustelik - nie as deel van die taak van die vertaler in nie.34 Ten spyte van die akademiese meriete en teologiese aantreklikheid van die Nord-Bergen-model, het die raamwerk van ons ondersoek die gebruik van dié model uitgesluit. Dié model kon nie onder een van ons opdragte tuisgebring word nie.35

5.4 Die opdragte

By punt 5.1 is genoem dat die opdragte vir Weergawe 2 en 3 op grond van onderskeidelik Gutt se nosies indirekte vertaling en direkte vertaling geformuleer is. Weergawe 1 en 4 kon nie as tipes binne die raamwerk van die Gutt-vertaalmodel verantwoord word nie. Daar is nogtans probeer om ook vir hierdie twee weergawes noukeuriger “opdragte” te formuleer.

WEERGAWE 1

ATEORETIESE FORMULERING

“Vertaal woord vir woord.”

TEGNIESER FORMULERING

“Skep ’n Afrikaanse teks wat konkordant en brontaalgerig is, met behoud van die brontaalidioom.”

Teikengebruikers

Ekstern: Gespesialiseerde lesers, byvoorbeeld teoloë, predikante, ander mense wat ernstige Bybelstudie doen.

Intern: Die vertalers vir Weergawe 2 en 3: hulle gebruik Weergawe 1 as hulle bronteks.

Vertalers

Spesialiste in die Ou en Nuwe Testament; kenners van die oorspronklike brontale en van hulle verbandhoudende kulture.

Opmerking: Die konseptekste van Weergawe 2 en 3 sal aan dieselfde spesialiste voorgelê word vir hulle kommentaar.

Produk

Die ideaal by Weergawe 1 is dat die vertaling tegelyk “ná aan die bronteks hou” en “soos Afrikaans klink”. Hierdie vertaling is dus, effens anders gestel, ’n vertaling waarin ons probeer om die oorspronklike teks so akkuraat na te boots as wat die grammatikareëls van moderne Afrikaans ons dit toelaat.

Selfs al sou die doeltaalteks stilisties vreemd klink, byvoorbeeld weens die gebruik van lang sinne om die Griekse lang sinne na te boots en die oënskynlik oorbodige herhaling van naamwoordelike omskrywings, moet die doeltaalteks daarna streef om die brontaalteks so noukeurig moontlik in grammatikaal korrekte Afrikaans na te boots.

Naas die vertaling self bied Weergawe 1 aan sy lesers allerlei spesiale mededelings - soos voetnote, kantaantekeninge, mini-artikels met ensiklopediese inslag en literatuurverwysings - om hulle te help om ’n gesaghebbende beeld te vorm van die leefwêrelde van die betrokkenes - vertellers/skrywers, hoorders/lesers, karakters.

Proses

Daar is geen byvoegende interpretasie in die teks van Weergawe 1 nie. Die opsteller van Weergawe 1 mag slegs die uitings van die bronteks weergee. Die opsteller moet dus nie in die doelteks self enige hulp aan die leser “inbou” wat die besondere situasie betref nie.

Hierdie algemene voorskrif het ’n (waarskynlike) konsekwensie vir dié gevalle waar daar vir die brontaaluitdrukking ’n verskeidenheid vertaalmoontlikhede in die doeltaal is: In sulke gevalle moet die opsteller (waarskynlik) liefs die mees generiese doeltaaluitdrukking kies.

Voorbeeld: Hebreeus het ’n partikel wat in ’n meer generiese trant as “want” vertaal kan word en, in ’n meer spesifieke trant, as byvoorbeeld “Ja …” of: “Die feit van die saak is …” of: “Immers ...” Uitdrukkings soos dié kan verskil in wat hulle te kenne gee oor die spreker se aanname oor hoeveel van die spreker se agtergrondinligting die hoorder met hom deel (of nie deel nie). Sodra ’n mens dus probeer kies tussen die meer spesifieke weergawes, moet jy rekening hou met die besondere situasie: Jou keuse hang noodwendig af van hoe jy die besondere situasie interpreteer (“lees”). En, om die besondere situasie akkuraat te “lees” moet jy betroubare antwoorde hê vir subtiele vrae soos die volgende drie: (i) Wat, reken jy, weet die spreker alles wat in hierdie situasie saak maak? (ii) Hoeveel hiervan, reken jy, weet die hoorder ook? (iii) Hoeveel hiervan, reken jy, reken die spreker dat die hoorder ook weet?

Uitdrukkings soos hierdie partikel plaas drie verpligtings op die opsteller van Weergawe 1. Een: Hy of sy moet al die gevalle identifiseer waar die bronteks so ’n uitdrukking bevat. Twee: In die vertaling vir Weergawe 1 moet hy of sy die uitdrukking telkens met die mees generiese Afrikaanse ekwivalent vertaal. Drie: Op grond van sy of haar analise van die kognitiewe wêrelde van die spreker en hoorder in die besondere situasie moet hy of sy in ’n voetnoot verduidelik watter van die meer spesifieke vertalingsmoontlikhede hier gepas is.

Waar ’n uitdrukking of uiting kognitiewe inhoude (“wetes”) by die oorspronklike spreker of hoorder veronderstel wat ’n mens nie uit die Weergawe 1-vertaling kan agterhaal nie, moet die brontaalkenner hierdie ontbrekende inligting met behulp van byvoorbeeld voetnote of kantaantekeninge aan die lesers verstrek, sodat hulle ’n betroubare beeld kan vorm van die leefwêrelde van die betrokkenes - vertellers/skrywers, hoorders/lesers, karakters.

WEERGAWE 2

ATEORETIESE FORMULERING

“Gee ’n lekkerlees-vertaling.”

TEGNIESER FORMULERING

“Skep ’n glashelder teks, in ’n natuurlike en eenvoudige trant, geskik en aantreklik as ’n Leesbybel vir die breedste publiek moontlik van Afrikaanssprekendes.”

Teikengebruikers

Die publiek van gewone lesers. Die vertaling moet egter ook toeganklik wees vir iemand wat die eerste keer met die Bybel kennis maak, hetsy as hoorder of leser. Dit moet dus gebruik kan word om byvoorbeeld sendingwerk mee te doen. Hierdie Bybel moet vir die breedste spektrum gebruikers bruikbaar wees. Die taalgebruik word gemik op Afrikaanssprekendes met graad 7- opleiding.

Vertalers

Opgeleide vertalers wat vertroud is met :

1. die onderskeid tussen “dinamiese ekwivalente” en “funksionele ekwivalente”;

2. die onderskeid tussen “domestisering” (domestication) en “vervreemding” (foreignisation), en

3. die onderskeid wat Ernst-August Gutt maak tussen “indirekte vertalings” en “direkte vertalings”.

Verkieslik moet die vertalers ook, in breë trekke, insig hê in die eiesoortige problematiek van Bybelvertaling.

Produk

Die Bybel in duidelike, moderne Afrikaans wat regdeur probeer om die vreemde wêreld van die Bybelse tyd en gebruike vir die moderne leser (i) verstaanbaar te maak en (ii) te interpreteer.

Proses

Hier word ekwivalente binne die teikenleser se kultuur verskaf en daar word vir die teikenleser geïnterpreteer (Gutt se “indirekte vertaling”).

Paragrawe en subparagrawe word onderskei op grond van formele en inhoudelike kriteria. Paragrawe word ook van toepaslike opskrifte voorsien.

Alle denkbare hulp word aan die leser verskaf om te sorg dat die teks na ’n Suid-Afrikaanse kultuur verplaas word (domestication). Die Bybel word vir die moderne leser geïnterpreteer deur van die terme van die Bybelse tyd te moderniseer na die leefwêreld van die moderne leser. Voorbeelde:

(i) Die mate en gewigte wat in die Nuwe-Testamentiese tyd gebruik is, word gemoderniseer.

(ii) Die patriargale stelsel van die Bybelse tyd word byvoorbeeld in Efesiërs 6:4 “weggeskryf” en

“vaders” word vervang met “parents”, soos in die Good News Bible en die Living Bible.

(iii) Waar dit gaan om ’n ete by ’n tafel (bv in Joh 13:12) sê party vertalings dat Jesus “weer gaan aansit” (NAB en Die Boodskap). Inderwaarheid was dit destyds die konvensie om met ete langs die tafel te (en dan op die elmboog te steun).

Waar die teks hom leen tot twee (of selfs meer) houdbare interpretasies, kies die vertaler een daarvan.

Voorbeeld: Johannes 14 vertel hoe Jesus die geldwisselaars en verkopers van offerdiere van die tempelplein af verjaag het. Waarom was Jesus so kwaad? Een moontlike verklaring vir Jesus se woede is die oneerlikheid van die geldwisselaars; hulle het die mense wat vreemde geld vir Joodse geld kom omruil het, bedrieg. ’n Ander moontlike verklaring is die feit dat die geldwisselaars die tempelplein, wat die aanbiddingsplek vir die vroue en heidene was, so beset het dat daar nie plek vir aanbidding was nie. By Weergawe 2 staan dit die vertaler vry om een van hierdie twee verklarings te kies.

Die vertaling en interpretasies word gedoen aan die hand van Weergawe 1.

Die konsepteks van Weergawe 3 word vir kommentaar voorgelê, eers aan die vertalers van

Weergawe 1 en dan aan die taalkundige redigeerders van Weergawe 4.

WEERGAWE 3

ATEORETIESE FORMULERING

“Gee ’n vertaling met ’n plegtige trant.”

TEGNIESER FORMULERING

“Skep ’n teks in ’n plegtige trant wat gepas is om in die kerk te gebruik, maar geredelik verstaanbaar en aantreklik is as ’n Bybel vir ’n ingeligte publiek van Afrikaanssprekende gelowiges.”

Teikengebruikers

Dit is ingeligte, gelowige mense wat die Bybel in die kerk, by die kategese, by Bybelstudies en in persoonlike verband wil gebruik.

Wat taalgebruik betref, stel Die Burger ’n navolgenswaardige voorbeeld; die redaksie van dié koerant mik sy taalgebruik op mense met ’n graad 10-skoling.

Die letterkundige gehalte van hierdie vertaling verdien spesiale aandag en sorg.

Vertalers

Opgeleide vertalers wat vertroud is met :

1. die onderskeid tussen “dinamiese ekwivalente” en “funksionele ekwivalente”;

2. die onderskeid tussen “domestisering” (domestication) en “vervreemding” (foreignisation), en

3. die onderskeid wat Ernst-August Gutt maak tussen “indirekte vertalings” en “direkte vertalings”.

Verkieslik moet die vertalers ook, in breë trekke, insig hê in die eiesoortige problematiek van Bybelvertaling.

Produk

’n Gebruiksbybel vir moderne, ingeligte Afrikaanse lesers. Dit bevat daarom ’n vertaling van die teks van die Bybel in plegtige, moderne Afrikaans en kantaantekeninge en voetnote oor die leefwêrelde van die Bybelse tydperke. Die bedoeling met hierdie kulturele inligting is om dié leefwêrelde vir moderne, ingeligte Afrikaanse lesers minder vreemd en, sodoende, meer toeganklik te maak.

Metafore word dus nie “kultureel geïnterpreteer” nie, maar eerder waar nodig met behulp van ’n kantaantekening verduidelik.

Formele kenmerke van die brontaalteks wat ’n bepaalde pragmatiese funksie vervul, word behou. ’n Voorbeeld hiervan is die herhaling wat in die boek Rut in ’n frase soos Rut, die Moabitiese vrou ingebou is. So ’n herhaling word in Weergawe 3 behou ter wille van sy pragmatiese funksie van beklemtoning/”onderstreping”.

Hier - anders as in Weergawe 1 - word doeltaallekseme met ’n generiese betekenis oral, waar moontlik, vermy ten gunste van dié met ’n spesifieke betekenis. Die doel is immers om telkens die pragmatiese nuanse in die teks presies te verwoord.

Proses

Die outeurs van die Bybel word Afrikaans in die mond gelê asof hulle keurige en stilisties goed versorgde Afrikaans in hulle tyd gepraat het. (In Weergawe 1, daarenteen, hoef die Afrikaans nie noodwendig keurig en stilisties goed versorg te wees nie.)

Die teksstruktuur van die bronteks word sover moontlik behou. Paragrawe en subparagrawe word onderskei op grond van formele en inhoudelike kriteria. Paragrawe word ook van toepaslike opskrifte voorsien.

Kulturele inligting wat die gaping tussen die wêreld van die bronteks en die wêreld van die doelteksleser oorbrug, word in die vorm van toeligting gegee met behulp van kantaantekeninge of voetnote. (So, byvoorbeeld, word die mate, gewigte en geldeenhede wat in die Nuwe- Testamentiese tyd gebruik is juis nie gemoderniseer nie.) Al sulke kulturele inligting word verkry uit Weergawe 1.

Die konsepteks van Weergawe 3 word vir kommentaar voorgelê, eers aan die vertalers van Weergawe 1 en dan aan die taalkundige redigeerders van Weergawe 4.

WEERGAWE 4

“Redigeer die ses uittreksels sowel in hulle (bestaande) 1983-weergawes as in hulle (nuwe) Weergawes 2 en 3.”

Redigeerders

Afrikaanse taalkundiges wat verteenwoordigend is van die vernaamste groepe Afrikaanssprekendes. Verkieslik moet hulle, in breë trekke, insig hê in die eiesoortige problematiek van Bybelvertaling.

Die taalkundige en vertaalkundige van elke span is verantwoordelik vir Weergawe 4 - met ander woorde, vir die deurvoering van ondervermelde proses.

Proses

Hulle moet die ses uittreksels in al drie weergawes redigeer met die oog op die volgende vereistes:

1. Idiomatiese Afrikaans wat die volgende sowat 20 jaar aanvaarbaar sal bly. Besondere aksent word gelê op die vermyding van argaïese uitdrukkings.

2. Toeganklikheid vir lesers met ’n opvoeding van graad 10 (uitgesonder Weergawe 2).

3. Inkonsekwenthede.

4. Kohesie en koherensie.

5. Letterkundige meriete.

6. BEVINDINGS VAN LOODSPROJEK

Die doelwitte van die loodsprojek is breedweg soos volg beskryf: (1) Om ’n vertaalmodel te identifiseer wat akademies goed verantwoord is. (2) Om ’n vertaalmodel te identifiseer wat van nut is (i) by die hersien van bestaande Afrikaanse vertalings van die Bybel en (ii) by die opstel van nuwe Afrikaanse Bybelvertalings wat van mekaar verskil deurdat hulle op verskillende lesersbehoeftes gemik is. In hierdie loodsprojek is ook probeer om die praktiese uitvoerbaarheid te toets van ’n poging om soveel moontlik van die kundigheid in die Wes-Kaap gebruik te maak en die medewerkers van die projek so verteenwoordigend as moontlik te maak. Die bevindings in hierdie verband word elders rapporteer.36

1. Die funksionalistiese model van Christiane Nord bied ’n effektiewe instrument vir die aanpak van ’n spanprojek soos vertaling van die Bybel verg.

2. Die werkverdeling (koppeling) tussen brontaalkenners en vertaalkundiges het tot vertalings van hoë kwaliteit gelei.

3. Die inligting wat brontaalkenners vir die vertaalkenners moet skep, lei tot die daarstelling van inligting rondom die bronteks wat vir meer as een tipe vertaling bruikbaar is. Dit sou ook waardevolle ander funksies kon vervul.

4. Opdragte wat gedetailleerd in terme van ’n verantwoordbare teoretiese model beskryf kan word, gee aanleiding tot minder misverstande en onduidelikhede. Die aanvanklike opdrag, soos dit van die Advieskomitee ontvang is, se Weergawe 1 is nie deur al die medewerkers korrek verstaan nie. Hoe dit van Weergawe 3 verskil, of moes verskil, was ook nie altyd duidelik nie.

5. In die loop van die projek het dit geblyk dat indien Weergawe 1 as ’n woord vir word of interliniêre vertaling verstaan is, dit vir die vertaalkundiges van groter nut was as wanneer dit as ’n letterlike vertaling verstaan is.37

6. Punt 4 en 5 impliseer dus dat die sukses van die projek in groot mate bepaal kan word deur die ondubbelsinnigheid en duidelikheid van die opdragte.

7. Dit impliseer weer dat alle medewerkers die opdragte en hulle teoretiese begrondings volledig moet verstaan.

8. Die projek het getoon dat misverstande selfs rondom die gedetailleerde opdragte kan ontstaan. Sulke misverstande gee aanleiding tot inkonsekwenthede tussen die produkte van die verskillende spanne. Voorbeelde in hierdie verband is die volgende: By Weergawe 2 is daar verskille tussen die registers van die verskillende spanne. Sommige spanne het aantekeninge by Weergawe 2 en ander nie. Verder verskil die aard en getal van die aantekeninge by die verskillende spanne se Weergawe 3.

9. Vir Weergawe 2 het die loodskomitee ruweg die volgende toeganklikheidskriterium aanvaar:

10. “Die vertaling moet geformuleer word in die woordeskat van iemand met hoogstens ’n graad 7-skoling.”

Interessant hierby is ’n verskynsel wat hom voorgedoen het in party medewerkers se poging om – selfs sonder beïnvloeding deur ander vertalings – reg aan die letterkundige aard van ’n teks te laat geskied. Hierdie mense het naamlik probeer om op konsekwente wyse rekening te hou met die teksregister van byvoorbeeld passasies waarin die spreker hom tot God rig. Dit het egter soms meegebring dat hierdie medewerkers woorde gebruik het wat - ten minste op die oog af - nie vir lesers met hoogstens ’n graad 7-skoling toeganklik is nie. Die toeganklikheidskriterium moet dus eerder in die volgende trant genuanseer word:

“Ons formuleer ons vertaling liefs in die woordeskat van iemand met hoogstens ’n graad 7-skoling, maar ons aanvaar dat Bybelvertaling soms items uit ’n meer gesofistikeerde woordeskatlaag kan vereis.”

10. Medewerkers moet gedetailleerde voorskrifte kry oor stylkwessies, byvoorbeeld die gebruik van hoofletters, die hantering van voegwoorde en herhaling, die hantering van idiome en metafore en die vertaling van die Godsname en sogenaamde sleutelkonsepte. Aan hierdie aspekte is nie genoegsaam in die loodsprojek aandag gegee nie. Dieselfde geld ook vir die vraag of Weergawe 3 bedoel is om hardop voorgelees te word of nie, en in watter mate aantekeninge en bykomende inligting gegee moet en/of mag word. Hierdie tekortkomings blyk baie duidelik as ’n mens kyk na die uitvoerige aandag wat daaraan gegee word in die Handboek voor de Nieue Bijbelvertaling van die nuwe vertaling van die Bybel in Nederlands. Dit is egter te begrype as die omvang van die loodsprojek in aanmerking geneem word.

11. Die taal- en letterkundiges het na ’n aanvanklike gesprek oor die prosedure besluit dat hulle ’n voorbehoud moet stel: Dit is in beginsel nie moontlik om ’n revisie van die 1983-vertaling te maak sonder raadpleging van die grondteks of ander toegang tot die inhoud van die grondteks nie. Een van die redes hiervoor was die feit dat die NAB baie van die metafore “wegvertaal het”. Uit besprekings van die hersienings wat hulle voorberei het, het dit dan ook geblyk dat die 1983-vertaling nie bloot as teks uit eie reg beoordeel is nie, maar ook in die lig van hulpmiddels soos ander vertalings. Die resultaat was dan iets met die aard van ’n “nuwe vertaling” eerder as ’n blote revisie van die 1983-vertaling op taal- en letterkundige gronde.

7. IMPLIKASIES VIR ’N NUWE AFRIKAANSE VERTALING VAN DIE BYBEL

In die lig van die verloop van die loodsprojek word die volgende voorstelle gegee:

1. Dat ’n funksionalistiese benadering gevolg moet word en dat daar by elke tipe vertaling van meet af aan noukeurige en uitvoerige aandag gegee word aan die “opdrag” vir die vertaalspan.

2. Dat Gutt se onderskeid tussen direkte en indirekte vertaling as ’n deeglik verantwoorde teoretiese raamwerk aanvaar kan word vir sowel ’n meer plegtige Bybel aan die een kant as vir ’n lekkerlees-Bybel aan die ander kant.

3. Dat die medewerkers almal deeglik ingelei moet word in al die teoretiese en praktiese implikasies van die teoretiese raamwerk wat hulle gaan gebruik.

4. Dat die spanne nie meer as ag tot twaalf lede moet hê nie.

5. Dat die vertaalkundiges, taalkundiges en letterkundiges deeglik in die problematiek van Bybelvertaling ingelei moet word.

6. Dat taalkundiges en letterkundiges by die hele vertaalproses betrek moet word.

7. Dat alle medewerkers vroegtydig geïdentifiseer word.

8. Dat brontaalkundiges ’n geannoteerde, Afrikaanse teks maak wat die grondteks (brontaalteks) so noukeurig moontlik naboots en dat die annotasies uitvoerig moet wees. Die nut wat vertaalkundiges geput het uit Weergawe 1 waarin die grammatikale reels van Afrikaans soms prysgegee is om nuanses in die bronteks te illustreer, impliseer dat die voorwaarde dat Weergawe 1 altyd die grammatikale reëls van Afrikaans moet gehoorsaam, heroorweeg moet word.

9. Dat daar nou al begin moet word om aan so ’n geannoteerde teks te werk. Die werk wat vir die Afrikaanse Bybel vir Dowes (ABD) en die Nieuw (Nederlandse) Bijbelvertaling (NBV) reeds gedoen is, sou hier van groot nut wees. Hierdie teks en sy annotasies moet ook in Engels vertaal word.

10. Dat nou reeds stappe gedoen moet word om te verseker dat meer swart en bruin Afrikaanssprekendes sal deelneem indien daar met ’n groter vertaalprojek begin word.

11. Dat die aanvaarbaarheid van al die weergawes wat opgestel is nou reeds by potensiële lesers getoets word.

In die lig van die nuwe vertaling in Nederlands word verder die volgende voorgestel:

12. Dat stylkwessies, ensovoorts vooraf in detail uitgeklaar word. Besondere aandag moet gewy word aan die vraag of die Bybel maklik moet voorlees. Die Nederlandse Handboek is ’n goeie rolmodel in hierdie verband.

13. Die status, rol en plek van bykomende inligting moet bepaal word. Anders gestel: Indien bykomende inligting aangebied gaan word, hoe, hoeveel en waar gaan dit aangebied word?

Ten slotte: ’n Teoreties verantwoordbare vertaling van die Bybel, in hierdie ondersoek in terme van ’n funksionalistiese benadering, blyk dus een te wees wat bepaalde eise aan die opdraggewer stel. Eerstens, die opdraggewer moet goed ingelig wees oor die behoeftes en “subjektiewe teorieë” van die beoogde doeltaalgehoor. Tweedens, die opdraggewer moet die doeltaalgehoor deeglik inlig oor die strategieë wat gevolg gaan word om, aan die een kant, aan hulle behoeftes te voldoen en, aan die ander kant, lojaliteit teenoor die bronteks te verseker.

BIBLIOGRAFIE

American Standard Version 1901. La Habra: The Lockman Foundation.

Baker, M 1992. In other words. A coursebook on translation. Londen: Routledge.

Baker, M (red) 1998. Routledge encyclopedia of translation studies. Londen: Routledge.

Barr, J 1977/1978. St. Jerome’s attitude to women as an influence on the Vulgate Old Testament, OTWSA 20-21, 9-19.

Bascom, R 1985. The Targum: ancient readers’ helps? Bible Translator 36/3, 301-316.

Basson, CS 2002. ’n Funksionele benadering tot Bybelvertaling. MA-tesis, Universiteit van Stellenbosch.

Bergen, K & Nord, C 1999. Das Neue Testament und frühchristliche Schriften. Leipzig: Insel.

Borg, MJ 2001. Reading the Bible for the first time. San Francisco. Harper.

Boshoff, N, Hunter, M & Mouton, J 2002. ’n Ondersoek na die behoefte aan ’n nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel. Ongepubliseerde dokument. (Universiteit van Stellenbosch: Sentrum vir Interdissiplinêre Studie.)

Combrink, HJB, Van der Merwe, CHJ & Winckler, WK 2002. Die Bybel in Afrikaans: ’n Perspektief uit die Wes-Kaap. (Ongepubliseerde dokument.)

Deist, FE 1978. Towards the text of the Old Testament. Pretoria: DR Booksellers.

De Waard, J 1990. Old Greek translation techniques and the modern translator. Bible Translator 41/3, 311-319.

De Waard, J & Nida, EA 1986. From one language to another. Nashville: Thomas Nelson.

Die Boodskap 1996. Vereeniging: CUM.

Gaddis Rose, M (red) 1996. Translation horizons beyond the boundaries of translation spectrum. Translation Perspectives IX. Binghamton: State University of New York.

Good News Bible 1976. Glasgow: William Collins Sons.

Gutt, E-A 2000. Translation and Relevance. Cognition and Context. Tweede uitgawe. Oxford: Blackwell.

Handboek voor de nieuwe Bijbelvertaling 2001. Haarlem: Nederlands Bijbelgenootskap. Hatim, B & Mason, I 1997. The Translator as Communicator. Londen: Routledge.

Jordaan, GJC 2002. Problems in the theoretical foundation of the functional-equivalent approach, in Naudé & Van der Merwe, 19-29.

Kenny, D 1998. Equivalence, in Baker 1998, 77-80. King James 1611. Londen: Samuel Bagster and Sons. Lewende Bybel 1982. Roodepoort: CUM.

Metzger, BM 2001. The Bible in translation. Ancient and English versions. Grand Rapids: Baker Academic.

Munday, J 2001. Introducing translation studies. Theories and applications. Londen: Routledge.

Naudé, JA 2000. Translation Studies and Bible translation. Acta Theologica 20(1):1-27.

Naudé JA & Van der Merwe, CHJ (reds) 2002. Translation studies and Bible translation. A South African Perspective. (Acta Theologica Supplement 2.) Universiteit van die Vrystaat: Bloemfontein.

NBG-vertaling 1951. Haarlem: Nederlands Bijbelgenootskap.

Neubert, A 1997. Textlinguistics of translation: the textual approach to translation, in Gaddis Rose 1996, 87-106.

Neubert, A & Shreve, GM 1992. Translation as text. Kent: Kent State University Press.

Newmark, P 1988. A textbook of translation. New York: Prentice-Hall.

Nida, EA & Taber, CR 1969. The theory and practice of translation. Leiden: EJ Brill.

Nuwe Afrikaanse Bybel 1983. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Nord, C 1991. Text analysis in translation. Theory, methodology, and didactic application of a model for translation-oriented text analysis. Amsterdam: Rodopi.

Nord, C 1997a. Translation as a purposeful activity. Functional approaches explained. Manchester: St Jerome.

Nord, C 1997b. A functional typology of translation, in Trossberg 1997, 43-66.

Nord, C 2001. Loyalty revisited. Bible translation as a case in point. The Translator 7/2, 185-202.

Orlinsky, HM & Bratcher, RG 1991. A history of Bible translation and the North American contribution. Atlantis: Scholars Press.

Ou Afrikaanse Bybel 1953. Hersiene uitgawe. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Revised Standard Version 1952. New York: Thomas Nelson and Sons. Schäffner, C 1998. Skopos Theory, in Baker 1998, 235-238.

Smith, K 2002. Translation as secondary communication. The relevance theory perspective of Ernst-August Gutt, in Naudé & Van der Merwe, 107-117.

Sperber, D & Wilson, D 1995. Relevance. Communication and cognition. Tweede uitgawe. Oxford: Blackwell.

Stine, PC 2001. Eugene A Nida. A historical and contemporary assessment. Voordrag gelewer by die Society of Biblical Languages, Annual Meeting, Denver, Nov 2001.

Statham, N 2003. Dynamic equivalence and functional equivalence: how do they differ? The Bible Translator 54/1, 102-111.

The Tanach 1917. Philadelphia: Jewish Publication Society.

Toury, G 1980. In search of a theory of translation. Tel Aviv: Tel Aviv University.

Toury, G 1995. Descriptive translation studies and beyond. Amsterdam: John Benjamins. Trossberg, A (red) 1997. Text typology and translation. Amsterdam: John Benjamins.

Van der Merwe, CHJ 1999. ’n Konkordante vertaling van die Bybel in Afrikaans. Is dit hoegenaamd verantwoordbaar, en hoe sal dit lyk? Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif 40/3-4:293-306.

Venuti, L 1996. Translation as social practice: the violence of translation, in Gaddis Rose 1996, 195-214.

Vermeer, HJ 1998. Starting to unask what translatology is about. Target 10, 41-68.

Wilt, T 2002. A new framework for Bible translation, in Naudé & Van der Merwe, 140-163.

1 Vgl Van der Merwe (1999:293-306); Jordaan (2002:19-29); Wilt (2002:140-163).

2 Die loodsprojek het onder leiding van proff Bernard Combrink en Christo van der Merwe plaasgevind. Die projekvertaalkundiges was dr Ilse Feinauer en mnr WK Winckler. Die ses teksgedeeltes is deur ses spanne vertaal: Span 1: Eksodus 33: prof HL Bosman (sameroeper), drr Anneke Hartney en Louis Jonker (brontekskenners), mev Erina Basson (vertaalkundige), dr Rentia Robinson (letterkundige); Span 2: Psalm 16: prof Woldemar Cloete (sameroeper), dr Douglas Lawrie en prof Pieter Els (brontekskenners), mnr Walter Winckler (vertaalkundige), prof Frank Hendricks (taalkundige); Span 3: Jesaja 1: prof Christo van der Merwe (sameroeper), proff Johann Cook en Paul Kruger (brontaalkenners), mev Alta van Rensburg (vertaalkundige), prof Henning Snyman en dr Frikkie Lombaard (taalkundiges); Span 4: Matteus 5:1-20: prof Bernard Combrink (sameroeper), proff Piet Conradie, Gert Kruger, Johan Thom en drr Piet van Staden, Wynand de Kock en Welile Mazamisa (brontaalkenners), mnr Walter Winckler (vertaalkundige) en dr Steward van Wyk (taalkundige); Span 5: Romeine 7:7-26: dr Francois Wessels (sameroeper), proff Jan de Villiers, Elna Mouton, Gert Krüger, dr Lambert Jacobs, mnr Francois Pauw (brontaalkenners), mev Alta van Rensburg (vertaalkundige), prof Henning Snyman (taalkundige); Span 6: Openbaring 7: prof Pieter de Villiers en dr Ben du Toit (sameroepers), dr Johan du Plessis (brontaalkenners), mev Erina Basson (vertaalkundige) en prof Frank Hendricks (taalkundige).

3 Hierdie artikel dokumenteer slegs die werksaamhede van ’n werkspan op Stellenbosch. Werkspanne by die Universiteit van Pretoria, Bloemfontein en Potchefstroom onderskeidelik het dieselfde versoek ontvang om vier verskillende vertalings van die ses gekose teksgedeeltes voor te berei.

4 Sien Munday (2001:72-88).

5 Hiermee word bedoel dat die praktyk van vertaling uitgewys het dat die waarde van ’n vertaling eerder gekoppel word aan die mate waarin dit slaag om die funksie te vervul wat die opdraggewer daarvoor in gedagte gehad het, as aan die mate waarin dit ’n getroue weergawe van die bronteks is. Sien Vermeer (1998:50).

6 Veral in sg dokumentêre vertaling soos die Bybel is die fokus “te alle tye tydens die vertaalproses op die bronteks” (Basson 2002:41).

7 Sien Bascom (1985:301); Metzger (2001:20-24).

8 Sien De Waard (1990:311-319); Metzger (2001:13-20).

9 Sien Deist (1978:155-156).

10 Sien Barr (1977:9-19).

11 Sien Orlinsky & Bratcher (1991:44-46).

12 Metzger (2001:104).

13 Vgl die American Standard Version (1901), die Tenak (1917), die Revised Standard Version (1952), die NBG (1951) en die 1933/53- Afrikaanse vertalings.

14 Naudé (2000) stel dit as volg: “Prior to World war II practically all attempts to formulate theories of translation were based essensially on philological comparisons of texts. Traditional lists of rules (or advice) for translators are all based on fundamentally philological viewpoints.”

15 Sien ook Kenny (1998).

16 Sien Nida & Taber (1969).

17 Vir ’n uitvoeriger bespreking van die verskille tussen die konsepte dinamies-ekwivalent en funksioneel- ekwivalent, sien Statham (2003:102-111).

18 Sien Van der Merwe (1999).

19 Sien ook Kenny (1998:77-80).

20 Naudé 2000 stel dit soos volg: “The realisation that translation are never produced in a vacuum, regardless of time and culture, and the desire to explain the time- and culture-bound criteria which are at play, results in a shift away from a normative and prescriptive approach to translation criticism towards either a functional or a descriptive approach to the study of the subject.” Alhoewel die funksionele en deskriptiewe benaderings in verskillende rigtings ontwikkel het, is die funksionele benadering se grondslae gelê deur wat die vroeë deskriptiewe eksponente waargeneem het. Sien Toury (1980:55) se siening van die funksie van die “initial norm”.

21 Sien ook Schäffner (1998:235-238); Munday (2001:72-81).

22 Newmark (1988:45) maak weer die volgende onderskeiding: Brontaalgeörienteerd – woord-vir-woord > letterlik > getrou (“faithful”) > semantiese vertaling, en Doeltaalgeöriënteerd – kommunikatiewe >. idiomatiese > aangepaste vertaling (“adaption”). Sien Naudé (2000) vir ’n beskrywing van die verskillende terme

23 Stine (2001): “The fact that for thirty years the Bible Societies have focused almost entirely on common language translations should not be a criticism of either Nida or dynamic equivalence. In their enthusiasm to produce translations that made the Bible clear and understandable … the Bible Societies tended to overlook the fact that as an approach dynamic equivalence allows for, even calls for, more liturgical translations as well as the common language ones.”

24 Sien Basson (2002:33-35) se uitvoerige bespreking in hierdie verband.

25 Basson (2002:36).

26 In “’n Ondersoek na die behoefte aan ’n nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel” (Boshoff, Hunter & Mouton 2002), dui bykans 70% van lesers van die Bybel in Afrikaans aan dat hulle tevrede is met die 1983-vertaling en dat die tyd nie nou ryp is vir ’n nuwe vertaling nie. Indien hierdie lesers drie verskillende vertalings van ’n gedeelte uit die Bybel getoon word, te wete die 1953-, die 1983- en die nuwe Bybel vir Afrikaanssprekende dowe mense, kies bykans 70% van die lesers laasgenoemde vertaling as die een wat hulle aanspreek, die maklikste lees en die betekenis van die teks die beste oordra.

27 Die opdraggewer se opdragte is gegee in die lig van die volgende: (1) Vir sommige kerke is die 1983- vertaling nie aanvaarbaar nie; (2) in sommige kerke is daar ’n behoefte aan ’n meer sg konkordante vertaling; (3) Die Rooms-Katolieke kerk het by monde van sommige van sy leiers die behoefte gestel aan ’n Bybelvertaling in ’n meer plegtige en formele styl wat meer gepas is vir sy liturgie, en (4) die funksioneel-ewkwivalente benadering, waarop die 1983-vertaling berus, se teoretiese onderbou kan nie meer in die lig van ontwikkelings in die taalkunde en vertaalkunde verdedig word nie (sien Naudé & Van der Merwe 2002).

28 Sien ook Nord 1991, 1997a, 2001.

29 Sien Handboek voor de Nieuwe Bijbelvertaling (2001).

30 Sien ook Smith (2002).

31 Sien Basson (2002:51-53). Nord sal heel waarskynlik Gutt se direkte vertaling beskryf as ’n filologiese of geleerde vertaling. Sien punt 3.

32 Sien Basson (2002:53).

33 Nord gee toe dat dit dikwels onmoontlik is om genoegsame inligting in die vertaling self te verskaf.

34 Sien Stine (2001) se bespreking van Borg (2001). Borg onderskei tussen ’n “literal factual” en “historic- metaphorical” lees van die Bybel. Stine is van mening dat Eugene Nida en baie Bybelvertalers die Bybel “literal factual” lees en dat Nida se kritici dit histories-metafories lees. Nord en Bergen lees die Bybel inderdaad histories-metafories; indien my afleidings steek hou, ontsnap hulle egter ook nie heeltemal aan ’n “literal factual” lees van die Bybel nie.

35 Vir ’n uitvoerige bespreking en toepassing van Nord en Bergen se model op ’n Bybel in Afrikaans, sien Basson (2002): ’n Funksionele benadering tot Bybelvertaling.

36 Combrink, Van der Merwe & Winckler (2002).

37 In die sin wat Nord onderskei tussen ’n woord vir woord en letterlike vertaling. Sien punt 3