Burger, C W en Wepener, C J
BUVTON, Universiteit van Stellenbosch

Die predikantsamp. Deel 1: Onduidelikheid oor die kerninhoud van die predikantsamp.

ABSTRACT

The office of the minister. Part 1: Obscurity concerning the essence of the office of the minister.

For many ministers and church members there are certain obscurities regarding the essence of the task of a minister. Nationally and internationally there are numerous changes at different levels that are responsible for this state of affairs. Therefore these changes are firstly briefly described in this article. Thereafter the deeper reasons for the vagueness concerning the office of the minister is discussed, in order to highlight some of the levels that need attention in this regard. Lastly four lines are proposed along which some clarity can be obtained. As such this article is an introduction to a series of five articles on the office of the minister and the four lines are then looked at individually in the rest of this series. It is hoped that it will help to clarify the obscurity surrounding this office with these five articles and to suggest a (new) way of looking at it within our current context.

1. INLEIDING

Daar bestaan vandag baie onduidelikheid oor die kernidentiteit van die predikantsamp – ook in die NG Kerkfamilie. By heelwat lidmate en predikante heers daar onsekerheid oor presies wat die taak van die dominee is en wat van haar/hom verwag word. Verskeie redes kan hiervoor aangevoer word – wat saamhang met sosiale verskuiwings op nasionale en internasionale vlak. Hierdie veranderinge sal eerstens in hierdie inleidende artikel krities belig word waarna dit met enkele bestaande empiriese studies bevestig sal word. Vervolgens sal gekyk word na van die dieper redes vir hierdie onduidelikheid rakende die amp van die predikant. Daarna word aangedui dat hierdie probleem waarskynlik gesoek moet word na ’n meervlakkige antwoord op die probleem. Uiteindelik word vier lyne aangegee waarlangs enige helderheid verkry kan word ten opsigte van hierdie onduidelikheid. Hierdie vier lyne word daarna elkeen afsonderlik in ’n artikel in hierdie reeks verken. As sodanig dien hierdie eerste artikel dus as ’n inleiding vir al vier die artikels wat volg en as motivering vir die noodsaaklikheid van hierdie ondersoek.

2. VERANDERINGE IN KERK EN SAMELEWING

Eerstens hang die onduidelikheid rakende die identiteit van die amp van die predikant wêreldwyd saam met die disintegrasie van die sogenaamde Christendomkerk (dus faktore van buite). Geskiedenis en kultuur affekteer ons huidige verstaan van leierskap (Guder 1998:190). En in Noord-Amerika het veral twee sake hulle huidige verstaan van leierskap beïnvloed, te wete Christendom en moderniteit. Die eersgenoemde saak, te wete Christendom, is egter aan die verander (uiteraard bestaan daar ook ’n skuif vanaf moderniteit na postmoderniteit). Daar het ’n baie belangrike skuif plaasgevind wat al getipeer is as ’n skuif vanaf ’n Christendom na ’n na- Christendom paradigma (sien oa Hall 1997; Bosch 1991 & 1995; Mead 1991). Die kerk bevind haarself al meer op die periferie van hierdie sogenaamde na-Christendom samelewing. Teenoor na-Christendom verwys die term Christendom na dié tydperk in die geskiedenis van die kerk wat begin het in die vierde eeu by Konstantyn (wat die Christelike godsdiens as ’n wettige godsdiens verklaar het) en Theodosius (wat dit die staatsgodsdiens gemaak het). Sodoende het die Christelike godsdiens vanaf ’n gemarginaliseerde minderheidsposisie van onderdrukking en vervolging beweeg na ’n sentrale meerderheid met ’n posisie van mag en rykdom. So het die kerk een van die “magte” in die ryk geword. En die priester was “shepherd to a static people and the provider of the focused and limited mission of caring for the church’s members by ordering and dispensing the means of grace in a geographic locale. Leadership had a settled, pastoral identity now. The apostolic, as in missional, nature of leadership evaporated under these conditions” (Guder 1998:192).

Hierdie siening van leierskap is nie werklik deur sekere dele van die Reformasie (Lutherane, Gereformeerdes en Anglikane) uitgedaag of verander nie. Die rol van priester het gewoon oorgegaan in dié van pedagoog wat ook duidelik af te lei is van die liturgiese kleding (Guder 1998:193 ook Uytenbogaart 1998:374-375). Priesterlike kleredrag het plek gemaak vir akademiese togas. Hier was dus steeds sprake van ’n Christendom-paradigma en leierskap is daarbinne gedefinieer. Gedurende die Verligting het hierdie situasie voortgeduur, alhoewel die rol van die predikant in hierdie periode geskuif het vanaf pedagoog na professioneel (Guder 1998:194-195) .

Sedertdien het verskeie ander magte egter saamgewerk om die posisie van die kerk in die samelewing te laat kwyn, en in sekere wêrelddele (veral Europa en die VSA) na die periferie van die samelewing te skuif (vergelyk oa Goheen 2002:479-490; Guder 1998:1-7 asook Leith 1990:39-41). Hierdie skuif het uiteraard ’n sekere invloed op die werk van predikante en stel bepaalde uitdagings, aangesien sekere leierseienskappe van kardinale belang is binne ’n situasie van verandering. ’n Missionêre kerk in ’n na-Christendom konteks vra ander eienskappe van predikante as ’n gevestigde kerk binne ’n Christendom-paradigma.

Die amp van die predikant gaan in hierdie post-Christendom situasie oor veel meer as net prediking en lering, maar om ’n missiologiese lei van God se volk, die kerk. Volgens Guder (1998:183-220) gaan dit oor vorming en toerusting, sodat die kerk sal groei tot ’n gestuurde gemeenskap, ’n geneesde eenheid (Ef 4) sodat die wêreld kan glo (Joh 17). En van die leiers soos predikante self, kan nou alreeds voorlopig opgemerk word, vra dit “koninkryk demonstrasie” (sien Guder 1998:187) – ’n neem van die voortou deur self die implikasies hiervan te leef soos wat Jesus dit self ook gedoen het.

Maar laat ons nie sake vooruit loop nie, aangesien ’n aanstip van roetemerkers vir leiers of spesifiek vir die taak van die predikant die oogmerk van die laaste twee artikels in hierdie reeks is. Wat hier egter alreeds blyk, is gewoon dat ’n post-Christendom paradigma implikasies het vir onder andere ons siening van die sending van die kerk, naamlik dat die kerk in sy wese ’n gestuurde (missionêre) gemeenskap is om alreeds teken te wees van dit wat kom. En dit alles (!) is deel van wat ’n predikant as leier in ’n gemeente in ’n post-Christendom paradigma moet beliggaam.

Tweedens het die onduidelikheid wat heers aangaande die amp tog ook wel te doen met eise ten opsigte van ander taal, behoeftes, sosiale teorie en van verwagtings en eise van jonger geslagte. Navorsing het getoon dat verskeie generasies elk ’n besondere uitdaging aan predikante bied. Generasies met name soos onder andere Boomers, Buster en Generation Xers (vergelyk oa Celek en Zander 1996 en Schultze et al 1991) laat ’n predikant en sy/haar bediening redelik gou gedateer voorkom. In een gemeente kan ook, benewens verskeie generasies, meer as een tipe spiritualiteit voorkom, waarvan sommiges anders is as die spiritualiteit van die gemeente se predikant(e), watliturgies geakkommodeer moet word.1 Die sogenaamde nuwe Suid-Afrika vra ook ’n ander taal van baie.

In Suid-Afrika het die proses van verandering wat ’n invloed het op die taak van die predikant as leier nog sneller gebeur as gevolg van politieke en sosiale skuiwe wat plaasgevind het.2 Binne die bestek van enkele dekades moet sommiges dominees hier swaai vanaf predikante in eksklusief wit gemeentes na multikulturele leiers. ’n Teologie van Afrikanernasionalisme wat die beleid van apartheid teologies gesanksioneer het, het plek gemaak (of is besig om dit te doen) vir ’n teologie van versoening, heling en heropbou. Suid-Afrika se liberale demokrasie waarbinne vryheid en gelykheid op alle lewensterreine nagestreef word maak die huidige situasie nog meer kompleks. Die Christelike geloof geniet geen besondere voorregte meer nie en predikante moet gemeentes nou binne ’n multireligieuse opset lei. Al meer predikante moet ook begin om ekumenies saam te werk met leiers uit ander denominasies, wat ’n ander instelling verg as die tradisionele “net ons het die volle waarheid beet”. Verder bied ’n hoë misdaadsyfer, die uitbly van kerkeenheid tussen die NGK en VGK, armoede en vigs ook nog besondere kontekstuele uitdagings, om nie te praat van die sogenaamde pre-moderne-moderne-post-moderne triade (Van der Merwe 1996:79) wat daar binne die grense van een land (Suid-Afrika) aanwesig is nie. Binne hierdie opset moet dominees gemeentes lei om hulle roeping in die wêreld te volvoer. Presies wat die inhoud van hierdie leiding moet wees is nie ’n vraag wat maklik is om te beantwoord nie.

3. ENKELE EMPIRIESE STUDIES

Wat sê predikante en gemeentelede oor die werk of taak van predikante? Enkele empiriese studies toon dat die belangrikste uitdagings ten opsigte van die amp van die predikant gesentreer is rondom die prediking en aard van leierskap.

Volgens empiriese studies 3 sentreer lidmate se grootste behoefte, hulle siening oor waar die kerk betrokke moet wees, asook hul ervaring van God se teenwoordigheid, alles rondom die verkondiging van die Woord. Wat lidmate van predikante verwag is primêr om te preek. ’n Feit wat Leith (1990:83) ook beklemtoon, naamlik “First, they (gemeentes) want persons who are able to explicate and apply the Word of God with power”. Saam met prediking is lidmate se verwagting van die belangrikste insette van die leraar voorbidding, berading, toerusting en opleiding en huisbesoek, terwyl organisasie en administrasie heel onder op die skaal lê. Hierteenoor wys Van der Merwe (1991:1–9) daarop hoe predikante dikwels hierdie geestelike rol en verwagtings en behoeftes van lidmate afskeep en meer aandag aan bestuur gee. Daar bestaan dus ’n diskrepansie tussen wat lidmate van hul leraar(s) verwag en wat predikante dink verwag word of “voel” hulle behoort te doen. Hier is dus een kontekstuele uitdaging waarbinne gemeentepredikante hulle taak opnuut kan definieer.

Verder bestaan daar by talle lidmate en leraars ’n verwarring oor sake soos mag en outoriteit, oor die leierskapsrol en -styl wat die leraar behoort te hê. 4Op die vraag “Hoe veral meen u behoort die kerk (gemeente) vandag te funksioneer?” het 49% die “Liggaam van Christus”- bedieningsmodel gekies waarbinne lidmate vir mekaar onderling sorg en die predikant meer in ’n fasiliterende en raadgewende hoedanigheid optree, terwyl ’n ruim 29% steeds die tradisionele “Herder/kudde”-model gekies het.

Navorsing wat gedoen is by die Hartford Institute for Religion Research genaamd FACT (Faith Communities Today) 5 het interessante gegewens oor die amp van die leraar na vore gebring, veral aangaande tradisionele universitêre opleiding. Volgens hulle rapport dra godsdienstige leier grootliks by tot vitaliteit en groei in gemeentes. Tog is daar ’n tendens dat gemeentes waar die gemiddelde ouderdom van lidmate hoog is, sukkel om energie en ’n duidelike visie te behou. Leiers in sulke gemeentes staan voor die uitdaging om die gemeente te help om ’n vars gevoel van ’n duidelike doel te (her)ontdek. ’n Nog groter demper op die vitaliteit en energie van gemeentes met gepaardgaande afname in lidmaattal is egter konflik. Hier staan leiers voor die uitdaging om op ’n openlike wyse konflik konstruktief te kan hanteer. En nou verbonde is die uitdaging om oop kommunikasie tussen gemeentelede aan te moedig. “Capable leadership that enables openness in dealing with conflict can dramatically neutralize and perhaps even constructively use the energy of strong feelings that are typically present in bitter disagreements”.6

Die proliferering van gespesialiseerde bedieninge maak dat die tradisionele omskrywing van die taak van die leraar nie meer voldoende is nie en dat hierdie bediening breër as in die verlede verstaan moet word. Tradisionele omskrywings veronderstel ook sondermeer ’n gemeentelike konteks vir hierdie amp, terwyl dit dikwels nie meer die geval is nie. 7 Predikante voel dikwels nie opgewasse vir die taak nie, veral binne ’n post-1994 Suid-Afrika waarbinne die rol van die kerk in die algemeen en die NG Kerk spesifiek dramaties geherdefinieer word.

Wat die opleiding van predikante betref lyk predikante wat gegradueerdes van seminariums is se bediening aansienlik anders as diegene met minder opleiding (soos gesien vanuit die FACT- verslag). Die gegradueerdes verwys meer in hulle preke na nuus en literatuur. Hulle is meer geneig tot betrokkenheid in ekumeniese aanbidding en sosiale bedieninge. Verder is dit minder waarskynlik dat hulle tradisionele religieuse-morele waardes behou en is hulle minder “committed” om die denominasie se erfenis te bewaar. En dit is ook minder waarskynlik dat hierdie gegradueerde leiers openlik met konflik en verskille omgaan. Daar is ook geen aanduiding dat gegradueerdes (eintlik is dit effens minder waarskynlik) eerder as niegegradueerdes in gemeentes voorkom wat vitaal is, wat groei in lidmaattal, goed georganiseerd is, kontemporêre aanbidding gebruik en helder is oor hulle doel en missie. Hulle sê hierop tereg dat daar meer noukeurige bestudering hiervan nodig is, “But the fact remains that, according to the survey, congregations with leaders who have a seminary education are, as a group, far more likely to report that in their congregations they perceive less clarity of purpose; more and different kinds of conflict; less person-to-person communication; less confidence in the future and more threat from changes in worship”. 8Nie alleen die konteks waarin ons leef en die onduidelikheid oor die inhoud van die predikantsamp bied dus ’n uitdaging aan die amp van die predikant nie, maar ook die wyse waarop predikante in die Gereformeerde tradisie tradisioneel opgelei word.

Hierdie onsekerheid oor prediking en leierskap wat aangetoon word deur hierdie studies, het egter dieper redes wat veral betrekking het op die verstaan van roeping. Met hierdie eerste voorlopige verkenning van uitdagings kan nou van die onderliggende dieper redes gegaan word.

4. ’N DIEPER KYK NA REDES VIR DIE VRAE

Die katastrofale gevolge van die Eerste Wêreldoorlog het al in 1921 vir William Butler Yeats in sy gedig “The Second Coming” ’n beskrywing van die moderne wêreld laat maak. ’n Beskrywing wat nie onvanpas is wanneer daar oor die amp van die predikant aan die begin van die 21ste eeu nagedink word nie. Hy skryf onder andere:

Turning and turning in the widening gyre

The falcon cannot hear the falconer;

Things fall apart; the center cannot hold;

Mere anarchy is loosed upon the world,

4.1 Identiteitskrisis, verlies van tradisionele rol en take – “the widening gyre”

’n Geslag of twee gelede is predikante met die allergrootste gesag en respek bejeën vanweë hulle spesiale posisie en roeping in die samelewing. Hierdie posisie het grootliks verander in die samelewing van vandag en dít hang nou saam met ’n sekere verstaan van roeping. Al meer word die roeping van die dominee in dieselfde kategorie geplaas as enige ander roeping. Bartlett (1993:14) merk in hierdie verband op dat só ’n siening van die roeping van die predikant tot gevolg het dat die roeping en taak van die predikant in funksionele, eerder as ontologiese en sakramentele kategorieë verstaan word. “Clergy are those who are paid, hired, to performed particular jobs for the congregation” (Bartlett 1993:14). Hulle word sodoende ook kerklike funksionarisse wat, net soos wat hulle gehuur kan word, ontslaan kan word. En volgens Leith (1990:56) begin enige hernuwing by ’n helder verstaan van die aard van die amp van die predikant, en is groeiende kerke die kerke wat duidelik is oor hulle identiteit. Duidelikheid oor die identiteit van nie alleen die kerk nie, maar ook van die predikant. “They did not and they do not confuse the church with a civic club, a social agency, or a political party; or the minister with a political advocate, a therapist, or an executive” (Leith 1990:57). In ’n gemeenskap van gelowiges waar alle gelowiges priesters, konings en profete is, het ’n predikant die roeping om te preek, te leer en pastoraat te beoefen – dit is die kern.

4.2 Sekularisasie veroorsaak twyfel oor roeping en inhoud van die evangelie – “the falcon cannot hear the falconer”

Na verwant en met ’n definitiewe invloed op die sogenaamde identiteitskrisis, is sekularisasie. Sekularisasie 9 het die kerk volgens Leith (1990:40–43) op ten minste drie wyses beïnvloed.

• Eerstens moet die kerk oorleef in ’n samelewing wat geen ondersteuning bied vir die spesifieke lewe van die kerk nie. So is winkels op ’n Sondag oop en sukkel kerke om byvoorbeeld hulle eredienste te onderhou.

• Sekularisasie het ’n reduksie van die kerk se invloed op die samelewing in die algemeen tot gevolg.

• Derdens het sekularisasie die kerk se eie lewe ook beïnvloed. “Almost every Protestant church has eagerly adopted the personnel policies of business” (Leith 1990:41).

Veral hierdie derde punt van Leith is vir hierdie ondersoek belangrik, want, soos hyself opmerk, “In no area has the secularization of the church been more obvious than in the changed attitude toward the calling of ministers” (Leith 1990:41). Die verskil tussen die roeping van ’n predikant en die roeping van ’n bestuurder in ’n gewone besigheid het vervaag. En die tese vir sy hele boek, wat dus ook van toepassing is op die roeping en taak van predikante, is dat hernuwing moet kom vanuit die gemeenskap van gelowiges self, vanuit die kerk se eie tradisie en outoriteite (Leith 1990:19–20). Dít eerder as ’n totale opgaan en akkommodasie van sekularisasie waarin predikante eerder kontemporêr en relevant wil wees as gewoon getrou aan die proklamasie van die Evangelie van geslag tot geslag.

4.3 Versnippering van die amp en verlies van heelheid – “things fall apart”

Bartlett (1993:17) haal vir Sittler aan wat alreeds in 1959 die diagnose gemaak het dat baie predikante se werk versnipper word, opgesny word in vele klein stukkies. Hierdie versnippering het tot gevolg dat predikante se tyd, hulle gevoel van roeping, hulle siening van hulle sentrale taak, hulle geestelike lewe en kontemplatiewe potensiaal, alles onder die skêr kom (Sittler in Bartlett 1993:17). Die gevolg is in Sittler se woorde, “Most of the men I know really want to be what they intended and prepared for. Instead they have ended up in a kind of dizzy occupational oscillation” (Sittler in Bartlett 1993:17). En hierdie versnippering bring ons by ’n volgende probleem, te wete die afwesigheid van ’n fokus of kern.

4.4 Afwesigheid van kern/fokus – “the center cannot hold”

Daar is alreeds in 4.1 daarop gewys dat baie predikante onseker is oor die identiteit van hulle roeping. Hierdie onsekerheid hang saam met die feit dat predikante onseker is, vanweë onder andere die reeds vermelde versnippering, oor wat die kern van hulle opdrag is. Hierdie onsekerheid het ook tydens die Reformasie voorgekom en is as sodanig teologies aangespreek. Die Reformasie het tot gevolg gehad dat daar ’n totaal nuwe verstaan van wat presies die kerk is na vore gekom het. Hierdie nuwe verstaan van kerk het onvermydelik ook ’n invloed gehad op die verstaan van die amp van die predikant, en is hierdie amp vanaf die Reformasie as ’n roeping eerder as ’n beroep verstaan (Leith 1990:62). ’n Roeping tot prediking, lering en pastoraat. In ons huidige situasie staan die amp van die predikant opnuut voor hierdie vraag, vanweë ’n verlies van identiteit, vanweë sekularisasie en vanweë ’n versnippering, om enkele redes weer hier te noem, oor die kerninhoud of sentrale fokus van die amp van die leraar. In lyn hiermee merk Bischoff, Müller en Vos (2001:54) op dat leierskapsrolle van predikante nie meer so duidelik gedefinieer is nie en dat predikante gevolglik ook nie so seker is oor presies wat nou eintlik van hulle verwag word nie. Hierdie bevinding maak hulle op grond van ’n empiriese studie wat onder predikante van die NG Kerk en Hervormde Kerk in Suid-Afrika gedoen is, en is volgens hulle soortgelyk aan die resultate wat in ’n soortgelyke studie in die Samen op Weg Kerke in Nederland gedoen is. Hierdie kern moet herontdek word en ’n voorlopige verkenning hiervan sal in hierdie reeks artikels ook gedoen word deur op die spoor van die Woord, geskrifte van Reformatore, belangrike kerkordes en die werk van nuwer teoloë op soek te gaan na hierdie kern.

4.5 ’n Nagevolg van die professionalisering van die amp

Daar is reeds daarop gewys hoedat die taak van die predikant sedert die Reformasie geskuif het vanaf pedagoog na professioneel. Maar hierdie skuif het ook bepaalde gevolge gehad vir die predikantsamp deurdat die sentrale fokus daardeur verduister is. ’n Roeping het ’n betaalde beroep geword met kontrakte en self-advertering soos in die sekulêre wêreld. En die vraag oor hoeveel ’n dominee dan betaal moet word het Niebuhr alreeds in 1924 laat opmerk: “If the things that are added become too numerous, they distract your attention terribly. To try to keep your eye on the main purpose may only result in making you squint-eyed” (aangehaal in Leith 1990:65). Die kern van die probleem sentreer hier rondom die verskil tussen roeping en beroep. Die bediening van die Woord van God en die sakramente is nie ’n werk waardeur predikante hulself onderhou nie. Inteendeel, die amp van die leraar is ’n roeping om die Woord te verkondig en om die kerk en gemeenskap van gelowiges op te bou (Leith 1990:67).

Volgens artikel 30 van die Nederlandse Geloofsbelydenis moet dienaars of herders die Woord verkondig en die sakramente bedien. Verder moet hulle saam met die kerkraad sorg dra dat die ware godsdiens onderhou word, die ware leer oral versprei word, die oortreders op geestelike wyse vermaan word en in toom gehou word, en dat die armes en beproefdes volgens hulle nood gehelp en getroos word. Dit is die kern en essensie waarop die amp georiënteer kan word in ’n samelewing waarin professionalisering hoogty vier.

4.6 Grootte van gemeentes kan rol totaal verander

In eenmansgemeentes is die werk van die predikant minder onduidelik as in groter gemeentes. So bied die situasie wat makrogemeentes aan die bediening deur spesialisering en ’n verdeling van die funksies van die een amp in een gemeente, ook unieke uitdagings met betrekking tot die unieke rol van dominees (sien Louw 2003:3-4). Hier is dit belangrik dat die verskillende leiers in ’n gemeente hierdie situasie goed begryp, asook die eie identiteit van elkeen se rol binne die geheel. Soos die Afrika-gesegde tereg lui: “Wanneer olifante baklei is dit die gras wat die meeste daaronder ly” (sien Mbiti 1999:5). Wanneer die leiers in ’n gemeente onduidelikheid het oor presies wat hulle rolle is en hoe dit in die geheel pas, kan dit maklik aanleiding gee tot ’n sekere mate van onenigheid, en in die proses is dit dikwels die lidmate wat die meeste ly. Verder word ook persone wat nie tradisionele predikantsopleiding ondergaan het in die leierspan van vele makrogemeentes opgeneem, wat volgens Louw (2003:3) die vrae wat dan nou eintlik predikantswerk is en wat die wese van predikantwees is na vore roep. Die grootte van gemeentes is dus nog ’n kontekstuele uitdaging wat ’n dringende ondersoek na die hart en wese van die identiteit van predikant en sy werk vereis.

5. OP SOEK NA ’N MEERVLAKKIGE OPLOSSING VIR DIE PROBLEEM

As ons in die volgende artikels die probleem van naderby gaan bekyk, is dit belangrik dat ons reeds nou al sal verstaan dat die dieper dinge in die probleem en daadwerklike hulp aan predikante waarskynlik op meer vlakke sal lê. Belangrik is dat die probleme wat in die bediening ervaar word nie vir almal op dieselfde vlak lê nie. Daar kan van diesulke probleme op ten minste vyf of ses vlakke onderskei word, wat ook die belangrikste vlakke is wat moet aandag geniet, te wete:

• Spiritualiteit

• Roeping

• Persoonsgroei

• Insig in ekklesiologie en geestelike leierskap

• Bedieningsvaardigheid

• Teologiese en kontekstuele insig

Alvorens ’n meer volledige model voorgestel word om hierdie voorafgaande uitdagings die hoof te help bied, is ’n in meer diepte verkenning van hierdie onderwerp noodsaaklik.

6. VERDERE BESINNING WORD BENODIG

Die voorafgaande kontekstuele beskrywing ten opsigte van die uitdagings wat skuiwe in die samelewing wêreldwyd aan predikante en hul roeping en taak bied, wys eerstens op die groot omvang van die probleem, maar vra ook om verdere besinning. God hou self sy kerk op aarde in stand, maar gebruik die verskillende ampte in diens daarvan. Daarom kan ’n verdere verkenning van die predikantsamp help om enige helderheid te verkry omtrent die sentrale en mees fundamentele eienskappe van die amp en taak van die predikant. Hierdie besinning staan in diens van predikante om die identiteit van hulle amp te herontdek en saam daarmee die kern en essensie van hul taak. En as sodanig staan dit in diens van die kerk aan wie predikante toevertrou is en dus ook die koms van Gods koninkryk.

Hierdie verdere besinning sal veral na vier lyne kyk en as sodanig, saam met hierdie eerste inleidende artikel, uiteen val in ’n reeks van vyf artikels. Eerstens sal die Bybelse lyne oor die amp ondersoek word in beide die Ou- en Nuwe Testament. Hier sal, eerder as om enkele individuele tekste te eksegetiseer, na die werk van Ou- en Nuwe Testamentici gegaan word om te kyk of daar bepaalde lyne of eienskappe met betrekking tot leierskap in die verskillende tydperke in die Bybel blootgelê kan word om uiteindelik aan te toon wat die konstantes is ten opsigte van Bybelse leierskap.

Artikel 3 sal dan kyk na die geskiedenis van die amp in die Reformatoriese kerke en hedendaagse tendense. Hier sal veral gefokus word op Calvyn se beskouing oor die amp van die predikant, die amp van die predikant in die Kerkorde van Dordt en die ontwikkeling van daardie artikel in kerkordes uit die Gereformeerde tradisie, veral soos dit gebeur het op Suid-Afrikaanse bodem. Laastens sal ook gekyk word na ontwikkelinge hieromtrent in die kerkordes van ander Gereformeerde kerke wêreldwyd.

Die voorlaaste artikel kyk na predikantwees in die Gereformeerde tradisie in die 21ste eeu. Spesifiek dan ook na die belangrikste ontwikkelings en gedagtes rondom predikantwees en predikantswerk. En hieruit word vyf nuwe beklemtonings aangestip.

In die laaste artikel word die drie ampte van koning, priester en profeet aangebied as sistematiseringsmodel vir die verstaan van predikantswerk. Die hoop word uitgespreek dat hierdie ondersoek kan help om koers te gee aan die huidige gesprek rondom die amp van die predikant, en uiteindelik na die vraag of die huidige omskrywing van die taak of pligte van die predikant in (Kerkorde van 2002) artikel 9 van die NG Kerk genoegsaam is.

Met hierdie voorlopige vooruitskouing en kontekstuele uitdagings in gedagte sal daar nou in die eerste instansie na die Bybel gegaan word vir leiding.

BIBLIOGRAFIE

Bartlett, D L 1993. Ministry in the New Testament. Overtures to Biblical Theology. Minneapolis: Fortress Press.

Bischoff, J, Müller, J en Vos, C J A 2001. “Kerklike leierskap in Suid-Afrika in die 21ste eeu?” Praktiese Teologie in Suid-Afrika. 16/2, 33 – 56.

Bosch, D J 1991. Transforming Mission.Paradigm shifts in theology of mission. Maryknoll, NY: Orbis Books.

Bosch, D J 1995. Believing in the Future: toward a missiology of Western culture. Valley Forge, PA: Trinity Press Internaional.

Business Futures 2002. Instituut vir Toekomsnavorsing: Universiteit van Stellenbosch.

Celek, T en Zander, D 1996. Inside the Soul of a New Generation. Insights and Strategies For Reaching Busters. Grand Rapids: Zondervan Publishing House.

Goheen, M W 2002. “The Missional Church: Ecclesiological Discussion in the Gospel and Our Culture Network in North America”. Missiology Vol. XXX Nr. 4, 479 – 490.

Guder, D L (red) 1998. Missional Church. A Vision for the Sending of the Church in North America. Grand Rapids, Michigan/ Cambridge, UK: W B Eerdmans Publishing Company.

Hall, D J 1997. The End of Christendom and the Future of Christianity. Christian Mission and Modern Culture. Valley Forge, PA: Trinity Press International.

Kotzé, J 2003. “Leierskap en bestuur in Tye van Transformasie”. Kruisgewys 3/3, 12-14.

Leith, J H 1990. From Generation To Generation. The Renewal of the Church According to Its Own Theology and Practice. Louisville: Westminster/John Know Press.

Louw, L 2003. “Predikant-in-Meervoud. Predikantswerk in makrogemeentes”. Kruisgewys 3/3, 3 – 4.

Ludik, B et al. Koeltebome van God se genade. Eredienste wat Hoop gee. ’n Kursus oor erediensspiritualiteit. Buvton: Universiteit van Stellenbosch.

Mbiti, J S 1999. “‘Hearts Cannot be Lent!’ In Search of Peace and Reconciliation in African Traditional Society”. The Princeton Seminary Bulletin. XX/1, 1 – 12.

Mead, L B 1991. The once and future church: reinventing the congregation for a new mission frontier. Washington, DC: Alban Institute.

Neuhaus, R J (red) 1986. Unsecular America. Encounter Series. Grand Rapids: W B Eerdmans.

Schultze, Q J 1991. Dancing in the Dark. Youth, Popular Culture and the Electronic Media. Grand Rapids: W B Eerdmans Publishing Company.

Uytenbogaart, H 1998. Symbool en rite. In: Oskamp, P en Schuman, N (reds.). De weg van de liturgie. Tradities, achtergronden, praktijk. Zoetermeer: Meinema.

Van der Merwe, M 1991. Jy het ’n unieke rol, dominee. Stellenbosch: BUVTON.

Van der Merwe, W L 1996. “Philosophy and the Multi-Cultural Context of (Post)Apartheid South Africa”. Ethical Perspectives. 3/2, 76 – 90. http://fact.hartsem.edu

1 Vergelyk onder andere in hierdie verband, Ludik, B et al. Koeltebome van God se genade. Eredienste wat Hoop gee. ’n Kursus oor erediensspiritualiteit. Buvton: Universiteit van Stellenbosch. Die outeurs onderskei hier tussen ’n kop-, hart-, mistiek- en handspiritualiteit.

2 Hierdie punt word ook deur Bischoff, Müller en Vos (2001:35) benadruk. Sien ook, Kotzé (2003:12–14).

3 Hier is ruimskoot gebruik gemaak van inligting uit die databasis van Buvton se vraelyste oor bedieningsbehoeftes (Desember 2002) wat tot dusver deur 18 968 lidmate van die NG Kerk in meer as 40 gemeentes ingevul is. In lyn met die bevinding oor prediking is die positiewe faktor ten opsigte van lidmate se beskouing van die werk van die leraar as ’n prediker 59 wat verreweg die hoogste is, en op die vraag na die rangskikking van die insette van die leraar volgens orde van belangrikheid was die positiewe faktor wat prediking behaal het 72. Prediker word gevolg deur toeruster (51), motiveerder (44), pastor (37), vriend (29) en bestuurder (19). Vergelyk ook, Van der Merwe, M 1991. Jy het ’n unieke rol, dominee. Stellenbosch: BUVTON, p 1-9, en vergelyk gerus hier ook die sake wat ’n studie oor die amp by die PCUSA ontlok het. Office of the General Assembly Presbyterian Church (U.S.A.) 1996. A Ministry of Service. A Guide to the Meaning of Ordination and Church Office in the Presbyterian Church (U.S.A.). The Office of Theology and Worship, p 1.

4 Dit word bevestig deur antwoorde wat predikante self verskaf het in Bischoff, Müller en Vos (2001:54) se ondersoek, naamlik dat Suid-Afrikaanse predikante skepties is oor die selfversekerde leiersfigure van modernisme en die apartheidsjare.

5 http://fact.hartsem.edu onder die hofie “religious leaders”.

6 Ibidem

7 Dink byvoorbeeld aan bedieninge soos Straatwerk, kapelaanskappe, versorgingsoorde, werk as dosente en navorsers by Seminariums, ens. Vergelyk ook, Office of the General Assembly Presbyterian Church (U.S.A.) 1996, p 22, asook die KO van die SoW-kerke.

9 Daar moet versigtig onderskei word tussen die verskil in die invloed van sekularisasie op Europa en Noord-Amerika (en uiteraard ook op Suid-Afrika). Terwyl die VSA “persistently religious and intensely secular” (Neuhaus 1986:74) genoem kan word, geld slegs die sekulêre deel van laasgenoemde aanhaling vir Europa. “It is thus necessary to speak in a qualified way about secularisation at the beginning of the 21st century; it clearly manifest itself in different ways in different contexts. Bearing these reservations in mind, the secularisation of society, especially of Western society, is still one of the most marked societal trends of the 20th century. It covers such issues as pressure on the removal of various forms of state support such as of religious tests for public office, of official protection for particular religious doctrines and practices, of censorship of literature, etc. Individuals are free to deviate openly and express themselves. Moreover, the right to free expression is perceived to be a fundamental human right”. Sien, Business Futures 2002. Instituut vir Toekomsnavorsing: Universiteit van Stellenbosch, hoofstuk 2. Die konteks waaruit Leith skryf is die Noord-Amerikaanse Presbiteriaanse konteks. En wat die Suid- Afrikaanse konteks aanbetref kan opgemerk word dat sekularisasie nou besig is om die land te tref, sekere dele meer as ander, dít tesame met die feit dat bykans 80% van die Suid-Afrikaanse bevolking hulself by die Christelike geloof skaar.