Van Zyl, M S
Universiteit van Stellenbosch

Die Dordtse Leerreëls as belydenis van volkome troos – ’n bydrae tot die hermeneutiek van belydenisskrifte.

ABSTRACT

The Canons of Dordt as a confession of complete comfort – a contribution to the hermeneutics of confessions

This article presents a reading of the Canons of Dordt as a confession of complete comfort, in order to show, by way of this case study, how our hermeneutical approach to confessions can influence our understanding of their message and purpose. Even though the Canons of Dordt is a highly controversial confession with some very problematic formulations, when reading it as a confession of complete comfort, it becomes clear that all four the subdivisions of the Canons of Dordt give witness to the complete comfort of God’s grace. It does so by showing that 1) an alterable election would imply an uncertain comfort, that 2) an election based on a decision of faith would imply a conditional comfort, that 3) if the election needs to be supplemented by the general grace it would imply an insufficient comfort and that 4) a call to continuous responsibility would imply a short-lived comfort.

1. INLEIDING

Hoe is dit moontlik dat sommige predikante in die NG Kerk die Belydenis van Belhar lees en nie daarop reageer deur te juig: “Halleluja! Amen!” nie? Verskeie verklarings kan sekerlik aangebied word, maar een moontlike verklaring lê op die vlak van hermeneutiek. Dit wil voorkom asof sommige predikante, wat daartoe in staat is om kontroversiële en problematiese gedeeltes in die Bybel te lees en die evangeliese skopus van daardie gedeeltes met uitstekende hermeneutiek te ontgin, nie daartoe in staat is om dieselfde te doen met die belydenisskrifte nie. Dit wil blyk dat die belydenisskrifte steeds op ’n positivistiese wyse op die letter af gelees word, met debatte en argumente wat gevoer word oor die formulering van enkele woorde, en selfs met die voorstel dat sekere woorde gewysig moet word, asof ’n belydenisskrif se bewoording a-historiese, universele waarhede is, wat los staan van die geskiedkundige konteks waarin dit tot stand gekom het. Hierdie artikel bied ’n lesing van die Dordtse Leerreëls (DL) aan as ’n gevallestudie van die wyse waarop ons hermeneutiese benadering tot ’n belydenis ons kan help om die fundamentele strekking en bedoeling van daardie belydenis te begryp. Deur die DL – sekerlik die mees kontroversiële Gereformeerde belydenis met van die mees problematiese formulerings – te lees as ’n belydenis van volkome troos, word dit duidelik dat die DL ’n merkwaardige uitdrukking is van die evangeliese boodskap dat ons uit genade alleen verlos word. Sodra ons vir een oomblik begin wonder of ons verlossing dalk ook in die minste mate afhanklik is van die keuses wat ons maak uit ons eie vrye wil, of van ons geloof, of van ons reaksie op die algemene genade, of van ons volharding in die geloof, word ons beroof van die troos wat ons het in God se volkome, genoegsame genade. Die DL moet nie gelees word as ’n abstrakte doktrine nie, maar as ’n geloofsbelydenis aangaande die troos wat ons vind in ’n God wat ons uit absolute genade, sonder enige verdienste van ons kant, lief gehad het, verlos het, tot geloof en gehoorsaamheid gebring het en nooit sal los nie. Deur ons belydenisskrifte nie te lees en te bely as onfeilbare dogmatiese formules nie, maar as geloofsbelydenisse, as doksologie, wat deel uitmaak van ons kerk se geskiedenis, tradisie en geloofsbronne, kan ons met nuwe oë kyk na die evangeliese waarheid wat ons in hulle vind. (Berkouwer 1963: 2, 5-8, 11-12, 17, 21-23)

2. DIE UITVERKIESING SE VOLKOME TROOS

Die stryd in die 16de eeu in Nederland tussen die Libertyne, wat meer tolerant, moralisties en humanisties gesind was, en die Calviniste, wat nouer in lyn gestaan het met die Gereformeerde tradisie van Calvyn, het ’n hoogtepunt bereik in die leer oor die uitverkiesing, maar dit was glad nie nét die uitverkiesing wat ter sprake was nie. Arminius se volgelinge (ook genoem die Remonstrante) het in 1610, in die vyf punte van die Remonstrantie, aangetoon dat hulle die leer oor die uitverkiesing anders verstaan as die ortodokse leer, maar dit was die verlossingsleer wat aan die grondslag van daardie uitverkiesingsleer gelê het, wat in der waarheid gelei het tot die ekumeniese sinode van Dordrecht se volkome verwerping van elke punt in die Remonstrantie. Die uitverkiesing vorm die kulminasiepunt van die leer van sola gratia, en dit was uiteindelik hierdie leer wat Arminius en sy volgelinge verswak en afgewys het. Die volkome troos dat God ons uit genade alleen verlos, is dus in gedrang gebring. Deur te leer dat mense nie hulle wilsvryheid volkome verloor het na die sondeval nie, sê die Libertyne dat mense ’n verantwoordelikheid het om, ten spyte van hul sonde, ’n vrye geloofskeuse te maak vir God, met die hulp van die algemene genade. Geloof is dus ’n deug wat nodig is vir die mens se verlossing. Verlossing berus op die verdienste van Christus, maar die keuse van die mens om daardie verdienste in geloof te aanvaar, is ’n klein, dog verdienstelike, daad van geregtigheid waarsonder die verlossing nie volkome is nie. Gevolglik word ons troos in Christus gedeeltelik afhanklik gemaak van ons eie verdienste en sodoende aan ’n fundamentele verswakking onderwerp (Berkhof, sa: 222-223; Jonker 1994:123-128).

Arminius het die volkome verdienstelikheid van Christus se genade beklemtoon (Bangs 1985:340-342), maar kon Artikel 16 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) se formulering van die uitverkiesing nie aanvaar nie. Die leer van die uitverkiesing is die mees eksplisiete belydenis van die sola gratia, aangesien dit bely dat God met ’n absolute vrye daad die mens uit genade uitverkies het tot verlossing, sonder dat die mens enigsins daartoe kon bydra. Arminius kon die genade nie so eksplisiet formuleer nie. Volgens sy verstaan het God genade aan alle mense aangebied, vooruit geweet wie in geloof hierdie genade sou aanneem en hulle sodoende verkies. Vir Calvyn en die Gereformeerde tradisie is selfs die mens se geloof te danke aan die genadige uitverkiesing van God, sodat daar van geen verdienste aan die gelowige se kant sprake kan wees nie. Vir Arminius is dit nie eintlik God wat die mens kies nie, maar die mens wat vir God kies. God het vir Christus uitgekies, wat beteken dat geloof in Christus die uitverkore weg tot verlossing is. God kies daarom diegene wat kies om in Christus te glo. Arminius meen ook dat gelowiges hierdie vrye keuse voortdurend moet maak. Indien hulle dit nie doen nie, kan hulle uit die genade uit beweeg en sodoende hul verlossing kwyt raak (Jonker 1994: 128-130). Arminius sal selfs so ver gaan om te sê dat geloof ’n gawe van God is en geen verdienste van die mens is nie, maar die méns se keuse lê steeds vir hom agter daardie geloof, en nooit God se keuse nie (Bavinck 1908:380). Hoewel die fyner nuanses van Arminius se standpunt dus soms heel onproblematies klink, soos byvoorbeeld dat God vir Christus uitverkies het (’n gedagte wat Karl Barth in die 20ste eeu herwin het) en dat diegene wat “in Christus” is daarom ook verkies is, deur middel van hul geloof (Bangs 1985:350-354), raak die uiteindelike konsekwensies van sy leer heeltemal ontneem van die troos wat gelowiges het in Christus. Terwyl Arminius volhou dat daar versekering van verlossing is vir gelowiges solank hulle nog vas glo, moet Arminius toegee dat daar geen teenwoordige versekering van finale verlossing is nie, aangesien ’n mens nog uit die geloof kan val (Bangs 1985:347-349).

Die Arminiane, wat in lyn staan met Pelagius en die humanisme, is nie so bekommerd oor die gevaar van troostelose onsekerheid in hul leer nie, want hulle is optimisties oor die vermoëns van die mens. Vir die Calviniste, wat in lyn staan met Paulus, Augustinus en die reformatore se beskouing van die mens se natuur as corruptio totalis, is die gevaar van troostelose onsekerheid in die leer van die Ariminiane lewensgroot. Die leer van die uitverkiesing voel vir die Arminiane na ’n beperking van die mens se vryheid, maar vir die Calviniste is dit juis ’n bevrydende leer, waarin ons nie meer op ons eie verdorwe bestaan hoef te vertrou vir ons verlossing nie, maar slegs op die sekerheid van God se genade kan vertrou (Jonker 1994:129-131).

Kohlbrugge het die DL gekritiseer omdat dit net op die uitverkiesingsleer gefokus het en nie die regverdigingsleer van Arminius, wat eintlik aan die hart van die dispuut gelê het, aangeval het nie. Gomarus, die voorganger van die Contra-Remonstrante het dan ook vir Arminius in 1608 voor die Hoë Raad van die State van Holland aangekla dat hy afwyk van die Gereformeerde leer, hoofsaaklik op grond van sy regverdigingsleer, en nie soseer op grond van sy uitverkiesingsleer nie. In Arminius se reaksie op Gomarus se aantygings, het hy egter net sy verkiesingsleer verduidelik, moontlik omdat hy gemeen het dat hy heel “Calvinisties” oor die regverdiging dink, en moontlik omdat hy bewus was daarvan dat die regverdigingsleer die kernpunt van die Gereformeerde leer vorm en dat enige klaarblyklike afwykings daarvan swaar veroordeel sou word. Gevolglik is die regverdigingsleer ook nie in die vyf punte van die Remonstrantie bespreek nie, en ook nie eksplisiet aangeval in die DL nie, aangesien die DL ’n reaksie was op die Remonstrantie. Volgens Arminius se regverdigingsleer het Christus se geregtigheid slegs die moontlikheid geopen vir die mens om deur ’n vrye geloofsdaad geregverdig te word. Hoewel dié leer nie eksplisiet bespreek is nie, is dit wel implisiet verwerp, deur die DL se verwerping van die Remonstrantie se verkiesingsleer (Graafland 1987:121-122; 125).

Die DL verdedig dus die volkome troos van die uitverkiesing deur die vyf punte van die Remonstrantie te weerspreek en te verwerp. Dit word in “vyf” hoofstukke behandel, maar hoofstukke 3 en 4 word saamgegooi, aangesien daar fundamenteel net vier sake ter sprake is. Hierdie vier sake is: God se ewige uitverkiesing versus ’n veranderlike verkiesing, verlossing deur Christus versus ’n geloofskeuse as voorwaarde vir verlossing, bekering van die verdorwe mens as volkome genade versus ’n vrye wil wat aangehelp word deur algemene genade, en die volharding van heiliges versus voortdurende verantwoordelikheid. Telkens verweer die DL sigself teen ’n leer wat die volkome troos van die uitverkiesing nie tot sy reg laat kom nie (Jonker 1994:132-133).

Die sensitiwiteit van die leer van die uitverkiesing en die gevaar dat dit baie hard kan klink, is deur die opstellers van die DL besef. Daarom benader hulle hierdie leer doelbewus vanuit ’n pastorale perspektief waarin die troos wat dit aan gelowiges bied, beklemtoon word. Voortdurend waarsku die DL teen onnodige spekulasie wat geen pastorale nut het nie en nie die nodige eerbied vir die verborgenhede van God betoon nie (Bavinck 1908:369-370, 377-378; Berkhof sa:225; Jonker 1994:139-140).

Bavinck beskryf die uitverkiesing as ’n onuitspreeklike troos vir gelowiges en ongelowiges, indien dit verstaan word as ’n uitdrukking van God se ewige welbehae. As ons nog moes probeer om ons verlossing te verdien, sou ons almal verlore gewees het, maar aangesien ons verlossing slegs op die genade in Christus berus, is daar troos vir selfs die mees troostelose sondaars. Die leer van Arminius is ongenaakbaar hard, want dit ontneem sondaars van die troos van die volkome genade. Die leer van die uitverkiesing is egter die belydenis dat ook die onwaardigste van alle mense ’n voorwerp van God se ewige liefde is. Die uitverkiesing waarvan die Woord getuig, is op geen wyse bedoel om mense uit die koninkryk van God uit te sluit nie, maar om almal uit te nooi om die genade in Christus te ontvang. Daarom mag niemand glo dat hy of sy verwerp is nie, en moet elkeen tot die geloof kom dat ons salig is in Christus. Die geloof dat ons uitverkies is in Christus is ons diepste bron van troos, krag, nederigheid, ootmoed, vertroue en sekerheid, omdat ons daaraan vashou dat ons saligheid onwankelbaar vas lê in die genadige welbehae van ons uitverkiesende God (Bavinck 1908:421-422).

3. ’N VERANDERLIKE VERKIESING SE WANKELRIGE TROOS 1

Hoofstuk 1 in die DL staan onder die opskrif: Goddelike uitverkiesing en verwerping. Met hierdie opskrif verwag ’n mens dat die DL gaan begin om die uitverkiesing in terme van God se ewige raadsbesluit te verduidelik, dit wil sê in terme van predestinasie, maar dit is nie die geval nie. Onmiddellik in punt 1 is die corruptio totalis ter sprake as die DL open met die woorde: “Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood” (DL 1:1). Die implikasie is dat alle mense verdien om verlore te gaan volgens die geregtigheid van God. Hierdie punt stel dit dan ook so dat God geen mens sal veronreg deur ’n ewige oordeel oor hom of haar uit te spreek nie. Die uitgangspunt van die DL is dus nie supralapsaries nie, maar infralapsaries (Jonker 1994:134-135). Uit vrees daarvoor dat die uitverkiesingsleer misbruik word, en ook vanweë die Remonstrante se kritiek op die Calviniste se harde uitdrukkings, praat die DL voortdurend oor die uitverkiesing “van benede”, dit wil sê vanaf die verlore, troostelose toestand van die mens. Vanuit ’n geloofsperspektief word die uitverkiesing bespreek as ’n bron van troos en versekering (Bavinck 1908:369-370, 377-378).

Die wonderlike nuus van punt 2 is dat God uit genade die mense wat glo in die evangelie verlos (DL 1: 2). Dit is ook nie al nie. Die onus rus nie nou op die mens om met ’n “reddende geloof” hierdie evangelie aan te neem nie. Nee, God self bring ons tot geloof deur mense te stuur om hierdie goeie nuus te verkondig. Sodoende roep God mense tot bekering en geloof (DL 1:3). Hierdie geloof is geen prestasie deur ons nie, maar ’n genadegawe van God wat ons in staat stel om ons Verlosser, Jesus Christus, te omhels. Dié wat in ongeloof bly, doen so op grond van hul eie sondigheid en nie as gevolg van enige skuld van God nie. Daarom rus God se toorn regverdiglik op hulle (DL 1:4-5).

Die DL maak egter ’n problematiese skuif as dit hierdie goeie nuus van God se genadige uitverkiesing in punt 6 deurtrek na God se voortydelike raadsbesluit en na ’n spekulatiewe leer van predestinasie. Die DL voer aan dat God vooraf besluit het om aan sommige mense geloof te skenk en dit nie aan ander te skenk nie, om sommige se harte om te buig tot geloof en ander in hul verharding te laat begaan (DL 1:6). Natuurlik moet ons saamstem dat God se barmhartigheid ewig is, maar sulke argumente oor God se voortydelike besluite is spekulatief en bevorder nie die troos dat ons verlossing uit absolute genade ontvang is nie. Boonop was, is en sal dit altyd ’n onverklaarbare misterie bly hoe dit moontlik is dat mense hulle rug op hul Skepper en Verlosser kan draai. Dit is die onmoontlike moontlikheid van die sonde (Barth 1975:22). Dit is nie iets wat spekulasie toelaat nie. Ook punt 7 se noem van ’n sekere aantal mense wat volgens die voorneme van God uitverkies is, is spekulatief en problematies (DL 1:7).

Barth het dan ook die DL gekritiseer dat dit die verhouding tussen God se ewige besluit en God se heilshandelinge in Christus van mekaar geskei het. Sodoende maak die DL van God se uitverkiesing ’n abstrakte leer. Volgens die DL staan God se ewige besluit op sy eie en kom Christus eers ter sprake by die uitvoering van daardie besluit. God se verkiesing “in Christus” beteken dus niks meer as ’n realisering van ’n voorafgenome besluit nie. Berkouwer, Trimp en ander lees die DL egter anders. Hulle verstaan dit so dat die uitverkiesing “in Christus” juis impliseer dat God werklikwaar in Christus die uitverkorenes verkies. Miskien kan ons tussen hierdie twee verskillende lesings staan en sê dat die DL dalk doelbewus nie die verhouding tussen God se ewige besluit en God se heilshandeling in Christus dogmaties uitlê nie, omdat die DL geen diskrepansie daarin sien nie. As die opstellers van die DL God se ewige besluit nie gesien het as ’n rasioneel-abstrakte kategorie nie, maar as die diepste uitdrukking van God se ewige welbehae en genade, sou dit nie vir hulle problematies gewees het om dit direk met die heil in Christus te verbind, sonder enige verduidelikings nie. God se verkiesing ís verkiesing in Christus. Dit bly steeds moeilik om te bepaal wat die DL regtig met die woorde “in Christus” bedoel, maar daar kan met veiligheid gesê word dat God se voldoende welbehae en genade vir die mens ’n veel belangriker rol speel vir die DL, as God se voortydelike, vrye wil. Die feit dat die DL sê dat Christus van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van die uitverkorenes en tot Fondament van die saligheid deur God gestel is (DL 1:7), beteken in elk geval dat daar nie aan die uitverkorenes los van die heil in Christus gedink kan word nie. Vir die DL is dit egter belangrik dat die verkiesing nie net materieel-histories en Christologies verstaan moet word nie, want dit wil waak teen die Arminiane se volledige materiële verstaan van die uitverkiesing. Die uitverkiesing vind nie plaas as ek nou kies om in Christus te glo nie, maar is ’n ewige gebeurtenis waarin God vir my kies. Die werk van Christus en die Heilige Gees word dus moontlik effens onderwaardeer teenoor God se ewige besluit. In hierdie opsig is die DL dalk nog nie volledig trinitaries nie (Graafland 1987:140-142; 145-147; 160). Noordmans neem die gedagte van ’n trinitariese uitverkiesing ernstig op as ’n Bybelse waarheid. Hy meen die ondeurgrondelikheid van God se soewereiniteit lê nie vir Paulus in ’n ondeursigtige, voortydelike, willekeurige magsbesluit nie, maar juis in die onophefbare paradoks tussen God se ewige uitverkiesing en God se daadwerklike intrede in die geskiedenis van die wêreld. Laasgenoemde intrede bestaan daarin dat God, in Christus se daadwerklike vleeswording, en deur die Heilige Gees se daadwerklike inwoning van sondaars se vlees, mense roep om hulself na God te keer. Dis die wonderlikste troos denkbaar, aangesien dit God se genade aan ons, vir ons en in ons, beliggaam (Noordmans 1979:127; 131).

Nog in punt 7 keer die DL dan ook terug na die werklike punt van die leer van die uitverkiesing, naamlik die troos en sekerheid wat dit aan die gelowiges gee. Ons weet dat ons geensins beter of waardiger is as ander mense nie, maar steeds kan ons verseker wees dat God uit volkome, vrye welbehae en uit louter genade ons tot saligheid in Christus uitverkies het. Deur die Woord en die Gees word ons na God toe getrek, sodat ons met ’n ware geloof in Christus geregverdig en geheilig word. Hierdie heilswaarhede is inderdaad ’n troos vir ons, wat ondubbelsinnig in die Bybel beloof word, en volgens Efesiërs 1:4-6 is dit ’n rede vir ons om God te prys vir sy groot genade (DL 1:7). Die doel van die leer van die uitverkiesing is dus nie om te wonder oor wat die oorsaak van mense se verlorenheid is en die skuld daarvoor by God te soek nie. Die bedoeling is om as troos te dien dat Christus, of ons (!), nie die Vader beweeg tot uitverkiesing nie, maar dat ons uitverkiesing in Christus juis gebaseer is op die ewige liefde van God. Die DL vermy dus so ver moontlik enige abstrakte soewereiniteitsleer oor God se voortydelike besluite, maar lê tog klem op God se ewige liefde en genade, en op die feit dat ons nie verdien het om uitverkies te word nie, maar dat God die inisiatief geneem het (Bavinck 1908:421; Berkouwer 1955:153-157, 165-168, 212-213). Dié wat worstel om geloof en gehoorsaamheid ten volle te ervaar en uit te leef, moenie mismoedig raak en wonder of hulle dalk verwerp is nie. Die uitverkiesing is juis ’n ware troos vir hulle en geen spekulatiewe leer wat hulle in onsekerheid moet dompel nie. Deur onsself nie onder die verworpenes te reken nie, ywerig die genademiddels te gebruik en te begeer om ons tot God te keer en aan God gehoorsaam te wees, kan ons vashou aan die sekere belofte dat ons uit genade uitverkies is en hoef ons geen verwerping te vrees nie (DL 1:16) (Bavinck 1908:422; Jonker 1994:135).

4. ’N GELOOFSKEUSE SE VOORWAARDELIKE TROOS

Hoofstuk 2 begin ook met die radikaliteit van die genade. Ons kan nie en mag nie dink dat ons eintlik nie té sleg daarvan af sou gewees het, as Christus nie vir ons sondes gesterf het nie. God se geregtigheid vereis dat ons vanweë ons fundamentele sondigheid na siel en liggaam met ewige strawwe gestraf moet word (DL 2:1). Daar is geen manier waarop ons vanuit onsself God se toorn kan ontspring nie, maar God het in sy eindelose liefde vir ons, Christus sonde en vervloeking aan die kruis gemaak, in ons plek, om ons te versoen (DL 2:2). Hierdie dood van Christus is die volmaakte offer vir ons sondes (DL 2:3) en ons moet hierdie belofte van die evangelie aan alle volke en mense sonder onderskeid verkondig en hulle oproep tot bekering en geloof (DL 2:4). God self skenk geloof as ’n weldaad uit pure genade (DL 2:7), maar op geen wyse beteken dit dat ons nie die goeie nuus hoef te verkondig en van mense moet eis om hulle na God te bekeer nie. Al hierdie “menslike handelinge” – om die evangelie oor te dra en aan te neem – is deel van God se genadige werk deur sy Heilige Gees.

Die Arminiaanse gedagte dat geloof ’n grond is waarop die regverdiging gedeeltelik berus, maak van geloof ’n menslike deug eerder as ’n genadegawe. Die DL bespreek nie hierdie punt in diepte nie. Dit blyk egter duidelik dat die opstellers van die DL bewus was van die navolgers van Arminius se standpunt in hierdie saak en dat hulle nie méér daarvan kon verskil nie. Die Gereformeerde verstaan van geloof blyk amper verder verwyderd te wees van die Arminiaanse verstaan van geloof, as wat dié twee groepe se verstaan van die uitverkiesing, of van die genade (!), van mekaar verwyderd is. Geloof, wat niks meer as ’n omhelsing van Christus se geregtigheid (NGB, Artikel 22) is nie, en wat daarom altyd “leeg” is (Calvyn), is op geen wyse vir die Gereformeerdes ’n verdienste van die mens nie en kan daarom nooit as ’n grond vir die regverdiging óf vir die uitverkiesing dien nie. Dit lê absoluut in die hart van die geskil wat die Gereformeerdes genoodsaak het om die DL op te stel, alhoewel dit nie in ’n uitgebreide, Gereformeerde geloofsleer in die DL uitgewerk word nie (Graafland 1987:125-127).

Dat sommiges ongelowig bly, beteken nie dat Christus se dood onvoldoende was om ons te red nie. Mense wat hulle nie bekeer nie, wat nie in Christus glo nie, doen so vanuit hulself. Dit is hul eie skuld dat hulle in ongeloof volhard (DL 2:6). Weer eens vind ons die onverklaarbare misterie tussen punte 6 en 7, naamlik dat party mense volkome vanuit hul eie skuld ongelowig bly, terwyl ander mense volkome vanuit God se genade gelowig word. Dit is onverklaarbaar. Dat die DL hierdie misterie in punte 8 en 9 wil koppel aan God se vrye raadsbesluit (DL 2:8) en aan God se ewige liefde vir die uitverkorenes (DL 2:9) is gevolglik jammer. Ons troos in God se ewige liefde en keuse vir ons, kan nie as ’n spekulatiewe verklaring dien waarom sommige mense in ongeloof volhard nie.

Deur die uitverkiesing meer trinitaries uit te werk, kon die DL dalk hierdie spekulasies vermy het. In plaas van abstrakte skemas, kon die DL dalk die wyse waarop die Seun en die Heilige Gees God se ewige uitverkiesing in tyd verwerklik en voltrek, beter benut het (Jonker 1994:147-148). Noordmans wys daarop dat Paulus se logiese paradokse tussen God se ewige uitverkiesing en sy etiese oproep in tyd, in Christus en deur die Heilige Gees, nie in die Evangelies aanwesig is nie. Die Evangelies maak ’n onproblematiese oproep op mense om hulle na God te bekeer, en daardie oproep berus juis daarin dat die koninkryk van die hemel naby gekom het. Die oproep om tot geloof te kom, resoneer in die ewige welbehae van God (Noordmans 1979:130; 133-134).

Die DL is sensitief daarvoor dat God se ewige besluit, net soos wat dit nie op dieselfde wyse verkies as wat dit verwerp nie, ook nie op dieselfde wyse die oorsaak van die geloof is as wat dit die oorsaak van die ongeloof is nie. Die DL handhaaf doelbewus en konsekwent die diskrepansie tussen geloof as gawe van God en ongeloof as die skuld van die mens. Hoewel die DL hierdie diskrepansie op ’n onbevredigende, skolastiese, oorsaaklike wyse in verband probeer bring met God se ewige raadsbesluit, erken dit tog die onverklaarbaarheid van sonde en ongeloof deur hierdie diskrepansie nie te probeer ophef nie (Berkouwer 1955:212-213; Jonker 1994:141-143).

5. DIE ALGEMENE GENADE SE SKRALE TROOS

Hoofstukke 3 en 4, wat saamgegooi word, begin soos hoofstuk 1 en 2, nie by God se ewige raadsbesluit en spekulasies oor predestinasie nie, maar by die volledige verdorwenheid van die mens. Slegs in die lig van die mens se sonde en onmag, asook die volkome genade waaruit God verlossing skenk, praat die DL oor die uitverkiesing. Dat die Contra-Remonstrante se realistiese siening van die mens se natuur as corruptio totalis, asook hul verstaan van die verlossing as sola gratia, in die hart lê van die DL, word in punte 1-9 weerspieël. Gedagtes van natuurlike teologie, naamlik dat ons met behulp van die bietjie lig van die natuur wat nog in ons aanwesig is, kan poog om onsself te red, word as onmoontlik verwerp. Dieselfde geld vir pogings om deur die nakoming van die wet van Moses onsself te probeer red. Verlossing is totaal buite die bereik van die mens. Slegs deur die krag van die Heilige Gees wat deur die Woord werk, kan ons tot geloof in Christus gebring word en verlossing ontvang. Die feit dat die mens volledig sondig is, beteken dat alle skuld by ons lê en gevolglik dat ons nie die oorsaak van die kwaad in God se ewige raad kan soek nie, maar dat ons wel die bron van ons verlossing in God se genade moet soek. Daar is geen parallel te trek tussen die verkiesing en die verwerping nie. Eersgenoemde kom uit God se louter welbehae, terwyl laasgenoemde slegs daarin bestaan dat God mense oorlaat aan die ellende waarin hulle hulself gedompel het (DL 3&4:1-9; Jonker 1994:137; 140-141).

Deur die evangelie roep God alle mense (DL 3&4:8). Dat sommiges nie kom nie, is hul eie skuld (DL 3&4:9). Dat sommiges kom, is te danke aan God se verkiesende genade (DL 3&4:10). Deur die kragtige werk van die Heilige Gees, wat ons geslote harte open en ons tot wedergeboorte bring, skenk God geloof en gehoorsaamheid aan ons (DL 3&4:11). God bewerk nie net die wil om te glo nie, maar ook geloof self in ons (DL 3&4:14). Dit beteken egter nie dat God buite om ons verantwoordelikheid werk, soos met masjiene nie. God beweeg ons op so ’n verborge en onbeskryflike wyse dat dit nie net God is wat in ons werk nie, maar dat ons self, deur God se genade, werklikwaar glo en onsself vrylik tot God bekeer (DL 3&4:16). Ons kan dit nie verstaan nie, maar net vashou aan hierdie gerusstellende troos (DL 3&4:13). Hierdie troos word bevestig deur die Woord, die sakramente en die tug, wat ons tot ware gemeenskap met God begelei (DL 3&4:17; Jonker 1994:138). Die Remonstrantie probeer ons forseer om ’n keuse te maak tussen God se uitverkiesing en ons verantwoordelikheid. Die DL weier egter om so ’n keuse te maak. Die eenheid tussen God se uitverkiesing uit genade en die mens se verantwoordelikheid om te glo en gehoorsaam te wees, word gehandhaaf as ’n onbeskryfbare, geopenbaarde werklikheid, wat ons net in geloof kan bely (Berkhof sa:222, 225).

Dit is gevolglik duidelik dat daar ’n spanning is in die DL se beskrywing van die wedergeboorte. In punt 12 word ons wedergeboorte beskryf as ’n nuwe skepping, ’n opwekking uit die dood waardeur God ons wil vernuwe (DL 3&4:12). In punt 16 word daar egter gesê dat God nie in ons wedergeboorte met ons werk soos stokke en blokke nie en dat ons onvernietigde wil deur die genade genees, verbeter en reg gebuig word (DL 3&4:16). Laasgenoemde standpunt klink effens Rooms en Arminiaans, en is duidelik ’n ver dediging teen die aantyging van die Remonstrante dat die Gereformeerde verstaan van wedergeboorte deterministies is. Die swaartepunt van hierdie hoofstukke lê dus waarskynlik veel meer by punt 12 as by 16. Die merkwaardige is egter dat punt 12 ook nie volledig deterministies is nie. Selfs in punt 12 sê die DL dat ons nuwe wil nie net deur God gedryf en beweeg word nie, maar juis vanweë God se beweging, ook self beweeg (DL 3&4:12). Die DL is dus bewus van hierdie spanning in die wedergeboorte tussen God se genadige werk en ons verantwoordelikheid, en probeer dit nie harmonieer nie. Barth het in die 20ste eeu geweldige hulpvolle begrippe geopen deur te praat van ons vrye gehoorsaamheid wat korreleer met God se vrye Self-determinasie (Barth 1975:456-457), waarop hier nie nou uitgebrei kan word nie, maar reeds in die DL sien ons iets van die Gereformeerdes se bewustheid dat ’n simplistiese sinergisme tussen God se vrye wil en die mens se vrye wil, nie die genadige werklikheid van ons wedergeboorte kan beskryf nie. Eerder as om ons wedergeboorte só te beskryf, het die DL dus volgehou dat ons wedergeboorte ’n volkome genadegawe is, wat op ’n onverklaarbare wyse nie die verantwoordelikheid van die mens opskort nie, maar ons vernuwe en bemagtig tot geloof en gehoorsaamheid. Die fokus van die DL bly egter op die corruptio totalis, wat die sola gratia van ons wedergeboorte bevestig (Graafland 1987:157-160).

6. VOORTDURENDE VERANTWOORDELIKHEID SE KORTSTONDIGE TROOS

Ons radikale verdorwenheid is so radikaal dat ons as uitverkorenes steeds, selfs ná ons uit genade alleen tot bekering gebring en verlos is, sonde doen en nie op ons eie staande kan bly nie. Ook ons volharding is dus nie iets wat ons vanuit onsself kan verrig nie, selfs nie met die hulp van God se vernuwende genade nie. Net God kan ons bewaar. Dit is deel van die volkomenheid van God se genade dat ons nie daaruit kan val nie en gevolglik ook die wonderlikste versekering en troos. Hierdie sekerheid kan en mag ons egter nie trots maak nie. Daarom moet ons ons voortdurend in nederige gebed voor God verootmoedig en waaksaam bly (DL 5:2, 4). In gebed hou ons vas aan God se genade en prys ons God se ontferming en trou (DL 5:7). Geen besondere openbaring van God gee ons hierdie sekerheid nie, maar net in geloof hou ons vas aan God se beloftes in sy Woord, waarsonder ons geen troos sou hê nie en die ellendigste van alle mense sou wees (DL 5:10). Hierdie sekerheid is geen grond vir hoogmoed nie, maar net die allerheiligste troos in die harte van gelowiges (DL 5:15; Jonker 1994:138-139).

God se genade is dus nie soseer onweerstaanbaar, soos wat dit mag blyk in die stellings dat God uit genade geloof in die uitverkorenes bewerk nie. Die genade kan nie net deur ongelowiges weerstaan word nie, maar word inderdaad daagliks (DL 5:2) deur gelowiges weerstaan, wanneer ons die Heilige Gees bedroef (DL 5:5). God se genade is egter onoorwinlik. Daarom val die uitverkorenes nooit uit God se hand uit nie. Ten spyte van ons verset teen God, bring God ons telkens weer tot berou, bekering en herstel. (DL 5:6-8) God se kinders verdien om verwerp te word, maar steeds laat God ons nooit los nie. Gevolglik kan ons die leer van die volharding van die heiliges net bely in die diepste nederigheid en dankbaarheid vir God se nimmereindigende genade. Dit kan nooit ’n rede wees om onsself te verhef bo ander nie (Jonker 1994:144-145).

Vir Berkouwer is daar ’n misverstand, “het grote misverstand”, wat dreig om ’n skaduwee oor die ganse verkiesingsleer te gooi, en wat veral korreleer met hierdie laaste hoofstuk van die DL. Reeds in die Skrif word ons gewaarsku dat ons nie die heilsekerheid van die uitverkiesing mag misbruik as ’n verfynde selfregverdiging nie, aangesien dit ’n gruwelike misverstaan van die uitverkiesing sou wees. Dan beskou ons die uitverkiesing as ’n vanselfsprekende grondslag van ons onaantasbare uitverkies-wees en bly die genadige aard van God se verkiesingsdaad vergete. Die Skrif ken nie só ’n teenstelling tussen God se uitverkiesing en ons uitverkies-wees nie. Ons kan nie ons identiteit as uitverkorenes abstraheer van God se genade nie. As dit sou gebeur, sou ons die fundamentele nederigheid en sondebesef, wat sinoniem is met uitverkies-wees, verloor en verruil vir selfbesef, selfonderskeiding, selfregverdiging. Om so ’n hoogmoedige, sondige gesindheid te verbloem agter die leer van die uitverkiesing, sou ’n walglikheid in die oë van die genadige Uitverkieser wees. Die volharding van die gelowiges kan en mag dus nie gesien word as die bereiking van ’n einddoel, waarna die uitverkiesing in der waarheid ons menslike reg word nie. Die volharding van die gelowiges is nie ’n reg waarop ons ’n aanspraak kan maak, en waardeur slegs ons seker kan wees van die verlossing, omdat ons uitverkies-wees ons beter as ander mense maak nie. Dan verkrag ons die troosvolle karakter van die uitverkiesing (Berkouwer 1955:110-111; 375-376).

7. SLOT

Van Ruler waarsku ons om nooit van die uitverkiesing ’n geslote, logiese sisteem te maak nie. Die evangelie is te histories-werklik om dit in een afgeronde sisteem in te prop. Ons moet altyd na die beste sisteem soek, sodat ons nie vasgevang bly binne die sisteem waarin ons tans dink nie, maar ons moenie dink dat ons ooit ’n voldoende sisteem kan vind nie. Die evangelie is te ryk daarvoor. Ons logika moet gebreek word deur die historiese evangelie sodat ons in die ondeurgrondelike werklikheid van die heil gedompel kan word. Hierdie heil is meer werklik as wat dit denkbaar is. Ons moenie die evangelie inruil vir ’n logies bevredigende uitverkiesingsleer nie (Van Ruler 1971:106). Dit is jammer dat ons vanuit ons Westerse begripskategorieë amper nie aan die uitverkiesing kan dink, sonder om gelyktydig aan verwerping te dink nie. Die Bybel praat oor die uitverkiesing wanneer dit gelowiges troos. Ons probeer egter hierdie troos, bedoel vir ons, logies uitredeneer en die implikasies daarvan vir ander verstaan. Sodoende verkrag ons die bedoeling en die kader van die uitverkiesingsleer, naamlik as ’n uitdrukking van God se genade vir alle mense. Die “skandaal” van die evangelie is geen aprioriese, arbitrêre verwerping nie, maar die lewende God wat mense uitverkies, nie op grond van hul werke nie, maar suiwer uit genade! Die Gereformeerde tradisie, insluitende die DL, handhaaf ’n konsekwente asimmetrie tussen uitverkiesing en verwerping. Dit is juis die sondige mens wat die oorsaak van sonde en ongeloof by God soek in plaas van by hom- of haarself, terwyl die gelowige bely dat God ons uit ewige liefde en genade in Jesus Christus uitverkies het. Toegegee, die DL ontsnap nie die gebrekkige formulerings vir hierdie geheimenis binne die leer van die uitverkiesing nie, maar dit getuig dalk juis van die eerlike en nederige aard van die DL as ’n geloofsbelydenis (Berkouwer 1955:167-168, 212-213; Berkouwer 1963:12-15).

As ons die belydenisskrifte in hul diepste essensie nie as woordelikse formulerings van onveranderlike waarhede beskou nie, maar as doksologie waarmee ons in alle erns God prys vir sy onbeskryflike genade, sal ons verstaan dat elke woord wat ons gebruik tekort skiet om die volle waarheid van die evangelie uit te druk. Hierdie besef relativeer nie ons belydenisskrifte nie, maar dit herinner ons voortdurend aan die gebrekkige aard van ons menslike woorde om die onuitputlike evangelie te kommunikeer (Berkouwer 1963:5-8).

BIBLIOGRAFIE

Bangs, C 1985. Arminius. A study in the Dutch Reformation. Grand Rapids: Asbury/Zondervan.

Barth, K 1975. Church Dogmatics. Volume I. The Doctrine of the Word of God. Part One. Translated by Bromiley, G W. Edinburgh: T&T Clark, 456-457.

Barth, K 1975. Church Dogmatics. Volume IV. The Doctrine of Reconciliation. Part Four. (Fragment). Translated by Bromiley, G W. Edinburgh: T&T Clark, 22.

Bavinck, H 1908. Gereformeerde Dogmatiek. Tweede Deel. Kampen: Bos. Berkhof, H sa. Geschiedenis der kerk. Nijkerk: Callenbach.

Berkouwer, G C 1955. Dogmatische Studiën. De Verkiezing Gods. Kampen: Kok.

Berkouwer, G C 1963. “Vragen Rondom De Belijdenis”, in Gereformeerd theologisch tijdschrift. Jaargang 63. Kampen: Kok.

Graafland, C 1987. Van Calvyn tot Barth. Oorsprong en ontwikkeling van de leer der verkiezing in het Gereformeerd Protestantisme. Tweede druk. ‘s Gravenhage: Boekencentrum.

Jonker, W D 1994. Bevrydende waarheid. Die karakter van die gereformeerde belydenis. Wellington: Hugenote-Uitgewers.

Noordmans, O 1979. Versamelde Werken. Deel II. Dogmatische peilingen Rondom Schrift en Belijdenis. Kampen: Kok.

Van Ruler, A A 1971. “Ultra-Gereformeerd en Vrijzinnig”, in Theologisch Werk. Deel III. Nijkerk: Callenbach.

1 Om plek te bespaar word die verwerpinge van die DL nie in fyner besonderhede bespreek nie. Wanneer ’n mens deur die verwerpinge lees, is dit duidelik dat die DL enige leer afwys, veral dan ook die leringe van die Remonstrantie, wat ons volkome troos in God se genoegsame genade in gedrang sou kon bring.