Breytenbach, J A
Universiteit van die Vrystaat

Na vyftig jaar Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad – kerk of sekte?

ABSTRACT

After fifty years Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad – church or sect?

The Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad (Free Reformed Church of Cape Town) was instituted on 2 March 1952. It was instituted by eleven men and women who were immigrants from the Netherlands and who were members of the Gereformeerde Kerken in Nederland that liberated themselves in 1944 from the false doctrine and authority of synod. The theological and critical question is: was a church or a sect founded in 1952? The article evaluates the applicable documents and concludes that these believers had no intention to seperate themselves because of an idea or group identity, or because they disliked the Afrikaans reformed churches, but they longed to obey Christ and His Word, and wanted to find unity with all who hold to the pure doctrine of the gospel.

1. INLEIDEND

Die titel fokus die aandag op die inhoud en problematiek van die onderhawige artikel. Geloofsvooroordeel kom so dadelik op die tafel: dat die kerk beskrywe word in terme van God se verbond met sy volk en nie in terme van ’n instituut nie. Dat uitgegaan word van die plaaslike kerk en nie van die vergaderinge van die kerk nie. In die lig hiervan word, by die vyftigjarige herdenking van kerkwees in Kaapstad, die vraag gevra of die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad se ontstaan verantwoord was aan die Skrif? Is daar vasgehou aan die belydenis van die kerk van Christus of het ’n groepie mense hulle afgeskei van die kerk en hulle selfsugtig saamgetrek in ’n sekte of skynkerk?

Die geskiedenis moet sinvol beskryf word in verband met Christus wat die sin daarvan is, met die geskiedenis van die heil wat in die Skrif vir ons opgeteken is, as norm1. Om verskillende redes word daar deur gereformeerde kerkhistorici gehuiwer om die kerkgeskiedenis apologeties aan te wend teen die dwaalleer2 . Dit bly ’n dreigende gevaar dat die negende gebod oortree word en die

geskiedenis misbruik word om een kerkinstituut teen ’n ander af te speel. Die probleem is dat daar met ’n vooropgestelde idee gewerk word en ’n inbeelding gemaak word wat leerstellig verdedig word sonder om die vermoeiende pad van geduldige navorsing van die dokumente te gaan.

Maar, wie die kerk as geloofsaak bely, het geen keuse as om apologeties vir die waarheid op te kom nie. Dit bly sy verantwoordelikheid om die geskiedenis konfessioneel te beoordeel en te stel teen die ongeloof en die verdraaide evangelie3 . Hy gee rekenskap en getuienis van die waarheid.

Die probleem van die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis is nie dat daar apologetiek en polemiek gevoer word nie, maar dat dit gedoen word om een kerkinstituut teenoor die ander te handhaaf4 en nie om die suiwer leer van die Skrif teen die dwaalleer te verdedig nie. Dit, terwyl Christus self belowe dat Hy sy kerk bou, nie op Petrus nie, maar op die belydenis van Petrus dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God (Matt. 16:13-23). Petrus se belydenis is gegrond op die openbaring van God.

Die belydenis van die kerk soos dit in die Skrif aan ons openbaar word, vind ons in ons gereformeerde belydenisgeskrifte: ek glo aan ’n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges. Hierbenewens staan dit opgeteken in die Nederlandse Geloofsbelydenis artikels 27-32. Veral laasgenoemde moet in oorweging kom omdat dit die lig werp op die problematiek van die Vrymaking van 19445 waaruit die immigrante kom wat in 1952 die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad geïnstitueer het.

2. MOTIVERING VIR INSTITUERING

Die vraag wat beantwoord moet word is: was die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad se totstandkoming instituering van die kerk of verheerliking van die sekte? Om dit te beantwoord moet eers nagegaan word wat die motiewe was vir die instituering of totstandkoming van die gemeente. In die geskiedenis van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad was en is dit steeds ’n kernvraag omdat die instituering van die kerk, Bybels gesien, die gevolg is van, en ter wille is van die een kerk van Christus op aarde. Dit is nie daar ter wille van ’n instituut of ’n belangegroep nie. Dit is geen doel op homself nie6 .

Lidmate van die Gereformeerde Kerken in Nederland (vrijgemaakt) het na afloop van die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika geïmmigreer. Sou hulle hier die Gereformeerde Kerken (vrijgemaakt) kom uitbrei, sou hulle hier ’n groepie wees wat hulle afsonder van die kerk en op hulle eie voortbestaan? Of sou hulle hulle voeg by die kerk van Christus van alle eeue, waar die suiwer evangelie verkondig word en die gelowiges Hom gehoorsaam?

In die aanloop tot en vervolg op die Vrymaking van 1944 waarin hulle self geloofskeuses van geweldige omvang moes maak7, het hulle vir die gesag van die Skrif as Woord van God teenoor die spekulatiewe leerstellings van die sinode gestry8 . Hulle het gestry vir die persoonlike verantwoordelikheid van die gewete teenoor die binding deur die meerdere vergadering9.

3. VRYMAKING VAN SINODALE LEERUITSPRAKE EN SINODALE KERKREGERING

Die verskil in siening van die beloftes van God vir die kinders by hulle doop was reeds voor die Vereniging van die dolerendes en die afgeskeidenes in 1892 in Nederland ’n strydpunt10. Die sinode van die Gereformeerde Kerken in Nederland Sneek/Utrecht 1939-1943 het die saak van die beloftes van God se verbond by die doop en die saak van die veronderstelde wedergeboorte in ’n kompromis opgevat soos die sinode van Utrecht in 1905 dit ook reeds gedoen het11. Die doel was om ’n dreigende skeuring af te weer – niemand word gebind aan ’n bepaalde verbondsbeskouing nie. Maar enkele dae later is hierop ’n Toelichting gegee. Die Toelichting stel dit so: Die belofte van die verbond moet opgevat word as ’n belofte waarin die wedergeboorte nie slegs belowe (geskenk) word nie, maar waarin die wedergeboorte inderdaad aan die dopeling gegee word 12.

Dit beteken egter dat die verbondsbeloftes alleen bestem is vir die uitverkorenes. Uitverkiesing en verbond word dan so op mekaar getrek dat dit met mekaar geïdentifiseer word. Alleen by die egte doop (van die uitverkorenes) word hierdie beloftes verseël, nie by die onegte doop nie wat bedien word aan hulle wat daarom slegs uitwendig tot die verbond behoort. Die gevolg hiervan was dat by die doop van die kind die ouers geworstel het met die vraag of die kind uitverkies was of nie. Deur die kerke te bind aan die leeruitsprake en aan die Toelichting van die sinode het gelowiges in gewetensnood en twyfel gekom. Die sekerheid van die verbond was in gedrang13.

Vir vele ampsdraers en lidmate was dit duidelik: die leeruitsprake en Toelichting kon nie gehandhaaf word in die lig van die Skrif, die belydenis en die liturgiese formuliere nie. Maar die sinode-uitsprake was bindend, want kandidate en predikante en ander ampsdraers is afgesit omdat hulle nie wou leer dat die sakramente “aanwesige geloof” verseël nie14. Tragies is dit dat die besware sonder deeglike oorweging deur die sinode van die hand gewys is. Dit het hier nie gegaan om die belydenis self nie, maar om ’n interpretasie of leerstelling van die sinode waaraan mense se gewetens gebind is. Behalwe dat dit ’n leersaak was, was die Vrymaking dus ook ’n stryd om die erkenning van Christus se regering van sy kerk – ’n kerkregsaak dus15.

Die Here Jesus Christus is Hoof van sy kerk. Hy regeer, lei, versorg en bewaar sy kerk deur sy Woord en Gees. Hy doen dit deur ampsdraers sy Woord te laat bedien. Hierdie diens van die Woord word in die Kerkorde deur die kerke gesamentlik gereël. Aan die kerkorde bind die kerke hulle vrywillig en is dan verplig om hulle daaraan te hou. Maar alleen Christus het gesag in die kerk. Een kerk mag nie gesag uitoefen oor ’n ander nie.

Meerdere vergaderings mag ook nie heerskappy uitoefen oor kerke nie. Die sinode mag nie sake in behandeling neem wat nie deur die kerke versoek en afgespreek is nie. Nadat die sinode van Assen in 1926 dr. J G Geelkerken in stryd met gereformeerde kerkregering afgesit het16, is daar egter ’n nuwe interpretasie van die gesag van die meerdere vergaderings gegee, naamlik dat die sinode by magte sou wees om ampsdraers af te sit17. Op daardie spoor het die sinode Sneek/Utrecht gesag oor die kerke uitgeoefen.

Die sinode van Sneek/Utrecht het teen die ooreenkoms of afspraak in Kerkorde Artikel 30 opgetree. Die sinode het leergeskille op die agenda geplaas terwyl dit nie deur die kerke aangevra is of deur die kerkorde gereël is nie. Ten spyte van besware het die sinode sy gang gegaan. Die sinode het homself ook vir vier jaar lank laat voortbestaan. Die sinode het onderwerping aan die besluite vereis sonder om te let op kerkorde artikel 31, wat die binding aan die Skrif bo alle ander binding stel. Die binding aan die Skrif vereis dat alle besluite daaraan getoets word, en dat sinodebesluite bindend is tensy dit in stryd is met die Woord van God. Is dit in stryd met die Skrif, mag dit vir geen oomblik gehoorsaam word nie. God moet meer gehoorsaam word as mense. Toe die sinode volhard met die besluite in stryd met die Skrif, was daar geen ander keuse vir die verdrukte volk van God as om hulle vry te maak van daardie binding nie, om aan die Here getrou te bly18.

4. IMMIGRASIE EN INSTITUERING

Vir honderde vrygemaakte gesinne was dit ’n uitkoms om hulle te kon vestig in Kanada, Australië en Suid-Afrika19. Hulle het “oop” briewe van aanbeveling met hulle saamgeneem20. In Kaapstad en Pretoria aangekom, het hulle bestek opgeneem. Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het korrespondensie gevoer met die Gereformeerde Kerken in Nederland (sinodaal) waaruit die Vrymaking kom21. Sou hulle daar die stem van Christus, die Goeie Herder hoor? Sou hulle in die Gereformeerde Kerk ’n ononderhandelbare onderwerping aan die heerskappy van Christus vind? Of sou hulle dít waarvoor hulle so volhardend gestry het, weer verloor?

Dit het vir hulle gegaan om die suiwer leer van die Skrif soos die Here dit in sy Woord laat verkondig, om die stel van die waarheid teenoor die dwaalleer, en die deurtrek van die beginsels van die Skrif. Die immigrante uit Nederland het waargeneem dat die opstelling van die Christelike geloof en lewenswandel teenoor die dwaalleer en die afval in die samelewing dikwels by die Afrikaanse kerke van gereformeerde belydenis ontbreek het. Dié kerke se belydenisgrondslag het hulle gedeel, maar ervaar dat die belydenis in die daaglikse lewe meesal nie gefunksioneer het nie22.

Gedurende 1951 het vyf gesinne met gesamentlike huisgodsdiensoefeninge in Kaapstad begin. Op 24 Februarie 1952 is twee broeders tot ouderling verkies en een tot diaken. Op 2 Maart 1952 was daar in ’n sitkamer in ’n huis in Claremont, die huis van Egbert en Aukje Oggel, 15 persone, groot en klein, bymekaar – mense wat uit die Gereformeerde Kerken in Nederland gekom het en hulle daar vrygemaak het van sinodale leeruitsprake en sinodale heerskappy. Dit was die eerste amptelike erediens. J P van den Berg het opgestaan en die formulier voorgelees om ampsdraers in die gemeente van Christus te bevestig. Daar was geen predikant om die vrae te stel nie. Die broers het om die beurt aan mekaar die vrae gestel en daarop geantwoord. Van den Berg het as oudste ampsdraer die “institueringspreek” voorgelees. Die preek was vir die geleentheid geskryf deur ds. G van Rongen van Zwijndrecht in Nederland. Die teks was Galasiërs 4:27: Verbly jou onvrugbare wat nie baar nie, breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ’n man het23.

Van Rongen en ds. J van Popta van Edmonton in Kanada het vanaf 1951 die broeders en susters op versoek met advies bedien24. Dit is duidelik dat leiding gesoek is in hierdie saak. Die advies wat gegee is het alleen op die werkwyse van instituering25 die klem gelê, en nie die instituering gemotiveer en teologies verantwoord nie.

Die belydende broeders en susters het mekaar aanvaar en hulle geloof teenoor mekaar bely met die Akte van instituering26 wat elkeen onderteken het. Dié het hulle van die kerk in Homewood in Kanada gekry. Vir die doeleindes van hierdie artikel is dit van belang om op hierdie dokument in sy geheel te let. Daarin kom die teologiese en ekklesiologiese motivering vir die instituering van die kerk in Kaapstad aan die orde. Dit sal dus help om ’n verantwoorde antwoord te gee op die vraag wat reg aan die begin gestel is.

1. Die Akte van instituering bestaan uit nege artikels. Saamgevat kom dit op die volgende neer:

2. Die lidmate bely hulle sonde en vervloeking en dat hulle hulle verootmoedig voor God wat die sonde nie ongestraf laat nie maar straf aan sy liewe Seun Jesus Christus.

3. Hulle glo verseker dat al hulle sonde ter wille van die lyding en die sterwe van die Here Jesus Christus vergewe is op grond van die geregtigheid wat Hy verwerf het.

4. Hulle wil met hulle hele lewe dankbaarheid bewys en voortaan in liefde en enigheid met die naaste lewe.

5. Op grond van een belydenis wil hulle mekaar hou as waardige tafelgenote en daarom op bevel van Christus in gehoorsaamheid aan Gods Woord die kerk institueer.

6. Alle menslike wette wat die gewete wil bind word afgewys, maar alles word aangeneem wat die eenheid en die eendrag bevorder om in gehoorsaamheid aan God alles te onderhou.

7. Die drie Formuliere van Enigheid word aanvaar as getroue belydenis van die Woord van God en as akkoord van samelewing. Die Kerkorde van die Gereformeerde Kerken in Nederland wat Artikel 31 onderhou het, dus vrygemaak, word aanvaar asook die formuliere wat in die kerke gebruik word.

8. Eenheid van geloof en kennis van die Seun van God word onderhou en nagejaag met elke kerk wat gehoorsaam belydenis doen van die inhoud van die onfeilbare Woord van God en ernstig daarmee is om in die bediening van die Woord en die sakramente en in die handhawing van die tug die nek te wil buig onder die juk van die Here Jesus Christus.

9. Daarom sal hulle graag kerklike gemeenskap wil hou met die Vrye Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, dit wil sê die kerk in Pretoria.

10. Hulle wil ook kerklike korrespondensie voer met die vrygemaakte kerke in Nederland27.

Hiermee is die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad geïnstitueer. Dit was ’n ekumeniese begin – formeel het hierdie Akte van instituering sy oorsprong by die broeders in Kanada. Inhoudelik was die vertrekpunt die katolisiteit van die kerk van Christus. Daar is aansluiting gesoek by die vertroude Nagmaalsformulier wat op voortreflike wyse die eenheid van die geloof bely28. Eenheid is betuig met die Gereformeerde Kerken in Nederland (vrygemaak). Daar word kerklike gemeenskap gesoek met die Vrye Gereformeerde Kerk in Pretoria29. Verder word dit as ’n opgawe aanvaar om eenheid te soek met elke kerk wat gehoorsaam belydenis doen van die onfeilbare Woord van God.

Hierdie geloofstandpunt van die gemeente wys duidelik dat gesoek is om onder die enigste Hoof, Jesus Christus en sy Woord te buig om kerk van Christus te wees. Die katolisiteit van die kerk word deur Christus gegee en daarom is dit wesenlik vir die bestaan van die kerk om eenheid te soek met almal wat die suiwer leer (bedoelende die evangelie) bewaar. Die sekte ken dit nie want die sekte groepeer homself rondom sy eie mag en gesag en stel hom aan bo die Woord van God30

Uit die voorafgaande paragrawe is dit duidelik dat die kerk geïnstitueer is. Die aard en karakter daarvan was nie sektaries bedink nie. Tog bly die vraag: wat was die motivering vir instituering?

Uit die korrespondensie wat gevoer was voor die instituering word die motivering vir die instituering nie duidelik uitgespel nie31. Die instituering is eenvoudig aanvaar as die aangewese ding om te doen. Daar is min dokumentasie beskikbaar en die enkele herinneringe kan moeilik getoets word 32. Ongelukkig het die gedenkboek van die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria wat in 2000 verskyn het ook nie op die motivering vir instituering daar ingegaan nie33. In Pretoria wat in 1950 geïnstitueer is, het 14 gesinne hulle teen April 1952 by die gemeente gevoeg34. Prakties was dit onmoontlik om Kaapstad vanuit Pretoria herderlik te versorg. Die instituering van die kerk in Pretoria het wel as aansporing gedien om mekaar op te soek in die nuwe land.

Uiteraard moet gevra word of die betrokke lidmate hulle nie by die Gereformeerde Kerk Kaapstad kon gevoeg het nie?

5. SOU DIE GEREFORMEERDE KERK ’N TUISTE BIED?

P van Dalen en sy gesin het hulle aanvanklik, na hulle aankoms en voor die instituering in 1952, by die Gereformeerde Kerk Kaapstad gevoeg. Hierin is gehandel volgens die oop aanbevelingsbrief en die advies van die kerkraad in Zwijndrecht om aan te sluit by ’n kerk wat die naaste aan die Woord gelewe het en self hulle lig te laat skyn35. Maar waarom het hy dan nie daar gebly nie en waarom lees ons in die notule van die instituering van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad dat Van Dalen bevestig is in die amp van ouderling?36

Die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Kaapstad het vrygemaaktes sonder meer aanvaar maar met die opdrag om nie oor die Vrymaking in Nederland te praat nie37. Volgens die kerkraad was die sake waaroor die Vrymaking in Nederland gegaan het, nie in die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika aan die orde nie, en hulle wou nie ’n skeuring soos in Nederland hê nie. Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het korrespondensie met die Gereformeerde Kerken in Nederland (sinodaal) gevoer. Daar was besondere bande met die Vrije Universiteit waar van die predikante studeer het. Daar het dus invloed uitgegaan van die Gereformeerde Kerken in Nederland (sinodaal). Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika was ook saam met die Gereformeerde Kerken in Nederland van die begin af (1946)38 betrokke by die instelling van ’n Gereformeerde Ekumeniese Sinode. Die Gereformeerde Kerken in Nederland (sinodaal) het in 1946 as versoeningspoging ’n vervangingsformule aanvaar as in ooreenstemming met die Skrif en die belydenis terwyl hulle die inhoud van die leerstellings van Sneek/Utrecht tog bly handhaaf het39. Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika se sinode in 1949 het dit oorgeneem maar wel duidelik gemaak dat dit binne die kerk nie bindend sou wees nie40.

Die Van Dalens en hulle bure was ver van die plek van samekoms van die gemeente in Kaapstad. Die kinders kon nie katkisasie bywoon nie. Van Dalen het toe sy eie en die bure se kinders met De voorzeide leer van ds. C Vonk uit die kategismus onderrig41. In ’n stadium mag Van Dalen egter nie meer die katkisasie waargeneem het nie. Dit is nie duidelik wat hiertoe aanleiding gegee het nie. Van Dalen het toe met ander vrygemaaktes saamgekom (onder andere Egbert Oggel). Hulle het bespreek hoe hulle moes “optree as vrygemaaktes” (nie in die sin van kerklidmate van ’n vrygemaakte kerk nie, maar vry in Christus) in die omstandighede waarin hulle hulle bevind het42.

6. DIE HERE NEEM BESLAG VAN DIE LEWE

Die immigrante se sig op kerk en samelewing is gestempel deur die Vrymaking. Die gevolge van die Vrymaking was enorm. Die breuk in die kerk is gevolg deur breuke in die ander lewensverbande. Waarom? Die belydenis van die kerk en die belydenis van die ander geloofsartikels is van een en dieselfde gehalte, is geredeneer, en die ruimte en grense wat die belydenis aangee, raak elke aspek van die lewe, want die lewe is lewe vanuit die geloof in Christus. Die geloof bepaal nie alleen die gehoorsaamheid aan Christus nie om jou te laat vergader saam met die ware gelowiges, die geloof bepaal ook jou politieke keuse. Weer anders gestel: hoe kan jy hartlik saamwerk in ’n gereformeerde politieke vereniging, maar Sondag sit jy nie saam aan een Nagmaaltafel nie?43

Op grond van Skrif en belydenis is gereformeerde skole in Nederland opgerig. ’n Gereformeerde Politieke Verbond en ’n Gereformeerde Maatskaplike Verbond is gesluit. Kerkisties en sektaries? Daar is vanuit die geloof, die eenstemmigheid in Christus gewerk om die geloof te bevorder en nie om ’n kerk uit te brei nie. Maar die konsekwensie van die geloof is getrek. Jy kan nie skouerophalend teenoor die kerk staan nie.

Die belydenis van die een werk van Christus om vir Hom van die begin tot die einde ’n gemeente vir die ewige lewe te vergader, en die heilshistoriese prediking in die vrygemaakte kerke was op mekaar afgestem44. Die heil van God wat Hy in Christus skenk, het mense Sondag vir Sondag aangegryp en vertroos. Die kerkdiens is ervaar as die persoonlike sorg en leiding van Christus. Die gemeentes is opgewek om hulle op die vaste Woord en beloftes van God te verlaat. In die prediking regeer Christus sy gemeente, skenk Hy die beloftes van die evangelie en soek Hy geloof en oordeel Hy met die Woord oor die sonde en ongeloof in die gemeente. ’n Gemeente wat so konfessioneel nadink oor kerk en geskiedenis, en oor die verbond van genade, neem toe in kerkhistoriese besef, om te weet waar hulle staan en waarheen hulle gaan ten opsigte van Christus en sy kerk. Die prediking verrig nie hulpdiens nie, maar is die direkte werk van Christus ten behoewe van sy gemeente om geloof in Hom in die harte te werk en hulle by Hom te hou.

Die suiwer leer van die verbond van genade en die plek wat die kinders daarin het, was vir die vrygemaakte lidmate van uiterste belang in die maak van ’n beslissing in verband met die kerk van Christus. Hulle het teenstand gebied teen die skoolse manier van redeneer wat die aanvaarde werkwyse in die Gereformeerde Kerken in Nederland (sinodaal) geword het en wat deur wetenskaplike probleemstellings oorheers is. Hierdie “reformatoriese rigting” wat in die dertigerjare van die twintigste eeu in die Gereformeerde Kerken in Nederland na vore gekom het, het die harte weer laat rus vind in die vaste beloftes van God, in die Woord wat verkondig is en in die sakramente wat bedien is45.

7. DIE ANTITESE

Die prediking waaraan die immigrante in die Vrygemaakte kerke in Nederland gewoond was, het hulle nie in dieselfde mate in Suid-Afrika in die Gereformeerde Kerk gevind nie, hoe subjektief hulle beoordeling ook was46. Dit was moeilik om by die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika in te pas. Dit was meer as ’n kulturele probleem. Dit wat hulle in die Vrymaking gewen het, het gedreig om weer verlore te raak. Die opstelling van die geloof teen die ongeloof, die ware evangelie teen die dwaalleer, die antitese of die teenstelling tussen waar en vals en die gevolglike keuse vir die waarheid wat gevolge vir die hele lewe het, het hulle gemis in die Afrikaanse kerke van gereformeerde belydenis. In ’n brief van die Kerkraad van Pretoria op 20 April 1952 aan die Kerkraad van Kaapstad blyk iets hiervan: “Zo heeft dan nu ook de kerk te Kaapstad weer een adres en haar eigen plaats. Moge zij nog tot veel zegen zijn, want het is niet uitgesloten dat de Here nog een grote taak voor de kerk der reformatie in dit land heeft weggelegd. Maar het zal op getrouwheid aankomen, op onze trouw zullen wij waarschijnlik nog wel eens worden beproefd. Beware ons dan de Here voor moedeloosheid opdat we nooit zullen zien op het getal. Geve Hij dat wij altijd de gevaren zullen blyven zien, die in dit land en onder dit volk dat zo alleszins godsdienstig is maar van de dienst van den levenden God zo weinig meer kent, zo sterk op ons en onze kinderen afkomen. Het verdoezelen van de antithese is duizendmaal gevaarlyker dan de openlyke goddeloosheid, en het is juist deze verdoezeling der grenzen die in het Afrikaanse kerkelyke leven zulke angstwekkende vormen heeft aangenomen. Laat daarom ook ons gebeden vemeerderen voor den dag der toekomst waarin – dat word nu wel duidelyk – het juist daarom zal gaan voor de gelovigen, dat zy de antithese zullen blijven handhaven tegenover een wereld die de synthese van die valse eenheid bewerkt, en laten wij toch den Here ernstig smeken of Hy ons spoedig blyvende herders en leraars wil geven opdat zy ons door de onderwyzingin het Woord en de leer sterk maken tegen de komende verzoekingen47”.

Die gemeente het bely dat God die geskiedenis lei en bestuur en dat Christus een kerk van die begin af tot die einde toe vir Hom vergader. Hulle het ’n geloofskeuse en daarom ’n kerkkeuse in Nederland gemaak en hulle van die valse kerk of sekte vrygemaak om Christus as hulle enigste Hoof te dien. As hulle dit nie sou doen nie, sou hulle by die valse kerk bly. Die Nederlandse Geloofsbelydenis beskryf dit so: “Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God, dit wil hom nie aan die juk van Christus onderwerp nie...dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf ...48 Hulle het teruggekeer na die leer van die Skrif, na die belydenis van Christus, na die ware kerk.

By die tienjarige herdenking in 1962 is verklaar: “...dat niemand dergenen die in 1951 begonnen zijn om huisgodsdienstoefeningen te houden en zo de stoot gaven tot instituering van onze tegenwoordige Vrye Gereformeerde Kerk van Kaapstad, er bij zijn vertrek uit Nederland ooit over gedacht heeft om zoiets hier te ondernemen49.” Dit is ’n singewing aan die geskiedenis, maar dit dui op ’n oortuiging dat daar nie vanuit Nederland gekom is met ’n plan om ’n afsonderlike kerk op te rig of ’n verband van kerke uit te brei nie.

By hierdie geleentheid in 1962 sien die gemeente die geskiedenis van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika in verband met die geskiedenis van die kerk van Christus in Suid-Afrika. Die band tussen die Afskeiding van 1834 en die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika is duidelik. In die Afskeiding én in die stigting van die Gereformeerde Kerk was dit ’n saak van bekering om by die ware kerk te bly, om kerk van Christus te wees. Beide was reformasie. Maar daar moes ook aangeteken word dat die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika ongelukkig die kant van die sinodale Gereformeerde Kerken in Nederland gekies het en geweier het om van die stryd van die Vrymaking kennis te neem, hoewel hulle juis vanweë die korrespondensie wat hulle gevoer het met die Gereformeerde Kerken in Nederland (sinodaal) op die Gereformeerde Kerken in Nederland (sinodaal) moes toesien of hulle steeds by die suiwer leer gebly het50.

Die gemeente het nie ’n uitspraak gemaak oor die leer wat gehandhaaf is in die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika nie. Hierdie Kerk is nie gelykgestel met die sinodale Gereformeerde Kerk en in Nederland nie51. Maar reeds so vroeg as 30 September 1952 is appèl gedoen op die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika om hulle verantwoordelikheid na te kom ten opsigte van die sinodale Gereformeerde Kerken in Nederland52. Hulle het bevind dat die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika hierdie verantwoordelikheid nie nagekom het nie.

In die opstel by die tienjarige herdenking word deurgestoot na die wese van die saak: “Wij streven niet naar extra orthodoxie, strijden ook niet uit gekrenkte trots om erkenning, want dan sou ons bestaan een gruwel zijn in de ogen des Heeren. Maar de vraag zal blijven: Wat is Gereformeerd? In leer en kerkregering? Die vraag zal moeten beantwoord worden ook door de Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika53.”

8. DIE VOLGENDE JARE

Dit is onmoontlik om alle motiewe wat die besluit beïnvloed het om ’n kerk te institueer te identifiseer. Die erkenning van die Heilige Skrif as enigste binding van die gewete staan duidelik uit. Kerkbesef in Skriftuurlike sin het swaar geweeg. Daar was herkenning van broers en susters in die geloofstryd. Daar word ook ander invloede vermoed. Sonde en gebreke in eie geledere en swakheid om te stry teen die sonde en die dwaalleer het dikwels die eenheid in die gemeente bedreig en diep wonde toegedien54.

Hulle geloof in hulle Hoof, Jesus Christus, en die gesag van sy Woord het hulle daarvan weerhou om ’n Nederlandstalige buitepos van die gemeente te maak, maar om gelowig hulle roeping in hulle nuwe vaderland na te kom. Hulle geloof aangaande die kerk van Christus het bepaal hoe hulle gestalte gegee het aan kerkwees. Of liewer, hulle het ervaar dat Christus hulle met sy Gees saamgebring het onder sy Woord om hulle te bewaar, te versorg en te lei. Ten spyte van hulle sonde en gebreke. Daarom het hulle geywer vir kerkeenheid. Die grens het vir hulle geloop tussen geloof en ongeloof. Hulle het geglo en daarom het hulle gehunker na kerklike saamlewe met almal wat die waarheid liefhet en gehoorsaam aan Christus wil wees. Hulle was steeds onvergenoeg daarmee dat hulle nie verder kon kom met die eenheid met die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika nie in wie se geskiedenis hulle so baie herken het van hulle eie geskiedenis55.

Die tienjarige herdenking getuig dus daarvan dat die gebrek aan ’n instelling om die waarheid teenoor die valse leer te stel soos wat dit by die Afrikaanse kerke van gereformeerde belydenis opgemerk is, ’n belangrike rede was wat aanvanklike eenheid met die kerke onmoontlik gemaak het. By die dertigjarige simboliese datum skryf R Nauta ’n woord vir jonger lidmate en wys hy hoedat alleen by die Skrif en belydenis die ware gemeenskap met God moontlik is56.

J Kamphuis, in sy jubileumlesing van 1982, verbly hom daaroor dat die Gereformeerde Kerke in 1976 om prinsipiële redes gebreek het met die sinodale Gereformeerde Kerken in Nederland57. Vele vrae is daarmee egter nog nie beantwoord nie. Vele struikelblokke moes nog uit die weg geruim word.

9. DIE KATOLISITEIT VAN CHRISTUS SE KERK MET VERWYSING NA DIE INSTITUERING VAN DIE VRYE GEREFORMEERDE KERK KAAPSTAD

Daar word vandag hoog opgegee vir die ekumene, ook deur kerke van gereformeerde belydenis. Maar dan word dit dikwels gesien in die terme van die moderne ekumene wat samewerking en eenheid van kerkinstitute nastreef, sonder dat daar herkenning van mekaar ten opsigte van Skrif en belydenis hoef te wees58. Dit is kerkpolities van aard en soek na ’n sintese om verskillende sogenaamde kerklike en teologiese tradisies met mekaar te laat saamwerk. Dit dien ongelukkig nie die eenheid van die kerk van Christus nie. Vir die geloof kan ekumene en die katolisiteit van die kerk nie van mekaar losgemaak word nie. Ekumene kan alleen beoefen word waar die kerke gemeenskaplik glo. En waar die konfessie die persoonlike belydenis van die lidmate se geloof is. Wie so na die kerk kyk, kan onmoontlik rus vind in sporadiese byeenkomste en samewerkingsverdrae. Die ywer vir een Nagmaaltafel is die einddoel. Een Nagmaaltafel is egter alleen moontlik waar daar een geloof in Christus is.

Wie Skriftuurlik nadink oor die ekumene word bevry van die benoudheid en angstigheid wat met kerkisme en sektarisme gepaard gaan. Dit is bevrydend om mekaar te herken as kerke wat uit die Woord van God wil lewe. Die Woord is die gesamentlike vertrekpunt en dan kan daar ook vrymoedig na mekaar geluister word en met mekaar gepraat word.

Daar word, na 350 jaar gereformeerde geloof in Suid-Afrika, Sondag nog weer geloof van die Here se gemeente gevra, daar word geloof gevra van hulle wat Hom liefhet en sy Woord liefhet. Instemming met die ware leer van die evangelie en opstelling teenoor die dwaalleer. En dit het gevolge vir die lewe. Die ware gelowiges soek mekaar en vind mekaar by die helder Woord van God. Hulle maak ’n kerkkeuse, ook teen die valse kerk of sekte. Dit is nie sektaries of separatisties nie, dit is wat gevra word van die geloof in die een kerkwerk van Christus.

TREFWOORDE

Vrye Gereformeerde Kerke

Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad

Kerkgeskiedenis 1952-2002

Gemeentegeskiedenis

Gereformeerde Kerken in Nederland (vrijgemaakt)

KEYWORDS

Free Reformed Churches

Free Reformed Church Cape Town

Church History 1952-2002

Congregational History

Reformed Churches in the Netherlands (liberated)

1 Van’t Spijker, W 1981. Triptiek van de geschiedenis. Goes: Oosterbaan en Le Cointre, 165 ev.; Brown, E 1969. ’n Bespreking van die teologiese metode van die Kerkgeskiedenis met verwysing na die Vaderlandse Kerkgeskiedenis. Publikasies van die Universiteitskollege van Zoeloeland, Reeks 1: Intreeredes, 5.

2 Hanekom, T N 1960. Ons Vaderlandse Kerkgeskiedskrywing, in NGTT (Deel 3) 1 ev.

3 Kamphuis, J 1987. Ecclesiologie, in J Douma (red). Oriëntatie in de theologie. De Vuurbaak: Barneveld, 94 ev.

4 Hanekom, aw, 1 ev.

5 Vir ’n goeie insig in die rol wat die konfessionele binding in die Vrymaking gespeel het, sien Deddens, D & Te Velde, M 1994. Vrijmaking - Wederkeer. Vijftig jaar Vrijmaking in beeld gebracht 1944 - 1994. Barneveld: De Vuurbaak.

6 Sien die samehang van die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 27 oor die algemene Christelike kerk enersyds, en artikels 28 en 29 oor die verpligting om by die ware kerk op ’n plek en tyd aan te sluit. Sien ook die Heidelbergse Kategismus Sondag 21. Vergelyk die boek van Schilder, H J 1948. Op de grens van kerk en secte. Rotterdam: Stichting De Vrije Kerk, 11 ev.

7 Munneke, H R 1979. Vrijgemaakt en toch gebonden. Kampen: J H Kok , 7 - 32.

8 Deddens, D 1994. De Vrijmakingsvergadering van 11 Augustus 1944, in D Deddens & M te Velde (reds.), aw, 76.

9 Dies., 77 ev.

10 Bouma, H 1994. Van ‘Vereniging’ tot nieuwe wederkeer, in D Deddens & M te Velde (reds.), aw, 10 ev.

11 Kamphuis, J 1984. Een eeuwig verbond. Haarlem: Vijlbrief, 151 ev.

12 Munneke, aw, 16 – 17.

13 Kamphuis, aw, 151 ev.

14 Te Velde, M 1994. Kerkstrijd in oorlogstijd, in D Deddens & M te Velde (reds.) aw, 55 – 58. Sien ook Schilder, aw, 11 ev.

15 Bos, C G & Brink-Blijdorp, W A E 1994. Nieuwe Nederlandse kerkgeschiedenis, deel 2. Barneveld: De Vuurbaak, 19 - 24.

16 Bouma, aw, 9-24

17 Bouwman, M 1937. Voetius over het gezag der synoden. Amsterdam: S J P Bakker, 304 ev.

18 Deddens, aw, 65-92.

19 Douma, O J 1994. Zusterkerken in het buitenland, in D Deddens & M te Velde (reds.), aw, 279. Die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika handhaaf susterkerkverhoudinge met die Free Reformed Churches of Australia en die Canadian Reformed Churches.

20 Brief van die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria aan die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad 20 April 1952. Argief van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad.

21 Van Dalen, B 2002. Herinneringe. Ongepubliseerde persoonlike mededelings in die Argief van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad. Die beskrywing van die Gereformeerde Kerken in Nederland met die agtervoegsel “(sinodaal)” is nie amptelik nie, maar vanaf 1944 in onderskeiding van die kerke wat hulle vrygemaak het van die sinodale juk deur die “vrygemaaktes” gebruik.

22 Overdenkingen bij het tienjarig bestaan van Die Vrye Gereformeerde Kerk van Kaapstad 1962. Ongepubliseerde dokument sonder vermelding van skrywer in die Argief van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad.

23 Sien vir ’n verslag van die instituering Notuleboek van die Kerkraad 1952. Argief van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad. Sien ook Kamphuis, J 1982. ’n Kerk in die Kaap, ’n Kerk op die Kaap. Die Vrye Gereformeerde Kerk te Kaapstad 1952 – 1982. Jubileumlesing. Kaapstad: Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad, 1 - 3.

24 Brief van Van Popta aan E Oggel 19 Februarie 1952. Argief van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad. Sien ook Brief van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad aan Van Rongen 9 Maart 1952. Argief van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad.

25 Instituering vind plaas wanneer die ampte vir die eerste keer ingestel word.

26 Akte van Instituering 2 Maart 1952. Argief van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad.

27 Dies.

28 Formulier vir die viering van die heilige nagmaal 1992, in Liturgiese Formuliere en Kerkorde, soos vasgestel deur die sinode van die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika te Kaapstad. Sonder plek van publikasie en uitgewer, 15 - 25.

29 Op 21 en 22 Desember 1954 het afgevaardigdes van Pretoria en Kaapstad besluit om ’n verband met mekaar aan te gaan. Meijer, J W 2000. Tog ’n lig...! 50 Jaar Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria. Pretoria: Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria, 19.

30 Vergelyk die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 29.

31 ’n Soektog in die Inventaris van argiefstukke en die Argief self het geen antwoord opgelewer nie.

32 Van Dalen, aw.

33 Meijer, aw.

34 Brief van die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria aan die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad 20 April 1952, aw.

35 Van Dalen, aw.

36 Dies.

37 Dies.

38 Jooste, J P 1958. Die geskiedenis van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1859 – 1959. Potchefstroom: Potchefstroom Herald, 366 ev.

39 Kamphuis, 1984, aw,. 155 – 158.

40 Overdenkingen bij het tienjarig bestaan van Die Vrye Gereformeerde Kerk van Kaapstad 1962, aw.

41 Vonk, C 1950. De voorzeide leer, deel 2. Schiedam: Hasekamp.

42 Van Dalen, aw.

43 Munneke, aw, 33 – 38.

44 De Ruijter, C J 1994. Gods verbondswoord gaat van hart tot hart. Ontwikkelingen in de ‘vrijgemaakte’ preekvisie, in D Deddens & M te Velde (reds.), aw, 153 ev.

45 Te Velde, M 1994. Kerkstrijd in oorlogstijd, in D Deddens & M te Velde (reds.), aw, 39 ev.

46 Overdenkingen bij het tienjarig bestaan van Die Vrye Gereformeerde Kerk van Kaapstad 1962, aw.

47 Brief van die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria aan die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad 20 April 1952, aw.

48 Nederlandse Geloofbelydenis, Artikel 29.

49 Overdenkingen bij het tienjarig bestaan van Die Vrye Gereformeerde Kerk van Kaapstad 1962, aw.

50 Dies.

51 Kamphuis, 1982, aw, 3.

52 Notule van 30 September 1952, in Notuleboek van die Kerkraad 1952. Argief van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad.

53 Overdenkingen bij het tienjarig bestaan van Die Vrye Gereformeerde Kerk van Kaapstad 1962, aw.

54 Altyd goeie hoop. Vyftig jaar Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad 2002. Bellville: Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad, 37 ev.

55 Overdenkingen bij het tienjarig bestaan van Die Vrye Gereformeerde Kerk van Kaapstad 1962, aw. Sien ook Kamphuis, 1982, aw, 3.

56 Nauta, R 1982. Kerkpad van die verbond. ’n Woord vir jonger lidmate by die 30-jarige bestaansherdenking van die Vrye Gereformeerde Kerk te Kaapstad 2 Maart 1952 – 1982. Kaapstad: Vrye Gereformeerde Kerk van Kaapstad, 15.

57 Kamphuis, 1982, aw, 3,4.

58 Van Gurp, P 1993. Kerk en zending in de twintigste eeuw. Van evangelieprediking tot revolutiedienst. Goes: Oosterbaan & Le Cointre, 7 ev.