Snyman, A H
Universiteit van die Vrystaat

Onderweg na ’n teksgebaseerde retoriese analise van Paulus se briewe

ABSTRACT

Towards a text-centred rhetorical analysis of Paul’s letters

The pioneering commentary of HD Betz on Galatians has been met with mixed reaction. A number of scholars responded favourably to his proposal of analysing a Pauline letter in terms of categories developed in ancient rhetoric for the creation of forensic speeches. Others felt uneasy about the rigid way in which he applied these categories to Galatians and suggested alternative approaches. When more scholars – especially classicists – entered the debate in the 1990’s and revealed the weak foundations of these approaches, the time was ripe for an approach in which the letter itself serves as the starting point for analysis and not any ancient rhetorical model from outside.

The aim of this article is to describe the process of developing a text-centred approach to rhetorical analysis. A proposal for such an approach is summarised and critically evaluated by comparing it with Betz’s analysis. It is suggested that the proposal be applied to all Paul’s letters in order to develop a thoroughly grounded Pauline rhetoric in due course.

1. INLEIDING

In 1979 is H D Betz se bekende Galatians. A Commentary on Paul’s Letter to the Churches in Galatia gepubliseer. Hiermee is ’n nuwe fase in die retoriese analise van Paulus se briewe ingelui. Volgens Betz (1979:24-25) kan die brief aan die Galasiërs bestudeer word aan die hand van die drie soorte retoriek wat Aristoteles onderskei het: die forensiese, epideiktiese en deliberatiewe retoriek. Hy beskou Galasiërs as ’n voorbeeld van die antieke apologetiese briefsoort, wat as forensiese retoriek geanaliseer kan word. Die brief veronderstel ’n fiktiewe hofsituasie: Paulus is in die verdedigingsbank, sy opponente is die aanklaers en die Galasiërs die jurie. Op grond van dié aannames analiseer hy dan die brief aan die hand van kategorieë, wat in forensiese verdedigingstoesprake gebruik is (1979:16-23).

Betz se kommentaar het ’n groot invloed uitgeoefen. Sedert die verskyning daarvan moes enige persoon wat erns maak met die teks in sy/haar retoriese analise, hom/haar ten opsigte van sy voorstel verantwoord. Die reaksies op die kommentaar was uiteenlopend. Aan die een kant is dit beskou as die begin van ’n nuwe era in die bestudering van die Nuwe Testament. Op voetspoor van Betz het verskeie navorsers die antieke retoriese kategorieë op Paulus se briewe begin toepas. Ander was weer versigtiger en het die rigiede toepassing van die kategorieë versag deur Betz se voorstel aan te pas, of deur dit te kombineer met epistolêre analises. Hierdie uiteenlopende reaksies, asook indringende kritiek deur erkende klassici, het gelei tot ’n nuwe teksgebaseerde voorstel vir retoriese analise, waar ’n teks nie ondersoek word aan die hand van ’n spesifieke retoriese model van buite nie, maar die retoriese strategie vanuit die teks self gerekonstrueer word.

In die artikel word die probleme met Betz se benadering bespreek en as agtergrond gebruik vir ’n teksgebaseerde benadering tot retoriese analise. Die benadering is voorgestel in Francois Tolmie se PhD-proefskrif “A rhetorical analysis of the Letter to the Galatians”, wat later vanjaar deur Mohr-Siebeck in Tübingen as deel van die Wissenschaftliche Untersuchungen zum Neuen Testament (WUNT) reeks gepubliseer sal word. Die aanname van sy ondersoek is dat Paulus die Galasiërs probeer oortuig om sy standpunt te aanvaar, of – as hulle dit nie wil doen nie – ten minste nie die standpunt van sy opponente te aanvaar nie. Die hoofdeel van sy proefskrif bestaan uit ’n teksgebaseerde deskriptiewe analise van die wyse waarop Paulus dit probeer doen. Aangesien ’n teks nie “neutraal” gelees kan word nie, formuleer Tolmie – op voetspoor van Ellis (1993) se “grounded theoretical approach” – ’n minimale teoretiese raamwerk om sy analise te begelei. Teen die einde van hierdie artikel word die raamwerk kortliks beskryf en die bevindinge van sy ondersoek krities vergelyk met Betz se indeling van die brief aan die Galasiërs. Die konklusie is dat Tolmie se teksgebaseerde benadering Paulus se retoriese strategie in Galasiërs duideliker beskryf as Betz se rigiede toepassing van eksterne retoriese kategorieë op die brief.

Dit is ’n oorsigartikel, waarin die aanloop tot Tolmie se voorstel bespreek en die raamwerk daarvan opgesom word. Sy analise kan uiteraard nie in besonderhede bespreek word nie. Deur die proefskrif egter self te bestudeer en op te volg met soortgelyke analises van al Paulus se briewe, kan ’n deeglik begronde Pauliniese retoriek, waarin al sy strategieë en tegnieke van oorreding beskryf word, met verloop van tyd die lig sien.

2. BETZ EN SY INVLOED OP RETORIESE ANALISE

In Augustus 1974 het Betz ’n lesing gelewer by die Studiorum Novi Testamentici Societas se algemene vergadering met die titel “The Literary Composition and Function of Paul’s Letter to the Galatians”. Dit is in 1979 opgevolg met sy gemelde kommentaar op die brief aan die Galasiërs, waarin hy die metode wat hy in 1974 aangesny het, in besonderhede toepas. In aansluiting by die inleiding hierbo, word Betz se verdeling van die brief as tipiese voorbeeld van die rigiede toepassing van antieke retoriese kategorieë op Paulus se briewe aangehaal. Hy verdeel Galasiërs soos volg (1979:16-23):

1:1-5 Epistolary prescript

1:6-11 Exordium

1:12-2:14 Narratio

2:15-21 Propositio

3:1-4:31 Probatio

3:1-5. First argument: an argument from indisputable evidence.

3:6-14. Second argument: an argument from Scripture.

3:15-18. Third argument: an argument from common human practice.

3:19-25. Digression on the Torah.

3:26-4:11. Fourth argument: an argument from Christian tradition.

4:12-20. Fifth argument: an argument from friendship.

4:21-31. Sixth argument: an allegorical argument from Scripture.

5:1-6:10. Exhortatio

6:11-18. Epistolary postscript (serving as conclusio).

In bogenoemde analise verwys Betz dikwels na antieke retoriese werke, asook na ander antieke literatuur, om Paulus se argumentasie te verduidelik. Die werkswyse is deur verskeie ander persone gevolg in hulle retoriese analise van Paulus se briewe. Elke analise bevat ’n bespreking van die soort retoriek in die brief (forensies, epideikties of deliberatief), gevolg deur ’n verdeling van die brief in terme van die kategorieë hierbo genoem. Voorbeelde is Jewett (1986) en Hughes (1990) se analises van I Tessalonisense, asook Becker (1992) oor Galasiërs. (Vir meer voorbeelde, sien Tolmie 2004:15-21 en 29-31). In al die studies word ’n spesifieke model as vertrekpunt geneem en word die brief aan die hand daarvan geanaliseer. Die model bepaal die analise en die analise word gewoonlik so gedoen dat dit die keuse van die model regverdig. Selde word ’n gekose model bespreek of krities geëvalueer, of word erken dat dit nie alles in die teks kan verklaar nie. Gewoonlik word die model net “gerek” om alles wat in die teks gebeur te beskryf en so word bewys gelewer dat die model daarin geslaag het om die teks retories te verstaan (Tolmie 2004:33-34). Waaroor wel gesprek gevoer word, is die soort retoriek en die verdeling van die teks: waar begin die exordium, waar eindig dit, waar begin die narratio, ens.

Om saam te vat: Die vertrekpunt van Betz en sy kollegas is om ’n spesifieke retoriese model buite die teks te kies en dit op ’n rigiede wyse te gebruik om ’n brief retories te analiseer. Debatte word gewoonlik gevoer oor die toepassing van die model, en nie oor die geldigheid van die werkwyse wat gevolg word nie.

Sekere navorsers was egter minder entoesiasties oor die beperkende en rigiede toepassing van antieke retoriese kategorieë en het alternatiewe op Betz se benadering voorgestel. Die eerste en belangrikste hiervan was seker die Amerikaanse klassikus George A Kennedy, wat met sy bekende New Testament Interpretation through Rhetorical Criticism (1984) ’n eie metode vir retoriese analise ontwikkel het. Die metode bestaan uit die volgende stappe (1984:33-38):

• Die bepaling van die retoriese eenheid. Die eenheid stem ooreen met die perikoop in vormkritiek en kan enige lengte hê. Die begin en die einde daarvan moet egter aan mekaar verbind word deur ’n handeling of argument, wat dit duidelik onderskei van ander eenhede.

• Die bepaling van die retoriese situasie, wat beskryf word as “a complex of persons, events, objects and relations presenting an actual or potential exigence” (1984:34-35). Dit handel oor die vraag waarom die retoriese eenheid ontstaan het en sluit in die identifisering van die retoriese probleem, die stasis en die retoriese genre.

• Die ordening van die materiaal behels ’n analise van die verskillende dele waarin die teks uiteenval en die wyse waarop hulle saamwerk om in die behoefte (“exigence”) van die retoriese situasie te voorsien – of faal om daarin te voorsien. Dit kom neer op ’n detailanalise van die argumente, en sluit in die aannames waarop hulle gegrond is, formele kenmerke en stilistiese tegnieke waarvan die funksies binne konteks bepaal moet word.

• Die bepaling van die sukses van die argumente, d.w.s. die vraag of die teks voorsien in die retoriese behoefte en wat die implikasies daarvan is vir die gehoor of die lesers.

Kennedy se voorstel is ’n aanpassing of uitbreiding van Betz se rigiede toepassing van antieke retoriese kategorieë. Hy beskou retoriek as ’n universele verskynsel en antieke retoriek as ’n universele sisteem, wat op alle tekste toegepas kan word (Kennedy 1984:10-11). Soos in die geval van Betz het hy ook breë navolging gevind. Die belangrikste eksponent van sy voorstel is seker Duane Watson, wat onder andere gewerk het op die briewe aan die Filippense (1988), die briewe van Judas en II Petrus (1988) en die brief van Jakobus (1993). Hy het ook in 1991 ’n gedenkskrif vir Kennedy saamgestel met die titel Persuasive Artistry: Studies in New Testament Rhetoric in Honor of George A Kennedy. ’n Ander persoon wat Kennedy se metode toegepas het, is J D Kim(2000), wat Romeine 9-11 aan die hand daarvan analiseer het. (Vir ’n betreklik volledige lys van publikasies waarin Betz en Kennedy se benaderings gevolg is, sien Porter 1997:541-561).

Samevattend geld die opmerkings oor Betz ook van Kennedy, al het hy die benadering van Betz op bepaalde punte uitgebrei. Die belangrikste ooreenkoms is dat ’n spesifieke retoriese model buite die teks gekies word om dit mee te analiseer. Dit lei nog eens tot lang debatte oor die toepassing van die model, sonder dat die geldigheid van die praktyk bevraagteken word.

’n Tweede alternatief op Betz se rigiede toepassing van die antieke retoriese kategorieë is om ’n retoriese analise te kombineer met ’n epistolêre analise. Hier word antieke retoriese kategorieë steeds gebruik om die teks mee te analiseer, maar dit word minder rigied toegepas omdat ingesien is dat Paulus se geskrifte briewe is, en nie toesprake nie. Dit lei dan tot ’n aangepaste toepassing van antieke retoriese kategorieë – aangepas in die sin dat dit of gekombineer, of aangevul word met, epistolêre analises. (Goeie voorbeelde hiervan is te vinde in die DPhil- proefskrif van Corneluis 1998:75-87).

Die alternatief bring ons by die prinsipiële vraag na die vorm van Paulus se briewe. Is hulle basies briewe, of is hulle retoriese redevoeringe? Thurén (1990:57-64) onderskei drie moontlikhede om die vraag te beantwoord. Die eerste is om dit as egte voorbeelde van briewe uit die Grieks-Romeinse wêreld te beskou, waarin retoriese konvensies ’n sekondêre rol speel (White, Doty en Hübner). Die tweede moontlikheid (voorgestaan deur Kennedy en Berger) is om die tekste as toesprake te beskou, met briefopenings en -afsluitings byna toevallig bygevoeg. Die derde moontlikheid, voorgestaan deur homself en Johansen, is om te aanvaar dat retoriese en epistolêre kategorieë op verskillende vlakke funksioneer en mekaar nie uitskakel nie, omdat hulle verskillende vrae beantwoord.

Die verhouding tussen retoriek en epistolografie is behandel deur Malherbe (1988), Porter (1993), Reed (1993), Classen (1993) en andere. Op voetspoor van Malherbe ondersoek Porter (1993:110-117) verskeie klassieke bronne ten einde vas te stel of retoriese kategorieë in die tyd vir die analise van briewe gebruik is. Hy kom tot twee gevolgtrekkings:

• Retoriese kategorieë was algemeen bekend en kon dus antieke briefskrywers beïnvloed het, op dieselfde wyse as wat algemene retoriese praktyke daaglikse spraakgebruik beïnvloed. Maar: dat formele retoriese kategorieë sistematies aangewend is om briewe te skryf of te analiseer en dat daar voorbeelde hiervan bestaan, word ernstig bevraagteken. Daar is dus min, indien enige, teoretiese regverdiging in die antieke handboeke te vind vir die toepassing van formele retoriese kategorieë op die analise van Paulus se briewe.

• Uit die studie van antieke retoriese handboeke is dit duidelik dat styl en stilistiese tegnieke soms bespreek is met betrekking tot briewe, byna altyd wanneer briewe met toesprake vergelyk is. Styl is egter nie as bloot dekoratief beskou nie, maar as deel van die kommunikasie proses.

Die gevolgtrekkings van Malherbe en Porter word nog skerper geformuleer deur Classen (1993:288-289), wat daarop wys dat epistolografie en retoriek as twee heeltemal verskillende terreine of dissiplines (“fields”) in die antieke tyd beskou is, met elkeen sy eie teorie en toepassingsveld. Diegene wat reëls vir die skryf van briewe geformuleer het, was bewus van die verskillende soorte briewe wat mense skryf en het gewoon die verskillende tipes briewe gelys, met aanbevelings oor die styl wat by elke tipe pas. Die antieke teorie van epistolografie kan dus nuttig wees vir die bestudering van die styl van ’n brief, asook vir die vergelyking van soorte briewe met mekaar. Die antieke retoriese teorie, aan die ander kant, kan waarde hê vir die inventio (argumentasie) en elocutio (styl) van briewe, waar oorvleueling kan bestaan met die teorie van epistolografie. Die retoriese dispositio (indeling van ’n toespraak) het egter min, indien enige, invloed op die teorie en praktyk van briefskrywing gehad en moet met groot omsigtigheid geraadpleeg word (Vergelyk Reed 1993:292-314 en 1997:171-193, wat basies tot dieselfde gevolgtrekkings kom).

Samevattend word die tweede alternatief op Betz se benadering geknel deur ernstige vrae. Eerstens is geleerdes dit eens dat daar in die antieke periode skerp onderskei is tussen toesprake en briewe. Tweedens is daar nie regverdiging vir die praktyk om die verdeling van toesprake (soos voorgeskryf vir die dispositio van redevoeringe) te gebruik vir die analise van briewe nie.

Die bedenkinge oor Betz en ander se benaderings is verdiep deur opmerkings en vrae van veral klassici, wat in die 1990’s tot die gesprek toegetree het. Dit het die noodsaaklikheid van ’n nuwe benadering tot die retoriese analise van Paulus se briewe verder beklemtoon.

3. INDRINGENDE KRITIEK OP BETZ EN ANDER SE BENADERINGS TOT RETORIESE ANALISE

Dit was weereens die Duitse klassikus Joachim Classen wat die bedenkinge teen Betz die skerpste geformuleer en daarmee die weg gebaan het vir ’n nuwe benadering tot retoriese analise. In aansluiting by die onderskeiding tussen epistolografie en retoriek hierbo, vra hy (1993:267) of Betz in sy benadering verwys na die teorie van epistolografie en retoriek, of na die praktiese toepassing daarvan. Sy meeste vrae handel egter oor wat Betz beoog om die antieke kategorieë op Paulus se brief aan die Galasiërs toe te pas. Is dit om aan te dui tot watter mate Paulus bekend was met die antieke retoriek en/of epistolografie, of is dit om uit te kom by ’n beter verstaan van die brief self? Indien laasgenoemde, ontstaan die vraag waarom ’n navorser hom/haar slegs sou beperk tot die insigte van die antieke retoriek, sonder om nuwe insigte wat sedert die tyd ontstaan het, te benut. Indien die doel egter is om Paulus se kennis te illustreer, lei dit tot vrae soos die volgende (1993:268):

• Wanneer, waar en hoe het Paulus sy kennis van die antieke retoriek en epistolografie opgedoen?

• Presies watter vorm of aspek van die twee dissiplines, en op watter stadium van hulle ontwikkeling, word bedoel (gegee dat dit moontlik is om duidelik tussen verskillende ontwikkelingsfases te onderskei)?

• Het hy sy kennis van die retoriese teorie doelbewus benut en die kategorieë bewustelik gebruik, of nie?

Porter (1993:106-110) het sy kritiek uitgebrei na Kennedy, met vrae soos die volgende:

• Wat word bedoel met “retoriek”? Beteken dit (soos Kennedy 1984:10 beweer) ’n universele retoriek, d.w.s. die analise van alle vorme van kommunikasie ten einde die tegnieke wat gebruik word vir oorreding in enige taal of kultuur te bepaal? Indien wel, waarom beperk die volgelinge van Betz en Kennedy hulle dan tot ’n spesifieke stel tegnieke, naamlik dié uit die Grieks-Romeinse wêreld? Hoewel veral Kennedy voorgee dat retoriek ’n universele kategorie is om te beskryf hoe mense in ’n gegewe situasie mekaar probeer oortuig, beoefen hulle ’n “diachronic rhetorical criticism” deur hulle te beperk tot retoriese kategorieë uit die Grieks-Romeinse era en dit dan op alle vorme van kommunikasie toe te pas – toegegee dat die Grieke en Romeine hulle teorieë duideliker gekonseptualiseer het as andere.

• In die analise van Nuwe Testamentiese tekste word die volgende drie breë kategorieë uit die formele retoriek van die Grieks-Romeinse era gewoonlik gebruik: die soorte diskoers, die kategorieë van indeling, en styl. Wat is die teoretiese regverdiging daarvoor om hierdie kategorieë te gebruik in plaas van meer kontemporêre skemas, of selfs ander aspekte van die antieke retoriek?

• Kennedy, Betz en andere neem waarskynlik aan dat die toepassing van hierdie formele kategorieë uit die antieke retoriek op die analise van antieke briewe iets was wat die antieke skrywers self geken het of sou erken. Is daar enige bewyse vir so ’n aanname?

Laasgenoemde vraag vorm die basis van Anderson (1996) se kritiek, nie net op Betz en Kennedy se benadering nie, maar op talle retoriese analises van Nuwe Testamentiese tekste. Anderson (1996:125) se hoofdoel is om vas te stel hoe ’n antieke professor in retoriek Paulus se briewe sou interpreteer het. Dit kom neer op ’n heel ander benadering as wat tot nou toe gevolg is. Die vraag is nie of die antieke retoriek gebruik kan word vir die bestudering van Paulus se briewe nie, maar eerder: Hoe sou ’n antieke kenner van die retoriek sy kennis gebruik het om Paulus se briewe te interpreteer?

Daar is hoofsaaklik twee redes vir Anderson se gewysigde benadering. Die eerste is dat daar nie ’n uniforme antieke retoriese sisteem bestaan het nie, al was daar oorvleueling tussen verskillende retoriese modelle:

(W)e must understand that “ancient rhetorical theory” is an inexact concept. There was no uniform systematic set of dogmata in antiquity. Rhetorical theory developed over the centuries in various ways. The rhetorical theorists often differed from each other, sometimes even forming rival schools propagating their own peculiar doctrines (1996:29).

As voorbeeld hiervan verwys hy na Aristoteles se onderskeiding tussen ethos, logos en pathos. Hierdie onderskeidinge, wat breë navolging onder Nuwe Testamentici gevind het en steeds vind, is vreemd aan die latere Hellenistiese retoriek. Dieselfde geld vir Aristoteles se siening van die enthymema, wat ook nie deur Hellenistiese teoretici gebruik is nie (Anderson 1996:36-41). Die voorbeelde illustreer die verskil tussen Aristoteles se filosofiese retoriek en die soort retoriek wat in die latere retoriese skole beoefen is – ’n verskil wat nie voldoende verreken word wanneer Nuwe Testamentici antieke retoriese bronne raadpleeg nie.

Die tweede rede vir Anderson se aangepaste benadering, is dat antieke retoriek primêr bedoel was vir die maak van toesprake, nie vir die evaluering daarvan nie. En wanneer iemand ’n brief van Paulus analiseer aan die hand van ’n retoriese teorie kan ons nie seker wees of hy (Paulus) werklik die spesifieke teorie gebruik het in die skryf van die brief nie – tensy die teorie baie duidelik blyk en stiptelik toegepas is. In elk geval kan verskeie argumentatiewe prosesse wat Paulus gebruik het, toegeskryf word aan gesonde verstand (Anderson 1996:90).

Op die vraag of Paulus se briewe dan enigsins in terme van die antieke retoriese teorie analiseer kan word, antwoord Anderson (1996:255) dat ons hulle moet lees teen die agtergrond van die Grieks-Romeinse kultuur waarbinne hy geleef en gewerk het. Die redenaarskuns was van fundamentele belang in die Grieks-Romeinse wêreld, nie net in die howe nie, maar ook by offisiële funksies, in die opvoeding, ens. As sodanig moet ons probeer om die verhouding tussen retoriese teorie en Paulus so goed as moontlik te verstaan. Selfs al het Paulus nie bewustelik gedink of geskryf in retoriese kategorieë nie, kan sy briewe steeds – met vrug – geanaliseer word in terme van relevante aspekte van retoriese teorie. Deur antieke teorie te bestudeer kan ons ’n gevoel ontwikkel vir die effek wat verskillende vorme van argumentasie en styl in dié tyd gehad het.

In sy eie analise van gedeeltes uit Galasiërs, Romeine en I Korintiërs probeer Anderson nie om die briewe in terme van retoriese genre of die tradisionele partes van ’n toespraak te beskryf nie. Hy konsentreer op die vloei van die argument in die brief, as voorbereiding vir sy kommentaar op die gebruik van, of gebrek aan, retoriese sullogismes en ander vorme van argumentasie. Ten slotte word opmerkings (“rhetorical notes”) gemaak oor die styl van die brief, en wel met verwysing na retoriese en epistolêre teorieë (Anderson 1996:124-125). As voorbeeld van sy werkswyse bied hy die volgende verdeling van Galasiërs 1-5:12:

• 1.1-10 Epistolary opening and rebuke: The rebuke (1:6-10) replaces the regular thanksgiving section.

• 1.11-2.21 Narrative Apology: Independence and divine origin of Paul’s Gospel.

• 3.1-4.11 Argument: The nature of the Galatians’ initial reception of the Gospel, followed by Scripture proof (3.1-14) and a didactic explanation of his position (3.15-4.11).

• 4.12-5.12 Emotional appeal (Anderson 1996:125).

Saamgevat: In die kritiek op Betz en Kennedy se benadering word gevra na die doel daarvan om antieke retoriese en epistolêre teorieë te gebruik om Paulus se briewe te analiseer. Is dit om Paulus se kennis van die teorieë te illustreer, of om die briewe self beter te verstaan? Anderson reken dat ons die doel moet aanpas deur eerder te vra: hoe sou ’n antieke professor in die retoriek Paulus se briewe interpreteer het? As voorbeeld van hoe so ’n persoon dit sou gedoen het, bied hy dan enkele retoriese analises uit Galasiërs, Romeine en I Korintiërs. Kennis van antieke retoriese teorie kan ons help om Paulus retories beter te verstaan, aangesien hy in ’n wêreld geleef het waar retoriek van fundamentele belang was.

4. ’N TEKSGEBASEERDE BENADERING TOT RETORIESE ANALISE

Teen bogenoemde agtergrond het Tolmie sy voorstel vir ’n teksgebaseerde benadering tot retoriese analise geformuleer. Hy lig die volgende redes vir sy voorstel uit (2004:33-36):

• Die wyse waarop ’n retoriese model in die meeste gevalle gekies en “gerek” word om alles in die teks te verklaar, sonder om die model self krities te evalueer;

• Die probleem om Paulus op een of ander manier aan antieke retoriese teorie te verbind;

• Die feit dat daar nie ’n uniforme antieke retoriese sisteem bestaan het nie; en

• Die feit dat antieke retoriek bedoel was om toesprake te maak, nie om hulle te evalueer nie.

In die lig van hierdie oorwegings het hy nie ’n spesifieke retoriese model (antiek of modern soos dié van Burke of Perelman en Olbricht-Tyteca) gekies om die brief aan Galasiërs mee te analiseer nie, maar het hy besluit om Paulus se retoriese strategie uit die teks self te rekonstrueer. Dit beteken dat hy die teks as vertrekpunt van sy analise gebruik. Die werkswyse is nie totaal nuut nie. Anderson (1996) se analises van Galasiërs 1-5:12, Romeine 1-11 en I Korintiërs waarna hierbo verwys is, kan as voorbeelde van ’n teksgebaseerde benadering dien. So ook die werk van Kern oor Galasiërs, waarna Tolmie (2004:28) verwys as ’n goeie voorbeeld van hoe Paulus se diskoersstrategie uit die teks self ontwikkel kan word, sonder die gebruik van antieke retoriese handboeke of teorieë.

Die soort benadering wat hy voorstel staan bekend as ’n “grounded theoretical approach”, ontleen aan Ellis (1993:469-483). Hiervolgens formuleer die navorser nie vooraf ’n formele teorie om data mee te verklaar nie, maar word data stap vir stap met mekaar vergelyk ten einde konseptuele kategorieë daar te stel waardeur die data verklaar kan word. Dit staan dus lynreg teenoor Betz en andere se benadering, waarin teoretiese raamwerke vooraf geformuleer en dan net deur toepassing op die data geverifieer word (Tolmie 2000:122).

Wat behels Tolmie se voorstel? Dit word volledig beskryf op pp36-39 van sy proefskrif. Nadat die retoriese situasie bepaal is, dit is, wat Paulus in die brief as geheel wil bereik, volg ’n teksgebaseerde, deskriptiewe analise van die wyse waarop hy probeer om sy lesers te oorreed. Die eerste stap in die analise is die identifisering van die dominante retoriese strategie in ’n bepaalde gedeelte. Dit word gedoen deur die volgende twee vrae te beantwoord:

• Hoe kan Paulus se basiese retoriese doel in die gedeelte beskryf word?

• Hoe probeer hy om die doel te bereik?

Die dominante retoriese strategie in die gedeelte word in een sin geformuleer, waardeur albei vrae beantwoord word. Byvoorbeeld: die dominante retoriese strategie in Galasiërs 1:1-5 is: “Aanpassing van die seëngroet om die Goddelike oorsprong van sy apostelskap te beklemtoon”. Die beginsel wat gebruik word om so ’n gedeelte of fase af te baken, is ’n verandering in Paulus se retoriese strategie: elke verandering in strategie dui op ’n nuwe fase in sy argument.

Die identifisering van die dominante retoriese strategie word dan gevolg deur ’n beskrywing van die kenmerke van die strategie wat hy in die bepaalde gedeelte gebruik. Dit hang af van wat daar in die gedeelte gebeur. Daar word nie ’n vasgestelde metode vir elke gedeelte voorgeskryf nie. Soms is die fokus op die tipe argumente wat Paulus gebruik en waarom hulle effektief is. Byvoorbeeld: in Galasiërs 1:1-5 maak Paulus daarop aanspraak dat hy ’n apostel is, omdat hy deur God geroep is. Die tipe argument wat hy hier gebruik kan beskryf word as ’n argument gebaseer op die gedagte van Goddelike gesag. In ander gedeeltes is dit weer beter om die wyse waarop hy argumenteer te beskryf, in plaas van te fokus op die tipes argumente wat hy gebruik. ’n Voorbeeld hiervan is Galasiërs 3:15-18, waar hy argumenteer by wyse van die dissosiasie van verbond en wet. Dan weer kan dit nodig wees om te onderskei tussen die dominante retoriese strategie en ondersteunende retoriese strategieë, dit is strategieë wat nie direk verband hou met die dominante strategie nie, maar belangrik is vir die oorhoofse argument in die gedeelte of in die brief as geheel. Kortom: daar word nie ’n voorgeskrewe metode in elke gedeelte gevolg nie, maar die kenmerke van Paulus se retoriese strategie word telkens geïdentifiseer en beskryf.

Vervolgens word aandag gegee aan wat Tolmie (2004:38) noem “rhetorical techniques”. Dit verwys na die verskillende maniere waarop Paulus die trefkrag van sy kommunikasie verhoog. Die meeste hiervan is goed bekend en sluit in metafore, retoriese vrae, die maniere waarop sinne saamgestel is, chiasmes, ens. Die tegnieke word nie net geïdentifiseer nie, maar hulle funksies word ook beskryf.

Uiteindelik moet die wyse waarop die argument in die brief as geheel georganiseer is in terme van sekere oorkoepelende doelstellings verwoord word. Die formulering van hierdie doelstellings sal duidelik illustreer hoe so ’n teksgebaseerde benadering verskil van een waarin ’n retoriese model van buite gekies en op die teks afgeforseer word (Sien 5 hieronder).

In die toepassing van sy voorstel op Galasiërs het Tolmie verskeie eksegetiese kwessies aangespreek. Dit was nodig, omdat Paulus se retoriese strategie slegs bepaal kan word as mens weet presies wat hy vir die Galasiërs sê. Eksegetiese kwessies is veral behandel waar daar nie eenstemmigheid onder eksegete bestaan oor wat ’n frase of uitdrukking presies beteken nie. Die beginsel was egter steeds die retoriese impak van die eksegetiese probleem, en nie die eksegese as sodanig nie.

Aan die hand van sy voorstel verdeel hy dan die brief in 18 gedeeltes of fases. In elke fase word Paulus se dominante retoriese strategie beskryf, asook die tipes argumente, die ondersteunende retoriese strategieë en die retoriese tegnieke wat hy gebruik. Deur die verhouding tussen die 18 fases noukeurig te bestudeer, word hulle gereduseer tot ses doelstellings, wat die agtien fases onderlê en ’n meer basiese strategie daarstel. Die ses doelstellings en hulle verhouding tot mekaar, verteenwoordig die oorkoepelende organisasie van die argument in die brief.

5. VERGELYKENDE EVALUERING

Die waarde van Tolmie se voorgestelde benadering word duidelik wanneer die oorkoepelende organisasie van die argument in terme van die ses doelstellings saamgevat en vergelyk word met Betz se retoriese analise van die brief (Tolmie 2004:220):

TOLMIE

BETZ

1:1-2:10: First objective: Convince the audience of his divine authorisation.

2:11-3:14: Second objective: Convince the audience that his gospel is the true gospel.

3:5-25: Third objective: Convince the audience of the inferiority of the law.

3:26-5:1: Fourth objective: Convince the audience that the “gospel” of the opponents represents spiritual slavery and, instead, urge them to remain spiritually free by adhering to his gospel.

5:2-6:10: Fifth objective: Convince the audience to act as he wishes them to: not

to succumb to the pressure to be circumcised; to avoid the opponents, and to live according to the Spirit.

6:11-18: Sixth objective: Final refutation of the opponents.

1:1-5: Epistolary prescript

1:6-11: Exordium

1:12-2:4: Narratio

2:15-21: Propositio

3:1-4:31: Probatio

3:1-5: First argument: an argument from indisputable evidence.

3:6-14: Second argument: an argumen from Scripture.

3:15-18: Third argument: an argument from common human practice

3:19-25: Digression on the Torah

3:26-4:11: Fourth argument: an argument from Christian tradition.

4:12-20: Fifth argument: an argument from friendship.

4:21-31: Sixth argument: an allegorical argument from Scripture.

5:1-6:10: Exhortatio

6:11-18: Epistolary postscript (serving as conclusio).

Tolmie se ses doelstellings beskryf Paulus se retoriese strategie in die brief duideliker as Betz se exordium, narratio, propositio, probatio en exhortatio, - almal geplaas binne ’n briefopening en -slot. Tolmie volg nie so ’n voorgeskrewe patroon in sy analise nie. Hy argumenteer dat Paulus dit ook nie gebruik het toe hy die brief gedikteer het nie. Die ses doelstellings wat geïdentifiseer is, is nie elders geleer en aan die teks opgedwing nie; hulle volg uit ’n analise van die brief self. Die aanname is wel dat Paulus die doelstellings in gedagte gehad het toe hy die brief gedikteer het, omdat hy gereken het dat dit hom sal help om sy doel met die brief te bereik.

Twee verdere opmerkings oor Tolmie se voorstel. Die eerste is dat Paulus van die eerste hoofstuk af besig is om te argumenteer en nie eers daarmee wag tot in hoofstuk drie, soos Betz se probatio aandui nie. Deur Galasiërs 1:1-2:21 te beskou as aanloop tot die werklike argumentasie in hoofstuk drie, word die argumentatiewe waarde van die gedeelte onderskat. Tolmie het oortuigend aangetoon dat Paulus van die begin af besig is om te argumenteer, al is die argumente aan die begin van die brief minder “teologies” as die wat later gebruik word.

Die tweede opmerking gaan oor die beskrywing van die argumente wat gebruik word, die soort argumente. Betz verdeel die probatio in ses argumente, gebaseer op die Skrif, op die Christelike tradisie, op onbetwisbare getuienis en op algemeen-menslike praktyke. Tolmie verdeel die brief as geheel in ses doelstellings, wat bestaan uit agtien fases of gedeeltes, elkeen afgebaken op grond van ’n wending in Paulus se oorhoofse oorredingstrategie. Die argumente is deur die brief heen versprei en dien om, saam met ander retoriese middele, die oorredingskrag van die verskillende fases te versterk. Hy onderskei verskillende tipes argumente, en telkens word die spesifieke aard van die argument beskryf. Op dié wyse is ’n groot verskeidenheid argumente geïdentifiseer, wat insluit argumente gebaseer op goddelike gesag, op die Skrif, op die ervaring van die gehoor, op die beswaddering van opponente, op Christelike tradisie, op emosies, op analogie en op gedeelde kennis. Hiermee is ’n nuwe navorsingsterrein geopen, wat ontgin moet word wanneer Paulus se ander briewe aan die hand van die voorstel ondersoek word. Deur die oorredingstrategieë en -tegnieke in elkeen van sy briewe te ondersoek en met mekaar te vergelyk, kan ’n deeglik begronde Pauliniese retoriek met verloop van tyd geskryf word.

6. KONKLUSIE

Tolmie se teksgebaseerde benadering beskryf Paulus se retoriese strategie in Galasiërs duideliker as Betz se rigiede toepassing van eksterne retoriese kategorieë op die brief. Tegelyk besweer dit al die bedenkinge wat voortgevloei het uit Betz se retoriese analise van die brief. Dit is nie meer nodig om debat te voer oor die soort retoriek en die verdeling van die brief in retoriese kategorieë nie, of oor die kombinasie van retoriese en epistolêre analises nie, of om Paulus op een of ander wyse aan antieke retoriese teorie te verbind nie. Verder is erns gemaak met die bevindinge van klassici dat daar nie ’n uniforme antieke retoriese sisteem bestaan het nie en dat antieke retoriek bedoel was om toesprake te maak, nie om hulle te evalueer nie.

Die voorstel van Tolmie behels dat mens ’n brief stap vir stap moet ondersoek en al die oorredingstrategieë wat Paulus in elke gedeelte gebruik, moet identifiseer. Dit kom neer op ’n beskrywing van die dominante retoriese strategie in elke gedeelte, asook van die ondersteunende retoriese strategieë en tegnieke wat gebruik word. Deur die verhouding tussen al die gedeeltes of fases te bestudeer, kan hulle gereduseer word tot ’n aantal doelstellings, wat ’n meer basiese strategie daarstel. Die doelstellings en hulle verhouding tot mekaar, verteenwoordig die oorkoepelende organisasie van die argument in ’n brief.

Die voorstel behoort opgevolg te word met soortgelyke analises van al Paulus se briewe. Deur die oorredingstrategieë en tegnieke in al sy briewe met mekaar te vergelyk, kan ’n verantwoorde Pauliniese retoriek geskryf word; ’n retoriek wat voortvloei uit die briewe self, en nie van buite daarop afgedwing word nie.

’n Soortgelyke teksgebaseerde werkswyse is voorgestel deur Reed, (1993:314), wat die genre van Paulus se briewe bestudeer het. Hy verwerp ook die gebruik van antieke retoriese kategorieë om Paulus se briewe te interpreteer. Sy konklusie is dat Paulus verskillende vorme van retoriese en epistolêre tradisies in sy briewe verweef het en dat ’n enkele tipologie nie aan al die briewe opgedwing moet word nie:

To describe, not prescribe (according to ancient rhetorical theory), Paul’s argumentative strategy seems to be the safest methodological approach when classifying his letters. One must be wary of doing in genre studies of Paul’s letters what James Barr rightly accused scholars of doing in lexical studies of the Bible, viz. ‘illegitimate totality transfer’. Just as we should not transfer all the meanings of a word onto its use in a particular context, so also a complete system of rhetoric should not be imposed tout de suite upon our understanding of Paul’s distinctive use of the epistolary genre.

BIBLIOGRAFIE

Anderson, R D 1996. Ancient Rhetorical Theory and Paul. CBET 18. Kampen: Kok Pharos Publishing House.

Becker, J 1992. Paulus. Der Apostel der Völker. Tübingen: Mohr- Siebeck.

Betz, H D 1975. The Literary Composition and Function of Paul’s Letter to the Galatians. New Testament Studies, 21 (3):353-379.

Betz, H D 1979. Galatians. A Commentary on Paul’s Letter to the Churches in Galatia. Hemeneia. Philadelphia: Fortress.

Classen, C J 1993. St Paul’s Epistles and Ancient Greek and Roman

Rhetoric. In Porter, S E & Olbricht, T H, eds. Rhetoric and the New Testament. Essays from the 1992 Heidelberg Conference. Sheffield: Academic Press., 264-291.

Cornelius, E M 1998. The effectiveness of I Thessalonians – a rhetorical-critical study. Stellenbosch: US. (D. Phil. thesis.)

Ellis, D 1993. Modeling the informationseeking patterns of academic researchers. Library Quarterly, 63(4):469-483.

Hughes, F W 1990. The Rhetoric of I Thessalonians. In Collins, R F, ed. The Thessalonian Correspondence. Leuven: University Press. 94-116.

Jewett, R 1986. The Thessalonian correspondence: Pauline rhetoric and millenarium piety. Philadelphia: Fortress.

Kennedy, G A 1984. New Testament Interpretation through Rhetorical Criticism. Chapel Hill: University of North Carolina Press.

Kim, J D 2000. God, Israel and the Gentiles. Rhetoric and Situation in Romans 9-11. SBL. DS 176. Atlanta: SBL.

Kim, S 1984. The Origin of Paul’s Gospel. WUNT 2.4. Tübingen: Mohr-Siebeck.

Malherbe, A J 1988. Ancient Epistolary Theorists. Atlanta: Scholars Press.

Porter, S E 1993. The Theoretical Justification for Application of Rhetorical Categories to Pauline Epistolary Literature. In Porter, S E & Olbricht, T H, eds. Rhetoric and the New Testament. Essays from the 1992 Heidelberg Conference. Sheffield: Sheffield Academic Press. 100-122.

Porter, S E 1997. Paul of Tarsus and his Letters. In Porter, SE, ed. Handbook of Classical Rhetoric in the Hellenistic Period 330 B.C –A.D. 400. Leiden: Brill. 533-608.

Reed, J T 1993. Using Ancient Rhetorical Categories to Interpret Paul’s Letters: A Question of Genre. In Porter, S E & Olbricht, T H, eds. Rhetoric and the New Testament. Essays from the 1992 Heidelberg Conference. Sheffield: Sheffield Academic Press. 291-324.

Reed, J T 1997. The Epistle. In Porter, S E, ed. Handbook of Classical Rhetoric in the Hellenistic Period 330 B.C. – A.D 400. Leiden: Brill. 171-193.

Thurén, L 1990. The Rhetorical Strategy of I Peter: With Special Regard to Ambiguous Expressions. Abo: Abo Akademi.

Tolmie, D F 2000. Paulus se retoriese strategie in Galasiërs 1:1-10. Acta Theologica, 20(2): 22-137.

Tolmie, D F 2004. A Rhetorical Analysis of the Letter to the Galatians. Bloemfontein: UFS. (Ph.D. thesis.)

Watson, D F 1988. A Rhetorical Analysis of Philippians and its Implications for the Unity Question. Novum Testamentum, 30: 57-88.

Watson, D F 1988. Invention, Argument and Style – Rhetorical Criticism of Jude and 2 Peter. Society of Biblical Literature Dissertation Series 104. Atlanta: Scholars Press.

Watson, D F, ed. 1991. Persuasive Artistry: Studies in New Testament Rhetoric in Honor of George A Kennedy. Journal for the Study of the New Testament. Supplement 50. Sheffield: JSOT Press.

Watson, D F 1993. The Rhetoric of James 3:1-12 and a Classical Pattern of Argumentation. Novum Testamentum 35:48-64.