Wepener, C en Cilliers, J
Dept Praktiese Teologie en Missiologie
Universiteit van Stellenbosch

“In herinnering aan die kinders … wat aan honger en koue moet sterf.” Liturgie in ’n konteks van armoede

ABSTRACT

“In memory of the children … who have to die of cold and hunger.” Liturgy in a context of poverty.

This article asks the question how, if at all, the reality of poverty is currently being reflected in a typical middle class Dutch Reformed liturgy. Using Oscar Kokoschka’s drawing “Solidary Christ” as a locus theologicus, it is argued that two Christian rituals, namely the Lord’s Supper and offerings (and specifically in combination), are two very important rituals which should go through a process of liturgical inculturation with specific regards to poverty. A brief look at Scripture and the history of liturgy confirm this connection. It also brings to the fore the ethical obligation lived out in a life of gratitude with regards to the poor, that participation in these rituals entail. Finally some suggestions are made for the liturgical inculturation of these two rituals within a context of poverty which may firstly help a typical middle class Dutch Reformed liturgy to reflect on the current South African context of poverty, and secondly to assist in the connection between liturgy and life.

1. ’N KONTEKS VAN ARMOEDE …

Armoede neem skrikwekkende proporsies in Suid-Afrika aan. Die prentjie wat deur omvattende empiriese ondersoeke1 geskets word, is hartverskeurend. Die aard en ruimte van hierdie artikel laat nie ’n breedvoerige uiteensetting of analise hiervan toe nie. Dit is ook nie so ’n maklike opgawe om armoede te definieer nie. Waarskynlik kom ons die naaste daaraan as ons sê dat dit ’n situasie van gebrek of onvermoë van individue, gesinne of gemeenskappe is om ’n sosiaal aanvaarbare minimum-standaard van lewe te bevredig of te handhaaf. Dit kan egter ook dimensies insluit soos vervreemding van die gemeenskap, gebrek aan voedsel, behuising, basiese lewensmiddels soos water, elektrisiteit, sanitasie, werksgeleenthede, ensovoorts.

Armoede het verreikende, verlammende gevolge. Dit fragmenteer gesinne, skep ongelykhede tussen die burgers van ’n land, lei tot siekte, sosiale en psigologiese wanontwikkelings, gebrekkige opvoeding en onderwys, ’n algemene ervaring van magteloosheid, frustrasie, kwesbaarheid en geestelike afstomping. Wie nie self werklik arm is of was nie, sal waarskynlik nie die omvattende, ontmagtigende realiteit en gevoel wat dit meebring, verstaan nie. Daarom moet daar versigtig daaroor gepraat word, in elk geval nie vanuit ’n posisie van mag en kennis nie, maar in samewerking, in solidariteit met hulle wat ly onder hierdie pandemie in ons samelewing, in ’n poging om dié skynbaar onbreekbare siklus te oorwin en te vervang met een van voorspoed, vooruitgang, veiligheid en vrede.

Die kwantifisering van armoede kan gedoen word aan die hand van faktore soos ras, geografiese ligging (stad en platteland), ouderdomskategorieë, streek (provinsie), geslag, onderwysstandaarde, werkloosheidsfaktore, ensovoorts (vgl Pieterse 2001:35 e v). Die netto resultate daarvan bly egter die koue feit dat tussen 40% en 50% van die Suid-Afrikaanse bevolking as arm beskou kan word (May & Govender 1998: 45). Anders gestel: een uit elke twee Suid- Afrikaners ly honger!

Die oorsake van armoede is ook kompleks en gedifferensieerd. Komponente soos apartheid, ongelyke inkomsteverdelings, globalisering, wanbalanse tussen die sogenaamde ryk en arm lande, uitbuiting, diskriminasie, ensovoorts sou alles hier genoem en in diepte bespreek kon word. Vir die doel van hierdie artikel fokus ons eerder op die vraag: hoe raak hierdie realiteit die kerk? Omdat hierdie vraag egter ook nog te wyd is, beperk ons ons nóg verder, aan die hand van die volgende vraag: hoe word hierdie realiteit van armoede in die tipiese middelklas Ned Geref gemeente, en dan in die besonder in die liturgie, gereflekteer, en uiteindelik ook gekonfronteer? Is daar hoegenaamd blyke dat die liturgie ook in hierdie opsig kontekstueel is, of word die armoede- verskynsel (nog) nie so na aan die lyf ervaar dat dit sy opwagting in die liturgie maak nie? Kán ’n gemeente egter die (breër) konteks van armoede in ons land liturgies verswyg? Word ons nie eerder geroep, en deur die situasie gedring, om ook liturgies ons solidariteit met die gemargi- naliseerde verhongerdes te betoon nie? Vier ons nie dalk ons eredienste by die verhongerde Christus sélf verby nie (vgl Matt 25)?

Die ekonomiese en ander definisies van armoede wat reeds genoem is, word dus hier aangevul en hopelik verdiep deur ’n liturgiese perspektief op armoede. Die vraag wat ons onder andere stel, is: word armoede nie ook nog vererger deur die feit dat die armes liturgies gesproke afwesig is, en gemarginaliseer word in ons eredienste nie? Slaan ons dawerende swye nie die wonde van armoede nog dieper nie? ’n Omgekeerde vraag sou wees: word diégene wat sonder die armes in die erediens sit, nie self daardeur “verarm” nie? Eredienste, en erediensgangers, wat nie die armes huisves en verwelkom nie, is self arm.

In die lig van hierdie vraagstellings sal die bydrae fokus op die noue verbondenheid wat daar bestaan tussen die nagmaal en offergawes – ’n verbondenheid wat lig werp op die etiese implikasies wat hierdie rituele inhou vir die deelnemers daaraan. ’n Kykie na die Skrif en tradisie kan help om die etiese implikasies van hierdie rituele te belig, en ook om aan te toon hoedat die presiese inkleding van die twee rituele in die liturgie, spesifiek ook in verhouding tot mekaar, kan help om die konneksie tussen liturgie en lewe in ’n konteks van armoede beter na vore te bring.

2. ’N SOLIDÊRE CHRISTUS …

Beelde sê dikwels veel meer as wat baie woorde kan. ’n Aangrypende voorbeeld hiervan is die potloodskets van die Tsjeggiese skilder, grafikus en skrywer, Oskar Kokoschka (1886-1980). Die titel van die skets heet “Solidêre Christus”, en op die oog af lyk dit soos ’n klassieke uitbeelding van die kruistoneel. Dit bevat egter vele lae van interpretasie-moontlikhede, wat almal sentreer rondom die konsep van solidariteit, en dus van opoffering (vgl die bespreking van Post 2001:223 e v).

Image101432.PNG

Hierdie skets dateer uit Kokoschka se Londen-periode en is tussen 1945 en 1946 geskep, dus tydens die Tweede Wêreldoorlog. Sy passie was om ongeveer 5 000 plakkate tydens die Kersfees van 1945 op alle publieke plekke in Londen op te hang. Die oorspronklike weergawe daarvan (dit het verskillende ontwikkelings ondergaan) het ’n Engelse opskrif: In memory of the children of Europe who have to die of cold and hunger this Xmas. In ’n sin druk dit dus Kokoschka se persoonlike Kersfeeswens as ’n kreet uit, ’n kreet teen die honger en die koue, teen die oorlog en die ontmensliking van daardie periode.

Die tekening lyk op die oog af eenvoudig, en selfs asof dit te vinnig en moontlik onnadenkend geskets is. Tog sit daar veel aan teologiese en veral liturgiese betekenis in. Die kruis word byvoorbeeld opnuut met (’n lydingsvolle) Kersfees verbind. In die komposisie herken mens dadelik die klassieke trekke: die INRI bokant die Gekruisigde se kop; die doringkroon en die spykers in die handpalm. Die mense rondom die kruis herinner aan die skare rondom die kruis op Golgota.

En tog is daar merkwaardige afwykings van die klassieke uitbeeldings van die gekruisigde Christus. Hy hang byvoorbeeld slegs met die een hand aan die kruis. Met die ander beweeg Hy weg van die kruis af, in ’n soort proleptiese opstandingsdinamiek. Hy leef dus, al is Hy gekruisig, en Hy reik uit na die skare rondom Hom. Hier het ons dus ’n Paasvoorstelling – op Kersdag.

Maar daar is nog ’n dieper interpretasie-moontlikheid. Die mense wat onder die kruis staan, is naamlik nié Maria of die apostels of die soldate nie, maar die honger kinders van Europa. En, as mens goed oplet, sien jy dat die saamgedromde, verhongerde kinders die uitgestrekte hand van Christus eet. Een van die figure het reeds Christus se hand in sy mond. Hier het ons dus ’n radikale uitbeelding van Christus se solidariteit met lydende mense, in hierdie geval die honger kinders van Europa. Hy gee Homself, offer Homself aan hulle. Vanaf die kruis bied Hy Homself aan as brood, as lewende voedsel aan die kinders. So verdig ’n hele aantal Christelike, en veral ook liturgiese konsepte: kruis en opstanding, hongerwees en versadiging, nagmaal en geloof.

3. KOS EN GELD

Wanneer die onderwerp onder bespreking armoede is, en saam daarmee gevra word in hoe ’n mate ’n tipiese Ned Geref liturgie die Suid-Afrikaanse konteks van armoede reflekteer, is daar veral twee liturgiese handelinge of rituele wat onmiddellik na vore kom. Hierdie twee rituele is dié rituele in die Christelike liturgie wat te make het met geld en met kos, naamlik die offergawes en die nagmaal2. Om oor armoede te preek is een ding, so ook om die armes te seën of aan die rykes die vryspraak toe te sê. Wanneer die soet boeket van ’n (relatief) goeie Westerse rooiwyn egter die liturgiese ruimte van die kerk van Jesus Christus vul, begin ’n eties-olfaktoriese bewuswording in menige gemoed ontvou wat vele kerkgangers ongemaklik laat rondskuif op ’n kerkbank in Suid-Afrika. Soortgelyke gewaarwordings kom na vore wanneer die geld “sag val”3 in die kollekteborde en die straatkind wat kort vantevore oor jou motorruit geloer het se gesig voor jou opdoem. Kortom: die nagmaal en offergawes is by uitstek dié plekke in die liturgie wat die Suid-Afrikaanse konteks van armoede moet (en kan) weerspieël. Enersyds is dit so aangesien hierdie rituele te make het met kos en geld, en andersyds was hierdie rituele in die liturgiegeskiedenis by uitstek ook die rituele wat direk te make gehad het met armoede.

Dit is dan ook die voorstel van hierdie bydrae vanuit die Liturgiek, naamlik dat die twee Christelike rituele, spesifiek ook in kombinasie, met betrekking tot die Suid-Afrikaanse konteks van armoede binne die Ned Geref Kerk se liturgie ’n proses van liturgiese inkulturasie 4 moet deurloop. ’n Proses wat kan help dat die Ned Geref Kerk se rituele méér van dit wat Kokoschka probeer uitbeeld sal reflekteer – ’n solidêre Christus wat in sy inkarnasie en lyding solidêr is met die honger/arm mense van die wêreld – ’n solidariteit wat gegiet is in die vorm van die opstanding. Jesus se geboorte, dood en opstanding is die brood van die lewe. En diegene wat van daardie brood eet, word al meer wat hulle alreeds is, lede van die liggaam van Christus. En die eters kan geëet word! Net soos Jesus sy liggaam gee as geslagte Lam en brood en wyn in die Nagmaal, net so word diegene wat daarvan eet en drink eetbare offers deur geloof en navolging. Die liturgis Nathan Mitchell skryf onlangs, “The greatest threat to Christian Eucharist is precisely the moral numbness that deadens us to God’s presence in the world’s least and littlest, its most vulnerable. The greatest assault on the Eucharist results not from desecrated tabernacles, but from a world where someone dies of starvation every 3.6 seconds – and where three-quarters of those deaths are children under the age of five. The death of a starving child directly impacts the body of Christ – literally, not metaphorically” (Mitchell 2000:252). Hierdie rituele moet dus nie alleen maar net ’n konteks van armoede reflekteer nie. Nee, as simboolhandelinge slaan hierdie rituele ook ’n brug en bring die eksistensiële werklikheid van die erediensgangers en die armes saam.

Ten einde só ’n radikale konneksie tussen liturgie en lewe, tussen die Nagmaal, offergawes en Christelike barmhartigheid ten opsigte van armoede te kan maak, of om die konneksie en etiese implikasies van hierdie twee liturgiese handelinge beter na vore te bring, is daar sekere praktiese sake wat aandag kan geniet. Ten einde hierdie praktiese moontlikhede met die oog op liturgiese inkulturasie te ondersoek, is dit nodig om die Skrif en tradisie ten opsigte van hierdie onderwerp eers uit die verf te laat kom.

4. NAGMAAL EN OFFERGAWES – LITURGIEHISTORIES BESKOU

Binne die bestek van hierdie artikel is dit alleen moontlik om enkele opmerkings vanuit die Skrif met betrekking tot die onderwerp te noem. Lukas is by uitstek ’n goeie kandidaat om by te gaan aanklop wanneer dit handel oor armoede en/of tafelgemeenskap.5 Soos ’n goue draad loop die verwysing na armes en swakkes deur sy evangelie, onder andere die kreupeles, armes, verlamdes en blindes. Wanneer Jesus in Lukas 14 die gelykenis oor gasvryheid en van die groot maaltyd vertel, kom hierdie laasgenoemde groepering twee maal aan die orde (vgl Luk 14: 13 & 21) 6 en word hulle juis diegene wat by die tafel in die koninkryk van God aansit. Fred Craddock skryf in sy kommentaar oor hierdie gedeelte dat die persoon (na alle waarskynlikheid ’n ryk uitgelese persoon wat die netelige situasie wou beredder) wat in vers 15 vir Jesus sê: “Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem”, ná die reaksie van Jesus op sy opmerking, nie homself of enige van die ander gaste aan tafel in die koninkryk van God sien nie. Nee, nie die rykes van hierdie wêreld nie, maar wel die armes.

Ook die stryd rondom die Nagmaal in 1 Korintiërs het te make gehad met armes en rykes, met diegene wat baie eet en diegene wat honger ly. Kos wat in die erediens ingebring is, was die offergawes in natura van die erediensgangers, wat vir liefdesmaaltye en sorg vir die geestelikes en behoeftiges aangewend is (Barnard 1981:574, ook Oskamp 1987:27). Barnard (1981:574) voer aan dat dit aangeneem kan word dat hierdie gawes ook vir die viering van die nagmaal in die Nuwe-Testamentiese periode gebruik is, en volgens Oskamp is dit wat oorgebly het onder die armes versprei (1987:27). Verder is die bring van die gawes sedert die derde eeu ingesluit in die viering van die nagmaal. Liturgiehistories beskou, is hierdie offergawes in natura eers vanaf die elfde eeu met geld as offergawes vervang. Hierdie noue koppeling tussen die offergawes en nagmaal, deur die historiese ontwikkeling vanaf die bring van brood en wyn (en ander kos) tot en met die bring van geld, kom ook na vore in die plek wat die offergawes histories in die liturgie inneem.

Selfs so ’n kort blik oor die onderwerp volgens die Skrif en tradisie bevestig alreeds die noue verbondenheid wat daar bestaan tussen die offergawes en nagmaal, asook die verband tussen hierdie rituele en armoede. Die vraag is: word hierdie koppeling genoegsaam deur die liturgie van die Ned Geref Kerk in berekening gebring?

In 1998 het die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk7 die kindernagmaal goedgekeur wat as ritueel sedertdien wyd ingang gevind het in die Ned Geref Kerk. Teologies is dit ’n groot aanwins dat kinders wat deur hulle doop ingesluit is in God se beloftes nou ook toegang het tot die sakrament van die nagmaal. Tradisioneel was die nagmaal egter by uitstek, veral aangesien dit ’n ete is, ’n ritueel wat die lyn tussen wie binne en wie buite is, skerp definieer deur onder meer beskermende taboes.8 Een grondslag waarop mense uitgesluit is, was dus ouderdom. In Suid-Afrika, en spesifiek die Ned Geref familie, was hierdie grens in die geskiedenis veral op grond van ras getrek, soos byvoorbeeld by die bekende of berugte sinodebesluit van 1857. Laasgenoemde uitsluitings was doelbewuste geformuleerde uitsluitings. Daar is egter ook die ongeformuleerde, maar dikwels gepraktiseerde uitsluiting wat gebaseer is op klas. Volgens die SA Reconciliation Barometer beskou 30% van die Suid-Afrikaanse bevolking die verdeling tussen ryk en arm belangriker as ander verdelings, insluitende die verdeling tussen rasse (Natrass 2003:7). Hierdie verdeling word ook onvermydelik deur die liturgie van die Ned Geref Kerk gereflekteer. Dit is soos Theron (1991:598) tereg in sy bespreking van Noordmans opgemerk het: “Noordmans meen dat die sielenood waaruit die Reformasie gebore is, aanleiding gegee het tot ’n sekere eensydigheid. Die geregtigheid van Gods koninkryk is te uitsluitlik in verband gebring met die tollenaarsellende van Lukas 18 en te weinig aandag is bestee aan die Lasarus-ellende van Lukas 16. Daarom sit die kerk Sondae vol sondaars, maar bedelaars merk jy weinig.” Indien ons egter na die liturgiese praktyk van Calvyn gaan kyk, is dit duidelik dat hierdie klasse-apartheid en min klem op armoede in die Gereformeerde liturgie geensins sy bedoeling was nie.

Die liturgie, die wyse waarop mense bid (lex orandi), verklap heel dikwels baie omtrent dít wat die bidders glo (lex credendi). Calvyn het dikwels ’n koppeling gemaak tussen die Nagmaal en barmhartigheid deur middel van die insameling van die offergawes, deur daarop aan te dring dat beide ’n regmatige plek in elke liturgiese byeenkoms moet verkry. Na aanleiding van Handelinge en Korintiërs maak hy die volgende stelling, “Dit moet juis so geskied dat geen vergadering van die kerk mag plaasvind sonder die Woord, gebede, deelname aan die nagmaal en aalmoese nie.”9 Calvyn se aandrang op ’n ten minste weeklikse nagmaalsviering is alreeds redelik bekend.10 Voorafgaande aanhaling wys egter ook op Calvyn se siening met betrekking tot die gereelde insameling van die offergawes. Net soos Calvyn wou gehad het dat die nagmaal met elke samekoms gevier moet word, net so het hy die insameling van aalmoese gewil. In die Gereformeerde tradisie kom die offergawes meestal na die preek en dankgebed en voor die nagmaal voor, en het as sodanig, aldus Barnard (1981:575), ’n noue verbondenheid met die nagmaal. Daarom stel Barnard (1981:576) self ook voor dat die offergawes voor die viering by die voorbereiding van die gawes van die nagmaal opgeneem kan word.11

Enersyds is die insameling gewoon prakties deurdat dit offergawes is vir armes. Andersyds is dit offergawes wat die gewers offer. Net soos wat die nagmaal die etiese implikasie bevat dat die eters geëet kan word, net so is die offergawes tekens van die feit dat die gewers nie alleen hul geld nie, maar ook hulself as lewende offers gee. Barnard (1981:575) merk hier tereg op dat die offergawes deel is van gelowiges se antwoord in die erediens, ’n antwoord en offer van dankbaarheid. In lyn hiermee noem Oskamp (1987:27) die vrywillige offergawes die begin van ’n geloofsantwoord en sê: “Daarbij gaat het niet enkel om een duit in het zakje maar om de beschikbaarheid van de hele mens in dienst van God en van de naaste”. En al is die offergawes ook gerig op die nood van die naaste, bly dit primêr gerig op die eer van God. So gesien het hierdie rituele handeling dus onder andere die betekenisse van selfoffergawe, ’n wyse om God te prys; is dit ’n uitdrukking van dankbaarheid en ook ’n vorm van barmhartigheid. In die kern van alles is egter dat die offergawes aan die tafel gekoppel moet word (en was deur die eeue), want die tafel is die teken van God se groot offer waarop die gemeente in dankbaarheid reageer, onder andere deur middel van die offergawes. Hierdie dankbaarheid wat liturgies in die nagmaal en offergawes uitdrukking vind, vloei ook oor in ’n lewe van dankbaarheid.

5. NAGMAAL EN OFFERGAWES IN ’N KONTEKS VAN ARMOEDE

Voorafgaande opmerkings kan dien as stimuli om nou enkele voorlopige praktiese opmerkings met betrekking tot liturgie in ’n konteks van armoede te maak, spesifiek ten opsigte van middelklas Ned Geref eredienste en hulle weerspieëling van die Suid-Afrikaanse konteks van armoede.

Eerstens is dit duidelik dat die spesifieke plasing van die offergawe-ritueel in die liturgie, spesifiek ook met betrekking tot die plasing van die nagmaal in dieselfde liturgie, nie min betekenis het nie. Soos reeds liturgiehistories aangetoon, is die plasing van die offergawes in die Gereformeerde tradisie voor die nagmaal. Die insameling sou egter goedskiks ook ná die nagmaal kon plaasvind, om sodoende die spesifieke koppeling van die nagmaal se oproep tot navolging, tot dankbaarheid (of soos Calvyn dit genoem het – eucharistiese menswees) binne die perspektief van barmhartigheid, spesifiek diegene wat geld benodig, te plaas. Hierdie koppeling tussen offergawes en nagmaal deur die offergawes direk voor of na die nagmaal te plaas, het teologies ’n radikaal ander betekenis as die gebruik (in sommige gemeentes) om ’n houer by die ingang van die kerkgebou te plaas waarin items vir die armes geplaas word. Die boks-by-die-ingang-handeling is meer ’n funksionele handeling van liefdadigheid (en in sigself nie waardeloos nie), as ’n ware liturgiese simboliese handeling of Christelike ritueel.12

In lyn met laasgenoemde opmerking sou tereg opgemerk kon word dat in ’n era waar offergawes grootliks deur middel van aftrekorders, bankdeposito’s en internetbankdienste geskied, die offergawe-ritueel in die liturgie gedeeltelik sy funksie en betekenis verloor het. Dit is egter juis binne só ’n moderne elektroniese konteks dat die behoud en doelbewuste inkleding van die offergawes in die liturgie ’n vorm van liturgiese inkulturasie is, deurdat die offergawes gelowiges juis daaraan herinner dat hierdie handeling oor dankbaarheid gaan, en nie oor gewone wêreldse liefdadigheid nie (vgl ook Oskamp 1987:27). In die offergawes gee die gelowiges nie alleen maar ’n paar Rand vir die armes nie, maar in en deur die ritueel word die mens en sy/haar hele lewe aangebied as offer in diens van armoede.

Verder is die wyse van insameling nie onbelangrik nie. Die gebruik om die offergawes in die banke op te neem sou afgewissel kon word met die gebruik dat erediensgangers dit self na die tafel neem en daarop plaas. Hierdie gebruik kom in verskeie swart kerke in Suid-Afrika voor en staan bekend as die “money-slamming ritual” of “umjikelo” (Xhosa). Ook in laasgenoemde kerke word ’n doelbewuste koppeling tussen offergawes en tafel gemaak en kom hierdie ritueel meestal voor tydens nagmaalsvierings.

Die gebruik om ’n gebed na die insameling van die offergawes te doen, vind tans al meer ingang in verskeie Ned Geref Kerke. Alhoewel Barnard (1981:576) die weeklikse gebruik hiervan as té opsienbarend sien met te veel klem wat sodoende gelê word op die gawes, sou die spesifieke aard van so ’n gebed egter sy voorbehoude kan ondervang. Só ’n gebed na die gawes sal juis in woorde die koppeling van Nagmaal en offergawes en die konneksie tussen hierdie handelinge en die Suid-Afrikaanse konteks van armoede kan maak. Net so kan dit die etiese implikasies van deelname aan hierdie rituele binne ’n konteks van armoede na vore bring.

Die elemente wat in die viering van die Nagmaal gebruik word, is nog ’n wyse waarop dié sakrament geïnkultureer kan word. Binne ’n Suid-Afrikaanse konteks van armoede sal die voorstel om die kos en drank van die armes in die viering van die nagmaal te gebruik, geen nuwe aanbeveling wees nie. In ’n boekie van 1992 wat geskryf is om as liturgiese riglyn saam met die dokument “The road to Damascus” gebruik te word, word die volgende voorstel met betrekking tot die nagmaal binne die konteks van akute armoede in Suid-Afrika gedoen. Eerstens kan (tuisgebakte of regerings-) brood, pap of roti, die kos van die armes in jou omgewing, eerder as die tradisionele wafels/hosti, gebruik word. Daarna moet die brood en wyn op só ’n wyse uitgedeel word, dat dit die gemeenskaplikheid herbevestig. So kan mense wat nie gewoonlik die brood en wyn uitdeel nie, dit doen met woorde soos, “Die brood van die lewe vir jou gebreek”, “Gee ons vandag ons daaglikse brood”, “Die liggaam van Christus, die brood van die lewe”, “Brood van die mense, brood van die lewe”, “Brood van die lewe tussen ons gedeel” en “Die bloed van Christus vir jou gestort”, “Die krag van God, met jou gedeel”, “Die beker van die verbond”, of alternatiewe woorde.13 Voorafgaande aanbevelings van meer as ’n dekade gelede sou goedskiks die kreatiewe denke van diegene wat weekliks by die liturgie betrokke is, aangaande die gebruik van brood en wyn in die nagmaal in ’n konteks van armoede kon stimuleer.

Nog ’n moontlike wyse om die konteks van armoede in die liturgie beslag te laat kry is deur middel van die sogenaamde hongerdoek (vergelyk Wepener 2003:93). ’n Hongerdoek is ’n redelik algemene verskynsel in kerke wêreldwyd en behels ’n doek of bord waaraan koerantknipsels, voorwerpe en ander artikels deur lidmate tydens die erediens vasgemaak word. Ons voorstel sal dan ook spesifiek wees dat hierdie gebruik in samehang met die nagmaal en offergawes geïmplementeer kan word. Die idee is gewoon dat so ’n doek binne die liturgiese ruimte iets van die omringende konteks reflekteer. So kan verbande tussen die daaglikse realiteit van die breër Suid-Afrikaanse samelewing en dit wat in die liturgie gebeur, op ’n visuele wyse getrek word. ’n Hongerdoek gee ook aan erediensgangers die geleentheid om gedurende die week – die periode waartydens items vir die hongerdoek versamel word – doelbewus te reflekteer oor die samehang tussen die liturgie en hul konteks.

6. SLOT

Die opskrif van Kokoschka se gekruisigde Christus lui: In memory of the children of Europe who have to die of cold and hunger this Xmas. Dit is ’n Christus wat juis in en deur sy inkarnasie solidêr is met diegene wat ly. Dit is ’n Christus wat ook as kind waarlik kind was. Hierdie radikale Christelike waarheid bring Kokoschka se skets met ’n ongeëwenaarde dringendheid na die kyker, en laat ’n Kersliedjie soos “Away in a manger” met ’n reël soos: no crying He makes na teologiese bedrog klink. Trouens, in ’n konteks van armoede is die kindjie Jesus ’n ontroosbare huilende baba – solidêr met die kindertjies … wat aan honger en koue moet sterf. Dít is die Christus wat ons navolg wanneer ons ons tande in sy liggaam slaan, sy bloed op ons lippe laat kom, en ons beursies oopknip. Die eters sal geëet, en die gewers sal verteer word.

BRONNELYS

Agenda van die Algemene Sinode van die NGK, 1998.

Barnard, A C 1981. Die Erediens. Pretoria: N G Kerkboekhandel Transvaal.

Calvyn, J 1991. Institusie van die Christelike Godsdiens, Deel 4. Vertaal deur H W Simpson. Potchefstroom: CJBF.

Chupungco, A J 1982. Cultural Adaptation of the Liturgy. New York: Paulist Press.

Craddock, F 1990. Luke. Interpretation. A Bible Commentary for Teaching and Preaching. Louisville: John Knox Press.

De Klerk, B J 2001. “Wisselwerking tussen liturgie en kultuur in die Suid-Afrikaanse konteks – Enkele vertrekpunte”. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 16/2, 57-75.

Heil, J P 1999. The Meal Scenes in Luke-Acts. An Audience-Oriented Approach. The Society of Biblical Literature Monograph Series. Number 52. Atlanta, Georgia: Society of Biblical Literature.

Institute for the Study of the Bible 1992. Repentance and Conversion: Working in the Church & community on “The Road to Damascus”. Pietermaritzburg: Cluster Publications.

Joubert, S 2002. “Aan tafel saam met Jesus: Eksegetiese riglyne vir prediking uit Lukas 14: 1-24”. NGTT 43/1 & 2, 76-82.

Kleynhans, E P J 1988. Gereformeerde Kerkreg. Deel 4: Die arbeid en betrekkinge van die kerk. Pretoria: NGKB.

Lukken, G 1994. Inculturatie en de toekoms van de liturgie. Heeswijk-Dinther: Uitgeverij Abdij van Berne. Lukken, G 1999. Rituelen in overvloed. Een kritische bezinning op de plaats en de gestalte van het christelijke ritueel in onze cultuur. Baarn: Gooi & Sticht.

Lumbala, F K 1998. Celebrating Jesus Christ in Africa. Liturgy & Inculturation. Maryknoll: Orbis Books. Lutheran World Federation 1998. “Chicago Statement on Worship and Culture: Baptism and Rites of Life Passage”. Studia Liturgica 28, 244 – 252.

May, J & Govender J 1998. Poverty and inequality in South Africa. Unpublished report prepared for the office of the Executive Deputy President.

Mitchell, N D 2000. “The Amen Corner. ‘The Rest is Commentary’”. Worship 74/3, 248-256.

Natrass, N 2003. “Race, class or HIV/AIDS?”. The SA Reconciliation Barometer. Tracking Socio Political Trends. Vol. 1/3, p 7.

Neyrey, J H 1991. “Ceremonies in Luke-Acts: The Case of Meals and Table-Fellowship”. In: Neyrey, J H (red).

The Social World of Luke-Acts. Models for Interpretation. Peabody: Hendrickson Publishers.

Oskamp, P 1987. De kerkdienst bij stukjes en beetjes. Ambtshalve-boekenreeks. ‘s-Gravenhage: Uitgeverij Boekencentrum B V

Pieterse, H J C 2001. Prediking in ’n konteks van armoede. Pretoria: Unisa Uitgewers.

Post, P 2001. De Solidaire Christus van Oskar Kokoschka. In : Barnard, M en Post, P (reds). 2001. Ritueel bestek. Antropologische kernwoorden van de liturgie. Zoetermeer: Meinema.

Ryan, P 2000. “Developing a Theology of Inculturation”. In: Ryan, P et al. Inculturation in the South African Context. Nairobi: Paulines Publications Africa.

Theron, P F 1991. “Noordmans se ‘social gospel’”. NGTT. 32/4, 591-601.

Van Tongeren, L 1996. “De inculturatie van de liturgie tot (stil)stand gebracht?” Jaarboek voor liturgie- onderzoek 12, 164-186.

Wepener, C J 2002a. “Still because of the weakness of some? – A descriptive exploration of the Lord’s Supper in South Africa, 1948 – 2002”. Jaarboek voor liturgie-onderzoek 18, 139-158.

Wepener, C J 2002b. “Nagmaal in die NG Kerk – tussen tradisie en vernuwing. Deel 1”. NGTT 43 / 3 & 4, 641-651.

Wepener, C J 2002c. “Nagmaal in die NG Kerk – tussen tradisie en vernuwing. Deel 2”. NGTT 43 / 3 & 4, 652-660.

Wepener, C J 2003. “Basisliturgie vir Lydenstyd 2004”. In: Heyns, M H et al (reds). Preekstudies met liturgiese voorstelle gebaseer op die leesrooster. Stellenbosch: BUVTON.

1 Gedoen vir die regering sedert 1994. Dit sluit in: Project for statistics on living standards and development (PSLSD 1994); Poverty and inequality in South Africa (May and Govender 1998); Key indicators of poverty (RDP 1995); The experience and perceptions of poverty (1997), ens. Vgl ook Pieterse 2001:31 e v

2 In ’n sekere sin word geen ritueel in die Christelike liturgie onaangeraak gelaat deur die konteks nie en sou ander rituele goedskiks hier gekies kon geword het. So byvoorbeeld wys ’n artikel van die Lutheran World Federation (1998:244-252) dat in die proses van liturgiese inkulturasie, toegepas op die doop, armes en rykes met ewe veel waardigheid gedoop word. Dit sal egter onmoontlik wees om alle rituele wat in die Christelike liturgie voorkom hier te bespreek, en daarom word hier ’n verantwoorde keuse uitgeoefen.

3 Opmerking van ’n predikant van ’n arm gemeente tydens ’n besoek aan ’n Ned Geref erediens, en wat verwys na die note in plaas van muntstukke wat erediensgangers in die kollekteborde gooi.

4 Liturgiese inkulturasie verwys na die kritiese wederkerige interaksie tussen die kultus/liturgie en kultuur waardeur iets nuuts tot stand kom, te wete ’n geïnkultureerde liturgie wat uiteindelik ’n totaal nuwe entiteit is as dit wat voorheen bestaan het. Vir bronne in hierdie verband, ook met betrekking tot metodes van liturgiese inkulturasie, sien onder andere Chupungco (1982), De Klerk (2001), Lukken (1994), Lumbala (1998), Lutheran World Federation (1998), Ryan (2000), en Van Tongeren (1996).

5 Vergelyk onder meer Heil (1999), Joubert (2002) en Neyrey (1991). ’n Mens sou uiteraard boekdele kon skryf oor die tema van armoede en tafelgemeenskap soos dit ook in ander teksgedeeltes voorkom of geïmpliseer word, byvoorbeeld aan die hand van die briewe van Jakobus en Paulus aan Romeine (bv 12:1). Die offers by die tempel in die OT bied eweneens ryk grond vir ondersoek. So ’n omvattende studie sou egter te uitgebreid wees vir die doeleindes van hierdie artikel.

6 Soortgelyke groepe mense word ook elders in die Evangelie van Lukas aangetref, soos byvoorbeeld 4:18 waar verwys word na armes, gevangenes, blindes en onderdruktes.

7 Vergelyk, Agenda van die Algemene Sinode van die NGK, 1998, p. 116-117.

8 Vergelyk hier, Wepener (2002a).

9 Calvyn, J 1991. Institusie IV 17.44, p 1747.

10 Sien, Wepener (2002b & 2002c)

11 Barnard (1981:576) is egter van mening dat daar ook sterk gronde is om die offergawes na die Woorddiens en nagmaal op te neem as danksegging vir albei.

12 Vergelyk in hierdie verband Lukken (1999:47) se onderskeid tussen funksionalisme en simbolisme.

13 Vergelyk Institute for the Study of the Bible (1992:39-41). Verblydend is die feit dat ook die Sinode van die Ned Geref Kerk in 1998 gevra het vir ’n ondersoek na “die sterk band wat daar Nuwe-Testamenties en liturgiehistories tussen die Nagmaal en die diens van barmhartigheid bestaan”, Agenda van die Algemene Sinode van die NGK, 1998, p 256. Sien ook Kleynhans (1988:84-92).