Murray, M

Universiteit van Pretoria

David Bosch en die identiteit-betrokkenheid-dilemma1

ABSTRACT

David Bosch and the identity-involvement-dilemma

This article reflects on the manner in which the well-known South African missiologist David Bosch handles the identity-involvement-dilemma. Bosch maintains that the church is always in a state of crisis. It is argued that, although Bosch is correct in his notion that the church can only be relevant in the world and maintain her identity in Christ by being attentively aware of her status as “alternative community”, he does not articulate well enough what the possible risks for congregations engaging in partnerships with secular institutions are. A few of these risks are considered. It is concluded that a relevant missionary model for the Family of Dutch Reformed Churches will have to include partnerships with secular bodies and attend to the development of institutional resources in order to effectively address larger scale challenges such as violence, HIV/AIDS and poverty.

1. INLEIDING

Volgens Bosch verwys die identiteit-betrokkenheid-dilemma na die spanning waarin die kerk verkeer in sy stryd om die digotomie van evangelie en sosiale betrokkenheid te oorkom en terselfdertyd getrou te bly aan die Christelike identiteit. Ten spyte daarvan dat die digotomie grotendeels oorkom kan word, bly daar steeds volgens Bosch ’n onopgeloste spanning: “Some duality between God and the world remains. Precisely this creates the ‘identity-involvement dilemma’ to which Moltmann (1975:1; cf also Küng 1984:70-75) refers; it is of the essence of the Christian faith that, from its birth, it again and again had to seek, on the one hand, how to be relevant to and involved in the world and, on the other, how to maintain its identity in Christ.”

2Die identiteit-betrokkenheid-dilemma is tans op ’n besondere wyse relevant vir die kerk in Suider-Afrika en by name vir die NG Kerk-familie. Die aard en omvang van die sosiale probleme waarmee die Suider-Afrikaanse gemeenskap tans gekonfronteer word, stel enorme uitdagings aan elkeen wat ’n sinvolle bydrae wil lewer om aan alle mense ’n goeie kans tot die bes moontlik bereikbare lewenskwaliteit te bied. Suid-Afrikaners word gekonfronteer met MIV en vigs, armoede, misdaad, rassisme, politieke verskille met betrekking tot grondhervorming en regstellende aksie, verlies aan kundigheid en klimaatsverandering - om maar ’n paar van die groter uitdagings te noem. Dit is ten aansien van hierdie uitdagings dat die identiteit-betrokkenheid- dilemma aangevoel word: die Christelike geloof is in wese gerig daarop om die troos van die evangelie aan noodlydendes in die samelewing te bedien. Om sinvol betrokke te wees by mense se fisiese en geestelike nood vereis hulpbronne soos kundigheid, fondse en vennootskappe. ’n Gemeente sou bloot aan lidmate kon vra om in hul hoedanigheid as koninkryksburgers in elke samelewingsverband te doen wat hul hand vind om te doen om maatskaplike nood te verlig. Maar as die NG Kerk-familie op ’n meer sinvolle wyse by die genoemde uitdagings in die Suid- Afrikaanse samelewing betrokke wil wees, moet hulpbronne aktief ontwikkel word om die probleme aan te spreek. Kundigheid vereis veral samewerking met die wetenskap; ontwikkeling van fondse lei dikwels tot samewerking met die industrie; en die ontwikkeling van vennootskappe om sosiale probleme te takel is in meerdere gevalle met staatsinstansies. Die wetenskap, industrie en sekulêre staat is nie noodwendig die Christelike geloof vyandig gesind nie. Nogtans is daar ’n wesenlike verskil tussen hierdie instansies en die kerk. Die kommer bestaan by sommige gelowiges dat die kerk só verweef kan raak met hierdie instansies dat hy later self begin om soos ’n universiteit, winkel of staatsinstelling op te tree en daarmee die gevaar loop om sy identiteit in Christus te verloën.

In hierdie artikel word daar gekyk hoe David Bosch in sy boek Transforming Mission die wese van die kerk en die uitdagings deur die konteks aan die kerk se bediening gestel, met mekaar in verband bring. Eerstens word Bosch se perspektief op die uitdagings en geleenthede vir die kerk in sy krisisbestaan aan die orde gestel. Tweedens word Bosch se bydrae as teologiese bemiddelaar krities oorweeg. Daar word aangetoon hoe Bosch wys dat die betrokkenheid van die kerk in die gemeenskap nie die identiteit van die gemeente bevraagteken nie, maar juis bevestig. Maar daar word ook op enkele onuitgewerkte aspekte in Bosch se teologie gewys, byvoorbeeld dat hy nie genoegsaam aandui hoe die diensgerigte gemeente in vennootskap met sekulêre instansies behoort te tree en wat die risiko’s daaraan verbonde moontlik kan wees nie. Daarom word daar derdens enkele sake genoem wat ’n NG gemeente in gedagte behoort te hou in die soeke na ’n toepaslike missionêre bedieningsmodel.

2. DIE UITDAGINGS EN GELEENTHEDE VIR DIE KERK IN SY KRISISBESTAAN

Die spanning tussen die kerk se wese en die empiriese situasie waarin die kerk verkeer, veroorsaak volgens Bosch dat die kerk altyd in ’n krisissituasie bestaan.3 Die krisissituasie waarin die kerk tans lewe, word vererger deur wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang en daarmee gepaardgaande wêreldwye sekularisering wat vir baie mense geloof in God oorbodig maak.4 Die groeiende gaping tussen ryk en arm dele van die wêreldbevolking blaas die krisis verder aan. Vanweë die Westerse wêreld se noue verbintenis met die genoemde vooruitgang bevind Westerse mense (insluitende Christene in die Westerse wêreld) hulle grotendeels aan die kant van die kloof wat materiële welvaart geniet. Westerse Christene ly toenemend aan ’n skuldgevoel vanweë hulle groter wordende rykdom en baie arm Christene is gefrustreerd met die fisiese lyding waaraan hulle daagliks onderworpe is. Hierdie skuldgevoel waaraan Westerse Christene meermale ly, maak dit vir hulle moeilik om met vrymoedigheid te getuig van die hoop wat in hulle lewe (1 Pet 3:15).5

Die kerk behoort volgens Bosch die krisissituasie van sy bestaan nie net te sien as ’n gevaar nie, maar ook ’n geleentheid. Krisis is trouens die punt waar gevaar en geleentheid mekaar ontmoet.6 Albei hierdie aspekte van die krisisbestaan van die kerk moet verreken word. Dit is beide ongesond om halsoorkop betrokke te raak by aktiwiteite sonder om gevare raak te sien as om verlam te word deur gevare sonder om geleenthede raak te sien. Die kerk behoort nie ’n gesekulariseerde kerk te word wat alleen ’n oog het vir hierdie-wêreldse aktiwiteite en belange nie. Dit baat die kerk net so min om ’n separatistiese kerk te word wat alleen betrokke wil wees by die voorbereiding van siele vir die hiernamaals. Die kerk moet begrip hê vir die verweefdheid van menslike verhoudinge. Dit is kenmerkend van ’n valse antropologie en sosiologie om die spirituele dimensie van die menslike bestaan te probeer skei van die materiële en sosiale dimensie. Die oplossing vir die kerk moet gesoek word in ’n bestaanswyse wat die spanning tussen die geleenthede en gevare van sy deelname aan die missio Dei albei verreken.7

Hierdie spanning spruit uit die mees sentrale element van Jesus se hele bediening, naamlik die Koninkryk van God wat alreeds teenwoordig is, maar nog nie volledig aangebreek het nie.8 Dit is merkwaardig dat die Koninkryk aangekondig word aan mense wat hulle op die grens van die samelewing bevind: lydendes, tollenaars en sondaars, weduwees en weeskinders.9 Bosch merk nie in die evangelie volgens Lukas spanning tussen Jesus se bediening van redding aan mense wat fisies ly en sy bediening van redding aan sondaars nie.10

Die horisontale en vertikale aspek van versoening behoort na Bosch se mening nie teen mekaar afgespeel te word nie. Versoening is nooit versoening uit die wêreld uit nie, maar altyd versoening van die wêreld. Dit beteken egter nie dat versoening en welsyn van mense saamval nie. Die Christelike geloof is ’n kritiese faktor en die Koninkryk van God ’n kritiese kategorie. Die Christelike geloof kan nie gelyk gestel word aan die program van moderne liberale emansipasiebewegings nie.11 Die spanning tussen die alreeds en die nog nie van die Koninkryk van God moet ook hier behoue bly.12

3. BOSCH AS TEOLOGIESE BEMIDDELAAR

Dit is veelseggend dat Kritzinger en Saayman gekies het om die titel van die feesbundel ter herdenking aan David Bosch se sestigste verjaardag Mission in creative tension te noem.13 Hierdie titel is volgens die redakteurs gekies omdat Bosch die manier het om teologiese klemtone wat skynbaar onversoenbaar is, in kreatiewe spanning saam te voeg.14

Nicol is van mening dat Bosch se neiging om nie te wil kant kies nie, spruit uit sy oortuiging dat die Christelike waarheid in die kerk as geheel geleë is.15 Dit is daarom nie toevallig dat Bosch se missionêre teologie op ’n besondere wyse in sy ekklesiologie sigbaar word nie. Bosch wil beide die ekklesiologiese klemtone – die kerk as gemeenskap wat uit die wêreld afgesonder is en die kerk as gestuurde dienskneg na die wêreld – behou. Hy doen dit deur die kerk ’n alternatiewe gemeenskap te noem.16 Die gebruikmaking van die term alternatiewe gemeenskap sou gesien kon word as ’n poging om die identiteit-betrokkenheid-dilemma op te los.

Bosch sien sending nie as ’n uitvloeisel van die kerk se bestaan as kerk nie – die kerk bestaan as gestuurde (betrokke) kerk! Die kerk as missionêre gemeenskap vorm volgens Livingstone die hartklop van Bosch se missionêre agenda.17

Saayman verwelkom Bosch se missionêre ekklesiologie in soverre dit ruimte laat vir ’n komprehensiewe begrip van Christelike versoening, “an understanding ‘beyond every schizophrenic position’, taking account of people ‘in their total need’, involving ‘individual as well as society, soul and body, present and future’.”18 Waar Saayman egter sou betoog dat Bosch nog nie duidelik genoeg met die armes en onderdruktes in die samelewing identifiseer nie, is Verster bekommerd dat Bosch se wye definisie van versoening die gevaar loop om heil te identifiseer met politieke en sosiale bevryding van armoede en onderdrukking. Verster meen die kerk behoort nie verlei te word om te doen waarvoor hy nie geroep is nie. Die kerk moet die Koninkryk van God aankondig, maar mag nooit probeer om self die Koninkryk te verteenwoordig nie. Die Gereformeerde tradisie (in navolging van Dooyeweerd) leer volgens Verster dat die kerk die nuwe lewe in Christus moet verkondig en dat die burgers van die Koninkryk van God in antwoord op die verkondiging as nuwe mense hulle burgerskap in die ander samelewingsverbande moet gaan uitleef. Die kerk bestaan ter wille van die Koninkryk en is teken van die Koninkryk van God.19 Die poging van Bosch – om aan die een kant die onderskeid tussen kerk en wêreld te wil behou, maar aan die ander kant só ’n wye definisie van die kerk se sending te handhaaf dat kerk en Koninkryk nie meer duidelik te onderskei is nie, staan op gespanne voet.20 Verster vrees dat Bosch die sentrale fokus van sending, naamlik die plaasvervangende dood van Christus, onderbeklemtoon.21 Hy beweer dat die spitspunt van versoening by Bosch nie duidelik as die redding van sondes in Jesus Christus aangetoon kan word nie.22

Dit beteken nie aldus Verster dat sosiale vraagstukke heeltemal onbelangrik is nie. Die oplossing oor hoe die sosiale aspek aangespreek behoort te word, is egter volgens Verster nie in sosiale betrokkenheid as sendingopdrag te vind nie. Sosiale opheffing is die taak van die burgers van die Koninkryk: “Mission is the primary task of the church, but the deed of social regeneration must be brought about by the citizens of the kingdom in obedience to the Lord of the kingdom.”23

Daar is twee groot leemtes in Verster se kritiek: Hy laat eerstens nie blyk dat hy kennis dra van die genuanseerde wyse waarop Bosch in sy teologie met terme soos evangelisasie en sending omgaan nie en hy toon tweedens nie genoeg begrip vir die wyse waarop Bosch spesifiek in Transforming Mission met die spanning tussen die evangeliese en sosiale dimensies van die gestuurde kerk worstel nie. Dit wil voorkom asof Verster Bosch met ’n Dooyeweerdiaanse bril lees, met die gevolg dat ’n vooropgestelde onderskeid tussen kerk en Koninkryk sy interpretasie oorheers. Kritzinger hanteer die spanning tussen evangelisasie en sosiale betrokkenheid in Bosch se missionêre teologie meer genuanseerd as Verster. Reeds in 1984 wys Bosch volgens Kritzinger op twaalf verskillende interpretasies van die verhouding tussen sending en evangelisasie.24 Twee jaar later verdeel hy hierdie interpretasies verder in twee hoofstrome: Die eerste stroom neig om sending en evangelisasie as sinonieme te hanteer en die tweede stroom om te onderskei tussen die twee begrippe.25 Met ’n aanhaling toon Kritzinger (anders as wat Verster beweer) dat evangelisasie vir Bosch die kern en sentrum van sending is.26 Tog is sending ’n meer omvattende term as evangelisasie: “Bosch, with others, asks the question: why do we have to make a choice between either evangelism or social action as having the highest priority? He finds himself more in agreement with those who state that ‘these two expressions of mission are indeed genuinely different aspects of mission but since they are equally important we should never prioritise.”27 Evangelisasie en sosiale aksie is dus by Bosch beide belangrike aspekte van sending.

Hoewel Bosch volgens Nicol poog om soveel moontlik begrip vir die ekumeniese standpunt te hê, bly versoening ’n sentrale en dominerende faktor in sy teologie: “The mission of the church comprises a lot, but evangelism, namely the communication of God’s grace in Christ to unbelievers remains its ‘core’.”28

In die klassieke debat tussen die evangeliese en ekumeniese standpunt in die sending val die klem volgens Nicol in die geval van die evangeliese standpunt veral op versoening, terwyl die klem in die geval van die ekumeniese standpunt veral op voorsienigheid val. Nicol definieer versoening doelbewus hier in die enger Evangeliese sin, dit wil sê met verwysing na redding deur geloof alleen. Voorsienigheid, daarteenoor, word gebruik om te verwys na die meer omvattende werk van God in die natuur en in die menslike geskiedenis.29 Volgens Nicol gee Nolan voorkeur aan voorsienigheid en Bosch aan versoening.30 Vir Nolan handel God deur die bevrydingstryd in Suid-Afrika, terwyl Bosch God aan die werk sien in en deur die alternatiewe gemeenskap. Vir Nolan is God werkend teenwoordig soos ’n hamer deur middel van menslike mag, maar vir Bosch is God teenwoordig aan die kruis in menslike swakheid.31 Nicol se vraag aan Bosch se teologie (wat volgens hom versoening beklemtoon en dit op a-historiese wyse afgrens van sekulêre geskiedenis) is of voorsienigheid nie na die periferie uitgeskuif word nie.32 Kerklidmate is immers deel van beide die verloste gemeenskap en sekulêre geskiedenis en daarom sou ’n mens volgens Nicol kon sê dat versoening en Voorsienigheid in die kerk saamkom33 Dit is vir Nicol problematies dat die kerk by Bosch primêr ’n teologiese entiteit is, aangesien dit onduidelik is wat hy dan met die sosio-politieke rol van die kerk bedoel.34

Nicol wys daarop dat Bosch gereeld Noordmans aanhaal wat gesê het dat die kerk ’n eskatologiese gemeenskap is wat te vroeg vir die hemel en te laat vir die aarde is.35 Wanneer die kerk egter so afgesonder word bo die wêreld, ontstaan twee vrae: Hoe moet ’n mens oordeel oor kerklidmate wat deel uitmaak van die magspel en magstrukture en sê nou maar geregtigheid is só in gedrang dat neutraliteit van die kerk se kant in der waarheid ’n keuse ten gunste van die heersende maghebbers is?36 Volgens Nicol is sosiale verandering die resultaat van ’n komplekse interaksie van magte: “In his providential action in society, God works through all these human sources of power.”37 Mag moet ingespan word tot diens van ander. Mense wat dit nie doen nie, kom nie hulle verantwoordelikhede na nie. Dit is gewoonlik moeilik om in te sien hoe die Voorsienigheid werksaam is in politieke aktiwiteite, maar soms kan ’n sisteem so korrup wees dat dit duidelik kan wees wat die Voorsienigheid deur ons wil doen.38

Die onderskeid wat Nicol maak tussen evangeliese teologie, wat veral versoening van persoonlike sonde voor God beklemtoon, en ekumeniese teologie, wat veral voorsienigheid beklemtoon, lewer ’n belangrike bydrae. Dit is egter onjuis van Nicol om Bosch in eersgenoemde kategorie te plaas. Dit wil voorkom asof Nicol se evaluering van Bosch nie soseer spruit uit die deeglike bestudering van die betekenis wat Bosch sélf aan ’n begrip soos versoening gee nie, maar eerder uit sy waarneming dat Bosch nie op dieselfde wyse as Nolan aan die bevrydingstryd in Suid-Afrika deelgeneem het nie. Hierdie vermoede word bevestig wanneer Nicol skryf: “Nolan was experiencing the full reality of the struggle to the extent that he had to hide from the police. Bosch is a personal embodiment of the unity of the church: the missionary who wishes to identify with the poor, but also identifies with the Afrikaners and still belongs to their Dutch Reformed Church ...”39 Nicol se belangrikste bydrae in sy vergelyking van Bosch en Nolan is dat hy dit regkry om met behulp van Nolan ’n problematiese aspek in Bosch se teologie uit te lig: Die uniekheid en swakheid van die kerk as alternatiewe gemeenskap in Bosch se teologie staan op gespanne voet met die vermoë van die kerk om waarlik ’n bydrae te lewer in sosiale verandering.40

Bosch doen groot moeite om beide die evangeliese en ekumeniese benaderings in sy teologiese arbeid tot hul reg te laat kom. Hy meen dat die benaderings in kreatiewe spanning saamgehou behoort te word, maar dit is nie presies duidelik hoe kreatief in kreatiewe spanning verstaan moet word nie. Kreatief blyk meestal by Bosch eerder die balans as die spanning tussen twee opponerende standpunte te wees. Nie die een of die ander van twee opponerende standpunte mag volgens Bosch verabsoluteer word nie. Geen enkele mens of groep het die volle waarheid nie. Soos Nicol dit stel: Vir Bosch lê die waarheid in die hele kerk.41 Bosch toon egter nie duidelik genoeg hoe die kreatiewe spanning van die Gees in opponerende teologiese standpunte binne die hele kerk vrugbaar werksaam kan wees nie. Sy teologie laat die vermoede ontstaan dat hy sou wou pleit dat elke individuele missionêre teoloog op holistiese wyse insig moet toon in opponerende standpunte en kreatief spanninge wat opduik moet hanteer deur nie eensydig kant te kies nie. Kritzinger se vraag of ’n individuele sendeling by magte is om die holistiese benadering wat Bosch skets toe te pas, bevestig dat hierdie vermoede kan ontstaan.42 Dit wil dus lyk asof spanning in kreatiewe spanning by Bosch – om ’n beeld te gebruik – meermale die spanning is van ’n tou wat aan beide punte ewe hard getrek word. Dit blyk nie duidelik genoeg uit Bosch se benadering dat die potensiaalverskil tussen twee radikaal verskillende individuele standpunte soms nodig is om vir die kerk in geheel krag op te wek nie.

Bosch se neiging om teoretiese standpunte in spanning saam te hou kan veroorsaak dat dit moeilik is vir die teologie “om voete te kry”. Kritzinger sonder laasgenoemde aspek uit as die grootste leemte in Bosch se missionêre denkraamwerk. Sending is in wese prakties en daarom kan ’n teoretiese raamwerk nie deug indien dit nie ook toepasbaar is nie. Hoe moet sending struktureel neerslag vind?, vra Kritzinger, en mag ’n denominasie byvoorbeeld spesialiseer?43 Dit sou waarskynlik betoog kon word dat ’n boek soos Transforming Mission iets van sy oorsigtelike aard en globale relevansie sou kon inboet indien daar te veel aandag aan die praktiese toepassing van fundamentele beginsels of denominasionele sake gegee is. Dit is verder duidelik dat Bosch ruimte wil laat vir diakonia en koinonia wat moontlik meer struktureel-praktiese aspekte het as kerugma.44 Kritzinger wys egter op ’n belangrike leemte. Sy kritiek toon ooreenkoms met die kritiek van Nicol waarop vroeër gewys is, naamlik dat die uniekheid en swakheid van die kerk as alternatiewe gemeenskap in Bosch se teologie op gespanne voet staan met die vermoë van die kerk om waarlik ’n bydrae te lewer in sosiale verandering.45 Christene in Suid-Afrika wat blootgestel was aan onmatige verskille in lewenspeil, politieke ongelykheid en die geweld wat daarmee gepaard gaan, het gehunker na meer konkrete voorstelle vir die pad vorentoe in die tyd waarin Bosch aan sy magnum opus geskryf het. Bosch wou klaarblyklik eerder as bemiddelaar die dreigende konflik tussen opponerende standpunte konstruktief bestuur as om ’n leiersrol te speel deur die kerk met konkrete voorstelle vir sosiale betrokkenheid te bedien.

4. OP SOEK NA ’N TOEPASLIKE MISSIONERE BEDIENINGSMODEL

Dit is nie voldoende om, in die soeke na ’n toepaslike missionêre bedieningsmodel vir die NG Kerk-familie, te volstaan met die mees basiese ekklesiologiese beginsels nie. Dit is byvoorbeeld nie genoeg om net te sê dat die alternatiewe gemeenskap in maar nie van die wêreld is nie. Daar moet ook gepoog word om meer praktiese riglyne te ontwikkel vir ’n gemeente wat deurdruk met ’n program om diensbaar te wees in sy omliggende gemeenskap. Die ontwikkeling van ’n generiese missionêre bedieningsmodel vir die NG Kerk-familie sou ten minste die bestudering van die volgende drie sake moet insluit:

• Die kompleksiteit van die probleme en uitdagings waarmee die kerk in die Suid-Afrikaanse konteks gekonfronteer word

• Die identiteit van die kerk

• Die kapasiteit van die kerk om ’n verskil te maak

Hierdie artikel kan nie aan al drie die bogenoemde sake aandag gee of die nodige bedieningsmodel reeds uitwerk nie. Die klem is eerder daarop om enkele implikasies van Bosch se standpunt vir die ontwikkeling van ’n toepaslike missionêre bediening vir die NG Kerk-familie te oorweeg. Die hoop is dat die enkele gedagtes lidmate, dominees en sendingkundiges kan inspireer om saam te besin oor hoe ’n toepaslike bedieningsmodel vir die NG Kerk-familie moontlik kan lyk. Vervolgens word twee sake bedink:

• Die betekenis daarvan om ’n alternatiewe gemeenskap te wees

• Die risiko’s van vennootskappe vir die alternatiewe gemeenskap

4.1 Die betekenis daarvan om ’n alternatiewe gemeenskap te wees

Die NG Kerk-familie sal homself moet afvra wat dit beteken om as deel van die Christelike alternatiewe gemeenskap in die plaaslike, nasionale en internasionale gemeenskap te lewe.

Dit is eerstens belangrik om te onthou dat die alternatiewe gemeenskap na die hele kerk oor al die eeue, wêreldwyd verwys. Alternatiewe gemeenskap is in hierdie sin ’n wisselvorm vir kerk en al die eienskappe van die kerk word daarmee geïmpliseer: eenheid, heiligheid, katolisiteit en apostolisiteit. Die byvoeglike naamwoord “alternatief” is semanties die naaste aan die eienskap van “heiligheid”. Dit is verstaanbaar dat die identeit-betrokkenheid-problematiek juis die eienskap van heiligheid na vore bring, aangesien ons hier worstel met die vraag hoe die kerk “in” die wêreld kan wees sonder om “van” die wêreld te raak. Wat McGrath oor heiligheid sê is in hierdie verband daarom ook belangrik vir die term alternatief.46 Hy wys daarop dat die term heilig nie ’n morele konnotasie het nie, maar ’n teologiese betekenis. Die heiligheid van die kerk lê nie in homself nie, maar hy ontvang die gawe en word opgeroep om te word wat hy reeds in Christus is.47 Die kerk as instituut help hiermee, deur ’n ruimte te skep vir gelowiges om te vergader om die Woord en die sakramente en so te groei in die bewuswording van wat dit beteken om in Christus heilig te wees.

Die alternatiewe gemeenskap word dus nie heilig deur op ’n sekere manier te aanbid of op te tree nie. Die alternatiewe gemeenskap verloor ook nie sy heiligheid deur ’n gebrek aan handeling deur byvoorbeeld nie vir vigswesies te sorg nie. Maar indien ’n gemeente nie gerig is op die nood van die wêreld nie, plaas dit ’n ernstige vraagteken voor die gemeentelede se begrip van hulle identiteit. Die alternatiewe gemeenskap bestaan immers as ’n gestuurde gemeenskap. Betrokkenheid by die nood van die wêreld is nie ’n voorwaarde wat die reg gee om oor God te praat nie. God het reeds gepraat en sy kerk het gehoor en daarom weet die kerk sy bestaan as gestuurde kerk gerig op die nood van die wêreld. Bosch het oortuigend aangetoon dat die aard van hierdie nood nie beperk kan word tot psigiese sonde-ellende los van liggaamlike ellende nie.

Slagoffers van geweld, armes, siekes en sondaars ervaar almal ellende en die alternatiewe gemeenskap se bediening is gerig op alle mense wat geraak word. Die alternatiewe gemeenskap se betrokkenheid by hierdie mense is nie beperk tot ’n verbale getuienis van waar hulp gekry kan word nie. In soverre as wat dit moontlik is getuig die gemeente deur woorde en dade dat hulle hulp van die Here is. Woord en daad, diens en getuienis, behoort nie teen mekaar afgespeel te word nie omdat hierdie twee kante van die Christelike lewe onlosmaaklik met mekaar in verband staan. Soms is dit ’n daad wat deur woorde verduidelik word en andermaal ’n woord wat met dade bevestig word. ’n Mens moet ook versigtig wees om ’n tydsbeperking te plaas op hoe vinnig woord en daad mekaar moet volg. Soms kan ’n profetiese woord nie onmiddellik met die daad bevestig word nie en ander male neem dit soms jare voordat die geleentheid hom voordoen om ’n daad behoorlik te verduidelik. Dit is ook nie noodwendig die persoon wat ’n daad van barmhartigheid bewys het wat kans kry om dit self te verduidelik nie.

Die siening – soos gehuldig deur Verster – dat die maatskaplike en selfs politieke betrokkenheid van die alternatiewe gemeenskap nie deug nie, aangesien dit nie die taak van die kerk is om die Koninkryk van God op te rig nie, maar bloot om dit te verkondig, berus op ’n valse teenstelling. Eerstens is die diensgetuienis van die gemeente nie ’n poging om self die Koninkryk tot stand te bring nie. Dit is gewoon die dade van gelowiges wat aangespreek is deur die liefdevolle daad van Christus wat selfloos in sy bediening hom gerig het op mense in nood en daarom kan gelowiges nie anders as om na sy voorbeeld ingestem te wees op die nood van ander nie. Gelowiges sien die nood, dit vervul hulle met medelye, hulle probeer die nood verstaan, hulle dink en beplan oor hoe hulle op die bes moontlike wyse kan help, hulle ontwikkel hulpbronne om hulp te verskaf en hulle tree op.

Net soos die gemeente nie idealisties voorgee om die Koninkryk op te rig nie, net so behoort noodleniging ook nie pretensieus te spruit uit die gemeente se behoefte om sélf as weldoener gereken te word nie. Christus is die alternatiewe gemeenskap se enigste Weldoener. Daarom moet ’n gemeente seker maak dat noodleniging nie spruit uit ’n “behoefte om iewers betrokke te raak” sonder dat daar intensief geluister word na die behoefte van die persoon in nood of sonder dat daar goed besin word oor die oorsake van ’n probleem nie. Die gemeente wat gedring word om op te tree omdat hulle verstaan wie hulle is, is terselfdertyd ook geroep om dit verantwoordelik te doen deur deurdag op te tree. Deurdagte optrede is om nie halsoorkop in te storm nie, maar op gepaste optrede te besluit deur die aard en omvang van die probleem te bepaal.

Die aard van groter probleme soos armoede, MIV en vigs, misdaad, diskriminerende regstellende aksie, onoordeelkundige grondhervorming, klimaatsverandering en rassisme vereis beide individuele en kollektiewe optrede. Die kollektiewe respons vra dat institusionele hulpbronne ontwikkel en beskikbaar gestel word om sinvol op hierdie uitdagings te reageer. Die taak van die NG Kerk-familie ten aansien van hierdie probleme kan daarom nie tot ’n verbale oproep tot lidmate of profetiese verkondiging aan buite-instansies beperk word nie. Dit is vanselfsprekend dat lidmate as koninkryksburgers in die beoefening van hulle sekulêre beroepe steeds as koninkryksburgers optree en soos sout en suurdeeg die staat, universiteit en industrie moet inspireer om aan hierdie sake aandag te gee. Maar as die dominees hulle net op verkondiging toespits, word hulle professionele praters en die gemeente word ’n parasitiese instansie wat terselfdertyd die materiële basis van hulle eie bestaan omarm en verag. Want hulle ontvang geld van lidmate wat daagliks in die industrie arbei en terselfdertyd wil die instituut niks met die industrie te doen hê nie, omdat hulle reken ’n vennootskap sal die heiligheid van die alternatiewe gemeenskap in gedrang bring. Op soortgelyke wyse kan dit gebeur dat die teologiese fakulteit huiwer om met die industrie saam te werk terwyl die materiële basis vir professore se salarisse van staatsubsidies en (net soos in die geval van dominees) van lidmate kom. Die kerk as instituut vra nie vir sy lidmate om in hulle hoedanigheid as koninkryksburgers vennootskappe met die staat, universiteit en industrie te vermy nie. Waarom sou die kerk as instituut nie vennootskappe met hierdie instansies kon aangaan nie? Vir beide individuele gelowiges en die kerk in sy institusionele manifestasies is daar soortgelyke gevare. Die omvang van die probleme in die Suid-Afrikaanse konteks vereis dat gemeentes, ringe en sinodes vennootskappe met hierdie instansies sluit om hierdie uitdagings die hoof te bied. Dit is terselfdertyd ’n besondere geleentheid om teenoor hierdie instansies te getuig waarom die kerk belangstel om betrokke te wees.

4.2 Die risiko’s van vennootskappe vir die alternatiewe gemeenskap

Voordat daar op ’n aantal risiko’s gewys word vir die kerk wat op gemeente, ring en sinodale vlak in vennootskappe tree, is dit belangrik om te besef dat om geen vennootskappe aan te gaan nie, nie ’n verantwoordelike alternatief bied nie. Dit sou in stryd wees met die identiteit van die alternatiewe gemeenskap wat in wese gerig is op die heil en welsyn van die wêreld, om te weier om met sekulêre en andersdenkende individue of instansies in vennootskap te tree. Die konsekwensie vir ’n gemeente, wat in homself gekeer bloot eie gemeentestrukture in stand hou en siele voorberei vir die hiernamaals, is volgens Bosch ’n ongesonde vorm van separatisme. Wat Bosch nie duidelik genoeg sê nie is wat gedoen moet word om die institusionele kerk organisatories gerat te kry om ’n groot probleem soos byvoorbeeld armoede aan te pak. Daar is reeds gewys op Nicol se kritiek dat die uniekheid en swakheid van die kerk as alternatiewe gemeenskap in Bosch se teologie op gespanne voet staan met die vermoë van die kerk om waarlik ’n bydrae te lewer in sosiale verandering.48 Dit sou ’n misverstand wees om te dink dat die swakheid van die kruis ’n algemene oproep tot passiwiteit is. Die swakheid van die kruis verwys na selflose optrede en nie na gebrek aan optrede nie en daarom sou dit nooit as verskoning vir ’n afskeep-bediening aan noodlydendes gebruik kon word nie. Dit is ondenkbaar dat Bosch ooit sou pleit vir ’n swak of ondeurdagte bediening. Hy werk net nie duidelik genoeg uit wat dit behels in die konkrete konteks nie. Hy kon byvoorbeeld duideliker aangetoon het watter risiko’s vennootskappe vir gemeentes inhou. Die volgende risiko’s moet byvoorbeeld bedink word:

’n Gemeente begin kompeteer met sy lidmate

Heyns is bang dat ’n gemeente wat by projekte betrokke raak wat eintlik deur ander samelewingsverbande gedoen behoort te word, die gevaar loop om te begin om met sy lidmate te kompeteer. Dit sou gebeur wanneer die kerk byvoorbeeld begin met ’n boekwinkel of ’n boerdery of ’n sakeonderneming.49 Heyns se opmerking is belangrik, maar dit hoef nie te geld vir alle kerklike projekte wat op sekere gesonde sakebeginsels geskoei is of in vennootskap met die industrie tree nie. Die kerk het nog altyd deur middel van sy diakonale aktiwiteite ingemeng in die sekulêre magstryd waar die sterkste geneig is om te oorheers. Soms tree lidmate self in hierdie stryd as die sterkstes na vore en hulle word ryk. Maar in baie Suid-Afrikaanse gemeentes is die oorgrote meerderheid lidmate arm. ’n Produksie-projek wat deur so ’n gemeente aangepak word kan ten doel hê om gesinne te bemagtig sodat hulle nie permanent afhanklik van die diakonaat hoef te wees nie. Trouens, daar is dikwels nie genoeg fondse in die gemeentekoffers dat daar selfs sprake kan wees van diakonale hulp om hierdie gesinne op die been te kry nie. Die kerk wat in so ’n konteks ’n besigheidsprojek aanpak, het uit die staanspoor ’n ander motief as die industrie. Die gevare en verleidinge verbonde aan ’n vennootskap met die industrie diskwalifiseer nie die opsie as antwoord op die konkrete nood van mense wat andersins permanent op die diakonaat aangewese sou wees nie.

Dit moet verder in gedagte gehou word dat die risiko van kompetisie nie tot die vennootskap met die industrie beperk is nie. ’n Mens hoef maar net te kyk na die hermeneutiese magstryd waarin Bybelwetenskaplikes ongeskoolde lidmate uitstof wanneer dit by Bybelinterpretasie kom om die risiko van ’n vennootskap met die wetenskap te oorweeg. Vennootskappe met die wetenskap en die staat het hulle eie gevare wat nie minder riskant is as die gevare van ’n vennootskap met die industrie nie.

’n Gemeente doen swak werk op ’n terrein waarvoor hy nie gekwalifiseer is nie

Volgens Heyns kan die kerk nie oplossings aanbied vir armoede of voorkoming van natuurrampe nie en die kerk kan ook nie estetiese wette vir die kunsbeoefening voorsien nie. Dit alles is nie die taak van die kerk nie. Die kerk se taak is bloot om die beginsels en norme wat in Gods Woord opgesluit lê te verkondig, maar nie om dit toe te pas nie. Afgesien daarvan dat dit nie die kerk se taak is nie, is die kerk ook nie daarvoor toegerus nie. Die kerk het nie die kennis nie en ook nie die instrumente om dit te doen nie.50 Dit kan hier met vertroue aangeneem word dat Heyns verwys na die kerk in sy institusionele vorm en nie na die charismatiese wyse waarop die kerk as organisme bestaan waar elke koninkryksburger in die samelewing beweeg nie. Dit is verstaanbaar dat die kerk as instituut nie onder normale omstandighede moet probeer om die taak van spesialiste oor te neem nie. Heyns se gevolgtrekking dat die kerk nie oplossings kan aanbied vir armoede of natuurrampe nie omdat die kerk nie daarvoor opgelei is nie, kan egter nie aanvaar word nie. Hy is reg daarin dat die kerk nie ’n hospitaal of ’n skool of ’n winkel is of moet probeer wees nie. Maar die alternatiewe gemeenskap wat aangespreek word deur die konkrete nood van ’n spesifieke gemeenskap, kan dikwels wel ’n positiewe rol speel om in vennootskap met ander spesialisorganisasies oplossings vir hierdie probleme te vind. Daar is in die bespreking gewys hoe woord en daad nie teenoor mekaar afgespeel moet word nie en dit is presies wat Heyns doen wanneer hy die taak van die kerk tot die verkondiging van beginsels en norme – maar nie die uitvoering daarvan nie – beperk. Dit is waar dat die kerk versigtig moet wees om nie te poog om die taak van ander spesialiste oor te neem waar hulle wel dienste kan lewer nie. Die bydrae van die kerk in vennootskap is op veral twee maniere waardevol: die kerk kan kundiges bymekaar maak en die kerk kan institusionele ondersteuning verleen om projekte in areas te implementeer wat moeilik bereikbaar is vir die staat en die industrie. Uitdagings wat die Suid-Afrikaanse samelewing in die gesig staar soos MIV en vigs, armoede en geweld vereis ook dat die kerk in sy institusionele vorm hulpbronne ontwikkel. Dit beteken nie die verkondiging van beginsels en norme of die profetiese oproep tot die staat om sy verantwoordelikheid na te kom hou op nie. Maar indien die kerk dink dat hy sinvol kan reageer op hierdie nood deur bloot ’n oproep tot ander instansies te doen om in te gryp of deur bloot lidmate te motiveer om hulle bes te doen as koninkryksburgers, dan tree die kerk teen sy eie identiteit op of hy verstaan nie die aard en omvang van die probleem nie.

’n Gemeente poog om ander samelewingsverbande te verkerklik

’n Verdere risiko is dat ’n gemeente poog om alle samelewingsverbande te verkerklik. ’n Gemeente word ’n gemeenskapsentrum wat poog om alle dienste vanaf ’n koffiewinkel tot ’n sportspan, ’n kunsgalery en ’n haarkapper daar te stel. Hier kan dit selfs gebeur dat verskillende gemeentesentra met mekaar begin kompeteer! ’n Gemeentesentrum wat onkrities hierdie pad stap en nie meer in groter kerkverband kan saamwerk nie, val vroeër of later in beide die slaggate van separatisme en sekularisme. Die bedoeling van vennootskappe met instansies uit ander samelewingsverbande is nie om hierdie instansies te verkerklik of om hierdie instansies ’n onregmatige plek in die erediens te gee nie. Die erediens, waar die gemeente om Woord en sakramente vergader, bly die sentrum van waaruit die lidmate uitgestuur word om in die wêreld in te gaan. As instituut is die gemeente daarop ingestel om die liturgie, sowel as die Woordverkondiging, samesyn en samewerking van gelowiges en die diens na binne en buite die gemeentegrense te bevorder. ’n Vennootskap met niekerklike individue en instansies is nie daarop gerig om hierdie wesenlike elemente van die instituut te verander nie. Dit is juis bedoel om sinvol uitdrukking te gee aan die opdrag om teenoor die wêreld te getuig van die Hoop wat in ons leef. En die antwoord op die Liefde wat die alternatiewe gemeenskap dring, is nie net met hart en siel nie, maar ook met die verstand. Juis daarom word kundigheid uit ander verbande betrek om die gemeente se diensgetuienis na buite so effektief en sinvol as moontlik uit te voer. Maar kundigheid is maar een van die hulpbronne. Daar is ook fondse nodig en in die gevalle waar die industrie hierdie fondse kan aanbied, kan dit aanvaar word indien dit prakties help om die waardes en norme wat verkondig word te vergestalt.

’n Gemeente word geassosieer met ’n sekulêre instansie

Een van die grootste risiko’s van ’n vennootskap is dat die kritiese afstand wat nodig is om ’n profetiese getuienis te lewer in so ’n naby verhouding, kan verdwyn of ten minste bemoeilik word. Dit is moeilik om ’n befondser tot verantwoording te roep. Weereens moet hier nie alleen gedink word aan die gevaar van ’n vennootskap met die industrie nie. Dit is soms net so moeilik vir ’n teologiese fakulteit wat staatsubsidie ontvang om hom teen die staat uit te spreek. Of vir ’n professor om sy oortuiging aan die kuratorium te verantwoord. In die gemeentekonteks kan dit problematies wees indien een bank of een motorhandelaar met die gemeente saamwerk. Indien die reëls en verwagtinge in so ’n vennootskap vooraf duidelik uitgestip word, hoef dit egter nie ’n onoorbrugbare probleem te wees nie. Boonop kan daar gemeenskaplike voordeel vir die kerk en industrie wees wanneer die welsyn van die gemeenskap met ’n gesamentlike projek bevorder word. Die kerk moet bewus wees van die gevare en bereid om die vennootskap te beëindig wanneer dit sy integriteit in gedrang bring.

’n Gemeente verloor sy fokus op Woord- en sakramentbediening

Dit sou laastens aangevoer kon word dat ’n gemeente wat vennootskappe aangaan die gevaar loop om so betrokke te raak by projekte na buite die gemeente dat die fokus op Woord- en sakramentbediening daaronder ly. Dit gaan hier oor die persoonlike verantwoordelikheid van die ampte waaraan die uitvoering van hierdie take toevertrou word. Net soos woord en daad nie teen mekaar afgespeel moet word nie, net so hoef werk na buite en binne die gemeente nie dualisties teenoor mekaar gestel te word nie. Dit is in der waarheid eerder ’n geval dat die twee positief op mekaar inwerk. “Industriebesoek” kan net so vrugbaar wees soos “huisbesoek”. Goeie insig in die uitdagings van sekulêre samelewingsverbande is noodsaaklik vir die ontwikkeling van sinvolle diensgetuienisprojekte.

5. SLOT

Bosch se insig dat die kerk nie die krisissituasie van sy bestaan moet sien as ’n gevaar nie, maar as ’n geleentheid, is belangrik vir die NG Kerk-familie. Krisis is volgens Bosch juis die punt waar gevaar en geleentheid mekaar ontmoet. Die alternatiewe gemeenskap is in wese gerig op die nood van die wêreld. Die aard en omvang van die nood in die Suid-Afrikaanse konteks vereis dat die kerk institusioneel hulpbronne ontwikkel om ’n sinvolle bydrae te lewer. Vennootskappe is riskant, maar die kerk sal in stryd met sy eie identiteit optree as hy nie die geleenthede aangryp om betrokke te raak nie.

BIBLIOGRAFIE

Blaser, K. 1992. Buchbesprechungen: Transforming Mission: Paradigm shifts in Theology of Mission by David J Bosch, in Zeitschrift für Missionswissenschaft und Religionswissenschaft 76(3), pp. 222-224.

Bosch, DJ. 1991. Transforming Mission. Paradigm Shifts in Theology of Mission. New York: Orbis Books.

Bosch, DJ. 1992. The vulnerability of mission, in Zeitschrift für Missionswissenschaft und Religionswissenschaft 76(3), pp. 201-216.

Du Plessis, JG. 1990. For reasons of the heart: A critical appraisal of David J Bosch’s use of Scripture in the foundation of Christian mission, in Kritzinger, JNJ & Saayman, WA. (eds) 1990. Mission in creative tension. A dialogue with David Bosch. Pretoria: Missiological Society, pp. 109-123.

Gensichen, H. 1992 Nachruf. David J Bosch (1929-1992), in Zeitschrift für Missionswissenschaft und Religionswissenschaft 76(3), pp. 217-218.

Heyns, JA. 1986. Teologiese Etiek. Deel 2/1. Sosiale Etiek. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Heyns, JA. 1989. Teologiese Etiek. Deel 2/2. Sosiale Etiek. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Kritzinger, JJ. 1990. Mission and Evangelism. A critical appraisal of David Bosch’s views, in Kritzinger, JNJ & Saayman, WA. (eds). Mission in creative tension. A dialogue with David Bosch. Pretoria: Missiological Society, pp. 140-155.

Kritzinger, JNJ & Saayman, WA. (eds) 1990. Mission in creative tension. A dialogue with David Bosch. Pretoria: Missiological Society.

Livingston, K. 1990. David Bosch: An interpretation of some main themes in his missiological thought, in Kritzinger, JNJ & Saayman, WA. (eds). Mission in creative tension. A dialogue with David Bosch. Pretoria: Missiological Society, pp. 3-19.

McGrath, AE. 1994. Christian Theology. An introduction. Oxford: Basil Blackwell.

Nicol, W. 1990. The cross and the hammer: Comparing Bosch and Nolan on the role of the church in social change, in Kritzinger, JNJ & Saayman, WA. (eds) Mission in creative tension. A dialogue with David Bosch. Pretoria: Missiological Society, pp. 86-98.

Saayman, W. 1992. Transforming mission by David Bosch: a review article from a South African perspective, in Theologia Evangelica 25(2), pp. 37-48.

Van Rooy, JA. Review of Transforming Mission. Paradigm Shifts in Theology of Mission, by David J Bosch. In die Skriflig 26(1), 1992, pp. 111-112.

Verster, P. 1997. All-inclusive mission – A discussion of Transforming mission (1991) by DJ Bosch, in In die Skriflig 31(3), pp. 251-266.

Wethmar, C. J. 1998. Die toekoms van teologiese opleiding in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Referaat ter herdenking aan die 60ste bestaansjaar van die Fakulteit Teologie, Afdeling B, Pretoria. Ongepubliseer.

TREFWOORDE

David Bosch, Alternatiewe gemeenskap, Identiteit-betrokkenheid-dilemma, Missionêre model, Diensgetuienis

KEY WORDS

David Bosch, Alternative community, Identity-involvement-dilemma, Missionary model, Service ministry

KONTAKBESONDERHEDE

Dr Montagu Murray

E-pos: montagu_m@absamail.co.za

Kantoor by UP: 012 420 2015

Sel nommer: 072 241 2368

1 Hierdie artikel is gebasseer op navorsing wat die outeur gedoen het vir ’n DD-proefskrif getitel “Troos vir bedelaar en sondaar. ’n Teologies-Kritiese ondersoek na die verband tussen lewenspeil en verlossing van sonde in die Gereformeerde tradisie en die betekenis daarvan vir ’n Christelike lewenstyl in Suider- Afrika.” Die proefskrif is voorberei onder promotorskap van prof dr Conrad Wethmar, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria (2003).

2 Bosch, Transforming Mission, p. 427.

3 Vgl. Bosch, Transforming Mission, p. 2: “Kraemer (1947:24) formulated this as follows, ‘Strictly speaking, one ought to say that the Church is always in a state of crisis and that its greatest shortcoming is that it is only occasionally aware of it.’”

4 Vgl. Bosch, Transforming Mission, p. 2.

5 Vgl. Bosch, Transforming Mission, pp. 3-4.

6 Vgl. Bosch, Transforming Mission, p. 7.

7 Vgl. Bosch, Transforming Mission, pp. 10-11.

8 Vgl. Bosch, Transforming Mission, pp. 31-32.

9 Vgl. Bosch, Transforming Mission, p. 33.

10 Vgl. Bosch, Transforming Mission, p. 33: “…there is, in Jesus’ ministry, no tension between saving from sin and saving from physical ailment, between the spiritual and the social.”

11 Bosch, Transforming Mission, p. 398.

12 Vgl. Bosch, Transforming Mission, p. 400: “From the tension between the ‘already’ and the ’n t yet’ of the reign of God, from the tension between the salvation indicative (salvation is already a reality!) and the salvation subjunctive (comprehensive salvation is yet to come!) there emerges the salvation imperative – Get involved in the ministry of salvation (Gort 1988:214).”

13 Vgl. JNJ Kritzinger & WA Saayman (eds) 1990, Mission in creative tension, A dialogue with David

14 Verskeie teoloë merk hierdie kreatiewe spanning in Bosch se teologie op. (Vgl. Blaser, in Zeitschrift für Missionswissenschaft und Religionswissenschaft 76(3), p. 223; JG du Plessis, in Mission in creative tension, p. 75; Gensichen, in Zeitschrift für Missionswissenschaft und Religionswissenschaft, 76(3), p. 217; Kritzinger, Mission in creative tension, p. 141.)

15 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 96.

16 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 92. Vgl. Livingston, Mission in creative tension, pp. 11-12 wat reken Bosch span die alternatiewe gemeenskap-konsep in om uitdrukking te gee aan die teologiese verhouding kerk en wêreld én as konseptuele sowel as praktiese strategie in die stryd om geregtigheid in Suid-Afrika. Livingston meen verder Bosch is gestimuleer tot die gebruikmaking van die alternatiewe gemeenskap-gedagte deur Mennonitiese teoloë soos John Howard Yoder (Vgl. Livingston, Mission in creative tension, p. 12).

17 Vgl. Livingston, in Mission in creative tension, pp. 4-5.

18 Saayman, in Theologia Evangelica 25(2), p. 46.

19 Vgl. Verster, in In die Skriflig 31(3), p. 258.

20 Verster, in In die Skriflig 31(3), p. 253.

21 Verster, in In die Skriflig 31(3), p. 263.

22 Verster, in In die Skriflig 31(3), p. 254.

23 Verster, in In die Skriflig 31(3), p. 264.

24 Kritzinger, in Mission in creative tension, p. 143. (Vgl. DJ Bosch 1984, Mission and evangelism: clarifying the concepts, Zeitschrift für.Missionwissenchaft und Religionswissenschaft, 68(3), pp. 161-191.)

25 Kritzinger, in Mission in creative tension, p. 143.; (DJ Bosch, Evangelism: Theological currents and cross-currents of our time, in: The relevance of evangelism in South Africa today, Johannesburg: SACC, 1986, pp. 39-50.)

26 Kritzinger, in Mission in creative tension, p. 150 haal Bosch in Zeitschrift für Missionswissenschaft und Religionswissenschaft 68(3), pp. 161-191 aan: “Evangelism is the core, heart or centre of mission; it consists in the proclamation of salvation in Christ to non-believers, in announcing forgiveness of sins, in calling people to repentance and faith in Christ, in inviting them to become living members of Christ’s earthly community, and to begin a life in the power of the Holy Spirit.”

27 Kritzinger, in Mission in creative tension, p. 146.

28 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 88.

29 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 87.

30 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 87.

31 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 87.

32 Nicol skryf die a-historiese tendens by Bosch toe aan die Barthiaanse invloed op Bosch se teologie. God is die Gans Andere wat alle menslike optrede beoordeel. Daarom moet die kerk distansie van historiese ondernemings behou om krities te bly.

33 Dit is ook teen hierdie agtergrond dat Bosch se aansluiting by ’n Mennonitiese teoloog soos John Yoder gesien moet word. Die term “alternatiewe gemeenskap” het Bosch uit Mennonitiese bronne ontleen. (Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 90.)

34 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 90.

35 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 90.

36 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 90. (Nicol gee een verwysing naamlik DJ Bosch, A spirituality of the road Scottdale: Herald, 1979, p. 9.)

37 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 91.

38 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 91.

39 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 92.

40 Nicol, in Mission in creative tension, p. 96.

41 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 86.

42 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 96.

43 Vgl. Kritzinger, in Mission in creative tension, p. 154.

44 Vgl. Kritzinger, in Mission in creative tension, p. 154.

45 Vgl. Van Rooy, in In die Skriflig, 26(1), p. 112: “As daar een opsig is waar sy [Bosch se] aksente van die ‘Dopper-Gereformeerdes’ verskil, dan lê dit daarin dat hy in die marturia van die kerk aspekte van sending soos diakonia en koinonia gelykwaardig aan kerugma stel, terwyl ons die prioriteit van die Woordverkondiging handhaaf sonder om die ander aspekte van marturia te verwaarloos.”

46 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 86.

47 Vgl. AE McGrath 1994, Christian Theology. An Introduction. Cambridge: Blackwell.

48 Vgl. CJ Wethmar 1998, Die toekoms van teologiese opleiding in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Referaat ter herdenking aan die 60ste bestaansjaar van die Fakulteit Teologie, Afdeling B, Pretoria. Ongepubliseer.

49 Vgl. Nicol, in Mission in creative tension, p. 86.

50 Heyns, Teologiese etiek, Deel II, 2, p. 324.