’n Historiese perspektief op onderwys en opvoeding
ABSTRACT
A historical perspective on education and training
Seen from the Christian point of view, it seems as if education and training in South Africa finds itself in a crisis situation. An example of a similar crisis that was successfully averted is taken from the history of the Zuid-Afrikaansche Republiek. Christian education and training helped to form the people living in the Zuid-Afrikaansche Republiek into a Christian nation and to build a country with Christian customs and laws. This example taken from history, serves to empowers and inspires Christians today to take up the responsibility and personally provide Christian education and training for the youth. There is no need to depend on the State schools to provide the crucial, non-negotiable basic foundation to education. Christians have to take responsibility for and ownership of their faith and the proper education of their children.
1. INLEIDING
Al hoe meer ouers onttrek hulle kinders uit staatskole en skryf hulle by tuisskool diensverskaffers, privaat skole of kerkskole in (www.pestalozzi.org). Hoewel die redes hiervoor van gesin tot gesin verskil, is daar tog ’n klompie redes wat uitstaan. ’n Sterk afkeur in die inhoud van die kurrikulum, veral ten opsigte van Lewensoriëntering, en die standaard van onderwys in die staatskole, veral in ’n vak soos wiskunde is die belangrikste redes waarom ouers na alternatiewe soek. Kinders wat graag vakke soos geskiedenis en Bybelkunde (die alternatief in staatskole is godsdiensstudies) wil neem is nie tevrede met wat die staatskole bied nie. Verder is baie ouers is bekommerd oor hulle kinders se veiligheid by skole. Die resultate wat polisie klopjagte by skole oplewer skok ouers in so ’n mate dat hulle kinders uit die staatskole onttrek word. Ouers wat dogters op skool het, kla ook oor onhigiëniese toestande by skole.1
Dit lyk dus asof die probleme wat tans in staatskole ondervind word nie net op onderwys (vakinhoude en standaarde) fokus nie, maar ook opvoeding (godsdiens, veiligheid, sekuriteit en higiëne) insluit. Onderwys kan gedefinieer word as die verkryging van kennis deur onderrig en studie terwyl opvoeding as karakterbou gesien word deurdat norme en waardes aangeleer en vasgelê word. As in ag geneem word dat byna 80% van die Suid-Afrikaanse bevolking hulleself as Christene beskou (Statistics SA:2004), is die probleme wat ondervind word ten opsigte van opvoeding, kommerwekkend.
Ten einde riglyne aan gelowiges te bied oor hoe die opvoedingskrisis aangespreek kan word, dien ’n baie klein deeltjie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis as voorbeeld uit die verlede. Christene in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR 1853-1902) het soortgelyke probleme oorkom en die geweldige impak wat dit op die Suid-Afrikaanse samelewing gehad het, kan as inspirasie dien vir die huidige geslag Christene. Die opvoeding van die jeug is steeds in die hande van elke gelowige ouer. Die uitkoms daarvan beïnvloed nie net die huidige samelewing nie maar ook die jeug se ewige toekoms. Tog lyk dit asof gelowiges versekering en aanmoediging nodig het en dat hulle vir hierdie taak toegerus en bemagtig moet word. Hierin behoort die kerk ’n aktiewe rol te speel.
2. ONDERWYS IN DIE ZAR
“True, the Cape is where it all started, Natal where the spear-washing battles were fought, but it is to the Transvaal one must return to understand the soul of South Africa.” Dit is die mening van Tingay and Johnson (1978:11) in die Transvaal epic. Die historiese fokus van die artikel val op die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) waar die invloed van Christelike opvoeding so groot was, dat dit die hele samelewing beïnvloed het, selfs jare na die beëindiging van die Republiek. Die huidige situasie ten opsigte van onderwys en opvoeding kan in talle opsigte vergelyk word met die situasie waarin die bewoners van die ZAR hulle bevind het. Die optrede van die gelowiges in daardie omstandighede dien as voorbeeld vir die huidige situasie.
2.1 Faktore wat onderwys in die ZAR beïnvloed het
Die vermoë om die Bybel te kon lees en so effens te kon skryf, was die enigste onderwys wat die meeste kinders wat in die ZAR opgegroei het, ooit ontvang het. Die belangrikste vereiste om lidmaat van die kerk en volwaardige lid van die samelewing te word, was dat persone die Bybel kon lees (Malherbe 1925:224). Die manier waarop hierdie basiese onderwys bekom is, het ’n groot bydrae gelewer tot die vorming van ’n samelewing waar die Christelike geloof vir ongeveer ’n eeu lank as die dominante geloof die samelewing op alle vlakke beïnvloed en oorheers het.
2.1.1 Onderwyswetgewing
Die Kaapse goewerneur MP De Chavonnes het die eerste onderwyswet in 1714 opgestel (Du Toit 1944:21). Dit was ’n opsomming van die bestaande gebruike en beginsels wat saam met die setlaars uit Nederland gekom het. In die inleidende gedeelte stel hy dat die jeug onderrig moes word sodat hulle geloof in God sou hê en sodat ware kennis van God in hulle woorde en aksies weerspieël sou word (Greyling 1946:31). Hierdie wet het as riglyn vir die onderwys bly dien tot 1795 en in die landelike gebiede van Suid-Afrika vir nog jare daarna, totdat die Voortrekkers die binneland ingetrek het (Fourie 1954:4). Die kerk, wat gesien is as die staat se vennoot ten opsigte van onderwys, het ’n groot invloed uitgeoefen ten opsigte van die opvoeding van die jeug (Greyling 1946:67).
Gedurende die Groot Trek en veral in die vroeë jare na die vestiging noord van die Vaalrivier, was die kerk-staat verhouding ‘gevaarlik vermeng’ en dit het aanleiding gegee tot ’n unieke regeringstelsel waarin kerklike ampsdraers ’n belangrike rol gespeel het (Spoelstra 1988:47). Selfs nog voor die amptelike onafhanklikheid van die ZAR, is die groot klem wat op onderwys en opvoeding geval het, in die eerste konstitusie verwoord. Artikel 24 van die konstitusie wat deur die Volksraad op 9 April 1844 te Potchefstroom aanvaar is, stel dat die volk verwag dat hulle kinders deur godsdienstige skoolmeesters geleer sal word (Vereniging van onderwijzers en onderwijzeressen in Zuid-Afrika 1918:45).
Politieke- en kerkleiers wou ’n vaste basis vir onderwys vestig en daarom is daar voortdurend wette geformuleer en aangepas om die standaard van onderwys te monitor. Predikante sowel as skoolmeesters het gehelp om die wette te formuleer en toe te pas. Hier word slegs kortliks verwys na die eerste en laaste wette rakende onderwys in die ZAR om uit te wys dat die Christelike geloof die fondasie van alle onderwys was en dat dit opvoeding ingesluit het.
13 Artikels wat oor onderwys handel is in 1852 deur Hendrik van der Linde, die eerste voltydse skoolmeester in Potchefstroom opgestel en deur die staat goedgekeur (Wessels 1954:14). Die vyfde artikel stel dat die skoolmeester ’n Christelike perspektief moet gee op elke ding wat hy die kinders leer (Lugtenburg 1925:261-262).
Veertig jaar later, in 1892 is ’n onderwyswet deur Mansvelt opgestel om Christelike Nasionale Onderwys te bevorder. Hierin word dit duidelik gestel dat dit die taak van die ouers was om verantwoordelikheid te neem vir die onderwys en opvoeding van hulle kinders. Die staat sou die ouers bystaan deur hulp, leiding en geld te voorsien Prinsloo (1972:32,33). Alle onderwysers moes lede van Protestantse kerke wees en alle skoolhandboeke moes in Hollands wees (Patterson 1957:221). Hierdie wet het ook die verpligte kategese onderrig tydens skoolure teruggebring (Greyling 1946:78).
2.1.2 Isolasie
Die mense wat in die binneland gebly het, was in ’n groot mate geïsoleerd van die buitewêreld. Daar was nie juis drukperse waar koerante en boeke gedruk kon word nie. ’n Effektiewe posstelsel het ontbreek en nuus en idees het stadig versprei aangesien die enigste vervoermiddels ossewaens en perde was (Grobbelaar 1974:158). Die gevolg was dat mense gelees het wat hulle by hulle gehad het, naamlik die Bybel. Hulle kennis, idees en wêreldbeeld is deur die inhoud van die Bybel gevorm. Hulle kinders se opvoeding en onderwys het ook rondom die inhoud van die Bybel gedraai.
2.1.3 Tekort aan arbeiders en nomadiese leefstyl
Net soos in die Kaap, voor die Groot Trek, was betroubare arbeiders skaars en het dit die boere genoodsaak om hulle kinders as arbeiders te gebruik (Barnard 1971:45). Die plaaswerk het gewoonlik baie tyd in beslag geneem en onderwys het gewoonlik eers na donker plaasgevind (Stockenström sa:225) terwyl intensiewe geloofsonderrig veral op Sondae gedoen is (Du Plessis 1900:312).
Gedurende die koue wintermaande is daar na die warmer bosveld of laeveld verhuis om te jag en in hierdie tyd is daar gewoonlik geen aandag aan formele onderwys gegee nie (Barnard 1971:43) maar is die opvoeding nie agterweë gelaat nie.
2.1.4 Armoede
Die ekonomiese ontwikkeling van die inwoners van die ZAR is baie kompleks. Hoewel heelwat Trekkers welgesteld was toe hulle die Kaap verlaat het, het die trekpad sy tol geëis met vure, vol riviere, veediefstal, siektes, ongelukke en oorlog. Dit het baie van die Trekkers verarm. Selfs papier en ink het luukse items geword (Rompel-Koopman 1916:13). Ander kon nie daarin slaag om hulle eiendom te verkoop voordat hulle getrek het nie en het alles net so gelaat en gevolglik groot finansiële verliese gelei (Pelzer 1941:123). Dit het tot gevolg gehad dat die meeste families nie die dienste van voltydse skoolmeesters kon bekostig nie. In die meeste gevalle is ’n deeltydse meester vir ’n tydperk van drie tot ses maande gehuur, veral wanneer een of meer van die kinders oud genoeg was om geloofsbelydenis af te lê (Barnard 1971:44).
2.1.5 Min opgeleide skoolmeesters
Jeppe (1906:77) verwys na die feit dat feitlik enige iemand wat vlot kon lees en skryf, hulleself as skoolmeesters beskikbaar gestel het. Uitgetrede soldate, klerke en rondlopers het hulleself as skoolmeesters aangebied en hulle dienste is oor die algemeen gretig aanvaar. In die meeste gevalle is hierdie ‘skoolmeesters’ egter nie vertrou om godsdienstige onderrig te gee nie en het hierdie taak op die skouers van die ouers gerus wat op ’n daaglikse basis hieraan aandag gegee het (Van Rooyen 1940:56).
2.1.6 Politieke en sosiale onrus
Selfs voor die Groot Trek was die bevolking verdeel in politieke groepe, elkeen met sy eie leiers en ideale. Gedurende en na die trek het hierdie verdelings verbreed en op een stadium was die ZAR in vier streke verdeel, elkeen met sy eie leiers en wette, wat opgebou het tot ’n burgeroorlog tussen 1861 en 1864 (Van Jaarsveld 1971:156). Kerkleiers en skoolmeesters het aan hierdie strominge deelgeneem wat hulle fokus van die onderwys en opvoeding van die jeug af weggeneem het. Daar was ook onenigheid tussen die verskillende predikante wat sake verder gekompliseer het en die onderwys benadeel het (Barnard 1971:44).
Die ontdekking van goud het verrykende sosiale gevolge gehad. Talle fortuinsoekers was spoedig so verarm dat die staat vir hulle behuising en kos moes voorsien (Pelzer 1941:190). Hierdie toestande was uit die aard van die saak nie bevorderlik vir die saak van onderwys en opvoeding nie.
Die meeste van die bogenoemde probleme kon oorkom geword het as die staat in staat was om finansieel te help maar die staatskas was leeg. Die advies van die Volksraad aan die ouers was om te fokus op die ’noodsaaklike’ skryf-, lees- en wiskundige vaardighede (Barnard 1971:44).
2.1.7 Skielike veranderinge
Gedurende die tweede helfte van die bestaan van die ZAR het die meeste van die bogenoemde faktore drasties verander. Na die ontdekking van goud het die arm, afgesonderde land in die Afrika wildernis ’n fokus punt op die wêreldkaart geword. Ontwikkeling het oornag plaasgevind. Binne 12 jaar het die ZAR die wêreld se grootste produsent van goud geword, wat 27,5% van die staatsinkomste gegenereer het (Preston 1989:82).
Teen 1873 was daar 17 000 mense wat in die ZAR gebly het en geen dorp het meer as 300 inwoners gehad nie (Hattersley 1969:227). In 1878, nadat goud ontdek is in Oos Transvaal het die bevolking tot byna 40 000 gestyg waarvan ongeveer 16% buitelanders was (Preston 1989:63). Teen 1880 was die bevolking 50 000 en teen 1895 was dit meer as 250 000 met 50 000 mense in Johannesburg alleen.
Isolasie was nie meer ’n probleem nie. Paaie, brûe en spoorlyne is gebou en het die binneland toeganklik gemaak. Die goudstormloop het kommunikasie bevorder en die probleem van armoede help verlig. Boere het markte gehad waar hulle produkte verkoop kon word en die verbeterde finansiële situasie het beter geleenthede vir onderwys gebring.
Die eerste drukpers het in 1857 in die ZAR aangekom (Nienaber 1943a:95). ’n Weeklikse koerant, De Oude Emigrant, is in Potchefstroom gedruk. Die eerste dagblad was die tweetalige gevoude blad wat The Transvaal Argus, geheet het en in 1866 in Potchefstroom gedruk is (Tingay, Johnson 1978:75). Die volgende jaar het koerante soos De Republikein, Digger News, Witwatersrand Advertiser and Mining Argus in Johannesburg verskyn (Nienaber 1943b:102).
Politieke en sosiale onrus het egter deel van die ZAR se bestaan gebly tot teen die einde van die tweede Anglo-Boereoorlog.
Hoewel die faktore wat onderwys en opvoeding beïnvloed het, radikaal omgekeer het vanaf die eerste helfte van die ZAR se bestaan na die tweede helfte daarvan, en ons dus ook radikale verandering op die gebied van onderwys en opvoeding te wagte sou wees, is dit nie die geval nie. Ten spyte van die ontwikkelings en veranderings, het die onderwys en opvoeding op ’n standvastige basis bly voortbestaan en was die invloed daarvan so groot dat dit in bepalende rol gespeel het in die politieke, sosiale en ekonomiese geskiedenis van die ZAR. Dit is dus belangrik om vervolgens te fokus op die inhoud van die onderwys en opvoeding.
2.2 Die kurrikulum
in die onderwys en karakter van die mense juis hulle oorsprong gehad het in die boeke wat vir onderwys gebruik is. “The Boer of the Transvaal presents a remarkable instance of a population that has been almost stationary for two centuries in manners, customs and education” (Garrett- Fisher 1900:34). Mansvelt (1902:15) is van mening dat die Hollandse Bybel mense gehelp het om hulle taal en kultuur te bewaar in die ongelyke stryd teen die Engelse taal en Engelse kultuur wat die geldmag, politieke oormag en mode aan hulle kant gehad het.
Die kurrikulum wat gevolg is, kan in drie dele verdeel word. Omdat daar van die kinders verwag is om die Bybel te kon lees, moes hulle basiese grammatikale vaardighede aanleer. Hiervoor is die Bybel as handboek gebruik saam met ander boeke, wanneer dit beskikbaar was. Die tweede deel van die onderwys het uit sangopleiding bestaan. Die liedere was geestelik van aard en is uit verskeie sangbundels geleer. Die inhoud het hoofsaaklik op karaktervorming gefokus (Oliver 2005:114-117).
Op Sondae het die hele familie vergader vir ’n formele erediens wat gewoonlik deur die familiehoof gehou is. Die kinders het hierdie geleenthede bygewoon en dit is gesien as addisionele onderrig geleenthede. Selfs die kleuters en babas was deel van die verrigtinge (Stuart 1854:209).
2.2.1 Boeke wat as handboeke gebruik is
Gewoonlik het die Groot ABC boek en die Trap der Jeugd die basis gevorm van die eerste formele onderrig, maar indien hierdie boeke nie beskikbaar was nie, is die Bybel hiervoor gebruik. Alle ander boeke is eenvoudig as ‘anti-Christelik’ afgemaak (Weilbach, Du Plessis 1882:24).
Die Bybels wat gebruik is, was die groot swaar uitgawes van die Statenvertaling, waarvan sommige in 1648 gedruk is. Charl Cilliers het ’n Lutherse Bybel gehad wat in 1702 gedruk is (De Villiers 1938:131) en selfs die skaars Deus-aes Bybel is in die waens en huise van die Voortrekkers en setlaars gevind (Steenkamp 1939:78).
2.2.2 Sangonderrig as deel van die kurrikulum
Die tweede deel van die onderwys leerplan het op gelyke voet met die eerste gestaan. Die setlaars het die Psalmboek van Petrus Datheen, eerste druk in 1566 in Nederland, saamgebring en dit met die melodieë van Calvyn se Psalmboek van 1562 (Cillie 1983:1) gebruik. Die Ordonantie van de School Ordening van goewerneur De Chavonnes (1714) het gestipuleer dat kinders die sang van psalms gedurende skool ure moes oefen sodat hulle die gemeentes kon help om beter te sing op Sondae (Cillie 1985:8). Die Geneefse Psalmboek is in 1775 na Suid-Afrika ingevoer en was in gebruik in die kerk tot in 1944 (Van der Merwe 1949:55). Ander geestelike sangbundels soos die Kinderharp en die Zionsliederen het gou deel geword van die musiek tradisie (Oliver 2005:118). Handgeskrewe liedere is ook gevind tussen die bladsye van die ou Bybels of in joernale en manuskripte van die Voortrekkers. Dit dien as bewys die geestelike ingesteldheid en voorliefde vir musiek en sang (Van Rooyen 1940:27-30,37).
Spoelstra is van mening dat die ouer mense sang selfs hoër as skryfkuns en wiskunde geag het (Spoelstra 1922:63). Alle kinders moes selfs die moeilikste wysies kon sing (Spoelstra 1922:63). Melodieë van die 19de eeuse geestelike liedere is in die C sleutel geskryf en die musieknote is aangeleer deur dit op die vingers uit te wys (Dreyer 1988:57). Sang is gebruik om emosies uit te druk en is hard en duidelik gesing, elke oggend en aand tydens huisgodsdiens (Stuart 1854:208). Kinders is dikwels gevra om die sang by hierdie geleenthede te lei (Stockenström sa:225). “Onder alle omstandighede, in tye van vreugde en swaarkry, in goeie en slegte tye, het Afrikaners met hulle hele hart uit volle bors gesing. Dit is asof die sang die mense saamgebind en hulle krag gegee het” (Cillie 1985:11).
Na die Groot Trek het die klem op sangopleiding steeds baie sterk gebly. ’n Program vir die eksaminering van leerlinge van die Staatskool in Pretoria in 1868 dien hier as voorbeeld:
gedurende die oggendsessie is 7 items vir eksaminering ingesluit waarvan 3 sang items was (selfs sang in vier verskillende sleutels). Twee van die sewe items op die program vir die middagsessie was ook sang (Vereniging van onderwijzers en onderwijzeressen in Zuid-Afrika 1918:112).
Die inhoud van die liedere, gedigte en gesange wat die kinders moes leer en kon sing, het gefokus op deugde, goeie maniere, Bybelse waarhede en die uitleef van die gebooie (Oliver 2005:114-117). Dit het dus gedien as die onderbou en bron vir die opvoeding.
Die gevolg van die intensiewe karakterontwikkeling wat hand aan hand gegaan het met basiese onderwys wat geskoei was op die Bybel, het tot gevolg gehad dat die samelewing bepaalde karaktertrekke ontwikkel het wat in landswette, sosiale optrede en die kultuur van die volk neerslag gevind het.
3. DIE ONTWIKKELING VAN ’N CHRISTELIKE VOLK
Die unieke karakter van die Suid-Afrikaanse bevolking, wanneer dit teenoor die karakter van ander volke wat gedurende dieselfde tyd in verskillende dele van die wêreld ontwikkel het, geplaas word, onderstreep die Christelike geloof as die sleutel faktor wat die nasie gevorm het. Spasie ontbreek om ’n kritiese analise van die ontwikkeling van die verskillende nasies op verskillende kontinente te maak, maar ’n kort oorsig sal die ware impak wat Christelike onderwys en opvoeding op die Suid-Afrikaanse bevolking gehad het, uitwys.
Die Voortrekkers en hulle kinders was eiewys individue. Daar is heelwat geskryf oor die politieke dwarstrekkery en onenigheid (Giliomee 2003:190). Onmin, rugstekery, bloedvergieting, verraad en gebrek aan dissipline en nog baie ander dinge waarop geen mens trots kan wees nie, vul die bladsye van Suid-Afrikaanse geskiedenis boeke. Tog is hierdie sake nie uniek nie. Engelenburg sê dat ‘sieklike fyngevoeligheid en selfgesentreerdheid’ ook deel uitgemaak het van die karakter van die kruisvaarders, die Spaanse conquistadores, die agtiende eeuse Engelse koloniste in Noord Amerika en die 19de eeuse nedersetting in Australië (Engelenburg 1925:8).
Between the exodus of the Boers and other colonizing movements in the nineteenth century similarities are easily discerned. The thrust of Australian sheepmen into the interior grasslands, the land rushes of the American West, the Old Testament character of the Mormon treks – these are full of reminders of the Great Trek. In all unsettled regions there was the same eagerness for cheap or free land, the same impatience of the demands and delays of government, whether in Washington or Downing Street, Sydney or Cape Town (De Kiewiet 1941:57).
Aan die ander kant is daar ook duidelik aanwysbare verskille tussen die pioniers van Suidelike Afrika en die op ander kontinente. Nepgen haal Henry Cust se woorde hieroor aan: “The historical and racial factors in South Africa have combined to evolve organic and social and political types which are to be found nowhere else in the world” (Nepgen 1938:47). Ander sien die rede vir die onderskeid in iets heeltemal anders, naamlik geloof:
Elsewhere, too, of course, pioneers have dared much, have taken their lives in their hands and have suffered, as here, untold privations. But elsewhere they had some succour to fall back upon; they knew that they would be followed by other bands, to avenge even if they came too late to save them. Here often the ‘trek’ had no hope of help from others, no one to rely upon except themselves – and their God. The religious sentiment in the Boer has been often scoffed at; it certainly sometimes verges on cant, and naturally it is not equally sincere in all individuals; but upon the whole it is unfeigned and deep-seated; and if proof dreaded, terrors of the wilderness without absolute reliance on the Lord of Hosts (Jeppe 1906:75,76).
In skerp teenstelling met die Amerikaanse ontwikkeling waar ook oorloë met inheemse stamme beleef is, ook onafhanklikheidsoorloë geveg het, ’n ossewa trek gehad het en ’n goudstormloop beleef het, het die Suid-Afrikaanse samelewing ontwikkel aan die hand van die Calvinistiese geloof en nie aan die hand van die invloed van die verligting nie (Brook 2006). Daarom is die tipiese Amerikaanse leefstyl van sterk drank en vroue in kroeë en die oormatige gebruik van vuurwapens nie deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie. Inteendeel, die konserwatiewe Calvinisties-Christelike wêreldbeeld het nie net die godsdienstige toestande in die land beïnvloed nie maar ook die politieke, juridiese, ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling daarvan.
Meyer is van mening dat die Suid-Afrikaners die enigste volk is wat ontstaan het as ’n Calvinistiese volk (Meyer 1940:27). Die resultaat is ’n unieke volk met ’n konserwatiewe uitkyk op die lewe wat die samelewing se funksionering vir meer as 300 jaar na volksplanting bepaal het. Winkels en kroeë was gesluit op Sondae en later moes flieks en teaters by hierdie wetgewing inval. Die Christelike kalender het openbare vakansiedae bepaal. Selfs die twintigste eeuse instellings soos Christelike Nasionale Onderwys, die wêreldberoemde wildparke en die invloed van die kerk in die vorming van die wêreldbeeld en dag tot dag politiek sowel as die talle welsynsorganisasies is alles direkte gevolge van die Christelike wêreldbeeld en die negentiende eeuse Christelike onderwys en opvoeding. Een van die uitvloeisels hiervan wat vandag steeds sigbaar is, is die feit dat die Suid-Afrikaanse samelewing statisties as ’n Christelike volk gereken word.
Christelike onderwys en opvoeding was die ruggraat van die ontwikkelingsproses van die ZAR. Dit het die persoonlikhede van individue beïnvloed, hulle siening oor die lewe en ook die manier waarop die kerk bedryf is. Die krag van die geloofsgrondslag van die volk is getoets deur die aanslag van die Britse ryk en die fortuinsoekers van die wêreld. Christelike onderwys het as skild gedien en het die Afrikaners daarteen beskerm dat hulle nie hulle identiteit, taal, spiritualiteit en uniekheid verloor het nie. Dit het hulle verskans teen die opname in en oorname deur die Engelse manier van leef en dink. Britse geld, mag en gewoontes kon nie daarin slaag om die volk se identiteit te oorspoel of te verander nie. Afrikaners wat geweier het om te konformeer en wat getrou gebly het aan hulle Christelike opvoeding, het die visioene van ’n Britse Suid-Afrika in skerwe laat spat.
5. DIE HUIDIGE SITUASIE IN SUID-AFRIKA
Vandag is die toestande in Suid-Afrika in heelwat opsigte die inversie van die toestande wat geheers het in die ZAR. Die ekonomiese basis van die land het verskuif vanaf landbou na industrie en die konserwatiewe wêreldbeeld van die 19de eeu het plek gemaak vir ’n post moderne samelewing. Na 1994 is gepoog om aan alle godsdienste gelykwaardigheid te gee. Etniese Afrika- godsdienste, Islam, Hindoeïsme, Humanisme en sinkretisme is bevorder ten koste van die Christendom (Johnstone, Johnstone, Mandryk 2000:577). Christelike onderwys en opvoeding was
’n bestendige deel Suid-Afrikaanse samelewing vir die grootste gedeelte van die geskiedenis. Sedert 1994 is die Christelike basis van onderwys verwyder en is dit moeilik om tred te hou met die voortdurende veranderings wat op hierdie gebied plaasvind.
Maar nie alles het verander nie. Politieke en sosiale onrus is steeds aan die orde van die dag. Armoede is besig om te groei teen ’n kommerwekkende pas. Passielose onderwysers kan steeds nie vertrou word om verantwoordelikheid te neem vir die onderrig en opvoeding van kinders nie. Interne politiek en konflik neem steeds die tyd en aandag van die kerk in beslag. Ten spyte van die moderne samelewing met al sy hulpmiddels en ondersteuning, lyk dit dus of gelowige ouers steeds, soos in die vorige eeue op hulleself aangewese is om toe te sien dat hulle kinders kwaliteit onderwys en opvoeding ontvang.
Regdeur die Suid-Afrikaanse geskiedenis was dit Christelike onderwys en opvoeding wat in ’n mate daarin kon slaag om Suid-Afrikaners saam te bind. Dit was die een ding waaroor gelowiges saamgestem het: hulle wou onderwys op die Christelike geloof vasgestel hê en die opvoeding van die kinders moes aan die hand van die Christelike geloof geskied. Wanneer daar na die huidige situasie gekyk word en oor die toekoms van die land en sy mense gespekuleer word, moet ons besef dat geloof en die Christelike opvoeding steeds die enigste wapens is waarmee gelowiges die wêreld kan aandurf en verander. Net soos die Britse ryk nie daarin kon slaag om Suid-Afrika te verengels nie, net so sal die huidige politieke bestel nie daarin kan slaag om die Christelike geloof te vernietig nie indien die basis van Christelike opvoeding, wat in die eerste plek verantwoordelik was vir die ontstaan van die Christelike volk, onbeweeglik en standvastig gehou word. Die moontlike impak wat individue en groepe op die samelewing het, mag nie onderskat word nie.
Preller het gesê dat, net soos die individu, volke nie leer uit vorige ondervindings nie (Du Plessis 1965:157). Indien Christene bewus gemaak word van die krag en waarde van hulle erfenis en geloof, hulle regte en voorregte betreffende onderwys en opvoeding, kan dit groot impak hê op die Suid-Afrikaanse samelewing en hoef hierdie woorde nie waar te word van die huidige geslag nie. Dit is egter die kerk se taak om hierdie boodskap aan gelowiges deur te gee op alle moontlike maniere.
Die verantwoordelikheid van ouers as onderwysers en opvoeders moet duidelik en onomwonde deur die Christelike kerk gekommunikeer word. Die vervulling van doopbeloftes kan vandag nie meer na die skool en Sondagskool/kinderkerk/kategese verplaas word nie. Ouers moet dit op hulle self neem om toe te sien dat kinders behoorlike geloofsopvoeding ontvang. Francis Xavier het gesê: “Gee my in kind vir die eerste sewe jaar van sy lewe en jy kan met hom doen wat jy wil daarna” (Castle 1983:32). Die geskiedenis (Kommunisme en die Rooms Katolieke Kerk) het hierdie woorde waar bewys. “The home is, and always has been, the primary educational influence in the bringing about [of] faith in man” (Staples 1980:36). Tog het die postmoderne samelewing daarin geslaag om mense te verwar aangaande die invloed van basiese geloofsopvoeding. Ek is van mening dat Geyser reg is wanneer hy sê dat die antwoord op die onderwys en opvoedingskrisis wat gelowiges ervaar, op verkeerde plek gesoek word.
New leaders are groping in all directions for ‘solutions’ to our ‘problems’ and on the whole the dictates of the greatest and most effective mind forming force of all time, the Bible, is sadly passed by. This time proven book on change, the change of man, his heart and his relationships, should serve as the basis of our approach and in Religious Education the Bible should occupy a decisive position both at home and at school (Geyser 1980:22).
Hierop brei Malan uit as hy Du Plessis aanhaal:
I share the view with many others that the young people are taught religion but they do not see it in action and do not experience it themselves – hence their lack of interest in what seems to them an irrelevant activity … If we want people to accept an ultimate authority of right and wrong, good and evil, we must demonstrate goodness in our daily lives, we must demonstrate our beliefs by our actions and involve the young in such activities – designed to inculcate a concern for mankind – a love of which transcends the individual self-interest (Malan 1985:50).
Staples (1980:36) sê “[t]hat the Church, the State and the home are partners in the task of proclaiming and extending the kingdom of God.” Die meeste gelowiges stem hiermee saam. Net soos die Christelike kerk en die Christelike staat, is die Christelike skool ’n aardse manifestasie van die liggaam van Christus (Van der Walt, Dekker, Van der Walt 1983:265). Maar hierdie skool hoef nie noodwendig dieselfde geografiese plek te wees as waar die kind Wiskunde en Geskiedenis leer nie. Die skool van Christelike onderwys en opvoeding moet verkieslik die ouerhuis wees. Dit is die plek waar Christelike waardes en norme gekweek en vasgelê behoort te word. Ten spyte van ’n sekulêre staat en skole waar Christelike beginsels nie meer geld nie, het Christene steeds die vryheid om te kies. Hulle is vry om te lees wat hulle wil, om hulle kinders te leer wat hulle belangrik ag en om op te tree in ooreenstemming met hulle geloofsbeginsels en –oortuigings. Engelbrecht vra tereg of ons die regte waardes en norme aan die opkomende geslagte oordra:
The view of life and of the world held by the rising generation will depend on both its own choices and attitudes, and on what we are handing over to it. Education is a matter of tradition; it is the faithful and responsible handing over to a new generation of the accumulated wealth of knowledge and insight, which was built up through the ages and is enriched by each new generation. The most momentous question that people living in any age can ask themselves is: is the tradition which we hand over to our children a firm foundation on which they can gratefully, joyously and responsibly continue to build? (Engelbrecht 1980:9,10).
Ons leef in ’n snel veranderende wêreld. Die oorblyfsels van die Christelike grondslag wat vir die samelewing gelê is in die ZAR, is nog net sigbaar in die statistieke van ons land. Tog moet die veranderings in die onderwys bestel nie daartoe lei dat ouers moedeloos word en onder druk hulle Christelike plig ten opsigte van onderwys en opvoeding versaak nie. Dit is juis die Christelike geloof wat positiewe verandering in die land teweeg kan bring. Dit kan gebeur as die Christelike geloof weer ’n leefstyl word en nie net ’n leerstelling nie (Malan 1985:50). Ek konkludeer met die woorde van Malan:
Let us then, in South Africa and elsewhere, regardless of drawbacks and disappointments, constantly put ourselves at God’s disposal, each to play his or her modest part in communicating the Christian message to the next generation. Our individual parts may vary between studying, praying, teaching, writing, and organizing, but shall definitely include the joy of living with renewed minds (Malan 1985:55).
BIBLIOGRAFIE
Allen, B. 2006. Moral minority: Our sceptical founding fathers. Chicago: Ivan R Dee.
Barnard, SS. 1971. ’n Histories–pedagogiese evaluering van die onderwys van die Transvaalse plaasskool, 1838-1967. Unpublished thesis, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.
Bosman, ID, Coertze, LI, Viljoen, HG (eds). 1938. Voortrekker-gedenkboek van die Universiteit van Pretoria. Pretoria: Transvaalse Pers.
Castle, T (ed). 1983. The new book of Christian quotations. New York: Crossroad.
Cillie, GG. 1983. Die kerklied in Suid-Afrika, 1652-1800. In Du Toit, 1983:1-10. Cillie, GG. 1985. ’n Volk wat sing sterf nie. Handhaaf 22 (6):6-11.
De Kiewiet, CW. 1941. A history of South Africa: Social and Economic. London: Oxford University Press.
De Villiers, A. 1938. Voortrekker-lektuur. In Bosman, Coertze, Viljoen, 1938:129-136.
Dreyer, N. 1988. Groot Trek herdenkingsfees: Onderwys. Lantern 37 (4):53-59.
Du Plessis, CNJ. [1892] 1900. Uit de geschiedenis van de Zuid-Afrikaansche Republiek en van de Afrikaanders. Amsterdam, Pretoria: De Bussy.
Du Plessis, JS. 1965. Gustav Schoeman Preller: 4 Okt 1875-6 Okt 1943 Sy geskiedbeskouing. In Historia 1 (2):156-166.
Du Toit, PS. 1944. Onderwys aan die Kaap onder die Betaafse Republiek. Pretoria: Van Schaik.
Du Toit, JHH (ed). 1983. ’n Geskiedenis van die Afrikaanse protestantse kerklied. Inleidende bydraes. Pretoria: NGK Boekhandel.
Engelbrecht, B. 1980. The kingdom of God and its implications for all education. Journal of Theology for Southern Africa 33:7-15.
Engelenburg, FV. 1925. ’n Onbekende Paul Kruger. Volkstem.
Fourie, DGJ. 1954. Die onderwys, politiek en die godsdiens in Kaapland met spesiale verwysing na die periode 1795-1845. Unpublished dissertation, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.
Garrett Fisher, WE. 1900. The Transvaal and the Boers. Londen: Chapman Hall.
Geyser, A. 1980. The place of the Bible in religious education, Journal of Theology for Southern Africa 33:16- 23.
Giliomee, H. 2003. The Afrikaners. Biography of a people. Kaapstad: Tafelberg.
Greyling, E. 1946. Godsdiensonderwys in die skool. Sondagskool depot.
Grobbelaar, PW. 1974. Die Afrikaner en sy kultuur. Deel 1 – Mens en land. Kaapstad: Tafelberg.
Hattersley, AF. 1969. An illustrated social history of South Africa. Kaapstad: Balkema.
Jeppe, C. 1906. The kaleidoscopic Transvaal. Kaapstad: Juta.
Johnstone, PJStG, Johnstone RJ, Mandryk, J. 2001. Operation World. Virginia: Donnelley.
Lubbe, JJ. 1942. Lewensomstandighede en opvoeding van die Voortrekkerkind. Bloemfontein: Nasionale Pers.
Lugtenburg, AH. 1925. Geskiedenis van die onderwys in die Suid-Afrikaanse Republiek. 1836-1900. Pretoria: Van Schaik.
Malan, J. 1985. Signs of renewal in SA Christian education. Christian-Educational Journal 6 (2):49-57.
Malherbe, EG. 1925. Education in South Africa, 1652-1922. Kaapstad, Johannesburg: Juta.
Mansvelt, N. 1902. Het onderwijs in Zuid-Africa, vooral met betrekking tot de Nederlandsche taal.
Amsterdam: De Bussy.
Meyer, PJ. 1940. Die Afrikaner. Bloemfontein: Nasionale Pers.
Nepgen, CC. 1938. Die sosiale gewete van die Afrikaanssprekendes. Stellenbosch: Pro Ecclesia.
Nienaber, PJ. [1943a] 1981. Bibliografie van Afrikaanse Boeke. Johannesburg.
Nienaber, PJ. 1943b. ’n Beknopte geskiedenis van die Hollands-Afrikaanse Drukpers in Suid-Afrika. Bloemfontein: Nasionale Pers.
Oliver, E. 2005. The Impact of Christian Education on the Zuid-Afrikaansche Republiek. Unpublished thesis, University of South Africa.
Patterson, S. 1957. The last trek: a study of the Boer people and the Afrikaner nation. Londen: Routledge. Pelzer, AN. 1941. Die ‘arm-blanke’ in die Suid-Afrikaanse Republiek tussen die jare 1882 en 1899. Historiese Studies II (3):123-132.
Pienaar, PdeV (ed). 1968. Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Preston, A. 1989. Suid-Afrikaanse geskiedenis in beeld. Londen: Bison.
Prinsloo, WN. 1972. Die staatsmodelschool en sy betekenis in die Zuid-Afrikaansche Republiek. Unpublished dissertation, University of South Africa.
Rompel-Koopman, L. 1916. Wat mevrouw generaal Joubert vertelt. Kaapstad: De Bussy.
Spoelstra, B. 1922. Ons Volkslewe, kultuur-historiese leesboek. Pretoria: Van Schaik.
Spoelstra, B. 1988. Groot Trek herdenkingsfees: Die godsdienstige en kerklike lewe van die Voortrekkers. Lantern 37 (4):45-52.
Staples, HE. 1980. The differing roles of church, state and home in teaching faith. Journal of Theology for Southern Africa 33:34-39.
Statistics SA. 2004. Census 2001: Primary tables SA. Census ‘96 and 2001 compared.
Steenkamp. A. 1939. Die dagboek van Anna Steenkamp en fragmentjies oor die Groot Trek. Pietermaritzburg: Natalse Pers.
Stockenström, E. sa. Die vrou in die Geskiedenis van die Hollands-Afrikaanse volk: ’n beknopte oorsig van die rol wat die vrou in die geskiedenis van Suid-Afrika gespeel het in die 350 jaar tussen 1568 en 1918.
Stuart, J. 1854. De Hollandsche Afrikanen en hunne Republieken in Zuid-Afrika. Amsterdam: Tielkemeijer.
Tingay, P, Johnson, J. 1978. Transvaal epic. Kaapstad: Khenty.
Van der Merwe, PC. 1949. Die verhaal van ons geestelike liedere. Kaapstad: Unie-Volkspers.
Van der Walt, JL, Dekker, EI, Van der Walt, ID. 1983. Die opvoedingsgebeure: ’n Skrifmatige perspektief. Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.
Van Jaarsveld, FA. 1971. Afrikaner, quo videis? Johannesburg: Voortrekkerpers.
Van Rooyen, GH. 1940. Kultuurskatte uit die Voortrekkertydperk. ’n Kultuur-historiese studie. Deel 2. Kaapstad: Nasionale Pers.
Vereniging van onderwijzers en onderwijzeressen in Zuid-Afrika. 1918. Gedenkboek. By gelegentheid van het vijfentwintig–jarige bestaan, April 1918. Pretoria: Van Schaik.
Weilbach, JD, Du Plessis, CNJ. 1882. Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheidsoorlog. Kaapstad: Saul Solomon.
Wessels, SJ. 1954. Hendrik van der Linden: sy rol in die Transvaalse geskiedenis, 1851-1880. Unpublished dissertation, University of South Africa.
Wormser, JA. 1900. Een der oorzaken van den oorlog in Zuid-Afrika en iets over het onderwijs in Transvaal. Pretoria: Hoveker Wormser.
TREFWOORDE
Christelike, Opvoeding, Opleiding, Geskiedenis, Zuid-Afrikaanse Republiek
KEY WORDS
Christian, Education, Training, History, Zuid-Afrikaansche Republiek
KONTAKBESONDERHEDE
1 Inligting versamel deur persoonlike onderhoude met ouers wat hulle kinders by ’n tuisskool- verskaffer ingeskryf het tussen Oktober 2005 en Februarie 2006.