Verster, P

Universiteit van die Vrystaat

Jesaja 19 as sendingteks

ABSTRACT

Isaiah 19 as mission text

Isaiah 19 is a unique text about universal salvation – salvation even for Egypt and Assyria. Reading Isaiah as a whole, special aspects of the salvation of Egypt and Assyria become clear. Egypt clearly refers to humanity in general, and not only to a geographical part of the world where Jews resided and acknowledged Yahweh. This message of universality is important for missionary work. This Old Testament text shows that God’s universal salvation is also for people who have not acknowledged Him previously, and this should be borne in mind by those involved with missionary work. This means that the Gospel of salvation should be proclaimed universally.

1. INLEIDING

Ten spyte van die feit dat daar baie tekste in Jesaja is wat dui op die uniekheid van God se verhouding met Israel, en wat dus ook as eksklusiewe tekste verstaan sou kon word, is daar tog ander tekste in Jesaja wat dui op die universele heil van God aan die wêreld. Hierdie universele heil van God in die wêreld sluit sy genadige beskikking oor mense in, sodat hulle ook kan deel in die heil wat aan Israel toegesê word. Vanselfsprekend is dit belangrik om hierdie gedagte verder te ondersoek, veral in die lig van Jesaja 19.

2. PROBLEEMSTELLING EN ONDERSOEKVELD

Die vraag wat ondersoek word, is die volgende: Is dit moontlik om in Jesaja sterk aanduidings van universele heil te kry, en as daar wel sodanige tekens is, watter betekenis het dit vir die sending? Anders gestel: Is dit nie reeds in die Ou Testament duidelik dat God se heil na alle mense uitgaan nie? Die hipotese is dat Jesaja 19 duidelik aandui dat God sy heil universeel aanbied.

3. JESAJA-NAVORSING

In die Jesaja-navorsing word tans weer aandag aan die geheelbeeld gegee nadat daar lank sterk beklemtoning van die sogenaamde drie Jesajas was, naamlik Jesaja 1-39, 40-55 en 56-66. Jesaja 1-39 is ook al as saamgestelde werk beskou (Barton 1995:9). Die post-Jesaja redaktor verkry later groot aandag (Barton 1995:10). Blenkinsopp (1996:236,237) dui aan dat die eenduidige opeenvolging nie altyd houdbaar is nie: “We saw earlier that the standard breakdown of the Isaiah scroll (chapters 1-39; 40-55; 56-66) is deceptive if it gives the impression of a simple sequence of preexilic, exilic, and postexilic. If we exclude the biographical supplement (chapters 36-39), much of the first part is editorial, and a significant proportion of it is clearly postexilic. This later material, moreover, includes some rather long sections; for example, most of the oracles against foreign nations (chapters 13-23) and the eschatological finale (chapters 33-35). While forming what looks like an independent booklet, chapters 24-27 have been positioned as a supplement to the oracles against the nations.”

Die klem val deesdae al hoe meer op die lees van die boek Jesaja soos dit saamgestel is. Tekstuele analise bly egter belangrik ten spyte van post-modernistiese benaderings wat die klem na meervoudige interpretasie verskuif (Barton 1995:10). Petersen (2002:48) bevestig dat daar tog konsensus is dat Jesaja uit verskeie tekste bestaan, wat nie eenduidig aan ’n enkele profeet toegeken kan word nie.

R.E. Clements (1987:54) vind steeds in Jesaja ’n besondere eenheid: “It would be possible to suppose therefore that the kind of editorial unity which now binds chapters 1-39 with chapters 40-66 belongs to a late, and relatively superficial, stage in the book’s compilation. Yet this appears unlikely. There is evidence which suggests that an overall unity is a prominent feature of the book as a whole. In the first place, it is not just in chapter 35 that the message of chapters 40-55 is introduced into the earlier part in order to balance out the predominantly threatening note of chapters 1-35. There are earlier, similar summarizing assurances of the return of Yahweh’s people to Zion (11:12-16; 19:23; 27:12-13), which are based upon the prophecies from chapter 40 on. Even more strikingly, a promise is made (18:7) that the people of Ethiopia will bring gifts to Yahweh’s people in Zion, which must certainly have been taken from the prophetic promise given in Isaiah 45:14. Brief as such sayings are, their location and their character point to a clear and concerted attempt to provide certain interim summaries of the overall message of hope so that the separate parts of the book may be appropriately rounded off.” Melugin (1997:40) glo dat leserinterpretasie die verstaan van die teks rig en dat ’n boek se boodskap en eenheid so ontdek kan word. Volgens hom is alle interpretasies leserinterpretasies en moet die teks in die lig hiervan verstaan word.

Steinmetz (1987:96) verwoord die Christelike perspektief op die kwessie van eenheid soos volg: “While Christian interpreters are reluctant to tamper with the canonical shape of Isaiah, they do not regard the canonical shape itself as theologically determinative. They are not interested in the theology of a redactor of whom they have never heard. The theological context for considering an oracle of Isaiah is not merely the theology of First Isaiah as a whole or even the theology of First Isaiah as reinterpreted in the New Testament but the theology of the Christian church in the whole sweep of its historical development.”

As uitgangspunt word aangevoer dat die boek Jesaja wel eenheid vertoon – radikale eenheid. Dat die boek saamgestel is uit verskeie profetiese uitsprake word erken, maar eenheid word juis in die besondere heil van Jahwe gevind wat in Jesaja 19 unieke betekenis verkry. Schneider (1988:301) plaas Jes 19:16-25 as argitektoniese middelpunt tussen 2:2-4 en 45:14-25 waar dit gaan om die bekering van verskillende volke.

Kaiser (1974:105) is van mening dat verskeie redaktore die heilsaankondiging aangepas het. Weens die aard van Jesaja 19 word dit dus nie as uitsprake van die profeet Jesaja beskou nie (Barton 1995:87). Verskeie kommentators wil dit juis post-eksilies verstaan. Dat die heilsboodskap wel deel van Jesaja van Jerusalem se boodskap kan wees, is egter moontlik gesien teen die agtergrond van die uiteindelike eenheid van die boek.

4. DIE KONTEKS

Vyf hoofelemente word in die opbou van die boek onderskei. (Petersen 2002:50):

1. Die Siries-Eframitiese krisis en uitkoms 735-732

2. Neo-Assiriese aanval op Juda en Jerusalem 705-701

3. Babiloniese bedreiging ca 610-587

4. Kores en sy Messias ca 540

5. Lewe in die herboude Jerusalem ca 520-480

Die onmiddellike konteks van Jesaja 19 is te vinde in hoofstukke 13-23, waar uitsprake teen buitelandse gebiede gemaak word. In Jesaja 18-19 word spesifiek na Egipte verwys (Barton1995:16).

Profete in die ou Midde-Ooste het ’n belangrike rol gespeel in die koning se verhouding met ander magte en ryke. Die profeet self het ook ’n bydrae gelewer tot die politieke verstaan van die ryk (Barton 1995:28). Die Siries-Eframitiese krisis, ná die val van Samaria, het ook in Juda tot ’n ingewikkelde relasie met die Filistynse gebiede en Egipte gelei (Barton 1995:34).

Gedurende 713-711 probeer Asdod van die Assiriese heerskappy wegbreek. Die Egiptenaars onder Shabaka is ook betrokke. Hierdie geskiedenis bied die agtergrond vir Jesaja 18-19 (Barton 1995:34).

Sweeney (1996:269) plaas die gedeelte post-eksilies op grond van die profetiese formule (vv. 16, 18, 19, 21, 23, 24) en die universalistiese perspektief. Die bajjom hahu-formule word as ’n formele aanduiding van die laat-redigering van profetiese tekste beskou. Die universalistiese tendens word ook post-eksilies verstaan.

5. GENRE

Sweeney (1996:267) wys daarop dat ons met profetiese literatuur te doen het, soos aangetoon deur die opskrif by 19:1a. ’n Profetiese aankondiging oor Egipte word gemaak: Jahwe se bedoeling met die mense word uitgespel. Die profetiese aankondiging veronderstel ook ’n aantal generiese subitems (1996:267). Jesaja 19:1b-25 word as ’n profesie teen ’n vreemde nasie beskou. Die fokus is die verwoesting van die vreemde nasie. Jesaja 19:1b-10 is weer ’n subitem van ’n teofanie- aankondiging. Die oordeelsaankondiging van 1b-4 is ’n element van die teofanie, en 19:11-15 verteenwoordig die gevolge van Jahwe se koms na Egipte, terwyl 16-25 die toekomsaankondiging verteenwoordig. Die konflik in Egipte word deur Jahwe aangewend tot heil van Israel, Assirië en Egipte (1996:268).

6. EKSEGETIESE EN HERMENEUTIESE ONDERSOEK

6.1 Van oordeel tot heil

Roberts (1987:64,65) dui aan hoe die heiligheid van Jahwe die hele gedeelte bepaal: “For Isaiah, Yahweh’s holiness meant that Yahweh alone was to be feared (8:12-13). The true fear of Yahweh would drive out all other fears. Indeed, the reverse side of the fear of Yahweh is implicit trust in Yahweh. Reliance upon his promises, ‘quiet, confident trust in his word’, was the key to rest, security, and well-being (7:9; 28:12, 16; 30:15). Those who looked to him with this kind of faith would be established and have reason to rejoice”.

Kaiser (1974:97,104) verdeel Hoofstuk 19 in twee dele, naamlik die oordeel oor Egipte (19:1- 15) en die bekering van Egipte (19:16-24). Jesaja 19 is ’n unieke teks in verskillende perikope waar oordeelsuitsprake oor volkere en stede gedoen word. Schneider (1988:301) toon aan dat daar groot onenigheid bestaan oor die plasing van die teks. Die teks word nader aan deutero-Jesaja as aan die Hellenistiese Jodedom geplaas. Wildberger (in Schneider 1988:301) vra egter of sulke universalisme na Esra nog moontlik is.

Reeds in Jesaja 18 is daar iets universeels omtrent die gedagte dat die mense van Kus geskenke sal bring. Jesaja 18 vers 2 stel dit so: “Hy stuur gesante oorsee. Hy stuur hulle in papirusbote oor die water. Gaan terug gesante wat so haastig is, gaan terug na julle lang mense toe met die blink velle. Julle volk wat wyd en syd gevrees word, wat gewoond is om alles met mag te vertrap, en wie se land deur riviere deursny word.” In Jesaja 19 is daar ook ’n oordeelsuitspraak oor Egipte. Die uitspraak van God teen Egipte word baie duidelik gestel. Dat Egiptenare as proseliete beskou kan word, dui meer op ’n na-eksiliese verstaan, volgens Barton (1995:87). Hy hou egter vol dat dit

’n unieke, universele teks sonder gelyke onder die profete is. (Barton 1995:87). Motyer (1993:166) beskryf die implikasies van die herstel van Egipte soos volg: “The apparently unrelenting opposition of the Lord to Egypt in the foregoing poem stands in a wonderful contrast to the present passage on the restoration of Egypt and its gathering into the people of God.”

Die misterie dat God juis straf én genees kom in dié gedeelte besonder sterk na vore. Daaruit kan egter nie afgelei word dat straf ’n voorwaarde vir genesing is nie. God is egter in sy genade bereid om sy straf te herroep. Hy is genadig en barmhartig. Wat hier van besondere betekenis is, is dat Hy ook die straf van Egipte en Assirië herroep; volkere wat in ’n ander verhouding tot Hom staan as Juda.

6.2 Die onwaarskynlikheid van die heil

Wildberger(1984:180) wys op die radikale onwaarskynlikheid van die heilsuitpraak; sommige skrywers plaas dit selfs ná Aleksander die Grote. Die radikaliteit van die heil word egter ten volle bevestig.

Croatto (2005:145) staan egter ’n ander benadering voor, wat die universele ontken en die klem op geografiese gebiede plaas waarin Jode voorkom: “Throughout the book of Isaiah, terms like “nations/islands/ends of the Earth”… do not primarily define people, but geographical realms. What determines if the people in question are the native inhabitants, or the Judeans dispersed by the exile or by later migrations, is the context.” Die implikasie is dan dat die heil vir Assirië en Egipte nie vir die Assiriërs en Egiptenare bedoel is nie, maar vir die Israeliete in daardie streke. Dit is egter nie ’n aanvaarbare lesing gesien binne die konteks van die oordeel oor Egipte en die heil vir Egipte nie. Dit handel dus oor die volkere vir wie daar heil aanbreek.

Die feit dat die Egiptiese gode bang is vir God word aangeraak, en die gedeelte in Jesaja 19 wat besondere aandag in hierdie verband verg, begin vanaf vers 16: “Daardie dag sal Egiptenaars soos vrouens wees. Egipte sal bewe van angs wanneer hulle sien dat die Here die Almagtige sy hand teen hulle optel om hulle te straf. Juda sal vir Egipte ’n verskrikking wees. Elkeen wat hom aan Juda herinner, sal hom bang maak. Hy sal bang wees vir wat die Here die Almagtige oor hom besluit het. Daardie dag sal die inwoners van 5 Egiptiese stede Hebreeus praat en wanneer hulle ’n eed aflê, sal hulle dit in die naam van die Here die Almagtige doen. Een van hulle sal die verwoeste stad genoem word. Daardie dag sal daar binne Egipte ’n altaar en op sy grense ’n klippilaar wees wat aan die Here gewy is.”

Dit is baie duidelik dat die teksgedeelte in die eerste plek ’n aanduiding is dat daar ’n totale omwenteling in Egipte sal plaasvind. Egipte sal tot die besef kom dat die gode waaraan hulle hul verbind het, hulle nie kan help nie. Hierdie gode hou nie heil vir Egipte in nie. Egipte sal bewe van angs voor die Here. Dit is dus ’n bekering tot God, nie omdat hulle hul aan Hom toewy nie, maar eerder omdat hulle die Here vrees en hulle weet dat Juda vir hulle ’n verskrikking kan wees. Dit beteken egter nie dat daar nie in Egipte ’n totale toewyding tot die God van die Hebreërs kom nie. Verder word dit baie duidelik gestel dat as die Egiptenaars tot die Here roep omdat hulle verdruk word, Hy ’n redder vir hulle sal stuur. God gryp in. Selfs Egipte as volk word ’n seën vir ander. Die oorgang van straf na heil vind plaas omdat God genadig is.

Kaiser (1974:100) stel die saak aangrypend: “Its real significance lies not in its scanty historical content, but in the insight which it gives us into the faith and thought of a Jew who did not allow the political impotence of his people to shake his belief that Yahweh remained the lord of the nations and the guide of their fate.” Kaiser (1974:111) wys dan daarop hoe universeel die heil aangekonding word: “Thus God’s blessing no longer applies solely to Israel; the nations are also blessed through Israel.” Politieke onmag beteken nie dat geloof in God, of die belydenis dat Hy regeer ontken kan word nie. Sending moet juis soms in gebrokenheid gedoen word, magteloos in die oë van die wêreld, maar in die krag van die genadige God.

6.3 Die ingryping van God

Motyer (1993:169) gee ’n uiteensetting van hoe God heil aan Egipte en Assirië bied:

1. Daar sal ’n altaar opgerig word; die plek van versoening. Dáár sal Egipte met God versoen.

2. Gebed sal ’n belangrike plek inneem. Die Egiptenare sal met God praat in gebed. Hulle sal ’n lewende verhouding met God hê.

3. Daar sal ’n openbaring plaasvind. God sal homself openbaar en hulle sal sien dat Hy God is.

4. Nuwe diens sal verrig word. Hulle sal offers aan God bring en hulle sal God dien deur hulle geloftes.

5. God se dissipline sal ingestel word. God sal oordeel oor Egipte, maar hulle ook op die been help. Hulle sal nou onder God se beheer lewe.

God sal Hom dus oor hulle ontferm en hulle red, volgens vers 20. Dit is baie duidelik dat God dan in hierdie sin ook God van die Egiptenaars is. Die Egiptenaars sal tot God roep, en hulle sal dan ervaar hoedat God uitreik na hulle en hulle Sy genade skenk. ’n Verdere aspek in vers 21 is dat die Here Hom aan die Egiptenaars bekend sal maak, en dat hulle Hom op daardie dag sal leer ken. Hulle sal die Here met diereoffers en met graanoffers dien, en hulle sal hulle geloftes aan Hom nakom. Die implikasie is dat die Egiptenaars in ’n bepaalde verhouding met God tree en dat God ook in hulle lewe ingryp. Daarteenoor word in vers 22 na die straf van die Here verwys. Hy sal hulle straf én genees. Hulle sal hulle tot die Here bekeer en Hy sal hulle goedgesind wees en hulle heel maak. Hierdie merkwaardige gedeelte in die Ou Testament dui dus op God se universele heil – ’n reddende genade wat ook vir Egipte geld. Miscall (1993:58) lê ’n verband tussen die gebeure wat sal plaasvind en die eksodusgebeure. Die heil sal nou in ’n groot omwenteling vir Egipte aanbreek. Die seën van God sal alles voltooi.

Die totale heil, wat Egipte as volk van God insluit, is uniek in die Ou Testament (Fohrer 1960:215).

’n Ganse nuwe ryk word gestig – selfs Assirië word ingesluit (Fohrer 1960:215). Egipte is in die vorige gedeeltes baie skerp aangespreek. Maar God kan inderdaad ingryp en heil vir Egipte bring. Jesaja demonstreer dat daar dramatiese verlossing in die Here se ingryping in die wêreld is.

Die feit dat Egipte en Assirië genoem word, slaan op Jesaja se begeerte om die groot ryke wat die grootste bedreiging vir die Jode inhou, te betrek by die groot omwenteling, by God se uitkringende genade. Die oordeel word afgewend en die heil breek deur. Schneider (1988:305) stel dit soos volg: “Aber diese Gnade entsteht – und das entspricht voll und ganz dem, was Jesaja in seinem ganzen Buch bisher gesagt hat – aus dem Gericht.” Hy verduidelik verder: “Die Umkehr ist vielmehr Geschenk, das den Ägypten zuteil wird” (Schneider 1988:306).

Telkemale kom die heil van God na vore in die wyse waarop Hy ingryp om Sy heil bekend te maak. Hierdie heil van God is inderdaad besonder betekenisvol. Egipte en Assirië sal deur die wonderbaarlike ingryping van God as vriende en nie meer as vyande nie, teenoor mekaar staan. Waar God se genade aanvaar word, ook in ’n pluralistiese gemeenskap, verdwyn die vyandskap (Widyapranawa 1990:115).

Schneider (1988:300) toon aan hoe die omvattende genade van God volg op die omvangryke gerig. Die Here sal ingryp en Hy sal ook vir Egipte heil bring. Brueggemann (1997:521) fokus op hoe die heil wat God skenk, deurbreek: “In Isa 19:24-25, the vision grows more radical – not only peace and traffic and trade, not only shared worship, but now a positive relationship to Yahweh for all three parties.”

Brueggemann (1997:522) dui op die groot verruiming van God se uitverkore mense sodat alle volke/mense God se uitverkore volk word. Israel se aartsvyande word ingesluit in die verbond (Brueggemann (1997:524).

Leupold (s.a.:321) beskryf die bemiddelende rol wat Israel sal speel: “When Israel binds these two mighty powers together into allegiance to the Lord, all this will have become true and Israel shall be the mediator of the great, divine blessing. How many other nations may also be involved in the course of time is not stated in this passage.”

Die Egiptenaars sal hulle tot die Here bekeer, en hulle sal in hierdie nuwe verhouding met God lewe. Daar sal egter ook ’n groot pad van Egipte af tot by Assirië loop. Die Assirieërs sal Egipte besoek en Egiptenaars Assirië. En hulle sal die Here saam dien. Dit verteenwoordig ’n baie duidelike uitspraak dat daar oral mense sal wees wat hulle tot God wend, in elke windrigting, weerskante van Israel, in Juda. Die uniekheid van Israel word nie ondergrawe nie, maar die heil wat God skenk en die universele heil wat na vore kom, word baie sterk beklemtoon. Die Assiriërs en die Egiptenaars sal inderdaad ondervind dat dit goed is om die Here te dien. Hulle sal saam die Here dien. Die heilsuitspraak in hierdie gedeelte in Jesaja word nog verder gevoer. “Daardie dag sal Israel die derde wees, en saam met Egipte en Assirië sal hulle vir die aarde tot ’n seën wees.” Hierdie heil van God wat so universeel is, sal Egipte, Assirië en Israel insluit. Verder word aangevoer dat die Here die Almagtige hulle sal seën en dat Hy sal sê: “Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur my geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom.” Dit is werklik merkwaardig dat die gedagte van my volk, wat alleen aan Israel en Juda toegeken word, hier ook aan Egipte toegewys word. Hierdie universele heilsuitsprake in Jesaja 19 bied ’n versekering aan die leser dat daar in Jesaja heil vir al die nasies na vore kom.

Herbert (1973:125) verduidelik mooi hoe uitsonderlik die heil is wat aangekondig word: “This passage may be associated with Zech. 14:16-19, but the language is strange. It is remarkable that an altar, and presumably therefore a temple, outside Jerusalem should be approved. It is even more remarkable that a sacred pillar (massebah) designated as for the LORD should be approved. It may be that the prophet sees here a renewal of the patriarchal period (cp. Gen. 35:7; 28:18), but now in Egypt.”

Ook Snijders (203) dui aan hoedat die teenstelling tussen Assirië en Egipte en Israel oorkom word. Die Abraham-tradisie (Gen. 12:2; vgl. ook Sag. 8:13, 20 vv.) word volgens hom waarskynlik hier opgeroep.

In sy geskrifte het Calvyn (1948:83) ook die idee van algemene heil aangeraak: “Blessed be Egypt my people, and Assyria the work of my hands. Though the Prophet intended to describe foreign nations as associated with the Jews who had belonged to God’s household, yet he employs most appropriate marks to describe the degrees. By calling the Egyptians ‘the people of God’, he means that they will share in the honour which God deigned to bestow on his Church.”

Die hele gedeelte bou op tot die hoogtepunt wat in vers 25 verskyn. Hoewel daar met die oordeelsuitspraak oor Egipte begin word, word daar afgesluit met die universele heilspraak: die Here, die Almagtige sal tot seën wees vir Egipte, Assirië en Israel.

Wat is die teologiese implikasies van die bostaande? Dit is so dat in Jesaja daar reeds tekens is van die teologiese heil wat God skenk vir hulle wat aan Hom behoort. Dat God in ’n baie besondere verhouding tot Israel staan, word nie ontken nie, maar reeds in die liedere wat aan die einde van Jesaja verskyn, is daar sprake van ’n universele uitreiking wanneer God sy heil aan mense bring. Hy is die Een wat Sy heil aan mense bring, ook buite die volk van Israel. Hierdie universele heil is uiters betekenisvol: die Here is die Almagtige en Hy sal seën soos dit Hom behaag

Drie konsepte is baie belangrik vir die verstaan van God in Jesaja. In die eerste plek is die Here die Een wat aangeroep word. In die tweede plek is Hy die Almagtige, die Een wat kragtige dade doen. En in die derde plek is Hy ook die Een wat Sy seën aanbied. Hierdie universele elemente in Jesaja dui ook reeds in die Ou Testament op die feit dat God sy heil ruimhartig tot die beskikking van alle mense en volke stel. Die grootsheid van God in hierdie sin van die woord word dikwels onderbeklemtoon deurdat daar talle tekste is wat oordeelsuitsprake beklemtoon en wat dikwels aandag ontvang. Die onderhawige gedeelte in Jesaja bied egter ’n ander invalshoek: dit vertel van ’n God wat groter en genadiger is as wat ons ooit sou kon dink. Dit beteteken dat die universele heil aan almal gebring moet word. Almal moet hoor dat God genadig is.

7. IMPLIKASIES VIR DIE SENDING

Die bostaande siening het geweldige implikasies vir die sending. Dit beteken dat God se heil universeel is en dat God reeds in die Ou Testament beklemtoon dat Hy ook andere na Hom toe wil aantrek, andere tot bekering wil lei, andere tot aanbidding van Hom wil bring. Dit beteken dat God ingryp in die wêreld van mense en dat Hy groot veranderinge en omwentelinge in menselewens wil meebring. Die heiligheid van God word vooropgestel, maar ook die genade vir die wat in Hom glo.

Die ruimhartigheid van God beteken dus vir die sending geweldig baie. Sending dra die allesomvattende boodskap van God, die vrye boodskap van God, die volledige boodskap van God. Die boodskap van God in die sending is ’n boodskap van heil en verlossing. Dit sluit na alle kante toe in en dit bring heil na alle kante toe. Die heil van God is so groot en so goed, dat dit ons klein menseverstand letterlik te bowe gaan. God se koninkryk is juis ruim en Hy as koning regeer oor die hele wêreld. Die koninkryk van God is dus ook van wesenlike belang vir die sending.

Ook in die sending moet die ruimhartigheid en die heil van God na vore gebring word. God se optrede is nooit eng en beperkend nie. God se optrede is ruim en groot. Die Evangelie is die Goeie Nuus van God, en daarom word dit in die Nuwe Testament ook bevestig in Jesus Christus wie se verlossing so ruim is dat dit uitbeweeg na die hele wêreld daarbuite. Die apostel Paulus dra die Evangelie uit na die heidene met die wekroep in die hart: “Laat julle met God versoen!” Dit word ’n wekroep om mense na God te bring, om die heil van God uit te dra, om die wonder van God se genade en beskikking aan andere te bring. Dit word die wekroep van heil van God in die wêreld. Dit word ’n wonderbare boodskap wat aan mense gebring word.

Ter afsluiting dan ’n laaste belangrike vraag: Veronderstel Jesaja ’n soort universalisme wat waarborg dat alle mense bloot maar gered sal word? Die antwoord is nee. Jesaja 19 beteken nie dat daar ’n onverantwoordelike uitbreiding van God se genade is nie. God verwag dat die volke buite Israel hulle tot die Here moet bekeer, en dan sal Hy hulle goedgesind wees en hulle genees. Die hart van die saak het te doen met mense se unieke verhouding met Jahwe, ’n unieke verhouding wat gevind word in gehoorsaamheid aan Jahwe. Wat die Nuwe Testament betref, word dit nog sterker beklemtoon. Die heil wat van God kom, is ’n universele heil, dit sluit almal in. Dit is ’n wonderbare boodskap wat aan mense verkondig moet word, maar dit is ’n boodskap in Jesus Christus wat ook bekering veronderstel.

8. SLOT

Die bostaande beredenering van gedeeltes uit Jesaja het duidelik aangetoon dat die heil universeel is. Hierdie universele heil beteken dat God inderdaad nie beperk kan word tot enkele elemente van verlossing en heil nie.

BIBLIOGRAFIE

Barton, J. 1995. Isaiah 1-39 (Old Testament guides). Sheffield: Sheffield Academic Press.

Blenkinsopp, J. 1996. A History of Prophecy in Israel. (Hersien en uitgebrei). Louisville, Kentucky: Westminister John Knox.

Brueggemann, W. 1997. Theology of the Old Testament: Testimony, Dispute, Advocacy. Minneapolis: Fortress. Calvin, J. 1948. Commentary on the book of the prophet Isaiah. (Vertaal deur Rev William Pringle) Vol 2. Grand Rapids, Mi.: Eerdmans.

Clements, R.E. 1987. The unity of the book of Isaiah. In: Mays J.L. en Achtermeier, P.J. (red.). Interpreting the Prophets. Philadelphia: Fortress: 50-61.

Croatto, J.S. 2005. The “nations” in the salvific oracles of Isaiah. Vetus Testamentum 55(2): 143-161.

Fohrer, G .1960. Das buch Jesaja.1 Band Kapitel 1-23. Stuttgart: Zwingli.

Herbert, A.S. 1973. The book of the prophet Isaiah. Chapters 1-39. Cambridge: Cambridge University Press.

Kaiser, O. 1974. Isaiah 13-39. A Commentary. (Old Testament Library). London: SCM.

Leupold, H.C. s.a. Exposition of Isaiah Volume 1. Chapters 1-39. Grand Rapids, MI.: Baker. Miscall, P.D. 1993. Isaiah. Sheffield: JSOT.

Melugin, R.F. 1997. The book of Isaiah and the construction of meaning. In: Broyles, C.C. en Evans, C.A. (red.). Writing and reading the scroll of Isaiah. Studies of an Interpretive tradition. Vol 1. Leiden: Brill: 40-51.

Motyer, J.A. 1993. The prophecy of Isaiah. Leicester, UK: Inter-varsity.

Petersen, D.L. 2002. The prophetic literature: an introduction. Louisville: Westminister John Knox Press.

Roberts, J.J.M. 1987. Isaiah in Old Testament theology. In: Mays, J.L. en Achtermeier, P.J. (red.). Interpreting the Prophets. Philadelphia: Fortress: 62-74.

Schneider, D. 1988. Der Prophet Jesaja. Kapital 1-39. Wuppertaler Studienbibel. Wuppertal: Brockhaus.

Snijders, L.A. 1969. Jesaja. Deel 1. Nijkerk: Callenbach.

Steinmetz. D.C. 1987. John Calvin on Isaiah 6: A problem in the history of Exegesis. In: Mays, J.L. en Achtermeier, P.J. (red.). Interpreting the Prophets. Philadelphia: Fortress: 86-99.

Sweeney, M.A. 1996. Isaiah 1-39. With an introduction to prophetic literature. Grand Rapids, Mi.: Eerdmans.

Widyapranawa, S.H. 1990. The Lord is saviour: faith in national crisis. A commentary on the book of Isaiah 1-39. ITC. Grand Rapids, Mi.: Eerdmans.

Wildberger, H. 1984. Königsherrscahft Gottes Jesaja 1-39. Teil 2. Die Nachfahren des Propheten und ihre Verkündigung Der Text. Neukirchen-Vluyn: Neurkirchener Verlag.

TREFWOORDE

Universele heil, Sending en verlossing, Redding vir Egipte en Assirië, Genade

KEY WORDS

Universal salvation, Mission and salvation, Salvation for Egypt and Assyria, Grace

KONTAKBESONDERHEDE

Prof P Verster

Departement Sendingwetenskap

Fakultweit Teologie Universiteit van die Vrystaat Posbus 339

BLOEMFONTEIN

9300

TEL.: kantoor: (051) 401 2972

SEL: 082 375 6793

E-pos: versterp.hu.@mail.uovs.ac.za