Eenheid in die NG Kerkfamilie: ’n kerkhistories-kerkregtelike benadering
ABSTRACT
Unity in the family of Dutch Reformed Churches: A church historical and church political approach
The author starts by indicating why these churches in Southern Africa can be called a family of churches and why they have enough common belief in certain core issues of faith to form a new denomination. He finds that as far as differences with regard to the acceptance of the Confession of Belhar is concerned, the present agreement is not to force it the one or the other way. In proposals for structuring the denomination a trend is to follow the example of the famous Synod of Dordt in 1618-1619. By doing so, the family stays on the way of an acceptable reformed church polity.
INLEIDING
Die blote gebruik van die naam “NG Kerkfamilie” dui al daarop dat daar ’n bepaalde soort eenheid tussen die kerke van hierdie familie bestaan: hulle is nie net, soos alle Christengelowiges, “familie in Christus” nie, maar ook “NG-familie”. Tog is daar wyd uiteenlopende menings oor die antwoord op die vraag of hulle werklik een is.
Aan die een kant is daar die mening dat hulle een is omdat daar kenbare gestaltes van eenheid onder hulle bestaan. Eenheid omdat al die lidkerke van hierdie familie die Drie Formuliere van Eenheid as belydenisskrifte formeel onderskryf, herkenbaar homogeen in die basis van hulle kerkregering en -inrigting is en die grondtrekke van ’n gereformeerde erediens in die meeste gemeentes merkbaar is. Daarby word daar betoog dat hierdie kerke struktureel tot redelik onlangs in die vorm van ’n federale kerkverband, die Federale Raad van NG Kerke, verenig was en tans steeds by gesamentlike werksaamhede betrokke is (Strauss 1999:33).
Aan die ander kant is daar die mening dat hierdie kerke nie een is nie.
In huidige eenheidsgesprekke praat sommige van ’n herenigingsproses wat impliseer dat eenheid ontbreek. Hierdie gebrek word in die Belydenis van Belhar omskryf as ’n “aparte kerkformasie” wat die sigbare, werksame eenheid van die kerk belemmer en spruit uit ’n verabsolutering van die “natuurlike verskeidenheid” of die “sondige geskeidenheid” (Cloete en Smit 1984:8). ’n Tipering wat Belhar, interessant genoeg, gee in ’n tyd waarin die Federale Raad én bogenoemde gestaltes van eenheid aan die orde van die dag is. Die opstellers van Belhar sou daarmee dus hulle teenstem teen bogenoemde siening of vertolking van die gestaltes van eenheid uitdruk.
Wat meer is, so lui die argument, is die feit dat die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suider Afrika (VGKSA) wat uit ’n eenheidsproses tussen die ou NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika (NGKA) gekom het, die Belydenis van Belhar onderskryf, terwyl die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), die NGKA en die Reformed Church in Africa (RCA) dit nie doen nie. Hulle verdeel dus op so ’n fundamentele vlak as die belydenis van die kerk.
Hierdie uiteenlopende menings laat onmiddellik ’n aantal vrae ontstaan. Die eerste vraag is: wat maak van hierdie kerke ’n egte “kerkfamilie”? Bevat die familie in sy samestelling genoeg elemente van eenheid wat ’n “werksame” kerklike eenheid tussen hulle impliseer? Elemente wat dit moontlik maak om verdere (nadere) eenheid te bevorder? En, watter elemente is met die huidige inisiatiewe – veral sedert 2004 en 2006 – aan die orde van die dag? Hoe lyk ’n kerkhistories-kerkregtelike ontleding daarvan?
WAT MAAK NG KERKE ’N FAMILIE?
Die mees voor die handliggende band tussen die NG Kerke is hulle gemeenskaplike oorsprong. Histories spruit hierdie kerke uit die sendingarbeid van die NGK. Daarom word die naam van hierdie kerk aan die familie gekoppel (vgl die naam Jaarboek NG Kerke 2007). Op een of ander wyse kan baie lidmate van die jonger kerke van die familie histories en emosioneel getuig van ’n band met die NGK.
In die tweede plek is hier sprake van dieselfde belydenisgrondslag en kerke wat so ingerig is en bedryf word dat die NGK-tradisie daarin duidelik sigbaar is. By voorbeeld: in sommige van die jonger kerke se gemeentes leef die soort spiritualiteit wat by ’n geslag of twee gelede se NGK-“sendelinge” aanwesig was, duidelik na. Dit gaan om ’n eenvoudige, evangeliese en soms wettiese inslag van leer en lewe.1
Gereformeerd-kerkregtelik beskou bou kerkeenheid ten diepste op gemeenskaplike belydeniswaarhede of belydenisse (Heyns 1977:157). Onder kerkregtelikes uit die gereformeerde stal is daar ’n breë konsensus dat die belydenisse van die kerk die akkoord van kerklike gemeenskap is (Bouwman 1985:556). Dit gaan hier om ’n verwoording van die kernwaarhede van die geloof wat die eenheid in die kerk as die gelowiges of geloofsgemeenskap formuleer. Daarom word die drie gereformeerde belydenisskrifte wat by die Dordtse Sinode van 1618-1619 aanvaar is, die “Drie Formuliere van Eenheid” genoem (Kuyper HH sa:325). Christene vind mekaar heel eerste rondom kernwaarhede van die geloof of gemeenskaplike kernoortuigings. Van hieruit ontwikkel kerkeenheid struktureel en inhoudelik. Selfs al sou ’n modernistiese of ’n post- modernistiese geloofsgemeenskap die belang van belydenisse ontken, bly dit geloofsoortuigings wat hulle – as gelowiges – saambind. Kerklike benaderings of style, preke en standpunte verraai die geloofstradisie of grondoortuigings van waaruit gewerk word.2
In die derde plek is hier sprake van ’n inrigting van die kerk en die erediens wat in sy kern na die gereformeerde tradisie herlei kan word. In die hele familie tref ons die tradisionele gereformeerde trits van predikant, ouderling en diaken aan wat saam die kerkraad van ’n gemeente uitmaak.3 Kerkregtelik is dit die kerkraad bestaande uit die betrokke predikante, ouderlinge en diakens, wat die besluite in die gemeentes neem (NGK 2004b: artikel 18 en 19; NGKA sa: artikel 20; RCA 1989: artikel 25; VGKSA 1997: artikel 7). Hoewel die inrigting van eredienste selfs in dieselfde NGK-sinodale verband verskil, word eredienste deurgaans tog gekenmerk – soms huiwerend – deur die sentrale posisie wat die bediening van die Woord inneem en die Woord- weerwoordkarakter (tussen God en sy volk) van die erediens. Hierdie kernelemente skep die moontlikheid van ’n – ten minste gedeeltelike – eenheidservaring rondom die erediens.
Vierdiens deel die NGK-familie hulle respek vir ’n diversiteit onder hulle onderskeie lidmate. Hierdie respek het ook duidelik uitgekom in die gesamentlike verklaring wat die vier Sinodale Kommissies (NGK, VGKSA, NGKA en RCA) tydens ’n eenheidskonferensie in November 2006 by Achterberg uitgereik het.
In hierdie verklaring is hulle verbintenis tot die eenheidsproses sowel as ’n erkenning van die “rykdom” van hulle verskeidenheid beklemtoon. Onder laasgenoemde is “aanvaarbare” elemente soos taal, kerklike styl en ’n eie kerklike identiteit genoem (vgl Achterbergverklaring). Hierdie diversiteit het reeds voor die konferensie op verskillende maniere geblyk.
In die VGK word daar gemeentes wat onderskeidelik spruit uit die ou NGKA en ou NG Sendingkerk binne dieselfde geografiese gebied aangetref. Dit wat hulle van ’n integrasie weerhou, is verskille in kerklike styl, identiteit en taal. Hierdie idee van ’n diversiteit in gemeentevorming is deur die verteenwoordigers van die VGKSA in die eenheidsgesprekke tussen die vier kerke ingedra en sedertdien feitlik kritiekloos as een van die elemente van ’n toekomstige model vir die NGK-familie aanvaar.
Hiernaas het die bytrek van die RCA en die NGKA die vrese dat hierdie kleiner kerke – teenoor die “groot” NG Kerk en die VGKSA wat in lidmaattal kleiner as die NG Kerk, maar groter as die RCA en NGKA is – in die groter geheel gaan verdwyn en hulle eie kerklike identiteit gaan verloor, in die gesprekke ingebring. Een van die woordvoerders van die RCA praat van hierdie kerk as ’n “conservative evangelical church” wat hierdie inslag in sy huidige gemeentes wil behou. Hulle gemeenskaplike evangeliese aanslag noop hulle om hulle te beywer vir ’n gemeenskaplike vergadering waarin hierdie gemeentes saamkom en saam beraadslaag. Die 12 gemeentes van die RCA is reeds op geografiese grondslag in drie ringe verdeel (Jaarboek NGKe 2007:155), sodat die gesamentlike vergadering in hulle geval waarskynlik net hulle eie sinode kan wees.
Die NGKA praat op hulle beurt van ’n eie styl van sinode hou. ’n Styl wat saamloop met die behoefte aan eie liturgieë en taal- en stylkwessies. Net soos in die geval van die RCA, is hier sprake van gemeenskaplikhede wat breër as ringsverband loop. Oor hoe so iets met twee NGKA- sinodes (Vrystaat en Phororo) hanteer moet word (Jaarboek NGKe 2007:155), is daar nog nie duidelikheid nie. ’n Skakelliggaam tussen hierdie twee sinodes of die behoud van hulle huidige Algemene Sinode, is moontlikhede.
Naas hierdie uitgesproke behoeftes in die RCA en NGKA, kom daar gereelde klanke uit NGK- gemeentes wat pleit vir die behoud van ’n “Afrikaanse kerk” of gemeentes waarin jy in jou eie taal kan aanbid. ’n Argument wat ook staan op verskille in taal en styl.
Verantwoorde gedagtes oor kerkeenheid in hierdie situasie en teen hierdie agtergrond moet Skriftuurlik-kerkregtelik of gereformeerd ekklesiologies begrond wees. Dit gaan om elemente wat eenheid stimuleer, maar ook om faktore wat op ’n wettige diversiteit as geestelike rykdom dui. Die vraag is ook wat kerke, wat soos die NGK uit die Nederlandse gereformeerde of Dordtse tradisie kom, in die verlede in soortgelyke of min of meer soortgelyke situasies gemaak het?
SKRIFTUURLIK-KERKREGTELIKE AANPAK
’n Vraag wat soms in die reformatoriese tradisie gevra word, is die vraag of “sigbare” kerkeenheid ’n Bybelse eis is. Behalwe dat die stel van hierdie vraag deur ’n Griekse dualisme tussen die sogenaamde volmaakte, onsigbare vorme van dinge en die sigbare, onvolmaakte gestalte daarvan beïnvloed is, is beide Skrif en belydenis duidelik en reguit ten opsigte van hierdie saak.
Hoewel die Bybel nie direkte spesifiserende eise oor die strukturele kante van kerkeenheid bevat nie, en slegs die destydse stande van sake oor die eenheid tussen die gemeentes deurgee, is die Skrif tog baie duidelik oor die noodsaak van sigbare eenheid tussen die gelowiges van alle gemeentes of kerke. Dit gaan om ’n eenheid wat as geloofseenheid bou op gemeenskaplike geloofswaarhede (vgl Ef 4:1-16 ens) en wat hom ook uitdruk in gesamentlike besluitneming, aksies en onderlinge hulpbetoon (Hand 15 en 2 Kor 9). Tussen die gemeentes van die Nuwe Testament was daar geen strukturele eenheid of ’n kerkverband in die moderne sin van die woord nie. As liggaam van Christus (gebou, tempel, saailand ensomeer van God-Drieënig, 1 Kor 3, Ef 4) was hulle egter onteenseglik een in “sigbare” aspekte soos leer en diens (Du Plooy 1979:83).4
Die Drie Formuliere van Eenheid gee ook nie direkte spesifiserende voorskrifte vir ’n moontlike eenheidstruktuur vir die kerk nie. Tog beslaan ’n uitleg van die derde groot artikel van die Apostolicum naamlik die belydenis oor die Heilige Gees en ’n (een) heilige, algemene, Christelike kerk meer as die helfte van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Dit strek van artikels 15 tot 37. Veral in artikel 27 tot 29 word daar op die sigbare eenheid van die kerk gekonsentreer. Hier word die kerk5 – veelseggend genoeg – in die enkelvoud beskryf as ’n vergadering van die gelowiges rondom die notae ecclesiae (’n sigbare handeling) waarvan niemand hom in selftevredenheid afsydig mag hou nie. In die Heidelbergse Kategismus noem antwoord 54 die kerk die gemeente van die Here – weer die enkelvoud! – wat Hy deur sy Woord en Gees van die begin van die wêreld af tot aan die einde daarvan in die eenheid van die ware geloof versamel, beskerm en onderhou. Antwoord 55 bou hierop voort deur na die gemeenskap van die gelowiges te verwys as iets waarin almal aan die gawes van Christus en daarom aan mekaar deel het en waarin hulle hulle gawes tot nut en saligheid van mekaar (sigbaar) moet aanwend. Sonder om op die “hoe” van kerkeenheid in te gaan – dit is ’n saak wat met die omstandighede van die kerke op ’n bepaalde plek saamhang en dus nie ’n kern- of belydeniswaarheid is nie – bely hierdie twee belydenisse dus duidelik die “dat” van sigbare kerkeenheid.
’n Voorbeeld van hierdie benadering wat normaalweg in gereformeerde kerke met ’n Nederlandse oorsprong – die NGK is histories deel hiervan – aanvaarbaar geag word, is dié van die Gereformeerde kerke in Nederland rondom die “groot” Dordtse Sinode van 1618-1619.
Hierdie Sinode was in feite ’n internasionale (ekumeniese) gereformeerde sinode waarop afgevaardigdes uit Nederland, Engeland, Switserland en Duitsland sitting geneem het (Kuiper 1995:268). Ten opsigte van streeks- of partikuliere sinodes het hulle langs taal- en kultuurgrense verdeel. In Nederland het die Nederlandsprekendes en die Walinge (Franssprekend) hulle eie gemeentes, klassisse en partikuliere sinodes gehad. Almal – ook die Engelse, Switsers en Duitsers – het egter deur middel van hulle afgevaardigdes in die Generale Sinode verenig. Kragtens die bepalings van die destydse Dordtse Kerkorde was hierdie vergadering om twee redes byeen: (1) die probleme rondom die leer waaruit die bekende Dordtse Leerreëls gegroei het, het hulle gemeenskaplik aangegaan én (2) dit kon juis dáárom nie op een van die “mindere” vergaderings afgehandel word nie6.
Hiernaas is die eenheid tussen die Nederlandse en Franse gereformeerdes ook “nie- struktureel” geïllustreer deur die Franse Gereformeerde Sinode se aanvaarding van die Confessio Belgica of Nederlandse Geloofsbelydenis uit 1561 en die Nederlandse Generale Sinode van Emden van 1571 se aanvaarding van die Confessio Gallicana of Franse Geloofsbelydenis van 1559. In Nederland sou die Franse die Geneefse en die Nederlanders die Heidelbergse Kategismus gebruik: twee konfessies wat inhoudelik ooreenstem. Hulle sou daarmee – hulle insiens – hulle eenheid bevestig. Hoewel nie struktureel nie, was hierdie besluite oor die verskillende belydenisse vir die betrokke gereformeerdes ’n teken dat hulle “een” was (Rutgers 1889:57-58). Die uitgangspunt was duidelik: ’n eenheid te midde van ’n verskeidenheid.
Kerkeenheid tussen Franse en Nederlandse gereformeerdes het in hierdie tyd gebou op die aanvaarding van gemeenskaplike kernwaarhede van die geloof en onderlinge vertroue. Hierdie vertroue het gegroei uit die besef dat hulle as gereformeerdes in Wes-Europa ’n gemeenskaplike stryd vir hulle geloof moes stry omdat vervolging by almal aan die orde van die dag was (Kuiper 1995:157vv). In die woorde van H Bouwman, bekende gereformeerde kanonikus:
“Het was een van harte instemmen met die eeuwige waarheden, die daarin werden geleerd, en een verklaren tevens, dat men bereid was die waarheid met zijn bloed te bezegelen, iets wat in die dagen waarlijk geen ijdele klank was”(1985:568).7
Hierdie aanpak illustreer die punt dat die destydse Gereformeerde Kerke in Nederland ’n ruimer visie op kerkeenheid as bloot dieselfde gemeentes en belydenisse gehad het. Die kernwaarhede wat omhels is, kon in verskillende dokumente verwoord en vervat word, maar moes ooreenstem. Daarby het die wyse waarop kerkverband georganiseer is, rekening gehou met die geloofseenheid sowel as die taal en bedieningstyl van die betrokkenes. Wat begronding betref, sluit dit aan by die eenheid-en-verskeidenheid-standpunt van die Achterbergverklaring van November 2006 soos uitgereik deur die afgevaardigdes van die vier kerke van die NG Kerkfamilie in Suider-Afrika. Achterberg vorm deel van ’n nuwe inisiatief vir groter eenheid of ’n nuwe kerkverband in die NG Kerkfamilie. ’n Inisiatief wat die afgelope jaar of meer ’n nuwe stukrag gekry het.
JONGSTE VOORSTELLE IN NG KERKFAMILIE
Teen bogenoemde agtergrond is dit verstaan- en verantwoordbaar dat eenheid in die Ned Geref Kerkfamilie nie bloot ’n strukturele saak is nie en dat ’n eenheidstruktuur tussen hulle nie die rykdom van die taal- en bedieningsverskeidenheid in die familie kan ignoreer nie. Dit gaan ten diepste om geloofseenheid wat bou op die aanvaarding én belydenis van die kernwaarhede van die gereformeerde geloof.
Juis omdat kerkeenheid ten diepste geloofseenheid is, is die mate waarin eenheid in belydenis in die familie aangetref word, ’n stap of teken in die regte rigting. Omdat die Belydenis van Belhar egter ’n twisappel tussen vele in die NGK, die NGKA, die RCA aan die een en die VGKSA aan die ander kant is, is dit wys om dit nie afdwingbaar te maak nie.8 Terselfdertyd is belydeniseenheid in die vorm van die gesamentlike onderskrywing van sekere gereformeerde belydenisse nood- saaklik: in hierdie geval die formele onderskrywing deur al vier kerke van die Drie Formuliere van Eenheid.
As oplossing het die Algemene Sinode van 2004 van die NG Kerk met die voorstel gekom dat Belhar een van die belydenisse moet wees wat in die belydenisgrondslag van ’n nuwe kerkverband (nie ’n nuwe kerk met nuwe gemeentes en ’n totaal nuwe belydenisrigting nie - PJS) opgeneem word, maar nie so dat “alle gemeentes, predikante, kerkraadslede en lidmate van die nuwe verband dit vanselfsprekend as belydenisskrif hoef te onderskryf nie” (NGK 2004a:428). Hierdie aanbeveling is nie sondermeer deur al die lede van die NG Kerkfamilie aanvaar nie. Daarom is die taakgroep van die konferensie van die vier Moderamina of Sinodale Kommissies wat hieroor moet handel, tans nog nie verder as om te sê dat Belhar nie afdwingbaar of, van voorstanders daarvan, ontneembaar moet wees nie. ’n Voorstel oor hoe dit in praktyk gereël kan word, moet nog uitgewerk word.
Die huidige denke en voorstel in die taakgroep oor die “model” of nuwe kerkverband neig in die rigting van Dordt 1618-1619 se voorbeeld.9 Dit beteken dus dat bestaande gemeentes, ringe en sinodes in een algemene sinode (algemene sinodale verband) met sekere duidelik omskrewe bevoegdhede verenig. Die taakgroep verwys hierna as ’n wegspring- of beginpunt van kerkeenheid waarin die onderlinge eenheid nog moet groei (vgl NGK in die VS 2007:3).10 Intussen, dit is die gedagte, kan ringe en sinodes wat gesamentlike werksaamhede wil onderneem en nadere eenheid soek, voortgaan. Solank dit met die groter prentjie versoen kan word.
Twee redes maak hierdie voorstel uit ’n gereformeerde kerklike hoek aantreklik.
Die eerste is dat die “model” nie rewolusionêr op gemeentes afkom nie en eintlik net een treetjie verder as die mislukte Federale Raad uit 1963 impliseer. Dit adem dus die historiese norm van hervorming of kontinue ontwikkeling of verandering. Daarby is gesamentlike besluitneming vooraf oor watter sake die voorgestelde algemene sinode moet hanteer, gerusstellend vir kerke soos die RCA en NGKA. Dit wat nie gemeenskaplik is nie of deel is van die erkende verskeidenheid, kan sodoende aan sinodes oorgelaat word. Wat meer is, dit klop ook met die kerkregtelike norm dat meerdere vergaderings nie sake hanteer wat op mindere vergaderings afgehandel kan word nie.11 In sy geheel beskou, hou dit vir die kerke dus nie ’n rewolusionêre sprong in nie, maar ’n volgende tree wat rekening hou met die genoemde verskeidenheid binne die eenheid van een kerkverband.
Die tweede rede is dat daar aan so ’n voorstel in die Suid-Afrikaanse reg moontlik minder struikelblokke verbonde is as aan ’n meer ingrypende voorstel wat meer mindere vergaderings soos ringe en sinodes betrek.12 Die regsposisie van kerke in ’n situasie van groter eenheid is belangrik én krities omdat ’n minderheid ontevredenes (in gemeente-, rings- en sinodale verband) binne die kerke hulle op die burgerlike hof kan beroep vir ’n wetlik afdwingbare hersiening van die eenheidsproses.13 Dit gaan dus nie om ’n regstegniese bepaling van die eenheidsproses nie, maar om prosedures wat nie sondermeer deur ’n hof opsygeskuif sal word nie. Kerklik intern moet die proses eerstens gereformeerd-ekklesiologies en kerkregtelik begrond word voordat die regsposisie oorweeg word. Kerke het ’n reg op die erkenning en behoud van hulle kerklike selfstandigheid teenoor die organe van die staat. Godsdiensvryheid in dié sin word wêreldwyd erken (vgl NGK 2004b: KO artikel 2.3).
’n Kort voorbeeld kan die aktualiteit van hierdie stellings verduidelik. Uit die oogpunt van die burgerlike reg beskou, is gemeentes (met die kerkraad die orgaan), ringe en sinodes regspersone met al die regte en voorregte daaraan verbonde. Een regspersoon kan ’n ander nie regtens ontbind nie, sodat ’n kerkraad, ring of sinode wat nie wil nie, sy eie pad kan bly loop. Om die bestaande algemene sinodes in die familie te ontbind, is in die geval van byvoorbeeld die Ned Geref Kerk makliker, omdat artikel 36 voorsiening maak vir die uittrede van sinodes uit die Algemene Sinode. Boonop is die aantal Algemene Sinodes in die familie minder as die gemeentes en die ringe, sodat so ’n aksie minder probleme – en dus hofsake – kan inhou as ’n meer ingrypende voorstel.
Twee ander taakgroepe is tot dusver op die konferensies van die sinodale kommissies aangewys: een oor versoening en een oor gesamentlike werksaamhede. Uit die betoog tot dusver blyk dit dat beide hulle besighou met kernelemente van kerkeenheid. Beide sake vorm en illustreer noodsaaklike elemente van kerkeenheid en die suksesvolle deurvoering van beide kan die eenheid van die beoogde nuwe kerkverband (in hierdie geval ’n sinodale verband) net bevorder.14
HINDERNISSE
Soos dit duidelik uit die verenigingsproses van die VGKSA en die NGKA geblyk het, kan die uitkoms van hofsake ’n beduidende invloed hê op die proses wat die kerke volg. As gevolg van die element van regsonsekerheid wat daar tans ten opsigte van regsoordele (of die benadering van “die” howe) in Suid-Afrika oor prosesse van kerkeenheid bestaan, kan daar nie met sekerheid gesê word wat die howe se benadering sal wees as sulke sake voor hulle gebring word nie. Moontlike opsies is elders bespreek en word nie hier herhaal nie15. Hofuitsprake is egter nie die enigste moontlike hindernis in die vorming van een kerkverband in die NG Kerkfamilie nie. Ook van internkerklike kant is daar sekere potensiële hindernisse.
Die eerste saak is moontlik voor die handliggend. Dit bestaan daarin dat die eenheid ten koste van die verskeidenheid soos hier uitgestippel, beklemtoon word of dat die verskeidenheid so op die spits gedryf word, dat die eenheid daaronder ly.
’n Verabsolutering van die eenheid kan daartoe lei dat eenheid eensydig struktureel en ten opsigte van alle moontlike kerklike strukture opgevat word.16 Dit is dan wanneer dieselfde gemeentes, ringe en sinodes as norm gebruik word en ’n oorwig van getalle die kerklike styl, taal en identiteit bepaal. Wanneer die erkenning en huisvesting van enige element of faset van ’n wettige verskeidenheid ’n verleentheid word. Dan word die “nuwe” begrip “diversiteit”, anders as in genoemde Achterbergverklaring van November 2006, nie as rykdom nie, maar as bedreiging ervaar. Dan praat jy van ’n totaal nuwe kerk met nuwe gemeentes ensomeer. Vir persone op hierdie uitgangspunt sal die visualisering van een algemene sinode – selfs as ’n beginpunt – nie bevredig nie.
Die verabsolutering van die verskeidenheid lei tot kerklike apartisme op alle vlakke waarin die eenheid slegs “in Christus” gesoek word. ’n Saampraat of saambesluit – ook in ’n gesamentlike algemene sinode – word in politieke terme as kerklike magsdeling beskryf en die saamwerk en saambesluit van gelowiges uit verskillende kultuur- en volksgroepe met afkeur begroet omdat dit die “dun end van die wig” of geforseerd sou wees (NGK 1966:491,567). Die uitgangspunt dat alle besluite in ’n gereformeerde kerkvergadering Woordgebaseer of – gebonde moet wees en dat alle menslike denke en stemtotale hieraan ondergeskik moet wees (dit is immers ’n Christokrasie), word as ’n onwerkbare ideaal na die agtergrond verskuif.
Die tweede bedreiging of hindernis vloei voort uit die eerste. Dit bestaan uit onkunde oor die kerkregtelike aard van een kerkverband. Die ou gereformeerde opvatting dat kerkverband in die sinodale sin van die woord – dit wat hier voorgestaan word – ’n intieme vorm van kerkeenheid is17, word uit die oog verloor. Dit is dan wanneer die veelkantige aard van ’n kerkverband as strukturele eenheid wat bou op geloofs- of belydeniseenheid, misgekyk word. Belydeniseenheid is juis die mees fundamentele vorm van geloofseenheid en lei tot die mees grondige oomblikke in die belewing van geloofseenheid. Gelowiges soek mekaar – prinsipieel gesien – op in kerkverband omdat hulle van dieselfde grondwaarhede van die geloof oortuig is. Maar dan gaan dit om gelowiges wat mekaar ken en vertrou. ’n Ken en vertrou wat juis deur die een of gesamentlike algemene sinode as beginpunt te beskou, bevorder kan word.
’n Derde hindernis kan voortvloei uit ’n gebrek aan inligting oor wat die proses behels. Hier gaan dit oor die huiswerk wat in elke kerk van die familie gedoen moet word sodat die proses tot op die “grond” of in gemeentes en by lidmate bekend moet wees. Die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk het immers in 2004 besluit dat tweederdes van die kerkrade die finale eenheidsvoorstel met ’n tweederde meerderheid moet goedkeur, maar dat hulle hulle eie besluite hieroor eers aan hulle eie gemeentes vir approbasie (’n vorm van goedkeuring soos by die beroeping van ’n nuwe dominee) moet voorlê (NGK 2004a:429). Dit bly dus kerkrade wat – volgens artkel 18 en 19 van die Kerkorde – besluit, maar nie sonder dat die gemeentes ook inspraak het nie.
’n Vierde hindernis is bloot geestelik van aard. Hier gaan dit oor die onvermoë van gelowiges uit verskillende volks- en ander groepe om mekaar as medegelowiges te herken en te ervaar. Daardie sondige, ongehoorsame faktor wat jou verhinder om ander gelowiges aan die hand van 1 Korintiërs 3 as deel van die saailand, gebou en tempel “van God” te sien. As deel van die eiendom van God te beskou. ’n Hindernis wat meebring dat jy nie kan insien dat die grootste kwalifikasie van die gelowiges – alle gelowiges – is dat hulle “van God” is nie. Dit is: dat die Here God hulle oorsprong en eienaar is. En dat hulle daarom almal deel van die liggaam van Christus is.
SLOT
Alles in ag genome gaan bogenoemde redenering oor die vorming van een algemene sinodale verband (’n nuwe kerkverband) in die NG Kerkfamilie. ’n Naam waaraan hierdie familie geken word en wat daarom ook swaar moet weeg by die gee van ’n naam aan die beoogde nuwe algemene sinodale verband. In 1962 het die toetredende sinodes tot die nuwe algemene sinodale verband in die NG Kerk hulle name behou, terwyl laasgenoemde op “Ned Geref Kerk”, sonder enige geografiese agtervoegsel, besluit het (NGK 1962:232).
Terwyl die “gereformeerd” in die naam op die kerklike identiteit van die familie dui, is “Nederduitse” ’n aanduiding van die menslike historiese wortels daarvan en daarom minder belangrik. Die teendeel kan egter ook gebeur naamlik dat willekeur, by die gebrek aan ’n alternatiewe ingeburgerde naam, oorneem. Dit sal ongewens wees.
As kerke van die Hervorming sal die familie wys wees as hy die eenheid as ’n kontinue proses aanpak wat nie rewolusionêr op gemeentes afkom nie. As hy erken dat kerkverband primêr ’n verband van gemeentes is en dat hulle op die voorgeskrewe manier saam oor die uitkoms daarvan moet besluit. Omdat dit hier ook primêr om geloofsoortuigings gaan, is tydskale vir die voltooiing of bereiking van oortuigings onvanpas. Meer nog, is geduld en ’n omdraai om jou mede-broers te oortuig, deel van hierdie kerklike en Bybelse proses.
Daarby bly kerkeenheid ’n Goddellike imperatief of Bybelse opdrag waarmee ons op aarde nooit sal klaarkom nie. As gelowiges is ons deel van die liggaam van Christus maar moet ons hierdie band ook bewaar en uitbou. Ons glo immers ook aan ’n (een) heilige, algemene Christelike kerk.
BIBLIOGRAFIE
Achterbergverklaring, November 2006.
Achterbergkonferensies sa. Confessional basis, Model etc. Ongepubliseerd.
Bouwman, H 1912. De kerkelijke tucht. Kampen: Kok.
Bouwman, H 1985. Gereformeerd Kerkrecht II. Kampen: De Groot Goudriaan (3e onveranderde druk). Cloete, GD en Smit, DJ 1984. ’n Oomblik van waarheid. Kaapstad: Tafelberg.
Du Plooy, A le R 1979. Ekklesia en meerdere vergaderinge. Potchefstroom: PU vir CHO (ongepubliseerd).
Heyns, JA 1977. Die Kerk. Pretoria: NG Kerkboekandel.
Jaarboek NGKe 2007.Sl:sn.
Kuyper, HH sa. De Post Acta of nahandelingen van de Nationale Synode van Dordtrecht. Amsterdam: Höveker en Wormser.
Kuiper, BK 1995. The church in history. Michigan: WB Eerdmans.
NGK (Nederduitse Gereformeerde Kerk) 1962. Handelinge Algemene Sinode. Sl:sn.
NGK (Nederduitse Gereformeerde Kerk) 1966. Handelinge Algemene Sinode. Sl:sn.
NGK (Nederduitse Gereformeerde Kerk) 2004a. Handelinge Algemene Sinode. Sl:sn.
NGK (Nederduitse Gereformeerde Kerk) 2004b. Die Kerkorde. Wellington: Lux Verbi.BM.
NGKA (Nederduitse Gereformeerde Kerki in Afrika) sa. Die Kerkorde.
NGK in die Vrystaat 2007. Notule Moderamen. Ongepubliseerd.
RCA (Reformed Church in Africa) 1989. Church Order. Durban: RCA.
Rutgers, FL 1889. Acta van de Nederlandse Synoden in der 16e eeuw. Utrecht: Kemink en Zoon.
Smith, NJ 1980. Elkeen in sy eie taal. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.
Strauss, PJ 1991. Kerkreg en ekumene; ’n verwaarloosde tema in die Ned Geref Kerk. In: Strauss, PJ (red). Byderwets en gereformeerd. Bloemfontein: Pro Christo.
Strauss, PJ 1999. Goedkeuring van kerkrade vir ’n nuwe kerkverband in die NGK-familie? Acta Theologica 19/2, 32-54.
Strauss, PJ 2005. Watter sake hoort by meerdere vergaderings? In die Skriflig 39/2, 293-310.
Strauss, PJ 2005. Belydenis, kerkverband en Belhar. Ned Geref Teologiese Tydskrif 46/3 en 4, 560-575. Strauss PJ 2007. Die regsposisie van kerke in ’n verenigingsproses; die Ned Geref Kerk teen die agtergrond van ontwikkelinge in België. Ned Geref Teologiese Tydskrif 48/1 en 2.
VGKSA (Verenigende Gereformeerde Kerk in Suidelike Afrika) 1997. Kerkorde. Bloemfontein: VGKSA.
TREFWOORDE
Kerkfamilie, Belydeniseenheid en kerkverband, Verabsolutering van eenheid en van verskeidenheid
KEY WORDS
Church family, Unity of confession and a denomination, Over emphasising unity or diversity
KONTAKBESONDERHEDE
1 In die verklaring van die Achterbergkonferensie van November 2006 word daar gewag gemaak van ’n verskil in taal, bedieningstyl en kerklike identiteit in die NG Kerkfamilie, vgl Achterbergverklaring, November 2006.
2 Die Algemene Sinode van die NG Kerk van 1998 stel dit so: “Die behoud van die gereformeerde karakter van die Ned Geref Kerk (staan) in direkte verband met die wyse waarop daar in die kerklike lewe, liturgie, prediking en onderrig aangesluit word by die verstaan van die evangelie soos dit in die historiese gereformeerde belydenisskrifte neerslag gevind het.”: 465.
3 Smith 1980:308 praat van die gereformeerd-presbiteriale stelsel van kerkregering wat dwarsdeur die NGK-familie aangetref word.
4 Du Plooy noem dit ’n “duidelike dogmatologiese en diakonologiese eenheid… en tog nie ’n ver-eniging nie”. Op ’n ander plek praat hy van ’n “sigbare geloofsband en gemeenskapsband”, 1979:80.
5 Hierdie verwysing na die kerk in die enkelvoud is in kerklike debatte al gebruik om die vraag te vra of dit hier oor die “plaaslike” kerk of kerkverband gaan. Myns insiens mik beide belydenisskrifte – na aanleiding van die formulering – hier op die kerk in die algemeen (as vergadering van die gelowiges) en is daar geen poging om vrae oor die kerk as gemeente of kerkverband (die kerklike struktuur) te beantwoord nie.
6 Vgl die interpretasie van die Dordtse Kerkorde se artikel 30 waarin hierdie twee oorwegings vervat is, Strauss, 2005:296.
7 Bouwman, 1912:184 wys ook daarop dat die Nederlandse Geloofsbelydenis in die 1560’s as die bindende faktor by uitstek van die Nederlandse Gereformeerde Kerke beskou is en dat die aanvanklike opstellers daarvan bereid was om dit met hulle bloed te verseël.
8 Vir redes waarom Belhar nie as kerklike belydenis aanvaarbaar kan wees nie, kyk Strauss, PJ 2005. Belydenis, kerkverband en Belhar. Ned Geref Teologiese Tydskrif 46/3 3n 4:560vv. In hierdie beredenering word nie emosionele, historiese of simboliese redes teen Belhar aangevoer nie, maar kriteria vir die erkenning van ’n kerklike belydenis, vgl NGK 2004a:428.
9 Vgl ongepubliseerde stukke Achterbergkonferensies: The Confessional Basis, Model ens.
10 In sy besluit oor eenheid in die NG Kerkfamilie sê die Algemene Sinode van die NG Kerk in 2004 dat daar in die vorming van ’n nuwe kerkverband ruimte gelaat moet word vir onderhandeling, nuwe moontlikhede en ’n groei na mekaar, NGK 2004a:428.
11 Kyk Strauss, PJ 2005a. Watter sake hoort by meerdere vergaderings? In die Skriflig 39/2, 293vv.
12 Kyk Strauss, PJ 2007. Die regsposisie van kerke in ’n verenigingsproses: die Ned Geref Kerk teen die agtergrond van ontwikkelinge in België. Ned Geref Teologiese Tydskrif 48/1 en 2, 209.
13 Wat die Ned Geref Kerk betref, moet die eindvoorstel oor die belydenisgrondslag en “model” deur ’n tweederde meerderheid van tweederdes van die kerkrade, al 10 die sinodes en die Algemene Sinode aanvaar word, vgl NGK 2004:429; KO artikel 44.1 (hierdie artikel is tans nog in ’n proses van goedkeuring). Behalwe om internkerklik te appelleer, sou minderhede in kerkraad, sinode en die Algemene Sinode hulle na die burgerlike hof kon wend. Hierdie moontlikheid word nie deur KO artikel 23.2 uitgeskakel nie wat bepaal dat lidmate, ampsdraers en amptenare “van die Ned Geref Kerk” hulle eers tot die burgerlike hof kan wend nadat hulle alle kerklike middele tot hulle beskikking “aangewend en uitgeput” het. Appélle word ooreenkomstig artikel 23 hanteer.
14 Vgl ongepubliseerde stukke Achterbergkonferensies.
15 Kyk Strauss, PJ 2007. Die regsposisie van kerke…
16 Vgl opmerkings in Inleiding.
17 Kyk Strauss PJ 1991. Kerkreg en ekumene; ’n verwaarloosde tema in die Ned Geref Kerk. In Strauss, PJ (red). Byderwets en gereformeerd. Bloemfontein: Pro Christo, 187vv.