Smit, G1
Universiteit van Stellenbosch

Ekklesiologiese merkers vir missionêre gemeentebediening in ‘n postmoderne wêreld

ABSTRACT

Ecclesiological markers for missional congregational ministry in a postmodern world

This article explores the impact of postmodern society of the church’s understanding of herself. It lists the ecclesiological parameters within which postmodern, missional ministry should be conducted. This includes a new understanding of the biblical concept of witnessing, a new approach to the corporate gathering of the church, understanding discipleship as a life journey and not as a ministry program, developing kingdom-oriented leaders and accepting the missional challenge to tackle macro-societal challenges that impact the church, specifically through the ministry of reconciliation.

1. INLEIDING

“The local church is the hope for the world” (Hybels, 2002:27). Trouens, meer as ooit tevore is daar belangstelling in die geestelike, in spiritualiteit, en in die metafisiese (Robinson & Wall, 2006:2-3). Die hartseer werklikheid is egter dat die kerk wêreldwyd veld verloor. Nie alleen word gedink aan die afname in lidmaattalle in hoofstroomkerke, van Europa regdeur die Verenigde State en tot in die tweedewêreldlande nie. Die ou Afrikaanse spreekwoord, “van nuuskierigheid is die tronk vol en die kerk leeg,” kry nuwe betekenis wanneer mens dit hermetaforiseer na “van kooplus is die mall vol en die kerk leeg.” Boonop verloor die kerk die harte van sy mense. Antieke, liturgiese taal en passiewe, gestruktureerde boodskappe kompeteer in ‘n nuwe wêreld - waarin mense interaktief, sensories en ervaringsgebonde aanbid in ‘n hier-en-nou omgewing van soek en voel met die vryheid om terug te staan, deel te neem, of te bevraagteken (vgl Miller, 2004:76-80).

Die opbloei in belangstelling in spiritualiteit lei tot ‘n privaat, persoonlike Jesus wat daarop uitloop dat die groter geloofsverhaal van die Christendom verdoesel word om ‘n kultuur van godsdienstige individualisme te akkommodeer, ‘n kultuur wat juis een van die draers is van die groeiende verlies aan die harte van gelowiges (Robinson & Wall, 2006:3). Gevolglik gaan ‘n groter wordende koor van bekommerde teologiese stemme op oor die kerk se onvermoë om steeds ‘n mobiliserende krag in die wêreldgeskiedenis te wees, veral omdat mense nie meer by die kerk krag kry vir hulle toekoms nie (Sweet, 1999:22). Feit is, ons staan in ‘n oorgangstyd, een waarin sake eindig sodat ander kan begin. Die spoed van oorgang is so vinnig dat sommiges nog met moderne metafore sukkel terwyl hulle oornag die taal van met enige sewentigjarige ouma wat probeer om haar kleinkinders se selfoonboodskappe te ontsyfer! Die huidige oorgangstyd gaan oorloop in ‘n wêreld waarvan ons nog nie eens kan sien hoe die eindproduk van hierdie nuwe kultuur gaan lyk nie (Sweet, McLaren & Haselmayer, 2003:18).

Ons leef in ‘n era van metafoorverspringing. Martoia (2007:11-13) verduidelik dat die geloofseie metafore van Christene in die postmoderne konteks tot onbegrip of weerstand onder persone buite die geloofsomgewing lei. Woorde en frases het immers die vermoë om beelde uit ons ervaringsargiewe op te roep, by ons emosies in te tap, en onwillekeurige reaksies te ontlok. Ons moet dus bedag raak daarop dat ons verskillende interpretasies van woorde, frases en metafore tot stoornisse (“static”) in ons kommunikasie kan lei. Robinson en Wall (2006:3-4) handhaaf dat die Bybel getuig van God se bedoeling om ‘n volk te vorm, ‘n gemeenskap, ‘n sigbare liggaam. Die fokus is op God se ekklesia, sy unieke gemeenskap in die wêreld wat so ver gaan om ‘n nuwe droom van ‘n nuwe wêreld te beliggaam en dit prakties uit te leef. Hierdie metafore is egter ouwêrelds, vreemd en onbekend in ‘n tegnologie-gedrewe digitale wêreld.

Die tyd het dus aangebreek om van nuuts af op prinsipiële wyse oor die kerk se roeping in hierdie wêreld na te dink. Dit is die uitdaging van ons leeftyd om in vloedwaters te leer roei; om die taal van transformasie te praat; om die beelde en metafore wat in die bestek van ‘n enkele generasie opspring, te identifiseer. Ons moet vertellers wees waarin ons die diskoers van die evangelie getrou aan ‘n gans ander kultuur kan navertel sodat die hoop van die wêreld steeds by die plaaslike gemeente lê.

Ons roeping is om te help skep aan ‘n toekoms wat steeds getuig oor God, albeit in ‘n taal wat nog aangeleer moet word (Sweet, McLaren & Haselmayer, 2003:20-21). Immers … “The church has periodically collaborated with God’s paintbrush to transcend the current context and bring an essential truth to life before the world’s eyes. The church has the ability to provide a fresh, creative, and original expression of what community, society and culture can be like” (Miller, 2004:122). Hierdie roeping moet geoperasionaliseer word in ‘n teoretiese raamwerk wat die wisselwerking tussen teorie en praxis verreken.

Volgens Heitink (1993:149-152) staan die verhouding tussen teorie en praxis op vyf uitgangspunte:

i. Daar is nie ‘n suiwer teorie van die praxis nie.

ii. Praxis bestaan meestal onbewustelik, maar word altyd mede bepaal word deur die teoretiese. Wie dit ignoreer, verval in ‘n ideologiese praxis.

iii. Die primaat van teorie bo praxis moet afgewys word.

iv. Die afwysing van die omgekeerde (die primaat van praxis bo teorie) is ook noodsaaklik, aangesien die verskynsel van praxis-bo-teorie die status quo in die kerk handhaaf.

v. Laastens oordeel Heitink dat die verhouding tussen teologiese teorie en praxis bepaal word deur ‘n bipolêre, spanningsvolle eenheid.

Gevolglik staan teorie en praxis in ‘n kreatiewe wisselwerking tot mekaar, waarbinne teorie as geopenbaarde Christelike tradisie funksioneer en praxis as geloofspraktyk (Smit, 1997:14). In die sikliese van hierdie verhouding behou die Skrif egter normatiwiteit.

Hierdie artikel word teen hierdie agtergrond geplaas op die praxis-kant van die navorsingskontinuum waarmee meegewerk word aan die dekonstruksie van ‘n verstarde teorie-van-praxis op pad na die vestiging van ‘n alternatiewe bedieningspraxis. Dekonstruksie kan slegs plaasvind deur nuwe inhoude te definieer, nadat onder andere gesoek is vir inherente spanningspunte, teenstrydighede en onverstaanbaarheid in tekste (Sweet, McLaren & Haselmayer, 2003:87).

2. KONTOERE VAN DIE POSTMODERNE ERA

Vir die doel van hierdie bespreking moet enkele kontoere van die opkomende wêreldbeeld getrek word. Juis omdat hierdie ‘n wêreldbeeld-in-wording is, nog in geboortepyne voor die bevalling, kan mens net rapporteer wat reeds paradigmaties vasgestel is. Derhalwe is dit raadsaam om hierdie kontoere eerder aan te bied as ‘n tussen soortgelyke kontoere van die premoderne en moderne wêreldbeelde (vgl Bosch, 1991:349-362; Mead, 1991; Davidson & Rees-Mogg, 1992; Strobel, 1993; Celek & Zander, 1996; Smit, 1997:147-170; Sweet, 1999; McClaren, 2000; Miller, 2004:96-118):

DIE KERK IN DIE ...

PRE- MODERNE ERA

MODERNE ERA

VROEË POST- MODERNE ERA

LAAT POST- MODERNE ERA

Weten- skaps- begrip

Basiese insigte, gedryf deur

‘n landbou- ekonomie

Die Bybel is ‘n akkurate weten- skapsboek

Lineêr-kousale, Newtoniaanse fisika

Die Bybel bevat min wetenskaplike insig

Kwantumfisika

Die Bybel is ‘n nwetenskap- like godsdiens- tige traktaat

Toenemende inte- grasie van weten- skapsterreine

Die Bybel praat saam met ander geloofsdokumente die taal van

die metafisiese wetenskap

Wêreld- beeld

Skepping in ses dae

Aarde is plat, staan op vier pilare en die

son skuif bo-oor

Skepping regtig in ses dae?

Aarde is rond en wentel om son

Skepping oor biljoene jare

Aarde is ‘n klein hoekie van ‘n reuse heelal

Skepping is ‘n interafhanklike proses

Aarde is ‘n geometriese een- heid wat dringend bewaar moet word

Sekulêre gesag- struk- ture

Die pous regeer

Een wêreldryk

Gesag setel absoluut in die persoon van die maghebber

Die koning of president regeer

Koloniale moondhede

Gesag

setel in die professionele kundigheid van die individu

Niemand wat regeer kan vertrou word nie

Opbloei in volksnasiona- lisme

Gesag word gedeel

Die multinasionale maatskappy

regeer

Die wêreld is ‘n digitale dorp

Gesag word afgelei uit die diepte en integriteit van interpersoonlike verhoudings

Tegnolo- giese drywers

Die ploegskaar en os

Die drukpers, binnebrand- enjin en geweer

Die filmkamera, tydskrif en musiekvideo

Die internet, selfoon en satellietskottel

Kommu- nikasie- kultuur

Mondelinge vertel- kultuur

Gedrukte leeskultuur

Passiewe televisie- kykkultuur

Digitale, interaktiewe internetkultuur

Skrif- gesag

Die prediker verstaan die Skrif absoluut en lê dit dien- ooreenkomstig uit

Die Skrif word krities bestudeer met die oog op lering of analisering

Die Skrif word pragmaties bestudeer met die oog op praktiese toepassing

Die Skrif word kontekstueel bestudeer met die oog op beter insig in die getuienis

oor God, waarvan gelowiges die navertellers is; ‘n herwaardering van die antieke diskoers ontstaan

Kerk- begrip

Hiërargies

Die pous

priester of leraar het beheer

Herder-kudde

Die leraar is ‘n professionele versorger

Charismaties- deelnemend

Die leraar is die geroepene van God wat die gemeente se gawes ontsluit

Egalitêr-relasioneel

Die leraar staan

in ‘n netwerk van vertrouensverhou- dings met mede- gelowiges en so ontwikkel hy/sy dienskneg-leiers

Etiek

Wetties – doen wat die leraar sê

Wetties – doen wat die Tien Gebooie sê

Kontekstueel

– doen wat die beste by omstandighede pas

Relasioneel – doen wat die goedkeuring van die groep wegdra

Aanbid- dingstyl

Formele liturgiese eredienste met fokus op ritueel en mistiek

Formalistiese liturgiese verkondigings- dienste met fokus op filosofiese prediking

Vrye aanbidding en korporatiewe lofprysing

met fokus

op praktiese prediking

Diverse deelname volgens kleiner groeperinge

se behoeftes met narratiewe prediking

3. ‘N NUWE MISSIONÊRE PARADIGMA

Groeiende konsensus heers oor die identiteit van die Christelike kerk as medewerker aan God se sending (vgl onder meer Bosch, 1991:389-393; Nel, 1994:28-33; Burger, 1999:78-90; Guder, 2000:47-48; Gibbs & Coffey, 2001:54-68). Hierdie kentering weg van die kerk as ‘n selfonderhoudende, onafhanklike entiteit lei tot ekklesiologiese metanoia. Dis die metaforiese bekering vanuit bedieningspragmatisme tot ‘n Skrifgefundeerde soeke na die ware identiteit van die kerk soos God dit gewil het.

Die besef dat die kerk wesenlik geroep word om agent van die missio Dei te wees, is ‘n fokusverskuiwing weg van lidmatebediening na gemeentesending. Dis ‘n herwaardering van die verlossing deur Jesus alleen as kern van die evangelie en die hele gemeente se roeping om getuies hiervan te wees (Koester, 1995:2-3). En dis ‘n beweging weg van die veroordeling van sondaars na ‘n liefdevolle roeping om stukkende mense in die gemeenskap van Christus in te bind. Hirsch (2006:142) maak dit duidelik dat ‘n missionêre ekklesiologie gekalibreer moet word vanuit die inkarnasie van Christus en die Christologie.

In hierdie postmoderne tydvak van die wêreldgeskiedenis impliseer dit dat die kerk eers met dekonstruksie moet besig wees. Ons moet ons geykte tradisies en dogmatiese metafore dekonstrueer om lewende, dog Bybelse, inhoud daaraan te verleen. So byvoorbeeld moet ons die term sonde dekonstrueer van die oortreding van bepaalde gebooie tot ‘n begrip wat die insig, dat sonde die dade is wat uit ongeloof spruit (Koester, 1989:338), kan oordra. Die geykte begrip wat aan sonde toegeken is, het ‘n struikelblok geword in die bediening van Christus-lose mense.

Volgens Mittelberg (2000:49-61) bring die moderne kerkkultuur verwydering tussen gelowiges en sekulêre individue, omdat die kerkkultuur so ver verwyder geraak het van die sekulêre mens se wêreldbeeld en kulturele bewussyn. Die kerk moet ‘n brug oorsteek die wêreld in en in die taal van die postchristendom wêreld die boodskap van Christus se verlossing op ‘n – vir hierdie kultuur - relevante manier oordra, sodat die grens van ongeloof na geloof oorgesteek kan word.

Volgens Wright (1991:21) word die gesag van die Skrif gebou op die verhale oor wie God is, met die opdrag aan lesers om onder leiding van die Heilige Gees, hulle lewens daardeur te laat vorm. Die kerk is dus ‘n naverteller van die stories oor God. Mens moet ook aanvaar dat daar ‘n kwalitatiewe verskil bestaan tussen aardse en goddelike werklikhede – sonder om in ‘n pseudognostieke digotomie te verval (Van der Watt, 2000:22). Die goddelike kan net in menslike terme beskryf word, by wyse van aardse assosiasies en kategorieë. Daarom is die Bybel gevul met die metaforiese getuienis van gelowiges wat gepoog het om in verstaanbare taal hulle belewenis van die bonatuurlike God weer te gee. Die kern van hierdie getuienis is die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus. Waar Jesus se opstanding uit die graf in die premoderne era klakkeloos aanvaar is, het moderne denkers krities met die evangelies omgegaan (vgl Deist, 1994:261-319) en soms tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen logies-wetenskaplike basis bestaan om die evangeliste se getuienis hieroor te aanvaar nie. Eweneens het apologete van die Skrif op logiese wyse getrag om die getuienis van die evangelies as waar te bewys (vgl Strobel, 1998; McDowell, 1999:203-284).

Vandag is die krisis natuurlik nie meer die logika en waarheid agter die getuienis aangaande Jesus nie, maar die integriteit van getuies wat tweeduisend jaar later steeds aanspraak maak op die lewensveranderende impak wat Jesus op hulle lewens het. Willard (2006:xiv-xv) praat van die kwaliteit van lewe wat Jesus ‘n werklikheid laat word in die lewe van sy dissipels: “... the greatest issue facing the world today, with all its heartbreaking needs, is whether those who, by profession or culture, are identified as ‘Christians’ will become disciples – students, apprentices, practitioners – of Jesus Christ, steadily learning from Him how to live the life of the Kingdom of the Heavens into every corner of human existence.” Dit het dringend noodsaaklik geraak om die getuienismetafoor soos dit deur die kerk gebruik is, te dekonstrueer.

3.1 Die krag van ‘n verhaal

Volgens Louw & Nida (1988:418) beteken martureio “to provide information about a person or an event concerning which the speaker has direct knowledge –‘to witness.’”Dit kan ook beteken “to speak well of a person on the basis of personal experience.” Coenen (1986:1044-1045) verduidelik dat martureio teologiese belangrikheid verkry in veral die Johannes-evangelie, waar die woord 47 keer gebruik word. Die getuienis oor en deur Jesus is vir die evangelie- skrywer ‘n fundamentele saak: Dis die getuienis oor Jesus se aardse bediening, sy kruisiging en sy opstanding wat die kern vorm van die getuies se boodskap en die geloofwaardigheid daarvan (Trites, 1986:1047). Derhalwe is die kerk gebou op hierdie getuienis. Haar identiteit is afhanklik van die werklikheid van die gebeure en persoon van die Verlosser. Nie alleen die getuienis oor Jesus nie, maar ook die voortgesette navertelling daarvan in opvolgende geloofsgemeenskappe is die bedoeling van Johannes se getuienis (vgl Joh 17). Koester (1989) toon oortuigend hoe Johannes hierdie getuienis aanbied om die beweging van ongeloof na geloof, gebou op die woorde van Jesus eerder as sy dade – asook die onvermoë by sommige om te glo slegs op grond van sy woorde, demonstreer.

Dat hierdie impak op die geloof in die opgestane Christus bou, is sentraal. Die eerste “formele” byeenkomste van die Jesus-geselskap na sy kruisiging (Joh 20:19-25, 26-31) demonstreer dit (Koester, 1989:345-347): Tydens die eerste byeenkoms, met Tomas afwesig, verskyn Jesus in die groep se midde. Hy spreek vrede oor hulle uit. Johannes eggo hier die woorde van Joh 17:18. Sy verskyning is vir die groep blye ‘n geleentheid. Tomas weier egter om later die ander dissipels se storie te aanvaar. Sy ongeloof word gebaseer op ‘n verwerping van hulle getuienis vir die soeke na tasbare tekens. Vir die Johannes-skrywer is geloof gebou op mense wat diegene wat daar was en dit navertel, se storie aanvaar en oorbeweeg in die lig van geloof in. Vandaar Jesus se opmerking aan Tomas: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo” (Joh 20:29).

Hierin vind mens ‘n metafoor vir die byeenkomste van gelowiges wat op grond van die getuienisverhale van die eerste gestuurdes plaasvind: Soos Jesus se fisiese teenwoordigheid vir die dissipelgroep vrede en vreugde gebring het, so sal Hy deur die Heilige Gees dieselfde vrede en vreugde bring in alle byeenkomste van alle gelowiges (Brown, 1970:1042-1045). Dis die belofte dat sy (simboliese) teenwoordigheid in geloofsbyeenkomste ‘n tasbare verskynsel sal wees, iets wat meewerk aan die voortgaande proses van geloofsvorming onder gelowiges.

Hierdie belofte kan egter slegs kontekstualiseer deur die getuienis van mense se ontmoetings met die opgestane Christus, sou dit ook metafories wees. Immers, die postmoderne se herwaardering van die geloofsbelewenis en ervaring skep ruimte vir nuwe geloofsmetafore in die stories van Christene, terwyl dit ook ruimte laat vir die voortgesette getuienis deur Christene dat hulle die opstandingsverhaal as historiese gegewe kan aanvaar – soos dit deur die navorser self bely word. Is dit nie juis die kragtige eienskap van die Griekse begrip μαρτυρέω nie dat inligting of ‘n gebeurtenis waarvan die getuie persoonlik kennis dra (die betekenis van die begrip, Louw & Nida, 1988:418) tegelyk ook beteken “to speak well of a person on the basis of personal experience?” Postmoderne getuies kan teruggryp na die stories van antieke getuies en dit vir hulleself toe-eien op grond van hulle eie geloofservaringe met die bron van die getuienis, en dit in beelde oorvertel wat vir hulle konteks betekenis dra.

Die korporatiewe samekoms van gelowiges blyk in die postmoderne era steeds die voorkeurplek te wees waarin die verhale van die Bybelse getuies navertel word. Sweet (1999:215-222) gebruik die Engelse akroniem E.P.I.C. om die postmoderne erediens prakties te beliggaam: E = Experiential, P = Participatory; I = Interactive; C = Communal. Met experiential, oftewel ervaringsgebaseerde eredienste, gaan dit nie vir Sweet oor emosiebelaaide geleenthede nie, maar die belewenis van gelowiges tydens eredienste dat hulle ontmoeting met God ‘n werklikheid is. Dit het evangelisasie-implikasies: “Try-before-you-buy postmoderns will not first find the meaning of faith in Christ and then participate in the life of the church. Rather, they will participate first and then discern the meaning of faith,” sê Sweet (1999:215). Die kerk moet haar erediensstyl dekonstrueer om kultureel-sensitiewe belewenisse te wees wat die werklikheid van die vrede van Christus beliggaam en geloofsoekers, aan beide kante van die spektrum van geloof-ongeloof, geleentheid gee om ‘n outentieke ontmoetingsmetafoor vir hulle eie lewens te vind.

Hieruit staan dit ooglopend dat die participatory, oftewel deelnemende, aspek van postmoderne eredienste die passiewe kultuur van sit-en-luister-na-’n–preek sal deurbreek. Vir Sweet (1999:216) beteken kommunikasie nie om ‘n boodskap oor te dra nie, maar om vir baie mense toeganklik te maak. Dit is ook tekenend van die kentering dat bediening aan al die gelowiges in die gemeente moet behoort en nie slegs aan die leraar nie. Trouens, die kerk - as deelgenoot aan die missio Dei en as lewende organisme - bestaan nie uit geordende leraars en passiewe, ontvangende lidmate nie, maar uit elke gelowige wat saam met mekaar deel het aan die bediening wat God aan ‘n spesifieke gemeente toevertrou het (Ogden, 1990:56-82).

Die elektroniese kultuur stimuleer aktiwiteit en interaktiwiteit, in plaas van passiwiteit (Sweet, 1999:218). Dit lei tot ‘n nuwe leerkultuur waarin interaktiewe deelname ‘n voorveronderstelling word vir suksesvolle inligtingsoordrag. Postmoderne mense neem nuwe inligting in deur deel te neem aan die proses van inligtingsoordrag, te eksperimenteer en soek-en-vind opsies. Die blote aanhoor van goeie boodskappe, deeglike Skrifuitleg, of dinamiese predikers waarborg nie meer geloofsvorming by gelowiges of ongelowiges nie. Dit het ‘n ekklesiologiese noodsaaklikheid geword om die wese van die erediens te herdefinieer en dienooreenkomstige aanpassings in die kommunikasiestyl en aanbiddingstegnieke te maak om interaktiewe deelname te verreken.

Laastens, sê Sweet, is die communal, oftewel gemeenskaplike, karakter van aanbidding ‘n prerogatief vir postmoderne geloofsbyeenkomste. Die logiese individualisme van die moderne era (“elkeen vir homself ”) het tot ‘n “relasionele anoreksia” (Sweet, 1999:220) gelei. Toenemend smag mense na sinvolle verhoudings met ander: “The church must help people build a communal life full of deep and rich personal relationships. This is one reason that performance- and program-based ministries are being turned into relational cell-baesd ministries all over the globe” (Sweet, 1999:221).

3.2 Kerk is ‘n huisgesin

Dis juis op hierdie punt dat die status quo oor veral gemeentebediening gedekonstrueer moet word: Die paradigma dat gesonde gemeentes groter gemeentes is wat getalsgewys groei (George, 1993:18), is nie alleen onhoudbaar nie, maar ook riskant. Die fokus op groter gemeentes mag wel meer en ‘n groter verskeidenheid bedieningspanne tot gevolg hê, meer geïnspireerde aanbidding en beter toegeruste predikers, maar dit is tegelyk ‘n teologiese denkfout: Die kerk is ‘n organiese huisgesin en nie struktuur nie, gebaseer op die antieke samelewingsordening van staat, stad, gesin en ingerig as ‘n geestelike familie, kinders van God (Van der Watt, 2000:162-168). Hierdie verhoudingsgebaseerde identiteit het ‘n sterker eksegetiese basis as wat hier bespreek word.

Dit lei Callahan (2000:13-14) om ‘n definisie te ontwikkel van groot, streeks- en mega-gemeentes: “A large congregation is a collection of small congregations that have just enough in common to share the same leadership team and the same general sense of direction,” sê hy. Hiervolgens bestaan alle gemeentes uit ‘n aantal kleiner groeperinge wat elk hul eie identiteit en bestaansdoel het, maar genoeg in gemeen het om saam as organisasie te funksioneer. Nie alleen is dit ‘n sosiologiese verskynsel nie, dis ook in ooreenstemming met die huisgesinmetafoor wat as onderbou dien vir die breër ekklesiologiese gesprek.

Tot nog toe het die dinamika van gemeentebediening ‘n voorkeur vir eenvormigheid getoon. Een bedieningspatroon is gevolg; eredienste is vir almal op een manier aangebied; evangelisasie het vasgevang in missionêre paradigmas wat sendelinge in die heidense buiteland onderhou het.

Gevolglik is die uitdaging vandag in gemeentebediening om die onderskeie “huisgesinne” te identifiseer, bedieninge te vestig wat sodanige vorming aanmoedig en algaande die diversiteit wat dienooreenkomstig ontstaan te akkommodeer, en te bestuur. Dit reflekteer ‘n openheid om mense wat verskillend dink onder een gemeenskaplike noemer te huisves (Jamieson, 2002:165).

3.3 Die lewensreis van dissipelskap

Hierdie reis van enkelvoudige bediening na genuanseerde diversifikasie is ‘n noodwendige lewensreis vir elke gemeente. Dis egter ook ‘n missionêre reis. Uit die voorafgaande paragrawe is dit duidelik dat die viering van die opgestane Christus deur gelowiges-in-gemeenskap die sentrale kern is van ‘n postmoderne, missionêre ekklesiologie. Daar waar die kerk byeenkom, is Christus. Geloof is nie ‘n individuele aangeleentheid, gereserveer vir die binnekamer nie. Dis allermins ook ‘n passiewe leerervaring waar al die kundigheid en arbeid in een persoon en styl sentreer.

Net so belangrik as wat korporatiewe byeenkomste vir die getuienisreis na Christus toe is, so ook is die informele viering van sy lewende teenwoordigheid. Juis omdat die priesterskap van elke gelowige ‘n onverhandelbare voorvereiste vir die sukses van hierdie getuienis is, so is ‘n bedieningsfokus waarin alle gelowiges toegerus word met werkende getuienisvaardighede (Mittelberg, 2000:169-178).

In hierdie verband is getuienis nie ‘n bedieningsprojek nie, maar die uitvloeisel van‘n groeiende, dieper wordende, outentieke verhouding met Christus (Hybels & Mittelberg, 1994:53-65). Vir Willard (2006:26-30) kan hierdie proses met die kante van ‘n driehoek beskryf word: Aan die een kant van die driehoek is die aanvaarding van alledaagse probleme en uitdagings, as oefening in gelowige uithouvermoë en afhanklikheid aan God. Aan die ander kant staan gelowiges se interaksie met die Heilige Gees, wat as Parakleet gelowiges heenwys na die voorbeeld van Jesus. Die derde kant van hierdie driehoek is die beoefening van geestelike dissiplines om karakterbou tot Christusgelykheid te bevorder.

3.4 Gemeentebediening as kweekskool

Die missionêre uitdaging eindig egter nie by Christusgelykheid nie. Die bedoeling met die koms van God se koninkryk is immers die transformasie van hierdie wêreld om sy eer en heerlikheid te reflekteer (Smit, 1997:198-199). Hierdie transformasie vind slegs plaas wanneer gelowiges, vanuit hulle getuienis in die wêreld leef en saam bou aan die vestiging van ‘n God- erende samelewing.

Ter wille van balans moet die argument onderskei word van ‘n denkrigting wat die samelewing wil voorsien van ‘n Christelik-alternatiewe samelewing (Christelike skool, Christelike staat, Christelike maatskappy, ens). Die bedoeling hier is dat gelowiges, vanuit die opbouwerk van die plaaslike gemeente, ‘n suurdeeg-impak op menselewens sal uitoefen deur hulle God-erende getuienis en invloed. Dit beteken dat gelowiges in verhoudinge sal tree met mense wat verby die professionele of oppervlakkige beweeg en in vertrouensdiepte gevestig raak. Die fokus van gemeentebediening is immers om gelowiges op te bou in liefde (Ef 4:16) en hierdie liefde is ‘n refleksie van Christus se Hoofskap oor die hele wêreld (Ef 1:10b).

Vir die postmoderne wêreld word dit boonop ‘n vraag na leierskapsontwikkeling. Missionêre ekklesiologie sal mank staan indien die plaaslike gemeente nie meebou aan Christus-erende leiers wat die samelewing kan dien nie. Hackman (2002:201-202), wat vanuit ‘n besigheidsperspektief werk, bevestig dat daar nie ‘n enkele stel kriteria bestaan wat leiers van ander mense onderskei nie. Dit is moontlik vir enigiemand om genoeg vaardighede aan te leer om in staat te wees om die effektiewe leier van ‘n groep mense te wees. Vir ‘n missionêre ekklesiologie is dit goeie nuus. Dit strook met die getuienisaard van die geloofsgemeenskap dat elke gelowige voldoende bemagtig is om invloedryke meningsvormers in die lewens van ander mense te wees. Hierdie bemagtiging lei tot ‘n integrerende ekklesiologie wat leiers op koers plaas om hulle missionale leiding om die volgende aspekte te sentreer (Pagitt & Jones, 2007:28):

• Betekenisvolle aandag aan “gemeenskap”, gemeenskapslewe en kommunale geloofspraktyke;

• ‘n Oop-bron benadering tot gemeenskap, teologie en leierskap wat platter strukture, netwerke en meer persoonlike en kollektiewe deelname aanmoedig;

• Hernieude belangstelling in die sosiale dimensies van die evangelie van Jesus Christus;

• ‘n Herlewing in die kontemplatiewe en liggaamlike geestelike-formasie dissiplines wat deel vorm van die historiese Christendom;

• ‘n Vars fokus op skeppingsteologie wat die skepping, mensheid, kultuur, ens as goeie gawes vier en in konteks geniet moet word;

• Die kultivering en waardering van die kunste, vertel-kreatiwiteit;

• ‘n Nuwe soeke na roeping, lewensonderhoud en ‘n volhoubare ekonomie.

4. KONKLUSIE

Ten slotte: Dit is veral in Suid-Afrika die roeping van die kerk om die versoenende impak van Jesus se teenwoordigheid in die lewens van voorheen-verskeurde samelewings te demonstreer. Daarom moet plaaslike gemeentes in Suid-Afrika veel ernstiger meewerk aan kruiskulturele rekonsiliasie. Die roeping tot eenheid moet sigbaar gestalte vind in die mees basiese bestaanswyse van die kerk. Hierdie roeping moet egter in die harte leef van mense en nie net tot uiting kom in strukture nie.

Rekonsiliasie is die getuienis van die grens-transenderende impak van Christus se opstanding. Dit neem haat, agterdog en vooroordele weg. Dit verander gesindhede en snoer saam. Dit word ‘n roeping: “Somehow, though, on our way to racial resolution, we’ve gotten stuck in the rut of familiar patterns. These patterns lead us to believe we’ve accomplished something simply by, for example, hiring a person of color or speaking to a person of another race at church or hugging someone we don’t know at a conference 300 miles away from home. These types of gestures are good and necessary. But we should not let symbolism displace the purpose of the acts themselves” (Gilbreath, 2007).

Rekonsiliasie in Bybelse sin is egter slegs moontlik indien Christene die vrede en hoop van die lewende Christus as werklikheid in hulle lewens ervaar en ingebind word in geloofsfamilies waar hulle mekaar se hande kan vat op die lewensreis van dissipelskap. Dit is slegs moontlik wanneer die groeiende kloof tussen selfgesentreerde verbruikerspiritualiteit en Bybelse geloof oorbrug word deur innoverende gemeentes wat bereid is om eksperimenteel te soek na God se wil vir hulle bediening. Rekonsiliasie in hierdie sin is die produk van veranderde harte en gesindhede. Dit is ook die uitvloeisel van die waagmoed om grense verby te kyk en die gemeenskaplike teenwoordigheid van Christus in die midde van elke gelowige, ongeag sy/haar herkoms of posisie te eien.

Uiteindelik is rekonsiliasie deel van die roeping om oor die goeie nuus oor God se werk in hierdie wêreld te getuig (Guder, 2000:28-29) in gemeentes wat hulself verstaan as sigbare uitdrukkings van God se besig-wees met die wêreldgeskiedenis.

BIBLIOGRAFIE

Bosch, D.J. 1991. Transforming Mission. Paradigm shifts in theology of mission. New York: Orbis.

Brown, R.E. 1970. The Gospel according to John XIII-XXI. New York: Doubleday.

Burger, C.W. 1999. Gemeentes in die kragveld van die Gees. Oor die unieke identiteit, taak en bediening van die kerk van Christus. Stellenbosch: Buvton.

Callahan, K.L. 2000. Small, Strong Congregations. Creating strengths and health for your congregation. San Fransisco: Jossey Bass.

Celek, T & Zander, D. 1996. Inside the Soul of a new Generation. Insights and strategies for reaching Busters. Grand Rapids: Zondervan.

Coenen, L. 1986. Witness, Testimony. In: The New International Dictionary of New Testament Theology. Vol. 3, p.p. 1038-1047. Grand Rapids: Zondervan.

Davidson, J.D. & Rees-Mogg, W. 1992. The Great Reckoning. How the world will change before the year 2000. London: Pan Books.

Deist, F. 1994. Ervaring, Rede en Metode in Skrifuitleg. Pretoria: Raad Vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

George, C.F. 1993. How to break Growth Barriers. Grand Rapids: Baker.

Gilbreath, E. 2007. Exit Interviews. Why blacks are leaving evangelical ministries. In: Christianity Today. February 2007. [Available Online]: http://www.christianitytoday.com/ct/2007/4.104.html. Site accessed: 2007-01-16.

Gibbs, E. & Coffey, I. 2001. Church Next. Quantum changes in Christian ministry. Leicester: Inter-Varsity Press.

Guder, D.L. 2000. The Continuing Conversion of the Church. Grand Rapids: Wm. B. Eerdmans.

Hackman, J.R. 2002. Leading Teams. Setting the stage for great performances. Boston: Harvard Business School Press.

Heitink, G. 1993. Praktische Theologie - Geschiedenis, theorie, handelingsvelden. Kampen: Uitgeverij Kok.

Hirsch, A. 2006. The Forgotten Ways. Reactivating the Missional Church. Grand Rapids: Brazos.

Hybels, B. & Mittelberg, M. 1994. Becoming an Contagious Christian. Grand Rapids: Zondervan.

Hybels, B. 2002 Courageous Leadership. Grand Rapids: Zondervan.

Jamieson, A. 2002. A Churchless Faith. Faith journeys beyond the churches. London: Society For Promoting Christian Knowledge.

Koester, C.R. 1989. Hearing, seeing, and believing in the gospel of John. In: Bib 70. p.p. 327-348.

Koester, C.R. 1995. Symbolism in the Fourth Gospel. Meaning, mystery, community. Minneapolis: Fortress Press.

Louw, J.P. & Nida, E.A.. 1988. Greek-English Lexicon of the New Testament based on Semantic Domains. New York: United Bible Societies.

Martoia, R. 2007. Static. Tune out the ‘Christian noise’ and experience the real message of Jesus. Carol Stream: Tyndale.

McClaren, B.D. 2000. The Church on the Other Side. Doing Ministry in the Postmodern Matrix. Grand Rapids:

Zondervan.

McDowell, J. 1999. The New Evidence that demands a verdict. Nashville: Thomas Nelson.

Mead, L.B. 1991. The Once and Future Church. Reinventing the Congregation for a new Mission Frontier. New York: The Alban Institute.

Miller, M.R. 2004. The Millennium Matrix - Reclaiming the Past, Reframing the Future of the Church. San Francisco: Jossey Bass.

Mittelberg, M. 2000. Building a Contagious Church. Revolutionizing the Way we View and Do Evangelism. Grand Rapids: Zondervan.

Nel, M. 1994. Gemeentebou. Halfweghuis: Orion.

Ogden, G. 1990. The New Reformation. Returning the ministry to the people of God. Grand Rapids: Zondervan.

Pagitt, D. & Jones, T. (eds). 2007. An Emergent Manifesto of Hope. Grand Rapids: Baker.

Robinson, A.B. & Wall, R.W.. 2006. Called to be Church - The book of Acts for a New Day. Grand Rapids: William B. Eerdmans.

Smit, G.H. 1997. Ekkklesiologie en Gemeentebou – ‘n Prakties-teologiese studie. D.D.-proefskrif (ongepubliseer). Pretoria : Universiteit Van Pretoria.

Strobel, L. 1993. Inside the mind of Unchurched Harry & Mary. How to reach frinds and family who avoid God and the church. Grand Rapids: Zondervan.

Strobel, L. 1998. The Case for Christ. A journalist’s personal investigation of the evidence for Jesus. Grand Rapids: Zondervan.

Sweet, L. 1999. SoulTsunami - Sink or Swim in new Millennium Culture. Grand Rapids: Zondervan.

Sweet, L. & McLaren, B.D. & Haselmayer, J. 2003. A is for Abductive - The Language of the Emerging Church. Grand Rapids: Zondervan.

Trites, A.A. 1986. Witness, Testimony. In: The New International Dictionary of New Testament Theology. Vol. 3, p.p. 1047-1050. Grand Rapids: Zondervan.

Van der Watt, J.G. 2000. Family of the King. Dynamics of metaphor in the Gospel according to John. Leiden: Koninklijke Brill Bv.

Willard, D. 2006. The Great Omission. Reclaiming Jesus’s essential teachings on discipleship. Oxford: Monarch.

Wright, N.T. 1991. How can the Bible be authoritative? In: Vox Evangelica. Vol 21:7–32.

TREFWOORDE

Ekklesiologie, Missionale kerk, Postmoderne paradigmaskuiwe, Getuienis, Ontluikende kerk

KEY WORDS

Ecclesiology, Missional church, Postmodern Paradigm shifts, Testimony, Emerging Church

KONTAKBESONDERHEDE:

Dr Guillaume Smit Posbus 195

BRACKENFELL

7561

Sel: 083 306-1561

E-pos:ghsmit@telkomsa.net

1 Hierdie artikel is as referaat gelewer by die Jaarvergadering van die Werkgemeenskap vir Praktiese Teologie in Suid-Afrika, 17-19 Januarie 2007, te Wellington. Skrywer is navorsingsgenoot by die Navorsingseenheid vir Nuwe Testament, Universiteit van Pretoria sowel as by die Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria.