Du Plooy, A le R
Noordwes-Universiteit (Potchefstroom)

Kerkorde en grondwet – in die lig van God se koninkryk

ABSTRACT

Church order and constitution from the perspective of the kingdom of God.

This article deals with the way in which justice and rightiousness and good order are applied in church and state. It focusses on issues such as the following: the relation between church and state, the relation between a church order and the constituton , the question regarding the authority and applicability of a constitution in ecclesiastical matters. From a theological point of view it became clear that the kingdom of God should serve as a important key to understand the relation between and the relevance of a church order and a constitution. The church and the state should be distinguished as two different spheres in society. The church is sui generis, it is an institution of God Himself, with the mandate and responsibility to govern itself according to the prescriptions and imperatives of the Word of God, in obedience and accountabilty to Jesus Christ, the only Head and King of his church.

1. INLEIDING

Die onderwerp handel oor die wyse waarvolgens reg en geregtigheid asook goeie orde in sowel die kerk as die staat behoort te geskied. Vir hierdie doel het ‘n kerk ‘n bepaalde kerkorde, en die staat ‘n grondwet.

In Suid-Afrika het ons sedert 1994 ‘n nuwe interim Grondwet en sedert 1997 die finale Grondwet van die RSA ontvang.

In die kerklike sfeer bestaan daar in die meeste kerklike gemeenskappe ‘n bepaalde kerkorde oftewel bepalinge en voorskrifte wat die goeie orde in daardie besondere kerkgemeenskappe reël. Kerke wat in die reformatoriese tradisie staan bely en erken die noodsaaklikheid van goeie kerkregering aan die hand van ‘n kerkorde wat deur die kerke vir die kerke opgestel en aanvaar is. (vgl Nederlandse geloofsbelydenis art 30-32)

As gereformeerde teoloog bedoel ek met kerkorde die kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Hierdie kerkorde is volgens sy eie getuienis (vgl artikels 1 en 86) steeds die Dordtse kerkorde van 1618/19 soos van tyd tot tyd in terme van artikel 86 aangepas en gewysig, sonder dat die wese daarvan verander is.

Belangrike vrae wat met so ‘n onderwerp na vore kom, is byvoorbeeld die volgende:

• Wat is die verhouding tussen ‘n kerkorde en die grondwet van die land?

• Wat is die verhouding tussen die kerk en die staat?

• Watter reg geld primêr in die kerk: die grondwet of die betrokke kerk se kerkorde?

• Watter vertrekpunte of uitgangspunte moet geneem word in die behandeling van die onderwerp?

Ek behandel die onderwerp vanuit‘n teologiese hoek, en meer in besonder vanuit‘n calvinisties- reformatoriese tradisie. Uiteraard sal die juridiese aspekte wat relevant is ten opsigte van die onderwerp na vore moet kom.

Skrif daarvan oortuig is dat God Koning is, en dat Hy aan sy Seun Jesus Christus alle gesag in die hemel en op die aarde gegee het (Matt 28:18; vgl ook Ef 1, Kol 1, 1 Kor 15) sodat God in Christus oor die kerk en die wêreld regeer as die enigste Hoof van die kerk en van die ganse kosmos (vgl Paulus se briewe aan die Efesiërs en die Kolossense). Hiermee aanvaar ek dat God aan die kerk en aan die owerheid, maar aan elkeen in sy eie sfeer of terrein die reg en bevoegdheid (die potestas) verleen om te regeer..

Vanuit hierdie vertrekpunt wat ek hieronder kortliks verder sal toelig, vereis die onderwerp dat aan die volgende aspekte aandag gegee sal word:

• Die koninkryk van God, en die verhouding met die kerk en die staat;

• Die begrippe kerk en staat;

• Die bevoegdheid van die kerk;

• Die noue verband tussen doctrina en disciplina;

• Die kerkorde: oorsprong, grondbeginsels, bedoeling, funksie, gesag en bronne;

Vervolgens sal ek fokus op die Grondwet, en in besonder op die relevante bepalings ten opsigte van godsdienstige en kerklike en aanverwante sake. In hierdie verband sal aandag gegee word aan:

• ‘n Definisie van die begrip kerk volgens die howe;

• Die skeiding tussen kerk en staat (afwesigheid van sg “establishment clause”);

• Godsdiensvryheid;

2. KERK EN KERKORDE

2.1 Vanuit die koninkryk oor kerk en staat

Wie die dimensie van God se koninkryk ignoreer of misken, sal waarskynlik aanvaar dat ‘n kerk alleen by die grasie van ‘n owerheid of in terme van ‘n grondwet bepaalde regte en bevoegdhede ontvang. Die argument sal dan gevoer kan word dat die kerk op grond van hierdie juridiese bevoegdhede en beperkings, ‘n kerkorde mag opstel wat nie in stryd mag wees met die grondwet as die hoogste reg in ‘n land nie.

Calvyn het met sy twee-ryke-leer ons oë daarvoor oopgemaak dat sowel die regimen spirituale as die regimen politicum in diens van die koninkryk van God is (Du Plooy 1992:759). Hy het aan die een kant te doene gehad met die erastiaanse staatsabsolutisme in terme waarvan die owerheid alle seggenskap oor die uiterlike kerk gehad het, en aan die ander kant met die doperse wat die mag en bevoegdheid van die staat sterk beperk het (Pont 1985:435-439).

In hierdie konteks beklemtoon Calvyn dit dat die koms van Christus en sy koninkryk nie beteken dat ‘n Christen losgemaak is van gehoorsaamheid aan burgerlike en kerklike regerings nie . Die burgerlike regering is juis gegee as uitwendige genademiddel (externum medium salutis), en beide die burgerlike en kerklike regerings is op aarde werksaam om die koninkryk van God te bevestig en te bevorder (Inst 3,19; 4, 20, 1).

Calvyn is duidelik daaroor dat die owerheid deur God ingestel is, en dat die owerheid nie oor die kerk mag heers nie, want die kerk en owerheid is aan die koninkryk van God ondergeskik. (Inst 4, 20, 17-32).

Calvyn meen dat God in sy genade die innerlike, geestelike regering en ook die uiterlike burgerlike regering aan die mensdom gegee het, wat hoewel duidelik van mekaar onderskeie, albei gerig is op die koninkryk van Jesus Christus (Inst 3. 19, 15). Die Woord van God openbaar duidelik dat Jesus Christus oor alle mag beskik, dat Hy Hoof is van die ganse kosmos en van die kerk in besonder (Briewe van Paulus aan die Efesiërs en die Kolossense).

Daarom mag daar nie sprake wees van ‘n heerskappy van die staat oor die kerk nie, juis omdat beide aan die koninkryk van God onderworpe is, en elk sy eie taak en roeping in sy eie sfeer het (Du Plooy 1992:764).

2.2 Kerk en staat

Vir die doeleindes van ons onderwerp is dit belangrik dat ons ons sal vergewis van ‘n Skriftuurlik verantwoorde kerkbegrip, asook van ‘n heldere definisie van ‘n staat.

Die oorsprong van die kerk lê in die ewige raadsbesluit van God self. Deur die verkondiging van sy koninkryk roep Hy sy uitverkorenes tot geloof en gehoorsaamheid, en hulle wat die evangelie van die koninkryk glo en bely en aan Hom gehoorsaam is, word die kerk genoem ( Du Plooy 1982:34 -118).

Die kerk van Jesus Christus word sy liggaam genoem waarvan Hy die enigste Hoof is. Hy is nie die hoogste Hoof nie, maar die enigste Hoof (Ef 1 en Kol 1).

Die kerk is ‘n unieke geloofsgemeenskap wat deur die geloof in God bepaal word, wat wesenlik onsigbaar is en tog sigbaar word wanneer die versamelde gelowiges in ‘n erediens onder die leiding van die Heilige Gees, Christus as Hoof bely, God aanbid, sy Woord aanhoor, en so toegerus word om ook na buite aktief in die wêreld van Hom te getuig (Rom 10).

Die een, heilige algemene Christelike (of apostoliese) kerk bestaan op baie plekke oor die tyd in die wêreld, waar die Woord en Gees die gelowiges ook al saamroep onder leiding van die ampte of dienste wat Hy self gegee en ingestel het.

Die kerk is nie ‘n groot institutêre gemeenskap naas of teenoor die staat nie, maar bestaan en funksioneer plaaslik en plaaslike kerke lewe in een geloofsgemeenskap met mekaar. Hierdie geloofsgemeenskap van kerke (ook kerklike korrespondensie genoem) strek hom nie net in die onmiddellike omgewing, of oor bepaalde streke of lande uit nie, maar wêreldwyd.

Elke plaaslike kerk of gemeente is die openbaring of sigbare verskyning van die een algemene kerk van Christus op daardie bepaalde plek en tyd, maar tegelyk nie die enigste verskyning of openbaring daarvan nie (Du Plooy 1982:81-111).

Die staat word juridies gekwalifiseer omdat dit veral sy bestemming vind in die handhawing van die reg onder ‘n gemeenskap van mense op ‘n bepaalde grondgebied wat volgens gemeenskaplike reëls lewe (Du Plooy, 1991:106).

Van der Vyver (1994:178) stel dat die staat nie inbreuk mag maak op die soewereine sfeer van die kerk nie. Verder meen Van der Vyver (1994:189), dat die kerk ‘n interne gesag en reg het, wat hy nie aan die staat ontleen het nie, maar wat voortspruit uit die kerk as samelewingsverband. (vgl ook Van Coller 2005:19).

Die staat is verantwoordelik vir politieke of regeringsaangeleenthede, en in sy verhouding teenoor die kerk moet die staat daarmee rekening hou dat die kerk in ‘n ander sfeer werksaam is, aan wie vryheid en ruimte vir die eie bestaan en funksionering van die kerk gegee moet word.

In die kerk se verhouding teenoor die staat is die kerk allereers daarvoor verantwoordelik om hom met kerklike sake besig te hou, in terme van sy eiesoortige roeping en taak soos deur die Woord van God en sy konfessie (as refleksie van wat die Skrif openbaar) bepaal. Die kerk is verantwoordelik vir godsdienstige en kerkregeringsaangeleenthede. Derhalwe sal die kerk aan die staatsowerheid gehoorsaam moet wees, maar ook teenoor die staatsowerheid moet getuig indien en wanneer daar in stryd met die beginsels van die koninkryk van God geregeer word (Rom 13, 1 Pet 2:17, 1 Tim 2:1-4; Hand 4:19, 5:29; Dan 6, Nederlandse geloofsbelydenis art 36; Kerkorde art 30).

vergestalting is (en behoort te wees) van die een liggaam van Jesus Christus, in wie een en dieselfde Gees van God inwoon. Die kerk, kragtens sy wese en aard strek hom as ‘n eenheid uit oor die grense van geslag, kulture, tale en landsgrense heen, sonder om soos die Rooms Katolieke Kerk op te gaan in een sigbare wêreldstruktuur, en sonder om die verskeidenhede van gawes, dienste, tale en kulture op te hef (Du Plooy, 1986 32-49). Daarteenoor is ‘n staat heterogeen, aangesien daar mense met uiteenlopende tale, kulture, godsdienste en waardes in een geografies gebied lewe en bestaan.

So is dit duidelik dat daar nie sprake kan wees van volkskerke of staatskerke nie. Die volkskerkgedagte hou nie rekening met die aard van die kerk nie, naamlik dat dit trinitaries begrond is (die kerk is die volk van God, liggaam van Christus en tempel van die Heilige Gees), ook nie dat hoewel dit in politieke werklikhede op aarde bestaan, dit nooit deur die politieke werklikhede bepaal en gestruktureer word nie. Dit hou ook nie rekening met die wesenseienskappe van die kerk nie, naamlik die eenheid, heiligheid, ekumenisiteit (of katolisiteit) en apostolisiteit nie. Die staatskerkgedagte verloor dit eweneens uit die oog dat die kerk die een eiesoortige liggaam van Christus is, wat alleen onder die Hoofskap van Christus bestaan en lewe.

2.3 Bevoegdheid van die kerk

‘n Belangrike teks in die Skrif ten opsigte van die vraag na die bevoegdheid en verantwoordelikheid van die kerk van Christus op aarde, is Matteus 16:17-19, wat handel oor die fondament van die kerk en oor die sleutels van die koninkryk van die Hemele.

Die sleutels van die koninkryk is hiervolgens aan die kerk toevertrou en as sodanig is die kerk geregtig en geroep om in die naam van Jesus Christus (die eintlike Sleuteldraer – Op 3:7) die kerk op te bou en te regeer.

Die kerk het nie gesag ontvang nie, maar wel bevoegdheid. Calvyn (Inst 4, 8, 1: 4, 11,1, Plomp 1969:63. 73) praat van die potestas ecclesiae, wat drieërlei is:

Potestas doctrinae, potestas iurisdictionis, en potestas in legibus ferendis. Volgens hom is die disciplinae ecclesiae deel van die potestas iurisdictionis.

Hierdie standpunte vind onder meer neerslag in die Nederlandse geloofsbelydenis artikels 27-32, veral 30 en 32, waar die reformatoriese kerke bely dat die kerk regeer moet word volgens die geestelike bestuurswyse wat Christus aan ons voorgehou het.

Dit is opvallend dat die leerstellige ontwikkeling in die sestiende eeu tot vroeg in die sewentiende eeu ook die kerkregtelike ontwikkeling omsluit het sodat gestel kan word dat die doctrina en die disciplina van die kerk hand aan hand ontwikkel het en onlosmaaklik deel van mekaar is (Van’t Spijker 1993:178-201, Du Plooy 1995:147). ‘n Deel van die Nederlandse geloofsbelydenis (artikels 30-32) verwoord die kerk se belydenis oor die regering van die kerk. So vind ons in die lig van die Skrif en die belydenis belangrike beginsels vir die kerkregering.

2.4 Die kerkorde

Gedurende die Reformasie van die 16e eeu het veral Bucer en Calvyn beklemtoon dat die kerk deur die bediening van die evangelie en deur die uitoefening van die kerklike dissipline (kerkregering) opgebou moet word (vgl Heidelbergse kategismus Sondag 31; Van ‘t Spijker 1993:317-323).

Bucer het geglo dat veral drie elemente in die kerk belangrik is, naamlik die bediening van die Woord, die sakramente en die tug (Van ‘t Spijker 1993:192). Vir Bucer het hierdie drie elemente nie net as die notae ecclesiae gefunksioneer nie, maar volgens die ius divinum ook as ‘n basis vir die indeling van ‘n kerkorde (Van t Spijker 1972:35-37). Dis opvallend hoe die inhoud en indeling van die gereformeerde kerkordes met die sleutels van die koninkryk en met die merktekens van die ware kerk ooreenstem.

Kerkordes met ‘n kollegiale agtergrond en strekking, verskil grootliks hiervan, en stel merendeel die kerk as instituut voorop wat geregeer moet word.

2.4.1 Oorsprong/grondbeginsels van ‘n kerkorde

Ten einde inhoud en vorm te gee aan die wyse waarvolgens die kerk van Christus geregeer en versorg moet word, het die kerke van die Reformasie in besonder geluister na die Skrif self. Die bronne waaruit geput is, was die Woord van God, die konfessie, en ook kerkordes en kerklike bepalinge wat mettertyd ontwikkel is, en gedurende die middel van die 16e eeu in verskeie kerkordes geformuleer is. Byvoorbeeld die kerkordes by die sogenaamde vlugtelingkerke van A’ Lasco en Micron, die kerkorde van Genève, van die kerke onder die kruis, om slegs enkele prominente kerkordes te noem (Du Plooy 1995:147 ev).

Rutgers (1889) en Pont (1981) gee ‘n duidelike oorsig oor die historiese agtergronde van die gereformeerde kerkreg en ontwikkeling van die kerkordes gedurende die 16e eeu tot en met die sinode van Dordrecht in 1618/19 waar dit ‘n bepaalde afronding en afhandeling ontvang het. Die gereformeerde kerkordes pretendeer nie om kanonieke reg te wees nie, soos byvoorbeeld blyk uit die Nederlandse geloofsbelydenis artikel 32 asook uit artikel 86 van die DKO.

Die grondbeginsels vir Skriftuurlike kerkregering wat so na vore gekom het, is veral die volgende:

• Die feit dat Christus die enigste Hoof is. Die begrip koninkryk van God se oorheersende betekenis is dat God regeer, dat Hy in Christus die enigste Hoof en Koning is, en oor alles en almal regeer (Van der Walt 1962: 33; 1969: 99). Dit is die vertrekpunt vir Skriftuurlike kerkregering.

• Die reëling van Christus self waarvolgens Hy as die Groot Gewer sy Gees, dienste, genadegawes, geestesgawes en kragte in en aan sy kerk gegee het, soos besonderlik blyk uit 1 Korintiërs12-14 en Romeine 12-14 (vgl Du Plooy 1979:37-57).

• Dit is uit die Skrif ook duidelik wat die besondere verhouding tussen die genadegawes en die dienste is, en wat in goeie kerkregering verreken moet word (vgl Du Plooy 2005: 555-567).

• Die dienste (of ampte) is die konkretisering van die besondere gawes (charismata), en as sodanig is die buitengewone dienste soos apostels, profete, evangeliste, en die besondere dienste soos die herders en leraars, ouderlinge en diakens gawes in en aan die kerk waardeur die kerk gedien en opgebou moet word (Ef 4, 1 en 2 Tim, 1 Kor 12:28 e.v.).Die eintlike taak van al die dienste is om Christus in sy drievoudige diens (munus triplex) in aan sy kerk te bedien.

• Vir ‘n Skriftuurlike kerkregering is ‘n suiwere kerkbegrip noodsaaklik. Volgens die Skrif bestaan die kerk plaaslik, dit wil sê op bepaalde plekke, is dit volledig kerk, is dit die openbaring van die een algemene kerk van Christus, lewe dit in gemeenskap met alle ander plaaslike kerke sonder om selfstandige institusionele strukture naas of oor of bo die plaaslike kerke te laat ontstaan ( Du Plooy 1982:405 e.v.).

• Die verhouding tussen die kerk en owerheid (staat) is nog ‘n belangrike gegewe wat uit die Skrif duidelik word, en derhalwe behoort ‘n kerkorde bepalinge te bevat waarin hierdie verhouding verreken word, waarin die erkenning van die twee terreine van kerk en staatsowerheid aangedui word asook die eiesoortigheid van elkeen (vgl Kerkorde artikels 1, 28, 30, 31, 71, 79, 86).

2.4.2 Gesag van die kerkorde

Die gesag van die kerkorde lê nie in homself nie, maar in sy verbondenheid aan die Skrif en konfessie. Die gesag is bedienend van aard, en rus eintlik op twee ongelyke bene:

• Eerstens op die Woord van God wat gesagvol is;

• Tweedens op die feit dat die kerke met mekaar onderling ooreengekom het (mutuo consensu) om hulle te bind aan die artikels van die kerkorde (vgl art 31 en 86 DKO; Du Plooy 1998:8).

Na binne het die kerkorde bindende krag en moet dit as die geldende reg beskou en onderhou word (sg ius constitutum)

Na buite dien die kerkorde as die interne verbandsreg van daardie kerkgemeenskap. (Pienaar s.j.: 17; Du Plooy 1993:9).

3. DIE GRONDWET

Met die aanbreek van ‘n nuwe konstitusionele bedeling in April 1994, is daar aanvanklik ‘n interim grondwet aanvaar en later op 4 Februarie 1997 het die finale grondwet van krag geword (Gildenhuys 2002:120-126).

Die Suid-Afrikaanse staat het hiermee ‘n regstaat geword waar die reg die oppergesag het, soos geformuleer in die Grondwet van die RSA. Die Grondwet van ‘n land is ‘n wet wat die vernaamste regsreëls in verband met die staatkundige stelsel van ‘n land bevat. Dit verskaf ‘n norm waaraan almal in die staat se optrede gemeet kan word, en is derhalwe ‘n sleutelkomponent van ‘n staat se regstelsel (vgl Malherbe s.j.:1) Hiervolgens is die regsbedeling en staatsbedeling neutraal en sekulêr van aard. Die beleide moet godsdienstig gesien godsdiensneutraal wees.

Dit beteken dat hoewel daar heelwat bepalinge in die grondwet is wat versoenbaar is met die Christelike geloofsopvattings, daar ook bepalings kan wees wat in konflik is met Christelike geloofsopvattings. Byvoorbeeld ten opsigte van etiese aspekte soos diskriminasie, aborsie, huwelike ens. (vgl Pienaar 2006:18-19).

Die Grondwet, en veral die Handves van Regte (vgl hoofstuk 2 van die Grondwet) handel oor elke terrein van die samelewing, insluitende die terrein van godsdiens. Dit beskerm godsdiensregte eksplisiet in artikel 15. So is daar ook ander artikels in die grondwet wat bepaalde waarborge gee ten opsigte van godsdiensregte en ook ten opsigte van die realisering daarvan, byvoorbeeld, artikels 9, 16, 17, 18, 29 en 31.

3.1 Kerke in terme van die howe in die RSA

In die Suid-Afrikaanse reg is kerke nog altyd as vrywillige verenigings geklassifiseer, wat rus op die beginsel van ‘n kontrak (Gildenhuys 2002:226).

Pienaar (1982:167-176, 184; s.j.:16-17) het aangetoon dat hierdie siening die gevolg is van ‘n vermenging van die Romeins-Hollandse en die Engelse regskonsepte, en so verwarring veroorsaak. In die Romeins Hollandse reg word onderskei tussen ‘n universtas (regspersoon) en ‘n societas (assosiasie van individue wat berus op onderlinge kontrak). Nêrens word dit aangedui dat ‘n universitas kontraktueel van aard is nie.

In terme van die Engelse reg kan ‘n regspersoon nie by wyse van kontrak ontstaan nie, maar moet dit statutêr toegeken word. Vrywillige verenigings wat by wyse van kontrak ontstaan kon dus nie regspersoonlikheid verkry nie.

In Suid Afrika het dit egter anders ontwikkel deurdat kerke op voetspoor van die Engelse reg as vrywillige verenigings beskou is, en tog regspersoonlikheid ontvang het – anders as in Engeland. (Gildenhuys 2002: 227-228).

Die gevolg hiervan is dat die mag tot hersiening van kerklike besluite deur die howe berus op die foutiewe aanname dat kerkordes op die beginsel van kontrak berus, naamlik ‘n kontrak tussen die lede van die kerk. Aangesien daar ‘n kontrak bestaan ag die howe hulle bevoeg om in terme van die gewone reëls vir die uitleg van kontrakte ook die kerklike besluite te hersien (Gildenhuys 2002:228).

Dit skep ‘n probleem dat die howe kerke as vrywillige verenigings beskou wat berus op die beginsel van ‘n kontrak. Anders as Van Coller (2005:21) wat dit gelate as voldonge feit aanvaar, meen ek dat dit wesenlik in stryd is met die eiesoortige aard van ‘n kerk, en dat dit nie die skeiding tussen kerk en staat, asook die bevoegdheid van die kerke om hulle self te regeer, verreken nie.

Daar bestaan immers geldige teologiese besware teen hierdie siening en standpunt. Geen kerkorde word deur‘n kerk self beskou as‘n kontrak nie, maar as‘n orde in ooreenstemming met die beginsels van die Skrif en belydenis. Hiermee stem Pienaar (s.j.:17-18) saam as hy dit stel dat dit “veel suiwerder sal wees om ‘n plaaslike Gereformeerde kerk as ‘n gemeenregtelike regspersoon, wat nie op kontrak nie, maar op interne verbandsreg berus (soos wat die geval in die Nederlandse reg is), te omskryf ”.

In terme van die Grondwet waarvolgens daar godsdiensvryheid bestaan, kan dit as ‘n ongeldige ingryping in kerklike sake beskou word wanneer ‘n hof ‘n uitspraak maak oor kerklike besluite wat konfessioneel van aard is of konfessioneel verwant is, soos ‘n kerkorde bepaling self (vgl Gildenhuys 2002:229).

3.2 Skeiding tussen kerk en staat

Dit is reeds duidelik aangetoon dat die Grondwet – hoewel nie eksplisiet nie – ‘n skeiding maak tussen kerk en staat. Ons Grondwet is wesenlik verskillend van die Grondwet van die VSA met sy sg “establishment’s clause”, wat beteken dat die owerheid geen bepaalde godsdiens mag bevorder of in kerklike sake mag inmeng nie. Die term “establishment clause” word gewoonlik gebruik wanneer verwys word na die Eerste Amendement tot die VSA se konstitusie wat bepaal dat “Congress shall make no law respecting the establishment of religion, or prohibiting the free exercise thereof ” (Gildenhuys 2002:199 e.v.; Van de Vyver 2002: parag 244).

Van der Vyver (2002: parag 250, (c)) bespreek die belangrike vraag of en in watter mate ‘n siviele hof die beslissings van kerklike vergaderinge kan hersien. Vrae wat gevra word is byvoorbeeld; moet die kerklike remedies eers uitgeput wees voordat die saak deur ‘n hof hanteer kan word; en mag ‘n kerklike vergadering die jurisdiksie van howe in kerklike sake heeltemal uitsluit?

Sy eerste opmerking is dat daar geen appèl moontlikheid van ‘n kerklike tribunaal na siviele howe moontlik is nie, maar dat howe wel die reg tot hersiening van kerklike besluite het.

Dit lyk vir my aanvaarbaar as beweer word dat‘n hof wel die reg het om in kerklike sake in te gryp wanneer dit duidelik is dat daar mala fides, growwe onreëlmatighede of minagting van die kerklike ordereëls soos deur sinodes besluit, bestaan (Van der Vyver 2002:parag 250). Howe het dus die reg om in baie besondere of buitengewone omstandighede in te gryp, veral wanneer ‘n kerklike tribunaal die reëls van natuurlike geregtigheid (audi alteram partem, en nemo iudex in sua causa nie nakom nie (vgl Van Coller 2005:23-25).

Dit is egter ‘n oorskryding van die bevoegdheid van ‘n hof om te aanvaar dat die uitleg van die bepalinge van ‘n kerkorde ‘n regskwessie is wat binne die jurisdiksie van die hof en nie van die kerkvergadering val nie, soos beslis in die bekende Theron-saak van 1976 (vgl Van der Vyver 2002:parag 250; Van Coller 2005:23).

Die fout in die argument in die uitspraak in die Theron-saak is myns insiens daarin geleë dat ‘n kerkorde as ‘n juridiese dokument gesien word wat op grond van die beginsel van ‘n kontrak ontstaan het. Dit word nie in ag geneem dat ‘n kerkorde, soos hierbo aangedui, in ‘n besondere verhouding met die Skrif en konfessie staan, en die praktiese toepassing help reël sodat die kerk die merktekens van die ware kerk kan vertoon nie. Dus, dit word waarskynlik nie raak gesien nie dat ‘n kerkorde primêr ‘n teologiese en nie eerstens ‘n juridiese dokument is nie.

Gildenhuys (2002:222-223; vgl ook Van de Vyver 1999:667) toon aan dat ‘n ingrype in die kerklike sfeer in interne kerklike aangeleenthede deur die howe op totalitarisme sal neerkom. Gildenhuys (2002:224) kom tot die volgende konklusie:

‘n Interpretasie waarvolgens art 9(4) so verstaan moet word dat die staat byvoorbeeld die kerk kan gebied om nie teen vroue te diskrimineer nie, is foutief. “...section 9(4) should not be interpreted to sanction interference in the internal sphere of religious institutions or churches on the grounds of the historical development of religious freedom and as entrenched in section 15(1) and 31(1). It is submitted ... that the provisions of section 9(4) should be read in conjunction with the provisions of section 8(3) and that, in certain cases the “right” contained in section 9(4) should be limited accordingly” .

Die sg beperking-van-regte-klousule ( art 36 van die Grondwet), is ook van toepassing op godsdiensvryheid en godsdiensregte. Die uitoefening van hierdie reg word gekwalifiseer in die voorwaardes wat in art 15 (2) gemaak word.

Hiervan sê Van de Vyver (2002:par 243) “These internal limitations have been regarded not so much as restrictions on the right but a guidance for interpretation”.

Dit is derhalwe reg dat die staat deur die beginsel van nie-inmenging in leerstellige kwessies verbied word om in die kerk se outonome sfeer in te meng (vgl Malherbe s.j.: 8 e.v)

3.3 Godsdiensvryheid

Godsdiensvryheid in terme van artikel 15 (ook art 18) van die Grondwet, behels meer as geloofsvryheid. Dit sluit ook die volgende in: om op te tree en te funksioneer ooreenkomstig jou geloof, byvoorbeeld om samekomste te mag hê, om onderrig te gee volgens die leer van die kerk, en om regspraak in terme van die kerkorde te beoefen.

Die bepalinge soos in artikels 8(1) (vgl ook artikels 1 en 2) wat handel oor die oppergesag van die Grondwet en oor die toepassing daarvan op die totale reg, mag nie impliseer of beteken dat daar geen skeiding meer is tussen kerk en staat nie. Volgens die beginsel van godsdiensregte en godsdiensvryheid , asook in die lig van die skeiding tussen kerk en staat behoort ‘n kerkorde nie ondergeskik te wees aan die konstitusionele norme nie (vgl Gildenhuys 2002:283-284).

4. KONKLUSIE

Dit is my oortuiging dat wanneer die koninkryk van God as vertrekpunt geneem word, dit ‘n sleutel bied om tot die regte verstaan van die verhouding tussen ‘n kerkorde en ‘n grondwet te kan kom.

Dit is vanuit hierdie vertrekpunt duidelik dat die kerk en die staat twee onderskeie terreine of sfere is, en dat ‘n kerk vanweë sy eiesoortige aard as instelling van God self die reg en verantwoordelikheid het om in die lig van die Woord vas te stel hoedanig die kerk regeer moet word, en dit in ‘n kerkorde te formuleer. Sodoende dien dit as die geldende reg in die bepaalde kerkgemeenskap.

Die staatsowerheid behoort dit te respekteer en te erken omdat dit juridies gesien, in terme van die Grondwet, ressorteer onder bepaalde artikels van die Grondwet, soos hierbo aangetoon is.

Die kerk behoort die Grondwet te respekteer en te gehoorsaam in soverre dit nie in botsing is met die beginsels van die Woord van God nie, en kragtens die aard en roeping van die kerk behoort daar teenoor die staatsowerheid getuig te word en ‘n appèl op die owerheid gemaak te word, om aspekte wat in stryd is met die beginsels van die koninkryk van God reg te stel.

BIBLIOGRAFIE

Calvyn, J. 1988. Institusie van die Christelike godsdiens, deel 3 . Vertaal deur H.W. Simpson. Potchefstroom: CJBF.

Calvyn, J. 1991. Institusie van die Christelike godsdiens, deel 4. Vertaal deur H.W Simpson. Potchefstroom: CJBF.

Du Plooy, A. Le R. 1979. Ekklesia en meerdere vergaderinge. PU vir CHO. (Th.M. –verhandeling.)

Du Plooy, A. Le R. 1982. Kerkverband. ‘n Gereformeerd-kerkregtelike studie. Potchefstroom: PU vir CHO (Proefskrif – Th.D.)

Du Plooy, A. Le R. 1986. Besinning oor eenheid in kerkverband oor nasionale en taalgrense. (In Smit, C.J. samesteller. In gehoorsaamheid: opstelbundel aangebied aan prof. GPL van der Linde by sy emeritering as hoogleraar. Potchefstroom: PTP. p. 32-49.)

Du Plooy, A. Le R.1991. Enkele bakens in die verhouding tussen kerk en staat met die op die ontstaan van ‘n nuwe Suid-Afrikaanse staat. (In Helberg, J.L. hoofredakteur . Kerkwees as getuienis in Suid-Afrika vandag. Potchefstroom: PTP. p. 104-126.)

Du Plooy, A.Le R. 1992. Calvyn oor die koninkryk van God en die staat. HTS 48/3 & 4:759-771.

Du Plooy, A. Le R. 1995. Die grondslag en relevansie van die gereformeerde kerkreg as teologiese wetenskap. In die Skriflig, 29(1&2: 135-160.

Du Plooy, A. Le R. 1998. Inleiding op die kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. (In: Kerkordeboekie van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, soos gewysig deur verskillende sinodes. Potchefstroom: Admin Buro. p. 5-11.)

Du Plooy, A. Le R. 2005. Die betekenis van charisma en amp vir die kerkregering. In die Skriflig, 39(3)555-567.

Gildenhuys, J.L. 2002. An assessment of constitutional guarentees of religious rights and freedoms in South Africa. Dissertation - Doctor legum. University of Stellenbosch.

Malherbe, Rassie. s.j. Die impak van die Grondwet op die kerk – ‘n voorlopige waarneming. Ongepubliseerde referaat.

Pienaar, G.J. s..j. Die Regsposisie van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Potchefstroom: EFJS

Pienaar, G. J. 1982. Die gemeenregtelike regspersoon in die Suid-Afrikaanse privaatreg. Proefskrif – Doctor legum. PU vir CHO.

Pienaar, G.J. 2006. Ons geloof en die Suid-Afrikaanse regstaat. Woord en Daad: 18-19. Julie.

Plomp, J. 1969. De kerklijke tucht bij Calvijn. Kampen: Kok.

Van Coller, H. 2005. Die funksionering van kerktribunale in die lig van die eise van administratiewe geregtigheid. Tydskrif vir Regswetenskap, 30(1):17-38.

Van der Vyver, J.D. 1994. Religion. LAWSA 23: 175-202.

Van der Vyver, J.D. 1999. Constitutional Perspective of Church-State Relations in South Africa. BYU-LR (Brigham Young University Law Review): 635-672.

Van der Vyver, J.D. 2002. Religion and the Constitution. Par 241-246.

Van der Vyver, J.D. 2002. Ecclesiastical Institutions. Par 247-253.

Van der Walt, T. 1962. Die koninkryk van God – naby! Kampen:Kok.

Van der Walt, T. 1969. Die voleinding van die koninkryk. (In Du Toit, S. red. Die koninkryk van God. Potchefstroom: Herald. P. 96-109.)

Van’t Spijker, W. 1972. Goddelijk recht en kerkelijke orde bij Martin Bucer. Kampen: Kok.

Van’t Spijker, W. 1993. Reformatie en kerkorde. Theologia Reformata, 36(3):78-201, Sept.

TREFWOORDE

Koninkryk, Kerk, Kerkorde, Grondwet, Staat, Godsdiensvryheid

KEY WORDS

Kingdom, Church, Church Order, Constituton, State, Freedom of religion