Brunsdon, AR1 & Janse van Rensburg, J2

Kanker tydens aftrede – ‘n narratiewe benadering

ABSTRACT

Cancer in retirement – a narrative approach

The narrative approach to therapy has attracted the attention of many therapists. Due to its post-modern philosophical roots it is however not without epistemological pitfalls for the pastoral therapist who wants to stay true to reformed pastoral principles, i.e. the use of Scripture as point of departure. This article proposes that strategies associated with narrative therapy be employed in pastoral therapy without assimilating post-modern philosophy. This hypothesis is explored against the background of the retired couple affected by cancer. As this scenario poses a real pastoral challenge, the possibilities of strategies from narrative therapy within a reformed pastoral care-model are investigated.

1. INLEIDING

Sedert die verskyning van Michael White en David Epston se Narrative Means to Therapeutic Ends (1990), het ’n lewendige belangstelling in die sogenaamde narratiewe benadering tot terapie gekom. Hierdie benadering het ook die aandag van pastorale teoloë getrek en ’n opmerklike aantal navorsers het sedertdien gepoog om die vrugte van die benadering vir die pastorale teologie te aktualiseer (vgl. Van der Westhuizen 2002, Bothma 2003, Senekal 2006). In dié proses het die vraag na die epistemologiese versoenbaarheid tussen die pastoraat en die narratiewe benadering homself op die voorgrond gedwing. Dit was veral Janse van Rensburg (2000a, 2000b, 2002, 2007) wat aangedui het dat die narratiewe benadering in ’n postmoderne filosofiese denkraamwerk ingebed is en daarom nie sondermeer met die vertrekpunte van die pastoraat gepaar kan word nie. Wanneer die narratiewe benadering (hierna ook: narratief) met sy filosofiese wortels in ’n gereformeerde pastoraat meegeneem word, open dit die deur vir talle epistemologiese diskrepansies. Die belangrikste hiervan vir die gereformeerde pastoraat is sekerlik dat die rol en gesag van die Skrif in die proses gemarginaliseer word (vgl. die kritiese vrae van Bezuidenhout en Janse van Rensburg in die verband, 2006: 24-26). Die vraag ontstaan of hierdie epistemologiese verskille die narratiewe benadering onbruikbaar vir die gereformeerde poimeniek maak.

2. NAVORSINGSPROBLEEM EN DOELSTELLING

Hierdie artikel sal die moontlikhede van die narratiewe benadering binne die gereformeerde pastoraat verken en probeer aandui dat ’n middeweg binne die huidige debat haalbaar is. Hierdie verkenning sal gedoen word binne die raamwerk van ’n spesifieke vertakking van die pastoraat, naamlik die siekepastoraat. Dit sal aangetoon word dat die narratiewe benadering die gereformeerde pastoraat ten beste dien wanneer strategieë geassosieer met die narratief binne die pastoraat aangewend word, sonder om die filosofiese wortels van die narratiewe benadering mee te neem.

Ten einde hierdie doelstelling te bereik word die vraag na die mees geskikte epistemologie vir die pastoraat aan die afgetrede egpaar met kanker beredeneer. Uit ’n fenomenologiese verheldering van kanker en aftrede as die sogenaamde goue jare, sal die pastorale behoefte van mense vasgevang in ’n kankerdiagnose blyk, naamlik aan die transenderende waarheid van die Woord en die beloftes van God. Die narratiewe benadering as modus van terapie sal oorsigtelik beskou word en strategieë geassosieer met die narratief sal uitgelig word. Enkele van hierdie strategieë sal kursories in die lig van die afgetrede egpaar met kanker belig word om aan te dui hoe dit as strategie binne die skopus van hierdie navorsing kan funksioneer.

Die navorsing wil vasstel of die gebruik van strategieë uit die narratiewe benadering kan geskied sonder om die gekose diakoniologiese epistemologie in gedrang te bring.

3. EPISTEMOLOGIESE POSISIONERING

Dit moet in gedagte gehou word dat hierdie ondersoek homself epistemologies moet posisioneer met betrekking tot die siekepastoraat. Pastors het oorsigtelik drie keuses wanneer hulle moet besin oor ’n verwysingsraamwerk vir die pastoraat. By wyse van analogie sou dit met die keuse vergelyk kon word wat Gouehaartjies gehad het met betrekking tot die drie stoele in die beerfamilie se huis. Een het te hard, die ander te sag en die derde een net reg gesit. Uit ’n kursories-kritiese beredenering van die prakties-teologies -en postmoderne epistemologieë, sal dit duidelik word hoekom daar in hierdie artikel ’n diakoniologiese posisionering gekies word ten einde die pastoraat aan die afgetrede egpaar met kanker te bedien.

3.1 Die praxis-georiënteerde vertrekpunt van die prakties-teologiese aanpak

Daar word vandag nie meer van diakoniologie gepraat nie, maar van praktiese teologie. Dit is tans die aanvaarde benaming om die vakdissipline, wat vroeër as diakoniologie bekend-gestaan het, mee aan te dui.

Rossouw (1986:76) dui in sy artikel oor begripskeuses in die diakoniologie aan dat die begrip “praktiese teologie” oor ’n lang geskiedenis beskik waarin die gedagte van ’n praktykgerigte wetenskap voorop staan. Ten spyte van verskeie punte van kritiek teen hierdie benaming, wat onder meer filosofies, histories en terminologies van aard is, het die begrip “praktiese teologie” in die teologiese omgangstaal ingeburger geraak.

Jonker (1983:141) sê immers: ”Het spreken over God (heeft) geen enkele zin zonder de levenservaring van dit konkrete bestaan van alledag. En zo staan wij op specifiek practisch-theologische grond.”

Alhoewel dit ’n sambreelterm geword het vir alle vertakkinge van die ou diakonale of amptelike vakke, kan die begrip “praktiese teologie” nie net begripsmatig verstaan word nie. Veral wanneer daar epistemologies onderskeid getref word tussen ’n diakoniologiese vertrekpunt en ’n prakties-teologiese vertrekpunt, word sekere grondliggende verskille duidelik. Dreyer (1998:14-15) skryf:

“ A new practical theology with a new focus emerged...its scope no longer that of pastoral theology ...This broadening of the scope of practical theology required a change in methodology. Whereas the old practical theology mainly applied the results of exegesis or dogmatics, which is often called a deductive or applied approach, the new practical theology had to seek a methodology or methodologies to study the lived religion in its explicit and implicit multiplicity ...The result was an empirical turn in practical theology: the adoption of social-scientific methods to carry out empirical research, by practical theologians within a practical theological framework (eie kursiverings).”

Hierdie omvattende aanhaling is ’n poging om te illustreer waarvandaan die praktiese teologie vertrek, naamlik vanuit ’n praxis-georiënteerde hoek.

Hierdie verskuiwing het ontstaan vanuit die gedagte dat dit onmoontlik is om God te bestudeer, soos die klassieke definisie van teologie (Heyns en Jonker 1977:137) sou impliseer. Vandaar Heyns en Pieterse (1990:10) se definisie van praktiese teologie:

”[P]practical theology is that branch of theological science that analyses praxis scientifically. It is concerned with actual religious events... From its particular vantage point it studies the object of all theology, namely people’s faith and their religious statements about God.”

Nou verskuif die klem na die identifisering van prakties-teologiese teorieë en die ontwikkeling daarvan vir die praktyk. In hierdie proses speel empiriese navorsing ’n sentrale rol.

Die groot risiko wat met hierdie benadering geskep word, is dat die praktiese teologie in empirie kan verval wat sy vertrekpunte vind in die menslike geloofsreaksie op God (kommunikatiewe/handelswetenskaplike vertrekpunt), in plaas van God se openbaring aangaande Homself aan die mens (Woord).

In werklikheid is daar ’n gevarieerdheid onder praktiese teoloë, in dié sin dat nie almal wat op ’n prakties teologiese vertrekpunt aanspraak maak, dit konsekwent toepas nie. Malan Nel en Firet word as voorbeelde voorgehou van praktiese teoloë wat in hulle vertrekpunte eerder nader aan die Skrif staan as aan die handelswetenskaplike benadering. (Janse van Rensburg 2000:88-89)

Dit sou egter moeilik ontken kon word dat daar in dié proses ’n tree weg gee van die Woord en die Sola Scriptura-beginsel van die Gereformeerde pastoraat gegee is (Louw 1993:206-209).

3.2 Die buite-Bybelse vertrekpunte van die postmoderne aanpak

Wanneer die postmoderne paradigma oorsigtelik beskou word, blyk dit duidelik dat dit alle vorme van waarheidsaansprake vanuit die moderne era opponeer. Hiermee saam ook dit wat die Christelike geloof as waar op grond van God se Woord beskou. Dit is dus te verstane dat daar vanuit verskeie oorde krities oor die postmoderne denke gereflekteer is (vgl. Harvey 2000:1-7, Greer 2003). Alhoewel alle kritiek deur die protagoniste van die postmodernisme as naïef afgemaak word (Adam 2000 vii-ix), is dit duidelik dat daar ook ’n ander kant van die postmoderne munt is waarmee die teologie rekening moet hou – en dit is dat die denkvrugte van die postmoderne Zeitgeist nie kritiekloos in teologiese besinning geassimileer kan word nie.

Veral ten opsigte van die siekepastoraat wat erns wil maak met die sorg van God, soos geopenbaar deur die Woord, is die volgende belangrik om te verreken in ’n epistemologiese vertrekpunt vir die pastoraat.

3.2.1 Skrifgesag en waarheidsaansprake

Die hoofuitgangspunt van die postmoderne denke is dat daar geen absolute waarheid kan bestaan nie. Andersen (1997:27) se uitspraak hieroor stel dit as volg: “Postmodernity challenges the view that the truth is one and undivided. The newer view regards any truth as socially constructed, contingent, inseparable from the peculiar needs and preferences of certain people in a certain time and place.” Binne so ’n paradigma raak die gesag van die Bybel dus vaag. Trouens, geen waarheid, norm of belofte kan binne ’n konsekwente gebruik van die postmoderne paradigma van buite af in die situasie ingedra word nie. Hierdie siening tas dus direk die waarheidsaanprake aangaande God in gedeeltes soos Psalm 31:5 en Jesaja 45:18 aan. Wie enigsins eksegeties met die Woord wil omgaan (en dit in die pastoraat wil aanwend), moet hulle vergewis en van – en neerlê by die gesag van die Woord (De Klerk en Janse van Rensburg 2005: 3) Ons vind derhalwe aansluiting by Groothuis (2000:65-81), wat waarheid objektief in God sien, kenbaar, absoluut, universeel, ewig en finaal.

3.2.2 Mensbeskouing

Die postmodernisme het die mens weer in die sentrum van die universum geplaas. Die indruk word geskep dat die postmoderne denke ietwat van ’n self-redeeming agent geword het. Die uitvloeisel hiervan is weereens, binne ’n konsekwente toepassing van die postmoderne filosofie, dat al die antwoorde en oplossings vir probleme binne die mens self lê.

Milner en O’Byrne (2002:23), wat hulle eie benadering tot narratiewe terapie binne ’n postmoderne epistemologie beskryf, formuleer die basiese doelwit van hulle terapie as: “[T]the identification, validation and strenghtening of clients’ inner resources”. Hierdie benadering is baie nou verwant aan die gedagtes van die eduktiewe benadering van Hiltner (1958) en bevat ’n bepaalde leemte wat ten beste in die vorm van ’n vraag uitgedruk kan word. Wat gebeur as die persoon in beraad niks binne sy/haar persoonlike mondering het om die probleem op ’n toereikende manier te bowe te kom nie?

3.2.3 Lewensdoel en eindbestemming

Binne die raamwerk van die postmoderne paradigma raak sake soos lewensdoel en eindbestemming vanuit ’n teologiese perspektief ook grootliks problematies. Indien aanvaar word dat die postmodernisme slegs die huidige as die werklikheid aanvaar, kom alle eskatologiese aspekte van die Christelike geloof in die gedrang. Lewensdoel word dan gereduseer tot die hier en nou. Daarom kies iemand soos Payne (2000:208) om bloot te fokus op die sogenaamde “enrichment of life - to enrich life with joyful activities”.

Ongelukkig stem so ’n siening ooreen met die vitale lewensgevoel wat die postmoderne samelewing by mense skep en is dit maklik om te glo dat dit al is waarom die lewe gaan. Groothuis (2000:21) verwys in hierdie verband na ’n bufferplakker wat sê: ”I’ve given up on reality. Now I’m looking for a good fantasy.” Hierdie lewensgevoel word ook verwoord in die hedendaagse jongmens se geliefde stopwoord: ”Whatever!” Dit is onwaarskynlik dat hierdie kortsigtigheid van die postmoderne paradigma enigsins iets vir ’n kankerpasiënt sal kan beteken. Lewe in die aangesig van terminaliteit het meer nodig as sogenaamde “joyful activities”. Verryking kan nou alleen gevind word in die ontsluiting van die eskatologiese beloftes van God se Woord en die koinonia van ander.

3.3 Die Bybelse vertrekpunt van die diakoniologiese epistemologie

In die lig van die navorsingsfokus van hierdie artikel, die afgetrede egpaar met kanker (siekepastoraat), word vir ’n diakoniologiese vertrekpunt gekies. Hiermee word bedoel dat die Bybel as vertrekpunt dien, terwyl metateorie en insette vanuit ander dissiplines nie negeer word nie. Daar is hoofsaaklik drie argumente wat as motivering hiervoor kan dien.

Eerstens is dit ons oortuiging dat die pastoraat hom tuis behoort te vind binne ’n raamwerk waar die Woord van God as eerste vertrekpunt staan. Dit is ons insiens ’n suiwerder aanpak vir ’n gereformeerde pastoraat wat die Sola Scriptura - beginsel wil respekteer en die Woord as die primêre kenbron van teologisering wil behou. Hierin vind ons aansluiting by Rossouw (1991:130), wat beklemtoon dat die diakoniologie vanuit ’n paradigma vertrek waar die Skrif, belydenisse, kerklike tradisie en praxis aan die basis lê. Hierby voeg hy die betekenisvolle opmerking: ”[I]in dié volgorde en nie in gelyke gewigte nie” (Rossouw 1991:130). Ons kies dit as ons perspektiwiese blik op die gekose navorsingsprobleem, sonder om daarmee die prakties-teologiese aanpak as ongeldig af te maak.

Ons neem egter die (klassieke) kritiek teen ’n diakoniologiese vertrekpunt ter harte: dat dit in homself die gevaar van biblisisme dra, dat dit hulpverlening tot die ampte beperk en dat dit net met die Bybel werk (Pieterse 1993:103-104, Janse van Rensburg 2000:77-78).

Ons motiveer ons keuse met die nou reeds bekende beginsels: dat die diakoniologiese aanpak wel die waarde van metateorieë benut (De Klerk 1978) en dat dit die konteks en metateorie van die wêreld waarbinne dit opereer, verreken. Louw se sogenaamde asimmetriese model (1998:58-59) behoort dit te bevestig. ’n Diakoniologiese vertrekpunt is nie wêreldvreemd nie, dit probeer slegs erns maak met skrifbeginsels, sodat die empiriese komponent nie die teologiese karakter negeer nie.

Ons tweede motivering vir die gebruik van die diakoniologiese paradigma is geleë in die fokusgroep van die navorsing, te wete die afgetrede egpaar wat deur kanker geaffekteer is.

Verskeie outeurs (Pietersen 1997, Janse van Rensburg 2002:39-59, Pieterse 2002:61-101, Brits 2005:69-77) het reeds gepoog om ’n “postmoderne mensbeeld” te konstrueer. Hieruit blyk duidelik dat die postmoderne tydsgees mense nuwe vrae oor hulleself en omstandighede laat vra. Ons meen egter dat dit ’n “misnomer” sou wees om alle mense wat in die sogenaamde postmoderne tyd leef, as postmodern te tipeer, bedoelende dat hulle die postmoderne filosofie in so ’n mate geassimileer het dat postmoderne waardes ook hulle waardes geword het. Dit is vermoedelik veral waar van die fokusgroep van hierdie artikel aangesien hulle van die “ouer” generasie is, dit is 55 of ouer, wat in ’n groot mate die assimilasie van postmoderne waardes vrygespring het.

Maar ten diepste lê ons motivering vir ’n diakoniologiese epistemologie in ons waarneming dat ’n kankerdiagnose by die ouer persoon geloofsvrae ontlok, soos later in hierdie artikel aangedui sal word. Dit sal bepaald ook die geval wees by die jonger geslag wat oor ’n geloofsagtergrond beskik. Die belangrike saak is egter dat persone met kanker by ’n kruispad beland wat hulle binne die ruimte van teologiese vraagstelling en ’n soeke na geestelike substansie bring.

Hierdie geloofsvrae vra na pastoraat waarin die Woord van God, die Heilige Gees, gebed en die ander komponente van ’n Bybelse pastoraat aan die orde kom. Dit verteenwoordig ’n soeke na sekerheid en troos, soos gevind in die Woord van die Here.

4. BEGRIPSVERHELDERING: DIE AFGETREDE EGPAAR DEUR KANKER GEAFFEKTEER

Hierdie artikel betree die leefwêreld van die afgetrede egpaar waar kanker by een van die lede gediagnoseer is. Inherent verteenwoordig hierdie scenario ’n paradoksale situasie waarin die sogenaamde goue jare deur ’n indringer in die gestalte van ’n ernstige siekte bedreig word.

Dit moet in ag geneem word dat die konstituerende elemente (kanker en aftrede) van die navorsing vloeibare terme is, aangesien beide oor ’n progressiewe kapasiteit beskik. Wanneer kanker byvoorbeeld fenomenologies beskou word, word gevind dat dit in sommige gevalle ’n progressiewe siekte kan wees wat op terminaliteit uitloop. ’n Kankerpasiënt, kan dus iemand wees by wie daar pas kanker gediagnoseer is of iemand wat reeds sterwend is as gevolg daarvan.

Wanneer daar van afgetredenes gepraat word, moet met dieselfde beginsel rekening gehou word. Aftrede verteenwoordig ’n lewensfase wat, binne die hedendaagse Suid-Afrikaanse konteks, persone van ongeveer 55 tot in hulle negentigs (verswakte bejaarde) kan insluit.

Die resultate van hierdie studie wil ’n bydrae maak tot die pastoraat aan die afgetrede egpaar waar beide hierdie elemente van só ’n aard is dat pastorale gesprekvoering nog ’n haalbare onderneming sal wees. Anders gestel, die egpaar op wie die resultate van hierdie ondersoek betrekking sal hê, moet jonk genoeg wees om aftrede nog as ’n gulde geleentheid te sien en die kanker wat teenwoordig is, moet nie só gevorderd wees dat dit terminaal geraak het nie.

Ten einde die pastorale uitdaging van kanker by afgetrede egpare te poneer, sal kanker en aftrede kortliks fenomenologies verhelder moet word.

4.1 Kanker fenomenologies beskou

Kanker blyk ’n siekteverskynsel te wees wat al lank reeds aan die mens bekend is. Daar is reeds in die Bybel verwysings na hierdie siekte. Dit is opvallend dat dit in die Skrif as aanduiding van ’n vernietigende mag figureer. In die Ou- Testamentiese profete-literatuur kom die begrip bederf voor in Habakuk 3:16 voor wat deur uitleggers soos Krüger (1987:74) letterlik met kanker vertaal word. In die Nuwe Testament gebruik Paulus die uitdrukking kanker in 2 Timoteus 2:17 om die vernietigende mag van die dwaalleer van Himeneus en Filetus toe te lig. Die Griekse begrip gaggraina verwys na gangreen, wat bekend is daarvoor dat dit gesonde vlees wegvreet. Groenewald (1977:118) vergelyk dit met ’n trop vee wat al vretende ’n stuk veld vernietig. Vandaar die persepsie dat kanker ’n destruktiewe fenomeen verteenwoordig.

Omdat die oorsprong van kanker dikwels onbekend is, is dit fenomenologies in ’n wolk van misterie gehul. Dit verklaar die vele mites wat daar omtrent kanker bestaan, soos dat dit aansteeklik is (Richardson 1995:3) en dit verklaar ook deels hoekom die stryd teen hierdie siekte-verskynsel nog nie gewen is nie (Walker 2003:5). In mediese terme is kanker egter ’n spesifieke verskynsel, naamlik ’n wanfunksie ten opsigte van seldeling binne die menslike liggaam (Baraclough 2000:vii). Kanker is ’n generiese term wat as benaming gebruik word vir ongeveer tweehonderd kwaadaardige toestande wat in verskillende weefsels of die bloed kan ontstaan en wat op verskillende maniere manifesteer. By elkeen van die variante is die gemene deler egter dat ongekontroleerde seldeling begin het, gewoonlik in ’n spesifieke area. Die tempo waarteen die vermeerdering van hierdie selle plaasvind, is nie noodwendig vinnig nie, maar onvanpas (Souhami & Tobias 1998:23). Kanker kan in enige weefsel van die liggaam ontwikkel waar die afwykende sel begin verdeel en is dus ten diepste ’n siekte van die selle in die liggaam wat van hulle normale struktuur afgewyk het.

Ten spyte van betekenisvolle vordering in mediese kennis oor sellulêre afwykings, is daar steeds min bekend oor die presiese oorsake daarvan, behalwe vir gevalle waar sekere kankers onweerlegbaar met bepaalde eksterne faktore in verband gebring kan word. Die rookgewoonte, oormatige blootstelling aan die son (bestraling) of blootstelling aan skadelike chemiese stowwe, soos asbes, word vir jare reeds beskou as eksterne faktore wat tot die ontstaan van kanker bydra (Delfino en Day 2006: 5). Baie word gedoen om ’n bewustheid hieroor te kweek, soos advertensies op televisie en waarskuwings op sigaret- en ander tabakprodukte se verpakkings.

Oor die sogenaamde indirekte oorsake van kanker, is daar minder sekerheid. Daar bestaan egter ’n sterk vermoede dat kanker ook in verband gebring kan word met dinge soos sekere vorme van seksuele gedrag, sosio-ekonomiese omstandighede, swak eetgewoontes en stres (Alberts1993:9 - 11).

Kanker word met die uitsondering van ’n seldsame oogkanker (retinoblastoom) nie as oorerflik beskou nie (Alberts 1993:9). Dit wil egter wel voorkom of bepaalde kankers by herhaling binne sekere families kan manifesteer. Hier word veral gedink aan kankers soos bors- en kolonkanker. Vermoedelik is hierdie verskynsel toe te skryf aan ’n genetiese disposisie, wat beteken dat daar ’n wanbalans tussen sogenaamde kankergene en die tumoronderdrukkende gene in ’n persoon se liggaam ontstaan het. Hierdie wanbalans kan ’n genetiese oorsprong hê, wat aangehelp word deur fisiese en chemiese faktore, soos rook en virale aanslae (Alberts 1993:9).

Daar blyk egter ’n sterk paradoksale sy aan die ontwikkeling van kanker te wees aangesien die ontwikkeling daarvan binne die menslike liggaam nie voorspelbaar is nie. Dit is byvoorbeeld nie ’n uitgemaakte saak dat alle rokers longkanker ontwikkel nie. Dit is ook nie ’n uitgemaakte saak dat nie-rokers nié longkanker sal ontwikkel nie. Sogenaamde kandidate vir kanker kry dit dikwels nie - en nie-kandidate wel. Dit lyk dus of kanker nie volgens ’n vaste stel reëls nie, maar op onvoorspelbare wyse kan ontwikkel. Vandaar die dikwels verslae reaksie van pasiënte by wie kanker gediagnoseer word: ”Ek het dan nie gerook nie,” of: “ek het gesond geleef.”

Hierdie paradoks veroorsaak dat kanker ’n siekteverskynsel is wat nie net ’n mediese krisis nie, maar ook ’n psigologiese en geestelike krisis verteenwoordig. Alhoewel kanker nie in Suid-Afrika as ’n epidemie of ’n pandemie beskou word nie - en nuwere siektes soos vigs meer media-prominensie geniet (Van Dyk 2001:4) - eis kanker gereeld lewens en verteenwoordig dit ’n eksistensiële krisis met negatiewe gevolge waar dit ook al voorkom. Dit is binne die leefwêreld van die individu en sy/haar verhoudingsnetwerke waar die grootste negatiewe gevolge sigbaar word. Die onsekerheid, vrees vir potensiële skeiding en fisiese ontbering wat op ’n kankerdiagnose volg, is die ware negatiewe gevolge waaraan die invloed van kanker gemeet moet word. Die feit dat kanker binne die meeste kulture ’n gevreesde siekte is, verklaar deels die eksistensiële nood waarin dit sy slagoffers dompel (Wentworth 1992:18, Stacey 1996: 1-34).

4.2 Aftrede fenomenologies beskou

Vir die doel van hierdie artikel word aftrede wyer verstaan as die handeling waardeur ’n persoon die beroepstuig neerlê, en funksioneer dit eerder as ’n bepaalde lewensfase. Dat aftrede as lewensfase ’n belangrike lewensbaken verteenwoordig, is nie te betwyfel nie (McCluskey en Borgatta 1981, Parker 1982, Winfield 2004). Cockerham (1997:158) sê: ”Retirement constitutes a major status passage brought on by the aging process in an individual’s life course.” Met hierdie status passage word bedoel dat mense sosiale veranderings beleef wat emosionele en fisiese winste en/of verliese meebring.

Om aftrede te bereik, blyk allerweë ’n groot mylpaal te wees. Binne ’n Christelike verstaan van die lewe kan dit sekerlik ook as genade beskou word waar man en vrou hierdie fase saam bereik. Binne die Suid-Afrikaanse konteks is dit nie ongehoord dat mans hulle gades reeds gedurende die werkende jare ontval nie. Dit is ook nie ongewoon dat aftrede in ’n krisis ontaard deurdat dit op ’n vroeë ouderdom afgedwing word deur omstandighede soos ’n aflegging nie. Wanneer ’n man en vrou dus langs die tradisionele weë en op die gebruiklike ouderdom van tussen 55 en 65 saam aftrede bereik, het ons te make met ’n mylpaal wat staan in die teken van genade.

Dit kan egter ook beskou word as ’n welverdiende mylpaal of as die kroon op jare se volgehoue en getroue arbeid. Hierdie gedagte is selfs nie vreemd aan die Woord nie (Luk 10:7; Rom 4:4). Aftrede kan binne die Christelike werksetiek inderdaad as loon beskou word. Hierdie faktore werk daartoe mee dat egpare baie positief en opgewonde kan uitsien na hierdie fase van hulle lewe saam. De Klerk (2005:464) sien aftrede as die aanvaarding van ’n nuwe geestelike roeping en plaas dit godsdienstig binne die raamwerk van ’n heerlike roeping/liturgie.

Vandaar die gedagte dat die egpaar nou hulle “goue jare” betree het en met dankbaarheid en genoegdoening na hierdie periode uitsien. Indien albei partye in die arbeidsmark gestaan het, word daar na welverdiende rus van die eise van hulle beroepe uitgesien. In die geval waar een van die lede reeds afgetree het of in die rol van ’n tuiste-skepper gestaan het, word daar nou uitgesien na ’n ander roetine en veral die voorreg om meer aktiwiteite saam aan te pak.

Wanneer aftrede in hierdie positiewe lig beskou word, is dit verstaanbaar watter geweldige paradoks ontstaan wanneer een van die lede van ’n egpaar skielik voor ’n lewensbedreigende siekte soos kanker te staan kom.

5. DIE PASTORALE NOOD VAN DIE AFGETREDE EGPAAR DEUR KANKER GEAFFEKTEER

In die lig van die voorafgaande behoort dit duidelik te wees dat kanker in die goue jare ’n eksistensiële krisis kan skep. Dit sal die afgetrede egpaar sekerlik in hulle positiewe verwagtings rondom hierdie lewensfase strem. Dit skep ’n pastorale nood wat waaronder die volgende vermoedelik sal tel (vgl. Brunsdon 2006, 84-102):

• Geloofsvrae, waaronder die teodisee vraag tel.

• Teleurstelling oor verwagtings rondom die goue jare wat in gedrang gekom het.

• Angs in die lig van die verdoemende sosiale diskoerse rondom kanker as doodsvonnis.

6. DIE NARRATIEWE BENADERING AS TERAPEUTIESE MODUS

6.1 Basiese elemente van die narratiewe benadering

Die hoofsaak van die narratiewe benadering kom daarop neer dat die mens se lewe as ’n storie of narratief gesien kan word. Met hierdie gedagte of “teks analogie” vir die verstaan van menslike probleme, word veronderstel dat mense se verstaan van hulleself, ander en die huidige omstandighede saamgestel word deur ’n verskeidenheid kleiner stories wat hulle tot op hede deur hulle lewens gevorm het, asook wat hulle van die toekoms verwag (White en Epston 1990:9-10). In hierdie proses word onderskei tussen sogenaamde dominante en alternatiewe stories. Die dominante verhale is in die reël die probleemdeurdrenkte (problem-saturated) verhale. Hierdie dominante verhale oorskadu die alternatiewe (positiewe) verhale. Alles wat met persone gebeur, word dan deur die dominante verhale gesien en verstaan (White en Epston 1990:56).

Die transformerende element van die narratiewe benadering lê daarin dat dit na die alternatiewe verhale luister en hierdie verhale by die verteller daarvan wil versterk, sodat ’n nuwe, positiewe verhaal geskep kan word waardeur die ou dominante verhale vervang word.

“When persons seek therapy, an acceptable outcome would be the identification or generation of alternative stories that enable them t ng. Die volgorde waarin die strategieë genoem word, impliseer nie ’n vaste patroon nie, aangesien hierdie tegnieke ter enige tyd in die terapeutiese proses gebruik of nié gebruik kan word nie. Hieroor merk White (1982:20) op: ”The patient is more important than the theory.”

6.1.1 Dekonstruksie

Dit is ongetwyfeld een van die sentrale begrippe in die Narratiewe benadering (vgl. De Jager en Müller 2002:1225, 1233). Die gebruik van hierdie begrip hang ten nouste saam met die hoë waarde wat aan taal toegeken word binne (postmoderne) denke oor die narratiewe benadering. “People generate meaning with each other through language ... language is reality ... the limits of language means the limits of my world” (Anderson 1995:30). Indien persone binne hierdie verstaan van taal hulleself (vas)bind aan ’n bepaalde prentjie oor hulleself en ’n situasie waardeur hulle benadeel word, wil dekonstruering hierdie “beelde” afbreek. Hierdie afbreekproses geskied hoofsaaklik deur die bevraagtekening van die ou “waarhede” of “mites” waardeur mense hulle laat bind (Parry 1991:41-51).

6.1.2 “Not knowing - The client is the expert”

Dit is nog een van die begrippe waarop die narratiewe benadering swaar steun en ook in samehang met die sentraliteit van taal. Hierdie beginsel beteken dat die terapeut ’n gesindheid van ware nuuskierigheid openbaar oor wat die persoon in beraad tot die gesprek wil bydra, eerder as om met vooropgestelde idees vanuit ’n finale verwysingsraamwerk te luister. Hierdie “abundant, true curiosity” (Anderson en Goolishian 1992:29) skep die ruimte dat die kliënt werklik gehoor kan word.

Müller (2000:35) noem in hierdie verband dat die terapeut doelbewus oor die drumpel van die verteller getrek moet kan word om werklik die verhaal te kan hoor. Dit gaan hier dus om ’n stroping van die terapeut se eie voorbehoude en denkkonstruksies. Wat die terapeut uiteindelik tot die gesprek bydra, is dan in werklikheid ’n samewerking (collaboration) met die persoon in beraad om by ’n nuwe of unieke uitkoms te kom.

6.1.3 Eksternalisering

Hierdie tegniek behels die objektivering en personifiëring van persoonlike problematiek binne die terapeutiese gesprek, soos gesien binne die narratiewe benadering (White en Epston 1990: 38-76, Sluzki 1992:227). O’Hanlon (1994:21) beskryf hierdie proses as “a linguistic separation of the problem from the personal identity of the patient”. Die waarde van eksternalisering is geleë in die feit dat dit nou makliker word om oor ’n bepaalde probleem te praat, vandaar die siening: “the person is never the problem, the problem is the problem” (O’Hanlon 1994:23). Probleme kan nou selfs name gegee word en daar kan op ’n bevrydende, objektiewe wyse daaroor gepraat word.

6.1.4 Reframing

Deur middel van hierdie tegniek word persone in wese teruggeneem na tonele uit die problematiese verlede, maar nou word nuwe betekenisse aan hierdie ou tonele verleen (Becvar en Becvar 1996:273-275, Capps 1990:165, Boer 1992:409). Die verledeverhaal word in wese geherinterpreteer. Nuwe stories word op dieselfde raamwerk van feite gekonstrueer (Müller 2000:73).

6.1.5 Vraagstelling

Al die voorafgaande metodes moet op die een of ander wyse gefasiliteer word. Hiervoor blyk vraagstelling die aangewese medium te wees. Volgens Freedman en Combs (1996:113) is die groot verskil tussen vraagstelling in die ouer (modernistiese) benaderings en dié binne die narratiewe benadering, nie om inligting te versamel nie, maar om ervaring te genereer (generate experience). Tomm (1987:167-183) praat in die verband van sogenaamde “refleksiewe” ondervraging. Hierdie tipe vrae is inderdaad daarop afgestem om die persoon in beraad oor die betekenis van hulle verhale te laat nadink. Hierdie betekenis kan selfs oor ’n lang periode in mense se gedagtes vorm aanneem: “There are some questions that linger in the minds of clients for weeks, months, and occasionally years, and continue to have effect” (Tomm 1988:14).

Freedman en Combs (1996:120-139) onderskei tussen verskillende tipes vrae, soos “deconstruction questions, opening space questions, preference questions, story development questions” en “meaning questions” om uiteindelik saam met die persoon in beraad by die konstruksie van ’n nuwe verhaal uit te kom.

6.1.6 Geneagramme

Hierdie is nog ’n effektiewe metode om die verhaal na vore te bring. Dit bestaan basies uit ’n grafiese voorstelling van die gesin van oorsprong en werp lig op die individu, sowel as die breër verhaal. Dit sluit myns insiens in ’n mate by die beginsel van eksternalisering aan, aangesien dit ruimte skep om verhale te vertel sonder om selfbewus te voel. Die fokus val op die proses om die geneagram te konstrueer en nie op die individu wat die inligting oordra nie. In dié proses vertel die persoon in beraad egter sy/haar verhaal en word sekere dominante temas miskien vir die eerste maal geverbaliseer (Kerr en Bowen 1989: 221-255, McGoldrick en Gerson 1995:1-38 ).

6.1.7 Skryfwerk

Die skryf van briewe is dikwels ook ’n nuttige metode binne die narratiewe benadering. Volgens White en Epston (1990:34-37) kan geskrewe verhale die persoon in beraad en die terapeut tot ’n ontdekking van die dieper betekenisse in mense se verhale bring. Skryfwerk oor die verloop van die terapeutiese proses kan ook ’n aanduiding word van groei wat reeds plaasgevind het. Dit is weereens ook ’n veilige manier om inligting te bekom aangesien dit nie die skrywer blootstel nie. Penn en Frankfurt (1994:218) beweer ook dat dit wat mense skryf, ’n interne dialoog verteenwoordig, en wanneer dit deur skryfwerk openbaar gemaak word, dien dit as katalisator vir verandering vir almal wat daardeur geraak word.

6.1.8 Bibliodrama

Hierdie hulpmiddel word aan die narratiewe benadering gekoppel deur praktiese teoloë soos Heitink (1998:169-170) wat die narratiewe benadering in sy pastorale terapie gebruik. Volgens Derksen en Andriessen (1985:50) het ’n bibliodrama ten doel om ’n noue verbinding tussen die geloofsverhaal en persoonlike lewensverhaal daar te stel: ”Het gaat er om dat ieder zich zoals hij of zij nú is op de eigen levensweg, situeert binne het geloofsverhaal.” Dit skep ruimte vir die belangrike versmelting van die verstaanshorisonne van die persoon in beraad, die Woord en die terapeut (Gerkin 1984:44).

6.1.9 Rituele

Mitchell (1989:68) herinner daaraan dat die gebruik van rituele binne kerklike tradisie deel was van die eeu oue handelinge van die kerk, maar in onbruik geraak het. Hy bepleit ’n herwaardering daarvan binne die pastorale situasie, aangesien dit bepaalde waardes by gelowiges kan versterk: ’‘Rituals in many cases symbolize a deeply felt reality, a truth about God, or self, or life” (Mitchell 1989:70). Müller (1993:1-13) sluit hierby aan as hy die terapeutiese waarde van rituele binne die pastoraat bespreek. Rituele kan sinvol aangewend word binne ’n verskeidenheid van pastorale situasies, onder andere krisissituasies, die herstel van verhouding en geloofsverdieping. Die pastor kan in ooreenstemming met die persoon in beraad se behoeftes rituele skep. Van die belangrike elemente vir die sinvolle gebruik van rituele is simboliek en kommunikasie.

6.1.10 Mikrokaarte

Hierdie benaming is in wese ’n versamelnaam vir die voorafgaande middele of vaardighede waardeur die terapeut poog om nuwe narratiewe tydens terapie na vore te bring (Bothma 2003:69). Voordat die terapeut die terapeutiese situasie binnegaan, sal hy/sy dus bepaalde strategieë voor oë stel waarmee ’n bepaalde narratief na vore gebring sou kon word. Daar word na hierdie beplande werkswyse as ’n mikrokaart verwys.

6.2 Unieke uitkomste en die konstruering van ’n alternatiewe verhaal as doel van die narratiewe benadering

Indien aanvaar word dat die narratiewe benadering mense wil help om vry te kom van die probleemdeurdrenkte, dominante verhale wat hulle lewens beïnvloed, sou die beginsel van unieke uitkomste (unique outcomes) en die konstruering van alternatiewe verhale streng gesproke as die doel van die narratiewe benadering beskou kan word. Die verhale van mense se probleme, siektes of vrese word vertel, hervertel, geskryf en herskryf totdat mense verby die knelpunte beweeg het waarin hulle vasgeval het. In hierdie proses vind daar ’n transformasie plaas waardeur die oorspronklike verhaal sy dominansie (beheer) verloor en dit nou ’n “nie-probleem” word. “Wanneer die dinamiese interaksie tussen hede en verlede plaasvind, spring daar ’n vonk oor na die toekoms en word nuwe alternatiewe visioene van die toekoms oopgesluit” (Van Wyk en Marais, 2005:19). Nou word beleef wat Anderson en Goolishian bedoel (1988:372) het met die stelling: “The therapeutic system is a problem-organizing, problem - dissolving system.”

Müller (2000:73) verwys na hierdie alternatiewe verhale as die verbeelde toekomsverhaal en sien daarin ook die doel van die Narratiewe benadering: ”Die verbeelding van ’n toekomsverhaal is ’n kragtige middel tot verandering in die hede. Daardeur kan mense weer gehelp word om motivering, opgewondenheid en doelgerigtheid te herwin” (Müller 2000:99).

7. DIE NARRATIEWE BENADERING IN DIE LIG VAN DIE AFGETREDE EGPAAR DEUR KANKER GEAFFEKTEER

Wanneer bo-vermelde strategieë teen die lig van die afgetrede egpaar met kanker beskou word, behoort dit duidelik te wees dat dit oor heelwat pastorale potensiaal beskik. Om dit as strategieë in die pastoraat aan te wend, sou beteken dat dit losgemaak word van die filosofiese wortels waardeur die narratiewe benadering onderlê word. Bezuidenhout (2005) het aan die hand gedoen dat die sentrale begrippe van die narratiewe benadering vir gebruik in ’n gereformeerde pastorale benadering gedekonstrueer behoort te word en dan weer gerekonstrueer behoort te word binne ’n diakoniologiese paradigma. Ons meen dat dieselfde uitkoms bereik kan word deur die kernbegrippe van die narratief as strategieë in die siekepastoraat aan te wend. So sou “not knowing” steeds kon help om die heuristiese funksie van die pastoraat te bemiddel. Dekonstruksie sou kon help om die geykte sosiale diskoerse rondom kanker in perspektief te kry. Eksternalisering kan daartoe bydra dat daar vrylik gesels kan word oor “die kanker” se vermeende mag en invloed binne die egpaar se goue jare. Inderdaad sou die pastor op kreatiewe wyse hierdie strategieë kan aanwend om die pastoraat te dien. Maar uiteindelik sou die Woord van God binne so ’n benadering op ’n onbevange wyse kan meespreek om unieke uitkomste te stimuleer en te verdig. So sou die pastorale proses nie net uitgelewer wees aan die sieke in beraad se geloofservaring nie- een van die groot leemtes van ’n konsekwente narratiewe benadering3 -- maar is die pastor vry om die Skrifwaarheid op die pastorale agenda te hou. Hoop binne uitsiglose situasies is immers nie geleë in die uitbouing van die sterk persoonlikheids-eienskappe waaroor individue beskik nie, maar in die beloftes van God soos vervat in die Skrif. In ’n volgende artikel word die pastoraal-narratiewe proses in meer besonderhede beskryf.

8. GEVOLGTREKKING

Die groot belangstelling wat die narratiewe benadering tot terapie gewek het, is begryplik. Dit het inderdaad ’n nuwe impetus aan die manier gegee waarop mense terapeuties begelei word. Wanneer die pastor egter getrou wil wees aan die filosofie (epistemologie) wat die narratiewe benadering onderlê, loop hy/sy die gevaar om die gesag van die Skrif in die pastoraat te negeer.

Hierdie dilemma behoort egter nie die narratiewe benadering onbruikbaar te maak vir die gereformeerde pastoraat nie. ’n Middeweg is geleë in ’n pastoraat wat kreatief met die strategieë uit hierdie benadering omgaan. In hierdie artikel is so ’n middeweg geëksploreer teen die agtergrond van die afgetrede egpaar wat deur kanker geaffekteer is. Kanker teen die agtergrond van die sogenaamde goue jare veroorsaak ’n anomalie wat ’n groot pastorale uitdaging meebring. Die goue jare kan vasval in die verdoemende sosiale diskoerse rondom kanker. Strategieë geassosieer met die narratiewe benadering, soos dekonstruksie, eksternalisering en ander, kan egter meewerk om unieke uitkomste aan die vasgeloopte verhaal te gee. In so ’n benadering kan unieke uitkomste in die lig van die Skrif ko-konstrueer word wat hoop kan bring as die goue jare deur kanker verduister word. Dit verminder die risiko van epistemologiese oorvleueling en werk daartoe mee dat die unieke aard van die gereformeerde pastoraat in takt bly.

BIBLIOGRAFIE

ADAM, A.K.M. (red) 2000. Handbook of postmodern biblical interpretation. Missouri: Chalice Press.

ALBERTS, A.S. 1993. Knowledge beats cancer. Pretoria: HAUM Tertiary.

ANDERSEN, W.T. 1997. The future of the self: Inventing the postmodern person: New York: Putman.

ANDERSON, H.D. 1995. Collaborative language systems: Toward a postmodern therapy. In: Mikesell,

R.H, Lustermann, D. en McDaniel, S. H. Integrating Family Therapy, 27-34. APA: Washington.

ANDERSON, H. D. EN GOOLISHIAN, H. 1988. Human systems as linguistic systems: Preliminary and evolving ideas about

the implications for clinical theory. Family Process, 27(4):371-393.

1992. The client is the expert. A not knowing approach to therapy. In: McNamee, S. en Gergen, K. Therapy as social construction, 24-37. London: SAGE Press.

BARRACLOUGH, J. 2000. Cancer and emotion (3rd ed). Chichester: John Wiley & Sons.

BECVAR, D.S. EN BECVAR, R.J. 1996. Family therapy: A systematic integration (3rd ed). Boston: Allyn and Bacon.

BEZUIDENHOUT, J.P.2005. Volwassewording as problematiek in pastorale konteks. Ongepubliseerde D.Th. –proefskrif, Bloemfontein:UV.

BEZUIDENHOUT, J.P. & JANSE VAN RENSBURG, J. 2006. ‘n Gereformeerd-narratiewe pastorale terapie. Acta Theologica 26(2):17-43.

BOER, C. 1992. Reframing depression: A systems perspective. Family Systems Medicine, 10 (4):405-411.

BOTHMA, J.D. 2003. Pastorale terapie met die MIV/VIGS geaffekteerde familie. ‘n Narratiewe benadering. Ongepubliseerde Ph.D - proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

BRITS, H.J. 2005. Metaforiese prediking aan die gevarieerde gehoor van die postmoderne eeu. NGTT, 46 (1-2): 69-86.

BRUNSDON, A.R. 2006. Pastoraat aan die afgetrede egpaar deur kanker geaffekteer. ’n Narratiewe benadering. Ongepubliseerde Ph.D –proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

CAPPS, D. 1990. Reframing: A new method in pastoral care. Minneapolis: Fortress Press.

COCKERHAM, W.C. 1997. This aging society (2nd ed). New Jersey: Prentice Hall.

DE JAGER, J.J. & MÜLLER, J.C. 2002. Dekonstruksie van tradisionele probleem-realiteite: ’n Narratief-pastorale perspektief. Hervormde Teologiese Studies, 58(3), 1221-1239.

DE KLERK, B.J. 2005. ’n Liturgie van aftrede. In die Skriflig. 39 (3):463-485.

DE KLERK, J.J. 1978. Herderkunde. Pretoria. NG Kerkboekhandel.

DE KLERK, B.J. & JANSE VAN RENSBURG, F. 2005. Preekgeboorte. ’n Handleiding vir gereformeerde eksegese en prediking.

Pretoria: V & R Drukkers.

DELFINO, M & DAY, M.E.2006. Cancer. We live and die by radiation. California: MoBeta Publishing.

DERKSEN, N. EN ANDRIESSEN, H. 1985. Bibliodrama en pastoraat: De schrift als weg tot dieper geloven. Den Haag: Voorhoeve.

DREYER, J.S. 1998. The reseacher and the researched: Methodological challenges for practical theology. Praktiese Teologie in SA 13(1): 14-27.

FREEDMAN, J EN COMBS, G. 1996. Narrative therapy. The social construction of preferred realities. Illinois: W.W. Norton.

GERKIN, C.V. 1984. The living human document. Nashville: Abingdon.

GREER, R.C. 2003. Mapping postmodernism. A survey of Christian options. Illinois: InterVarsity Press.

GROENEWALD, E.P. 1977. Die pastorale briewe. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

GROOTHUIS, D.G.2000. Truth decay. Defending Christianity against the challenges of postmodernism. Leicester: Intervarsity Press.

HARVEY, B. 2000. Anti-postmodernism. In: Adam, A.K.M. (red). Handbook of Postmodern Biblical Interpretation, 1 -7. Missouri: Chalice Press.

HEITINK, G. 1998. Pastorale zorg, theologie-differentiatie-praktijk. Kampen: Kok.

HEYNS, J.A. & JONKER, W.D. 1977. Op weg met die teologie. 2de uitgawe. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

HEYNS, L.M. & PIETERSE, H.J.C. 1990. A Primer in practical theology. Pretoria: Gnosis.

HILTNER, S. 1958. Preface to pastoral theology. Nashville: Abingdon Press.

JANSE VAN RENSBURG, J. 2000a. The paradigm shift. Pretoria: Van Schaik.

2000b. The subject of pastoral care: an epistemological discourse. Acta Theologica Supplementum 1:1-25.

2002. Die postmoderne mens aan wie die evangelie verkondig word. Praktiese Teologie in SA. 17(2):39-60.

2007. Voortsetting van die epistemologiese diskoers in die praktiese teologie: In gesprek met J-A van den Berg. Praktiese Teologie in SA 22(2): 61-80.

JONKER, H. 1983.Theologische praxis. problemen, peilingen en perspektieven bij kenterend getij. Nijkerk: Callenbach.

KERR, M.E. & BOWEN, M. 1988. Family evaluation: An approach based on Bowen theory. New York: Norton. KRÜGER, P.A.

1987. Habakuk. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

LOUW, D.J. 1993. Praktiese teologie - ’n Fenomenologiese stuiptrekking? Praktiese Teologie in SA, 8(2): 206-209.

1998. Pastoraat as vertolking en ontmoeting. (3e uitgawe). Kaapstad: Lux Verbi.

MCCLUSKEY, N.G. & BORGATTA, E.F. (reds).1981. Aging and retirement. California: SAGE Publications.

MCGOLDRICK, M. & GERSON, R. 1995. Genograms in family assessment. New York: Norton.

MILNER, J & O’BYRNE, P.2002. Brief counselling. Narratives and solutions. New York: Palgrave

MITCHELL, K.R. 1989. Ritual in pastoral care. The Journal of Pastoral Care. XLIII (1), 68-77.

MÜLLER, J. C. 1993. Die gebruik van rituele in die pastoraat. Praktiese Teologie in SA, 8 (1):1-13.

2000. Reis-geselskap: Die kuns van verhalende gesprek-voering. Wellington: Lux Verbi. BM.

O’HANLON, B. 1994. The third wave. Can a brief therapy open doors to transformation? The Family Networker, Nov/Dec, 19-29.

PARKER, S. 1982. Work and retirement. London: George Allen and Unwin.

PARRY, A. 1991. A Universe of stories. Familiy Process. 30:37-53.

PAYNE, M. 2000. Narrative therapy: An introduction for counsellors.London:SAGE Publications.

PENN, P. & FRANKFURT, M. 1994. Creating a participant text: Writing, multiple voices, narrative multiplicity. Family Process, 33:217-231.

PIETERSE, H.J.C.1993. Praktiese teologie as kommunikatiewe handelingsteorie. Pretoria: RGN Uitgewery.

2002. Prediking in ’n postmoderne lewensgevoel. Praktiese Teologie in SA. 17(1):75-101.

PIETERSEN, W.J. 1997. Kontemporêre verskuiwings in die sosiaalwetenskaplike en populêre konseptualisering van die self en die implikasies daarvan vir die pastorale terapie. Ongepubliseerde M.Th.-skripsie, Universiteit van die Oranje Vrystaat.

RICHARDSON, P. What is Cancer?. In: David, J. (red). Cancer Care, 1-12. London: Chapman and Hall.

ROSSOUW, P.J. 1986. Enkele terminologiese keuses in die gereformeerde diakoniologie. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, volume 1 & 2, 73-98.

1991. Die Diakoniologie - Teologiese Basisvrae. Tydskrif vir Christelike Wetenskap vol 3:120-133.

SENEKAL, D.P. 2006. Die funksionering van bybelse inhoude in ‘n narratief-pastorale gesprek. Praktiese Teologie in SA 21(2): 134-146.

SOUHAMI, R.L. & TOBIAS, J.1998. Cancer and its management. 3rd ed. Abington: Marston Book Services.

SLUZKI, C.E. 1992. Transformations: A blueprint for narrative changes in therapy. Family Process, 31:217-230.

STACEY, J.1996. Conquering heroes: The politics of cancer narratives. In: Duncker, P & Wilson, V (eds). Cancer through the eyes of ten women. London: Pandora.

TOMM, K. 1987. Interventive interviewing: Part II. Reflexive questioning as a means to enable self healing. Family Process, 26:167-183.

1988. Interventive interviewing: Part III. Intending to ask lineal, circular, strategic, or reflexive questions. Family Process, 27:1-15.

TRUTER, C.J. & KOTZE, D.J. 2005. Spirituality and health. Hervormde Teologiese Studies, Uitgawe 3, Sep: 973-984

VAN DER WESTHUIZEN, J. D. 2002. Dekonstruering van die verhoudings-wanbalans tussen adolessente en ouers: ’n Pastoraal narratiewe benadering. Ongepubliseerde Ph.D. -proefskrif, Universiteit van die Vrystaat. VAN DYK, A.

2001. HIV/AIDS care and counseling: A multidisciplinary approach (2nd ed). Cape Town: Pearson Education South Africa.

VAN WYK, C & MARAIS, F. 2005. Ore om God se alternatiewe verhaal te hoor. Kruisgewys, 5(3): 17-20.

WALKER, M.2003. German cancer therapies. New York: Twin Streams.

WENTWORTH, B.J. 1992. Pastorale sorg aan die kankerpasiënt. Ongepubliseerde MTh. -skripsie. Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

WHITE, J. 1982. The masks of melancholy. A Christian physician looks at depression and suicide. Illinois: InterVarsity Press.

WHITE, M. EN EPSTON, D. 1990. Narrative means to therapeutic ends. New York: W.W. Norton & Company.

WINFIELD, R.2004. Change of life. Executive wellness. Professional management review, 65, Jun.

KEY WORDS

Narrative therapy, Postmodernism, Diaconological epistemology, Reformed pastorate, Cancer, Retired couples

TREFWOORDE

Narratiewe terapie, Postmodernisme, Diakoniologiese epistemologie, Gereformeerde poimeniek, Kanker, Afgetrede egpare

Kontakbesonderhede

A.R. Brunsdon

NG Gemeente Lichtenburg-Oos

Posbus 10049

2740 LICHTENBURG

Tel : 018-6323400 of 082-5837018

E-pos: arbrunsdon@gmail.com

Prof J Janse van Rensburg

Fakulteit Teologie

Universiteit van die Vrystaat

Posbus 339

9300 BLOEMFONTEIN

Tel 082 784 9046

E-pos: jjvanr@yebo.co.za

1 Dr. A.R. Brunsdon, Doktorale student, Departement Praktiese Teologie, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. Hierdie artikel is gebasseer op die proefskrif getiteld: “Pastoraat aan die afgetrede egpaar deur kanker geaffekteer. ‘n Narratiewe benadering.” (2006) gedeeltelik (hoofstuk 1 & 2).

2 Prof. J. Janse van Rensburg, Departementshoof: Departement Praktiese Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

3 Vergelyk Truter en Kotze (2005:981) se voorbeeld van “God’s voice in a conversation with a heart patient.” In hierdie narratiewe benadering word, getrou aan die onderliggende filosofie van die narratief, uitsluitlik gesteun op die pasiënt se ervaring van God. Die terapeut gee geen direktief uit die Woord nie ten einde nie “pro- or prescriptive” te wees nie. Dit is juis waarvan ‘n Skrifgefundeerde pastoraat wil wegbeg.