Die NG Kerkorde – 1962: Die Dordtse Kerkorde aangepas by die eise van die dag?
ABSTRACT
The Church Order of the Dutch Reformed Church in 1962: The Church Order of Dordt adapted to the demands of the time?
A thorough church historical investigation of the validity of this title with the question mark omitted, proofs the correctness of it. Through its history the Dutch Reformed Church (DRC) maintained an affinity for the Church Order of Dordt (DCO). Some of the typical principles of the DCO are also visible in the first church order of the General Synod of the DRC in 1962. It must be said, however, that in some instances DRC-customs spoke louder than the demands of the principles of Dordt or of the time. The influence of Dordt through the order of the Reformed Churches of the Netherlands which, as a modern replica of the DCO, was used as a basis for the new order of the DRC in 1962, is visible in every section of the latter.
‘N PROBLEEM
Die beskrywing van die destydse NG Kerkorde in die titel van hierdie artikel kom van dr JD Vorster, voorsitter van die Kommissie van Aktuarii wat verantwoordelik was vir die konsep hiervan op pad na die eerste algemene sinode van die NG Kerk in 1962.
Wat Vorster betref, was die voorgestelde kerkorde “die Dordtse Kerkorde (DKO), aangepas by die eise van ons dag.” ’n Orde wat nie ’n nuwe stelsel van kerkregering in die NG Kerk wou inlei nie, maar die bestaande gereformeerde stelsel wou bevestig en moderniseer (1960:13).
Op sy kenmerkende styl (vgl by Langner 2007:87) vervolg Vorster:
“Die kerkorde is nie onverwags en soos ’n vondeling-kindjie voor die deur van die kerk neergelê nie. Dis ’n natuurlike vrug, ’n logiese gevolg van wat voorafgegaan het. Dis ’n sluitsteen … nie ’n verandering van stelsel … nie … maar ’n verwagte klimaks in die kerkregtelike ontwikkeling” (1960:17).
Hierteenoor kom ’n gesoute gereformeerde kerkregtelike, prof Bouke Spoelstra, tot die gevolgtrekking dat gereformeerde kerkregtelike beginsels soos beliggaam in die DKO vir die eerste keer in 1862 in Suid-Afrika formele en materiële “regsgeldigheid” verkry het. Dit sou gebeur het met die aanvaarding van die DKO soos aangepas by landsomstandighede deur die eerste sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) op Reddersburg in dieselfde jaar (1963:140-141;1966:40).
As Spoelstra reg is, is daar by Vorster ’n wanopvatting oor die “Dordtsheid” in en van die “kerkregtelike ontwikkeling” in die NG Kerk. Immers, vir Vorster was Kerkorde-1962 ’n eietydse, verdere vormgewing van dieselfde kerkordelike tradisie: die van Dordtrecht-1619. ’n Tradisie wat voor 1962 al in die kerkregtelike geskiedenis of ontwikkeling van die NG Kerk sigbaar was. Spoelstra word by die bekendmaking van hierdie perspektief op NG Kerkorde-1962 in 1959 deur ’n mede-gereformeerde, prof S du Toit, vooruitgeloop. Volgens Du Toit sal Kerkorde-1962 in die NG Kerk ’n breuk met De Mist uit 1804 en die Nederlandse Algemene Reglement van 1816 se kollegialisme en hulle diepgaande invloed op die NG Kerk beteken. Vir hom is die konsep van NG Kerkorde-1962 nie ’n “logiese gevolg” van wat voorafgegaan het nie. Daarom sal hy nie verbaas wees as sommige die aanvaarding daarvan deur die Algemene Sinode van 1962 as radikaal nuut en ’n “verdoppering” van die NG Kerk vertolk nie (aangehaal by Kleynhans 1973:151).
Die vraag wat dus gevra kan/moet word, is: wás Kerkorde-1962 die DKO aangepas by die eise van die tyd? Was die aanvaarding van die Dordtse kerkordelike tradisie in die NG Kerk by hierdie geleentheid ’n nuutjie? Indien nie, hoe sterk was hierdie tradisie voor 1962 in die NG Kerk? Aspekte van laasgenoemde sedert 1652 is reeds deeglik ondersoek1, sodat die klem in hierdie stuk op die hooflyne en die jare wat 1962 onmiddellik voorafgegaan het, val. Die fokus bly die antwoord op die vraag in die titel: was NG Kerkorde-1962 die DKO aangepas by die eise van die dag? Vir hierdie antwoord word daar na die kerklike konteks en inhoud van NG Kerkorde-1962 gekyk.
SPORE VAN DORDT IN DIE KERKORDELIKE ONTWIKKELING VAN NG KERK TOT EINDE 1800’s
Vorster en Kleynhans toon oortuigend aan dat die DKO die “vigerende” kerkorde in die NG Kerk was tot en met die in werkingstelling van die Kerkorde van De Mist in 1804. Beide gee voorbeelde van kerklike gebeure en uitsprake om dit te staaf (Vorster 1956:85vv; Kleynhans 1973:105vv).
Wat Vorster betref, was die DKO “suiwer teoreties en juridies gesien” die geldige kerkorde vir die “Kaapse Kerk”. Tensy die kerk anders besluit of die owerheid as sy beskermheer hom ’n ander orde oplê, moes die NG Kerk hom daaraan hou. Anders as in Indië het die kerk en die owerheid aan die Kaap so ’n moontlikheid egter nie oorweeg nie (1956:85). Opvallend genoeg bly kritici van Vorster en Kleynhans in gebreke om immanente kritiek op hierdie standpunt – deur beide gedokumenteer met afdoende bronverwysings – te lewer. Hulle konsentreer veel eerder op hiërargiese en kollegialistiese tendense wat na 1804 ook uit te wys is (Spoelstra 1966:37-38).
Die gebruik van die Kerkorde van De Mist van 1804 en die Algemene Reglement van 1824 soos geskoei op sy Nederlandse eweknie van 1816, het hierdie affiniteit vir die DKO in die NG Kerk nie gedoof nie. Kleynhans wys op voorbeelde van Erastianisme, kollegalisme en independentisme in die Kerkorde van De Mist (1973:110-114), maar óók op verskille tussen die Reglement van 1816 en 1824. Verskille wat hy toeskryf aan ’n gereformeerde invloed teenoor die afwykende tendense by laasgenoemde (1973:123-130).
Volgens Vorster is die gehegtheid van die NG Kerk aan die DKO onderstreep deur die versoek van die praeses en die skriba namens die eerste Sinode in 1824 aan die Kaapse goewerneur dat die DKO, naas die aanvaarde Algemene Reglement van 1824, ook gepubliseer word. Vir die Sinode was die DKO ’n “fundamenteel stuk van alle de Regulatiën onzer Kerk waaraan elke onzer gehouden is”. Staatsoorheersing het ’n ander orde in die kerk teweeggebring, maar met hierdie gebaar wou die NG Kerk sy wil illustreer om in sy kerkregering volgens die beginsels van die DKO “te lewe” (1960:13). Volgens Vorster wou die Sinode van 1824 met hierdie versoek sê dat die DKO nie net ’n historiese stuk is nie, maar ’n “fundamentele stuk met bindende krag vir die regering van die kerk”. (1951:125).
Wat die dekades of jare onmiddellik voor 1962 betref, wys ’n hele aantal gebeure in die NG Kerk opnuut op hierdie affiniteit vir die DKO. Gebeure wat die tyd vir ’n gereformeerd georiënteerde kerkregtelike reformasie – wat by die bestaande kerkregtelike situasie aansluit – in die NG Kerk ryp gemaak het.
SPORE VAN DORDT IN DIE KERKREGTELIKE GESKIEDENIS VAN DIE NG KERK KORT VOOR 1962
Die eerste is die oplewing van ’n Nederlands- en Abraham Kuypergeoriënteerde Neo-Calvinisme in die NG Kerk. Hierdie herlewing het sedert die 1930’s gekom en in die 1960’s sy hoogtepunt bereik. ’n Herlewing waaruit ’n natuurlike affiniteit vir die DKO en die gebeure by die Sinode van Dordrecht in 1618-1619 sou spruit. Drie van die 5 lede van die Kommissie van Aktuarii wat die konsep van NG Kerkorde-1962 moes gereed kry, was byvoorbeeld medewerkers van die Suid-Afrikaanse Federasie van Calvinistiese Studente in die 1930’s (Strauss 1997:94).
Die tweede gebeurtenis hang waarskynlik hiermee saam. In 1937 besluit die Sinode van die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat (NGK in die OVS) om, naas sy gereelde hersiene Wette en Bepalinge, ook ’n “Konsep van die Kerkorde van Dordrecht” as “informasie” vir die NGK in die OVS te publiseer. ’n Saak wat hy by die destydse Raad van Gefedereerde NG Kerke aanhangig wou maak ten einde ’n kerkorde, “in ooreenstemming met Skrif en Belydenis”, vir hierdie kerke te verkry (NGK in die OVS 1937a:191). ’n Konsep waarop die Sinode van 1934 besluit (NGK in die OVS 1934:99) en waaraan ’n kommissie die voorafgaande drie jaar gewerk het.
Saam met die konsep word die Wette en Bepalinge van die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat gepubliseer. In artikel 1 hiervan word bepaal dat hierdie kerk hom grond op die Heilige Skrif as Woord van God en dat hy die leer wat hy in ooreenstemming met die Woord bely, uitdruk in die Drie Formuliere van Eenheid soos aanvaar deur die Sinode van Dordrecht in 1618-1619 (NGK in die OVS 1937b:1). Hiermee verklaar artikel 1 die woorde “Skrif en belydenis” in die konsep én vertoon dit merkwaardige ooreenkomste met artikel 1 van die NG Kerkorde-1962. So staan dit as kerkorde-artikels in dieselfde tradisie. Hoewel die Drie Formuliere van Eenheid deur die Dordtse Sinode van 1618-1619 aanvaar is, word dieselfde omskrywende artikel nie in die DKO aangetref nie (Pont 1981:176-186).
Om dit nog interessanter te maak, neem die Vrystaatse Sinode sy besluit oor hierdie (Afrikaanse en aangepasde) konsep van Dordt sonder enige bespreking om daardeur sy solidariteit met die Dordtse affiniteit in die NG Kerk te illustreer. Die Raad van Kerke se reaksie in 1939 is nie bemoedigend nie, maar ook nie ontmoedigend nie: die Vrystaatse besluit word “vir kennisgewing aangeneem” (Raad van Kerke 1939:29). Verder as dit ontwikkel sake voorlopig nie.
In die derde gebeurtenis verander die Kaapse NG Kerk (Ned Geref Kerk in Suid-Afrika) sy Wette en Bepalinge in 1957 na die meer gereformeerde Bepalinge en Reglemente: ’n boekie wat die DKO in vorm en indeling volg en volgens die Kaapse Aktuarius, JD Vorster, die weg baan vir NG Kerkorde-1962 om hom op dieselfde lees te skoei (Vorster 1960:13). Die Kaapse NG Kerk breek dus met die term “kerkwet” wat Nederlands Hervormde en kollegialistiese verenigingstaal is (Hooijer, C 1846) en in die navolgende NG Kerk na 1824 vanuit die Skotse Presbiteriaanse hoek versterk word (Strauss 1995a:427,432-433).
’n Vierde gebeurtenis wat agtergrond aan die ontstaan, uitleg en bewoording van NG Kerkorde-1962 verskaf, is die openingsrede van die uittredende voorsitter van die Raad van Kerke, ds PSZ Coetzee, by die vergadering van die Raad in Mei 1959 in Bloemfontein. Wat Coetzee se opmerkings so merkwaardig maak, is dat dit nie van ’n erkende kerkregspesialis afkomstig is nie, maar ’n ingeligte wat skynbaar ’n bietjie verder weg staan maar tog uit dieselfde beginsels put. Iemand wat bes moontlik ’n goeie gemiddelde predikant in die aanvaarding van ’n nuwe kerkorde verteenwoordig.
Coetzee verklaar uitdruklik dat die NG Kerk “onverbiddellik” vashou aan die Woord en die Belydenisskrifte. Die NG Kerk is geen kerk waarin vrysinnigheid voorgestaan of geduld word nie. As ander gereformeerdes – soos persone uit die GKSA in die laat 1950’s – met die NG Kerk fout vind, bly hy daarvan oortuig dat hulle geen alleenreg op ’n “patroon” en sekere terminologie het waarin ander hulle moet navolg nie. So ’n houding is eenvoudig nie gereformeerd nie (Raad van Kerke 1959:131).
Kritiek teen die uitdrukking “Moderator Synodi” wys hy af omdat hierdie posisie nie pouslik is nie, maar – soos by die “Doppers” – die van ’n deputaat. Die “waardigheid” van ’n Moderator eindig saam met die betrokke vergadering terwyl hy nooit alleen nie, maar in oorleg met sy mede-moderatuurslede moet handel.
“As ander mense nou praat van ’n Sinodale deputaat en ons wil praat van ’n Moderator Synodi as ons deputaat, waarom mag ons nie? Ons eien ons die reg in ons eie kerk toe om ons eie Terminologie daarop na te hou ….”
Die kritiek teen die kommissiestelsel in die NG Kerk wys hy af met die opmerking dat dit aan dieselfde vereistes as deputate moet voldoen. Selfs die omskrywing van die Sinodale Kommissie wat deur sommige as hiërargies beskou word, voldoen aan die omskrywings van gereformeerde kerkregtelikes soos Voetius en Bouwman (Raad van Kerke 1959:132; vgl die Konsep NG Kerkorde-1962 artikel 46 by Raad van Kerke 1959:142; Strauss 1995b:556).
Dit is duidelik waarop Coetzee afstuur: gereformeerd beskou lê die eenheid van kerke nie in ’n eendersheid in alles nie, maar in dieselfde beginsels of uitgangspunte. Daarom moet hulle vir mekaar ruimte skep as hulle dieselfde beginsels verskillend wil toepas én verskillende woorde of benaminge vir hierdie toepassings wil gebruik. Die gereformeerdheid van ’n bepaalde kerklike pos of figuur lê nie soseer in sy benaming nie, maar in die konteks waarbinne en die wyse waarop hy aangewend word. Konteks en wyse pas Coetzee self toe op die Moderator Synodi, terwyl die NG Kerkorde-1962 byvoorbeeld met sy verwysing na die kerkregeervergaderings as die kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode ’n eie terminologiese weg inslaan (Raad van Kerke 1959:138). Die name “ring” en “sinode” was destyds al ingeburgerde NG Kerkterminologie (vgl Strauss 1995a:430).
DIE KONSEP ORIËNTEER DOELBEWUS OP DORDT
Die “spore van Dordt” in die geskiedenis van die kerkregtelike ontwikkeling van die NG Kerk hang saam met ’n ander saak: sy rypheid om Kerkorde-1962 te aanvaar. ’n Rype klimaat wat meegebring het dat die konsep sonder baie wysigings of groot weerstand in 1962 deur die konvensie wat die eerste Algemene Sinode voorafgegaan het, goedgekeur is (NGK 1962:225-232). Twee jaar voor dit kon Vorster reeds daarop wys dat die “kerke” (gefedereerde NG Kerke) die konsep “met weinig kritiek verwelkom”. As dit ’n vreemde stelsel aan die NG Kerk wou opdring, sou dit ’n storm van protes ontlok het. “Allerweë is dit egter verwelkom en met entoesiasme aanvaar” (1960:13).
Vanuit sy Dordtse affiniteit het die NG Kerk gekies vir ’n oriëntering op Dordt sonder om ’n slaafse navolger van die DKO te word. Twee faktore het hierin beslissend meegewerk: die eis dat ’n gereformeerde kerkorde eietyds is (“aangepas by die eise van die dag”) en die eie kerkordelike geskiedenis en vormgewing van die NG Kerk.
Teen hierdie agtergrond is die konsep doelbewus gebaseer op die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN) van 1959 wat as ’n eietydse replika van die DKO beskou is (Coertzen 1989:26vv). Dit het tot gevolg gehad dat die hoofstukindeling – soos in die destydse Kaapse Bepalinge en Reglemente – en sekere formulerings van NG Kerkorde-1962 Dordts was, maar dat ’n eietydse én NG-klem ook sigbaar geword het (Van der Wattt 1973:158). Juis omdat NG Kerkorde-1962 nie ’n presiese navolger van die DKO was nie en bogenoemde twee sake saam beslis het, was daar by sommige die mening dat dié kerkorde “nog meer gereformeerd kon gewees het” (Vorster 1960:13). Verskille oor die status van ’n moderatuur na afloop van die sinode was een van dié punte van verskil (NGK 1962:231).
Opgesom het hierdie benadering waarskynlik daartoe gelei dat daar by die Kommissie van Aktuarii en die konvensie ’n groter moontlikheid tot kerkordelike reformasie aanwesig was as wanneer hulle net sou poog om die DKO vir hulle eie tyd te herformuleer. ’n Moontlikheid waarin die “eise van die tyd” beslis ook verreken is en gereformeerdwees nie tradisionalisties met net een vormgewing daarvan, naamlik die DKO, vereenselwig is nie. Gereformeerdwees is – waarskynlik – meer in die regte beginsel as in die DKO as ’n bepaalde gestaltegewing daarvan in ’n bepaalde tyd en situasie, gesoek. Daarby is sekere gereformeerd-kerkregtelike “taboes” – uit die oogpunt van kritici uit die GKSA – weer bekyk en nie by voorbaat verdoem nie. ’n Benadering wat reeds by Coetzee in sy openingsrede by die sitting van 1959 van die Raad van Kerke sigbaar is.
Die vraag is nou: is NG Kerkorde-1962 kragtens sy inhoud inderwaarheid die DKO aangepas by die eise van die tyd? Was die opstellers van die NG Kerkorde-1962, gegewe hulle Sitz im Leben of kerklike omstandighede, daartoe in staat om eietyds vorm te gee aan die Dordtse tradisie? Die aktualiteit van hierdie vraag word natuurlik verhoog deur die omstrede kerkordelike geskiedenis van die NG Kerk. Vir ’n vergelyking tussen die DKO en NG Kerkorde-1962 word op die hoofsake van elke hoofstuk in die kerkorde gekonsentreer.
NG KERKORDE-1962 EN DKO: INLEIDING
Die DKO gee net ’n kort inleiding waarin hy op die noodsaak van die dienste (ampte), vergaderings, opsig oor die leer, sakramente en seremonies en die tug vir die goeie orde in die gemeente wys (Pont 1981:176). Die spektrum van kerklike werksaamhede soos deur die Here ingestel, moet dus inherent ordelik wees én die orde van die kerk bou. NG Kerkorde-1962 gaan egter veel verder. Hierin word die NG Kerk as gegrond op die Bybel as heilige en onfeilbare Woord van God beskryf. Daarby word gesê dat die NG Kerk sy leer soos uitgedruk in die Drie Formuliere van Eenheid wat by die Dordtse Sinode van 1618-1619 aanvaar is, in “ooreenstemming” met die Woord van God bely.
Dit is opmerklik dat NG Kerkorde-1962 kies vir ’n bepaalde beskouing oor die Bybel en die belydenisse. Eersgenoemde is die objektiewe Woord van God wat daarin nie van menslike erkenning afhanklik is nie. Laasgenoemde is in hulle formulering van die leer in ooreenstemming met die Woord. Die belydenisse dra gesag in dit wat hulle as geloof bely, omdat dit ooreenstem met die Woord van die Here. ’n Gesag wat nie noodwendig in elke lettertjie of verwysing setel nie (Strauss 2006:660). Dit is hieruit duidelik dat die opstellers van NG Kerkorde-1962 oordeel dat eietydse omstandighede duidelikheid oor hierdie twee sake noodsaak. ’n Behoefte wat reeds in die Wette en Bepalinge van die NGK in die OVS in 1937 aangevoel is en inhoudelik vanuit die Dordtse tradisie benader word (Strauss 2006:662).
Steeds in sy inleiding, maar as deel van sy artikel 2, grond NG Kerkorde-1962 die orde van die kerk op 1 Korintiërs 14 vers 40: een van twee Skrifgedeeltes waarna dit verwys. Wat NG Kerkorde-1962 uitspel, is dat dit bepalinge bevat sodat die kerk sy taak en roeping ooreenkomstig “Skrif en belydenis” – dié begrippe stem weer ooreen met die van die NGK in die OVS – kan uitleef. Bepalinge wat, soos by Dordt, handel oor die ampte, vergaderings ensovoorts van die kerk. Laasgenoemde is ’n sinnetjie wat uit die DKO kom, maar ook nuwe woorde soos “werksaamhede” en “betrekkinge na buite” bevat.
Die “bepalinge” gekoppel aan die “taak en roeping” van die NG Kerk, dui op die plek van NG Kerkorde-1962 in die lewe van dié kerk. Dit bevestig die uitgangspunt dat ’n gereformeerde kerkorde bloot die ordelike kanale verskaf waardeur die “Woord en belydenis” hulle bepalende, vrye loop in die kerk neem (NKG 1964:2). Daarom dat so ’n orde nie deurspek word met Bybelverwysings nie. Dit gaan om ’n verantwoordbare orde – nie die Bybel self nie, maar Bybels verantwoord – wat die vrye vloei van die Bybel in die kerk moontlik maak.
NG KERKORDE- 1962 EN DKO: DIE AMPTE
Rondom die kerklike ampte of dienste is daar ooreenkomste én verskille tussen die DKO en NG Kerkorde-1962. Die verskille setel reeds in die benaminge: die DKO praat van “diensten” en NG Kerkorde-1962 van “ampte”. NG Kerkorde- 1962 val die DKO egter hierin by as dit die taak van die ampte as die “dienswerk van die kerk” in opdrag van Christus beskryf. Dit is asof PSZ Coetzee weer oor die skouer loer: al is die woordjie “diens” meer paslik, word “amp”, mét sy siviele gelaaidheid omdat dit gekoppel word aan iets van ’n persoonlike status (Botha 1991:91-92), binne die regte konteks geplaas (DKO art 2-28 by Pont 1981:176-179; NGK 1964:2-4). Dit is ook bekend dat die NG Kerk die ongereformeerde begrip “status” tot in 1994 aan die amptelike posisie of bevoegdheid van proponent en predikant gekoppel het. By die Algemene Sinode van daardie jaar is dit egter sonder groot teenstand verander. Die motivering was dat “ampstatus” nie – dit was die persepsie – aan ’n persoon kleef as iets wat hom in ’n ander geestelike stand plaas en met blywende eer en mag beklee nie. Die aanvaarbare ampsbevoegdheid dui op sy erkende “regte en verpligtinge” in gemeente- en kerkverband. Bedank hy uit die diens van of die gemeente- of die kerkverband is sy bevoegdheid daarmee heen (NGK 1994:505).
Die “amp” as diens is ’n erkende begrip in groot dele van die huidige gereformeerde wêreld (vgl by Ned Herv Kerk 1970; Van Itterzon 1974; Engelhardt en Hofman 2001:25vv.).
As inleiding tot die dienste volstaan die DKO met ’n aanduiding van vier spesifieke dienste: dienaars van die Woord, ouderlinge, diakens en “doctoren” in die Teologie. Op hierdie punt kom NG Kerkorde-1962 met ’n gereformeerde verryking: dit erken die eerste drie ampte mét die byvoeging dat hulle gelykwaardig is, maar in opdrag en werk onderskei word. Hierby voeg hy die klassieke, anti-hiërargiese, reformatoriese “canon aureus” of goue reël dat geen ampsdraer oor ’n ander mag heerskappy voer nie omdat “Christus die enigste Hoof, Koning en Meester van sy kerk is”. ’n Reël wat deur die Christelik-Gereformeerde ekklesioloog, J Hovius, as ’n beslissende punt in die Reformasie bestempel word (1972:14,17) en in die DKO nie by die dienste nie, maar eers aan die einde, gerig op die gemeentes en die dienste, by artikel 84 voorkom. Die doktore-amp word waarskynlik deur NG Kerkorde-1962 gelaat omdat dit nie in die NG Kerk erken word nie. NG Kerkorde- 1962 se byvoeging kom dus nie direk uit die DKO nie, maar is beslis ook nie anti-Dordts nie.
Waarin die DKO en NG Kerkorde-1962 rondom die ampte verskil, is ondermeer die kwessie van “singuliere gawes” wat ’n persoon kan help om sonder die vereiste studie bedienaar van die Woord te word; persone uit ander kerke wat eers ’n proeftyd moet deurgaan voordat hulle met “groote zorgvuldigheid” in die Gereformeerde Kerke tot die bediening toegelaat word; bedienaars wat nie ’n beroep na ’n ander gemeente kan aanvaar voordat hulle nie van hulle eie breë kerkraad (ouderlinge en diakens) daartoe toestemming verkry het nie; en die verpligte onderhouding van teologiese studente deur gemeentes. Die uitsondering van persone met singuliere gawes in DKO artikel 8 is waarskynlik die verskil met die grootste kloof. Dit is bekend dat sommige figure in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis onder hierdie artikel vir die amptelike bediening in die GKSA gekwalifiseer het2. ’n Maatreël wat in ons moderne tye met sy groter minagting van kerklike gesag nie meer so aantreklik voorkom nie. Agter geeneen van die ander bepalinge lê daar ’n onaanvaarbare beginsel nie.
Hoewel daar kleinere verskille op hierdie punte is, adem NG Kerkorde-1962 heelwat van die DKO oor die ampte.
Die anti-hiërgiese stelling is reformatories. Ooreenkomste kom voor in sake soos om geen ampspligte te verrig sonder wettige beroeping en bevestiging nie; dat kerkrade as plig aanvaar die lewensonderhoud van die bedienaar; dat ’n bedienaar die bediening vir ’n ander “lewenstaat” slegs om gewigtige redes verruil (NG Kerkorde-1962 handhaaf die DKO-woord “gewigtig”); pensioene vir emeriti; geen amptelike optrede van ’n dominee in ’n ander gemeente sonder die toestemming van daardie kerkraad nie (NG Kerkorde-1962 se bekende artikel 10 wat sedertdien nader omskryf is); die klem op die bediening van die Woord as predikantstaak wat insluit die handhawing van die (deur die Woordgeleide) tug saam met – in die geval van die DKO – net die ouderlinge; toelating tot die bediening deur middel van die kerkverband, hoewel die DKO en NG Kerkorde-1962 dit aan verskillende instansies toewys; die ouderlinge wat opsig oor die gemeente hou deur ondermeer gereelde huisbesoek; die diakens wat barmhartigheidsdiens verrig; en die diakens en ouderlinge wat net vir twee jaar gekies word om die ontwikkeling van ampshiërargie te probeer voorkom.
Hoewel daar verskille oor die dienste of ampte tussen die DKO en NG Kerkorde-1962 voorkom, wys dieselfde gereformeerde “gene” by beide. Laasgenoemde se “aangepas by die eise van die dag” is egter meermale die situasie soos dit op daardie stadium ontwikkel het in of die NG Kerk of die GKN.
NG KERKORDE-1962 EN DIE DKO: VERGADERINGS
Ten opsigte van kerkvergaderings as regeervergaderings het NG Kerkorde-1962 en die DKO vele gereformeerde punte in gemeen, maar ook verskille. Verskille wat veral draai om die samestelling van meerdere vergaderings en bepalings rondom die Algemene Sinode van die NG Kerk wat na ’n sekere historiese aanloop gevorm is en so min as moontlik aan die voorafgaande situasie wou verander (vgl DKO artikel 29-52, Pont 1981:179-182; NGK 1964:5-10).
Die situasie van die NG Kerk vertoon teen 1957-1962 insidentele ooreenkomste met die staatkundige situasie in Suid-Afrika. So word die Unie van Suid-Afrika in Mei 1961 ’n republiek sonder veel wysigings aan die grens- en taakomskrywings van die provinsies. In die NG Kerk vervang die Algemene Sinode die Federale Raad met “provinsiale” sinodes wat na die Loedolffsaak van 1862 die betrokke staatkundige grense aanvaar het en in samestelling en opdrag dieselfde bly. ’n Situasie waarin die republikeinse kabinet die ou Unie-kabinet kontinueer, terwyl ’n breë moderatuur in die NG Kerk in die vooruitsig gestel word. Met ’n Volksraad wat volgens sommige ooreenkomste met die Algemene Sinode vertoon. ’n Algemene Sinode waarna “provinsiale” sinodes gelykop afvaardig omdat laasgenoemde se gelykwaardigheid in artikels 36 en 38 van NG Kerkorde-1962 erken word – byna soos met die erkenning en omskrywing van die status en doel van die provinsiale hoofstede en rade in die staat. Boonop sou Suid-Afrika se Goewerneur-Generaal in Britse Ryksverband, adv CR Swart, die nuwe staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika word. Byna soos in die NG Kerk waarin dr AJ van der Merwe van die NG Kerk Kaapstad wat in 1961 voorsitter van die Federale Raad van NG Kerke was, dit in 1962 van die eerste Algemene Sinode sou word (Van der Watt 1987:10-17).
Kerkregtelike onkunde by baie geïnteresseerdes in die gang van sake in die NG Kerk het hulle verhinder om in te sien dat elke kerkvergadering ’n eie terrein of opdrag het en nie vanaf die kerkraad – soos by die staat met sy munisipaliteite, provinsiale rade en ’n Volksraad – “oploop” na die algemene sinode as hoogste gesag nie. Dat kerkvergaderings, soos die ampte, gelykwaardig is hoewel hulle verskil in opdrag. ’n Gelykwaardigheid omdat elkeen op sy eie kerkordelik aangewese en beperkte terrein met ’n van Christus-verleende gesag optree: die kerkraad in die geestelike versorging van die gemeente, die ring met kerkvisitasie by die gemeentes in sy gebied, die sinode gerig op die gesamentlike werksaamhede van die gemeentes in sy gebied en die Algemene Sinode wat konsentreer op die sake wat al die NGK-gemeentes raak (NGK 1964:5-10, artikel 18-47).
Hierdie ooreenkomste met die politiek is dalk geforseerd, nie-bedoeld en niksseggend. Tog laat dit die moontlikheid van meer as ’n emosionele band of ooreenkoms tussen kerk en staat omdat beide ’n lang gekoesterde verenigingsideaal (’n Algemene Sinode en een SA Republiek) wou bereik, sonder om lidmate of burgers te onstel, te ontwrig of te vervreem. ’n Moontlikheid wat versterk is deur die feit dat selfstandige “provinsiale” sinodes met politieke grense hulle eie etos ontwikkel het en dit – hoewel stilswyend – moeilik sou laat vaar. ’n Verdere negatiewe effek van die Loedolffsaak wat nog nie verreken is nie (vgl by Van der Watt 1973).
Soos die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1961 het NG Kerkorde-1962 – veral ten opsigte van die vier kerkvergaderings wat hy in artikel 18 as kerkraad, ring, sinode en algemene sinode omskryf het – soveel van die oue na die nuwe oorgebring. Kerkraad, ring en sinode (met laasgenoemde tot in 1962 “selfstandig”) sou dieselfde bly, met ’n nuwe “selfstandige” algemene sinode wat bykom. Daarom sou die grense tussen die terreine of take van die sinodes en die algemene sinode tot in later jare ’n probleem bly. Die onderskeid tussen kerkraad, ring en sinode in die Dordtse tradisie – selfs tussen partikuliere en generale sinodes – was uitgeklaar en omskryf, maar die historiese aanloop tot by sy eerste Algemene Sinode in 1962, het van laasgenoemde in die NG Kerk ’n onopgelosde probleem gemaak (NGK 2002:359vv). ’n Probleem wat versterk is met die kerkregtelike wanopvatting dat ’n eie “selfstandige” sinode, soos die parlement in ’n eie staat, die hoogste “gesag” in die kerk is en dat “magsdeling” hier die dun end van die wig is. ’n Wanopvatting wat ook in die huidige gesprekke oor groter eenheid in die NG Kerkfamilie sy kop uitsteek (Strauss 2007:101vv).
Die DKO en NG Kerkorde-1962 deel die volgende ten opsigte van kerkvergaderings. Beide erken vier kerkvergaderings (in die DKO: kerkraad, klassikale vergadering of klassis, partikuliere en generale of nasionale sinode; in NG Kerkorde-1962: kerkraad, ring, sinode en algemene sinode) wat alleen kerklike sake op kerklike wyse hanteer. Beide bepaal dat meerdere vergaderings slegs daardie sake hanteer wat mindere vergaderings nie kon afhandel nie of wat die kerke wat by die betrokke meerdere vergadering betrek is, gemeenskaplik raak. NG Kerkorde-1962 voeg hierby “of wat daarheen verwys is deur mindere vergaderinge3. Vir beide is die gesag van die klassis oor die kerkraad dieselfde as die van die partikuliere sinode oor die klassis of die generale oor die partikuliere sinode.
Die DKO en NG Kerkorde-1962 het ten opsigte van kerkvergaderings ook duidelike verskille. Die DKO kom met sy bekende artikel 31 wat bepaal dat ’n besluit van ’n meerdere vergadering op ’n beroep of appèl4 as “vast en bondig” beskou word, tensy dit met die Woord of ’n besluit van die generale sinode in stryd is. Hierteenoor kom NG Kerkorde-1962 met die nie-rewolusionêre en meer ordegeoriënteerde bepaling 235 dat die besluite van kerkvergaderings bindend, maar ook “vatbaar” vir beroep na ’n meerdere vergadering is. Die DKO bepaal dat die kerkraad net uit die predikante en ouderlinge van die gemeente bestaan, terwyl NG Kerkorde-1962, op voetspoor van ’n gebruik in die eerste gemeente, Kaapstad, beide ouderlinge en diakens daarby betrek. Kaapstad het by sy ontstaan in 1665 waarskynlik op grond van die DKO artikel 38 ook sy diaken by die kerkraad betrek omdat dit te klein was (Van der Watt 1976:8 wys op die eerste kerkraad wat bestaan het uit 1 bedienaar, 1 ouderling en 1 diaken). Die DKO gebruik ’n trapsgewyse manier van afvaardiging na meerdere vergaderings, terwyl NG Kerkorde as gevolg van sy eie tradisie elke predikant van ’n gemeente by die ring en sinode betrek. As kerkverband – soos dit gereformeerd beskou word – ’n verband van gemeentes is, word die getal afgevaardigdes na meerdere vergaderings nie deur die aantal predikante in gemeentes nie, maar deur die aantal gemeentes as strukturele gelykes, bepaal6. Nog ’n noemenswaardige verskil tussen die DKO en NG Kerkorde-1962 is die feit dat die omvang van vier of vyf klassisse en nie staatkundige provinsiale grense nie, die reikwydte van partikuliere sinodes bepaal. Kerklike en nie staatkundige oorwegings nie, het hierin die deurslag gegee. Wat die taak van die ring of klassis by kerkvisitasie betref, het die DKO persoonlike kerkvisitasie in plaas van die “vormgodsdiens” wat na 1962 vir ’n tyd in die NG Kerk aan die orde van die dag was, bepaal. Persoonlike visitasie wat tans weer in die NG Kerk in swang is7.
Op een fundamentele punt sou NG Kerkorde-1962 nog ’n byvoeging as verryking op die DKO aanbring. Komende van Kerkorde-1959 van die GKN (Nauta 1971:121-122) sou dit die ou Dordtse bepaling van “die gesag (“het zeggen”) van die klassis oor die kerkraad is dieselfde …” in artikel 20.2 aanvul met ’n Christologiese artikel 20.1: “Hierdie vergaderinge het, elkeen na sy eie aard, ’n kerklike gesag deur Christus aan hulle verleen.” Daarmee toon die gesagsvraag in gereformeerde kerke ’n ontwikkeling wat Christokraties én anti-hiërargies is (Strauss 1997:91).
Soos Coetzee in 1959 voorspel het, word die kommissiestruktuur in die NG Kerk van ’n deputaatskonteks voorsien. Dit geld elke kommissie van ’n kerkvergadering, maar in besonder ook die Breë Moderatuur (NGK 1964:8,10).
NG KERKORDE-1962 EN DKO: KERKLIKE WERKSAAMHEDE EN TUG
Sommige bepalinge in die DKO (DKO artikel 53-70; Pont 1981:182-184) sou met die jare in die NGK vestig as definitiewe, verantwoorde gebruike en in NG Kerkorde-1962 bevestig word. So moet die bediening van die doop en nagmaal in die erediens plaasvind (NGK 1964:10) “wanneer Gods Woords gepredikt wordt”. Gereformeerd beskou is sakramente immers ook tekens en seëls van die waarheid van die Boodskap en onvolledig sonder die Woord as een van die elemente daarvan. Die manier waarop die nagmaal bedien word, word aan elke gemeente oorgelaat op voorwaarde dat die uitwendige seremonies sal plaasvind soos in die Woord voorgeskryf en die formulier na die preek gelees word. Nagmaal moet sover moontlik elke twee maande in die gemeentes gevier word. Dit kan ook op Goeie Vrydag (“Paaschdag”), Pinkstersondag en Kersdag gedoen word.
Naas Sondag, word “Kerstdag, Paschen en Pinksteren” en die dag van die besnydenis van Christus en van sy hemelvaart as kerklike feesdae beskou. Hierin hou die DKO aan min of meer dieselfde oorwegings as die NG Kerk vas, hoewel NG Kerkorde-1962 hom nie daaroor uitlaat nie. Soos in die NG Kerk kan die bedienaars van die Woord die landsowerhede ook versoek om openbare vas- en biddae in te stel. En dan, ’n saak wat NG Kerkorde-1962 tot die tradisionele 12 per jaar in die NG Kerk beperk (NGK 1964:10), verpligte Kategismuspreke elke Sondag by die tweede diens, sodat hierdie belydenisskrif jaarliks deurgewerk kan word.
Die DKO handhaaf soos NG Kerkorde-1962 die kerklike tug naas die burgerlike straf van die staat. Soos NG Kerkorde-1962 wil die DKO met heimlike sondes handel volgens Matteus 18. “Openbare … grove” sondes, NG Kerkorde-1962 noem dit ”openbare, ergerlike sondes”, kan lei tot sensuur en die ban of afsnyding. By die tug oor ampsdraers betrek die DKO die kerkverband – in NG Kerkorde-1962 is dit die ring (NGK 1964:13) – om ’n meer onpartydige hantering van sake te verkry, terwyl die klassis moet oordeel oor die afsetting van ’n bedienaar uit die diens: in NG Kerkorde-1962 word dit die Sinode op aanbeveling van die ring (DKO artikel 71-81, Pont 1981:184-185; NGK 1964:12-14). Soos die DKO gee NG Kerorde-1962 ook ’n lysie van werklik ergerlike sondes wat die draer daarvan na buite “eerloos” maak en kerklike herstel moeilik maak.
NG Kerkorde gaan baie meer uitvoering as DKO in op die betrekkinge van die kerk na buite. Waar die DKO in artikel 28 in een artikel by die ampte maatreëls gerig op die erkenning van en wedersydse samewerking met die staat het, wy NG Kerkorde-1962 in artikel 65 vyf bepalings aan die verhouding van die kerk tot die staat. Artikels wat, anders as die DKO wat op die Nederlandse Geloofsbelydenis oriënteer, duidelike trekke van ’n Neo-Calvinistiese wysgerige en sosiologiese aanpak in die twintigste eeu in Nederland ten opsigte van die verhouding kerk-staat, vertoon. ’n Benadering wat hom voortsit by die bepaling van die verhouding van die kerk met die maatskappy (artikel 66 en 67), vrye verenigings (artikel 68) en “hulpdienste” (artikel 69). Hiernaas is daar by die bepaling van die verhouding met die staat in 1962 ook duidelike blyke dat dit “ons” regering is vir wie ons nie in die verleentheid wil dompel of dinge – te midde van toenemende kritiek teen apartheid in die wêreld – moeiliker wil maak nie (Strauss 2001:336).
In ’n meer uitvoerige 20 eeuse gereformeerde benadering van ekumene in sy artikel 70, loop NG Kerkorde-1962 op dieselfde prinsipiële pad as die DKO. In sy artikel 85 verklaar Dordt dat die gereformeerde kerke in Nederland buitelandse kerke wat ander gebruike in middelmatige sake het, nie sal verwerp nie. ’n Benadering wat aansluit by die grade-aanpak van artikel 70 van NG Kerkorde-1962.
SLOT: NG KERKORDE-1962 DIE DKO BY DIE EISE VAN DIE DAG?
Dat JD Vorster se beskrywing van NG Kerkorde-1962 deur hierdie betoog in breë trekke in die gelyk gestel word, val nie te betwyfel nie. Wat sy DKO-“gene” betref: dit was in die teks duidelik waarneembaar. Maar, die kerkregtelike geskiedenis van die NG Kerk, meer as identifiseerbare behoeftes van die eie tyd, sou ook meespreek, terwyl ’n Neo-Calvinistiese sosiologie – en nie kerklike taal nie – ook sterk deurkom by die betrekking van die kerk na buite.
Om op te som: JD Vorster se ideaal van ’n kerkorde wat op Dordt bou en verder werk, is tot ’n groot mate bewaarheid. Die resultaat – NG Kerkorde-1962 – is ’n bevestiging van sy “fyn kerkregtelike aanvoeling” wat deur sy verkiesing tot aktuaris van die eerste Algemene Sinode in 1962 na verdienste “beloon” is (Langner 2007:88).
1 Ek wys slegs op Vorster, JD 1956. Die kerkregtelike ontwikkeling van die Kaapse Kerk onder die Kompanjie 1652-1792. Potchefstroom: Pro Rege.; Kleynhans, EPJ 1973. Die kerkregtelike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1795-1962. Sl:sn; Spoelstra, B 1963. Die “Doppers” in Suid-Afrika 1760-1899. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
2 Spoelstra, B 1963:224-226 vir ds SD Venter van Bethulie en 1963:276 vir pres SJP Kruger.
3 Hoewel dit waarskynlik nie die bedoeling was nie, kan so ‘n bepaling mindere vergaderings verlei om moeilike sake eenvoudig aan te gee na die volgende meerdere vergadering en hulleself so te ontmondig deur roepingsversaking.
4 NG Kerkorde-1962 gebruik hier – soos die DKO – ook die woord “beroep”, terwyl die Afrikaanse woord “appél” op daardie stadium reeds waarskynlik meer algemeen in die daaglikse spraakgebruik was.
5 Vir die kerkskeurende gevolge en kerklike wanorde wat op artikel 31 DKO kan volg, kyk Bos 1980:80vv. Die vraag is ook: hoekom die ou anti-hiërargiese gereformeerde beginsel dat die gelowiges saam of in vergadering oor die “waarheid” besluit, in hierdie geval verontagsaam om dit vir enkelinge moontlik te maak om dit effektief te dwarsboom? NG Kerkorde-1962 was hiermee meer gereformeerd as Dordt.
6 Op hierdie punt is die DKO meer gereformeerd as NG Kerkorde-1962. Kerkvergaderings is immers nie deel van ‘n dominokrasie nie, maar van ‘n Christokrasie, vlg Strauss 1989:9-13.
7 Vgl Celliers, A 1995. Kerkvisitasie in die NG Kerk in Noord-Kaapland. Sn:sl vir ‘n motivering van kerkvisitasie as ‘n pastorale kerklike handeling wat juis daarom persoonlik van aard moet wees.