H A J Kruger
Universiteit van Durban-Westville

Jesaja 61:1-3(4-9)10-11: ’n “identikit” van die Dienaar van die Here? Deel I

ABSTRACT

Isaiah 61:1-3(4-9)10-11: an “identikit” of the Servant of the Lord? Part I

On the basis of the historical-critical approach the book of Isaiah has been divided into three different parts. This resulted in the demarcation of three literary units (Is 1-39; 40- 55, and 56-66). Each unit was ascribed to a different author (called Proto-, Deutero- and Trito-Isaiah), and to three different periods of time, the Assyrian (± the 8th century BC), Babylonian (± first part of the 6th century BC), and Persian periods (± middle-last part of the 6th century BC). As a result scholarly opinion has ruled out the possibility that Isaiah 61:1-3(4-9)10-11 (or only some of these texts) might be given the status of a so-called Servant Song along with the other group of “genuine” Servant Songs, which are restricted to Deutero-Isaiah (Is 42:1-4; 49:1-6; 50:4-9, and 52:13-53:12, cf 51:16; the number of texts may vary from passage to passage, depending on scholars’ opinions). Or in other words, the division of the latter part of Isaiah into two literary units (40-55 and 56-66) provided the main argument for the exclusion of chapter 61 from the category of Servant Songs. This article argues that Isaiah 61 should be integrated with the other four Songs, bringing the number of the Songs of the Servant to five. Part I includes a brief survey of relevant studies on the matter and prepares the way for an attempt to understand Isaiah 61 as a Song of the Servant. In Part II (see following article) arguments to support the case include a profile of the figure in chapter 61 in relation to the one described in the first four Songs. The concept of what may be called “democratisation” is applied as interpretative key to reinforce this view. The literary structure of Isaiah 56-66 also forms part of the reasoning. These constructs are used to determine the status of the present chapter in relation to the other four Servant Songs.

A. INLEIDING EN KORT OORSIG VAN DIE PROBLEEM

Volgens Wilson (1998:212-225) domineer veral twee hooftemas die huidige studie van die profete, naamlik die profete as outeurs en/of redakteurs en as verklaarders van die Skrifte. Uit Gordon (1995:3-605) se oorsig van die huidige stand van studies oor die profete, blyk dit dat die figuur van die “dienaar” in die boek van Jesaja ook steeds die aandag trek (Blenkinsopp 1995:392-412). Die onderwerp van hierdie studie handel oor die strategiese posisie van Jesaja 61:1 en die volgende verse én die figuur wat daarin beskryf word ten opsigte van die eerste vier Dienaar- passasies.

Die toepassing van die histories-kritiese benadering op die profetiese boeke van die Ou Testament het onder meer daartoe gelei dat Bybelverklaarders heelwat klem gelê het op teologiese, literêre en historiese ooreenkomste, maar veral ook verskille tussen verskillende gedeeltes van Jesaja (Harrison 1977:774-780). Van hierdie studies het die verskille wat in die boek opgemerk is op die spits gedryf en dit het daartoe gelei dat die geskrif onder die naam van Jesaja in drie literêre eenhede verdeel is (hfst 1-39; 40-55, en 56-66). Aan elkeen van hierdie gedeeltes is ’n naam gegee wat aan die Jesaja-naam verwant is, te wete, respektiewelik, Proto-Jesaja (of Eerste Jesaja), Deutero-Jesaja (Tweede Jesaja) en Trito-Jesaja (Derde Jesaja). Dié gedeeltes is ook aan drie verskillende historiese periodes verbind, naamlik respektiewelik die Assiriese (± 8ste eeu vC), die Babiloniese (± eerste gedeelte van die 6de eeu vC) en die Persiese periodes (± middel-laaste gedeelte van die 6de eeu vC) (Dillard & Longman 1994:267-283; Beuken 1989a:8-10). Hierdie visie het talle nuwe perspektiewe op die boek geopen. In die verlede is argumente vír en téén die verdeling van die boek druk bespreek (bv Harrison 1977:764-800). Tans word daar egter nie veel aandag hieraan geskenk nie (Alter & Kermode 1989:165).

Dit beteken egter nie dat al die vrae rondom hierdie saak bevredigend beantwoord is nie. Probleme wat byvoorbeeld steeds die drieledige historiese indeling van Jesaja in ’n mate ondermyn, hou onder meer verband met die verwysing van tekste in Jesaja na die periode voor, tydens en ná die Babiloniese ballingskap maar wat onreëlmatig, dit wil sê, binne en buite die drieledige literêre afbakening voorkom (Harrison 1977:777-782). Net so ondermyn die gebruik van die benaming “Babel” ’n waterdigte afbakening van die boek in die Assiriese, Babiloniese en Persiese tydperke. In hierdie verband het Erlandsson (1970:64-65, 102-1-5, 164-166) aangedui dat Jesaja onder meer selfs die land Assirië (asook ’n reeks ander entiteite, insluitende ’n verwysing na die hele wêreld) onder die begrip “Babel” as sambreelterm ingekapsel het. Almal en alles wat hulle teen die Here, sy volk en sy stad (Sion) opstel en verset, word gesamentlik met dié eienaam beskryf (Gileadi 1994:147-151; 162-164). Dat Babel as ’n trefwoord (wagwoord) in Jesaja fungeer en dus meer inhou as die historiese moondheid van die periode wat gewoonlik met Jesaja 40-55 verbind word (die land Babel = Babilonië, Galdeërland, Sesak, Sinar, Leb-Kamai), blyk ook byvoorbeeld uit Jesaja 11:11 (vgl Jes 13:1), waar die Masoretiese teks die woord “Sinar” bevat (vgl Gen 10:10; 11:1), terwyl die Septuaginta-teks die naam “Babel” gebruik. Dieselfde verskil kom ook in Sagaria 5:11 voor (Mitchell 1999:25). Babel fungeer dus blykbaar as ’n kodewoord.

In dié ambivalente situasie het sommige Bybelverklaarders weer begin klem lê op die eenheid van die boek (kyk die bespreking by Prinsloo 1999:770). Dieselfde bogenoemde drie kategorieë word aangewend om die eenheid van die boek te beklemtoon, sonder om die verskille wat voorheen uitgewys is te ignoreer. Die benadering om die boek met die oog op die eenheid daarvan te lees, word gebaseer op die feit dat dit in die finale vorm as een geheel aan die leser gebied word en nie as afsonderlike gedeeltes nie, dus die sogenaamde kanoniese benadering (Childs 1979:27-106, 311-338 en talle opvolgartikels deur ander outeurs; maar vgl Gileadi 1994:2-43).

Vir die huidige studie is dit belangrik om kennis te neem van die moontlikheid dat die boek van Jesaja ook nie slegs op grond van die aangeduide historiese periodes verdeel kan word nie. Sekere literêre strukture wat elkeen op sy eie wyse die totale profesie insluit, domineer ook die boek. Volgens sommige is hierdie moontlikheid tot op hede deur tradisie-historiese en vormkritiese benaderings onderskat (vgl Childs 1979:311-338). Studies het aangetoon dat sekere literêre patrone waarvolgens die boek gestruktureer is uit die Ou Nabye Oosterse literatuurskat stam (Gileadi 1982:173, vn 3; vgl Kruger 1984:153-154). Op hierdie basis en in navolging van die voorstel van Brownlee (1964:247-259), het Gileadi (1982:172-206) aangetoon dat die hele boek van Jesaja verdeel is in twee gelyke gedeeltes, elk met sewe pare onderafdelings wat deurlopend spieëlbeelde van mekaar vorm. Hierby is ’n drievoudige narratiewe plan (“knoop”) geïntegreer, naamlik probleme tuis, verbanning en gelukkige tuiskoms; ’n skema wat byvoorbeeld ooreenkomste met die Egiptiese verhaal van Sinuhe vertoon (Pritchard 1969:18-22). Hierdie drieledige strukturering korrespondeer dus met die verdeling van die boek as Proto-, Deutero- en Trito-Jesaja. ’n Derde struktuur bestaan uit die viervoudige opeenvolgende temas van afval (Jes 1-9), oordeel (Jes 10-34), herstel (Jes 35-59) en verlossing (Jes 60-66). Hierdie skema hou verband met ’n Kanaänitiese mitologiese verhaal wat vier komponente bevat, naamlik bedreiging, stryd, oorwinning en feesviering, maar wat in Jesaja omgewerk is met ’n ander doel voor oë (Gileadi 1982:175). Vierdens word die profesie in die algemeen deur verbondsvervloekings (Jes 1-39) en verbondseëninge (Jes 40-66) beheer, ’n patroon wat op sy beurt korrespondeer met respektiewelik die tema van chaos (Jes 1-39) en skepping (Jes 40-66). Ten slotte is laasgenoemde met twee ander strukture verbind wat bestaan uit ’n breë struktuur met as inhoud verlossing uit tydelike (historiese) gevaar en ’n interne struktuur wat handel oor verlossing van sonde. Die betekenis van hierdie strukture kry ’n besondere profiel deur die funksie van twee groepe histories-eskatologiese figure wat daarin na vore tree en in konflik met mekaar verkeer (’n Dawidiese koning/die Dienaar van die Here teenoor die koning van Babel, die “Tiran”, en ander figure). Ander entiteite, soos die groot moondhede van die tyd (Assirië, Babilonië, Persië) wat Israel (Sion) bedreig, ondersteun hierdie voorstellings. Gileadi het aangetoon dat hierdie komplekse en intrinsieke karakter van die boek berus op intertekstuele verwysings. Dié benadering stel nuwe uitdagings aan enige ontleding van Jesaja en ondersteun terselfdertyd op indirekte wyse die eenheid van die boek. Tans beweeg sommige outeurs dus effens weg van ’n streng historiese benadering van die boek en neem ’n literêre visie as vertrekpunt sonder om al bogenoemde relevante argumente van meet af aan te oorweeg en te beoordeel (Alter & Kermode 1989:166-183; Hill & Walton 1991:319-326; Ryken & Longman III 1993:310-323; Smith 1995; Oswalt 1998).

Die fokus verskuif nou na die hoofsaak van die bespreking, naamlik ’n sekere aspek van die Dienaar van die Here-passasies. Omtrent 50 jaar gelede het North (1956) en De Leeuw (1956) verskeie probleme in verband met die betrokke passasies nagegaan, maar hulle werk bied nog steeds ’n goeie oorsig van al die relevante argumente. Redelik omvattende bundels met studies wat handel oor die Dienaar van die Here is later onder redaksie van Grosheide gepubliseer (Ou Testament [1978a] en Nuwe Testament [1978b]). Hoe dit ook al sy, Bybelverklaarders het lankal opgemerk dat sekere passasies in Jesaja 40-66 (’n) geheimenisvolle persoon/persone op treffende wyse beskryf (kyk Watts 1987:116). Hierdie passasies, waarvan die omvang gedebatteer word, sluit in: Jesaja 42:1-4; 49:1-6; 50:4-9; 52:13-53:12, en 61:1-3(4-9)10-11 (of net sommige van hierdie tekste). Blocher (1975:21) is van mening dat Jesaja 51:16 ’n fragment van ’n Dienaar- passasie vorm. Outeurs het egter ook verskillend op hierdie afbakening van die passasies gereageer (Childs 2001:323). Sommige verklaarders het bogenoemde eerste vier passasies as “egte” Dienaar van die Here-passasies beskou, maar die soortgelyke gedeelte wat in Jesaja 61:1-11 of ’n gedeelte daarvan opgeteken is, ten spyte van sterk ooreenkomste tussen laasgenoemde hoofstuk en eersgenoemde vier passasies, van die eersgenoemde elitegroep uitgesluit. ’n Tweede groep het in reaksie Jesaja 61 (of ’n gedeelte daarvan) as ’n egte Dienaar-passasie verdedig. ’n Derde groep het ooreenkomste tussen die eerste vier passasies en Jesaja 61 aangeteken, sonder om tot die slotsom te kom dat laasgenoemde passasie van die Dienaar van die Here spreek. Van die voorstanders van hierdie benadering beskou Jesaja 61 as ’n eerste interpretasie van Jesaja 40-55 (kyk De Leeuw 1956:5; Beuken 1989b:411). Volgens Childs (2001:502-503) is die mees verteenwoordigende standpunt waarskynlik die opvatting dat Jesaja 61 handel oor die roeping van Trito-Jesaja wat hom met Deutero-Jesaja vereenselwig het. Self wil hy egter nie dié figuur te gou met die Dienaar van Jesaja 40-55 vereenselwig óf die passasie as die roeping van Trito-Jesaja verstaan nie. Vir Koole (1995:261, 263) lyk die figuur van Jesaja 61 slegs na die Dienaar. Dit wil dus voorkom of die standpunte rondom die vraag of Jesaja 61 handel oor die Dienaar van die Here al dan nie in ’n sin oor die afgelope dekades min of meer dieselfde gebly het, met slegs enkele nuwe nuanses wat deur outeurs aangeteken is (kyk Kruger 1984:38 vir standpunte van ouer navorsers en meer resent bv Ekblad 1999:17-290; Childs 2001:502-503).

Studies oor die boek van Jesaja in die algemeen en die Dienaar-figuur in besonder lewer egter steeds publikasies op. Daar het egter ’n sywaartse verskuiwing plaasgevind wat die studie van die betrokke passasies betref. Tans handel ondersoeke oor aspekte van individuele Dienaar-passasies (kyk Van Ruiten & Vervenne 1997) en in die algemeen gesproke nie oor al die passasies en/of die moontlikheid dat Jesaja 61 wel van die Dienaar spreek op ’n manier wat aan die eerste vier passasies verwant is en wat dus hierdie hoofstuk met die eerste vier passasies integreer nie. Die naaste wat outeurs aan hierdie oorweging kom, kan waargeneem word in ondersoeke wat konsentreer op die “dienaars” waarna Trito-Jesaja verwys (Beuken 1989a:15-17; Blenkinsopp

1995:392-412). Om ’n studie in verband met die dienaars slegs tot Trito-Jesaja te beperk, word egter ondermyn deur die waarneming dat verwysings na die “dienaars” alreeds in Deutero-Jesaja voorkom (vgl Jes 54:17). Sommige beskryf die figuur in Jesaja 61 as ’n herout, ’n figuur wat moontlik deur Trito-Jesaja met die Dienaar vereenselwig word (sien Beuken 1989b:411-442, veral 418). Outeurs weerhou hulle egter steeds daarvan om die figuur van Jesaja 61 eksplisiet as die Dienaar te tipeer in dieselfde sin as die eerste vier passasies (Childs 2001:503; Koole 1995:259, 261, 263, 283; Smith 1995:22-25). In sommige gevalle waar Jesaja 61 aan die orde kom, word die onderhawige probleem stilswyend verbygegaan (Brueggemann 1998:212-215). In ander gevalle word Jesaja 61 sonder teoretiese besinning in terme van die Dienaar op Jesus Christus toegepas (Goulder 2000:66-74).

’n Redelike benadering vir die verstaan van die Dienaar van die Here-passasies behoort met die volgende rekening te hou. Kenmerke wat die figuur openbaar soos dit in meer as een van die passasies voorkom, kan as boustene aanvaar word om die figuur te identifiseer. Om een deurlopende kenmerk van die figuur in ál die passasies te probeer terugvind, sal egter ’n vereiste daarstel wat nie haalbaar is nie, ook nie in die eerste vier passasies in hulle onderlinge samehang nie. Om sekere verskille tussen die passasies te gebruik om een of meer van die betrokke vyf passasies as ’n egte Dienaar van die Here-passasie uit te skakel, soos dit dikwels in die verlede met betrekking tot Jesaja 61 gebeur het, lyk ook onaanvaarbaar. Dit sal die eksegeet loon om die betrokke passasies binne die kader van die totale boodskap van Jesaja en veral hoofstukke 40-66 te probeer verstaan. Die samestelling en inhoud van die boek sal uiteraard die agtergrond vir so ’n studie vorm.

Wat die literêre benadering van Jesaja betref, moet afgesien van wat alreeds hier bo gestel is, verdere aandag aan die opvatting van Gileadi (1994, vgl 1982:171-207) gegee word. Hierdie outeur is van oordeel dat die teks in Jesaja (’n) verlosser-figuur/-figure voorstel wat in minstens nege verskillende gestaltes optree en ’n tema vorm wat dwarsdeur die boek loop. Op grond van ander Ou-Testamentiese boeke wat in twee literêre eenhede verdeel is (bv Eseg, Jos, Rig, Dan), het Gileadi (vgl hier bo) in navolging van Brownlee (1964:247-259) tot die gevolgtrekking gekom dat die hele boek van Jesaja in twee gelyke dele van sewe pare elk verdeel is (Gileadi 1994:35). Vir die huidige doel is dit belangrik dat Jesaja 9-12 volgens hom enersyds fokus op die rol van ’n toekomstige Dawidiese koning gebaseer op die regskape funksies en kenmerke van Dawidiese konings van die verlede, naamlik (Dawid), Salomo en Hiskia, sowel as ander Bybelse helde (Abraham, Moses, Josua en Gideon), en dat in die spieëlbeeldgedeelte van hoofstukke 9-12, naamlik hoofstukke 41:1-46:13b, drie ander maar verwante gestaltes na vore tree, te wete ’n regverdige krygsman, die Persiese heerser Kores en die Dienaar van die Here. Ook laasgenoemde drie figure hou wat hulle kenmerke en funksies betref, verband met Bybelse antesedente, naamlik Abraham, Moses en Dawid (in die tweede eenheid word Josua en Gideon deur Kores vervang (Gileadi 1994:98, 125, 140). In albei eenhede tree die genoemde figure as agente vir die Here op om die goddeloses te straf en die gelowiges te verlos. Al die figure komplementeer mekaar wat betref hulle kenmerke en take. Ten spyte van die eksiliese konteks van baie van die materiaal, verkeer die verlossingsrol van die Dawidiese koning in die eerste eenheid in al die wesenlike aspekte daarvan in balans met die rol van die figure in die tweede eenheid. Gewoonlik word hierdie gestaltes by name genoem, maar soms word hulle slegs met metaforiese pseudonieme aangedui. In die volgende literêre eenheid van sy indeling van die boek, naamlik Jesaja 13-23//46:13c-47:15 (Gileadi 1994:87-171) en wat hy as die Dienaar-Tiran-parallel aandui (d i respektiewelik die Dawidiese koning en die koning van Babel), wys hy onder meer daarop dat al drie en twintig (23) verse van Jesaja 14:1-23 (vgl 47:1-4; 52:1-2) in parallelle styl en in dieselfde volgorde presies die teenoorgestelde gedagtes hanteer as Jesaja 52:13-53:12 (Gileadi 1994:164-167). In die daaropvolgende parallelle eenhede (Jes 24-27//48-54 (Gileadi 1994:173-213) vind hy die teologiese basis vir die Here se verlossing van sy volk, soos dit na vore kom in die voorafgaande gedeeltes. Die parallelle posisie van opponerende partye, naamlik die koning van Babel en die koning van Sion, word in hierdie gedeeltes versprei oor respektiewelik Jesaja 13-23//46:13c-47:15 en 24-27//52:13-53:12 (Gileadi 1994:195). In hoofstukke 24-27 fungeer die verlosser-figuur onder metaforiese pseudonieme, naamlik die hand van die Here (25:10; 26:11) en sy geregtigheid (24:16; 26:2, 7, 9-10; Gileadi 1994:179). Dit is egter die Here self wat verlos (25:9; 26:1-4; Gileadi 1994:193).

Om ’n beter begrip van Gileadi se hantering of rangskikking van die materiaal te kry kan sommige van die verwysings na hierdie verlosser-figure moontlik soos volg gerangskik word:

Tipologiese rolle van Bybelfigure in Jesaja opgeneem

Eerste eenheid afdeling III Jesaja 9-12

Abraham
Moses
Josua/Gideon

Dawid
Salomo
Hiskia



(Israel)



Één toekomstige Dawidiese Koning

Egiptiese heersers (farao)
Mesopotamiese heersers

Metaforiese pseudonieme

Hand vaandel lig “regskapenheid”

Tweede eenheid afdeling III Jesaja 41:1-46:13b

Abraham

die Regverdige Krygsman,

Moses

(Israel)

Kores,

die Dienaar

Dawid

die Dienaar

van die Here

Kores

van die Here

Die diagramme skep die indruk dat die verskillende figure op ’n eenvoudige basis in Jesaja fungeer, maar in werklikheid bestaan daar ’n intrinsieke en komplekse wisselwerking en oorvleueling tussen die name en pseudonieme soos hulle in die tekste voorkom en wat mekaar op onverwagse wyse afwissel. So neem die Kores-figuur sekere kenmerke van die ou Bybelse figure oor, maar in ander gevalle verloor hy van sy eie kenmerke en dra dit aan ander verlosser-figure oor (Gileadi 1994:117). Dit behoort egter duidelik te wees dat al die rolle van Bybelfigure in die eerste literêre eenheid in één toekomstige Dawidiese Koning konvergeer, en in die tweede in die één Dienaar-figuur.

Gileadi (1994:190-212) is van mening dat al die verlossingsdade van die Here in die Dienaar- passasie van Jesaja 52:13-53:12 saamgebundel word en die hoogtepunt daarvan vorm. In dié passasie onderskei hy tussen die Dienaar en die Here self. Volgens hom handel hoofstuk 53:1-10 oor die Here as die lydende Dienaar en die gedeeltes van die passasie vóór en ná daardie tekste (52:13-15 en 53:11-12) oor die Dienaar. Hy besluit dat die Here volgens hierdie tekste sélf vir die sonde van sy volk sterf, maar dat die offer van die Dienaar teëgehou of verhoed word en hy dus nie sterf nie. Hierdie en ander standpunte is natuurlik debatteerbaar, maar hy is van mening dat daar op hierdie wyse ’n brug tussen die Joodse en Christelike opvattings ten opsigte van die Dienaar geslaan kan word.

Ek keer nou na die hoofprobleem terug. Voorstanders van die onderskeid tussen Jesaja 56-66 en hoofstukke 40-55 kon skynbaar nie daarin slaag om al die stemme te werf in ’n poging om op goeie eksegetiese gronde aan te dui waarop die unieke karakter van die Dienaar van die Here- passasies geskoei moes word nie, behalwe enkele verskille tussen die teksgedeeltes in Jesaja 42, 49, 50, 52/53 wat tot die sogenaamde “egte” Dienaar van die Here-passasies gereken is en hoofstuk 61 wat van dié elitegroep uitgesluit is. Voorstanders van die opvatting dat Jesaja 61 as ’n Dienaar van die Here-passasie kwalifiseer, en waarby inbegrepe is die behoud van die eenheid van die boek, het slegs ’n klein minderheid stemme getrek. Dit blyk dat diegene wat die kenmerke van die Dienaar van die Here-passasies wou vasstel, gewoon ’n lys van onderlinge ooreenkomste tussen die passasies binne die eersgenoemde groep opgestel het en slegs of veral verskille tussen hierdie passasies en hoofstuk 61 uitgewys het. Die indruk word ook gelaat dat die onderlinge verskille tussen die (vier) Dienaar van die Here-passasies in die eersgenoemde groep grootliks geïgnoreer en aan die ooreenkomste ondergeskik gestel is.

In reaksie op hierdie benadering behoort dit egter duidelik te wees dat die argumente waarvolgens hoofstuk 61 as Dienaar van die Here-passasie van die eerste vier Dienaar van die Here-passasies uitgesluit is, eintlik gebaseer was op ’n ander oorweging, naamlik die geponeerde afskeiding tussen die twee gedeeltes van Jesaja, naamlik hoofstukke 40-55 en 56-66, omdat die eerste vier van die betrokke passasies deel vorm van Jesaja 40-55 en Jesaja 61 deel is van hoofstukke 56-66. Hierdie toedrag van sake het ongesê ’n sekere dilemma veroorsaak omdat indien sekere ooreenkomste tussen die eerste vier Dienaar van die Here-passasies en hoofstuk 61 wel gevind en hoofstuk 61 as ’n “egte” Dienaar van die Here-passasie erken sou word, die breër basis van die argumente waarop die afskeiding van hoofstukke 40-55 en 56-66 berus, moontlik in gedrang sou kom. Maar dit daar gelaat.

In verband met die inhoud van die boek moet tweedens met die eskatologiese aard daarvan rekening gehou word (Gileadi 1994:29). Meer as dertig belangrike historiese antesedente (implisiet en eksplisiet) in ou Israel word in Jesaja gebruik om eskatologiese momente te tipeer. Die Dienaar van die Here-passasies fungeer binne hierdie eskatologiese dimensie van die boek. Hier geld die verskil tussen die “ou dinge” en die “nuwe dinge”, onder meer die nuwe Skepping, die vertrek op ’n nuwe Eksodus, die verwysings na die Here as die Heilige, as die Koning, die Regter, Verlosser/Messias en Skepper (Gileadi 1994:28 et passim).

Daar kan moontlik met ’n vergelyking van die kenmerke van die figuur soos dit in meer as een van die vyf passasies na vore kom, aangetoon word dat die skrywer(s) dieselfde persoonlikheid in gedagte gehad het. ’n Teenoorgestelde gevolgtrekking kan natuurlik ook gemaak word. Laasgenoemde verteenwoordig die heersende opinie. Tweedens, indien sekere vrae positief beantwoord word, kan aanvaar word dat 61:1-11, of ’n gedeelte daarvan, as ’n Dienaar van die Here-passasie kwalifiseer. Indien hierdie vrae negatief beantwoord word, verval die argument. Die vrae hou onderling almal met mekaar verband en is bedoel om ’n sekere omlyning van die figuur vas te lê wat sal aandui of dié passasie én die gestalte wat daarin beskryf word op gelyke basis met die eerste vier passasies gehanteer kan word, al dan nie. Die vrae sluit in: Kwalifiseer Jesaja 61 as ’n Dienaar van die Here-passasie? Anders gestel: Kan die figuur waarna in Jesaja 61 verwys word as die Dienaar van die Here beskou word? In die huidige deel (Deel I) word net hierdie vraag behandel. Die res van die vrae word in Deel II van die studie bespreek. Hierdie vrae sluit in: Moet hierdie figuur kollektief of individueel verstaan word? Wat hou die taak/funksie van die figuur in? Anders gestel, wat is sy amp? Beskik die figuur oor messiaanse trekke? Kan die figuur (histories) geïdentifiseer word? Al die vrae is gerig op die één saak, naamlik of die Dienaar-figuur van Deutero-Jesaja sy voortsetting vind in Trito-Jesaja (61:1-3[4-9]10-11). Hier word gebruik gemaak van ’n veelvoudige aanpak én ruimte gelaat vir (’n) veelvoudige resultaat/resultate. Genoemde veelledige benadering van hierdie saak kom op die keper in al die vrae wat gestel word om, indien moontlik, ’n “identikit” van die figuur van Jesaja 61 saam te stel. ’n Belangrike toets wat hier aangelê kan word, hou verband met die beginsel van oordrag of afwenteling van ’n verworwe status en deugde van een persoon op ander (kyk Deel II). Die eerste vraag lui:

B. KWALIFISEER JESAJA 61 AS ’N DIENAAR VAN DIE HERE-PASSASIE?

Eerstens moet aandag gegee word aan die afbakening van die passasie. In Jesaja 61:1-3 praat ’n anonieme persoon oor homself, in verse 4-9 kom die Here aan die woord, en in verse 10-11 praat dieselfde persoon wat in verse 1-3 aangetref word weer (Beuken 1989b:413-415). Hier word rekening gehou met ’n bepaalde verhouding tussen ’n/die profeet en die Dienaar (Smart 1965:259). Die persoon beskik oor deugde en vermoëns om die volk van die Here wat in ballingskap of ander sosiale, dit wil sê, finansiële nood verkeer (Koole 1995:265) te bevry en ’n lewe van blydskap te laat smaak (vv 3, 7, 10). Soos in hoofstuk 60, is ook hier weer sprake van mense wat Israel sal dien en gawes uit alle oorde aan hulle sal bring (vv 4-9). Laasgenoemde is moontlik omdat die betrokke figuur in die situasie ingryp. Die teks meld ook ’n verbondsvernuwing (v 8) en gee ’n aanduiding van hoe die Here oor die reg dink (v 8). Vreugde (v 10), uitgedruk in terme van ’n huweliksluiting gepaardgaande met lof aan God (v 11), rond die passasie af. Van die gedagtes wat in hierdie hoofstuk voorkom, herinner die leser aan die ander vier passasies.

Beuken (1989b:414-438) het ’n studie gemaak van al die gevalle in Jesaja 61 wat moontlik na Jesaja 40-55 verwys. Hy bespreek die selfvoorstelling van die figuur in Jesaja 61 (1989b:415-424) en bevestig dat die roeping en salwing van die spreker aan hom die karaktertrekke van die Dienaar verleen. Hierdie genoemde basiese affiniteite tussen Trito- en Deutero-Jesaja word volgens hom verder uitgebrei deur dit langs die weg van ander ooreenkomste te kanaliseer. Die naam הדהיינדא, wat Jesaja 61 omraam (61:1, 11) kom in verwante gedeeltes in Deutero-Jesaja voor (48:16; 50:4, 5, 7, 9; 40:10; 56:8; vgl 65:11, 13; 49:22; 52:4). Die voortgang van die gedagtegang in verband met die nageslag van die Dienaar ondersteun ook hierdie ooreenkomste (53:10; 54:17; 56:6; vgl 61:1 met 42:1 en 48:16; 44:2-3; 51:16; 59:21). Ander begrippe en handelinge wat die ooreenkomste staaf, sluit in die take wat aan die spreker van Jesaja 61 toegewys is (61:1-3; 42:7; 49:5-6, 8-9; 50:4); die vertroosting en blye tyding waarvan Jesaja 61:1, 3 gewag maak, herinner aan die proloog van Deutero-Jesaja (40:1-2 resp v 9, vgl 41:27; 52:7), en die identiteit van die profeet wat bepaal word deur die naam van die individue na wie hy gestuur is, veral die gevangenes/dié wat opgesluit is (61:1b), vergelyk 42:7; 49:9; 46:2; 49:24 ev; 52:2, en let op die opening van die gevangenis/die oë van die gevangenes (35:5; 42:7; 49:9). Jesaja 6.1:2 verwys waarskynlik na 49:8 waar gepraat word van “(op) die dag wat Ek wil red” (העדשיםדינד, “die dag van heil”) wat op pad is, maar in eersgenoemde teks verander is na “die dag waarop ons God sy vyande straf/dag van wraak” (םקנ םדינ) (vgl 59:17; kyk Luk 4:19d). Beuken (1989b:424-429) behandel vervolgens die verwysings na die bediening van die spreker van Jesaja 61 wat aansluit by Jesaja 40-55. Hier noem hy Jesaja 61:4 wat verwys na Jesaja 49:8-9, 19; 54:3-4; 44:26; 51:3, en vergelyk 58:2, 8, 7-12, in verband met die opbou en besit van die land en die uitoefening van die reg (54:3-7). Beuken (1989b:429-432) bring vervolgens die prediking van die spreker van Jesaja 61 ter sprake veral soos gerig op die reg en deur God gewaarborg (61:8-9; 55:3;40:10-11; 49:4; 50:8; 42:3; 43:9; 59:14 ev; 44:3; 51:2). Met sy verduideliking van die loflied wat die spreker uitspreek, voltooi Beuken (1989b:432-438) hierdie bespreking. Onder laasgenoemde behandel hy die betekenis van “beklee” met die heil, veral ook die assosiasie van hierdie handeling van God met die uitspruit van plante in dieselfde teksverband (49:18; 51:9; 52:1; 59:15 ev; plante: 58:8; 55:10; 44:3-4; 45:8b). Hierdie bespreking van Beuken (1989b:415, 424, 429-430, 438) bring hom egter nie daartoe om die spreker van Jesaja 61 as die Dienaar van die Here te aanvaar nie. Maar dié gegewens bevestig juis dat Jesaja 40-55 die ruimte voorberei het vir die optrede van die Dienaar in Jesaja 61.

Daar bestaan ook ander redes waarom Jesaja 61, in aansluiting by die eerste vier passasies, as ’n Dienaar van die Here-passasie beskou kan word. Hier sal slegs enkele argumente uit die verlede herhaal word. Teenoor diegene wat beweer dat dit die profeet is wat die woord voer in Jesaja 61:1-3, 10-11 kan gestel word dat die profeet nêrens elders in Jesaja in sulke lang uitsprake oor homself praat nie. Wanneer hy wel self aan die woord kom, geskied dit met die kortste stellings, byvoorbeeld “sê my God” (57:21). In polemiese trant kan gevra word: Watter goeie rede kan aangevoer word dat hy nou, in hoofstuk 61, so breedsprakig oor homself sou raak? Dit moet dus ’n ander persoon wees wat in Jesaja 61 die woord voer. Verder moet daarop gelet word dat elders in Jesaja waar iemand anders as die Here spreek, en terselfdertyd verwys na sy roeping en ervaring in dié verband (49:1 ev; 50:4 ev), dit elke keer die Dienaar van die Here was tot wie en deur wie die Here gespreek het (42:1 ev; 50:4 ev). Alles wat hierdie spreker van homself sê, word weer opgevang in die prentjie van die een, unieke Dienaar van die Here: Hy is toegerus met die Gees van die Here (42:1; 61:1) en deur dieselfde Gees gestuur (48:16; vgl 50:4, 42:3, 7; 49:9; 61:1). As die profeet die Dienaar in sulke dramatiese, direkte taal laat spreek het in Jesaja 49:1; 50:4, en 48:16b, waarom sal hy homself nou eensklaps op die voorgrond stel en vir homself die eienskappe toeëien van die persoon waarvan die eerste vier passasies spreek? (so alreeds Delitzsch 1889:395-396). Verder: Die beswaar dat die figuur van 61 nie ’n leraar van die Wet sou wees soos die een in die eerste vier passasies nie, kan bestry word deur weer daarop te wys dat dié aspek tog nie ál verskil tussen die verskillende voorstellings van die Dienaar in die onderskeie passasies verteenwoordig nie (ook alreeds Cannon 1929:284-288). Die vraag moet weer gestel word: Hoe word bepaal watter kenmerke ’n (egte) Dienaar van die Here-passasie onderskei? Die skopus waarbinne hierdie kenmerke gevind moet word, kan nie beperk bly tot die eerste vier passasies nie (vgl egter North 1956:138). Die vraag bly dus staan: Watter gronde is daar vir die beslissing dat Jesaja 61 van die “egte” Dienaar van die Here-passasies uitgesluit moet word, behalwe die argument van die afskeiding van hoofstukke 56-66 van 40-55?

Beuken (1989b:413, 415, 424, 429, 432, 438) se gevolgtrekking rakende die figuur van Jesaja 61 bly ambivalent. Hy gebruik die begrip “profeet” in sy bespreking van genoemde figuur, maar neig na die Dienaar-gestalte wanneer hy die inhoud van die hoofstuk behandel. Hy hink op twee gedagtes wanneer hy stel dat wanneer hy van die profeet praat met verwysing na Jesaja 61, dit nie beteken dat hy nie van die Dienaar praat nie (!). Sy beswaar teen die aanduiding van die spreker van Jesaja 61 as die Dienaar van die Here sluit by ouere eksegete aan, naamlik dat essensiële elemente wat die Dienaar sou kenmerk in Jesaja 61 ontbreek. Hy noem uitsprake van die Here wat inhou dat Hy hierdie persoon verkies het en verwys na Jesaja 42:1-4 en 49:1-6. Laasgenoemde geld volgens hom ook van die Dienaar se geloof in die Here en sy regverdiging in Jesaja 49:1-6 en 50:4-9; 53. Dit behoort egter duidelik te wees dat juis die kenmerke wat Beuken noem, in slegs sommige van die egte Dienaar-passasies voorkom. Die argumente blyk met hulleself in teenspraak te wees. Die trefwydte van bogenoemde teenargumente raak ook die standpunt van Beuken.

Die tweede aspek kan met een woord afgehandel word. Die plek wat Jesaja 61 binne die literêre raamwerk van Trito-Jesaja inneem, is belangrik. Jesaja 61 vorm die hoogtepunt van ’n koniese literêre struktuur van die elf hoofstukke van Trito-Jesaja (kyk Kruger 1984:154-156 vir ’n diagrammatiese voorstelling). Die figuur wat hier geteken word, moet dus van besondere belang en betekenis wees.

C. VOORLOPIGE GEVOLGTREKKING

Jesaja 61:1-11 (of ’n gedeelte daarvan) kwalifiseer as ’n egte Dienaar van die Here-passasie.

BIBLIOGRAFIE

Alter R & Kermode F (reds) 1989. The literary guide to the Bible. Londen: Fontana.

Barton, J (red) 1998. Biblical interpretation. Cambridge: University Press.

Beuken, W A M 1989a. Jesaja. Deel III A. POT. Nijkerk: Callenbach.

Beuken, W A M 1989b. Servant and herald of good tidings. Isaiah 61 as an interpretation of Isaiah 40-55, in Vermeylen, J (red). The book of Isaiah. BETL LXXXI. Leuven: Peeters, 411-442.

Blenkinsopp, J 1995. The “servants of the Lord” in third Isaiah: profile of a pietistic group in the Persian epoch, in Gordon R P (red). “The place is too small for us.” The Israelite prophets in recent scholarship. Winona Lake, Indiana: Eisenbrauns, 392-412.

Blocher, H 1975. Songs of the servant. Londen: Inter-Varsity Press.

Brownlee, W H 1964. The meaning of the Qumran scrolls for the Bible. New York: Oxford University Press.

Brueggemann, W 1998. Isaiah 40-66. Westminster Bible Companion. Louisville, Kentucky: Westminster John Knox.

Cannon, W W 1929. Isaiah 61:1-3 an Ebed Yahweh poem, ZAW 47, 284-289.

Childs, B S 1979. Introduction to the Old Testament as scripture. Londen: SCM.

Childs, B S 2001. Isaiah. Louisville, Kentucky: Westminster John Knox.

De Leeuw, V 1956. De Ebed Jahweh-profetieen: historisch-kritisch onderzoek naar hun ontstaan en hun betekenis. Assen: Van Gorcum & Comp NV.

Delitzsch, F 1889. Biblical commentary on the prophecies of Isaiah II. Edinburgh: T & T Clark.

Dillard, R B & Longman III, Tremper 1994. An introduction to the Old Testament. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.

Ekblad, R E 1999. Isaiah’s servant poems according to the Septuagint. An exegetical and theological study. Leuven: Peeters.

Erlandsson, S 1970. The burden of Babylon. Lund, Swede: Gleerup.

Gileadi, A 1982. The apocalyptic book of Isaiah. New York: Hebraeus Press.

Gileadi, A 1994. The literary message of Isaiah. New York: Hebraeus Press.

Gordon, R P (red) 1995. “The place is too small for us.” The Israelite prophets in recent scholarship. Winona Lake, Indiana: Eisenbrauns.

Goulder, M 2000. The Anointed, in Moyise S (red). The Old Testament in the New Testament. Essays in honour of J L North. JSNT Suppl series 189. Sheffield: Academic Press, 66-74.

Grosheide, H H (et al red) 1978a. De Knecht. Studies rondom Deutero-Jesaja. Aangeboden aan J L Koole. Kampen: Kok.

Grosheide, H H (et al red) 1978b. De Knechtsgestalte van Christus. Aangeboden aan H N Ridderbos. Kampen: Kok.

Harrison R K 1977. Introduction to the Old Testament. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Hill, A E & Walton, J H 1991. A survey of the Old Testament. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.

Koole J L 1995. Jesaja III. COT. Kampen: Kok.

Kruger, H A J 1984. Verbond en apokaliptiek in Jesaja 56 tot 66. Ongepubliseerde proefskrif ingelewer vir die DTh-graad. Universiteit van Stellenbosch.

Mitchell, T C 1999. The Bible in the British Museum. Interpreting the evidence. Londen: British Museum Press.

Moyise S (red) 2000. The Old Testament in the New Testament. Essays in honour of J L North. JSNT Suppl series 189. Sheffield: Academic Press.

North, C 1956. The suffering servant in Deutero-Isaiah: an historical and crtitical study. Oxford: University Press.

Oswalt, J N 1998. The book of Isaiah. Chapters 40-66. Grand Rapids: Michigan.

Prinsloo G T M 1999. Jesaja, in Vosloo, W & Van Rensburg, F J (red). Die Bybellennium. Eenvolumekommentaar. Vereeniging: CUM, 769-774.

Pritchard, J (red) 1969. Ancient Near Eastern texts relating to the Old Testament. Princeton: University Press.

Ryken, L & Longman III, T (reds) 1993. A complete literary guide to the Bible. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.

Smart, J D 1965. History and theology in Second Isaiah: a commentary on Isaiah 35, 40-66. Philadelphia: Westminster Press.

Smith, P A 1995. Rhetoric and redaction in Trito-Isaiah. The structure, growth and authorship of Isaiah 56-66. Leiden: Brill.

Van Ruiten J & Vervenne M (reds) 1997. Studies in the book of Isaiah. Festschrift W A M Beuken. Leuven: Peeters.

Vermeylen, J (red) 1989. The book of Isaiah. BETL LXXXI. Leuven: Peeters.

Vosloo, W & Van Rensburg, F J (reds) 1999. Die Bybellennium. Eenvolumekommentaar. Vereeniging: CUM.

Watts, J D W 1987. Isaiah 34-66. Word Biblical Commentary 25. Waco, Texas: Word Books.

Wilson R R 1998. The prophetic books, in Barton, J (red). Biblical interpretation. Cambridge: University Press, 212-225.