H Stander
Universiteit van Pretoria

Die gelykenis van die man wat sy buurman gaan opklop het - Lukas 11:5-8

ABSTRACT

The parable of the man who woke up his neighbour - Luke 11:5-8

The translation of the Greek word anaideia (“importunity”) forms the crux of the interpretation of this parable. Traditionally this word has been interpreted as describing the person who knocked on the door of his neighbour. The word anaideia is therefore interpreted as “persistence”. The Good News Bible, for example, translates this verse as “because you are not ashamed to keep on asking”. In this article the author shows that the word anaideia is never used by any Church Father in a positive sense. He then argues, based on how the Church Fathers used this word that it rather describes the one who sleeps. The neighbour who was in bed was afraid of being stigmatised as being shameless for not helping his friend. He therefore reluctantly helps his neighbour. Jesus therefore tells this parable to illustrate to his hearers that while people would be willing to help because of wrong motives, God is always ready to hear the prayers of his children. The author also discusses the Church Fathers’ interpretation of this parable. At the end he shows how all the Afrikaans Bible translations misinterpret this verse.

INLEIDING

Nadat Jesus die Ons Vader-gebed aan sy dissipels geleer het, vertel Hy aan hulle ’n kort gelykenis (Luk 11:5-8). Dit handel oor iemand wat in die middel van die nag sy buurman gaan opklop het om drie broodrolletjies te leen vir ’n onverwagse besoeker wat hy ontvang het. Sy buurman antwoord dat hy en sy kinders almal reeds in die bed is en nie kan opstaan om dit vir hom te gee nie. En dan antwoord Jesus: “Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid (dia ge ten anaideian autou) opstaan en hom gee soveel as hy nodig het” (Luk 11:8, ou Afrikaanse vertaling). Die nuwe Afrikaanse vertaling vertaal dit soos volg: “Ek sê vir julle, al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie” (Luk 11:8).

Soos dit die geval is met talle gelykenisse, is die uitleg daarvan nie altyd so eenvoudig as wat ’n mens met die eerste oogopslag sou dink nie (vgl Smit 1987:11). Die kern van die interpretasie-problematiek van hierdie gelykenis sentreer rondom die betekenis van die Griekse woord anaideia in vers 8. Dit kom net een maal in die Nuwe Testament voor en feitlik alle Bybelvertalings vertaal dit met “volharding” (“persistence” of “importunity”). Dit word dan tradisioneel verstaan dat die man wat by sy buurman om hulp kom aanklop het, dit met volharding gedoen het (sien bv Robbins 1998:204-6). Ook die nuwe Afrikaanse vertaling interpreteer dit so. En dit bring mee dat hierdie gelykenis verstaan word as ’n les in volhardende gebed (omtrent op dieselfde vlak as die gelykenis van die weduwee en die onregverdige regter in Luk 18:1-8).

Die probleem met hierdie interpretasie is net dat die woord anaideia nooit in enige literatuur buite die Nuwe Testament hierdie betekenis het nie. Johnson (1979:125) het reeds duidelik aangetoon dat die woord anaideia in alle klassieke werke ’n negatiewe kwaliteit dra en die heel beste met “skaamteloosheid” vertaal moet word. Tot nou toe is daar al dikwels geskryf oor die betekenis van die woord anaideia in die Nuwe Testament en in die tydperk vóór die Nuwe Testament. Maar daar is feitlik geen studies gedoen oor die voorkoms van die woord in Patristiese literatuur nie, en ook nie oor hoe die kerkvaders hierdie gelykenis geïnterpreteer het nie. Dit is van die kwessies wat onder meer in hierdie artikel aangespreek sal word. Daar sal gekyk word na hoe die gelykenis deur die kerkvaders verstaan is en waarom hulle dit verstaan het soos hulle dit verstaan het. Die studie van die woord anaideia se betekenis in die Patristiese literatuur het besondere implikasies vir die verstaan van hierdie gelykenis. Daar sal derhalwe weer gekyk moet word na hoe ons dan hierdie gelykenis moet verstaan. Voorts sal daar ook aangetoon word hoe selektief moderne verklaarders met die buite-Bybelse literatuur omgaan ten einde die tradisionele interpretasiemodel te probeer verdedig. Daar sal ook geargumenteer word dat die Patristiese literatuur ’n veel belangriker rol moet speel in ons Bybelinterpretasie. Ten slotte sal aangetoon word dat al ons Afrikaanse Bybelvertalings hierdie vers heeltemal verkeerd interpreteer en vertaal.

DIE KERKVADERS SE GEBRUIK VAN ANAIDEIA

Johnson (1979) het reeds oortuigend genoeg uitgewys dat die woord anaideia altyd in klassieke dokumente ’n baie negatiewe betekenis het en dus nooit in die betekenis van “persistence” voorkom nie. Daarom hoef ons nie weer hierdie ondersoek van voor af te doen nie. Derrett (sien Snodgrass 1997:507), aan die ander kant, wil baie graag bewys dat die woord anaideia alreeds in die tyd van die Nuwe Testament van sy negatiewe betekenis ontslae geraak het. As bewys haal hy dan Jesus Sirag 4:21 aan: “Want daar is skaamte wat tot sonde lei, en daar is skaamte wat heerlikheid en genade is.” Hierdie opmerking oor die begrip skaamte is vir hom ’n bewys dat die woord anaideia in die tyd van die Nuwe Testament reeds ’n positiewe skakering het. Maar die probleem is net dat die Griekse woord wat hier vir skaamte gebruik word, aischune is, en nie anaideia nie. Derrett se argument val dus heeltemal plat.

Johnson (1979:125) voer aan dat die woord anaideia wel in die vroegste Christelike tye die betekenis van “volharding” begin kry het. Maar Johnson is beslis nie korrek nie, soos dit uit die onderstaande ondersoek sal blyk. Wanneer ’n mens al die Patristiese literatuur fynkam vir voorkomste van anaideia, kom jy baie gou agter dat elke keer wanneer hierdie woord deur die kerkvaders gebruik word, dit in ’n negatiewe betekenis is. ’n Kort opsomming van die voorkomste van anaideia in die Patristiek en die betekenisvelde waarbinne dit voorkom, is soos volg:

Die kerkvaders gebruik die term anaideia (“skaamteloos”) binne die volgende kontekste:

• ’n Slegte boemelaar wat loop en bedel, word as skaamteloos uitgekryt (Basilius, epistula 150; Basilius, sermones MPG 32:1161).

• ’n Man wat hom by ’n vrou opdring en dan daarna onwaar stories oor haar in die openbaar gaan vertel, is niks anders as skaamteloos nie (Basilius, epistula 289).

• Mense wat beweer dat die Logos van God bloot ’n skepsel is, is skaamteloos (Athanasius, orationes tres contra Arianos MPG vol 26, p 160).

• ’n Slegte vrou sal haar oë, wat vol van skaamteloosheid is, laat dwaal en dan op so ’n manier jongmans vang (Amphilochius, in mulierem peccatricem oratio 4).

• Rebellie, onbesonnenheid en skaamteloosheid is alles nabootsings van die euwels van die duiwel (Basilius, sermo 11 MPG 31:648).

• Basilius gee ’n lys van booshede wat mens moet ontvlug, en skaamteloosheid is een daarvan (Basilius, orationes MPG 31:1681 en 1684).

• Mense wat teen waarheid praat, is skaamteloos (Didymus Caecus, Comm in Ecclesiasten, p 234).

• Rowers wat plunder, doen dit vanweë hulle skaamteloosheid (Gregorius Nazianzus, in seipsum, oratio 26, MPG 35:1232).

• God het Kain gestraf, nie soseer oor die moord nie, maar oor sy skaamteloosheid (Chrysostomos, de paenitentia).

• Chrysostomos gee ’n hele lys van skaamtelose dinge, soos om vuil liedjies te sing, jou dronk te drink en ander mense se huwelike te vernietig (Chrysostomos, propter fornicationes uxorem; sien ook Chrysostomos, ad Corinthios MPG 61:103).

• Chrysostomos bestempel die losbandige vrou wat Josef probeer verlei het as skaamteloos (Chrysostomos, in genesim MPG 54:537).

• Pilatus se optrede was skaamteloos toe hy Jesus aan die mense oorgegee het om gekruisig te word (Chrysostomos, in Joannem MPG 59:457).

• Vroue is skaamteloos as hulle hulle oordadig grimeer (Chrysostomos, in epistula i ad Timotheum MPG 62:541).

• Iemand wat sonde doen, is skaamteloos (Chrysostomos, fragmenta in proverbia MPG 64:728).

• Johannes Damascenus lys skaamteloosheid saam met hebsug, hoogmoed en bedrog (Johannes Damascenus, virtutibus MPG 95:88).

• Theodoretus sê dat skaamteloosheid verwant is aan die verbreking van wette (Theodoretus, interpretatio in Jeremiam MPG 81:516).

• Ons lees dat die krokodil ’n simbool is van skaamteloosheid en dan word daar bygevoeg dat God skaamteloosheid haat (Clemens van Alexandrië, Stromata Bk 5 hfst 7).

• Basilius vertel van die mense wat hom loop en beskinder en stories oor hom versprei het dat hy sy vriend belaster en in die rug gesteek het. Sulke optrede noem hy skaamteloos (Basilius, epistula 51).

• Keiser Julianus skryf aan Basilius dat hy (Basilius) skaamteloos is as hy vir ander mense loop en vertel dat hy (Julianus) nie waardig is van die keiseramp nie (Basilius, epistula 40).

• Die dwalinge van ketters word baie dikwels deur die kerkvaders as skaamteloos beskryf (Athanasius, de sententia Dionysii hfst 5; ook hfst 12; hfst 19; so ook Athanasius, de decretis Nicaenae synodi hfst 40; Athanasius, de synodis Arimini hfst 26; ook hfst 31; Athanasius, orationes tres contra Arianos MPG 26, p 420; Athanasius, epistulae quattuor ad Serapionem MPG 26:605 en 637 en 648; Gregorius Nyssenus, contra Eunomium Bk 2, hfst 1).

Dit is dus baie duidelik dat die woord anaideia ook in die tydperk na die Nuwe Testament slegs in ’n negatiewe betekenis gebruik word. Daar is geen enkele voorkoms in enige buite-Bybelse teks (vóór en na Christus) waar die woord anaideia met “volharding” vertaal kan word of selfs net in ’n positiewe konteks gebruik word nie.

DIE KERKVADERS SE INTERPRETASIE VAN HIERDIE GELYKENIS

Die interessantheid is egter dat die kerkvaders nogtans deur die bank hierdie gelykenis as ’n bewys van die krag van volhardende gebed verklaar het. Kom ons kyk na wat party kerkvaders hieroor sê:

Basilius (Constitutiones asceticae MPG 31:1332) skryf soos volg oor hierdie gelykenis: “Die Here gee hier vir ons ’n voorbeeld om ons te leer hoe om kragtig te bid en om strydlustig in die geloof te wees, en om nie op te gee nie. Wanneer jy vra en nie ontvang nie, moet jy nie wegloop voordat jy ontvang nie, as jy ten minste vra wat God wil hê nie.”

Chrysostomos (Non esse desperandum MPG 51:370) sê dat die man se gebed verhoor is, nie op grond van die vriendskapsband wat tussen die twee bure bestaan het nie, maar vanweë die volharding van die man wat kom klop het. Ook in sy ander geskrifte sê Chrysostomos (In epistulam ad Hebraeos MPG 63:189; commentarius in Mt hom 22, hfst 7) dat hierdie gelykenis oor volhardende gebed gaan. Selfs vóór Basilius en Chrysostomos het ook Origenes (De oratione hfst 10 sec 2, asook Commentarius in Mt Bk 14, hfst 25) dieselfde oortuiging uitgespreek.

Ook die Latynse kerkvaders was dit eens dat hierdie gelykenis oor volhardende gebed gaan. Augustinus (Sermo xi, 6), byvoorbeeld, stel eerstens die vraag hoe ’n mens hierdie gelykenis moet verstaan. Daarna wys hy daarop dat die man nie ophou klop het toe daar nie aan sy versoek voldoen is nie. Hy het net bly staan en sy versoek aanhoudend gestel, en op die ou end is daar aan sy versoek voldoen. Augustinus vra dan hoeveel te meer sal God nie aan ons versoeke voldoen nie. God is juis ongelukkig wanneer ons nié vra nie. Ook in ’n ander geskrif (Sermo lv) skryf Augustinus dat Jesus hierdie gelykenis vertel het om ons te leer om met vasberadenheid te bid.

Die vraag kom dadelik by ’n mens op waarom die kerkvaders dan hierdie gelykenis so verklaar het as die woord anaideia nooit in enige ander literatuur in ’n positiewe sin gebruik is nie. Wat die Latynse kerkvaders betref, is dit maklik te verklaar. Hulle bou hulle verklaring op die Vulgaat wat dit baie duidelik stel:

“Et se ille perseveraverit pulsans: dico vobis, etsi non dabit illi surgens eo quod amicus ejus sit, propter improbitatem tamen ejus surget, et dabit illi quotquot habet necessarios.” Ons kan dit soos volg vertaal: “En as hy sal aanhou klop het: Ek sê vir julle, selfs al sal hy nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy nogtans opstaan op grond van sy boosheid, en vir hom gee soveel as wat hy wil hê.”

Die woorde Et se ille perseveraverit pulsans (En as hy sal aanhou klop het) kom egter nie in die Griekse teks voor nie. Dit is egter moeiliker om te verklaar waarom ook die Griekse kerkvaders die gelykenis verklaar het as ’n les in volhardende gebed. Moontlik moet dit ook aan die invloed van die Latynse teks toegeskryf word. Ons moet onthou dat alhoewel die Vulgaat die werk van omtrent net een man was, naamlik Hieronymus (347-419), Latynse vertalings van die Bybel reeds in die tweede eeu hulle verskyning gemaak het. Baie van die kerkvaders het Latyn, Grieks en Hebreeus geken. Die kerkvaders wat wel vir ons vertel hoe hulle hierdie gelykenis verstaan, kom dan ook almal uit die derde eeu en later.

Dit is opmerklik dat niemand nog gaan navors het hoe hierdie gelykenis deur die kerkvaders vertolk is nie. Selfs mense soos Snodgrass (1997) wat wel enkele voorkomste van die woord anaideia in die Patristiek bespreek, laat na om te gaan kyk wat die kerkvaders self hieroor te sê gehad het. ’n Mens kan nie help om die afleiding te maak dat hy moontlik die kerkvaders se interpretasies ignoreer omdat dit glad nie inpas by sy eie teologiese verklaring van hierdie gelykenis nie.

HOE MOET DIE GELYKENIS DAN VERKLAAR WORD?

Op grond van die woordstudies van anaideia in sowel klassieke as Patristiese letterkunde, moet ons dus onomwonde sê dat hierdie woord nooit in ’n positiewe konteks gebruik word nie. Wanneer die kerkvaders die woord anaideia in kontekste gebruik wat geen relasie met hierdie gelykenis het nie, ken hulle ’n negatiewe betekenis daaraan toe. Om hierdie rede moet ons aanvaar dat die betekenis van skaamteloosheid ’n negatiewe konsep is. Terwyl ons die betekenis wat die kerkvaders aan die term anaideia toedig, aanvaar, kan ons nie akkoord gaan met hulle verklaring van die gelykenis nie. In die eerste plek ondersteun die betekenis van hierdie woord (soos hulle dit self op ander plekke gebruik) nie hulle interpretasie van die gelykenis nie. Meer nog, Jesus self pas nie hierdie gelykenis toe in die betekenis van volhardende gebed nie. Jesus vertel die gelykenis om God se onvoorwaardelike bereidwilligheid om vir ons in ons behoeftes te voorsien, te illustreer. As die buurman ter wille van sy reputasie opstaan en sy vriend help (al is dit dan ook as gevolg van onsuiwer motiewe), hoeveel te meer sal God dit nie doen nie. Ons het dus hier die tipiese conclusio a minore ad maius. Daarom sluit Jesus (volgens Lukas) hierdie gelykenis af met die woorde: “Vra en vir julle sal gegee word ... “

Die rede waarom geleerdes so graag die betekenis van “volhardend” aan die woord anaideia wil toeken, is dat hulle meen dat die woord anaideia verwys na die man wat aan die deur klop. Die bedoeling is dan dat die man volhardend klop en dat hierdie gelykenis ons derhalwe iets leer van volhardende gebed. Dit is dus duidelik dat die betekenis “skaamteloosheid” dan nie so lekker “inpas” in so ’n interpretasie van die gelykenis nie.

Maar Friedrichsen en Jeremias (vgl Johnson 1979) het reeds in 1934 en 1963 onderskeidelik geargumenteer dat die woord anaideia meer waarskynlik die man in die bed beskryf. Dit is ook die standpunt van Scott (1989). Die betekenis van “skaamteloos” is dus heel gepas. ’n Mens moet derhalwe hierdie gelykenis verstaan teen die agtergrond van die antieke Midde-Oosterse kultuur. Gasvryheid was ’n saak van eer (Pilch & Malina 1998:115-118). Om na te laat om gasvry teenoor iemand te wees, was die allergrootste skande. Die man in die bed het besef dat as hy sou versuim om sy buurman in nood by te staan, die hele dorp dit sou weet. Ons moet onthou dat die antieke stede nie so groot was soos vandag se stede nie. ’n Mens se reputasie het sommer baie gou deur die hele dorp getrek. Die man in die bed het geweet dat as hy nie sou opstaan om sy buurman te help nie, sy skaamtelose gedrag sou maak dat hy inderdaad in groot skande sou kom in sy dorp.

Wanneer ons egter na die Griekse teks kyk, is daar tog nog een probleem. Die Griekse sin lui soos volg: dia ge ten anaideian autou egertheis dosei auto- (ter wille van sy skaamteloosheid, sal hy opstaan en vir hom gee). Die probleem is natuurlik dat daar staan anaideian autou (“sy skaamteloosheid”). Maar Robbins (1998:204) gee toe dat die autou na enigeen van die twee persone kan verwys. Nolland (1993) se voorstel is dus steeds oortuigend wanneer hy aanvoer dat hierdie autou eerder verstaan moet word as die skaamteloosheid wat deur hom (= die man in die bed) aan die dag gelê word, of die skande wat deur die gemeenskap aan hom toegeken word. ’n Mens kan die frase hier bo derhalwe eintlik ook dinamies vertaal met: “ten einde te probeer vermy dat daar ’n skande oor hom kom ...”

Bailey (soos aangehaal in Johnson 1979:129) toon op ’n interessante wyse aan waarom hy glo dat anaideia inderdaad na die skaamteloosheid van die man in die bed verwys, en nie na die skaamteloosheid van die man wat klop nie. Hy stel vers 8 skematies soos volg voor:

1. al sou hy nie vir hom gee

die een in bed

 

2. nadat hy opgestaan het

die een in bed

 

 

3. omdat hy sy vriend is nie,

die een in bed

 

 

3. sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid

.....???.....

 

2. opstaan

die een in bed

1. en hom gee soveel as hy nodig het.”

die een in bed

Bailey wys dat ons hier eintlik ’n soort ringkomposisie het. Al die elemente verwys ook na die man in die bed. Die enigste frase waaroor ons nie seker is nie, is “ter wille van sy onbeskaamdheid”. Op grond van bogenoemde voorstelling wys Bailey dat dit baie waarskynlik is dat hierdie frase ook soos die ander na die man in die bed verwys.

Dit lyk dus inderdaad of ons die term anaideia (skaamteloosheid) moet verstaan as ver-wysende na die man in die bed se vrese om as skaamteloos gebrandmerk te word. Om so ’n etiket te vermy, staan hy dan maar eerder op en help sy buurman. Jesus sê dus in hierdie gelykenis dat God ook die mens in sy of haar nood sal aanhoor. Jesus se hoorders het geweet dat elkeen van hulle selfs in die nag, nadat hulle reeds in die bed is, hulle buurman sou help as hulle daarom gevra sou word. Die risiko was net te groot dat ’n mens as skaamteloos geëtiketteer sou word deur jou gemeenskap as jy sou weier om te help. As ons dan ons buurman sal help (al is dit dan nou met onsuiwer motiewe), sal God mos nog veel eerder vir ons help as ons Hom daarvoor vra.

AFRIKAANSE BYBELVERTALINGS

Dit is jammer dat ook ons nuwe Afrikaanse vertaling die tradisionele betekenis (“volhardend”) aan die woord anaideia toeken en dit interpreteer as verwysende na die man wat klop. Daarom parafraseer hulle ook die sin soos volg:

“Ek sê vir julle, al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie” (Luk 11:8). Ook Die Boodskap staan in dieselfde tradisie en vertaal vers 8 soos volg: “Ook al sou hy dit nie doen omdat hulle vriende is nie, sou hy dit doen omdat hy die arme man jammer kry wat so laat in die nag ’n stukkie kos kom soek ... God is net soos hierdie vriend ... Julle moet maar net aanhou bid.” Die vertaler voeg ook die frase “omdat hy die arme man jammer kry” by. Hierdie betekeniskomponent is beslis nie deel van die oorspronklike nie. Die man staan hoegenaamd nie uit sy bed op vanweë sy besorgdheid oor die een wat by sy deur klop nie, maar veel eerder oor sy besorgdheid daaroor dat sy eie eer in die gedrang kan kom.

Presies dieselfde interpretasie is ook te vinde in Die Nuwe Testament vir kinders: “Ook al doen hy dit nie omdat hulle vriende is nie, sal hy dit doen omdat hy die man jammer kry wat so laat in die nag kos kom soek ... God is net soos hierdie vriend ... Moet nooit moeg word om te bid nie.” Weer word hierdie gelykenis geïnterpreteer asof dit gaan om volhardende gebed.

SLOTSOM

Op grond van die gebruik van die woord anaideia in klassieke en Patristiese letterkunde, is dit duidelik dat die woord anaideia ’n negatiewe betekenis dra. Dit kan derhalwe nie met “volhardend” vertaal word nie. Dit lyk ook meer waarskynlik dat die term anaideia eerder op die man in die bed slaan, en nie op die man wat klop nie. Dit is jammer dat ons Afrikaanse vertalings nie reg laat geskied aan hierdie gelykenis nie. Hierdie artikel het ook aangetoon dat Patristiese literatuur nie oor die hoof gesien moet word wanneer daar gesoek word na woorde se betekenisse nie. Maar dit beteken ook nie dat ons die kerkvaders se interpretasies klakkeloos kan navolg nie. Die punt van hierdie gelykenis is dus nie om ons te leer dat ons volhardend moet bid nie, maar wel dat God ruimhartig is en met groot graagte in ons nood wil voorsien (soos enige goeie pa maak wanneer sy seun hom om hulp kom vra).

BIBLIOGRAFIE

Catchpole, David R 1983. Q and “the friend at midnight” (Luke 11:5-8, 9). Journal of Theological Studies 34, 407-424.

Boodskap met Psalms en Spreuke, Die 1999. Vereeniging: CUM.

Evans, Craig, A 1990. Luke (New International Biblical Commentary). Peabody: Hendrickson Publishers.

Groenewald, E P 1989. Die Evangelie volgens Lukas. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Johnson, Alan F 1979. Assurance for man: the falacy of translating anaideia by “persistence” in Luke 11:5-8 (parable of the friend at midnight). Journal of the Evangelical Theological Society 22, 123-131.

Louw, J P & Nida, E A 1988. Greek-English Lexicon. New York: United Bible Societies.

Nielsen, J T 1979. Het Evangelie naar Lukas (De prediking van het Nieuwe Testament). Nijkerk: Uitgeverij G F Callenbach.

Nolland, J 1993. Word Biblical Commentary (Luke 9:21-18:34), Vol 35B. Dallas, Texas: Word Books Publisher.

Nuwe Testament vir kinders, Die 1999.Vanderbijlpark: Carpe Diem Boeke.

Pilch, J J & Malina, B J 1998. Handbook of Biblical Social Values. Peabody, Massachusetts: Hendrickson Publishers.

Reiling, J & Swellengrebel, J L 1971. ATranslator’s Handbook on the Gospel of Luke. Leiden: Brill.

Robbins, Vernon K 1998. From enthymeme to theology, in Thompson, R P & Phillips, T E (reds). Literary studies in Luke-Acts: A collection of essays in honor of Joseph B Tyson, 191-214. Macon, GA: Mercer Univ Press.

Scott, B B 1989. Hear then the parable. A commentary on the parables of Jesus, 79-98. Minneapolis: Fortress Press.

Smit, D J 1987. Die prediking van die gelykenisse in die Evangelies, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds). Riglyne vir prediking oor die gelykenisse en wonderverhale (Woord teen die Lig II/2), Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Snodgrass, Klyne 1997. Anaideia and the friend at midnight (Luke 11:8). Journal of Biblical Literature 116, 505-513.