Stellenbosch Theological Journal 2020, Vol 6, No 3, 141–170

DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2020.v6n3.a4

Online ISSN 2226-2385 | Print ISSN 0028-2006

2020 © Pieter de Waal Neethling Trust

Kerkbegrip en kerkorde: ’n Vergelykende studie tussen die vier Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika

Barry (BJ) Van Wyk

Noord-Wes Universiteit

Potchefstroom, Suid-Afrika

bvw@vodamail.co.za

Abstract

Church concept and church order: a comparative study between the four Afrikaans reformed churches in South Africa

This article is about the church concept and church order as formulated by churches of Reformed offspring, especially since the Reformation. To be more specific: since the day when Martin Luther voiced his disgust in the church of his days in public on 10 December 1520. Church concept and church order is a Scriptural debate because both follows from a Christological ecclesiology.

The second part of the article compares the church orders of the churches in South Africa with themes typically inherent to church orders of Reformed standing. This includes themes like the offices of the church, church discipline, as well as matters related to being anti-hierarchical and anti-independentistic with reference to the Reformed churches.

Trefwoorde

Kerkbegrip; kerkorde; ekklesiologie, ampte; anti-independentisties; anti-hiërargies

  1. 1. Ter inleiding

Die bedoeling van meegaande artikel is nie om ’n historiese lyn te trek nie, maar eerder prinsipieel na die herkoms en draagkrag van die twee sleutelbegrippe kerkreg en kerkorde te kyk en daarna vergelykend toe te pas op die kerkordes van die kerke wat ter sprake gebring word. Die vergelyking geskied aan die hand van die temas wat normaalweg in kerkordes van reformatoriese oorsprong gevind word soos aan die einde van gedeelte twee van die artikel gevind word. In die verband is hoofsaaklik verwys na kerkordes van kerke in Suid-Afrika aangesien kerkordes voldoende is in die vergelyking en in elk geval die geformuleerde debat van sinodes in dié verband verteenwoordig. ’n Volledige historiese uiteensetting van die wording en verloop van kerkreg as sodanig word by Bakker (1992:20–31) gevind wat goed benut kan word.

Die vraag kan met reg gevra word waarom die moeite om debat te voer oor kerkbegrip en kerkorde. Die antwoord lê waarskynlik in die vraag waarom ten spyte van alles wat die kerk van Christus deurleef het oor die laaste twee duisend jaar tot op hede, steeds voortgegaan word om met die Bybel as
Woord van God om te gaan in prediking en pastoraat. Dit sou rampspoedig wees indien die indruk bestaan dat die Woord bekend en die kerklike praktyk geyk is soos gevorm in die reformatoriese model van die sestiende eeu. In die lig van die feesvieringe met betrekking tot die Hervorming gedurende 2017 kan gesê word dat Luther en sy kollegas nie met ’n nuutontdekking na vore gekom het nie, maar bestaande kerklike gebruiksgoed, die Bybel, ou waarhede, nuut gesê het. Dienaars van die Woord volstaan nie met preke oor ’n bepaalde Skrifgedeelte as ’n gesaghebbende, altyd geldige uitleg nie, maar put opnuut en voortdurend uit die Woord om die spreekwoordelike speelballe van die teologie te hanteer. Miskien is die uitspraak van Luther (2004: 239) in ’n Engelse vertaling oor die bydrae wat ampsdraers en lidmate meen om te hê, ter aanvang bruikbaar. “We tell our Lord God plainly, that if He will have His Church, He must maintain and defend it; for we can neither uphold nor protect it. If we could, indeed, we should become the proudest asses under heaven.” Dit is riskant as die kerk homself op die voorgrond plaas waardeur Jesus by implikasie as die grondlegger of ikoon van die kerk, naas ander geplaas word. Käsemann (2007:90) sê dit kan as die Babiloniese ballingskap van die kerk gesien word en bestaan “in making itself the focal point of salvation and theme of the gospel.”

Alle kerklike handelinge en denke gebeur onder die maatstaf van die Woord, want ’n kerk van reformatoriese oorsprong kan nie anders as kerk van die Woord wees nie. Skriftuurlike meningsvorming is nooit ’n afgehandelde saak wat in genoegdoening of binne kerklike meerderwaardigheid stol nie. Die ter sprake bring van kerkbegrip en kerkorde is dus nie anders as ’n resente poging om rekenskap te gee vanuit die hede met die verlede as gegewe, maar met die oog op toekomstige voorneme tot bruikbare Skriftuurlike kerkwees nie.

Ten spyte van ’n matige onderwaardering van kerkreg moet die teendeel bevestig word aangesien kerkreg veel wyer loop as bloot die kerkorde van ’n bepaalde kerk. Kerkreg berus op wat Barth (1886–1968) (1964:770) as Grundrecht bestempel, gebaseer op ’n Christologies-ekklesiologiese uitgangspunt wat daarop neerkom dat voortdurend gepoog word om Christus as Hoof en Heer van die kerk ter sprake te bring (vgl Van der Walt 1976:37–47). Daarom kan nie volstaan word in geformuleerde strukture net omdat dit reeds geformuleer is nie. Kerkreg en kerkorde het dus voortdurend te make met wat Torfs ’n “kritische blik achteraf” noem (aangehaal deur Koffeman 2009:89). Op grond daarvan is kerkreg veel meer aktueel as wat vermoed of toegegee word, ook gesien in die lig van die hedendaagse klaarblyklik vanselfsprekende alternatief om eerder ’n appèl tot die burgerlike reg te doen wanneer kerkordelike onvergenoegdheid ontstaan.

  1. 2. Kerkreg: kerkbegrip en kerkorde in onderlinge verband

Die verhouding tussen Skrif en kerkorde, of tussen kerkbegrip en kerkorde kan ook gesien word as die verhouding tussen ekklesiologie en kerkorde. Kerkbegrip is die slotsom waartoe gekom word nadat ekklesiologies met die Skrif omgegaan is en sodoende ’n antwoord gegee word hoe die kerk Skriftuurlik daar uitsien. Die indruk moet nie bestaan dat die Skrif slegs één ekklesiologiese moontlikheid bevat nie, inteendeel (vgl Pelser 1995; Schweizer 1979:13). Derhalwe verwoord kerkreg ’n bepaalde teologiese posisie (Koffeman 2009:12), of anders gestel word ’n keuse vir ’n bepaalde ekklesiologie gemaak wat uitloop op ’n kerkbegrip wat in die kerk en in die kerklike tradisie ter sprake is. Kerkreg is in ekklesiologie veranker sonder om daarmee te kenne te gee dat elke kerkordelike maatreël deur ’n Skriftuurlike bewysplaas ondersteun word (Koffeman 2009:17; Van den Heuvel 1991:24).

Die dilemma van die begrip kerkreg wat ’n selfstandige vakgebied in die teologiese ensiklopedie uitmaak, is moontlik in die tweede deel van die woord, naamlik reg. Die neiging in die kerk is om ’n noue verband aan te voel, selfs identifikasie (veral deur beoefenaars van die burgerlike regspleging) met die reg van die burgerlike owerheid. Moontlik is dit tog problematies om die ekklesiologiese vormgewing van die kerk met die oog op ’n regskape kerklike lewe met die begrip reg te beskryf (vgl Sohm 1892:x; Brunner 1951:21; Balke & Oostenbrink-Evers 1995:xviii; Oostenbrink-Evers 2000:109; Bouwman 1985:9).

Die Dingemans-uitspraak (1988:207) moet in dié verband goed in gedagte gehou word dat kerkreg in regsreëls vertaalde ekklesiologie is. Dit is klaarblyklik makliker om die burgerlike wetgewing as hermeneutiese uitgangspunt aan te wend eerder as om met die Skrif te rade te gaan om die kerkreg soos geformuleer in ’n bepaalde kerkorde, as ekklesiologiese vormgewing te aanvaar tot gemeentelike samesyn. In die aanwending en belewenis van die kerkreg moet die klem dus swaarder op die eerste lettergreep rus as op die tweede. Die kerkorde is nie in die eerste plek ’n juridiese dokument nie, maar daarin word bepaalde reëlings (onderlinge ooreenkomste) gevind waardeur gepoog word om die lewe en werk van die kerk so te bepaal dat uiting aan die roeping van die kerk gegee word. “De kerkorde biedt fundamentele regels voor het leven en werken van de kerk. Het bezig zijn met de kerkorde is een geestelijke zaak, omdat het in de kerkorde gaat over de leefregel van de Kerk van Christus” (Van den Heuvel 2004:15). Daarom is ’n kerkorde teologies bepaald waardeur ’n noue verhouding tussen Skrif en kerkorde geïmpliseer word (Bronkhorst 1947:276–277).

Kerkreg, kerkbegrip en kerkorde wat in mekaar se verlenging staan, kan simplisties as toepassing van die Skrif in die kerk gesien word. Die resultate waartoe die kerkreg gekom het, is dus tekenend van die Bybel in die kerk. Aangesien geen pasklaar kerkorde in die Skrif voorkom nie beteken dit nie dat die appèl tot ’n Skriftuurlike kerkorde verval nie. Eweneens kom dit ook daarop neer dat kerkordes van mekaar sal verskil deur verskillende klemtone wat kerke nodig mag ag. Kerkordelike verskille wat in kerkordes geformuleer is, word bepaal deur opvattinge oor Skrifbeskouing en hermeneutiese uitgangspunte wat bepaalde Skriftuurlike vooronderstellings tot gevolg het. Dit word geïllustreer in die verskillende resultate wat ter sprake kom wanneer die Roomse- en reformatoriese ekklesiologie met mekaar vergelyk word. Albei kerklike tradisies funksioneer onder die vaandel van ’n Skriftuurlike beroep maar met verskillende ekklesiologiese uitkomste. As maksimum-minimum kan egter gestel word dat die grondreël van alle kerkreg daarin bestaan dat aan Christus alle heerskappy toegeken word. Die waarheid in die kerk is nie demokraties van aard nie en derhalwe moet meerderhede tydens vergaderings nie te selfvoldaan wees nie. “In de kerk geldt de Christokratie: Christus regeert” (Van den Heuvel 1991:24).

Uit reformatoriese hoek kan die oorspronge van kerkreg in die werk van Johannes Calvyn (1509–1564) teruggevind word (Plomp 1967:14) en dit verbaas nie dat hy naas ander werksaamhede in Genève hand by gesit het om ’n kerkorde te formuleer nie, bekend as die Ordonnances Ecclésiastique, wat op 20 November 1541 in die St Pierre-kerk vir die eerste keer voorgelees is (Pont 1981:21). In Roomse geledere is die kerkorde bekend as die Corpus iuris canonici, veel ouer (vgl Coertzen 1991:201–206; De Jong 1987:121) en was deel van die Roomse geskrifte wat Luther op 10 Desember 1520 in die openbaar verbrand het (De Jong 1987:162; Post 2003:18). Daaronder was ook die pouslike bul Exsurge Domine van 15 Junie 1520 waarop Pous Leo X Luther in die vorm van ’n verdere pouslike bul Decet Romanum Pontificem van 3 Januarie 1521, uit die Roomse Kerk geban het (Denzinger 2012:363; vgl Post 2003:18). Merkwaardig genoeg, deur Luther se swaar klem op die Woord wat alles sal doen, ag hy die invoering van ’n kerkorde nie nodig nie. As dit tog nodig is dat verdere maatreëls ingestel moet word, kan die politieke owerheid dit maar doen (Post 2003:19). Sodoende het die Landesherrliche Kirchenregiment in Duitsland tot 1918 stand gehou (Van den Heuvel 1991:30).

Kerkreg dui op die teologies-wetenskaplike beoefening van kerkreg as deel van die teologiese ensiklopedie wat aandag skenk aan die ius constitutum (die reg soos dit geformuleer is op ’n gegewe oomblik) en die ius constituendum (die reg soos dit behoort te wees) (Bouwman 1985:2, 13). Die beoefening van kerkreg loop daarop uit dat van die resultate uit ander teologiese vakgebiede geput word soos kerkgeskiedenis, dogmatiek met verwysing na die ekklesiologie as die locus de ecclesia, asook die praktiese teologie as kerklike praktyk waar die reg uiteindelik van toepassing gemaak word. Nog meer wesenlik egter is die twee Bybelwetenskappe Ou- en Nuwe Testament ter sprake as primêre bron vir die kerkreg (vgl Oostenbrink-Evers 2000:40; Coertzen 1991:120).

In die beoefening van kerkreg as ’n ius in sacra (die reg wat in die kerk beoefen word met die Skrif en belydenisskrifte as norm) kom noodwendig die ius circa sacra (die burgerlike wetgewing as wêreldlike regsbestel waarbinne die kerk hom bevind) ter sprake. Die onderskeid tussen albei vorme van reg is voor die hand liggend, naamlik by die kerkreg as ius in sacra is die Woord van God en belydenisskrifte normerende norme wat met alle respek nie deel vorm van die jurisdiksie van ’n regter van ’n wêreldlike hof nie (vgl Barth 1964:781).

Oor kerkreg sê Barth (1964:770–771): dit gaan oor wat hy noem Grundrecht, dit is die geheiligde verhouding tussen Jesus Christus en die menslike gemeenskap van heiliges. “Das ist aber das rechte Kirchenrecht, das von dem in der Kirche gültigen Grundrecht, d.h. eben von dem christologisch-ekklesiologischen Begriff der Gemeinde her zu erfragen ist”. Daarmee saam is kerkreg nie gelyk aan ius divinum (goddelike reg) nie, maar “sich selbst also in aller Strenge als ius humanum [menslike reg] verstehen” (Barth 1964:808). Belangrik in die verband is die uitgangspunt dus dat kerkreg ius sui generis (eiesoortige reg) is, wat nie gelyk geskakel moet word bloot omdat die woord reg ook na vore kom in die burgerlike wetgewing nie. “Recht: eben darin keinem anderen Recht zu vergleichen, ein ius sui generis” (Barth 1964:809). Coertzen stel dat “kerkreg omskryf kan word as die teologiese wetenskap wat die organisasie van die kerk in sy Skriftuurlike en historiese gestalte bestudeer” (Coertzen 1991:166). Spoelstra (1989:2) sien kerkreg as die teologiese vakwetenskap wat die geldende en bindende reëls wat God vir sy kerk gegee het uit die Skrif moet opdiep wat in die kerklike praktyk nodig mag wees . Kerkreg is die navorsing en handhawing van wat vir God goed en reg is vir sy volk oor wie Christus heerskappy voer. As wetenskap is kerkreg die dissipline wat die beginsels vir die instituering, die organisasie en die regering van die kerk uit die Skrif navors (Smit 1984:70–71). Een van die belangrike funksies van kerkreg is om die belydenis van die kerk in sy kerklike lewe waar te maak. “Dit is ’n wesenlike gevaar vir enige kerk dat hy Christus met die mond as sy Hoof kan bely maar Hom in die werklikheid van sy organisasie kan verloën” (Coertzen 1991:174).

In die Skriftuurlike navorsing na die kerkbegrip wat in die kerk as kerk van die Woord ter sprake kom, word uiteindelik ’n bepaalde ekklesiologie geformuleer as dié deel van die teologiese wetenskap wat besig is om die Skrif te ontgin met die oog op bruikbare kerklikheid (vgl Van Wyk 2017). In die verband sien Van de Beek (2012:224) kerkreg as ’n aspek van die ekklesiologie. Diversiteit in veral die Nuwe-Testament oor die kerk beteken dat verskillende fasette en beelde van kerk-wees gevind word. Die feit word deur Kärkkäinen (2002; vgl Minear 1960) en Pelser (1995) aangedui en deur Käsemann (1968:262) se uitspraak “Das Neue Testament schenkt uns keine ecclesiologia perennis, bietet uns jedoch ekklesiologische Grundtypen” bevestig. McGrath (2007:408) wys daarop dat die merktekens van die kerk soos aangedui in die Apostolicum, naamlik een heilig, katoliek en apostolies van belang geag word vir die ekklesiologiese debat sedert die vierde eeu. In die verband word ’n keuse gemaak as ’n mens nie anders kan nie, vir wat genoem kan word ’n Christologiese ekklesiologie.

Dit is ook die manier hoe Bender (2013) die ekklesiologie van Karl Barth beskryf. Bender wys daarop dat ekklesiologie ’n “derived system” is wat staat maak op ander teologiese dissiplines wat noodwendig daarop uitloop dat “the identity of the church is intimately connected to that of Christ”. Daarom gaan ekklesiologie nie net oor die kerk as sodanig nie, aangesien verskeie aspekte van die teologie as geheel ter sprake kom. “It is therefore impossible to say that it is either purely dogmatic or ethical, for ecclesiology includes both aspects, with either coming to the fore depending upon whether one is focusing on the church’s nature or activity” (eie kursivering) (Bender 2013:2–3). Barth (1960:135) se siening dat Dogmatiek Christologies gedrewe is, sluit sy ekklesiologie in, en geld derhalwe ook vir ekklesiologie as sodanig.

Eine kirchliche Dogmatik muss freilich im ganzen und in allen ihren Teilen christologisch bestimmt sein, so gewiss das von der Heiligen Schrift bezeugte und von der Kirche verkündigte offenbarte Wort Gottes ihr eines und einziges Kriterium ist und so gewiss dieses offenbarte Wort Gottes eben mit Jesus Christus identisch ist.

Moltmann (1975:24) deel die siening in sy stelling: “Is Christus voor de ‘kerk van Christus’ het subjekt van de kerk, dan zal ook voor een leer over de kerk de christologie het albeheersende thema van die ekklesiologie moeten zijn. Iedere uitspraak over de kerk zal een uitspraak over Christus zijn.”

Met verwysing na die Skriftuurlike fundering van ’n ekklesiologie as Christologiese ekklesiologie, is die verwysing na die Brief aan die Efesiërs van besondere waarde aangesien die skrywer die plaaslike gemeente as ‘t ware ignoreer en werk met ’n kosmologiese kerkbegrip waarin Christus Hoof oor alles (Ef 1:22–23) is en derhalwe ook oor die kerk.

Die beeldspraak in die brief aan die Romeine en die brief aan die Korintiërs word in Efesiërs uitgebrei in dié sin dat die hoof hier nie deel vorm van die liggaam nie, maar Christus is Hoof van die kosmos en derhalwe ook Hoof van die kerk. Alles is onder die voete en heerskappy van Christus omdat God Hom Heer van alles gemaak het en daarom is Hy ook Heer en Hoof van die kerk (Patzia 2011:172). Daardeur word ’n bepaalde voorrang aan die kerk verleen aangesien die Hoof van die kerk nie net Hoof van die kerk is nie maar Hoof oor die totale kosmos (Foulkes 2002:74). In die Efesiërbrief word die hoofskap van Christus oor alles en die hoofskap oor die kerk, in een sin genoem in die mate dat Hy Hoof is oor alles, die kosmos en alle magte en kragte en derhalwe ook oor die kerk. (Van Wyk 2016:143)

Die kerkbegrip wat kerkordelik hieruit afgelei word, is dus dat Jesus Christus Hoof en Heer van die kerk is en dat presbiteriaal-sinodaal, die tipering van die kerkordelike stelsel eie aan kerke in reformatoriese verband, kort en saaklik daarop neerkom dat presbiteriaal-sinodaal beteken: Jesus Christus is die Hoof van die kerk. “De erkenning, dat Jezus Christus de Heer is, het Hoofd der Kerk, en dat deze laatste Zijn Lichaam is, vormt de grondslag van het kerkrecht” (Oostenbrink-Evers 2000:282). Oostenbrink-Evers (2000:283) wys op ’n spanningsvolle tweesydigheid wat deur kerkbegrip verwoord word naamlik, die kerk as communio fidelium (vgl Calvyn 1992:1279), die gemeenskap van gelowiges en tweedens as kerk van die Woord waarin die objektiewe elemente van die kerk soos prediking, bediening van die sakramente en opsig ter sprake kom. Op grond van ’n bepaalde ekklesiologie word verwys na ’n bepaalde kerkbegrip wat in ’n kerk, maar meer in besonder in ’n kerkorde ter sprake kom.

Die begrip kerkorde kom as sodanig nie in die Skrif voor nie, maar is die resultaat van die vormgewing op grond van die Skrif vir die kerkorganisasie en die kerkregering (Smit 1984:57). ’n Kerkorde bied die fundamentele reëls vir die lewe en werk van die kerk, die leefreëls vir die kerk van Christus (Van den Heuvel 2004:15). Die kerkorde wil dus die kerk as die liggaam van Christus vanuit die Skrif in ’n verantwoorde orde plaas (Pont 1981:16). Van de Beek (2012:226) wys daarop dat ’n “kerkorde moet structuren aangeven om de kerk bij het geloof en in de gemeenschap van Christus te bewaren en niet alleen praktisch bestuurlijk de organisatie regelen.”

Eenvoudig gestel beantwoord ’n kerkorde die vraag hoe ’n bepaalde kerk rekenskap gee van sy omgang met die Woord van God as primêre bron vir die kerkorde en hoe die hoofskap van Christus tot uiting kom. Hierin lê die wesenlike uitgangspunt dat voortdurend in ag geneem moet word wat dit beteken dat Jesus Christus Hoof van die kerk is. Dit sluit alle episkopale neigings in die kerk uit en verklaar waarom die Roomse stelsel (as radikale voorbeeld) van reformatoriese kant onbruikbaar geag word. “God (Christus) regeert en ordent de Christenheid alleen door de genadegaven (charismata), die Hij schenkt. De apostelen hebben geen pauselijke macht uitgeoefend” (Van den Heuvel 1991:23). ’n Kerkorde is immers iets anders as ’n reglement van ’n vereniging. Die kerkorde is uitdrukking van wat die kerk is as ’n deur Christus vergaderde en byeen gehoue werklikheid. “Die orde representeert de orde van Christus in de conditie van de aardse bedeling: niet in de gestalte van de heerlijkheid, maar in de gestalte van het kruis” (Van de Beek 2012:225). Van de Beek maak op dieselfde bladsy die opmerking dat dit reg is wanneer die Rooms-Katolieke Kerk die kerkreg sien as ius divinum, maar dan alleen in die betekenis van trou aan die diens van Christus (eie kursivering). Dit moet die kerk nie verbaas nie dat oor eeue, ten minste sedert die Reformasie, die hardnekkige neiging na vore kom dat die kerk en sy besondere manier van doen (Skriftuurlike raadpleging) moeilik deur die wêreld buite die kerk aanvaar word. Dit is veral op die terrein van die kerkreg te bespeur omdat regsgeleerdes van die burgerlike regspleging kerklike reg sonder meer gelyk ag aan die reg wat in die burgerlike samelewing van toepassing is. Iemand wat nie deeglik in ag neem dat kerklike reg ius sui generis is nie, verwring die kerklike reg. Dit impliseer dat die kerk nie in howe moet beland om kerklike geskille by te lê nie en voorsittende beamptes nie verkwalik word dat hulle nie uit ’n kerklike (Skriftuurlike) hoek na die geskil (kan) kyk nie.

Voorbeelde hiervan is die appèlsaak van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) (saaknommer 536/96) oor kerklike eiendomme gedurende 1998, asook vroeëre hofgedinge soos die Kotze-saak (1999), die Du Plessis-saak (1931) asook die Schreuder-saak (1999) (Scholtz 2001). Ook in die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHKA) kan verwys word na die mislukte kerkvereniging van 1885 (vgl Engelbrecht 1936:399–402) wat op ’n hofbeslissing uitgeloop het gedurende 1893. Hier kan ook verwys word na die aangeleentheid tussen Geyser en die NHKA (1963) (Dreyer 2016) asook die lastereis tussen Pont versus Geyser en Naude (1968) waarin Pont skuldig bevind is.

Die relevansie van kerkreg in die kerk word waarskynlik nog beter geïllustreer in die hangende hofgeding wat sedert die nege en sestigste Algemene Kerkvergadering (2010) van die Nederduitsch Hervormde Kerk ontstaan het met die verklaring oor apartheid, beskrywingspunt 54 (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, NHKA 2010:108). Die onmiddellike gevolg van die aanvaarding van die beskrywingspunt was kerklike skeuring en gemeentes wat hulleself as die “steeds Hervormers” in ’n geloofsbond georganiseer het. Dit het ook daarop uitgeloop dat aanspraak gemaak is op gemeentelike eiendomme en oordrag daarvan, onder die indruk dat dit ’n gemeente vry staan om met meerderheid van stem van die NHKA af te skei (vgl NHKA 2016:10).

Kerkorde impliseer mense of dan kerklik gestel, gelowiges, wat aangewys word om leiding in ’n kerk te gee. In dié verband is ’n fyn balans ter sprake en wesenlik van aard sodat die charisma van die betrokkene nie uiteindelik die botoon voer wat op burokratiese wyse die kerk bestuur nie, maar gelowig in gedagte gehou word dat die kerk net één Hoof en Heer het. Balke (1971:20) het iets van hierdie fyn balans verwoord met die volgende opmerking: “Een presbyteriaal systeem helpt helemaal niets als het niet in de ambtelijke vergadering tot een gemeenschap onder Gods Woord komt, als het niet verder komt dan geruzie en getwist, omdat eigenzinnige pausjes telkens opstaan en niet willen gaan zitten.” In die verband is daarop gewys dat “[a]mbtsgewichtigheid is één der ergste vormen van ambtelijke ongehoorzaamheid. De ambtsdrager is “de vriend van de bruidegom’ die het bruidspaar verenigt en daarbij zelf minder moet worden (Johannes 1:29 v.)” (Nederlandse Hervormde Kerk, NHK 1970:40).

Vervolgens is dit bruikbaar om die kerkordes van sogenaamde hoof-stroomkerke in Suid-Afrika met mekaar te vergelyk aan die hand van bepaalde geykte kerkordelike uitgangspunte wat uit die reformatoriese kerkregtelike debat gemeengoed geword het van kerkordes uit dié kerklike verlede. Die volgende uitgangspunte word in die kerkordelike vergelyking benut:

  1. 3. Kerkordes van kerke van reformatoriese oorsprong in Suid-Afrika aan die hand van bogenoemde kerkregtelike uitgangspunte: ’n vergelyking

3.1 Inleidend

Die onderhawige kerke benut die gebruiklike begrip kerkorde vir die kerkordelike maatreëls eie aan kerke in reformatoriese verband sedert die Sinode van Middelburg 1581 (Jansen 1952:7). Hierin is reeds ’n bepaalde eiesoortigheid vervat wat nie net formeel van aard is nie, maar direk in verband staan met die aard en bedoeling van ’n kerkorde.

Formeel beskou is die kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) ’n voortsetting van die kerkorde wat tydens die Sinode van Dordrecht 1618–19 vasgestel is en mutatis mutandis aangepas is vir die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika soos goedgekeur tydens die Sinode van Reddersburg van 1862 (GKSA 2015:6). Die redes waarom die Nederlandse Hervormde Kerk nie ook die kerkorde van Dordt benut het nie was omdat geoordeel is dat die Dordtse kerkorde te veel na binne gekeer is en nie genoeg klem lê op “de dienst der kerk en haar plaats in de wêreld” nie. Die hoofmomente van die Dordtse kerkorde was geleë in die stryd met die Remonstrante oor die leer van die kerk en die stryd met die owerheid “over de staatsinvloed op kerkelijk erf” (Balke & Oostenbrink-Evers 1993:xxxix), die sogenaamde patronaatsreg (vgl kerkorde van Dordt 1618–19, artikels IV, XXVIII, XXXVII, L, Kersten 1980:177–187, 198).

3.2 Jesus Christus as Hoof en Heer

Dit is ’n gemene deler in die kerkordes van die kerke ter sprake dat Jesus Christus as Hoof en Heer van die kerk bely word. In die Gereformeerde kerkorde word die uitgangspunt sterk aan die koninkryk van God gebind soos verwoord deur Du Plooy in die inleiding van die betrokke kerkorde: “Die eintlike en allesoorheersende beginsel in die gereformeerde kerkregering is die koninkryk van God. Hiermee bely ons dat Christus die enigste Hoof van die kerk is, en dat Hy deur sy Woord en Gees sy kerk regeer” (GKSA 2015:11; vgl Spoelstra 1989:4). Dieselfde uitgangspunt word in die kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) aangetref wat in Oktober 2013 deur die Algemene Sinode vasgestel is: “... aangesien Christus die enigste Hoof, Koning en Meester van sy kerk is” (NGK 2013:2, Art. 4.2). Die uitgangspunt is ook opgeneem in die kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) wanneer in Ordereël 4 gestel word: “Jesus Christus is die enigste Hoof van die kerk” (NHKA 2016:42) wat ook in Ordereël 8 herhaal word (NHKA 2016:82). Ook in die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (VGKSA) word dieselfde uitgangspunt geformuleer in Artikel 7 van die kerkorde in die belydenis dat alles bely en gedoen word in gehoorsaamheid aan Jesus Christus (Plaatjies-Van Huffel 2008:432; VGKSA 2014:88).

3.3 Belydende begronding

Kerke bely hulle geloof in gemeenskap met die kerk van alle eeue in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Daarmee is die Bybel as Woord van God sentraal en normatief geplaas wat die maatstaf van kerkwees bepaal. Dit is een van die mees basiese kenmerke van kerke van reformatoriese oorsprong, naamlik om kerk te wees, dit beteken kerk van die Woord. Die belydenis van die kerk word enersyds verwoord in die drie ekumeniese belydenisskrifte, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis genoem na Athanasius. Verder ook in die sogenaamde formuliere van eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Leerreëls van Dordt. Dit is nodig om hier daarop te wys dat in die lig van die belydenis van die kerk as ekklesiologie, daar eintlik sprake is van net een kerk, naamlik die een, heilige en algemene Christelike kerk. Afsonderlike kerke is dus ’n verskyningsvorm van die een, heilige en algemene Christelike kerk, ten spyte van nuanse verskille wat aanduibaar is veral met
betrekking tot die ekklesiologie. Dit is nie kosmeties om ’n kerkorde te sien en te beleef as ’n kerkordelike formulering wat binne Skriftuurlik-ekklesiologiese verband die lig sien en in dié verband rigtinggewende betekenis in die kerk hét en verdien nie.

Artikel 53 van die Kerkorde van die GKSA verwys na die drie formuliere van eenheid wat deur professore en bedienaars van die Woord onderskryf en onderteken moet word. Dit geld ook vir ouderlinge en diakens. In die verband word die drie genoemde belydenisskrifte ook vermeld in die ondertekeningsformuliere waar van die genoemde ampsdraers verwag word om by aanvaarding van die onderskeie ampte, aan die hand van gepaste ondertekeningsformuliere te onderteken (Artikel 53, GKSA 2015:29, 90). Spoelstra (1989:297) beskou die geloofsbelydenis as die akkoord van kerklike gemeenskap (vgl Plaatjies-Van Huffel 2008:451; Strauss 2010:64), die bepalende faktor vir die kerk. Vermelding van die formuliere van eenheid soos vasgestel tydens die Sinode van Dordrecht van 1618–19 word ook in Artikel 1 van die kerkorde van die NGK vermeld (Strauss 2010:141; NGK 2013:1). Dieselfde gebeur by die NHKA (2016:1) asook in die kerkorde van die VGKSA (vgl Artikel 2; Plaatjies-Van Huffel 2008:451; VGKSA 2014:198, 203).

In verband met die belydenisskrifte eie aan kerke uit die reformatoriese tradisie word in noue verband met die belydenisskrifte ook proponentsformules aangetref waarin die ondertekenaar sy binding verklaar aan die belydenisskrifte en deur sy handtekening die sestiende eeuse belydenisskrifte as ’t ware eietyds maak. Dit gebeur in die GKSA soos reeds vermeld, asook in die NGK waar van voornemende bedienaars van die Woord verwag word om die legitimasieverklaring te onderteken (Strauss 2010:142; Artikel 6.1.3, NGK 2013:2), die NHKA (Ordinansie 3.1; NHKA 2016:20) asook by die VGKSA wat van voornemende bedienaars van die Woord verwag om ’n legitimasie-akte te onderteken (Plaatjies-Van Huffel 2008:452; VGKSA 2014:27).

In die verbygaan word daarop gewys dat bogenoemde ondertekening van wat genoem word ’n legitimasieverklaring (NGK), legitimasie-eed (VGKSA) of proponentsformule (NHKA) geskied op grond van ’n belangrike uitgangspunt, naamlik die sogenaamde quia uitgangspunt wat beteken dat die belydenisskrifte aanvaar word omdat daarin die korrekte uitleg van die Skrif gevind word. Dit staan in kontras met die quatenus standpunt wat die belydenisskrifte aanvaarbaar maak in so verre met die Skrif ooreenstemming gevind word. Die onderwaardering van die quia standpunt het in die kerklik-kerkregtelike verlede uitermate kerklike spanning teweeggebring, wat selfs separatisme of afskeiding tot gevolg gehad het. Uit die debat het ook die vraag na belydeniskerk en belydende kerk na vore getree, asook die siening dat die belydenis selfs juridies-konfessioneel beskou is op grond van die sterk verbindende krag wat aan die belydenisskrifte toegeken is waarop die waarskuwing gevolg het dat belydenis met kerklike eenheidswet verwar kon word (vgl Haitjema 1929; Fiolet 1953; Nauta 1969; Van ‘t Spijker 1985; Bakker:1986; Balke 1992).

3.4 Kerkorde en ekklesiologie

Die verwysing na Dingemans se siening dat ’n kerkorde in regsreëls vertaalde ekklesiologie is, kan moeilik sterk genoeg beklemtoon word. In die standpunt word kerklike betekenis aan die kerkorde verleen waardeur ’n kerkorde terselfdertyd uitgelig word bo die vlak van gewone sosiale verenigings en hulle konstitusies wat gelyk is aan die somtotaal van die meerderheidsmening van sy lede. ’n Ekklesiologiese bewussyn van die kerkorde as ekklesiologie en die implikasies daarvan vir die kerk as sodanig, vorm bruikbare gereedskap teen die siening van die burgerlike wetgewer wat ’n kerk as ’n gewone sosiale vereniging beskou, net soos elke ander sosiale vereniging wat tussen belangstellendes na goeddunke gevorm word. Hier kan verwys word na die uitspraak van appèlregter Harms in sy uitspraak oor die saak tussen die Nederduits Gereformeerde Kerk in Afrika (NGKA) en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGK) (Saaknommer 536/96) (vgl Post 2003:239).

Die noue verbintenis of selfs die identifikasie van kerkorde en ekklesiologie (mutatis mutandis), is wesenlik ’n Skriftuurlike relasie, sodat uiteindelik tot die slotsom gekom word dat ’n kerkorde in die relasie Skrif, belydenis en kerklike orde funksioneer en so tot sy reg kom.

Ekklesiologies beskou kan bepaalde nuanses in die onderhawige kerke aangedui word wat in meegaande artikel kerkregtelik ter sprake gebring word. Wesenlik kom dit daarop neer dat elke gemeente van ’n bepaalde kerk as ecclesia completa beskou word. Dit wil sê volledig kerk is om te doen en te wees wat eie aan ’n kerk is. Hier kan gedink word aan die bekende notae ecclesiae van Calvyn (1992:1280), wat bestaan in die regte verkondiging van die Woord, bediening van die sakramente volgens instelling, en kerklike dissipline, laasgenoemde as bydrae tot die wel-wese van die kerk. Hier kan ook die Moltmann (1975:153) standpunt ter sprake gebring word dat die kerk daar is waar Christus is (ubi Christus, ibi Ecclesia). In die lig van die heerskap van Christus oor sy kerk sal ekklesiologie tipeer moet word as Christologiese ekklesiologie, selfs nog meer: ’n Christologiese ekklesiologie met ’n eskatologiese visie (Moltmann 1975:32).

Op die manier en binne sodanige Skriftuurlike siening van die kerkorde as ekklesiologie kan die kerk nie vervlak tot ’n sosiale vereniging vir godsdienstige doeleindes nie. Wanneer sommige in die kerk dit nodig vind om tog ’n beroep te doen op die burgerlike wetgewer as ruimte waarbinne die kerk, kerk moet wees (ius circa sacra), word die kerk by implikasie vervlak tot ’n sosiale vereniging. Daar rus dus ’n appèl op die kerk om reg te doen, anders gestel om kerk van die Woord te wees. Die verwagting rus nie net op die kerk as geheel nie, maar ook op elke individuele lidmaat.

Met betrekking tot die ekklesiologiese nuanses tussen die genoemde kerke staan die GKSA waarskynlik die duidelikste uit as ’n versameling kerke wat op grond van ’n kerkverband met die belydenis as akkoord van gemeenskap, kerk is (vgl Smit 1984:64; Spoelstra 1989:297). Dit is ’n navolging van Kuyper se konfederatiewe kerkbegrip wat eksegeties gebaseer word op die Nuwe Testamentiese gebruik van die Griekse woord ekklésia.

Spoelstra (1989:5) is van mening dat die Bybel nie die woord ekklésia in die enkelvoud, vir die institusionele eenheid van ’n aantal gemeentes, soos die woord kerk vandag vir ’n denominasie, sinodale eenheid, verenigde kerkorganisasie of “kerkgenootskap”, gebruik nie (vgl Du Plooy 1979). “In het Nieuwe Testament betekent het enkelvoud ‘ekklēsia’ zowel de plaatselijke gemeente als ook de universele kerk, … Op elke niveau is de kerk een geheel, een enkelvoud. De plaatselijke gemeente is dus geen ‘onderafdeling’ en evenmin ‘autonoom’” (NHK 1970:44; vgl Van den Heuvel 2004:29).

Die mening van Spoelstra is op eksegetiese gronde debatteerbaar (vgl Van Wyk 2016), veral in die lig van die kerkbegrip wat in die Efesiërbrief ter sprake kom. Sodanige ekklesiologiese siening bepaal ook die samestelling en gesag van meerdere vergaderings met die vraag of sinodale vergaderings, vergaderings van kerke (gemeentes) is wat met ’n bepaalde lasgewing van die plaaslike gemeente sitting neem, en of, ’n vergadering van ampsdraers wat op grond van die Woord onder leiding van die Heilige Gees, poog om goeie besluite vir die kerk as geheel te neem. Hieruit vloei die vraag vanselfsprekend of sodanige vergaderings bindende besluite neem vir die kerk as geheel, en of die geneemde besluite onderhewig is aan ratifikasie van die plaaslike gemeente (vgl Du Plooy 2008). Spoelstra (1989:207) se uitleg oor die omvang van ’n afgevaardigde na ’n meerdere vergadering se geloofsbriewe en opdragte (Artikel 33), dui daarop dat afgevaardigdes ’n kerk verteenwoordig en hoegenaamd nie as lid van ’n sinode wat in eie reg bestaan en handel nie. Tog word in Artikel 31 gestel dat wat op ’n kerklike vergadering met meerderheid van stem besluit is, as vas en bindend beskou moet word (GKSA 2015:23–24).

Die sinodale vergadering van die NGK word saamgestel uit afgevaardigdes van gemeentes (Artikel 32) en die van die Algemene Sinode deur afgevaardigdes van sinodes (Artikel 38:1) (Strauss 2010:151, 152; NGK 2013:9, 10). Uit die geformuleerde taak van die Algemene Sinode blyk dat bindende besluite geneem kan word oor sake wat die kerk as geheel raak, soos die vasstelling van die belydenisskrifte, die kerkorde en liturgiese formuliere en gebruike (Artikel 43.1.6) (NGK 2013:11), maar ook die Kerk se gemeenskaplike identiteit in terme van Woord, belydenis, kerkorde, roeping en beleid (Artikel 43.1.1), ekumeniese verhoudinge (Artikel 43.1.2), vasstelling van belydenisskrifte, liturgiese formuliere, liederebundel en dies meer (Artikel 43.1.6). Hier is dus sprake van ’n Algemene Sinodale vergadering wat bindende besluite neem wat in die NGK as geheel van toepassing is.

In die VGKSA berus die gesag van kerklike vergaderings op die gesag wat deur Christus aan elkeen verleen is volgens sy eie aard, naamlik ius divinum permissivum, die reg wat God aan die kerk toegelaat het. Met verloop van tyd het ’n bepaalde verskuiwing ingetree weg van die Doleansie-kerkreg na die bevoegdheid van die Algemene Sinode (Bepaling 34.3) en veral na die dagbestuur van die moderatuur, met ’n voorsitter wat gedurende die reses waar die sinode nie in sitting is nie, kontinueer. Die dagbestuur het ’n senatus ecclesiasticus of super-kerkraad geword wat onderwerping vir hulle besluite en handelinge vra. Dit veral in tye wanneer die Algemene Sinode nie in sitting is nie en oor dringende aangeleenthede beslis moet word wat in algemene belang is en sonder tydsverlies beslis moet word met dien verstande dat die Dagbestuur se handelinge beperk is tot besluite van die Sinode. ‘Die Dagbestuur verteenwoordig dus die kerk in alle gevalle waarvoor geen voorsiening gemaak is nie’ (Plaatjies-Van Huffel 2008:465–467) (Kerkorde VGKSA 2014:200). Gesag van meerdere vergaderings vorm in die ooreengekome besluite van meerdere vergaderings op grond van die Woord van God en die kerkorde.

In die VGKSA soos in die NGK (vgl Artikel 34.3.7, NGK 2013:148, onder andere) word die begrip kerkverband gebruik tekenend vir die vrywillige toetrede van gemeentes in ’n kerkverband. So stel die kerkorde van die VGKSA in Artikel 48.1 dat die indeling van gemeentes in ringe tekenend is van die kerkverband in die VGKSA (Plaatjies-Van Huffel 2008:433, 445, 447; VGKSA 2014:56). Sowel by die VGKSA (2014:16) as die NGK word van een kerk gepraat (NGK 2013:i) wat uit verskillende gemeentes bestaan (NGK 2013:vii), terwyl in die GKSA (2015:87) sprake is van kerke wat vrywillig toetree in ’n kerkverband.

Die kerkregtelike begrip kerkverband kom nie in die NHKA voor nie. Die Kerk sien homself as een kerk wat bestaan uit die somtotaal van verskillende gemeentes op elke plek wat saam die een kerk vorm. Die Kerk is ’n gestalte van die een, heilige, algemene en apostoliese kerk, synde diegene wat deur God in genade uitverkies is en deur die Heilige Gees in Jesus Christus glo (Ordereël 2, NHKA 2016:5). Gelowiges word lidmate van die een NHKA en skakel daarna in by die gemeente waar iemand woonagtig is (Ordinansie 2.4, NHKA 2016:9).

Samevattend beskou kan geargumenteer word dat die GKSA ekklesiologies ietwat anders funksioneer as die drie ander genoemde kerke ter sprake in die sin dat gemeentes as kerke gesien word wat deur ’n kerkverband saamgesnoer word. Hierby kan gevoeg word dat gemeentes (of kerke) inderdaad ecclesia completa is, maar ook et incompleta. Dit is terugvoerbaar tot die Sinode van Emden 1571 wat in die klassikale vergadering eers die aangeleenthede hanteer het wat in elke gemeente ter sprake is. Daarna het die sake ter sprake gekom wat kerkrade nie alleen kon afhandel nie, maar ook ander gemeentes raak (Plomp 1971:91). Dit verwoord die rede waarom klassikale en sinodale vergaderings bestaan sedert die Kerkorde bekend as die Discipline Ecclésiastique (1559) as die eerste sinodale vergadering waar meer as een gemeente teenwoordig was (Pont 1981:48). Eenvoudig gestel kom dit daarop neer dat gemeentes nie alleen, in isolasie bestaan nie en sake behandel wat gemeentes nie alleen kan afhandel nie, asook aangeleenthede wat ook ander gemeentes raak. Daarom was die belydenis, die liturgie en die kerkorde tradisioneel die sake wat reëlmatig op die agendas van sinodale vergaderings verskyn het.

3.5 Ampte

Die drie ampte, bedienaar van die Woord, ouderling en diaken is oorbekend in kerke van reformatoriese oorsprong. In die verband is die uitspraak van Noordmans (1984:396) bekend dat Calvyn die Pous skaakmat geplaas het met die ouderling as pion op die skaakbord. Daarom is die verhouding tussen die drie ampte nie hiërargies van aard nie, aangesien die amp nie ’n officium, ’n hoë posisie nie, maar ’n ministerium, ’n nederige dienswerk is (Calvyn 1992:1317–1318; Pont 1981:197; vgl Spoelstra 1989:36; Graafland 1999:57). Die amp vertoon ook nie ’n character indelebilis wat daarop neerkom dat die amp aan die ampsdraer gebind word en dus lewenslank duur nie. Calvyn (1992:1319–1326; vgl NHK 1970:46; Rossouw 1988:128–149; Graafland 1999:61–75) verwys na die bekende uitspraak in Efesiërs 4:11 as begronding van sy ampsbegrip onder andere en hoewel oor sy interpretasie verskil van mening kan bestaan (vgl Van Wyk 2018) het die drie ampte soos gemeld daarna eie geword in kerke van reformatoriese oorsprong (Graafland 1999:55, 262; Renkema-Hoffman 2007:56). Dalk is die mees besondere van Calvyn se ampsleer en derhalwe van die Reformasie dat die amp gegrond is op die Skrif en dat die sola scriptura uitgangspunt van die Reformasie geld wat by implikasie ook die tota scriptura insluit (Graafland 1999:259). Soos Van Ruler (1952:70–71) tereg stel dat die amp nie spruit uit menslike toedoen en van buite die kerk ontstaan nie, maar kom uit die diepste wese van die kerk, naamlik Christus self en dit het besondere betekenis vir die Christologie.

Gevolglik word die drie genoemde ampte in die kerkordes van genoemde kerke in Suid-Afrika gevind (vgl NHKA 2016:17–40; NGK 2013:2–6; GKSA 2015:15–23; VGKSA 2014:24–45). Die feit kan seker met dankbaarheid geboekstaaf word, maar die vraag kom na vore of dit die volle waarheid verwoord, is alles wel met die amp(te) in die kerk hedendaags? Hoe ook al na Efesiërs 4:11 gekyk en verstaan word, moet nie nagelaat word nie om ook te sien dat die ampte of bedieninge waarna verwys word, bedoel was om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk en om die liggaam van Christus op te bou (Ef 4:12). Wesenlik is die amp nie van onder van mense nie, selfs nie eers van gelowiges nie, maar van bo en derhalwe van Christus, die Hoof van sy liggaam, die kerk. “Daarom is een ambtsdrager geen knecht van de gemeente of mond van de gemeente. Hij is knecht van Christus en juist in de bediening van het Woord van Christus dienaar van de gemeente (Kol 1:25)” (Renkema-Hoffman 2007:11–14).

Indien die ampte Skriftuurlik verantwoord is en moet word, kom veral in laasgenoemde verpligting ook die appèl na vore om opnuut na die ampte te kyk in Skriftuurlike verband. Dat die ampte sedert die Reformasie veral hedendaags onder druk gekom het, blyk onder andere uit die sinodale verslag van die Generale Synode van die Nederlandse Hervormde Kerk wat op 18 Februarie 1969 ter tafel gelê is (NHK 1970).

Tydens die twee en twintigste Sinodesitting van die NG Sinode Hoëveld gehou op 16 tot 18 Oktober 2018 (NGK 2018), is ’n skrywe behandel van die ring van Heidelberg ontvang op 21 Maart 2013 oor die funksionering van die ampte van ouderling en diaken (NGK 2018, Agenda:31). Hoewel die bestaansreg van die ouderling en diaken steeds erken word, is die mening egter dat gemeentes sukkel om die ampte in stand te hou en met ’n tekort aan ampsdraers van 52 persent te make het. Die mening is gestel dat die amp van ouderling en diaken selfs gekombineer kan word. Die advies van die taakspan wat aangestel is, het aanbeveel dat nie weggedoen word met die amp van ouderling en diaken nie en dat die kerkorde genoegsame voorsiening maak vir herstrukturering van die ampte (NGK 2018, Handelinge 6).

Die feit dat die tweejarige ampstermyn en die rotasiebeginsel met
betrekking tot die ampte van ouderling en diaken verval het omdat dit nie meer in die hedendaagse kerklike praktyk volhoubaar is nie, getuig van die veranderde omstandighede wat kerke mee te make het. Trouens dit is ook nie sonder meer dat vir elke wyk ’n ouderling en diaken gevind sal word nie. Behalwe dit bestaan die mening dat veral op die gebied van die ouderling die sterkste erosie plaasgevind het in die sin dat ouderlinge grootliks daarvoor verantwoordelik is aangesien nie noodwendig meer voldoen word aan die verwagtinge wat eie aan die amp van die ouderling is nie.

3.6 Anti-hiërargies

Dié uitgangspunt word reeds in die kerkorde wat volg op die Sinode van Emden gehou op 4 Oktober 1571 in die eerste artikel gestel dat geen kerk oor ’n ander kerk, geen ampsdraer oor ’n ander heerskappy voer nie (Kersten 1980:41). In die lig van die omstandighede waarin die kerk destyds verkeer het en in reaksie teen die Rooms-Episkopaalse vorm van kerkregering is die artikel begryplik, ook in ag genome die plek waar die artikel in die kerkorde geplaas is. Behalwe dit is dit wesenlik van aard en onontbeerlik in ’n kerk waar die Hoof- en Heerskap van Christus bepalend is.

Dié kerkordelike uitgangspunt is opgeneem in die kerkorde van die GKSA (2015:36), Artikel 84, asook in die kerkorde van die NHKA in Ordereël 4, (NHKA 2016:42). Met betrekking tot die NGK verwys Strauss (2010:40–41; 51–55; 77–80) na die betrokke beginsel waarin hy meld dat die ampte onderskei word met betrekking tot opdrag of taak, maar nie in rang of status nie. Die uitgangspunt geld dus ook in die NGK sonder meer soos blyk in die kerkordelike formulering dat “geen ampsdraer oor ander ampsdraers heerskappy voer nie”, (Artikel 4.2; NGK 2013:2). Die VGKSA (2014:26) laat eweneens geen twyfel daaroor dat “geen ampsdraer oor ander ampsdraers heerskappy voer nie, aangesien Christus die enigste Hoof, Koning en Meester van die Kerk is” (Streeksinodale Bepaling 2.3).

3.7 Anti-independentisties

Ook in navolging van Emden word aan die einde van dié kerkorde in Artikel 53, die anti-independentistiese uitgangspunt geformuleer, waarmee die kerkorde van Emden afgesluit word (Kersten 1980:53). Dit is van besondere kerkordelike belang, ook in die hedendaagse tydsgewrig, nie net met betrekking tot kerklike afskeidings nie, maar vir kerkordelike praktyke wat lyk na ’n hedendaagse of byderwetse independentisme wat in die praktyk daarop neerkom dat ék maak wat ék wil en jý maak wat jý wil (vgl Van Wyk 2020:9).

Die Kerkorde van die GKSA formuleer die uitgangspunt soos aangedui in Artikel 86 (GKSA 2015:36). Die kerkorde van die NHKA verwys in Ordinansie 4.4.4 (xviii) (NHKA 2016:56) na dié uitgangspunt in verband met sinodale besluite wat bindend is vanaf die oomblik waarop dit geneem is, tensy die vergadering anders besluit. Verandering van sodanige besluite gebeur tydens ’n buitengewone sitting (Ordinansie 4.5) of tydens die opvolgende sinodale samekoms wat in die NHKA bekend staan as ’n Algemene Kerkvergadering. Dit kan as ’n na binne gerigte anti-independentisme gesien word terwyl die kerkordelike vereiste wanneer ander of nuwe belydenisskrifte ter sprake is en verwag word om ander reformatoriese kerke, asook teoloë binne en buite die Kerk in die verband te ken (Ordinansie 1.4, NHKA 2016:4), as ’n na buite gerigte anti-independentisme tipeer kan word. Dit kom daarop neer dat besluite binne die kerk bindend is en dat besluite wat ander kerke raak soos met betrekking tot belydenisskrifte, ander kerke in die verband geken sal word. Daarmee saam word lidmate of ampsdraers ook daarop gewys om nie ’n beroep op ’n wêreldlike hof te doen alvorens die kerklike weg volledig gevolg is nie (Ordereël 8.5.3; Ordinansie 8.1.5, NHKA 2016:83, 86).

In die kerkorde van die NGK word ook vermeld dat die besluite van vergaderings bindend is, maar kan onder appèl in heroorweging geneem word. Terselfdertyd word ook gemeld dat besware nie na die burgerlike hof gerig word alvorens die kerklike middele eers aangewend en uitgeput is nie (Artikel 23.1, NGK 2013:7). Dit is in die kerkorde van die VGKSA (2014: 68, 110, 133, 149, 155) ook nie anders nie dat besluite bindend is en nie sonder meer negeer kan word nie. Plomp (1971:90) wys daarop dat anti-hiërargies en anti-independentisties mekaar uitnemend aanvul.

Wie alleen oog heeft voor het gevaar van de hierarchie vervalt gemakkelijk tot independentisme. Omgekeerd: wie alleen beducht is voor independentisme, heeft nauwelijks verweer tegen hierarchie. … Anti-hierarchisch en anti-independentistisch zijn negatieve typeringen als positieve equivalenten waarvan kunnen gelden: presbyteriaal en synodaal.

3.8 Rotasie

Die beginsel van rotasie word in een opsig in die kerkorde van die GKSA sterk gehandhaaf in die feit dat die praeses of voorsitter van ’n meerdere vergadering se verpligting as voorsitter termineer met die beëindiging van die vergadering (Artikel 35, GKSA 2015:24). Ook in Artikel 41 (GKSA 2015:25) word gestel dat ’n bedienaar van die Woord nie op twee agtereenvolgende vergaderings van die klassis as voorsitter dien nie.

In die NHKA kom rotasie steeds ter sprake by die verkiesing van lede van die ringskommissie volgens Ordinansie 4.2.3 (x) en (xii), asook met betrekking tot die verkiesing van ampsdraers vir die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aan die hand van Ordinansie 4.4.4 (vii) (NHKA 2016:52, 55).

In die kerkorde van die NGK word na rotasie verwys in verband met die oorvoorsiening van leraars en weinig vakatures wat tot gevolg het dat gesonde rotasie van predikante in gemeentes nie plaasvind nie (10.7, NGK 2013:122). Daarbenewens kies die kerkraad jaarliks ’n voorsitter uit die bedienaar(s) van die Woord en ouderlinge (Artikel 28, NGK 2013:8). Tydens ’n Algemene Sinode word die moderatuur gekies vir die duur van die vergadering (Artikel 40.1, NGK 2013:11) wat nie vir meer as twee termyne in dieselfde posisie verkies word nie (Artikel 40.2, NGK 201311), terwyl die Algemene Sinodale Moderamen voor die verdaging van die vergadering saamgestel word (Artikel 40.3, NGK 2013:11) aan die hand van die Reglement vir die Moderamen van die Algemene Sinode (NGK 2013:21). Daaruit blyk onder andere dat die moderator van die vorige Algemene Sinode as voorsitter van die Moderamen optree (2.9, NGK 2013:21). Uit die kerkorde van die VGKSA 2014:46–47) blyk die volgende reëling:

Die dienstermyn van elke ouderling en diaken is bepaal op twee agtereenvolgende jare, waarna hy/sy aftree, tensy hy/sy herkies word, maar as hy/sy vier jaar agtereen gedien het, mag hy/sy nie weer dien voordat hy/sy minstens een jaar buite diens gewees het nie. In uitsonderlike gevalle waar daar werklik ’n tekort aan nuwe kandidate bestaan, het die Ring of Ringskommissie wanneer die Ring nie in sitting is nie, die reg om van hierdie Bepaling dispensasie te gee.

Dit is ’n redelik sterk kerkordelike reëling met betrekking tot rotasie, gegewe die situasie waarin kerke hedendaags kerk moet wees.

3.9 Kerklike dissipline

Wanneer kerklike dissipline ter sprake kom, is die bekende siening van Calvyn (1992:1280) ter sprake wat in verband met sy sogenaamde notae ecclesiae, kerklike dissipline as die derde merkteken beskou het wat veral met die welwese van die kerk te make het. Die moontlikheid van kerklike dissipline kom steeds in die kerkordes van meegaande kerke ter sprake (vgl NHKA 2016:82–92; GKSA 2015:33–35; NGK 2013:15–18; VGKSA 2014:91–108). In elkeen van die rubrieke wat oor kerklike dissipline handel, kom ook die moontlikheid van appèl ter sprake (vgl NHKA 2016:90–91; GKSA 2015:37; NGK 2013:18; VGKSA 2014:104–107).

Vermelding van kerklike dissipline en die moontlikheid van appèl is nie uitsonderlik in kerkordes opgeneem nie, inteendeel. Die vraag hiermee saam is hoeveel tughandelinge jaarliks in die genoemde kerke plaasvind, veral met betrekking tot predikante, wat daarop uitloop dat persone uit die amp onthef word. Die mening bestaan dat daar deesdae ’n nuwe vorm van appèl ontstaan het wat daarop neerkom dat die kerkordelike weg links gelaat word en eerder ’n beroep gedoen word op die moontlikhede wat die burgerlike regspleging bied. Enkele voorbeelde daarvan kan genoem word wat in die NHKA (vgl Dreyer 2016), in die NGK (vgl Scholtz 2001; Kerkbode 18 Junie 2019), asook die VGKSA (vgl Post 2003:236–241) ter sprake gekom het en reeds aangedui is. Tot op datum is die uitstaande hofgeding wat sedert 2010 tussen die NHKA en die sogenaamde steeds Hervormers ontstaan het, nog hangende.

  1. 4. Slotsom

Dit kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie dat kerkreg veel belangriker is as wat betrokkenes dikwels bereid is om toe te gee. Dalk is die probleem dat kerkreg vir sommige vereng het en miskien nooit anders was as bloot net die kerkorde soos wat in elke kerk gevind word nie. Boonop ook net vir tye van meningsverskil en kerkordelike onvergenoegdheid wat soms ontstaan. Koffeman (2009:10) praat van ’n “forse argwaan” wat soms teenoor kerkreg ervaar word as die spreekwoordelike meulsteen om die nek wat spontane kerklike handelinge aan bande lê.

Laasgenoemde standpunt is ’n onmoontlikheid, ten minste nie as in ag geneem word dat kerkreg ekklesiologie is en wanneer dit gestel word kan ’n mens nie anders as om toe te gee dat ekklesiologie Christologies van aard is. Hoe kan dit anders gestel word as dat: “Hy het alles onder sy voete gestel en Hy het Hom as Hoof bo alles aan die kerk, wat sy liggaam is, gegee, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef 1:22–23). Kerkbegrip en kerkreg lê in mekaar se verlenging en dit beteken dat nie net oppervlakkig en juridies na ’n kerkorde gekyk moet word as die noodmaatreël wat hopelik nooit benut hoef te word nie. Hieruit ontstaan die kritieke vraag: is die onderbenutting van kerkreg en kerkorde ’n kerkordelike probleem, of is dit dalk ’n Skriftuurlike probleem?

Die mening van Barth (1964:781) oor kerkorde is bruikbaar as “diejenige Ordnung, die die Gemeinde von ihrem Grundrecht her sich selbst … im Gehorsam gegen ihren Herrn selber zu finden, aufzurichten und zu handhaben hat.” Die Grundrecht waarvan hy praat setel in die verhouding tussen Christus en sy gemeente, daarom is kerkreg gebaseer op ’n Christologies-ekklesiologiese vertrekpunt en vorm sodoende die voorlopige daarstelling van die geheiligde mensdom in Jesus Christus (Barth 1964:767). In die verband dui Barth (1964:781, 787, 805, 815) aan dat kerkreg meer is as bloot die bundel waarin kerkordelike maatreëls saamgevat is, aangesien kerkreg as dienende reg, liturgiese reg, lewende reg en eksemplariese of voorbeeldige reg ter sprake kom (vgl VGKSA 2014:3).

Miskien is dit tog bruikbaar om wanneer kerkreg en kerkbegrip ter sprake kom en gemeenskaplik die uitdagings van die huidige tyd in die gesig te staar en die hoof te bied, tog sterker in die oog te hou dat daar eintlik net een kerk in die wêreld is, naamlik die een, heilige, algemene, Christelike kerk wat Sondae in eredienste nie net in Suid-Afrika tussen genoemde kerke nie, maar wêreldwyd deur alle Christene bely word. Die benadering kan dus en behoort derhalwe meer inklusief van aard as eksklusief te wees. Verskil van Skrifuitleg, benadering, kerkbegrip en kerkordelike maatreëls, is ’n gegewendheid maar in Skriftuurlike lig ook taamlik relatief.

Bibliografie

Bakker, W 1986. De Doleantie in den lande. Uitbreiding en consolidatie. In W. Bakker, O.J. de Jong, W. van ’t Spijker, L.J. Wolthuis (red.). De Doleantie van 1886 en haar geschiedenis. Kok: Kampen. 106–148,

Bakker, W 1992. Geschiedenis van de wetenschap van het kerkrecht. In W. van ’t Spijker en L.C. van Drimmelen (red.). Inleiding tot de studie van het Kerkrecht. Kok: Kampen. 20–31.

Balke, W. 1971. Berkhofs beroep op de gereformeerde traditie met name op Calvijn. In W. Balke en K. Exalto. Geen ander ambt. De Waarheidsvriend: Maassluis.

Balke, W. 1992. Heel het Woord en heel de Kerk. De Goot Goudriaan: Kampen.

Balke, W. en Oostenbrink-Evers, H. 1993. De commissie voor de kerkorde (1945–1950). Boekencentrum: Zoetermeer.

Balke, W. en Oostenbrink-Evers, H. 1995. De commissie voor de werkorde (1942–1944). Boekencentrum: Zoetermeer.

Barth, K. 1960. Kirchliche Dogmatik, I/2, EVZ: Zürich.

Barth, K. 1964. Kirchliche Dogmatik, IV/2, EVZ-Verlag: Zürich.

Bender, K.J. 2013. Karl Barth’s Christological Ecclesiology. Cascade: Eugene.

Bronkhorst, A.J. 1947. Schrift en kerkorde. N.V. Zuid-Holl: Den Haag.

Bouwman, H. 1985. Gereformeerd Kerkrecht, eerste deel. De Groot Goudriaan: Kampen.

Brunner, E. 1951. Das Missverständnis der Kirche. Zwingli Verlag: Zürich.

Calvyn, J. 1992. Institusie van die Christelike godsdiens, Deel 4. CJBF: Potchefstroom.

Coertzen, P. 1991. Gepas en ordelik. ’n Teologiese verantwoording van die orde vir en in die kerk. RGN: Pretoria.

Denzinger, H. 2012. Enchiridion symbolorum definitionem et declarationum de rebus fidei et morum / Compendium of creeds, definitions, and declarations on matters of faith and morals. Ignatius: San Francisco.

De Jong, O.J. 1987. Geschiedenis der Kerk. Callenbach: Nijkerk.

Dingemans, G.D.J. 1988. Kerkorde als ecclesiologische vormgeving. In W. van ‘t Spijker, L.C. van Drimmelen, (red.). Inleiding tot de studie van het Kerkrecht. Kok: Kampen.

Dreyer, W. 2016. Heretic or rebel? The heresy trial of Albert Geyser. HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 72(4):a3745. h p://dx.doi. org/10.4102/hts.v72i4.3745.

Du Plooy, A. Le R 1979. Ekklésia en meerdere vergaderinge. Th.M, verhandeling. PU vir CHO.

Du Plooy, A. le R 2008. ’n Kritiese analise van die begrip ratifikasie volgens die Gereformeerde Kerkreg. HTS 64(1):415–428.

Engelbrecht, S.P. 1936. Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Kaapstad / Pretoria: De Bussy / HAUM.

Fiolet, O.F.M. 195. Een kerk in onrust om haar belijdenis. Callenbach: Nijkerk.

Foulkes, F.F. 2002. The epistle of Paul to the Ephesians. An introduction and commentary. Eerdmans: Grand Rapids.

Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (GKSA). Kerkorde soos gewysig in 2015. Calvyn Jubileum Boekefonds: Potchefstroom.

Graafland, C. 1999. Gedachten over het ambt. Boekencentrum: Zoetermeer.

Haitjema, T.L. 1929. Gebondenheid en vrijheid in een belijdende kerk. Veenman: Wageningen.

Jansen, J. 1952. Korte verklaring van de Kerkorde der Gereformeerde Kerken. Kok: Kampen.

Kärkkäinen, V. 2002. An introduction to Eccelesiology. Inter Varsity Press: Madison.

Käsemann, E. 1968. Exegetische Versuche und Besinnungen. Zweiter Band. Vandenhoek & Ruprecht: Göttingen.

Käsemann, E. 2007. Jesus means freedom. Fortress: Minneapolis.

Kersten, G.H. 1980. Kerkelijk Handboekje. De Banier: Utrecht.

Koffeman, L.J. 2009. Het goed recht van de kerk, een theologisch inleiding op het kerkrecht. Kok: Kampen.

Lubbe, J. 2019. Wat drie hofsake ons leer. Die Kerkbode, 18 Junie.

Luther, M. 2004. Table talk of Martin Luther. Bridge-Logos: Orlando.

McGrath, A.E. 2007. Christian Theology. Blackwell: Malden.

Minear, P.S. 1960. Images of the church in the New Testament. Westminster: Philadelphia.

Moltmann, J. 1975. Kerk in het krachtveld van die Geest, bouwstenen voor een messiaanse ekklesiologie. Ambo: Baarn.

Nauta, D. 1969. De verbindende kracht van de belijdenisschriften. Kok: Kampen.

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), Algemene Sinode Oktober 2013, Kerkorde 2013.

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), NG Sinode Hoëveld, Agenda, Handelinge, Advies van SRK en antwoord aan die ring van Heidelberg, 16–18 Oktober 2018.

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), Algemene Kerkvergadering 2010, Besluitebundel 2010.

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), Algemene Kerkvergadering, Kerkorde, 2016.

Nederlandse Hervormde Kerk (NHK), 1970, Studierapport over het ambt, aangeboden door de generale synode van de Nederlandse Hervormde Kerk, krachtens besluit van haar vergadering van 18 Februarie 1969. Boekencentrum: ‘s-Gravenhage.

Noordmans, O. 1984. Verzamelde werken. Deel V. Kok: Kampen.

Oostenbrink-Evers, H. 2000. Beginselen en achtergrond van de Kerkorde van 1951 van de Nederlandse Hervormde Kerk. Boekencentrum: Zoetermeer.

Patzia, A. G. 2011. Ephesians, Colossians, Philemon. BakerBooks: Michigan.

Pelser, G.M.M. 1995. Die kerk in die Nuwe Testament. HTS Teologiese Studies/Theological Studies 51(3):645–676. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v51i3.1421.

Plaatjies-Van Huffel, M. 2008 Die Doleansiekerkreg en die kerkreg en kerkregering van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerke en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Plomp, J. 1967. Presbyteriaal-episcopaal? Kok: Kampen.

Plomp, J. 1971. De kerkorde van Emden. In D. Nauta, J.P. van Doorn en O.J. de Jongh, (red.). De Synode van Emden 1571–1971. Kok: Kampen. 88–121.

Pont, A.D. 1981. Die historiese agtergronde van ons kerklike reg. Deel 1. HAUM, Pretoria / Kaapstad.

Post, J.J.H. 2003. Een sikkel in een vreemde oogst. Groen: Heerenveen.

Renkema-Hoffman, M. 2007. Naar een nieuwe kerkenraad. Apeldoornse Studies 48. Koninklijke Drukkerij: Callenbach.

Rossouw, P.J. 1988. Aspekte van die ampsbeskouing van Calvyn. In P.J. Rossouw (red.). Gereformeerde ampsbediening. NGKB: Pretoria. 128–149.

Scholtz, A. 2001. Die kerk en die regbank – ’n nabetragting na aanleiding van die Schreuder-saak. NGTT 42(1&2):184–191.

Schweizer, E. 1979. Church order in the New Teatament. SCM: London.

Smit, C.J. 1984. God se orde vir sy kerk – ’n beskouing oor kerkorde. NG Kerkboekhandel: Pretoria.

Sohm, R. 1892. Kirchenrecht. Erster Band. Duncker & Humblot: Leipzig.

Spoelstra, B. 1989. Gereformeerde kerkreg en kerkregering. ’n Handboek by die Kerkorde. Hammanskraalse Teologiese Skool, V&R: Pretoria.

Strauss, P.J. 2010, Kerk en orde vandag. Met die klem op die NG Kerk. Sun Media: Bloemfontein.

Van de Beek, A. 2012. Lichaam en Geest van Christus. De theologie van de kerk en de Heilige Geest, Spreken over God 2.2. Meinema: Zoetermeer.

Van den Heuvel, P. 1991. De Hervormde Kerkorde een praktische toelichting. Boekencentrum: Zoetermeer.

Van den Heuvel, P. (red) 2004. De toelichting op de kerkorde van de Protestantse Kerk in Nederland. Boekencentrum: Zoetermeer.

Van der Walt, J.J. 1976. Christus as Hoof van die Kerk en die presbiteriale kerkregering. Pro Rege: Potchefstroom.

Van Ruler, A.A. 1952. Bijzonder en algemeen ambt. Callenbach: Nijkerk.

Van ‘t Spijker, W. 1985. De kerk bij Hendrik de Cock. Apeldoornse studies 21. Kok: Kampen.

Van Wyk, B.J. 2016. Jesus Christus as kefalē en die Gees as arrabōn vir die ekklēsia: ’n eksegeties-hermeneutiese studie. Ongepubliseerde PhD-proefskrif. Noordwes-Universiteit.

Van Wyk, B.J. 2017. Efesiërs 1:14 en 1:22, 23 as ’n skriftuurlike maksimum minimum vir die ekklesiologie. HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(1):a4073. https://doi. org/10.4102/hts.v73i1.4073

Van Wyk, B. 2018. The application of Ephesians 4:11 in the recent missional debate with reference to Scripture. In die Skriflig 52(3):a2305. https://doi. org/10.4102/ids.v52i3.2305

Van Wyk, B.J. 2020. Kerkordelike toleransie en die reg van usansie. HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(1):a5634. https://doi.org/ 10.4102/hts.v76i1.5634

Verenigende Gereformeerde Kerk van Suider-Afrika (VGKSA), Die Kerkorde, Bepalinge en reglemente, Streeksinode van die VGKSA soos op 13–17 Oktober 2014, Goudini Spa, Rawsonville.