Stellenbosch Theological Journal 2022, Vol 8, No 3, 139–162

DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2022.v8n3.a7

Online ISSN 2226-2385 | Print ISSN 0028-2006

2022 © Pieter de Waal Neethling Trust

Andrew Murray Jr
as entrepreneur

Montagu Murray

Nova Instituut, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

montagumurray@nova.org.za

Abstract

This article explores a novel perspective on Andrew Murray Jr, namely his entrepreneurial spirit and characteristics. Instead of building on the view that he was a mystic who gained his energy to contribute to the practical challenges of everyday life in the spiritual realm, the article explores to which extent Murray’s role in the modernisation of Christian mission and education in South Africa can be attributed to an entrepreneurial character. The article investigates how his family history, personality, and exposure to various influences during his early life, shaped him to approach his ministry entrepreneurially. These influences include elements from various strands in the protestant tradition, including Lutheranism, Calvinism, pietism, Methodism, and the inner-worldly asceticism of English puritanism, as famously described by Max Weber. The analysis concludes that Andrew Jr approached his calling of preaching the gospel and growing the church to convert unreached souls to the love of Christ in an entrepreneurial manner.

Keywords

Andrew Murray; Christian entrepreneurship; Methodism; Max Weber; Christian mission; Nova Institute

Inleiding

Met die 150ste herdenking van Andrew Murray sr se aankoms in die Kaap in 1822, is Die Kerkbode, Jaargang 124 van 1972, aan die Murrays se invloed gewy.1 Drie temas wat in die artikels van die 1972-feesuitgawe uitstaan, is die Murrays se bydrae tot die onderwys, die sending en die dieper geestelike lewe. Die besondere bydrae van Andrew Murray jr word uitgesonder weens die leidende rol wat hy in die kerk en land gespeel het oor ʼn tydperk van 60 jaar.2

De Villiers is van mening dat Andrew Murray jr se passie vir sending en opvoeding gevorm is deur sy Skotse evangeliserende tradisies, maar ook deur die godsdienstige diskoers in Skotland.3 Hy maak uiteindelik die gevolgtrekking:

Terwyl Murray aktief aan die skryf was aan sy bevindelike boeke met hul mistieke trekke, was hy ook ’n aktivis in samelewings- en kerklike kontekste. Op nugtere wyse het hy met albei sy bene in die werklikheid gestaan. Die mistikus wat in hemelse sfere sy geestelike energie vind, stort en vind terselfdertyd ook energie in ’n aardse, alledaagse lewe.4

De Villiers se ontleding impliseer dat Murray sy energie om nugter in die alledaagse samelewings- en kerklike kontekste op te tree as “mistikus in hemelse sfere” gevind het. In hierdie artikel word ʼn nuwe perspektief op Murray ondersoek, naamlik, of Andrew Murray jr se sukses in die stigting van die sending en onderwysondernemings toegeskryf kan word aan sy entrepreneursgees en -eienskappe. Die bedoeling is nie om Murray-as-mistikus teenoor Murray-as-entrepreneur te stel op ʼn wyse waarop hierdie perspektiewe noodwendig mekaar wedersyds hoef uit te sluit nie. Die bedoeling is wel om ʼn nuwe perspektief op Murray se bydrae te ondersoek wat nog nie aandag ontvang het nie. Entrepreneurskap word tans vanuit verskeie akademiese dissiplines bestudeer, byvoorbeeld sosiologie, industriële psigologie en ekonomie.5 Hoewel die artikel kortliks na enkele hedendaagse perspektiewe verwys, is die bedoeling nie om die mees resente perspektiewe op entrepreneurskap aan die orde te stel nie. Daar word eerder aansluiting gevind by die perspektief van Max Weber (21 April 1864–14 Junie 1920 ), ʼn tydgenoot van Murray (9 Mei 1828–18 Januarie 1917). Die werk van Weber is veral interessant omdat hy die verband tussen die Protestantse geloofsoortuiging en die arbeidsondernemings van entrepreneurs aanroer, veral in sy bekende werk Die Protestantse etiek en die gees van kapitalisme.6 Dit maak hom ʼn gepaste gespreksgenoot om die geloofs- en familietradisies van die Murrays verder te ondersoek.

Enkele meer resente perspektiewe op die tipiese persoonseienskappe van entrepreneurs word daarna kortliks in oorweging geneem. Beide Weber se standpunt en die meer resente perspektiewe word geïntegreer in die verdere ondersoek na Murray jr as entrepreneur onder die opskrifte:

Die Protestantse etiek en die gees van kapitalisme

Max Weber se boek, Protestantse etiek en die gees van kapitalisme, het in 1904 tot 1905 as artikels begin en is in 1930 vanuit die Duits in Engels vertaal.7 Dit word as een van die mees invloedryke werke van die afgelope eeu in Sosiologie beskou.8 In hierdie ondersoek is die klem nie daarop om die meriete van die omvangryke akademiese debat wat gevolg het op die Weber-tese in die algemeen te ondersoek nie.9 Die bedoeling is eerder om na te gaan in hoe ʼn mate Weber se oorspronklike beskrywings in die Murrays se gesins- en geloofstradisie waargeneem kan word. Daar word vervolgens eerstens gekyk na enkele van Weber se hoofargumente en later in hierdie artikel hoe dit in die Murray-familie en in besonder by Andrew jr beslag vind.

Om Weber se argument te verstaan is dit eerstens van kardinale belang om die onderskeid tussen mense se universele impuls om dinge te wil hê vir behoeftebevrediging enersyds, en die gees van moderne kapitalisme andersyds te verstaan. Weber wys daarop dat die impuls om geld te versamel vir behoeftebevrediging nog altyd bestaan het.10 Dit is egter nie gelyk te stel met kapitalisme nie en met name nie aan die gees van moderne kapitalisme nie. Trouens, soos Weber dit stel: “Capitalism may even be identical with the restraint, or at least a rational tempering, of this irrational impulse. But capitalism is identical with the pursuit of profit, and forever renewed profit, by means of continuous, rational, capitalistic enterprise.”11

In die Westerse wêreld het die rasionele organisering van arbeid anders ontwikkel as elders. Besigheid is losgemaak van die huishouding en finansiële boekhouding is ingevoer. Hierdie verskynsels het vir die eerste keer ʼn sober middelklas-kapitalisme moontlik gemaak waarin die rasionele organisasie van vrye arbeid kon plaasvind.12 Deelname aan ekonomiese aktiwiteite veronderstel eienaarskap van kapitaal of blootstelling aan duur onderwys of dikwels beide.13 Weber merk op dat daar ʼn verskil is in die tipe hoër onderwys wat Katolieke en Protestante aan hul kinders gee in streke soos Baden, Beiere en Hongarye. Minder Katolieke as Protestante word opgelei om uiteindelik besigheidsmense te word en hy skryf dit daaraan toe dat “the mental and spiritual peculiarities acquired from the environment, here the type of education favoured by the religious atmosphere of the home community and the parental home, have determined the choice of occupation, and through it the professional career.”14

Die toetrede tot die besigheidsektor kan veral waargeneem word onder nasionale en religieuse minderhede wat deur die heersende politieke owerhede uitgesluit word van geleenthede.15 Dit is verder vir Weber opmerklik dat Protestante, ongeag of hulle aan bewind was of nie en ongeag of hulle die meerderheid of die minderheid van die bevolking was, steeds meer as Katolieke geneig was tot die ekonomiese rasionalisme waaroor dit hier gaan. Hy lei daaruit af dat die rede hiervoor gesoek moet word in die intrinsieke kenmerke van die geloofsoortuigings self.16 Die Protestantse opvoeding bied die mees gunstige teelaarde vir die perspektief dat die gelowige geroepe is tot arbeid in diens van Gods koninkryk.17

Om aan te toon hoe die Calvinisme help om die tradisionalisme agter te laat, gee Weber die voorbeeld van ʼn moderne boer wat besluit om sy arbeiders te motiveer deur hulle die geleentheid te bied om meer te verdien as hulle langer en meer effektief kan werk. Maar die teenoorgestelde as wat bedoel word gebeur. In plaas daarvan om langer te werk om meer te verdien, kies arbeiders om minder te werk of net genoeg om steeds dieselfde as vroeër te verdien.18 Die moderne kapitalis daarteenoor het ʼn rasionele ingesteldheid om wins te vergroot. Die hoofdoel is nie noodwendig om geld te maak om onmiddellike behoeftes te bevredig of om in weelde te lewe nie. Dit is juis in Weber se bespreking die teenoorgestelde: Die gees van moderne kapitalisme wat met die Protestantse etiek in verband gebring word, vermy spandabelrigheid en voel oor die algemeen verleë oor ʼn weelderige lewenstyl. Weber verwys spesifiek na persone soos Menno, George Fox en Wesley vir wie die redding van die siel eerder as om geld te maak die einddoel van hul arbeid was.19

Daar is twee groot lyne in die Protestantisme rakende gelowiges se benadering tot geloofsekerheid:

The religious believer can make himself sure of his state of grace either in that he feels himself to be the vessel of the Holy Spirit or the tool of the divine will. In the former case his religious life tends to mysticism and emotionalism, in the latter to ascetic action; Luther stood close to the former type, Calvinism belonged definitely to the latter.20

Behalwe vir die calvinisme self, behandel Weber vervolgens enkele strome in die Protestantisme met unieke nuanses, met name die piëtisme, puritanisme en Baptisme.

Die feit dat die piëtisme sterk aansluiting vind by emosies, hef nie die rasionele en gedissiplineerde benadering in die asketiese lewenshouding op nie.21 In die piëtistiese kring was daar veral die idee dat die belangrikste waarde sendingwerk is en die belangrikste werk die roeping tot sending.22 Piëtiste het ʼn besondere aversie in filosofiese spekulasie en voorkeur vir empiriese kennis. Dit is nie ʼn afwysing van rasionaliteit in die algemeen nie, maar ʼn keuse vir ʼn spesifieke benadering tot kennis. Dit spruit uit die siening dat, net soos Christene geken word aan die vrug van hul geloof, God geken kan word uit die werke van sy hande.23 Die emotiewe kant van die piëtisme vind sterker aansluiting by Luther as by Calvyn.24

Die metodisme voeg ʼn verdere element by tot die piëtisme:

The emotional act of conversion was methodically induced. And after it was attained there did not follow a pious enjoyment of community with God, after the manner of the emotional Pietism of Zinzendorf, but the emotion, once awakened, was directed into a rational struggle for perfection … The emotional excitement took the form of enthusiasm, which was only occasionally, but then powerfully stirred, but which by no means destroyed the otherwise rational character of conduct.25

Enkele hedendaagse perspektiewe op entrepreneurskap

Max Weber se werk lê die basis vir verdere nadenke oor die betekenis van entrepreneurskap vanuit ʼn sosiologiese perspektief. Hierdie paragraaf kyk dus vlugtig na enkele hedendaagse perspektiewe op die tipiese karaktereienskappe van entrepreneurs om, in die verdere ondersoek na Andrew jr as entrepreneur, sowel die invloede van sy omgewing as sy persoonlikheid in gedagte te hou.

Business Dictionary definieer entrepreneurskap as die kapasiteit en bereidheid om ʼn besigheidsonderneming te ontwikkel, te organiseer en te bestuur om wins te maak ten spyte van die risiko’s daaraan verbonde.26

Fauchart en Gruber verbind entrepreneurskap met die uitdrukking van identiteit en self-interpretasie.27 Hulle maak in hul artikel, Darwinians, Communitarians, and Missionaries: The Role of Founder Identify in Entrepreneurship, van sosiale identiteitsteorie gebruik om verskillende tipes entrepreneurs se grondmotiewe beter te verstaan. Die Darwinistiese persoonlikheid word gedryf deur ekonomiese selfbelang. Darwiniste skroom nie om in kompetisie te tree met ander nie. Kommunitariërs daarteenoor, wil ʼn spesifieke gemeenskap se belange ondersteun en deur daardie spesifieke gemeenskap ondersteun word. Sendelinge wil ʼn visie of doelstelling tot voordeel van die groter samelewing bevorder. 28

Veral die volgende drie karaktereienskappe wat algemeen by entrepreneurs voorkom, is van belang vir hierdie ondersoek: 29

  1. 1. die visie (of roeping) om nuwe ondernemings aan te pak,
  2. 2. die bereidheid om risiko’s te loop, en
  3. 3. die doelstelling om wins te maak sodat die ondernemings kan uitbrei.

Max Weber se analise word saam met hierdie karaktereienskappe in gedagte gehou in die verdere bespreking van Andrew jr se gesins- en geloofstradisie, die invloede waaronder hy gekom het in Skotland en Nederland en die werk wat hy aangepak het, veral om die sending en onderwys uit te brei.

Andrew se gesins- en geloofstradisie

Die grondslag in die vorming van Andrew se identiteit is in sy ouerhuis gelê, waar hy die eerste 10 jaar van sy kinderlewe gebly het. Hy het op 10-jarige ouderdom saam met sy ouer broer John na Skotland vertrek om vanuit die ouerhuis van Andrew sr se broer John Murray in Skotland te studeer.30

Dit was eerder die ouers wat die visie gehad het om die seuns vir opleiding oorsee te stuur as die seuns self.31 Maar hoe het dit gekom dat Andrew Murray sr en sy vrou besluit het om die twee jong seuns, John en Andrew jr, op ʼn skip na Europa te sit om daar te gaan studeer? Andrew Murray sr moes immers goed vertroud gewees het met die risiko’s wat ʼn bootreis na Europa sou behels. In die dagboek wat hy gehou het toe hy in 1822 na Suid-Afrika gekom het, lees ons hoe die skip herhaaldelik in stormagtige toestande beland het en eenkeer byna gesink het toe dit op die rotse geloop het. Die angswekkende ervaringe moes nog vars in Andrew sr se geheue gewees het toe hy sy twee jong seuns vir die gevaarlike reis oorsee gaan aflaai het.32

Albei ouers se agtergrond het die belangrikheid van onderwys tot so ʼn mate ondersteun dat hulle gekies het om die risiko te loop en die opoffering te maak om hul twee jong seuns op so ʼn gevaarlike tog en vir so lang tyd weg te stuur vir blootstelling aan gehalte-onderwys. Die ouers was oortuig dat formele onderrig noodsaaklik is vir ʼn sinvolle beroepslewe. Dit is merkwaardig dat akademiese opleiding in al twee ouers se familiegeskiedenis vir geslagte nagespeur kan word. Die waardering vir die rasionele organisering van arbeid wat Weber by Protestante bemerk, was deel van Andrew jr se ouers se familiegeskiedenisse: Andrew Murray sr se oupa was Andrew Murray van Lofthills wat getroud was met Isabella Henderson. Haar familie kon glo haar herkoms aantoon van Alexander Henderson, ʼn belangrike grondlegger van die Gereformeerde kerk in Skotland.33 Henderson het in 1603 sy graad by die Universiteit van St. Andrews ontvang en is in 1610 daar aangestel as professor van retoriek en filosofie.34 Dit is moeilik om te bepaal presies hoe die belangrikheid van opleiding aan die nageslag gekommunikeer is. Dit is opvallend dat beide Andrew Murray sr en sy broer John sr goeie opleiding in Skotland ontvang het, ten spyte van hul pa, Andrew Murray van Clatt, vroeg oorlede is en hul gesin finansieel gesukkel het.

Die blootstelling aan akademiese opleiding kom nie net van vaderskant nie, maar ook van Andrew se moeder. Twee jaar na sy aankoms in Suid-Afrika, in 1824, het Murray sr na Kaapstad gereis waar hy die jong meisie, Maria Susanna Stegmann, ontmoet het.35 Hy het ʼn jaar later met haar getrou. Sy was maar sestien jaar oud en het nog nie naskoolse opleiding gehad nie. Daar word egter vertel hoeveel moeite Murray sr gedoen het om haar aan akademiese leesstof bekend te stel.36 Maria Stegmann was ʼn nasaat van ʼn bekende Hugenoot, Paul Roux, wat in 1688 uit Frankryk na Suid-Afrika gekom het ná die herroeping van die Edik van Nantes. Paul Roux het as Franse voorleser en skoolmeester aan die Kaap opgetree en sy Franse taalkennis is hoog aangeskryf.37

Maria Stegmann se oupa Hoppe was van Duitse afkoms en sy ingesteldheid herinner sterk aan Weber se beskrywing van die kapitalistiese gees onder Protestante wat nie wins nastreef vir onmiddellike behoeftebevrediging nie, maar spandabelrigheid vermy en oor die algemeen verleë voel oor ʼn weelderige lewenstyl:

He was of very ingenious turn of mind, and full of enterprise. Having in his youth assisted his father in a large weaving manufactory, he had some knowledge of business, and started a hat factory and afterwards a tannery. He was a true Christian, and a great friend of missions […] He had a great aversion to worldly conformity, to anything like vanity or dissipation.38

Die vroomheid van die Murray-gesin waaraan Andrew jr in sy eerste tien lewensjare blootgestel is, kan verder gesien word in die beskrywings van hul alledaagse lewe. Van Murray sr word vertel dat hy die gebruik gehad het om op Vrydagaande te bid vir herlewing.39 Sondae is streng gehou. Hulle het op ʼn Saterdag reeds vrugte gepluk en vleis gekook sodat die ete die Sondag maklik voorberei kon word. Dit was toelaatbaar om op ʼn Sondag in die tuin te wandel, maar boomklim en vrugte pluk was nie toegelaat soos op ander dae nie.40

Die Murrays se geloofstradisie resoneer met die beklemtoninge wat Weber in die piëtisme en Metodisme uitwys. Dit is eerstens opvallend dat Weber aanvoer dat die piëtisme se sterk aansluiting by emosies nie die rasionele en gedissiplineerde benadering in die asketiese lewenshouding ophef nie. Hierdie perspektief kan help om die weerstand van die Murrays teen die rasionalisme in perspektief te plaas. Dit was nie ʼn afwysing van rasionaliteit per se nie, maar wel ʼn afwysing van die toepassing van wetenskaplike metodes op die inhoud van die geloof op ʼn manier wat empiriese waarneming tot enigste kenbron verhef en die moontlikheid van transendente ingryping in werklikheid by voorbaat uitsluit. Dit bied ʼn moontlike verklaring vir die Murrays se belangstelling en prestasie in fisika en wiskunde as die bestudering van Gods handewerk in die natuur.41

Die waardering vir die rasionele organisering van arbeid, wat Weber as deel van die moderne gees van kapitalisme uitwys, was sterk gevestig in die gesinskultuur van die Murrays. In hierdie afdeling is gesien hoe hierdie waardering vir ʼn akademiese opleiding daartoe gelei het dat Murray sr en sy vrou, Maria, bereid was om die risiko en opoffering te loop om hul twee jong seuns, John en Andrew, oorsee te stuur vir opleiding. Dit strook met Weber se waarneming dat die religieuse atmosfeer in die huisgesin daartoe bydra dat meer Protestante (as gevolg van die sterk klem wat hulle op onderwys lê wat hulle voorberei vir sekere beroepe) besigheidsmense word as Katolieke.42

Invloede in Skotland en Nederland

Hier word slegs na enkele invloede tydens Andrew jr se verblyf in Skotland en Nederland verwys, naamlik dié wat betrekking het op aspekte wat Weber aanroer. Daar word eerstens vlugtig aandag gegee aan enkele invloede op Andrew jr se roepingservaring en tweedens aan invloede wat die binnewêreldse asketisme by hom kon versterk.

Andrew jr en sy ouer broer John is tydens hul verblyf oorsee beïnvloed deur die korrespondensie met hul vader.43 Dit is bekend dat Murray sr se opinie hoog aangeskryf en gerespekteer is deur sy kinders.44 Murray sr se briewe aan sy twee seuns tydens hul verblyf oorsee laat die indruk dat hy die roeping tot predikant as die hoogste roeping beskou. Nogtans laat hy die keuse aan sy seuns oor om self hul beroepe te kies. Andrew sr skryf op 20 Januarie 1842 aan sy seuns:

You seem to think it about time that I should express myself as to what profession I should wish you to make choice of; I think it will be time enough to do so by and bye. As to what John hints as to his predilections for farming, I must say I once felt something similar. But to study the improved methods of agriculture practiced in Scotland and come to South Africa, where in all inland districts nothing will grow without irrigation, and on an extensive and expensive farm there is often only water for a garden, or for sowing two or three buckets of wheat, would be perfectly ridiculous […] Should you feel inclined to turn your attention to theology or medicine or mercantile pursuits, I have no doubt there will always be openings at the Cape as well as other places. If I were in your circumstances, I should cast an eye toward the Indian Missions; there is something there worthy of the ambitions of great minds.45

In ʼn latere brief van Oktober 1843 skryf hy:

I feel a strong confidence that you have not been sent from Africa to Europe to obtain a liberal education, but for some truly worthy purpose […] I trust you will see not to disappoint our expectations and enter on avocations you might equally well have acquired here, without ever having left our shores. It has been lately proposed by our Governor to employ four additional clergymen in connection with our Church […] I shall, however, endeavour to leave the matter in His hands Who has thus far led us on. You will make the subject a matter of prayerful consideration.46

Uit die korrespondensie kan afgelei word dat Andrew sr en sy vrou die twee seuns, John en Andrew, in die eerste plek gestuur het om goeie onderwys te ontvang. Die finale beroepskeuse is aan hul eie oordeel oorgelaat, hoewel Andrew sr sy verwagtinge in hierdie verband sonder skroom gekommunikeer het. Dit is opmerklik in Andrew sr se skrywes dat die tipe rasionele organisering van arbeid waarna Weber verwys, in sy denke aanwesig is. Sy reaksie op sy oudste seun John se oorweging van boerdery as loopbaankeuse is nie om dit teenoor akademiese studie te stel nie: Hy noem byvoorbeeld nie dat akademiese studie nutteloos is vir boerdery nie. Sy argument is eerder dat die studie van verbeterde landboumetodes nie noodwendig toepasbaar sal wees in Suid-Afrikaanse omstandighede nie. Dit is ook opmerklik hoe Murray sr die opoffering wat die gesin gemaak het, koppel aan ʼn hoër doel.47

Beide die roepingsbelewenis en asketiese etiek is in Murray sr se briewe aanwesig. Hy gebruik sy eie roepingservaring as voorbeeld en druk sy seuns dit op die hart om te onthou dat hy hulle daarheen gestuur het vir hul eie belang.48 In ʼn brief van 23 April 1845, voor hulle vertrek vir studies na Utrecht in Nederland, vermaan hy sy seuns dat hulle versigtig moet wees ten opsigte van watter beskouinge hulle van studente en professore in Nederland hul eie maak. Julle moet julle deur die Gees laat lei, skryf hy, en oppas vir Schiedammer (dit is jenewer/“gin”) en die rook van tabak of sigare. Onthaal eerder julle vriende met die uitstekende tee en koffie wat daar in Holland te kry is.49

Andrew jr is nie net deur die briewe van sy vader beïnvloed nie. As jong seun het die verblyf by sy oom John Murray, wat ook ʼn predikant was, ʼn blywende invloed gelaat. Du Plessis se beskrywing van die seuns se aankoms in Skotland is insiggewend: “De jongens bereikten Aberdeen op zekere dag in de herfst van 1838, en reeds op de volgende dag nam hen hun oom John, die strenge Schotsche beschouwingen huldigde aangaande de zonde van ledigheid, naar de oude Grammar School.”50

Die streng puriteinse lewenshouding waarvan Weber praat, skemer deur in bogenoemde beskrywing van John Murray se beskouing van die “sonde van ledigheid” en “arbeid as korrektief op sonde”. Buiten vir sy oom John was een van die vroeë invloede op Andrew jr in Skotland die kontak wat hy met die jong prediker, William Burns, gehad het.51

Tydens hul studie in Nederland het John en Andrew jr hulle veral tuis gevoel in ’n groep genaamd Sechor Dabar (Gedenk die Woord), wat ten doel gehad het om die teologiese wetenskap te beoefen in die gees van die Réveil.52 Brümmer beskryf die Réveil as die

gemeenskaplike benaming vir ’n aantal geestelike opwekkingsbewegings wat in die eerste helfte van die 19de eeu in verskillende Europese lande voorgekom het. Die gemeenskaplike kenmerke van die Réveil was ’n afkeer van die rasionalisme van die Verligting, ’n diepgevoelde persoonlike ervaring van gemeenskap met God, en van daaruit ’n sterk beywering vir die uitbreiding van Gods koninkryk in die samelewing en die wêreld. 53

Brümmer wys daarop dat die vroomheid van die Réveil veral gemoeid was met sending, evangelisasie en sosiale diens en dat Réveil-mense méér geïnteresseerd was in die uitbreiding van Gods koninkryk as in teologiese spekulasies.54 Dit het ook implikasies vir die wyse waarop die betekenis van wedergeboorte geïnterpreteer word. Volgens Brümmer is wedergeboorte in die spiritualiteit van die Réveil iets eksistensieels en nie iets kenteoreties nie. “Dit is nie die ontdekking van my status nie, maar die verandering van my lewe […] Wedergeboorte is ’n daad, en nie ’n ontdekking nie.”55

Die invloede op Andrew Murray jr tydens sy verblyf as jong seun in Skotland en Nederland het bygedra tot die tipe spiritualiteit wat sy latere bediening gekenmerk het. Sy beskrywing van sy aanvanklike bekering, sy styl in prediking, soeke na herlewing en klem op heiligmaking toon sterk ooreenkoms met Weber se beskrywing van die Metodistiese spiritualiteit: “[…] the emotion, once awakened, was directed into a rational struggle for perfection. The emotional excitement took the form of enthusiasm, which was only occasionally, but then powerfully stirred, but which by no means destroyed the otherwise rational character of conduct.”56

Andrew jr as entrepreneur in sy bediening

Die bereidheid van Andrew Murray sr om die risiko te loop en die onbekende in te vaar, is voortgesit deur Andrew jr toe hy as jong predikant vanuit Bloemfontein tientalle gevaarlike reise aangedurf het om die Voortrekkers in die binneland as dominee te bedien.57 By beide Andrew Murray senior en junior sou ʼn mens die bereidheid tot risiko eerder kan verbind met ʼn geartikuleerde roepingbelewenis as met ʼn soeke na avontuur of ʼn algemene voorliefde vir die onbekende of ʼn strewe om geld te maak.

Dit is interessant vir hierdie ondersoek dat Emma, Andrew jr se vrou, kort na haar aankoms in Bloemfontein, waar Andrew in die bediening gestaan het, in ʼn brief aan haar ma noem dat sy en Andrew begin het om in die aande die History of the Early Puritans te lees.58 Andrew moes dus, behalwe vir die blootstelling aan die puriteinse spiritualiteit wat hy in sy ouerhuis en die huis van sy oom gehad het, ook bekend gewees het met die teologie van die puriteinse asketiese lewenshouding waarna Weber verwys het.59 Interessant is egter dat Andrew jr, anders as sy groot oupa Hoppe waarna vroeër in hierdie artikel verwys is, nie die puriteinse soberheid beoefen het tot die mate waartoe sommige mense dit verwag het nie. Emma, sy vrou, kom egter tot sy verdediging:

He (Andrew) has the character of being extravagant, but I think it is more that [other people] are so close & stingy & can so little comprehend large views. Now my husband if he must get a book gets a good one. He is fond of giving his sisters presents & they are generally the best dresses & shawls &c (sic) they ever put on.60

Andrew se openheid om nuwe benaderings te ondersoek en deel te maak van die wyse waarop hy ondernemings aanpak, is te bemerk in Emma se beskrywings van hoe hy sake aanpak, maar ook in hoe hy haar as ʼn volwaardige en gelyke gespreksgenoot aanvaar en behandel het.61

Andrew het tydens sy Bloemfontein-jare diep onder die indruk gekom van hoe belangrik onderwys is. Die geval van die Voortrekkerboere wat hy in die binneland bedien het, is interessant aangesien hulle sekere elemente van die gees van kapitalisme gehad het waaroor Weber praat. Die boere het naamlik arbeid georganiseer in belang van hul boerderyondernemings, maar Murray het agtergekom, in veral die doopgesprekke met ouers, hoe ʼn groot leemte die gebrek aan onderwys gelaat het. Dit het stelselmatig by Andrew jr die indruk van die relevansie van goeie kategese en Christelike onderwys in die algemeen versterk. In Weber se taal sou ʼn mens kan aanvoer dat Andrew jr die behoefte van die eindgebruiker verstaan het en die kategese as produk verbeter het.62 Andrew se vrou Emma verwoord hulle gewaarwording oor die belang van onderwys soos volg:

Education is our great theory of improvement with these people whose extreme ignorance is half the cause of their sin & misery, and perhaps the generation will show the fruits of our labour. To preach & talk to people who are incapable of thought is of little use, or whose thoughts are all stereotyped, received from father to son & held as a sacred inheritance.63

Teen hierdie agtergrond is dit verstaanbaar dat Andrew wou sorg dat daar meer onderwysers na Suid-Afrika toe kom. Hy was bereid om allerhande innoverende planne te maak om hierdie visie te laat realiseer. Tydens ʼn besoek aan Burgersdorp om sy vrou, Emma, aan sy broer John bekend te stel, het hy aan John ʼn idee voorgelê oor hoe hulle die befondsing kan vind om onderwysers uit Skotland en Holland in te voer. Emma skryf oor hierdie besoek die volgende:

My husband is so bold, he carries the day. John thought it doubtful if they should find 40 farmers willing each to lend them €10 for 3 years, to be paid back by instalments without interest & the loss to be divided, with only their names, Andrew’s & John’s, for security. Andrew asks & gets from the first man who calls, never fear is his motto, I think. He never anticipates difficulties or refusals & stirs his brother up. He insisted on his brother acceding to this plan, talked him over & made him draw up the regulations before he went to bed that night. John, not so sanguine, he wanted time to digest, but with Andrew an idea suggests itself, approves itself to his judgement & then he never rests till it is carried out.64

Andrew jr het op verskillende maniere geld ingesamel om gemeentewerk, sendingwerk en die Christelike onderwys te bevorder. Emma skryf in ʼn brief hoe sy gehelp het met die verkope van gesangeboekies en Bybels en daar word ook elders beskryf hoe die eerste bazaar op 23 Februarie 1858 as fondsinsamelingsgeleentheid gehou is.65 Andrew het nie net die teoretiese grondslag van Grey College help beplan nie; hy het ook belang gestel in die bouprojek. Emma meld in ʼn brief: “We have had several long walks in search of the best stone for building the College, even this comes under Andrew’s eye, & others for clay for the bricks […] Andrew is banker [for the money for the building].”66

In Weber se analise verskaf die vrug op arbeid bevestiging aan die gelowige Protestant van sy of haar uitverkiesing. Daar sou geargumenteer kon word dat die Murrays die uitbreiding van die kerk as besigheid benader het. Die groei in die sending en onderwys is as Gods seën ervaar. Vanuit Weber se perspektief sou die suksesvolle uitbreiding van die onderneming ook as bevestiging van uitverkiesing geïnterpreteer kon word. Joyce Murray se beskrywing van hoe die NG kerk vir die Murrays soos ʼn familiebesigheid was, sluit by hierdie gedagte aan:

To old Mr. Murray and his sons the Dutch Church had all the consuming interest of a Family Business. It demanded, and received, their entire devotion and loyalty; and this common interest strengthened the ‘ties of affection and kinship’ to the extent of gathering them into an almost charmed circle. When Mr. Murray, in 1852, was Moderator of the Synod, he was attended with great pride by three sons and two sons-in-law. They were all dressed of course, in sober black which was relieved only by the little white ministerial tie, but an imaginative outsider saw behind this something of a ghostly swing of the Kilt and heard the skirl of the bagpipes in attendance on the Chief of the Clan. He wrote an indignant letter to the Press, demanding that the number of members of one family in the Synod should be limited; six Murrays was too much of a good thing.67

Murray jr het die sending soos ʼn onderneming ontwikkel en uitgebrei. ʼn Mens sou, met inagname van Weber se onderskeid tussen die tradisionele benadering tot kapitalisme en moderne kapitalisme, kan sê dat Murray jr gehelp het om die sending van die NG Kerk te moderniseer. Die stigting van instansies het die organisering van sending- en onderwysarbeid op ʼn nuwe manier moontlik gemaak. Murray se belangstelling in onderwys het ontwikkel uit die leemte aan kennis wat hy onder doopouers en katkisante waargeneem het. Sy arbeid is gedryf deur die oortuiging dat sendingwerk die hoofdoel van die kerk is.68 Volgens Murray jr is daar nog “miljoene heidene en Mohammedane” buite die Christelike bearbeiding en dit is die taak van die kerk en individuele gelowiges om die Evangelie van Christus aan hierdie onbereikte siele te bring. Maar vir gelowiges om die goeie boodskap aan hierdie mense te kan bring, het hul kennis van God nodig. Veral kennis van die liefde van Christus. Hierdie kennis kry ʼn mens deur meer te leer in die Woord, deur die prediking en kategese, maar veral ook deur gebed. Gelowiges moet hulleself deur gebed oopstel vir die werking van die Heilige Gees.69

Weber wys op twee groot lyne in die Protestantse benadering tot geloofsekerheid. Die Lutherse benadering beklemtoon dat gelowiges ʼn voertuig in die hand van die Heilige Gees is en die Calvinistiese benadering beklemtoon dat gelowiges ʼn instrument is om God se wil uit te voer. Murray jr vind, ten opsigte van sy geloofservaring, sterk aansluiting by die Lutherse benadering. Maar in die wyse waarop hy sending en onderwys aanpak en institusionaliseer, is daar ook sterk aansluiting by die Calvinistiese benadering.

Die Murrays het ʼn visie gehad vir ʼn bepaalde tipe besigheid: die uitbreiding van die kerk in Suid-Afrika en elders ter wêreld deur ongeredde siele te bereik met die Evangelie. Goeie katkisasie help om die kerk te vestig en om gelowiges toe te rus vir ʼn heilige lewe. Die institusionalisering van die sending en onderwys was die wyse waarop die arbeid ten beste georganiseer kon word om hierdie roeping effektief deur te voer. Andrew Murray se benadering om die sendingonderneming te laat groei, was deur sendelinge en onderwysers te werf en hul opleiding te verbeter. Die kapitaal vir die uitbreiding van die onderneming is grootliks verkry deur fondsinsamelings. Gemeentes, predikante en gewone gelowiges is genader om geld te gee vir die sending.

Andrew se belangstelling in die mistiek hoef nie in spanning met sy entrepreneursingesteldheid gereken te word nie. Trouens, daar sou geargumenteer kon word dat die teologie van ʼn mistikus soos William Law, deur wie Murray beïnvloed is, elemente bevat van die tipe Protestantse etiek waarna Weber verwys.70 Neem byvoorbeeld die volgende aanhaling van Law:

Again, let a tradesman but have this intention, and it will make him a saint in his shop; his every-day business will be a course of wise and reasonable actions, made holy to God, by being done in obedience to His will and pleasure […] he will consider what arts, what methods, what application can make worldly business most acceptable to God, and make a life of trade a life of holiness, devotion, and piety.71

Gevolgtrekking

Hoewel Murray jr sterk te velde getrek het teen die rasionalisme in sy benadering tot die geloofsinhoud van die kerk en die teologiese opleiding, toon sy benadering tot die ontwikkeling van die sending en die onderwys die tipe rasionaliteit wat Weber met moderne kapitalisme verbind. Die gees van kapitalisme wat Weber in die Protestantse etiek uitwys, met name in die piëtisme en Metodisme, is beslis aanwesig in die gesins- en geloofstradisie van Andrew Murray jr. Die rede waarom juis Andrew jr se invloed so omvangryk was, kan onder andere toegeskryf word aan sy karaktereienskappe: hy was gedryf deur sy roeping, nie bang om risiko’s te loop nie en vasberade om die ondernemings wat hy aangepak het deur te voer en te laat groei. In die proses het hy bygedra tot die modernisering van die sending en onderwys in Suid-Afrika. Andrew Murray jr was nie net ʼn mistikus wat in hemelse sfere sy geestelike energie gevind het om in die alledaagse lewe betrokke te raak nie; hy was ʼn entrepreneur wat wou sien hoe die onderneming waartoe God hom geroep het, groei.

Bronnelys

Brümmer, V. (2013). Vroom of Regsinnig? Teologie in die NG Kerk. Bybel-Media.

Business Dictionary, http://www.businessdictionary.com/definition/entrepreneurship.html, accessed on 9 December 2018.

Cullen, et al, (2015). The role of belief in entrepreneurship – a Christian perspective. Conference paper: October 2010. [Online]. Available: https://www.researchgate.net/publication/281586369_The_Role_of_Belief_in_Entrepreneurship_-_A_Christian_Perspective [Accessed: 5 September 2020].

D’Assonville, V.E. (2003). The angle of incidence of Paul Roux’s catechism – a study on the theology of a French refugee at the Cape, in Acta Theologica, 2003:26-42.

Davidson, P. (2004). Review of Shane, S. 2003. A General Theory of Entrepreneurship: The Individual – Opportunity Nexus, in International Small Business Journal, 22(2):206-216.

De Villiers, P.G.R. (2015). Die nugtere mistiek van Andrew Murray, in LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe), Jaargang 12(3). [Online]. Available: https://www.litnet.co.za/die-nugtere-mistiek-van-andrew-murray/ [Accessed: 9 September 2020].

Du Plessis, J. (1920). Het Leven van Andrew Murray. Kaapstad: Zuid Afrikaanse Bijbelvereniging.

Encyclopædia Britannica. 13 (11th ed.). Cambridge University Press. [Online]. Available: https://en.wikisource.org/wiki/1911_Encyclop%C3%A6dia_Britannica/Henderson,_Alexander [Accessed: 10 September 2020].

Fauchart, E and Gruber, M. (2011). Darwinians, Communitarians, and Missionaries: The Role of Founder Identity in Entrepreneurship, in Academy of Management Journal, 54(5):935–957.

Green, E. (2016). What are the most-cited publications in the social sciences (according to Google Scholar)? LSE Impact Blog: London School of economics. [Online]. Available: https://blogs.lse.ac.uk/impactofsocialsciences/2016/05/12/what-are-the-most-cited-publications-in-the-social-sciences-according-to-google-scholar/ [Accessed: 5 September 2020].

International Institute of Sociology:[Online]. Available: https://www.isa-sociology.org/en/about-isa/history-of-isa/books-of-the-xx-century/ [Accessed: 2 September 2020].

Lane, J. (2017). Max Weber’s theory of civilizations today: the rule of law instead of capitalism! In Arts and Humanities Open Access Journal, Volume I, Issue I:4-9

Law, W. (1906). A serious call to a devote and holy life. London: J. M. Dent & Sons Ltd. Digitized by the Internet Archive in 2007 with funding from Microsoft Corporation.

Lee, H. (2006). The spirituality of Andrew Murray Jr. (1828-1917). A theological-critical assessment. PhD-thesis: University of the Free State.

Möller, G. S. J. (1972). Redaksionele voorwoord, in Die Kerkbode, Deel CIX, 714.

Murray, A. (1915). De Geestelijke Toestand der Kerk. Kaapstad: Hollandsch-Afrikaanse Uitgevers-Maatskappij, v/h Jacques Dusseau & Co.

Murray, A. (1944). Dr Andrew Murray, Versamelde Werke, Deel VIII, Die Sendingvraagstuk. Stellenbosch: Christelike Studentevereniging
van SA.

Murray, Joyce. (1954). The young Mrs. Murray goes to Bloemfontein, 1856-1860. Cape Town: A.A. Balkema.

Neethling. M. (1909). Unto Children’s Children: Lives and letters of the parents of the home at Graaf-Reinet, with short sketches of the life of each of the children and a register. London: T.H Hopkins and son.

Pienaar, P. “Emma Murray: An investigation into her person as well as her contributions to mission and education in South Africa - a historical-biographical study” (MTh diss., Stellenbosch University, 2019),

Ruef, M. and Lounsbury, M. (2007). Introduction: the sociology of entrepreneurship, in Research in the Sociology of Organisations, April 2007:1-30.

Van der Watt, P.B. (1979). John Murray, 1826-1882, Die Eerste Stellenbosse Professor. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel Transvaal.

Warton, J.H. (2006). Entrepreneurship: investing for big missions returns in the 21st Century, in Global Missiology. Featured article. [Online]. Available: http://ojs.globalmissiology.org/index.php/english/article/view/157/439 [Accessed: 2 September 2020].

Weber, M. (1930). The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism. Translated by Talcott Parsons, with an introduction by Anthony Giddens. First published 1930 by Allen and Unwin. This edition published in the Taylor & Francis e-Library, 2005.

1 Vgl. G. S. J. Möller, “Redaksionele voorwoord.” Die Kerkbode 124, No. CIX (Woensdag 7 Junie 1972), 714. Dit is insiggewend vir hierdie ondersoek dat hierdie redaksionele voorwoord beide die konsepte “arbeid” en “roeping” insluit.

2 Möller, “Redaksionele voorwoord,” 714.

3 Vgl. P. G. R. De Villiers, “Die nugtere mistiek van Andrew Murray.” LitNet Akademies 12, no. 3 (2015):15-16. https://www.litnet.co.za/die-nugtere-mistiek-van-andrew-murray/.

4 De Villiers, “Die nugtere mistiek van Andrew Murray,” 16.

5 Vgl. M. Ruef, and M. Lounsbury, “Introduction: the sociology of entrepreneurship”, in Research in the Sociology of Organisations, April 2007, p. 2.

6 M. Weber, The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism, trans. Talcott Parsons, with an introduction by Anthony Giddens. First published in 1930 by Allen and Unwin. This edition published in the Taylor & Francis e-Library, 2005.

7 Weber, The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism, vii.

8 Vergelyk die evaluering van die International Institute of Sociology: https://www.isa-sociology.org/en/about-isa/history-of-isa/books-of-the-xx-century/. Lane beskryf die belang van Weber se werk soos volg: “His The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism (1904) is the most discussed booklet in the social sciences, endorsed, rejected and falsified, as well as confirmed (J. Lane, “Max weber’s theory of civilizations today: the rule of law instead of capitalism! Arts and Humanities Open Access Journal 1, no. 1 (2017), 4).

10 The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism, xxxi.

11 Ibid., xxxi.

12 Ibid., xxxvii.

13 Ibid., 4.

14 Ibid., 6.

15 Vgl. ibid., 7: “Their ablest members seek to satisfy the desire for recognition of their abilities in this field, since there is no opportunity in the service of the State ... It has in earlier times been true of the Huguenots in France under Louis XIV, the Nonconformists and Quakers in England, and, last but not least, the Jew for two thousand years.”

16 Ibid.,. 7.

17 Ibid., 26.

18 Vgl. ibid., 24: “This is an example of what is here meant by traditionalism. A man does not ‘by nature’ wish to earn more and more money, but simply to live as he is accustomed to live and to earn as much as is necessary for that purpose.”

19 Ibid., 48.

20 Ibid., 68.

21 Vgl. ibid., 84: “[…] in so far as the rational and ascetic element of Pietism outweighed the emotional, the ideas essential to our thesis maintained their place. These were: (1) that the methodical development of one’s own state of grace to a higher and higher degree of certainty and perfection in terms of the law was a sign of grace; and (2) that ‘God’s Providence works through those in such a state of perfection’, i.e. in that He gives them His signs if they wait patiently and deliberate methodically.”

22 Ibid., 86.

23 Vgl. ibid., 215: “The favourite science of all Puritan, Baptist, or Pietist Christianity was thus physics, and next to it all those other natural sciences which used a similar method, especially mathematics […] The empiricism of the seventeenth century was the means for asceticism to seek God in nature.”

24 Ibid., 87: “The place of the self-confidence which the elect sought to attain, and continually to renew in restless and successful work at his calling, was taken by an attitude of humility and abnegation.”

25 Ibid., 92.

27 E. Fauchart and M. Gruber, “Darwinians, Communitarians, and Missionaries: The Role of Founder Identity in Entrepreneurship.” Academy of Management Journal 54, no. 5 (2011): 935–957.

28 Fauchart and Gruber, “Darwinians, Communitarians, and Missionaries,” 942-945..

29 Vgl. Cullen, et al, 2015. The role of belief in entrepreneurship – a Christian perspective. Conference paper October 2010. Accessed on Research Gate: July 2020; also, Warton, J. H. 2006. Entrepreneurship: investing for big missions returns in the 21st Century. Global Missiology, October 2006, Featured article. [Online]. Available: http://ojs.globalmissiology.org/index.php/english/article/view/157/439 [Accessed: 2 September 2020].

30 J. Du Plessis, Het Leven van Andrew Murray (Uitgawe van de Zuid Afrikaanse Bijbelvereniging, Kaapstad, 1920), 37, 41; asook, P.B. van der Watt, John Murray, 1826-1882, Die Eerste Stellenbosse Professor (Pretoria: N.G. Kerkboekhandel Transvaal, 1979), 20.

31 Du Plessis, Het Leven van Andrew Murray, 43.

32 Ibid., 22-27.

33 Ibid., 12.

34 Alexander Henderson, in Britannica, vol. 13 (11th ed., Cambridge: Cambridge University Press), 266–267. Vgl. ook https://en.wikisource.org/wiki/1911_Encyclop%C3%A6dia_Britannica/Henderson,_Alexander accessed 2 February 2019.

35 Du Plessis, Het Leven van Andrew Murray, p. 29.

36 M. Neethling. M. Unto Children’s Children: Lives and letters of the parents of the home at Graaf-Reinet, with short sketches of the life of each of the children and a register (T.H Hopkins and son. London. 1909), 64.

37 V. E. D’Assonville, “The angle of incidence of Paul Roux’s catechism – a study on the theology of a French refugee at the Cape.” in Acta Theologica 23, no.2 (2003): 26-42.

38 Neethling, Unto Children’s Children, 62-63.

39 Vgl. Neethling, Unto Children’s Children, 33: “He would shut himself up in the study, and read accounts of former revivals in Scotland and other countries, and sometimes come out of his study with Gillie’s Collection in his hand, and read us some account like ‘The Outpouring of the Spirit on the Kirk of Shotts,’ or the ‘Revivals in Kilsyth and Cambuslang’.”

40 Vgl. Neethling, Unto Children’s Children, 65-66.

42 Dit is interessant, gegewe die herkoms van Marie Stegmann, dat Weber by name die Hugenote noem as ʼn minderheidsgroep wat genoop was om besigheidsmense te word as gevolg daarvan dat hulle as minderheidsgroep uitgesluit is van ander geleenthede. (Vgl. Weber, The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism, 7.)

43 Vgl. Van der Watt, John Murray, p. 25; Lee, The spirituality of Andrew Murray Jr. (1828-1917), 46.

44 Vgl. Neethling, Unto Children’s Children, 16: “Their father’s word was law. From his decision there was no appeal; his wisdom was never questioned. It was almost curious to see the reverence with which the young men, after years of study in Europe, and themselves ministers, would bow to their father’s decision in every matter where they had asked his advice.”

45 Neethling, Unto Children’s Children, 21; Du Plessis, Het Leven van Andrew Murray, 51.

46 Neethling, Unto Children’s Children, 25.

47 Dit het later geblyk die opoffering sou nie net die jare lange geografiese skeiding tussen ouers en seuns wees nie: die aflaai van die seuns het ʼn traumatiese nadraai gehad. Dit het tot die dood van die twee seuns se sussie gelei. Vgl. Neethling, Unto Children’s Children, 73: “Isabella, aged fourteen months […] took cold on the journey to Port Elizabeth, when our parents took John and Andrew there, before they sailed for Scotland.”

48 Du Plessis, Het Leven van Andrew Murray, 43.

49 Ibid., 60.

50 Ibid., 41.

51 Vgl. ibid., 44-49. Vgl. ook Van der Watt, John Murray, 24: “Dit was die streng puriteinse invloed van dr. John Murray wat in latere jare opvallend sterk na vore sou kom in beide se lewensloop.”

52 Vgl. Du Plessis, Het Leven van Andrew Murray, pp. 64-65; Lee, The spirituality of Andrew Murray Jr. (1828-1917), 131.

53 Vgl. V. Brümmer, Vroom of Regsinnig? Teologie in die NG Kerk (Wellngton: Bybel-Media, 2013), 20.

54 Vgl. ibid., 110.

55 Ibid., 236.

56 Vgl. Weber, The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism, 92.

57 Vgl. Du Plessis, Het Leven van Andrew Murray, 84-192.

58 Vgl. J. Murray, Young Mrs. Murray goes to Bloemfontein, 1856-1860, Letters edited by Joyce Murray (Cape Town: A.A. Balkema, 1954), 16.

59 Weber wys daarop (Weber, The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism, 102-103) dat Engelse puritanisme die mees konsekwente basis vir die idee van “roeping” verskaf en hy behandel daarom een van die belangrikste eksponente van die puritanisme, naamlik, Richard Baxter.

60 Vgl. Murray, Young Mrs. Murray goes to Bloemfontein, 16; vgl. ook P. Pienaar, “Emma Murray: An investigation into her person as well as her contributions to mission and education in South Africa - a historical-biographical study” (MTh diss., Stellenbosch University, 2019), 41

61 Vgl. Murray, Young Mrs. Murray goes to Bloemfontein, 70: “We have had a most amusing clever & really good little man staying with us, a new clergyman lately from Holland. He calls me the New idea of a wife. You know the Dutch idea is just a housekeeper…. He says a living Encyclopaedia must be a useful possession.”

62 Vgl. Weber, The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism, 230.

63 Vgl. Murray, Young Mrs. Murray goes to Bloemfontein, 127.

64 Vgl. ibid., 45-46.

65 Vgl. Ibid., 68: “I am always afraid of the 3 money boxes. There is no bank so Andrew always has so much money […] I have the keys & often have to count out & count in to the boxes […] People come to buy Hymn books, Bibles or other books”, and p. 119: “The Bazaar was duly held on the 23rd of February (1858) […] The encouraging of this first trial of the kind, has induced the conductors of the scheme to persevere, and it is said that another similar bazaar will hereafter [be] held.”

66 Vgl. ibid., 44.

67 Vgl. Murray, Young Mrs. Murray goes to Bloemfontein, 97.

68 Vgl. Andrew Murray, Versamelde Werk, Deel VIII, Die Sendingvraagstuk (Die Christelike Studenteverening van SA, Stellenbosch, 1944), 228.

69 Andrew Murray, De Geestelijke Toestand der Kerk (Kaapstad: Hollandsch-Afrikaanse Uitgevers-Maatskappij, v/h Jacques Dusseau & Co, 1915), 114-119.

70 De Villiers wys daarop dat “Murray nie om dowe neute drie van Law se boeke geredigeer het nie”. (De Villiers, “Die nugtere mistiek van Andrew Murray,” 3.)

71 William Law, A serious call to a devote and holy life (London: J. M. Dent & Sons Ltd., 1906).