Stellenbosch Theological Journal 2023, Vol 9, No 1, 1–34
DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2023.v9n1.a19
Online ISSN 2413-9467 | Print ISSN 2413-9459
2023 © The Author(s)
Vanaf Wellington na Universiteit van Wes-Kaapland (UWK): Kerkhistoriese aantekeninge oor die verskuiwing en vestiging van die teologiese opleiding van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika (NGSK) 1958–1994
nphil@sun.ac.za
Abstract
The years between 1958 and 1994 saw radical shifts in the theological training of the DR Missionary Church (DCMC) in South Africa. This article offers a chronological overview of those changes by extensively quoting from and offering interpretation of the original documents. The shifts are analysed thematically as a journey from a pietistic inspired curriculum taught by missionaries in a single-church seminary in Wellington, to an academic education at the University of the Western Cape (UWC) in Belville. This was guided by well-trained theologians and represented a further leg of the journey, representing development from a single-church institution to an ecumenical collaboration with the University of the Western Cape (UWC).
This article presents a historiographical overview of the development of theological training under the influence of the specific contexts of an era. It offers a window on an overview of the educational changes that were affected and indicates the need for the acceptance of a discipline that can consistently continue to accommodate formation, reformation, and transformation. The article in itself testifies to a changing and developing educational process and to the way that the passage of time enhances its growth and development.
Keywords
theological training; academic education; curriculum; a single-church institution; historiographical overview; development; formation
Teologie was van nature nog altyd en is steeds onderworpe aan kontekstuele, chronologiese, kulturele en tradisionele mediums van interpretasie. Om ʼn teologies gesonde diskoers te hê, hetsy in die sosiale, akademiese of kerklike sfeer, moet kerkleiers, akademiese personeel en die geloofgemeenskap geskiedenis as ʼn steunpilaar ag om die diskoers te lei eerder as om dit te domineer; daar moet ʼn narratief wees tussen geskiedenis, tradisie, opleiding en kontemporêre diskoerse rakende die ontwikkeling en volhoubaarheid van ons identiteit as kerk. Volgens Plaatjies-Van Huffel (2012:78), het geskiedenis dikwels te doen met die vraag na institusionele kontrole en mag. Wanneer dit gaan oor kerkgeskiedenis, behoort die klem in groter mate te val op magsverhoudings, eerder as op kennis soos wat dit oorgedra word in tradisionele geskiedskrywing (Plaatjies-Van Huffel 2012:78).
Kerkhistorici behoort daarop bedag te wees dat mense deur sosiale diskoerse en/of sosiale formasies gekonstitueer word. Gevolglik behoort daar in kerkgeskiedskrywing ondersoek gedoen te word na die onderliggende diskoerse in die teks en/of die werklikheid (Plaatjies-Van Huffel 2012:79). Plaatjies-Van Huffel (2012:80) beskryf effektiewe geskiedenis as verskillend van tradisionele geskiedenis, wat verwys na die soeke van bronne, die vasstelling van kontinuïteit, die vind van ooreenkomste en die tabellering van ontwikkeling met een of ander insig. Effektiewe geskiedenis verwys hierteenoor eerder na die tabellering van breuke en diskontinuïteite wat die eenheid van die subjek ontwrig en die soeke na oorsprong en einddoel verbreek (Plaatjies-Van Huffel 2012:80). Dit is duidelik dat die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (NGK) ʼn magsposisie beklee het.
Dit blyk uit die invloed op die kurrikulum van die teologiese skole, die aanstelling van dosente, bestuur van teologiese skole van beide die Nederduits Gereformeerde Kerk in Afrika (NGKA) en die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika (NGSK), fondse, beurse, selfs die verskuiwing van die teologiese skole, opstel van reglemente en kontrakte, verslaggewing aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (NGK) met betrekking tot teologiese formasie, asook oor eiendom. Hierdie artikel sal argumenteer, soos Plaatjies-Van Huffel (2012:78) tereg opmerk, dat geskiedenis dikwels te doen het met vrae rakende institusionele kontrole en mag. Die artikel bied ʼn historiografiese oorsig oor die ontwikkeling van teologiese opleiding wat beïnvloed was deur ʼn spesifieke era en konteks. Dit bied ook ʼn venster vir oorsig oor hoe teologiese formasie verander het en hoe dit ʼn konstante veranderende dissipline is wat oop moet wees vir formasie, reformasie en transformasie. Die idee van ʼn veranderende en ontwikkelende proses van opleiding en hoe tyd die opleiding proses aanmoedig om te ontwikkel en te groei, blyk uit die inhoud van die artikel self.
In 1958 het die regering besluit om tot die stigting van die Universiteits-kollege Wes-Kaapland oor te gaan (Kriel 1978:43). In November 1958 het die Kuratorium van die NGSK die wenslikheid van die inskakeling van die Teologiese Skool van die NGSK as Fakulteit by UWK aangevoer (Kriel 1978:46). Die voorsitter van die Kuratorium, ds. J.A.J. Steenkamp, het ’n skrywe aan dr. H.F. Verwoerd, die eerste minister, gerig met betrekking tot die verskuiwing van die teologiese skool na Bellville. Dr. H.F. Verwoerd het die Kuratorium na die betrokke Minister en Departement van Lande verwys met die oog op die verkryging van grond op of by die terrein van die Universiteitskollege. Die Minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap moes ook genader word met die oog op inskakeling van die Teologiese Skool as uiteindelike Teologiese Fakulteit aan die universiteitskollege (Kriel 1978:46). Die admissiekursus kon reeds sedert 1962 aan die UWK gevolg word, maar aangesien die Sinode van die NGSK die kursus aan UWK nog nie goedgekeur het nie, het die Kuratorium besluit dat daar met die admissiekursus by die Teologiese Skool vir die NGSK in Wellington voortgegaan sou word tot tyd en wyl goedkeuring vir die verskuiwing van die Teologiese Skool verleen is (Kriel 1978:43).
Gedurende 1960 het die eenjarige toelatingskursus wat sedert 1957 intern aan die Teologiese Skool gedoseer is, die aandag van die Kuratorium geniet (Acta NGSK Sinode, 1962:47). Met die opening van die Universiteitkollege Wes-Kaapland in 1960, het die Kuratorium na deeglike oorweging op 3 Junie 1960 besluit “dat met die admissiekursus by die Teologiese Skool voortgegaan sal word totdat die Sinode toestemming verleen om die kursus oor te plaas” (Acta NGSK Sinode 1962:47). Aan die begin van Oktober 1960 het die registrateur van die Universiteitskollege Wes-Kaapland die Kuratorium meegedeel dat 4 of 5 kandidate reeds aansoek gedoen het om die admissiekursus vanaf 1961 daar te volg (Acta NGSK Sinode 1962:48). Dit sou beteken dat indien die kandidate daar toegelaat word, die kursus op twee plekke aangebied sou word (Acta NGSK Sinode 1962:48). Hierdie aansoeke was egter ook ’n aanduiding dat voornemende kandidate graag ’n universitêre kursus wat tot ’n graad kon lei, wou volg (Acta NGSK Sinode 1962:48).
In oorleg met die Toelatingseksamenkommissie is soos volg besluit (Acta NGSK Sinode 1962:28):
Die NGK moes dus goedkeuring verleen dat die Reglement vir die opleiding van Kleurlingleraars gewysig word om sodoende voorsiening te maak vir die aanpassing van die admissiekursus by die kursus wat by die Universiteitskollege aangebied is. Bogenoemde besluite van die NGSK betreffende teologiese opleiding is dan deur die 1961 NGK Sinode goedgekeur (Kriel, 1978:45) en aan die begin van 1961 het die eerste admissieklas by die UWK ingeskakel. Soos Kriel tereg opmerk, aan die einde van 1960 “sluit wat die toelatingskursus betref ’n kerklike era af wat gevolg is deur ’n universitêre bedeling” (1978:45). Die Sinode van die NGK het die handelswyse van die Kuratorium insake die gewysigde admissiekursus gekondoneer en het verder die volgende wysiginge aangebring in die bepalinge wat betrekking op die toelatingskursus het: Reglement 10 (c) wat voorsiening maak vir ’n evangelis om na 10 jaar van beproefde diens tot die kursus toegelaat te word, is geskrap (Skema van werksaamhede NGSK Sinode, 1962:48). Aanleiding daartoe is dat evangeliste, vanweë ’n baie beperkte akademiese agtergrond, nie meer in die voorgeskrewe tyd in staat sou wees om die teologiese kursus te volg nie. Reglement 10(c)2 lui nou soos volg: “Waar die Toelatingseksamenkommissie gemelde stukke in orde vind, verwittig hy die kandidaat dat hy ’n eenjarige kursus aan enige erkende universiteit met welslae moet deurloop in die volgende vakke: Afrikaans 1 of Spesiale Afrikaans 1 (prakties); Engels 1 of Spesiale Engels 1 (prakties); Algemene Geskiedenis 1; Bybelstudie 1; Sosiologie 1 óf Sielkunde 1 óf Maatskaplike Werk1”(Acta 1962:48).
Die Kuratorium wou homself daarvan vergewis dat hierdie verhoogde toelatingsvereistes verpligtend moet wees vir elke kandidaat vir die teologiese kursus (Skema van werksaamhede NGSK Sinode 1962:48). Die Kuratorium se motivering lui: “die tydsgewrig waarin ons lewe vereis deeglik geskoolde en goed toegeruste evangeliedienaars” (Skema van werksaamhede NGSK Sinode 1962:48). Op aanbeveling van die Kuratorium, het die NGK die teologiese kursus uitgebrei met die gevolg dat die Reglement 10 punt 1(d) soos volg gelees het: “Diegene wat in die Toelatingseksamen slaag, deurloop ’n kursus van minstens vier jaar aan die Teologiese Skool vir die Sendingkerk in die volgende vakke” (Skema van werksaamhede NGSK Sinode 1962:4950):
In die lig van die totstandkoming van die Wes-Kaaplandse Universiteitskollege en gedagtig aan die algemene neiging tot die verbintenis van teologiese inrigtings aan universiteite dwarsdeur Suid-Afrika, het die Kuratorium tot die oortuiging gekom dat die oorplasing van hierdie inrigting na dieselfde terrein as dié van die Universiteitskollege, dringend noodsaaklik was. (Skema van werksaamhede NGSK Sinode 1962:48-49).
As motivering vir hierdie standpunt geld die volgende:
Die tempo van intellektuele ontwikkeling onder die Kleurlingbevolking, maak die verskuiwing noodsaaklik ten einde die leraars van die NGSK die geleentheid te gee om akademies beter toegerus te word vir hul veeleisende taak. Op grond van bogenoemde motivering, het die H.E. Sinode aan die Kuratorium volmag verleen vir die oorplasing van die Teologiese Skool na die terrein van die Universiteitskollege Wes-Kaapland, maar met behoud van sy eie kerklike identiteit. Vertoë is reeds tot die verantwoordelike instansies gerig insake die verkryging van ’n geskikte perseel op die terrein van die Universiteitskollege Wes-Kaapland vir die oprigting van ’n nuwe gebou. In daardie stadium is nog geen finale antwoord ontvang nie. Indien hierdie beoogde verskuiwing werklikheid word, koester die Kuratorium die vertroue dat die Sendingkerk sy regmatige aandeel sal neem in die daarstelling van ’n doelmatige gebou wat hierdie belangrike projek van die kerk in elke opsig waardig sal wees (Skema van werksaamhede NGSK Sinode 1962:48).
Die NGK Sinode van 1961 het volwaardige status verleen aan die opleiding aangebied vanweë die goeie gehalte van die kursus wat deur die Teologiese Skool aangebied is (Acta NGSK Sinode 1962:43).
Vanaf 1961 is die admissiekursus egter nie meer deur die Teologiese Skool aangebied nie (Acta NGSK Sinode 1962:51). Verder moes die kandidate vir die Teologiese Skool vanaf 1962 in besit wees van ’n kursus gelykstaande aan B.A. 1 (Acta NGSK Sinode 1962:51). Die vrystelling wat voorheen aan Evangeliste met tien jaar diens verleen was, het verval (Acta NGSK Sinode 1962:51). Op 8 November 1961 het die NGK Sinode goedkeuring verleen vir die verskuiwing van die Teologiese Skool van die NGSK na Bellville (Kriel 1978:51). Gedurende 1962 het die Kuratorium ’n perseel van Garden Cities gekoop met die oog daarop om die Teologiese Skool daarop te bou (Kriel 1978: 52-53).
Die Kuratorium was teen 1964, na die finalisering en goedkeuring van die bouplanne, begroting en tenders gereed om met die bouproses te begin, maar is op ’n dringende buitengewone vergadering in die ou Hugenote-gebou in Kaapstad versoek om hul bouperseel te verruil vir ’n “perseel in die noordoostelike hoek van die universiteitsterrein” (Kriel 1978:54-55). Die staat het die bouperseel van die NGSK nodig gehad vir die bou van ’n hospitaal. Op 18 Julie 1964 het die Kuratorium eenparig aanvaar dat die persele geruil kon word. Nadat die Kuratorium die oorspronklike perseel wat vir die Teologiese Skool aangekoop was, uitgeruil het vir die perseel ten noorde van die Universiteitskollege Wes-Kaapland, kon met die oprigting van die nuwe gebou voortgegaan word (Acta NGSK Sinode 1966:69). Die perseel was groot genoeg vir toekomstige uitbreidings (Acta NGSK Sinode 1966:69). ’n Uiters doelmatige gebou is opgerig wat twee lesingsale, ’n biblioteek, kantoorruimtes vir die professore en geriewe vir die studente ingesluit het (Acta NGSK Sinode 1966:69).
Op Saterdag 20 Maart 1965 is die nuwe gebou plegtig in gebruik geneem (Kriel 1978:59-60). Die wydingsrede is deur prof. C.J. Kriel gelewer terwyl dr. G.B.A. Gerdener die gedenkplaat onthul het (Acta NGSK Sinode 1966:69). Die hoofgebou van die Teologiese Skool in Wellington is vir R10 000 deur die Munisipaliteit aangekoop. Die koshuisgebou was aanvanklik aan die Bewaarskoolkomitee verhuur met die opsie dat die Bewaarskoolkomitee dit kon aankoop. Dit is later gedoen vir ʼn bedrag van R5 912 (Kriel 1978:56). Alle bruikbare meubels is van Wellington af oorgeplaas na die nuwe gebou toe, terwyl oortollige en nie-bruikbare artikels verkoop is (Acta NGSK Sinode 1966:69). Alhoewel sekere noodsaaklike meubels soos lessenaars, stoele en tafels vir die saal en lesingkamers reeds aangekoop was, het daar nog baie meubels gekort (Acta NGSK Sinode 1966:69).
Twee NGSK gemeentes, naamlik Newtown en Sarepta, het onderneem om elkeen R80 by te dra tot die meubilering van die kantore van die professore en daar was die vooruitsig dat nog gemeentes sulke aanbiedinge sou maak (Acta NGSK Sinode 1966:69). Erflatings van lidmate het dit moontlik gemaak om die gebou volledig te meubileer. Die gebou het ook ’n goed toegeruste biblioteek gehuisves (Acta NGSK Sinode 1966:69).Die Kuratorium het soos aangedui in die Ooreenkoms tussen die Universiteit van Wes-Kaapland en die Kuratorium nie die biblioteek by die universiteit ingeskakel nie (Acta NGSK Sinode 1974:114): Die bestaande biblioteek in die Teologiese Skool bly die eiendom van die kerk, maar is toeganklik vir alle studente van die universiteit, en kan van tyd tot tyd aangevul word uit kerklike fondse. Die universiteit sal in sy eie biblioteek ’n teologiese boekery opbou. (Sien Bylaag 3 Ooreenkoms tussen die Universiteit van Wes-Kaapland en die Kuratorium van die NGSK pt.2.5-2.6).Die gebou vir teologiese opleiding vir die NGSK in Bellville was teen 1970 in volle gebruik en behoorlik van meubels voorsien (Acta NGSK Sinode 1970:79) Die finansiering het soos volg geskied: ’n Erflating van R2000 het die Kuratorium in staat gestel om noodsaaklike meubels aan te koop. ’n Bedrag van R300 is ook verkry van die verkoop van sekere meubelstukke in die geboue op Wellington en dit is ook vir hierdie doel aangewend.
Die totale koste aangegaan ten opsigte van die aankoop van grond, oordragkoste en die oprigting van die gebou was R6 4801.67. Hierdie geld is verkry uit die verkoop van die eiendomme op Wellington en bydraes van die NGK. Kleiner bydraes is ook deur die NGSK gemaak. Die gebou op Wellington wat as studentekoshuis gedien het, was in daardie stadium nog nie verkoop nie. In die boubegroting is die koshuis op Wellington gewaardeer teen R6 000. Die NGSK-bewaarskool het in daardie stadium die gebou gehuur, met die opsie om dit te koop (Acta NGSK Sinode 1970:79). Die uitstekende verhouding tussen die Teologiese Skool en die Universiteitskollege Wes-Kaapland is deur die Kuratorium gerapporteer (Acta NGSK Sinode 1966:71).
Die goeie gesindheid van die Universiteitskollege Wes-Kaapland is weerspieël deur die feit dat die rektor vanaf die begin van die akademiese jaar 1965 klaskamerruimte vir die Teologiese Skool beskikbaar gestel het totdat die nuwe gebou in gebruik geneem is (Acta NGSK Sinode 1966:71). Daarteenoor was die saal van die Teologiese Skool beskikbaar gestel vir eredienste vir die studente van die Universiteitskollege Wes-Kaapland (Acta NGSK Sinode 1966:71; Acta NGSK Sinode 1970:78). Die Kuratorium het aan die Anglikaanse Kerk die reg verleen om op Sondagoggende eredienste vir sy studentelidmate in die saal van die Teologiese Skool te hou (Acta NGSK Sinode 1978:173). Die vergunning is hoogs gewaardeer en dit het die reeds goeie verhoudinge verder bevorder. Die Teologiese Skool, sowel as die omliggende opvoedingsinrigtings val binne die grense van die NGSK Bellville wat daartoe gelei het dat die kerkraad van hierdie gemeente pastorale sorg onderneem het (Acta NGSK Sinode 1978:173).
Die saal van die Teologiese Skool is ook vir die lewering van studente se proefpreke beskikbaar gestel. Die Kuratorium se besluit om die oorspronklike reëling dat proefpreke op slegs een sentrale plek kon plaasvind te wysig, het beteken dat studente dus in oorleg met hul promotors hul proefpreke in ’n gemeente van hul eie keuse kon lewer (Acta NGSK Sinode 1978:168). Die Sinode van die NGK het in beginsel ingestem tot die inskakeling van die Teologiese Skool as ’n fakulteit van die Universiteit van Wes-Kaapland (Acta NGSK Sinode 1970:79). Onderhandelinge met die betrokke owerhede sou deur die Kuratorium behartig word (Acta NGSK Sinode 1970:79). Tydens die Sinode van 1970 was dié onderhandelinge nog in ’n beginstadium (Acta NGSK Sinode 1970:80), maar na lang onderhandelinge tussen die Kuratorium en die owerhede van die Universiteit van Wes-Kaapland is die Teologiese Skool as Teologiese Fakulteit by die Universiteit van Wes-Kaapland ingeskakel (Acta NGSK Sinode 1974:114). Die praktiese inskakeling het reeds op 1 Januarie 1973, d.w.s. aan die begin van die akademiese jaar, plaasgevind (Acta NGSK Sinode 1974:114). Die amptelike inname is op 1 April 1973 gedoen (Acta NGSK Sinode 1974:114). Die inskakeling het geskied in terme van ’n ooreenkoms wat tussen die kerk en die universiteit bereik is, onder die opskrif Ooreenkoms tussen die Universiteit van Wes-Kaapland en die Kuratorium van die Teologiese Skool van die NGSK.
Die nuwe opset het meegebring dat kandidate óf ’n diploma óf ’n graad in die teologie kon behaal en toegang tot ʼn doktorsgraad in teologie sou verleen, sodat ons inrigting sy plek as volwaardige akademiese fakulteit naas enige ander teologiese fakulteit in die wêreld kon inneem (Acta NGSK Sinode 1974:114). Die grade uitgereik deur UWK het wye akademiese erkenning geniet (Acta NGSK Sinode 1974:114). Admissiestudente was nou gemotiveerd om hul nie-teologiese graad te voltooi. (Acta NGSK Sinode 1974:114). Die inskakeling het ook meegebring dat die kerklike bepalings in verband met die Teologiese Skool ingrypend verander moes word (Acta NGSK Sinode 1974:114). Volgens ʼn voorstel van die Kuratorium sou alle bepalings in ʼn reglement opgeneem word, wat deur die sinodes van beide die NGK en die NGSK goedgekeur en beheer sou word (Acta NGSK Sinode 1974:114). Die inskakeling by UWK het die finansiële las vir die NGSK insake teologiese opleiding verlig. (Acta NGSK Sinode, 1974:113).
ʼn Baie goeie verhouding het tussen die fakulteit en die Universiteit bestaan (Acta NGSK Sinode 1978:171). Die Kuratorium het in hul verslag aangedui dat die Fakulteit behoorlik ingeburger was en dat die dosente ’n leidende rol in die sake van die Universiteit speel (Acta NGSK Sinode 1978:1671). Ook is daar ’n uitstekende verhouding tussen die Kuratorium en die rektor en sy administrasie vermeld (Acta NGSK Sinode 1978:171). Daar was aanvanklik sprake van ʼn hoë draadomheining van die kampus, insluitende die terrein van die Teologiese Skool, met ʼn permanente sluiting van die vorige toegang. Na onderhandeling en besinning is die Teologiese Skool egter buite die omheining gelaat met ’n voetgangerhek tussen die twee terreine (Acta NGSK Sinode 1978:171). Die opset was volkome bevredigend, want die saal van die Teologiese Skool kon nou vir studente van die omliggende kampusse vir kerklike bedrywighede toeganklik bly (Acta NGSK Sinode 1978:171). Die Kuratorium het ’n skrywe ontvang van die Kommissie van Toesig en Kontrole van die NGSK met ʼn versoek vir ʼn opgawe van kostes vir die sinode van die NGSK, indien die NGSK die volle besit en beheer van die Teologiese Skool sou wou oorneem (Acta NGSK Sinode 1978:174). Die Kuratorium kon uiteraard nie enige onderneming of kwotasie namens die sinode van die NGK, wat die eienaar van die inrigting was, gee nie (Acta NGSK Sinode 1978:174).
Daarom is slegs die syfers van die kapitaalwaarde van die vaste eiendom waarop ’n instandhoudingstoelaag betaal was en die begrotingsyfers van die lopende rekening aan die kommissie verstrek. Geen beramings kon van die roerende bates en die boekevoorraad gemaak word nie (Acta NGSK Sinode 1978:174). Dit was ook nie moontlik vir die Kuratorium om aan te dui of die sinodale eienaar by vervreemding van die bates dit aan die NGSK wou skenk of verkoop, of gedeeltelik skenk en verkoop, of hoe ook al daarmee wou handel nie. Die Kuratorium het egter onder meer aangetoon dat daar gedurende die hele reses (1978 tot 1982) nooit ’n oomblik aangebreek het waarin verteenwoordigers van die twee sinodes belangebotsings gehad het nie (Acta NGSK Sinode 1978:174). Die bouprogram was ʼn saak wat baie van die aandag van die Kuratorium in beslag geneem het (Acta NGSK Sinode 1994:A11/5). Dit het begin deurdat die dakke van die koshuis sowel as die administrasie-gebou waterdig gemaak moes word (Acta NGSK Sinode 1994:A11/5). Aandag is gegee aan die verf van die binnekant van die teologiese koshuis en opgradering van die badkamers, die akoestiek van verskeie lesingsale, uitbreiding van die biblioteek, ombouing vir ʼn dekaanskantoor, addisionele lesingsale en personeelkamer, ens. (Acta NGSK Sinode 1994:A11/5). Die koste hieraan het teen die einde van 1993 saam met opgehoopte rente, reeds ongeveer R1 096 758 beloop (Acta NGSK Sinode 1994:A11/5).
’n Lening kon nie op die opemark gevind word nie en die uitbreidings en bouprogram is deur ʼn interne lening deur die Kommissie vir Administrasie gedek, terwyl met die UWK onderhandel is oor ’n nuwe finansieringooreenkoms vir die verhuring van die geboue (Acta NGSK Sinode 1994:A11/3). Dit het ook geblyk dat die bedryfskoste van die koshuis so hoog was in vergelyking met ander koshuise dat daar selfs oorweeg is om die koshuis vir kantoorruimte te gebruik. (Acta NGSK Sinode 1994:A11/5). ʼn Nuwe ooreenkoms oor ’n billike gebruiktoelaag deur die UWK was in ’n finale stadium van onderhandeling en sou voor die Sinode dien (Acta NGSK Sinode 1994:A11/5).
Teen 1962 was daar ʼn totaal van agt lede in die Kuratorium, met vyf as verteenwoordigers van die NGK en drie van die NGSK (Acta NGSK Sinode 1962:43). Die NGK het dus nog steeds die meerderheidstem in die teologiese opleiding van die NGSK gehad. In die verslag van die Kuratorium word aangedui “die werksaamhede van die Kuratorium was deurgaans gekenmerk deur ’n gees van hartlike samewerking, doelgerigte strewe en toegewyde verantwoordelikheidsin ter bevordering die belange van hierdie belangrike inrigting van die NGK” (Acta NGSK Sinode 1962:43). Tydens die NGSK in sitting te Worcester op 18 September 1974 en in die volgende dae het die verteenwoordigers, te wete di. J.G. Smith, P.W.L. Sinclair en D.P. Botha op die Kuratorium gerapporteer dat daar goeie samewerking tussen die lede van die NGK en genoemde verteenwoordigers op die Kuratorium was. Di. L. Moolman, Buitelandse Sendingsekretaris van die NGK, en D.P. Botha is onderskeidelik as voorsitter en skriba van die Kuratorium herkies. Ds. J.J. Sieberhagen, Binnelandse Sendingsekretaris van die NGK, het ook ’n belangrike rol in al die werksaamhede van die Kuratorium gespeel (Acta NGSK Sinode 1974:111). Na die sinode van 1975 van die N.G. Kerk in S.A. is die Kuratorium saamgestel ooreenkomstig Art. 3.1. van die Reglement vir die Vorming en Toelating van Evangeliedienaars. Die verteenwoordiging was soos volg: (Acta NGSK Sinode 1978:165).
Di. L. Moolman en D.P. Botha is onderskeidelik as voorsitter en skriba herkies en dr. H.M. Beets is gekies as vise-voorsitter. Ds. J.J. Sieberhagen het saam met die voorsitter en die skriba die Dagbestuur gevorm (Acta NGSK Sinode 1978:165). Ds. I.J. Mentor wat ook ex officio lid van die Eindeksamenkommissie was, kon nie die gewone jaareindevergaderings van die Kuratorium bywoon nie omdat die vergadertye gebots het (Acta NGSK Sinode 1978:165). Hy het egter alle buitengewone vergaderings bygewoon. Hierdie botsing van vergadertye kan uiteraard nie vermy word nie, daarom sou dit verstandig wees om nie ’n persoon op albei hierdie kommissies te benoem nie (Acta NGSK Sinode 1978:165).
Die NGK Sinode het in 1961 besluit om aan die alle voltydse dosente van die Teologiese Skool professorale status toe te ken (Acta NGSK Sinode 1962:43). Die NGSK Sinode van 1962 het gevolglik haar opregte waardering teenoor die NGK betuig vir die progressiewe besluit insake die Teologiese Skool en die toekenning van professorale status aan sy leerkragte, asook die uitbreiding van sy voltydse personeel (Acta NGSK Sinode 1962:50). Professorale status is aan ds. E.H. Holzapfel asook aan dr. C.J. Kriel toegeken (Kriel 1978:45).Die Sinode het dit as ʼn ondubbelsinnige bewys beskou dat die NGK daarmee aan die Teologiese Skool en sy kursus ’n volwaardige status verleen het (Acta NGSK Sinode 1962:50). Die deeltydse hulp van die vier professore van die Sendinginstituut was tot aan die einde van 1962 beskikbaar (Acta NGSK Sinode 1962: 43). Die Sinode van die NGK het besluit dat twee addisionele leerkragte met ingang Januarie 1963 aangestel behoort te word (Acta NGSK Sinode 1962: 43). Die NGK was gevolglik verantwoordelik vir die goedkeuring van die aanstelling van dosente asook die bevordering van doseerpersoneel.
Op 13 Junie 1962 het die kieskollege van die Teologiese Skool proff. A.C. van Wyk en C.H. Badenhorst van die Sendinginstituut tot addisionele professore beroep (Acta NGSK Sinode 1962:43). Vir deeltydse personeel gedurende die reses (1958 tot 1962), het die Teologiese Skool vir die NGSK “die honorêre hulp van die Sendinginstituut geniet” (Acta NGSK Sinode, 1962:43). Tot aan die einde van 1960, is vir korter of langer tye ook die deeltydse hulp van personeellede van die Hugenote-Kollege ontvang, te wete di. E.J. du Toit, G.S. Möller en dr. G. Wassenaar. Mev. M. Badenhorst het ook tot aan die einde van 1962 Engels aan die admissieklas gedoseer (Kriel 21978:77).
In die verslag aan die NGSK Sinode van 1962 is dit aangetoon dat bovermelde persone uiters waardevolle hulp met betrekking tot die teologiese opleiding van die NGSK verleen het. Daar is met waardering erkenning gegee aan hul voortreflike dienste (Acta NGSK Sinode 1962:43).Teen die begin van 1963 het proff. A.C. van Wyk en dr. J.L. de Villiers tot die doserende personeel toegetree. Prof. Van Wyk het van die Sendinginstituut af oorgekom terwyl prof. dr. De Villiers predikant op Bonnievale was (Acta NGSK Sinode 1966:68). Tesame met proff. dr. C.J. Kriel en E.H. Holzapfel het die doserende personeel uit vier hoogleraars bestaan (Acta NGSK Sinode 1966:68). Prof. dr. KW. Heese, ’n deeltydse dosent, het vir ’n periode lesings in Pastorale Sielkunde vir die finalejaar-studente gedoseer (Acta NGSK Sinode 1966:68). Tot aan die einde van 1968 het proff. A.C. van Wyk, C.J. Kriel, E.H. Holzapfel en J.L. de Villiers die doserende personeel aan die Teologiese Skool verteenwoordig (Acta NGSK Sinode 1970:770). Dr. B.C. Lategan het hom ook as dosent by die Teologiese Skool aangesluit (Acta NGSK Sinode, 1970:77).
Die taak van die doserende personeel was veeleisend omdat die afdelings van die Teologiese Ensiklopedie nie behoorlik deur slegs vier leerkragte behartig kon word nie. Die studentetal het steeds toegeneem en van die dosente moes bykomend ook aan die Universiteit van Wes-Kaapland lesings gee vir die admissie-studente. Omdat die kommissie daarvan oortuig was dat ’n hoë standaard in die opleiding van die sogenaamde Kleurlingleraars gehandhaaf moes word, is die Sinode van die NGSK versoek om ’n vyfde leerkrag vir die Teologiese Skool goed te keur (Acta NGSK Sinode 1970:77). Die goedkeuring is wel verkry, maar die Sinode kon geen fondse vir die emolumente daaraan verbonde voorsien nie (Acta NGSK Sinode 1970:77). Die Sinode het die gedagte uitgespreek dat die NGSK Sinode moontlik hierdie saak kon aanpreek. Mettertyd is daar ook onderhandel om die betrokke bepalings van die NGK Sinode so te wysig is dat die Kuratorium self die diensvoorwaardes van die professore en ander personeel kon vasstel. Besluite kon dus geneem word waarvolgens professore met langverlof kon gaan. (Acta 1970:77). Op 29 November 1972 het prof. A.C. van Wyk sy emeritaat aanvaar (Acta NGSK Sinode1974:111). Daar was op paslike wyse van hierdie veteraan-sendeling en dosent afskeid geneem (Acta NGSK Sinode 1979:111).
Die werk wat prof. A.C. van Wyk aan die Teologiese Skool gedoen het en sy vormende invloed op sy studente sou nie maklik oorskat kon word nie (Acta NGSK Sinode 1974:111). As gevolg van die aftrede van prof. Van Wyk en die skepping van ’n vyfde departement in die Teologiese Fakulteit, is twee nuwe dosente, naamlik prof. P.J.J.S. Els om in die vak Ou Testament te onderrig en prof. J.J. Durand in die vak Dogmatologie, aangestel (Acta NGSK Sinode 1979:111). Op versoek van die Minister van Onderwys, het die Kuratorium prof. dr. C.J. Kriel vir die jaar 1973 (dieselfde jaar waarin die Teologiese Skool as Teologiese Fakulteit van Wes-Kaapland ingelyf is) gesekondeer om Rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland te word (Acta NGSK Sinode 1974:111). Hierdie stap was grootliks verwelkom, omdat dit vir die Teologiese Fakulteit baie voordele ingehou het om een van sy dosente as rektor te hê tydens die inskakeling, wat gedurende die eerste jaar talle aanpassingsprobleme opgelewer het (Acta NGSK Sinode 1974:111).
In die jaar waarin prof. dr. C.J. Kriel as rektor waargeneem het, het die Kuratorium, in oorleg met die Universiteit, sy vakke deur ’n aantal leraars in die bediening laat doseer (Acta NGSK Sinode 1974:111). Ds. D.P. Botha het Kerkreg en Sending-kerkgeskiedenis gedoseer; ds. L. Moolman, Algemene Kerkgeskiedenis en Vaderlandse Kerkgeskiedenis; ds. A.G. Grant, Skoolbestuur en Boekhou en ds. C.J.A. Greyling, Godsdiensgeskiedenis. Hierdie leraars het grootliks opgeoffer om saam met hulle gemeentewerk ook dié verantwoordelike werk te onderneem (Acta NGSK Sinode 1974:111).
Die Kuratorium het besluit om prof. dr. C.J. Kriel by sy terugkeer na sy leerstoel, nie weer met vakke te belas wat nie in die leerplan van die Teologiese Fakulteit ingesluit was nie (Acta NGSK Sinode 1974:112). Ds. F.C. Pedro het dus ingestem om in die tussentyd die vakke gedoseer deur ds. A.G. Grant, wat na Vanrhynsdorp verhuis het, aan te bied (Acta NGSK Sinode 1974:112). Die doseerwerk aan die Teologiese Skool het ’n hoë standaard gehandhaaf en die organisasie van die fakulteit was puik (Acta NGSK Sinode 1979:112). Prof. E.H. Holzapfel, as gekose dekaan van die fakulteit het uitstekende werk gedoen (Acta NGSK Sinode 1974:112). Daar was 22 studente in die teologiese klasse; sewe studente in die eerste jaar en vyf studente in elk van die volgende jare (Acta NGSK Sinode 1974:112).
In die admissiejare was daar ongeveer 50 studente, ’n verblydende toename van 30 in vergelyking met die getal van 1970 (Acta NGSK Sinode 1974:112). Die standaard van die admissiekursus is verhoog met die insluiting van die twee grondtale, Grieks en Hebreeus, sodat admissiestudente baie hard moes werk om te slaag. Omdat die verhouding met die dosente ook kerngesond was, was die studente op hul studies gefokus en het hulle positief op lesings en voorligting gereageer (Acta NGSK Sinode 1974:112). Nadat prof. E.H. Holzapfel vir twee termyne as dekaan van die Teologiese fakulteit gedien het, is hy vanaf die begin van 1978 af deur prof. J.J.F. Durand opgevolg. Die uiters toegewyde en bekwame wyse waarop hierdie dosente hulle as dekaan van hul taak gekwyt het, het die hoogste waardering van die sinode verdien (Acta NGSK Sinode 1978:165). Die universiteit het die lesingsdrag van die dekaan met 40% verminder en terwyl proff. B.C. Lategan, C.J. Kriel, E.H. Holzapfel en P.J.J.S. Els op verskillende tye gedurende die reses met studieverlof was, het verskillende persone hul lesings in hul bepaalde vakke oorgeneem, naamlik prof. J.L. de Villiers (US), dr. P.J. Smith (UWK), prof. D.W. de Villiers (US), dr. BA. Mϋller (US), ds. A.C. Lombaard (UWK), prof. J.J. Mϋller (US), dr. D.H. Odendaal (US), di. L. Moolman en D.P. Botha. (Acta NGSK Sinode 1978:165). ’n Aantal buitengewone kursusse is deur deeltydse dosente aangebied, te wete D. J. van Arkel (Siekepastoraat), J.M.V. van Zyl en M.H. Daneel van Ramot (Alkoholisme), asook dr. H.J.B. Combrink (Nuwe Testament) (Acta NGSK Sinode 1978:166).
Die kerklike vakke is tot aan die einde van 1975 deur ds. F.C. Pedro aangebied, waarna ds. E.B. Faure op uiters bekwame wyse daarmee voortgegaan het (Acta NGSK Sinode 1978: 166). Die besondere waarde van die kursusse is dat die studente direk in verbinding met die kerklike lewe en praktyk gestel kon word (Acta NGSK Sinode 1978: 166). Prof. J.J.F. Durand het op uitnodiging gedurende November en Desember 1976 as gasprofessor lesings gegee aan die Ryksuniversiteit in Utrecht, Nederland. Terwyl hy daar was, het hy ook waardevolle kontakte gemaak met ander Nederlandse teologiese fakulteite en inrigtings (Acta NGSK Sinode 1978:165). In 1976 het die universiteit ’n Departement van Sending- en Godsdienswetenskap aan die Teologiese Fakulteit ingestel. Die eerste beroep was op ds. A.J.C. Erwee uitgebring maar hy het bedank. (Acta NGSK Sinode 1978:166). Die tweede beroep het geslaag en op 1 April 1976 het ds. P.J. Robinson as senior lektor diens aanvaar (Acta NGSK Sinode 1978: 166). Hy is op 11 April 1976 in die kerkgebou van die N.G. Sendinggemeente Bellville bevestig. Ds. P.J. Robinson het vir hom spoedig ’n warm plek in die harte van kollegas en studente ingeruim (Acta NGSK Sinode 1978:166).
Prof. N.J. Smith en dr. J.J. du Preez van die Kweekskool op Stellenbosch het die klasse in die nuwe Departement gedurende die eerste kwartaal van 1976 waargeneem, terwyl prof. B.C. Lategan vanaf 1 Januarie 1978 die pos as hoof van die Departement Bybelkunde aan die Universiteit van Stellenbosch aanvaar het (Acta NGSK Sinode 1978:166). Op 9 Februarie 1978 het die Kieskollege van die Kuratorium byeengekom om ’n beroep uit te bring.
Dit kon egter nie geskied nie aangesien die UWK weens ’n drastiese besnoeiing van sy begroting alle poste (ook vakante poste) tot 31 Maart 1979 bevries het. (NGSK Sinode, 1978:166). Dit het geblyk dat die prosedure by die beroeping en aanstelling van ’n dosent soos neergelê in die Ooreenkoms tussen die Kerk en die Universiteit (art. 3.3) baie omslagtig was en uiters tydrowend (Acta NGSK Sinode 1978:167).
3.1.0 Prosedure by aanstelling van dosente aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
3.1.1 Die kieskollege van die KERK beroep ’n dosent volgens kerklike bepalings.
3.1.2 Die skriba van die Kuratorium gee onmiddellik aan die UNIVERSITEIT kennis van die beroep wat uitgebring is, met voorlegging van die curriculum vitae van die beroepene.
3.1.3 Indien die beroepene nie vir die Raad aanvaarbaar is nie, word die betrokke nominasie na die KERK terugverwys vir heroorweging, en desnoods na ’n gesamentlike vergadering van die Kuratorium en die Raad van die UNIVERSITEIT, met die oog op die bereiking van ’n ooreenkoms.
3.1.4 Die beroepene word deur die skriba van die Kuratorium VERTROULIK van die beroep in kennis gestel, met vermelding van die feit dat sy aanstelling onderhewig is aan Ministeriële goedkeuring via die DEPARTEMENT.
3.1.5 Geen amptelike kennisgewing word in hierdie stadium in die amptelike organe geplaas nie.
3.1.6 Die UNIVERSITEIT stel die skriba van die Kuratorium so gou moontlik in kennis of die genomineerde aanvaarbaar is vir aanstelling, nadat Ministeriële goedkeuring via die DEPARTEMENT verkry is.
3.1.7 Na ontvangs van hierdie kennisgewing stel die skriba van die Kuratorium die beroepene amptelik in kennis dat sy aanstelling deur die UNIVERSITEIT goedgekeur is en stuur aan hom die amptelike kerklike beroepsbrief tesame met die dokumente wat deur die UNIVERSITEIT vir aanstelling vereis word. Die skriba publiseer die amptelike kennisgewing van die beroep in die kerklike organe.
3.1.8 Agt dae na ontvangs van die beroepsbrief moet die beroepene die skriba van die Kuratorium in kennis stel of hy hom die beroep laat welgeval.
3.1.9 By ontvangs van die kennisgewing dat die beroep geslaag het, stel die skriba van die Kuratorium die UNIVERSITEIT in kennis dat die beroepene in die pos aangestel kan word. Die UNIVERSITEIT doen die aanstellings volgens sy gewone prosedure (Sien Bylaag 3, Ooreenkoms tussen die Universiteit van Wes-Kaapland en die Kuratorium van die Teologiese Skool van die NGSK).
’n Meer aanneemlike prosedure is deur die Senaat van die Universiteit en die Kuratorium opgestel. Die sinode asook die NGK-sinode is versoek hul onderskeie stempels daarop te plaas. Indien albei sinodes dit sou goedkeur, het dit Art. 3.3 van die Ooreenkoms vervang (Acta NGSK Sinode 1978:167). Dit het gelei tot etlike belangrike besluite: Na lang onderhandelinge is eindelik daarin geslaag om ’n kursus oor alkoholisme in te stel. Ds. J.M.V. van Zyl van Ramot het twee lesings gegee, waarna ds. M.H. Daneel by hom oorgeneem het. 1978:171). Op versoek van die Raad van Dosente het die Kuratorium verder ook toegestem dat die vak Dogmageskiedenis na die departement van Ekklesiologie oorgeplaas word. Die Kuratorium het toegestem dat die vak Hebreeus I ook ʼn voorvereiste sou wees vir kandidate wat tot die Teologiese Fakulteit vir die diplomakursus toetree. Omdat Afrikaans-Nederlands geen hulp verleen tot beter taalgebruik nie en dit studente verhinder om ’n ander nuttige keusevak te loop, besluit die Kuratorium dat dit nie langer ’n verpligte vak moes wees nie. In die nuwe admissiekursus wat deur die Sinode goedgekeur is, is Afrikaans egter as verpligte vak behou, asook Hebreeus I. Die Kuratorium het kennis geneem van die nuwe tendens om teologiese opleiding volgens ’n geïntegreerde kursus met deurlopende teologiese vakke van die eerste jaar af te laat geskied, in plaas van die stelsel van ’n nie-teologiese admissiekursus met ’n daaropvolgende suiwer teologiese kursus.
Opdrag was aan die Raad van Dosente gegee om die saak met ander teologiese fakulteite te bespreek. Nadat dit geblyk het dat dit die rigting is waarin al die fakulteite wil beweeg, het die Sinode die voorgestelde geïntegreerde kursus in beginsel goedgekeur. In ’n samespreking tussen die Dagbestuur en die Toelatingskommissie is volle konsensus bereik dat daar slegs een beheerliggaam moes wees en dat die Bybelkenniseksamen weens gebrek aan ’n sinvolle funksie kon verval. Dit het beteken dat die Reglement vir die vorming en toelating van evangeliedienaars herformuleer moes word. Die Algemene Sinodale Kommissie het dus in opdrag van die Sinode die Reglement vir die vorming en toelating verander (Acta NGSK Sinode 1978:172). Prof. C.J. Botha is met ingang 1Januarie 1985, na twee termyne van twee jaar elk, deur prof. P.J. Robinson as dekaan opgevolg. Gedurende 1984 het die pos van senior lektor in die Departement Dogmatologie vakant geraak omdat die universiteit dr. D.J. Smit tot professor bevorder het (Acta NGSK Sinode 1986:374). Ds. W.A. Boesak is gevolglik in dié pos beroep en het op 1 Julie 1985 diens aanvaar. Dit was die enigste verandering in die doserende personeel gedurende die reses (1982 tot 1986). Prof. J.J.F. Durand het nog aangebly as lid van die Departement en was steeds ʼn promotor vir doktorale studente (Acta NGSK Sinode 1986:374).Die Kuratorium het nie daarin geslaag om die doseerpos in Missiologie opgegradeer te kry nie. Dit het ’n senior lektoraat gebly, maar dr. P.J. Robinson, die departementshoof, is ad hominem tot professor bevorder (Acta NGSK Sinode 1986: 375). Prof. G.D. Cloete het van Junie 1984 tot Julie 1985 as gasdosent by Calvin College, Grand Rapids in die VSA opgetree en proff. D.J. Smit en C.J. Botha het elk onderskeidelik gedurende 1984 en 1985 ’n tydperk van studieverlof gehad (Acta NGSK Sinode 1986:375).
Gedurende hierdie tydperke het die volgende persone as deeltydse dosente opgetree, en ook dekaanshulp gedoen: Ekklesiologie: Ds. C.J.A. Loff, dr. A.J.C. Erwee, di. D.P. Botha en P.J.A. Fourie. Dogmatologie: drr. A.A. Boesak, J.C. Adonis en H.R. Botman. Nuwe Testament: dr. C.J. den Hëyer (Kampen Nederland), ds. L.W. Mazamisa (NGKA). Missiologie: dr. J.C. Adonis, ds. J.H. Mostert en mnr. F. Boot (Dept. Antropologie). Diakoniologie: in hierdie departement is geen deeltydse dosente benoem nie, maar meer as twintig persone het lesings op ’n ad hoc-basis aangebied. Die kursus in kerklike administrasie, wat ’n vereiste kerklike vak is, is gedurende die hele reses (1982 tot 1986) deur ds. S.G. Malherbe gedoseer (Acta NGSK Sinode 1986:375).Met die toestemming en finansiële ondersteuning van die Kuratorium en die Universiteit was die dosente gedurende die hele reses betrokke by sake soos Teologiese Werkgemeenskappe, die Adviesraad vir Teologiese Opleiding, Konferensies en Simposia, tot groot baat van die fakulteit. Die Fakulteit was bevoorreg om gedurende die reses (1982 tot 1986) ’n aantal besoekende akademici uit die buiteland te ontvang en na stimulerende lesings te luister (Acta NGSK Sinode 1986: 375). Die doserende personeel aan die Fakulteit Teologie te UWK was prof. P.J. Robinson as dekaan, wat op 1 Januarie 1988 deur prof. G.D. Cloete in dié pos opgevolg is (Acta NGSK Sinode 1990:345). Die doserende personeel het bestaan uit proff. G.D. Cloete, G. Bam, D.J. Smit, P.J.J. Els, P.J. Robinson en ds. W.A. Boesak. Prof. J.C. Adonis is op 18 Februarie 1987 bevestig as hoogleraar in Ekklesiologie (Acta NGSK Sinode 1990:345).
Verder het die volgende deeltydse dosente gedurende die reses (1986 tot 1990) opgetree: Missiologie: ds. J.H. Mostert. Ekklesiologie: ds. C.J.A. Loff en pastoor J.J. La Porta. Diakonologie: di. B.V. Appollis, S.G. Malherbe, mej. C. Liebenberg en dr. H.F. Dwyer. Dogmatologie: ds. H.R. Botman, dr. J. Retief en dr. J. Botha. Nuwe Testament: dr. L.W. Mazamisa en ds. J.N.M. Hartney. Ou Testament: dr. C.W. Retief, dr. N. Horn en ds. A. Goliath. As gevolg van die besnoeiingsprogram van die Universiteit van Wes-Kaap1and moes die Kerk noodgedwonge ook ’n geldelike bydrae lewer ten opsigte van die benodigde deeltydse hulp.
Buite-fakultêre bedrywighede van dosente het behels dat, met die ondersteuning van die Kuratorium en die Universiteit van Wes-Kaapland, die dosente die afgelope reses weer op verskillende maniere betrokke was by kerklike en akademiese aktiwiteite op gemeentelike, nasionale en internasionale vlak (Acta NGSK Sinode 1990:345). Na deeglike oorweging het die Kuratorium besluit dat die Teologiese Fakulteit as lid aansluit by ASATI (Association of South African Theological Institutions) (Acta NGSK Sinode 1986:380).Die Fakulteit sou indien die fondse dit toelaat altyd deur ’n lid van die Fakulteit en ’n lid van die Kuratorium verteenwoordig word. Indien fondse ontbreek sou die lid van die Fakulteit voorkeur geniet (Acta NGSK Sinode 1986;380). Op versoek van die dosente het die Kuratorium daartoe ingestem om die term “Raad van Dosente” te laat vaar ten gunste van “Dagbestuur van die Fakulteitsraad”.
Omdat eersgenoemde term nie in die Kerkorde en Reglemente voorkom nie, was dit volgens die Kuratorium onnodig om by die Sinode hersiening voor te stel (Acta NGSK Sinode 1986:379). Die dosente van die Teologiese Skool was (Acta NGSK Sinode 1994:A11/):Prof. G.D. Cloete: Nuwe Testament (Dekaan), Prof. P.J.J.S. Els: Ou Testament, Prof. J.C. Adonis: Ekklesiologie, Prof. P.J. Robinson: Missiologie, Prof. D.J. Smit: Sistematiese Teologie, Dr. W.A. Boesak: Sistematiese Teologie, Prof. G. Bam: Praktiese Teologie. Dr. W.A. Boesak het in 1993 sy doktorsgraad verwerf. Prof. D.J. Smit 1is volgens ’n kontraktuele ooreenkoms toegelaat om na een-derde van sy dienstyd aan die Kweekskool te Stellenbosch te doseer (Acta NGSK Sinode, 1994:A11/3). Prof. J.J.F. Durand wat steeds al die jare by die departement Sistematiese Teologie betrokke was terwyl hy ook Vise -Rektor van UWK was, het op 30 Junie 1994 afgetree (Acta NGSK Sinode 1994:A11/3). Prof. G. Bam het aan die einde van 1991 afgetree maar in 1992 en 1993 steeds op ’n kontrakbasis die klasse in die departement Praktiese Teologie behartig (Acta NGSK Sinode 1994:A11/3). Later het die Kuratorium ingestem dat die professoraat (departementshoof) van Praktiese Teologie ’n UWK-pos sal word met die aanstelling van prof. Denise Ackerman (Acta NGSK Sinode 1994:A11/3). Die Kuratorium het aan die einde van 1993 ’n senior pos in Praktiese Teologie gevul deur ds. H.R. Botman te beroep (Acta NGSK Sinode 1994:A11/3). Hierdie pos sou voortaan funksioneer as die pos wat vir die opleiding van NGSK studente bedoel is, met inagneming van die versoek van die Kuratorium dat die Fakulteitsraad die implikasies van die verlaging van die NGSK-pos van departementshoof na senior lektor duidelik uitspel (Acta NGSK Sinode 1994:A11/3). Die Kuratorium kon ook met groot dank gebruik maak van ’n hele aantal predikante wat deeltyds bepaalde vakke gedoseer het (Acta NGSK Sinode 1994:A11/3).
’n Verhoging van toelatingsvereistes tot die teologiese kursus het mettertyd noodsaaklik geraak (Acta NGSK Sinode 1966:71). Nie alleen moes die kerk tred hou met die algemene verhoging van die peil van opvoeding onder die Kleurlinge nie, maar die kerk self het vereis dat sy leraars ten beste toegerus moet word. Die 1965 Sinode van die NGK het dus die volgende besluit geneem: Die Sinode aanvaar die beginsel dat die admissiekursus van die Teologiese skool vir die NGSK tot ’n kursus op die basis van ’n tweedejaar B.A. verleng word. Hy dra dit aan die Kuratorium op om, met die reg van koöpsie, ʼn kommissie te vorm om die hele aangeleentheid gedurende die reses deeglik te ondersoek en aan die Sinode (1970) praktiese voorstelle oor sowel die admissie- as die teologiese kursus (soos dit deur die gewysigde admissiekursus geraak mag word) voor te lê (Acta NGSK Sinode 1966:70). Toelatingsvereistes het herhaaldelik die Kommissie se aandag geniet (Acta NGSK Sinode 1970:81).
Probleme het veral ontstaan by die toelatingsvereistes tot die admissie-kursus. As gevolg van ’n verskil in die vertolking van die Sinodale besluit van die NGK deur die Sinode van die NGSK (1966), sowel as deur sy verteenwoordigers in hierdie Kommissie, is daar gedurende die reses met verskillende instansies beraadslaag (Acta NGSK Sinode 1970:81). Die verskille was gekompliseerd. Die kommissie was genoodsaak om op 15 Februarie 1966 asook op 12 Maart 1978 twee spesiale vergaderings met die Uitvoerende Komitee van die Senaat van die Universiteit-Kollege Wes-Kaapland te hou (Acta NGSK Sinode 1970:80). Op grond van die advies van dr. J. D. Vorster (Aktuarius van NGK) en prof. dr. T. N. Hanekom (Voorsitter van die Permanente Regskommissie) het die Kommissie tot die besluit gekom dat die studente wel volgens ooreenkoms, soos aangegaan met die Universiteit van Wes-Kaapland op sy vergadering van 12 Maart 1968, toegelaat kon word en dat dit in ooreenstemming met die besluit van die NGK-Sinode van 1965 was (Acta NGSK Sinode 1970:81). Intussen het hierdie saak die verdere aandag van die NGK-Sinode in 1969 geniet en is die toelatingsvereistes só gewysig dat daar gemeen is dat verdere probleme daardeur uitgeskakel sou word. Volgens die besluit van die NGK-Sinode, Acta P.120, C.96-97 was die vereistes soos volg:
Art. 269 (1)(e) vereis bewys van die verwerwing van die Senior Sertifikaat of die Matrikulasie-vrystellingsertifikaat. Art. 269(2) vereis dat ’n kandidaat een van die volgende kursusse aan ’n erkende universitêre inrigting met welslae moet deurloop. In die geval van ’n kandidaat met ’n Matriekvrystellingsertifikaat, ’n eenjarige graadkursus soos volg saamgestel: Afrikaans-Nederlands I en Bybelkunde I as verpligte vakke, en drie van die volgende vakke: Sosiologie I, Sielkunde I, Wysbegeerte I, Ekonomie I, Geskiedenis I, Engels I en Duits-Spesiaal. In die geval van ’n kandidaat met ’n Senior-Sertifikaat, is die vereiste ’n Tweejarige Diplomakursus soos volg saamgestel: Eerste Jaar: Afrikaans-Nederlands of Praktiese Afrikaans en Bybelkunde as verpligte vakke en twee van die volgende vakke: Sosiologie, Sielkunde, Wysbegeerte, Ekonomie, Geskiedenis, Engels en Duits-spesiaal. Tweede Jaar: ’n Tweedejaarkursus in Bybelkunde as verpligte vak plus ’n tweedejaarkursus in enige ander vak wat gedurende die eerste jaar met sukses deurloop is, plus een ander vak uit bogenoemde groep gekies, op ’n eerste- of tweedejaarsbasis (Acta NGSK Sinode 1970:81).
Die verteenwoordigers op die Toelatingskommissie vir die Teologiese Skool van die N.G. Sendingkerk, dii. M.M. Coetzee, N.A. Appollis en F.W. Jacobs (Skriba) het aan die NGSK Sinode van 1974 gerapporteer dat daar vanaf 1 Januarie 1973 by die Universiteit van Wes-Kaapland ’n nuwe Admissiekursus ingestel sou word (Acta NGSK Sinode 1974:118-119). Die Kommissie het gerapporteer dat die wysiginge van die kerkordelike bepalings met betrekking tot teologiese opleiding nie voor die Sinode-sitting van 1974 aangebring kon word nie. Die kommissie was egter van mening dat die kontraktuele ooreenkoms tussen die Kuratorium en die Universiteit van Wes-Kaapland beteken het dat ’n nuwe Admissiekursus met die volgende bepalings ingestel is (Acta NGSK Sinode 1974:119).
Die implikasie van bostaande bepalinge soos aangetoon in die Ooreenkoms tussen die Universiteit van Wes-Kaapland en die Kuratorium was dat die Kuratorium nie soos in die verlede die studente voor die aanvang van die Admissiekursus kon goedkeur nie. Goedkeuring kon slegs na die aflegging van die Admissiekursus geskied (Acta NGSK Sinode, 1974:119). Die Toelatingskommissie het in belang van die Universiteit van Wes-Kaapland vir die instelling van die Admissiekursus en vir die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Wes-Kaapland, waardeur die NG Sendingkerk in Suid-Afrika se opleiding van leraars die nodige aandag en erkenning kon ontvang, opgetree (Acta NGSK Sinode 1974:119).
Sedert die instelling van die geïntegreerde teologiese kursus in 1980 het die inskrywingspatroon totaal verander, aangesien daar nou nie meer tussen admissie- en teologiese studente onderskei word nie (Acta NGSK Sinode 1982:A.9,206). In 1980 het 121 studente ingeskryf – vir die ou kursus 25 studente, vir die nuwe kursus 96, en 52 eerstejaars (Skema van werksaamhede NGSK Sinode 1982:A.9,206). Onder hierdie inskrywings was nege van ander kerkgenootskappe en twee dames. Daar was ook etlike navrae van blanke persone (Skema van werksaamhede NGSK Sinode 1982: A.9,206). Die dames is duidelik laat verstaan dat hulle welkom was om die kursus te loop en die graad of diploma te verwerf, maar dat hulle nie volgens die huidige kerklike beleid op legitimasie aanspraak kon maak nie (Skema van werksaamhede NGSK Sinode 1982:A.9,206). Die een dame het haar kursus gestaak. Sy is met ’n jong predikant getroud (Skema van werksaamhede NGSK Sinode 1982:A.9,206). Die ander dame was ’n baie suksesvolle student en het met haar kursus voortgegaan (Skema van werksaamhede NGSK Sinode 1982;A.9,206). Die Sinodale Kommissie vir Leer en Studie het tydens die Sinode van 1982 gerapporteer dat die Sinode op 3 Oktober 1978 besluit het om B12 te aanvaar:
Die H.E. Sinode verwys die hele saak van die vrou in die leer- en regeer-amp na die Leer- en Studiekommissie vir verdere studie en besinning, vir rapport en aanbeveling aan die volgende Sinode of die vrou in genoemde ampte mag dien of nie (Skema van Werksaamhede NGSK 1982:A.27,333). Die volgende amendement word ingedien.
Die amendement ingedien deur die leraar, Dr. J.C Adonis en ouderling Peter Stephen Damon van Goodwood, lui soos volg: “Die Sinode besluit om Punt 6.1 van die aanbevelings van die Verslag A27 bylae 2 te aanvaar (Skema van Werksaamhede NGSK 1982, A.27,333) en besluit voorts dat vrouelidmate toegelaat sal word om as ouderlinge verkies en as predikante toegelaat te word.” (Acta, NGSK 1982:640). Die amendement ingedien deur die leraar, Ds. PJ Mostert en ouderling Andries Koopman van Graaff-Reinet, lui: “Die H.E. Sinode aanvaar Punt 6.1 en Punt 6.2 Skema van Werksaamhede NGSK 1982, A.27,333) en verklaar soos volg in die lig daarvan dat daar reeds ’n dame is wat vir predikant leer en dat vroue ook gekies kan word as hulle aan die ouderdomskwalifikasies en ander vereistes vir ouderlinge van die Kerkorde voldoen (Acta NGSK 1982: 640). Dat vroue welkom is op die kansels van die Kerk as leraars en dat leraarsvroue die status van medeleraar van die gemeente verkry met die opdrag Christelike Vroue Bond (CSB), Christelike Kinderbond (CKB) en Christelike Jongedogtersbond” (CJB) (Acta NGSK 1982:640).
Na stemming word die amendement ingedien deur die leraar en ouderling van Goodwood aanvaar as besluit van die Vergadering (Acta NGSK 1982: 640). Die voorstel van die Kommissie word egter nie aanvaar nie, terwyl die amendement ingedien deur die leraar en ouderling van Graaff-Reinet verwerp word (Acta NGSK 1982: 640).
Hierdie saak het algaande al hoe meer dringend op die Kuratorium se agenda geword toe dit blyk dat die bedeling waarin ’n bepaalde kerk bevoorreg word om met die hulp van staatsgeld sy leraars aan Teologiese Fakulteit op te lei, sterk onder druk gekom het (Acta NGSK Sinode 1994:A11/6). Reeds in 1991 word die saak ernstig bespreek en op 10 Junie 1992 word ’n buitengewone vergadering van die Kuratorium daaroor gehou nadat die Dagbestuur eie werkwinkels en samesprekings hieroor met die Kuratorium van NSGK gehad het. Die Kuratorium besluit dan ook hierop:
Die Kuratorium herbevestig dit as sy oortuiging dat die teologiese opleiding vir die NGSK universitêr, kerklik en ekumenies moet wees. Die Kuratorium verstaan dus sy teologiese opleiding as ’n opleiding binne die breër Fakulteit Teologie aan die UWK. Hierdie opleiding het ’n kerklike karakter, met ander woorde dit wil die spesifieke behoeftes van die NGSK dien. Andersyds wil die opleiding ook in diens van die breër kerkgemeenskap staan, met ander woorde dit dra ’n ekumeniese karakter (Acta NGSK Sinode 1994:A11/7).
In die KATO, d.w.s. Riglyne vir Kerklike Adviesraad vir Teologiese Opleiding aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Wes-Kaapland (Sien Bylaag 4) is bepaal dat in die geval van vulling van die bestaande sewe voltydse akademiese poste, wat volgens ooreenkoms met die NGSK tot stand gekom het, die volgende prosedure ten opsigte van die NGSK sou geld:
4.6.1 Die Fakulteit stel ’n taakomskrywing van die vakante pos op, wat as aanbeveling vir die Kuratorium van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) kan dien by die oorweging van persone om te nomineer.
4.6.2 Die NGSK nomineer kandidate (volgens sy eie prosedures). Voorlegging aan en advies van die KATO.
4.6.3 Die KATO bespreek die lys en kan vertroulike skriftelike advies oor die kandidate en/of ander moontlike kandidate stuur aan die betrokke Kerk en/of die Universiteit. Die KATO se advies sal hoofsaaklik gerig wees op die kandidate se geskiktheid om ook moontlik aan ander kerke se studente.
4.6.4 Opleiding te verskaf. Die KATO lê die lys, met of sonder advies, aan die Universiteit voor.
4.6.5 ’n Gesamentlike Keurkomitee van die NGSK en die Universiteit, bestaande uit vyf lede deur die Kuratorium van die NGSK benoem en vyf lede deur die Aanstellingskomitee van die Universiteit word saamgestel. Dit sluit die twee verteenwoordigers van die Fakulteit Teologie op die Aanstellingskomitee in. Die Komitee kies sy eie voorsitter. Die taak van die Gesamentlike Keurkomitee is om:
4.6.5.1 kandidate te evalueer volgens geskikte akademiese kwalifikasies, akademiese ondervinding en publikasies in ’n toepaslike vakgebied, met die oog op die opdragte verbonde aan die pos en met inagneming van die algemene aanstellingsbeleid soos deur die Universiteitsraad neergelê;
4.6.5.2 onderhoude met kandidate te voer met koöptering van vakspesialiste van buite as adviseurs sonder stemreg;
4.6.5.3 verslag te doen, met ’n aanbevole kortlys.
4.6.5.4 Die Senaat van die Universiteit neem ’n besluit op grond van die verslag van die Gesamentlike Keurkomitee. Hy kan die aanbevole kort lys òf aanvaar, òf wysig, of na die Gesamentlike Keurkomitee terugverwys.
4.6.5.5 Die Kieskollege, bestaande uit die lede van die Kuratorium van die NGSK en alle voltydse dosente van die NGSK aan die Fakulteit Teologie, beroep ’n kandidaat uit die lys wat deur die Senaat van die Universiteit goedgekeur is, onderhewig aan bekragtiging deur die Universiteitsraad.
4.6.5.6 By ontvangs van die kennisgewing dat die beroep geslaag het, stel die Skriba van die Kuratorium van die NGSK die Universiteit hiervan in kennis. Die aanstelling van die beroepene vind nou plaas volgens normale universiteitsprosedure.
4.7 In die geval van deeltydse akademiese poste wat nie betrekking het op die deeltydse kerklike poste genoem in 4.4 nie, sal kandidate deur die Universiteit aangestel word op aanbeveling van die Fakulteit.
4.8 In die geval van die vulling van die twee (2) bestaande ad hoc poste (in Ou en Nuwe Testament en Diakoniologie), wat deur die Universiteit geskep is met die oog op die vestiging van die nuwe leergang, word die normale aanstellingsprosedure Universiteit gevolg.
4.9 Indien dit sou gebeur dat nuwe poste benodig word volgens die normale personeel-formule van die Universiteit, sal advies van die KATO ingewin word oor die korrekte aanstellingsprosedure, in die lig van die redes vir die tekort en die spesifieke behoeftes (Riglyne vir Kerklike Adviesraad vir Teologiese Opleiding aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Wes-Kaapland).
Die saak van die toekoms van teologiese opleiding is ook verskeie kere met die Kuratorium van Stellenbosch bespreek (op 7 Mei 1992 en 4 Oktober 1993 en 23 November 1993) (Acta NGSK Sinode 1994:A11/7). Op 28 Oktober 1993 is die saak ook in ’n verkennende gesprek met die Rektoraat van UWK bespreek, waartydens die volgende aan hulle oorgedra is: (Acta NGSK Sinode 1994:A11/7-8):
Die reaksie van die rektoraat was soos volg:
Die Kuratorium het besluit dat indien die nuwe ooreenkoms voorsiening maak vir die behoud van slegs drie doseerposte vir die NGSK en die Sinode dit so aanvaar, die drie poste soos volg beklee sou word: prof. D.J. Smit: Sistematiese Teologie, prof. J.C. Adonis: Ekklesiologie en Kerkreg en dr. H.R. Botman: Praktiese Teologie (Acta NGSK Sinode 1994:A11/8).Die herstrukturering van teologiese opleiding van die NGSK het die herformulering van die ooreenkoms met die Universiteit van Wes-Kaapland wat as laat stuk voor die Sinode sou dien, genoodsaak. Die Kuratorium het aangedui dat dit die ideaal is dat daar net een Kuratorium vir die NGSK en NGK behoort te wees, maar dat ’n tussentydse maatreël aanvaar word dat ’n verteenwoordiger van die NGSK se Kuratorium as waarnemer in die NGK se Kuratorium sal dien. Prof. G.D. Cloete is daaroor aangewys (Acta NGSK Sinode 1994:A11/8). Die Kuratorium het verder aangedui dat daar geen beswaar daarteen is dat die Kuratorium van Stellenbosch studente van die NGSK wat daar afstudeer, ook kan legitimeer nie, in die lig daarvan dat die kerke mekaar se opleiding en legitimasie oor en weer erken (Acta NGSK Sinode 1994:A11/8).Die eerste teologiese kandidaat, Reginald Willfred Nel,3 lidmaat van die NGSK, is na die voltooiing van sy studie aan die Kweekskool op Stellenbosch deur die NGK gelegitimeer (Acta NGSK Sinode1994:A11/8). Die Dagbestuur van die Kuratoria (US en UWK) het twee keer ontmoet om die herstrukturering van die Teologiese Fakulteite te bespreek, in 1992 en op 4 Oktober 1993).
’n Gesamentlike vergadering van die twee Kuratoria oor dieselfde onderwerp is ook op 23 November 1993 te Stellenbosch gehou (Acta NGSK Sinode 1994:A11/8). (Sien bylaag 4 vir die Riglyne vir Kerklike Adviesraad vir die Teologiese Opleiding te UWK). Besware is geopper oor die benaming van die gebou, naamlik “Teologiese Skool vir die NGSK”, omdat die Teologiese Fakulteit nou ook ’n Baccalaureus-leergang huisves vir studente wat nie aan die NGSK behoort nie (Acta NGSK Sinode 1994:A11/9). Nadat toestemming van die ASK gekry is, is die naambord vervang deur een wat lui “Teologiese Fakulteit van UWK” en is versoek dat daar binne-in die gebou ʼn kennisgewing aangebring moes word dat dit ook die opleiding van die leraars van die NGSK huisves (Acta NGSK Sinode 1994:A11/8). Die besluit was egter nooit geïmplementeer nie.
Die kuratorium het aan die Sinode gerapporteer dat die Universiteit van Wes-Kaapland en dus ook die Teologiese Fakulteit vir persone uit alle etniese groeperinge in ons land en die buiteland oopgestel is (Acta NGSK Sinode 1986: 379). Daar was geen beperkings meer op enige student of dosent op grond van ras en kleur nie (Acta NGSK Sinode 1986:379).
Na aanleiding van aansoeke van die Apostoliese Geloofsending en die Southern Evangelical Seminary dat hul predikante deur die Teologiese Fakulteit van UWK opgelei word op grond van ooreenkomste soortgelyk aan dié van die NG Sendingkerk, het die rektor ’n onderhoud met die Kuratorium aangevra (Acta NGSK Sinode 1986:381). Die Universiteit het ’n memorandum voorgelê wat daarop neerkom dat die Universiteit ernstige aandag sou skenk aan die aanpassing van die struktuur van die Teologiese Fakulteit om ander kerkgenootskappe benewens die NG Sendingkerk te akkommodeer, sonder om die historiese band met die NG Sendingkerk in die gedrang te bring (Acta NGSK Sinode 1986:381). By hierdie eerste samespreking is aandag geskenk aan verskillende modelle vir die moontlike nuwe strukturering van die Fakulteit (Acta NGSK Sinode 1986:381).
Die model wat vir die Kuratorium die beste grondslag vir onderhandeling gebied het, was een waarvolgens die Fakulteit omskep word in ’n ekumeniese oop fakulteit, wat inhou dat die kerke wat by die fakulteit belang wil hê, eers onder mekaar tot ’n ooreenkoms moet kom oor sekere basiese aangeleenthede rakende die teologiese opleiding; dan kan hulle gesamentlik met die Universiteit ’n ooreenkoms aangaan soos die een wat op die oomblik tussen die NG Sendingkerk en die Universiteit bestaan (Acta NGSK Sinode, 1986:381). Daarom is die gedagte ondersteun dat daar eers ’n verkennende gesprek gehou sou word met alle kerke wat belangstel in teologiese opleiding deur die fakulteit teologie te UWK en dat daarna verder met die Universiteit onderhandel sou word (Acta NGSK Sinode 1986:381). Hierdie gesprek, waarby kerkgenootskappe verteenwoordig was, het op 14 Mei 1986 plaasgevind. Die Universiteit het ’n inligtingstuk voorgelê waarin verskillende moontlikhede vir kursusstrukturering opgeneem is (Acta NGSK Sinode 1986:381). Die doel van hierdie verkennende gesprek was om vas te stel of die verteenwoordigde kerkgenootskappe wel belangstel (Acta NGSK Sinode 1986:381).
Daar was wel groot belangstelling, maar voordat onderhandelinge in alle erns kon begin oor alle aspekte van ’n ekumeniese fakulteit (waarvan een van die belangrikste die voorsiening van die doserende personeel was) moes die kerkgenootskappe amptelik tot deelname besluit en ooreenkom oor die nodige opdragte vir aangewese onderhandelaars. Daarom is die verteenwoordigers gevra om aan hul kerklike owerhede te rapporteer en die opdragte te versoek. Die vergaderingsdatum vir die terugrapportering van die kerklike afvaardigings en die moontlike begin van die onderhandelinge is vasgestel vir 30 Julie 1986, maar ongelukkig kon die uitslag van daardie vergadering nie in hierdie verslag aan die Sinode opgeneem word nie (Acta NGSK Sinode 1986:381). Die kuratorium het hierdie saak as uiters dringend beskou en sou ’n duidelike besluit van die Sinode daaroor aanvra. Daarom is verlof gevra om voorstelle in hierdie verband aan die Sinode voor te dra, tesame met al die inligting voortspruitend uit die onderhandelinge (Acta NGSK Sinode 1986:381).
Samevatting
Hierdie artikel is nie ʼn poging om die geskiedenis van teologiese opleiding in die NG Sending Kerk as wit en swart te beskou nie. Dit wil eerder ʼn gesprek aanwakker en verwelkom waar die teologiese opvoeding konstant ondersoek en evalueer word. Die belangrikheid om die proses van opleiding te herdink en te herevalueer aan die hand van die geskiedenis is van kardinale belang. Die studente asook die kerk verander soos tyd en kontekste verander, dus is dit belangrik dat ons gelei moet word deur die veranderings in hierdie proses, wat hier belig hoe die geskiedenis aantoon dat ons kurrikulum verryk word deur alle aspekte rakende ons studente, gemeentes en die gemeenskappe waarin ons gemeentes geleë is.
Hierdie artikel wil die dringendheid aanwakker in teoloë en kerkleiers om meer tyd te belê in die geskiedenis van ons kerklike opleiding asook aan die opleiding van gewone kerkgangers oor hulle identiteit en hoe dit ondersoek word deur die teologiese opleiding.
Bibliografie
Coertzen, P 2009. Teologie Stellenbosch 150+. Die verhaal van teologiese opleiding op Stellenbosch-die mense en geboue. Wellington: Bybelmedia.
Kriel, CJ (red). Die Eerste Eeu. Geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suider-Afrika.
Loff, CJA 2009. Bevryding tot Eenwording. Die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika 1881–1994.
Philander, NC 2019. ’n Ekklessiologies teologiese ondersoek na die teologiese opleiding en bedieningsvorming praxis in die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch (Ongepubliseerd PhD Tesis).
Plaatjies-Van Huffel, MA 2012. Michel Foucault se historiese benadering as lens in historiese ondersoeke. Acta Theologica 32(1):78–95.
Acta NGSK Sinode 1958
Acta NGSK Sinode 1962
Acta NGSK Sinode 1966
Acta NGSK Sinode 1970
Acta NGSK Sinode 1974
Acta NGSK Sinode 1978
Acta NGSK Sinode 1982
Acta NGSK Sinode 1986
Acta NGSK Sinode 1990
Acta NGSK Sinode 1994
Agenda en Skema van werksaamhede VGKSA Algemene Sinode 1994
Acta VGKSA Algemene Sinode 1994
Skema van Werksaamhede NGSK 1970
Skema van Werksaamhede NGSK 1978
Skema van Werksaamhede NGSK 1960
Skema van Werksaamhede NGSK 1966
Skema van Werksaamhede NGSK 1982
Skema van Werksaamhede NGSK 1988
Skema van Werksaamhede NGSK 1986
Skema van Werksaamhede NGSK 1990
Skema van Werksaamhede NGSK 1994
1 Prof. Dirkie Smit het in 1981 as Senior Lektor in Dogmatiek aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland(UWK) begin werk.
2 Die outeur kan nie name van die vroue studente opspoor nie.
3 Prof. R.W. Nel is in 2017 aangestel as dekaan aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch waar die teologiese opleiding van die VGKSA Streeksinode Kaapland sedert 2000 plaasvind.