Stellenbosch Theological Journal 2024, Vol 10, No 1, 1–25
DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2024.v10n1.21
Online ISSN 2413-9467 | Print ISSN 2413-9459
2024 © The Author(s)
(Amp)er, maar nog nie stamper nie: Ampsverstaan en ampsherstel in die NG Kerk – ’n kritiese refleksie op die NG Kerk se ampsverbreding
dieter.debruin@up.ac.za
Abstract
In the light of decisions that the Dutch Reformed Church in South Africa made to the structure of her offices, this article questions the theological rationale that underlies the new dispensation of how the office of Minister of the Word is reconceived and proposes an alternative reform that both is grounded in both reformed and ecumenical thought. It aims to bring congruence to liturgical practice, official theology and ministry in the church.
In die lig van die besluite wat die NG Kerk gemaak het rondom die strukturering van die ampte, bevraagteken hierdie artikel die teologiese rasionaal wat die nuwe bestel onderlê en maak ’n alternatiewe voorstel vir die herstrukturering van die ampte in die NG Kerk wat onderlê is in sowel die gereformeerde en die ekumeniese teologie. Die oogmerk is om kongruensie tussen liturgiese praktyk, amptelike teologie, en bediening in die kerk te bring.
Sleutelwoorde
liturgiese teologie; ampte; NG Kerk; bediening; missionale teologie
Dit is duidelik dat die missionale ekklesiologiese skuif in die NG Kerk onlosmaaklik saamhang met ons ampsverstaan en ampsherstel (Marais et al. 2019).
In die BEM-studie word ook gekies vir drie ampte, maar dit verskil van ons s’n. Hulle kies vir episkopos, presbiter en diaken … As ons kan nader beweeg na die ekumeniese model sal dit om meer redes baie, baie goed wees (Burger et al. 2019).
Die bydrae wat hierdie artikel wil maak is tweeledig van aard: Aan die een kant wil dit die huidige poging tot “ampsherstel” in die NG Kerk se koherensie krities onder die loep neem, maar andersyds wil dit ook ’n alternatiewe inrigting van die ampte voorstel wat nader aan die ekumeniese model is. Die doel van hierdie navorsing is om tot diens van die (NG) Kerk te wees (Niemandt et al. 2018). Die metodologiese benadering wat gevolg word is dié van die liturgiese teologie.
Om hierdie doel te bereik word daar kortliks stilgestaan by drie vrae:
Hierna word daar na aanleiding van hierdie pennestrepe krities gereflekteer oor die huidige ampsbestel in die NG kerk en ’n moontlike alternatief word voorgestel.
Die beweegrede vir die verbreding van die ampte in die NG Kerk word duidelik gemaak in die Handleiding vir Diensleraars (2019a):
…(d)ie geprofessionaliseerde predikantsamp se gebrek aan veerkragtig-heid om aan die uitdagings van gemeenskapsgerigte bedieninge te voldoen, het al hoe duideliker geword. Die bedieningsbehoeftes in afgeleë plekke, missionale kontekste, gemarginaliseerde omgewings, toegespitste vaardighede vir projek- en spesifieke bedieninge oor grense heen, die bou van netwerke, die ontwikkeling van vennootskappe, het die noodsaaklikheid vir die verbreding van die ampte.
Om bogenoemde probleme aan te spreek het die Algemene Sinode van 2019 die Raamwerk vir Missionale Bedieningsontwikkeling in die NG Kerk (Marais et al. 2019) goedgekeur.
In hierdie verslag van die Algemene Kuratorium (2019b:325-326) word ’n verbrede ampstruktuur voorgestel:
Vir die doel van hierdie argument word daar nie aandag gegee aan standplaasleraars wat vir ’n spesifieke konteks georden word, of tentmakerleraars wat in ’n deeltydse pos werk nie. Wat wel ter sprake kom, is die aard en doel van die diensleraar en die bedienaar in verhouding met die amp van die predikant en ander ampte.
Die “plek” waaruit hierdie bydrae plaasvind is dié van die liturgiese teologie.
Die nuwe ampsmodel is die vrug van dekades se nadenke deur teoloë in die NG kerk en die breër gereformeerde familie. In ’n vyftal artikels het Burger en Wepener (Burger 2004a; Burger 2004b; Burger & Wepener 2004; Wepener 2004; Wepener & Burger 2004) die uitdagings van die predikantsamp; die Bybelse riglyne rondom die amp; ’n gereformeerde geskiedkundige perspektief op die amp; meer resente gereformeerde ontwikkelinge en dan ’n teologiese sistematisering van die amp na gelang van die Mundus Triplex ondersoek sluit eweneens aan by die gedagte van leierskap in die modus van priester, koning en profeet.
Hierdie bydrae volg ’n ander benadering, naamlik die liturgiese teologie en spesifiek die liturgiese ekklesiologie en die spesifieke aannames wat hierdie teologiese benadering onderlê.
Aldus Rienstra (Rienstra 2019:Liturgical Ecclesiology section) het daar vanuit ’n hernude belangstelling in ekklesiologie ’n nuwe teologiese sub-dissipline ontwikkel, nl. liturgiese teologie – die herontdekking van die kerk as die mistiese liggaam van Christus in die 20ste eeu – met die ekumeniese beweging wat, eweneens volgens Rienstra, ’n belangrike bydrae gemaak het tot die liturgiese vernuwingsbeweging en die daaropvolgende ontwikkeling van die dissipline van liturgiese teologie.
Hoewel daar diepsinnig stilgestaan kan word by liturgiese teologie as navorsingsbenadering, sou die opsomming van (Rienstra 2019: Liturgical Theology) ’n goeie idee gee:
Hence, his methodological approach is to start with the church at worship, its liturgical life, and its fundamental ordo, and to discern in them the material for theological – and thus ecclesiological – reflection.
Een van die sentrale vertrekpunte vir die liturgiese teologie is dat die kerk op die duidelikste manier sigself is as dit op die dag van die Here bymekaar kom om te aanbid. Mens sou die breë aanduider van liturgiese teologie (vir die doeleindes van hierdie bydrae) nog verder kan vernou deur die stelling dat daar veral gesteun word op die werk van die liturgiese teoloog, Gordon Lathrop (1998; 2007; 2022) en TF Torrance. Albei van hierdie denkers, en veral Torrance dink beredeneer die aard en funksie van die ampte vanuit eerste beginsels met die erediens as fokuspunt.
Sentraal ook tot hierdie benadering is kongruensie: Tot hoe ’n mate stem die liturgiese praktyk ooreen met die gestelde of amptelike teologie van ’n gemeente of tradisie?
Dit is juis op hierdie boonste punt waarop hierdie artikel ’n bydrae wil lewer, te wete: tot hoe ’n mate is die praktyk van die nuwe verbrede ampstruktuur in die NG Kerk met sy teologie oor die ampte, of om ’n ander dimensie aan te raak, tot watter mate is die teologie van die ampte van die NG kerk eksplisiet en word dit deurgevoer na die bedieningspraktyk? Om dit te doen, is dit nodig om ’n duidelike prentjie van die erediens soos dit in die NG kerk verstaan word te kry.
Om ’n definisie van die erediens te gee is geen maklike taak nie en sou vanuit verskillende invalshoeke benader kon word. Vir die doel van hierdie argument staan ons stil by enkele amptelike standpunte wat uit die midde van die NG Kerk kom, asook ’n paar rigtinggewende opmerkings vanuit protestantse teoloë oor die liturgie van die kerk na dink.
Die handleiding vir die erediens (2012:3) beklemtoon veral drie aspekte in die antwoord op die vraag van wat die erediens is en wat van toepassing is op ons bespreking. Eerstens beklemtoon die skrywers “ …(D)die erediens is die sentrale gebeurtenis in die voortgaande lewe van ’n Christelike gemeente”.
Vanuit die perspektief van die liturgiese teologie sou dit dan nie vreemd wees om vanuit hierdie “sentrale gebeurtenis” na te dink oor die kerk se ampte en die bediening nie.
In die NG Kerk se nadenke oor die bediening van die sakramente het die NG Kerk ’n rigtinggewende besluit oor die aard van die erediens gemaak; ’n besluit wat grootliks nog onuitgevoer bly (Wepener & Bartlett 2014:7):
20.2.1 Die Algemene Sinode bevestig ’n vorige besluit dat die volledige Christelike erediens Woordbediening en Nagmaalviering insluit (2019c:184).
Voorts is dit uiters belangrik om daarop te let dat ’n verslag oor die same-hang van die sakramente aan die Algemene Sinode (2013), die eenheid tussen die Woord en die sakrament en die sakramente onderling bevestig het.1
Hierdie verhouding sou ook baie konkreet gestalte vind in die viering van ’n volledige erediens: daar waar die Woord en sakrament nie van mekaar geskei kan word nie omdat hulle wedersyds veronderstellend plaasvind.
Eweneens word die eenheid en samehang van die sakramente juis bevestig deur die feit dat die doop altyd in die konteks van die verkondiging van die Woord en die viering van die nagmaal plaasvind, en dat die nagmaal altyd minstens op ’n implisiete vlak ’n viering en bevestiging van die doop self is.
Vanuit ’n ander hoek formuleer Barth (1964) hierdie standpunt duidelik. Vir hom is die ideale orde van die erediens as volg: Die publieke viering van die doop aan die begin van die erediens, met die viering van die nagmaal aan die einde van die diens. Die twee sakramente vorm ’n inclusio waarbinne die prediking tot sy volle reg kom. Op so ’n wyse, volgens Barth, word die standaard van die suiwer prediking van die Woord en die juiste bediening van die sakramente bevredig.
Tewens, Barth stel dit dat dit nutteloos is om die sakrament teenoor die prediking te stel, juis omdat hulle twee aspekte van dieselfde realiteit is. Die gevolgtrekking waartoe Barth (1964:75) kom, klink radikaal:
There is indeed no preaching, in the precise meaning of the term, except when it is accompanied and illuminated by sacrament.
Dit is duidelik uit die voorafgaande dat daar vanuit die veronderstelling gegaan kan word dat die erediens ’n inherente sakramentele gebeurtenis is, waar Woord en sakrament nie van mekaar geskei kan word nie, maar eintlik deel is van dieselfde werklikheid.
’n Ander manier om oor die diep samehang van die Woord en sakrament en die sakramente onder mekaar te verwys is volgens die liturgiese teoloog, Gordon Lathrop, se konsep van die “ordo”. Kortliks definieer Lathrop die Christelike ordo (1995:40-41):
a participating community, together with its ministers, gathered in song and prayer around the scriptures read and preached, around the baptismal washing, enacted or remembered, and around the holy supper. The ordo is these things done together, side by side.
Verder sou mens die byeenkoms van die ordo self kon uitbrei na die lewe wat na hierdie byeenkoms vloei en wat uit die byeenkoms vloei (Duba 2005:10 soos aangehaal in Moore-Keish 2010:249).
Dit is ook belangrik om daarop te let dat in die antieke tradisie – wat ook in die gereformeerde tradisie gehandhaaf is – die verantwoordelikheid van bediening van die Woord, sakrament en pastorale verantwoordelikheid nie van mekaar geskei behoort te word nie. In die woorde van Taylor (2009:loc. 1676):
Notwithstanding the primacy accorded to the ministry of the Word, Calvin regarded the eucharistic presidency as integrally related to pastoral oversight of the community.
Hierdie integrale band tussen die voorgangerskap in die viering van die eucharistie en pastorale sorg is ’n belangrike oorweging vir ons nadenke oor die ampte in die kerk.
Maar wat sou ons dan presies met die woord “kerk” bedoel?
Vanuit die hoek van die liturgiese teologie gesien is die mees basiese en konstituerende betekenis van die woord “kerk” die gemeenskaplike samekoms rondom die bad, tekste, en ’n maaltyd waar almal na Jesus Christus verwys. Die “Katolieke kerk” is die gemeenskap en verbintenis van al hierdie byeenkomste. Die Katolieke geloof word die beste erken as die Bybels-gegronde struktuur wat hierdie kerke verbind en wat tot uitdrukking kom in hierdie byeenkomste. Om deel van so ’n byeenkoms te wees is om deel van die kerk te wees.
That is, the church will be understood here primarily as an assembly. Church will be seen as a gathering of people to do those central things that identify them as Christian. It will be understood as the concrete meetings-for-worship we do know. Reflection on the well-being or the fragility of the church will be a reflection on the assembly’s worship. Inquiry about the openness of this assembly. Discussions of the unity of the church will be discussions of the unity of persons within that assembly and the other assemblies in the same town or throughout the world. (Lathrop 1999:5 – oorspronklike klem).
Dit is welbekend dat, volgens NGB 29 (geen datum), die ware kerk erken word aan die suiwer verkondiging van die evangelie, die bediening van die sakramente volgens die instelling van Christus, en die handhawing van die kerklike tug.
De Gruchy (2013:Liturgy and Eucharist-afdeling) bevestig ook dat die eucharistie ’n uiters belangrike ekklesiologiese en konstituerende funksie vir Calvyn gehad het. Vir hom (De Gruchy) is ’n belangrike aspek van Calvyn se teologie dat die kerk ’n eucharistiese gemeenskap is juis omdat dit deur die Woord en sakrament die “liggaam van Christus” word. De Gruchy beklemtoon dat die “liggaam van Christus”, wat in die nagmaal ontvang word, nie geskei kan word van die “liggaam van Christus”: as die kerk nie.
Dalk sou dit ook nie te vergesog wees om met ’n gereformeerde belydenis saam met De Lubac te kan sê dat die eucharistie (met inbegrip dat die eucharistie ook onlosmaaklik uit Woordbediening bestaan) die kerk “maak” nie (McPartlan 2006).
Willie Jonker (1990) stel dit beskrywend:
Eintlik word die ware kerk uit die Woord gebore, deur die sakramente beseël en gevoed, en deur die tug by die waarheid van die Woord bewaar.
Die Anglikaanse denker, Paul Avis (2005:20–21), voel sterk daaroor dat die bediening van die sakramente die verkondiging van die Woord en pastorale verantwoordelikheid tot die wese van die taak van die (missionale!) kerk as kerk is. 2
’n Ander manier om dit te stel is om in die gees van Vatikaan 2 (1963) te bely dat die erediens die bron, asook die doel, van die missionale bediening is.
Ofskoon daar telkens in die verslae en motivering vir die verbreding van die ampstruktuur van “bediening” gepraat word en die “bane” van die ampstruktuur selfs “bedienaars” genoem word, word daar nie noodwendig klarigheid gegee oor wat presies onder “bediening” verstaan word nie.
Paul Avis (2005:58–59) gee ’n nuttige definisie:
Ministry is God-given work for the cause of God that is acknowledged by the Church. That is to say, ministry takes place when a person, whether lay or ordained, performs a role or task on behalf of the Christian community which the community recognizes as its own work.
Bediening in hierdie sin word dan onderskei van die gedoopte se roeping in die wêreld, soos byvoorbeeld om by die werk, gesin en gemeenskap my lewe as Christen uit te leef met die oog op die bevordering van die koninkryk. Bediening in die sin waarvan Avis praat, se erkenning kan implisiet of eksplisiet wees. Hier kan gedink word aan kategete, kosters, jeugwerkers, musiekleiers, ens.
Die belangrike punt is dat, om erkenning te gee aan hierdie bedieninge en bedienaars, nie beteken dat hulle noodwendig georden hoef te word nie. Ordening het ’n ander funksie waarby ons nou gaan stilstaan.
Daar word soveel klem gelê op die aard van die erediens, want as dit so is dat die erediens “ … die sentrale gebeurtenis in die voortgaande lewe van die gemeente” is, is die aard van die ordo – die erediens en dit wat daaruit voortvloei – bepalend vir die aard en funksie van ordening. Juis omdat hier vanuit die veronderstelling gegaan word dat ordening en die “ordo” ten nouste met mekaar saamhang. Lathrop (1998:loc. 2819) stel dit duidelik:
Then we are at the central point: the leadership of the liturgy is part of the liturgy. Ordination is intended to include persons in the schedule and pattern whereby the Christian assembly enacts the meaning of the Christian faith. Indeed, the order to which one is ordained is, finally, simply a list of persons who take their place and turn in the leadership of the structure of the ordo. But the order of leaders is thoroughly subordinated to the ordo of the meeting. Ordination incorporates persons as leaders in the structure of the ordo.
Die punt is eenvoudig: Mense word georden om voor te gaan3 – om leiding te neem in die erediens en daarom hang die aard en funksie van die ordening wat gekonsepsualiseer word af van hoe dit saam met die aard en funksie van die ordo/erediens, en die lewe wat daaruit voortvloei, gedefinieer word.
Jean-Jacques von Allmen (2002:44) soos aangehaal in Rienstra (2019:Persistent Themes-afdeling) waarsku eweneens:
… elements of ecclesiastical structure and organization which normally have no Eucharistic function or reference are unrelated to the essential nature of the Church and therefore irrelevant for ecclesiology, if not suspect.
As mens dan saam met die NG Kerk en gesaghebbende gereformeerde teoloë die aanname maak dat die ordo/erediens bestaan uit ’n eenheid tussen woord en sakrament, en die sakramente onderling, dan sou mens saam met Torrance (Torrance 1993:xv) en St. Thomas kan stem: “ … ordination is in order to the Eucharist.”
En nog sterker en meer konkreet:
Out of this, there arises very properly a theology of ordination in which the climax, so to speak, of the rite of ordination is reached, not in the laying of hands, nor in the devolution of the commission, but in the actual celebration of the Eucharist. It is as Christ fills the hands of the presbyter with the bread and wine that his (sic) ordination is properly realized and validated (Torrance 1993:81 – oorspronklike klem).
Om die lyne, soos wat dit tot dus ver getrek is, te probeer saamvat: Volgens die liturgiese teologiese benadering wat hier gevolg word – die raison d’être van ordening – is dit die breë kerkverband wat die erkenning en gesag aan mense gee om voor te gaan (to preside) by die erediens en om die pastorale sorg, wat vanuit die erediens voortvloei, te behartig.
Verder is daar met die aanname gewerk dat daar ’n eenheid bestaan tussen die verkondiging van die Woord en die bediening van die sakramente, die sakramente onderling, en die pastorale sorg van die gemeente en die erediens.
Mens sou kon sê dat die refleksies tot dusver dalk ook verhelderend kon wees tot wat presies bedoel word met die bediening van die Woord: As die kerkorde in artikel 9 praat van die “predikant wat fokus op die bediening van die Woord in al sy gestaltes”: Kan dit daarna verwys dat die predikant wat vanuit sy of haar voorgangerskap in die erediens, die sentrale simbole van die erediens uitdra in die wêreld, of soos Lathrop (1998:loc. 2993) dit weereens mooi formuleer:
They will walk the streets of their town, not as holy persons in themselves but remembering the resonances of the meeting. They will see pastoral care and blessings spoken at life-passages, especially at weddings and burials as extensions of the meeting.
Die “bediening van die Woord” word dan nie ’n abstrakte konsep of reduseerbaar tot Skriflesing en skrifuitleg nie, maar in die eerste plek die voorgaan in die samekoms van die gemeente en die sorg en lering, en organisering, ens. wat vanuit hierdie voorgangerskap in die byeenkoms verleng word na die lewe wat die erediens volg, en dit wat weer daartoe terugvloei.
As die eenheid tussen die sakramente onderling met die Woord gehandhaaf word wat uitdrukking vind in die erediens van die gemeente, en dat die geordende se taak is om voor te gaan en leiding te neem by so ’n byeenkoms, dan is die implikasie dat dit nie sinvol sal wees om mense te orden om net een of meer van hierdie take te onderneem nie, byvoorbeeld die bevoegdheid om te preek, maar nie om die sakramente te vier nie, of die bevoegdheid om te doop, maar om nie die nagmaal te bedien nie (en natuurlik omgekeerd).
TF Torrance (2012:134) stel eksplisiet wat tot dusver geïmpliseer word, naamlik dat daar eintlik net een amp is waartoe mens georden word en dit is die amp om voor te gaan in die erediens, of as mens dit in daardie terme wil stel: Die bediening van Woord en sakrament is die primêre amp, die hele kerk word met hierdie bediening toevertrou, maar die geordendes het die verantwoordelikheid om toe te sien dat die kerk na behore toegerus is om daardie roeping te vervul.
Torrance (2012:133-134) stel dit duidelik:
The order of the presbyterial ministry is not only the highest order, but in the strict sense the only order of the ministry. Other so-called orders are either for the assistance of this order or for the convenience of maintaining unity and concord and discipline among those so ordained.
En in hierdie stelling van Torrance lê die kern opgesluit van wat ’n moontlike alternatief vir die ampstruktuur in die NG Kerk kan wees.
Kortliks kom dit op die volgende neer:
Wat volg is ’n kort beredenering en agtergrond tot die voorstel onder die vier punte wat hierbo genoem word. As ’n inleiding word Torrance se beskouing van die verhouding tussen die amp van die gelowige, die diaken, presbiter en biskop kortliks bespreek, en daarna die aard en funksie van die ampte uitgelig. Na aanleiding van hierdie vertrekpunte word die huidige ampsbestel van die NG Kerk krities in oënskou geneem, om uiteindelik ook ’n moontlike alternatiewe bedeling voor te stel.
8.1 Die verhouding tussen die amp van die gelowige, diaken, presbiter en biskop.
Torrance (1993:103-104) skets ’n gereformeerde, tog ekumenies sensitiewe, uiteensetting van die verhouding tussen Christus, lidmaat, diaken, presbiter, en biskop.
Aan die fondament van alles lê die inlywing in Christus deur die doop van die koninklike priesterdom wat die hele liggaam behels. Hierdie is ’n priesterskap in ’n sekondêre sin en nie ’n alternatiewe priesterskap as Christus s’n nie, juis omdat Christus alleen Priester in die ware sin van die woord is. Dit is eerder ’n nederige deelname van die kerk in sy priesterskap in terme van diensbaarheid:
Vir Torrance ontleen die “amp van die gelowige” sy betekenis aan die patroon van die nagmaal waar elke lidmaat deelneem aan mekaar en tesame deelneem aan diensbare liefde (The deaconing of love.).
Hierdie kollektiewe deelname word verteenwoordig in die amp van die diaken.
Binne die koninklike priesterdom is daar ’n spesiale kwalifikasie om die kerk te dien wat spruit uit die ordening tot die Woord en sakrament en pastorale verantwoordelikheid vir die gemeenskap.
Omdat hierdie amp aan die kerk ter wille van die kerk se diens gegee is, moet hierdie amp ook korporatief en kollegiaal beliggaam word. Die gemeenskaplike oorsigfunksie (episcope) word gesamentlik aan die gemeenskap van presbiters toevertrou.
8.2 Die presbiter
Gegewe die beredenering van Torrance hierbo, behoort dit duidelik te wees dat mense georden word om voor te gaan in eredienste wat die bediening van die Woord en sakrament insluit, en om dan die volle spektrum van bediening wat, uit die voorgaan in die erediens spruit en daarheen terugvloei, te behartig.
In hierdie model maak dit nie sin om voorgangers met volle bevoegdheid te orden om die Woord en sakramente te bedien, maar nie bevoegdheid het om die volle spektrum van bediening (wat dit ook al mag behels) te hanteer nie.
Ten minste twee kritiese vrae kan gevra word met betrekking tot die huidige ampsbestel in verhouding met die presbiter soos dit hier geformuleer word:
Die eerste het betrekking op die amp van die bedienaar. Volgens die huidige model is bedienaars ouderlinge of diakens wat bevoegdheid verkry vir ’n sekere bedieningsarea. Hieronder tel onder meer pastoraat, jeug, en diakonaat. Volgens die model soos dit hierbo geskets word, sou bedienaars mooi kon inpas by die amp van diaken waar die rol van die diaken juis geskik is om die presbiter by te staan met die bediening wat uit die erediens voortvloei, waaronder geloofsvorming, familiebediening, ens. kan ressorteer.
Die dubbelsinnigheid hier te sprake is dat bedienaars ook bevoegdheid ontvang in areas soos eredienste en aanbidding. Daar word ook eksplisiet gestel dat bedienaars nie sakramentsbevoegdheid ontvang nie. Die implikasie hiervan is dat bedienaars nie sal kan voorgaan in eredienste qua eredienste nie, maar hoogstens bystand kan bied by die viering van die eredienste. Wat presies hierdie bevoegdheid behels sou kon beteken dat bedienaars veral kan fokus op verskeie aspekte van die erediens, soos byvoorbeeld die lei van die samesang, die diens van gebede, die voorbereiding en verspreiding van die nagmaal, ens. Die interessante vraag sou egter wees: As bedienaars nie sakramentsbevoegdheid het nie, kan hulle dan tog die bevoegdheid ontvang om in die erediens te “preek”?
En ofskoon diensleraars gelegitimeer word met ’n vermelding van hul spesialisasie-rigting, kan hulle by ordening volle bevoegdheid ontvang om die Woord en sakramente te bedien.
Die Handleiding vir Diensleraars (2019a) gee verdere riglyne oor die aard van die diensleraar:
Diensleraars verrig ’n toegespitste bediening in een of meer spesifieke veld soos byvoorbeeld: pastoraat, jeug- en familiebediening, prediking, diakonaat, geloofsvorming, evangelisasie, kerkplanting, aanbidding, bejaardebediening, berading, lering, uitreikbediening en sending (klem bygevoeg).
Verder word die werksaamheid oënskynlik gekwalifiseer:
Die implikasie hiervan is dat diensleraars nie dieselfde omvattende teologiese opleiding as predikante ontvang nie, en daarom nie die bevoegdheid ontvang om die volle spektrum van ’n gemeente se bediening (soos predikante) te behartig nie (klem bygevoeg).
Die diensleraar moet ook as ’n reël “altyd saam met en onder leiding van die plaaslike gemeente se predikant” werk.
Die kerkorde (2019) se reglement oor diensleraars bepaal egter dat diensleraars moet beskik oor “preekbevoegdheid en kan die sakramente bedien in die konteks van hulle bediening” (klem bygevoeg).
Die kritiese vraag wat aan die orde gestel kan word: Beteken dit dat die ruimte waarbinne diensleraars kan preek en die sakramente bedien beperk word tot hul toegespitste bedieningsterein? En wat sou die praktiese implikasie wees sou daar so beperking bestaan? Sou dit byvoorbeeld beteken dat diensleraars, wat byvoorbeeld opleiding binne die terrein van jeugbediening ontvang het, veral (dalk net) die sakramente kan bedien in die konteks van toegespitste jeugbediening, byvoorbeeld by ’n jeugdiens, of by ’n jeugkamp, sou daar dalk in die vooruitsig gestel word dat ’n diensleraar wat in die (sterwens)pastoraat opgelei word dalk veral die nagmaal of selfs die doop by ’n sterfbed bedien? Of sou die bediening van die Woord en sakrament in ’n erediens van die gemeente nie in die konteks van byvoorbeeld ’n diensleraar met ’n jeugbediening fokus val nie?4
Reeds hier in die begeleidende dokumente van die kerk is daar spanning te bespeur in die konseptualisering van die diensleraars. Om op te som:
Die kritiese vraag daarop is: As diensleraars bevoegdheid ontvang om die Woord en sakramente te bedien, is dit enigsins sinvol of inderdaad prakties uitvoerbaar, om diensleraars te beperk om die “volle spektrum” van die bediening te hanteer?
Soos die rol van die diensleraar voorsien is, sou dit bes moontlik beter gewees het om in ’n eggo van kerke met die drievoudige amp van biskop, presbiter en diaken om diensleraars tot die amp van diaken in ooreenstemming met “hoër” liturgiese kerke te orden met beperkte bedieningsbevoegdheid. Maar soos die Engelse spreekwoord egter lui: The horse has already bolted 5 weens die feit dat diensleraars vir alle praktiese doeleindes volle bevoegdheid ontvang het om die Woord en sakramente te bedien.
Die voordeel daarvan dat diensleraars as’t ware “statutêr” verplig word om in verhouding met ander presbiters te werk, maak dalk die deur oop om die NG Kerk se ampsbestel in ’n meer ekumeniese rigting te stuur.
8.3 Die voorsittende presbiter (biskop)
Net enkele opmerkings kan gemaak word:
Die eerste is dat die amp van biskop nie algeheel vreemd aan die gereformeerde wêreld is nie. (Die gereformeerde kerk in Hongarye het byvoorbeeld administratiewe biskoppe) (geen datum).
Die gereformeerde vaders is ook nie ondubbelsinnig teen die amp gekant nie. Presa (2012:125) sê byvoorbeeld die volgende:
Bucer saw the offices of pastor, elder, and deacon as undivided plural ministries of the whole Church. Bucer had no problem using the term “bishop” in speaking about pastors, though he understood that to be the elected president of the collegium of presbyters.
Vir Torrance (1993:104) word die gemeenskaplike episkopaat (oorsig) in die biskop, wat as deel van die presbiterium (die ring) die leiding neem, beliggaam. Die funksie van die presibiter-biskop kan wees om benewens die bediening van Woord en sakrament “ … to act as spiritual counsellor and guide to his (sic) fellow ministers, and to act in a presidential capacity or even a representative capacity for the presbytery in its solemn acts and deliberations … “ (Torrance & Stein 2012:135).
In die huidige ampsmodel word daar nie voorsiening gemaak vir ’n kreatiewe ontvangs van die ekumeniese biskopamp nie. Die kritiese vraag wat gevra kan word is of Hunsinger (2008:212) se vermaning nie ernstig opgeneem moet word nie?
It is hard to see how ecclesial conversion for the Reformed would not entail adopting the traditional threefold pattern: bishops, presbyters, and deacons. The fissiparous Reformed family has much to gain by submitting to the discipline of this polity.
8.4 Die begeleiende presbiter
Telkens in die huidige ampsbedeling word daar verwys na die feit dat predikante diensleraars (en bedienaars) moet “mentor” of “begelei”.6
Dit mag “mentor”-predikante in die posisie plaas wat Calvyn voorsien het as die “dokter”-amp.
Spasie ontbreek hier om die geskiedenis en nuanses van hierdie amp in die gereformeerde wêreld na te speur,7 maar ’n historiese lyn van Bucer wat deur Presa (2012:108) uitgewys word kan ’n baie vrugbare aanknopingspunt vir die huidige ampsbedeling wees.
Bucer envisioned a four-fold pattern of ministry, but like Calvin, combined the office of pastor and doctor. Van’T Spijker noted von Allmen’s conclusion that Bucer saw the office of doctor as a specialization within the presbyterate to assist pastors with insights gained from study in the pastor’s work of “care of souls”.
Of soos Torrance (2012:134) dit stel:
Thus, in the Reformed Church, we acknowledge that some presbyters are set apart and are acknowledged to have a special charisma for teaching doctrine and for keeping a “watching brief” over the purity of the Church’s proclamation and doctrine in obedience to the teaching of the apostles. These are the “doctors” of the Church, and they are responsibly commissioned to exercise their functions with appropriate jurisdiction …
Wat tans as die predikantsamp of “gemeenteleraar” voorsien word, kan goedskiks so ingerig word dat dit beide die fokus het op die pastorale bediening in ’n gemeente, asook getaak word met die “watching brief” vir die begeleiding, opleiding en vorming van diensleraars.
Dit is belangrik om te beklemtoon dat in so ’n ekologie daar nie sprake sal wees van ampte wat oor mekaar “heers” nie, maar dat die beginsel van wedersydse begeleiding en mentorskap sal geld, met inbegrip van die verskillende vaardighede, opleiding en kennis wat daar in ’n span bestaan. Hoe daardie span saamgestel word en funksioneer sou nog uitgewerk word, een as die amp van die voorsittende presbiter of biskop realiseer kan dit moontlik haar taak wees om te verseker dat diensleraars en begeleidende leraars goed saam sal funksioneer. Wat wel waarskynlik is, is dat hierdie span oor gemeentegrense heen sal funksioneer.
8.5 Die diaken
Soos reeds genoem is daar in die kerk die tradisie dat daar mense in die samekoms is wat die besondere verantwoordelikheid het om die samekoms van die gemeente se gawes met die gemeenskap te deel: Die middele moet versamel en uitgedeel word, die brood en die wyn moet na die siekes geneem word. Dit is by uitstek die diaken wat in samewerking met die presbiter hierdie verantwoordelikheid deel.
Om saam met die presbiters die goeie orde van die gemeente en die uitleef van die gemeente se roeping te verseker is daar diakens, wat in ons taal die kerkraad sou wees wat bestaan uit ouderlinge en diakens.
Weereens volg ons TF Torrance se leiding met hierdie saak: Hy voer aan hoewel die bediening wat toegedeel word aan “regerende” ouderlinge in die gereformeerde wêreld nie vreemd is aan die Nuwe Testament nie, is daar volgens hom nie direkte bewyse van die “regerende ouderling” in die Nuwe Testament nie. Daar is egter, volgens Torrance, ’n noue verwantskap tussen die gereformeerde wêreld en die regerende ouderling en die funksies wat hulle vervul en die amp en die funksies van die diaken wat beskryf word in die pastorale briewe en die vroeë kerk se geskrifte.
Torrance beklemtoon dat diakens bystand gebied het aan die biskoppe en presbiters en dan veral met die bediening van barmhartigheid en om die presbiters en biskoppe te help om die deelnemers aan die nagmaal te bedien. Ter opsomming stel Torrance (1984) dit duidelik:
Thus, it would seem to be the case that our elders now fulfil a ministry which in the New Testament itself is ascribed to deacons. In other words, the best, and indeed the only, biblical evidence for the ministry fulfilled by our elders is found in New Testament teaching about deacons, supplemented by what we learn from Early Church documents.
Die gereformeerde teoloog, George Hunsinger (2008:208–209), se aanbeveling is ook dat, na aanleiding van die Anglikaans-gereformeerde dialoog, hy voorstel dat benewens die feit dat die gereformeerde wêreld die voorsitter van die ring in ons taal, of die moderator van die presbiterium in die presbiteriaanse taal, kan omskep in ’n biskop as deel van die ring se oorsig. Daar word ook die aanbeveling gemaak dat die Anglikaanse kerk ook iets van die gereformeerde wêreld se regerende ouderling inkorporeer in hul diakenamp.
Die voorstel vir die NG Kerk is dan na aanleiding van hierdie refleksies om die regerende ouderling- en die diakenamp te integreer, en my vermoede is dat daar reeds nie werklik ’n wesentlike verskil gesien kan word tussen ouderlinge en diakens in die meeste kerkrade van die NG Kerk nie.
Hierdie artikel het die liturgiese byeenkoms as vertrekpunt geneem vir die nadenke oor die ampte in die NG Kerk. As die liturgiese byeenkoms ’n eenheid van Woord en sakrament is, en die hoofdoel van ordening is om mense wat voor gaan in hierdie erediens deur die gemeente en die breë kerk te erken en te bemagtig, maak dit dan sin om nie twee kategorieë van geordendes daar te stel waar een tipe voorgaan in die erediens en die volle bediening kan hanteer, en ander ook voor kan gaan in ’n sakramentele erediens, maar nie die volle bediening kan hanteer nie. Voorts maak dit sin om die diaken-amp te bevestig as ’n leke-amp om by te staan, hierdie diens te verrig en om die bediening te behartig wat uit die samekoms voortvloei.
Daar kan nie ’n “hoër” of meer uitdagende bediening wees as om die Woord en die sakramente te bedien nie, en daarom moet aanvaar “en verwag” word dat diensleraars, wat hierdie bevoegdheid ontvang het, die bevoegdheid het om die volle bediening te hanteer. Maar juis omdat diensleraars nie noodwendig die “volle” opleiding ontvang (soos byvoorbeeld opleiding in die grondtale van die Skrifte nie) is dit imperatief dat hulle as deel van ’n span begelei word om die Woord en sakrament, en die bediening wat daaruit voortvloei, te bedien.8
Weereens moet dit hier beklemtoon word dat, as deel van die gemeenskap van presbiters, wedersydse mentorskap en begeleiding die norm kan en moet wees. As die kontekstuele uitdaging van “in afgeleë plekke, missionale kontekste, (en) gemarginaliseerde omgewings” aangespreek moet word, kan dit nie wees dat diensleraars net ingespan kan word in gemeentes waar daar reeds gemeenteleraars is nie. Die veronderstelling is dat die ekologie van die kerkverband sal wees waar begeleidende leraars, presbiter-biskoppe en diakens ’n kardinale rol sal speel. Diensleraars se opleiding en verdere vorming sal met hierdie selfverstaan ingerig moet word.
Om “bedienaars” teologies verder op te lei, is ’n lofwaardige ideaal en
“leke” kan wonderlike werk verrig in terme van pastoraat, jeugbediening, kategese, ens. Of hulle kan voorgaan in ’n erediens (soos dit hier gekonsepsualiseer word) en “preek” is ’n ander saak. Een moontlikheid is om die tradisie van die gemeenskaplike liturgiese gebed in die NG Kerk te herwin waar daar selfs ’n oordenking/preek na aanleiding van die Skriflesings kan plaasvind, wat leke kan lei, maar wat nie as ’n “erediens” geklassifiseer sal word nie, maar eerder as iets soortgelyk aan die wyding van die oggendgebed soos dit in die Anglikaanse transisie funksioneer.
Ter afsluiting word ’n pleidooi gelewer vir die benoeming van die ampte in die NG Kerk om interne verwarring uit te skakel, maar ook om aan te sluit dat die ekumeniese tradisie heroorweeg sal word.
Volgens die model wat hier voorgestel word sal, almal wat georden word met die bevoegdheid om die Woord en sakramente te bedien, georden word as presbiters.
Presbiters wat verdere/meer omvattende opleiding ontvang het, kan gelyklopend met hul ordening of daarna bevestig word as begeleidende presibiters. Die kuratoria kan moontlik ook hier ’n rol speel.
Presbiters wat deur die breë kerkverband, (streeksinodes wat vervang word met groter ringe?) daartoe verkies is om veral die eenheid van die kerk, die pastorale sorg en oorsig van die verband te dien en te beliggaam, word biskop-presbiters.
Lidmate wat verkies word tot die tradisionele kerkraad word bevestig as diakens.
Uiteraard sal daar nog baie verdere implikasies van so ’n voorstel deurgewerk moet word, maar tans is die hoop dat so ’n voorstel die kerk kan dien om te verseker dat die evangelie en sakramente suiwer bedien word en dat daar vanuit en na die erediens genesing sal vloei.
Bibliografie
Avis, P.D.L. (2005). A ministry shaped by mission, e-Book. [Online]. Available: https://ereader.perlego.com/1/book/804149/1 T & T Clark International, New York.
Barth, K. (1964). Prayer and Preaching, SCM Press, London.
Burger, C., Marais, F., Cilliers, B. & Kirkpatrick, J., (2019). Besinning oor die Ampte.
Burger, C.W. (2004a). Die predikantsamp. Deel 4 : Predikantwees in die Gereformeerde tradisie in die 21ste eeu – nuwe uitdagings en nuwe tendense. Dutch Reformed Theological Journal/Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 45(3–4):529–537.
Burger, C.W. (2004b). Die predikantsamp. Deel 5 : Kan die drieampteleer ons help om ’n Bybelse fokus aan die predikantsamp te gee? Dutch Reformed Theological Journal/Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 45(3–4):538–548.
Burger, C.W. & Wepener, C.J. (2004). Die predikantsamp. Deel 2 : Op soek na ’n Bybelse visie van die amp : ironieë en verrassings. Dutch Reformed Theological Journal/Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 45(1–2):15–22.
Bybel-Media, (2012). Handleiding vir die erediens. Wellington: Bybel-Media.
De Gruchy, J.W. (2013). John Calvin: Christian Humanist and Evangelical Reformer. e-Book. [Online]. Available: https://www.perlego.com/book/878289/john-calvin-christian-humanist-and-evangelical-reformer-pdf. La Vergne: Wipf and Stock Publishers.
Duba, A.D. (2005). The ordo: the centre of liturgical reform. Liturgy, 20(2), 9-22.
Henderson, R.W. (2014). The Teaching Office in the Reformed Tradition A History of the Doctoral Ministry. Eugene: Wipf and Stock Publishers.
Hunsinger, G. (2008). The Eucharist and ecumenism: let us keep the feast. New York:Cambridge University Press.
Jonker, W. (1990). Die eenheid van die kerk volgens die NGB. Willie Jonker Digitale Argief.
Lathrop, G. (1995). Knowing Something a Little: On the Role of the Lex Orandi in the Search for Christian Unity. In T.F. Best & D. Heller (eds.). So We Believe, So We Pray: Towards Koinonia in Worship. Geneva: WCC Publications. 38-48
Lathrop, G.W. (1998). Holy Things: a liturgical theology. Kindle Edition. Minneapolis: Fortress Press.
Lathrop, G.W. (2007). Holy people: a liturgical ecclesiology. Minneapolis: Fortress Press,
Lathrop, G.W. (2022). The assembly: a spirituality. Minneapolis: Fortress Press.
Marais, F., Myburgh, K., Nel, M., Smit, G., Van der Merwe, W., Van de Walt, P. & Woest, J. (2019). Raamwerk vir Missionale Bedieningsontwikkeling in die NG Kerk.
McPartlan, P. (2006). The Eucharist makes the Church: Henri de Lubac and John Zizioulas in dialogue. Fairfax, Virginia: Eastern Christian Publications.
Moore-Keish, M. (2010). A Christian Ordo? A Journal of Bible and Theology. Interpretation, 64(3):246-256, 230.
Niemandt, C.J.P., Marais, J.F., Schoeman, W.J., Van der Walt, P. & Simpson, N. (20180. Corrigendum: ’n Navorsingstrategie vir missionale transformasie. Verbum et Ecclesia, 39(1):1-13.
Niemandt, C. (2019). Missional Leadership. AOSIS, S.l.
Presa, N.D. (2012). Here I Am, Lord, Send Me Ritual and Narrative for a Theology of Presbyterial Ordination in the Reformed Tradition. Eugene: Wipf and Stock Publishers.
Rienstra, R.A. (2019). Church at church: Jean-Jacques von Allmen’s liturgical ecclesiology, eBook. [Online]. Available: https://ereader.perlego.com/1/book/955427/2 Eugene, Oregon: Pickwick Publications.
Schlesinger, E.R. (2017). Missa est! a missional liturgical ecclesiology. Minneapolis: Fortress Press.
Taylor, N. (2009). Lay presidency at the Eucharist? an Anglican approach. Kindle. London; New York: Mowbray.
Torrance, T.F. (1984). The Eldership in the Reformed Church. Scottish Journal of Theology, 37(4):503-351.
Torrance, T.F. (1993). Royal priesthood: a theology of ordained ministry. 2nd Edition. eBook. [Online]. Available: https://ereader.perlego.com/1/book/803871 Edinburgh: T & T Clark.
Torrance, T.F. & Stein, J. (2012). Gospel, church, and ministry. Eugene, Oregon: Pickwick Publications.
Von Allmen, J.J. (ed.). (2002). The Lord’s Supper. Reprinted. Cambridge: Clarke.
Wepener, C. & Bartlett, A. (2014). Die erediens as fees of die fees as erediens? ’n Andrew Murray-pryswenner ’n kwarteeu later herlees. Verbum et Ecclesia, 35(2). 8 pages.
Wepener, C.J. (2004). Die predikantsamp. Deel 3 : Die take van die predikant in die Gereformeerde tradisie – histories en ekumenies beskou. Dutch Reformed Theological Journal/Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 45(1–2):152–165.
Wepener, C.J. & Burger, C.W. (2004). Die predikantsamp. Deel 1 : onduidelikheid oor die kerninhoud van die predikantsamp. Dutch Reformed Theological Journal/Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 45(1–2):6–14.
(1963). The Constitution on the sacred liturgy sacrosanctum concilium solemnly promulgated by his holiness pope Paul VI on December 4, 1963.
(2013). Agenda vir die 15de vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Veremarksaal, Port Elizabeth, Sondag 6 tot Donderdag 10 Oktober 2013.
(2019a). Handleiding vir Diensleraars.
(2019b). Agenda vir die 17de vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.
(2019c). Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk – Artikels, Reglemente en Aanvullende en Toeligtende Besluite soos vasgestel deur die Algemene Sinode in Oktober 2019.
(No date). Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB).
(No date). Reformed Church in Hungary, Word Council of Churches: Member Churches.
1 Die historiese verbintenis tussen Woord en sakrament is nie maar ‘toevallig’ nie; dit is intrinsiek van aard; die sakrament is nie bloot ’n verduidelikende addendum by die Woord nie, maar die sigbare gestalte van die Woordgebeure. Sonder die sakramentsviering is die Woord abstrak, op sy beurt is die sakramentsviering sonder die Woord ritus sonder rigting en intensie. Hierdie ‘twee-eenheid’ van Woord en sakrament geskied binne die kerk as geloofsgemeenskap (gemeenskap van die heiliges binne die gemeenskap van heil) ... met die oog op die wêreld.
2 My contention – to be expanded in what follows – is that the Church is commissioned to carry out a ministry of word, sacrament and pastoral care. I doubt whether many Christians would question the claim that the ministry of the word, the administration of the sacraments, and the provision of pastoral care are central to the Church’s purpose. But I imagine that some would challenge my contention that they comprise the mission of the Church exclusively and without remainder. So let me explain. I am not attempting to put mission in a straitjacket. I have no wish to place artificial limits on the diversity of forms that mission takes. I fully acknowledge, as proper and vital aspects of Christian mission in its broadest sense, such areas as social action, religious and moral education, political activity in the cause of justice and peace, and the nurturing of personal wholeness through many forms of therapy. They are activities that are infused with the Christian gospel and carried out in the service of Christ. I do maintain, however, that to justify themselves in terms of the Church’s mandate these activities should relate at some point – and the more closely they relate the better – to the ministry of the word, the sacraments and pastoral care since these are the God-given, the divinely ordained, tasks of the Church.
3 Iets hiervan word opgevang in Nederland waar daar dikwels na die predikant as "voorganger" verwys word.
4 Die vermoede kan bestaan dat kategoriale dienste hier in die vooruitsig gestel word. Eredienste soos jeugdienste, gesinsdienste ens. Die wenslikheid van so 'n opvatting kan nie hier beredeneer word nie.
5 Om die Afrikaanse uitdrukking, “die koeël is deur die kerk” in hierdie konteks te gebruik sou dalk nie so onvanpas wees nie.
6 Byvoorbeeld: Diensleraars word volgens die kerkorde begelei deur predikante wat hulle mentor in hul bediening. Hulle is nie opgelei as gemeenteleraars nie en kan daarom nie alleen sonder begeleiding van mentor-predikante diens lewer in gemeentes nie. (2013:112)
7 Sien in hierdie verband byvoorbeeld (Henderson 2014).
8 Die vraag of dit wenslik is vir voorgangers in Woord en sakrament om nie die "volle" opleiding te ontvang nie, word nie hier aangespreek nie. Weereens, juis omdat die posisie nou is dat hulle reeds bevoegdheid tot die bediening van Woord en sakrament ontvang het, en om hierdie voorreg terugwerkend – of selfs vooruitskouend – aan ander vereistes te onderwerp sal waarskynlik nie haalbaar wees nie.