Die gevolg van die Loedolff-saak van 1862: ’n Rigtingwyser vir die herorganisasie van die NGK-verband na 200 jaar

Johan M van der Merwe

Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

Johan.vdmerwe@up.ac.za

Van der Merwe

Abstract

On the 2nd of November 1824, the first General Synod of the Dutch Reformed Church (DRC) convened in Cape Town. The unity that was established through synodical ties did not last long. In 1862 the denomination was thrown into turmoil when an elder of the church took the church to court. HH Loedolff challenged the participation of congregations outside the Cape colony to be part of the General Synod. After the court ruled in his favour, congregations of the church in the Transgariep established three individual synods, namely, Orange Free State (1864), Natal (1865) and Transvaal (1866). Two hundred years after the first General Synod, the DRC again finds herself in troubled waters with the denomination. Due to decisions taken by the General Synod, regional synods, presbyteries, and congregations want to sever their ties with the General Synod. To save the unity of the church, this can lead to a reorganisation of the church. This article focuses on the events and consequences of the ruling of 1862 to find directives for the current challenges in the church. The author makes use of the study of important literature which entails both primary and secondary sources to explore the topic. Many of the original documents were consulted online from the archives of the Dutch Reformed Church in Stellenbosch.1

Keywords

1824 First General Synod; church organisation; Loedolff case; ecclesiology; reorganisation, Article 32

Trefwoorde

1824 Eerste Algemene Sinode; kerkverband; Loedolff-saak; ekklesiologie; herorganisasie; Artikel 32

  1. Inleiding

In die jaar waarin die 200-jarige bestaan van die sinodale kerkverband
van die NG Kerk gevier word, is die verband opnuut onder druk. Verskeie voorbeelde ondersteun genoemde stelling. Sedert die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverbintenisse in 2015, was daar in verskeie gemeentes die oproep om uit Algemene Sinodale verband te tree. Omdat dit kerkregtelik nie moontlik is nie, is ’n beroep op streeksinodes gedoen om in die lig van Artikel 37 van die Kerkorde van die NGK uit Algemene Sinodale verband te tree. Voorstelle wat tydens die 2021 sitting van die Oostelike Sinode op die tafel was, dien as goeie voorbeeld: In ’n beskrywingspunt van die NG Kerk Burgersfort is voorgestel dat die sinode uit Algemene Sinodale verband tree. Dit het soos volg gelei: “Die Sinode besluit om uit die verband met die Algemene Sinode te tree” (Oostelike Sinode Notule 2021:14). Alhoewel die besluit nie goedgekeur is nie, was daar soveel verdeeldheid daaroor in die vergadering dat daar met geslote stembriewe oor die voorstel gestem moes word. ’n Verdere voorstel wat goedgekeur is, wat bogenoemde bevestig het soos volg gelei: “Die Sinode besluit dat indien die meerderheid gemeentes van Oostelike Sinode nie hul weg oopsien om uit die Algemene Sinode te tree nie, gemeentes wat nie langer deel van die Algemene Sinode kan wees nie, met leiding bedien sal word oor wyses waarop hulle wel uit verband met die Algemene Sinode kan tree” (Oostelike Sinode Notule 2021:14). Dit was nie net in die Oostelike Sinode waar kerkverband onder druk was nie. Die Sinode van die Vrystaat het soos volg aan die Algemene Sinode berig: “Die NG Kerk in die Vrystaat (NGK VS) het tydens haar 54ste sinodesitting in Maart 2022 in Bloemfontein, ’n aantal beskrywingspunte van gemeentes en twee ringe ontvang asook ’n verslag van ons Sinodale Taakspan Aktuele- en Leersake (STALS), met versoeke dat die Sinode kragtens Artikel 37 van ons Kerkorde uit algemene sinodale verband sal tree” (NGK 2023:143) terwyl die NGK in Namibië selfs ’n stap verder gegaan het. Die sinode het tydens haar vergadering in 2022 besluit om die Algemene Sinode van die NG kerk op te roep tot: “hartgrondige bekering (2022 Sinode besluit verwys vir omskrywing). Indien hartgrondige bekering nie sou plaasvind nie, is dit die voorneme van die Namibiese Sinode om kragtens Art 37 van die NG Kerkorde uit die huidige verband met die NG kerk se Algemene Sinode te tree. Die Taakspan Matteus 18, in oorleg met die Namibiese moderamen, oordeel dat genoegsame bekering nie by die Algemene Sinode plaasgevind het nie. Die Namibiese moderamen oordeel dus dat die Namibiese besluit van 2022 van krag is” (NG Kerk in Namibië: 2023).

Die ontstaan van die Koinonia Sinode op 4 Mei 2023 is ’n verdere aan-duiding dat die kerkverband en met name die Algemene Sinode soos wat dit tans funksioneer vir baie lidmate nie aanvaarbaar is nie. Die Koinonia Sinode het ontstaan uit 56 gemeentes van die NG Kerk wat hulle nie verder met die besluite van die Algemene Sinode van die NG Kerk kon assosieer nie (Koinonia Sinode 2024). Die sinode het dit duidelik gemaak dat hulle hul “distansieer van samewerking met gemeentes en meerdere vergaderings wat die algemene sinode se dwaling ondersteun” (Eybers 2024).

Alhoewel sommige van hierdie gebeure amptelik as onkerkordelik bestempel is, kan die beroering binne die verband nie ontken word nie. Dit laat onwillekeurig die vraag onstaan of die NG Kerk nie nodig het om haar verband nuut te herorganiseer soos dit by verskeie geleenthede in die verlede gebeur het nie. Tweehonderd jaar gelede het die gemeentes van die NG Kerk hulleself in ’n Algemene Sinode georganiseer. In 1862 is die verband wat so ontstaan het, verbreek deur die hofuitspraak in die bekende Loedolff-saak en moes gemeentes hulleself weer herorganiseer. In 1962 het die kerk, na ’n lang soeke na meer formele eenheid daarin geslaag om haarself weer in ’n Algemene Sinode te organiseer. Tweehonderd jaar na die eerste vergadering van 1824 kan ’n herorganisasie van die verband moontlik help om die impasse waarin gemeentes hulle bevind aan te spreek. Hierdie artikel poog om rigtingpeilers vir so herorganisasie te gee deur te fokus op die gebeure rondom die Loedolff-saak van 1862. Eerstens sal daar verwys word na wat met kerkverband bedoel word. Voorts sal die artikel aandag gee aan die onstaan van die eerste Algemene Sinode in 1824 voordat die Loedolff-saak en die gevolge daarvan aan die orde sal kom. Die artikel word afgesluit met ’n aantal rigtingpeilers uit die gevolge van die Loedolff-saak wat moontlik ingedagte gehou kan word met ’n hernude organisasie van die kerk. Die outeur wil dit duidelik stel dat die artikel nie ten doel het om die onstaan, mandaat of bindende gesag van die besluite van die Algemene Sinode te bespreek nie. Dit val buite die fokus van
hierdie artikel.

  1. Kerkverband in die NGK

Om oor die organisasie of herorganisasie van die kerkverband van die NG Kerk na te dink, is dit belangrik om eers te vra na wat met kerkverband bedoel word. Kerkverband kan soos volg omskryf word: “Kerkverband is ’n hegte en kerkregtelik bindende vorm van kerkeenheid. Wanneer daar ’n kerkverband ontstaan, is dit ’n eenheidsband tussen kerke (plaaslike gemeen­tes) wat totstand kom deurdat besluit word om in verskeie vorme van verband met mekaar te tree” (Coertzen 2024). Coertzen beklemtoon verder dat die verskillende vorms van verband tot stand kom op die prinsipiële veronderstelling dat die onderskeie gemeentes saamstem oor Skrif, belydenis en kerkorde en hulle­self ook deur hierdie drie gebonde ag aan mekaar (Coertzen 2024). Wat duidelik uit hierdie definiëring van kerkverband na vore kom is die feit dat die besluit tot vorming van kerkverband by plaaslike gemeentes lê. Dit is gemeentes wat besluit om hulleself in ’n bepaalde vorm van eenheid te groepeer of te organiseer wat gebaseer is op Skrif en belydenis. Hierdie standpunt word deur Kleynhans ondersteun wanneer hy skryf dat belydenisgrondslag die basis van kerkverband vorm (Kleynhans 1985:1) Dit beteken dat die grense vir kerkverband eerder teologies op grond van Skrif en belydenis2 as geografies of polities bepaal behoort te word. Alhoewel geografiese en politiese grense belangrik is in die administratiewe funksionering van kerkverband, mag dit nooit bepalend wees vir die grense van die verband nie.

Hierdie standpunt word bevestig deur die verslag van die Taakspan vir Kerkverband wat in 2019 voor die Algemene sinode gedien het. In die verslag word gemeld dat kerkverband totstand kom wanneer: “gemeentes en kerke onderling hulle verband met en verbondenheid aan mekaar nastreef en uitleef” (NGK 2019:230). So gee hulle in verhouding en samewerking met mekaar prakties en konkreet uitdrukking aan die diepste oortuigings aangaande wie en wat die kerk as Liggaam van Christus is en bedoel is om te wees. Van die belangrike vetrekpunte wat in die verslag vir kerkverband geïdentifiseer word, is die volgende: “Gemeentes is volledig kerk, maar nie die hele kerk nie. Gemeentes tree met mekaar in verband op grond van hul gesamentlike roeping en belydenis. Gemeentes vergader saam in rings-, sinodale en algemene sinodale verband om mekaar tot diens te wees in hulle roeping as kerk. Alles wat in rings-, sinodale en algemene sinodale verband gedoen word, staan in diens van gemeentewerk” en “Gemeentes kom in die kerkverband saam as ringe en sinodes. Die onderskeie sinodes kom tans saam as die Algemene Sinode” (NGK 2019:231) Die verslag beskryf kerkverband verder soos volg: “Onderlinge eenheid en verhoudinge tussen geloofsgemeenskappe (gemeentes) kom in ’n verskeidenheid van patrone van wedersydse samewerking en begeleiding wat verbande genoem word, tot uitdrukking. Kerkverbandspatrone is ten diepste veronderstel om praktiese kanale te wees waardeur die geestelike energie van die lewende Liggaam van geloofsgemeenskappe tot diens in die Koninkryk, aan die wêreld en vir mekaar vloei” (NGK 2019:231). Uit bogenoemde is dit duidelik dat kerkverband binne die raamwerk van die ekklesiologiese identiteit3 van die kerk verstaan moet word. Dit beteken dat kerkverband van gemeentes uitgaan omdat dit gemeentes is wat saamkom om verband totstand te bring. Dit is dus ’n proses wat van binne na buite gebeur: van gemeente na meerdere vergaderings en nie anders om nie.4 Hierdie verstaan van die onstaan van kerkverband word ondersteun deur die vorming van verband 200 jaar gelede in 1824 maar ook in die gebeure wat uitgespeel het na die Loedolff-saak van 1862.

  1. Die organisasie van ’n plaaslike kerkverband in 1824

Die kerkverband met die moederkerk in Nederland het die gemeentes in die Kaap nie bevredig nie. Van der Watt meld verskeie redes daarvoor: “Die groot afstand wat die lande geskei het, swak kommunikasie, die feit dat gemeentes aan die Kaap nooit op meerdere vergaderings in Nederland sitting geneem het nie, en daarby die feitelike situasie dat gemeentes aan die Kaap los van mekaar bestaan het, het stemme weldra laat opgaan om ’n beter organisatoriese posisie vir die Kaapse gemeentes (Van der Watt 1976:32). As gevolg van die stadige tempo waarteen gemeentes gestig is, het die eerste gedagtes om ’n selfstandige kerkverband aan die Kaap te vorm, eers teen 1689 begin posvat. Die behoefte aan ’n eie kerkverband word bevestig deur ’n brief van ds. Henricus Beck in 1707 namens die Kerkraad van Stellenbosch aan die Klassis van Amsterdam waarin hy soos aangehaal deur Kleynhans, skryf: “te wensen ware’t, dat wij met sulke affaires UEW niet mogten voorkomen, of moeilik vallen; maar dat wij bij wijse van vergaderinge in ‘t midden van ons behandelt, konde afgedaan, en het sentiment van èèn kerkenraad door een groter vergaderinge bekragtigt worden (Kleynhans 1973:285).

In 1743 is die deur geopen vir die organisasie van ’n eie kerkverband aan die Kaap toe Baron G.W. van Imhoff, Goewerneur-generaal van Batavia, die Kaap besoek het en opdrag gegee het dat twee nuwe gemeentes gestig moes word. Dit het gelei tot die stigting van die gemeentes Tulbagh in 1743 en Swartland in 1745. Probleme wat die owerheid ondervind het met die vasstelling van gemeentegrense het daartoe gelei dat die Politieke Raad op 30 Julie 1745 opdrag gegee het dat die vyf verskillende kerkrade in ’n gekombineerde vergadering moes saamkom om die probleme op te los (Van der Watt 1976:35) Dit het aanleiding gegee tot die eerste “Gecombineerde Kerkckvergadering wat in Januarie 1746 vergader het. Hierdie eerste kerklike verband wat tussen die gemeentes in die Kaap ontstaan het, is egter in 1759 deur die Kaapse regering afgeskaf. Van der Watt oordeel tereg oor hierdie gebeure wanneer hy skryf dat die afskaffing van die gekombineerde kerkvergadering ’n gevoelige verlies vir die NGK was omdat dit die “normale kerkregtelike ontwikkeling van die kerk ontwrig en vertraag het” (Van der Watt 1976:38).

Die droom van ’n eie kerkverband aan Kaap sou moes wag vir die Kerkorde van Kommissaris-generaal J.A. de Mist wat in 1804 gepubliseer is. In die “provisionele Kerken-orde voor de Bataafsche volksplanting aan de Kaap
de Goede Hoop” het De Mist voorsiening gemaak vir die konstituering van ’n sinode (Van der Watt 1976:39). Die Kaapstadse kerkraad is verantwoordelik gemaak vir die saamroep van die vergadering (Kleynhans 1973:297). As gevolg van politieke woelinge aan die Kaap het bykans 20 jaar verloop voordat die vergadering byeen sou kom (Van der Watt 1976:40).

Op 19 Junie 1824 het drie predikante, Di. J.H. von Manger, J.C. Berrangé en A. Faure van die Kaapstadse gemeente die leemte van ’n verband tussen die gemeentes in ’n brief aan Lord Charles Somerset uitgewys. Kleynhans haal soos volg aan: “Toen deze Volksplanting met de Nederlanden vereenigd was warden de Leeraars der Koloniale Kerk beschouwd als behorende tot de Classis van Amsterdam en in kans van appèl werd het aan de decisie van gem. Classis overgelaten. Zedert hare Vereeniging mat Groot Brittannien warden de Leraars de Koloniale Kerk, eengermate aan zichzelven overgelaten, en in kerkelyke zaken, hetzy die leer of pligt betroffen, kon de Kerkenraad zich by geen hooger kerkelycke gerigt vervoegen” (Kleynhans 1973:298). Hulle het voorts ’n beroep op die Goewerneur gedoen om “ingevolge art. 46 en 47 van die vigerende kerkorde ’n sinode byeen te roep” (Kleynhans 1973:298). Op 23 Junie 1824 het die leraars ’n brief ontvang waarin hulle meegedeel is dat Somerset ingestem het tot hulle versoek5 (Handelingen 1824:5). Die toestemming wat so verleen is het die weg gebaan vir die Kaapstadse kerkraad om die ander gemeentes vir ’n eerste vergadering op te roep. Op 6 September 1824 word die gemeentes met die volgende kennisgewing opgeroep om “Ingevolge art. 46 van de kerkorde van De Mist word die ‘Predikanten en gedeligueerde Kerkeraadsleden, uit de gevestigde Hervormde kerken Gemeenten binne deze Colonie’ ’n Kerkelycke Vergadering” op 2 November 1824 by te woon (Kleynhans 1973:299). Die historiese belang van hierdie gebeurtenis word bevestig met die “bekendmaking” van die amptelike opening in die Kaapstadsche Courant en ’n uitnodiging aan die publiek om die amptelike opening by te woon. Die vergadering sou na die opening agter geslote deure met sy werksaamhede voortgaan (Kleynhans 1973:300). Van die 14 gemeentes was 12 teenwoordig.6 Van der Watt oordeel korrek wanneer hy sê: “Met die konstituering van het ‘Synode der Nederduitsche Gereformeerde kerk; is ’n gewigtige keerpunt in die geskiedenis van ons kerk bereik” (Van der Watt 1976:42). Hy gaan voort: “Dit was die eerste skrede op die weg wat onvermydelik moes uitloop op die vrymaking van die kerk van alle staatsoorheersing, maar boonop die resultaat van ’n lang stryd om organisatoriese eenheid” (Van der Watt 1976:42). Die sinode van 1824 was nie ’n eenmalige vergadering nie. Die vergadering het besluit om tweejaarliks te vergader (Brown 2002:87). Brown maak die volgende stelling oor die vergadering: “Die eerste sinode van 1824 het die basis en riglyn van ’n belangrike instelling in die NG Kerk geword wat steeds primêre besluitnemingsbevoegdheid het. Die sinodes het sedertdien ook
die mondstuk vir die kerk geword. Sinodale uitsprake is hierna noodwendig met groter gesag beklee as dié van kerkrade” (Brown 2002:87). Alhoewel Brown korrek is in sy oordeel, is die vraag of dit nie juis die rede vir die
huidige storm rondom kerkverband in die NG Kerk is nie. Alhoewel verband uit gemeentes onstaan het, het die kerkverband van die NG Kerk so
ontwikkel dat gemeentes nie meer direk inspraak in die besluitnemings-proses van die Algemene Sinode7 het nie omdat die vergadering nie uit afgevaardigdes van gemeentes bestaan nie.

  1. Die kerkverband gedwing om te herorganiseer:
    Die Loedolff-saak van 1862

4.1 Die aanloop tot die Loedolff-saak

Die lewe van die kerkverband wat in 1824 totstand gekom het, was van korte duur. In 1862 is die kerk deur ’n hofuitspraak gedwing om haar kerkverband te herorganiseer. Dit was die gevolg van die bekende Loedolff-saak van 1862. Om die belangrikheid van hierdie hofsaak en die betekenis daarvan in die regte konteks te plaas is dit nodig om terug te blaai in die geskiedenis na twee belangrike sake, naamlik: Ordonnansie 7 wat in 1843 aanvaar is en die ontstaan van die Ring van die Transgariep in 1850. Die belang van Ordonnansie 7 is geleë in die feit dat dit die Kerkorde van De Mist herroep het. Van der Watt is korrek wanneer hy skryf dat hierdie ordonnansie “die verhouding van die Nederduitse Gereformeerde Kerk tot die staat vasgelê het” en ook dat dit die “grondslag gevorm het waarop die kerkregtelike ontwikkelingvan die kerk berus het” (Van der Watt 1973:37). Een van die groot winspunte van die nuwe ordonnansie was die feit dat die Kommissarisse-politiek afgeskaf is. Dit het die praeses van die sinode van 1847 laat melding maak van “de vrijheid welke dit ons kerkgenootschap van Staatswege, sedert onze laaste bijeenkomst hebbe bekommen” (Handelingen 1847:251). Volkome Vryheid van die Staat was dit egter nie. Ten spyte van die feit dat die kerk toegelaat is om haar eie inwendige sake te reël, het die staat algemene toesig bly behou. Belangrik vir die fokus van hierdie artikel is die feit dat die Goewerneur oor die grense tussen gemeentes geraadpleeg moes word (Van der Watt 1968:38). Dit sou deurslaggewend wees vir die Loedloeff-saak van 1862.

Die tweede belangrike gebeurtenis, was die ontstaan van die Ring van die Transgariep. Met die verhuising van meer lidmate na die binneland en die stigting van gemeentes in die Vrystaat, Natal en Transvaal het formele kontak met die Kaapse kerk ’n dringender behoefte geword. Die Sinodale Kommissie van die Kaapse Sinode het daarom in 1850 besluit om die gemeentes aan die oorkant van die Grootrivier te versoek om die Ring van die Transgariep te vorm. Nadat die onderskeie Kerkrade die versoek goedgekeur het, het die Ring met ses gemeentes tot stand gekom: Pietermaritzburg, Winburg, Fauresmith, Smithfield, Bloemfontein en Harrismith (Van der Watt 1973:62). Dit is egter hierdie uitbreiding van die kerk buite die grense van die Kaapkolonie, wat die kerk met Ordonnansie 7 voor die burgerlike hof sou laat beland. Van der Watt skryf soos volg oor hieroor: “Twyfel oor die uitbreiding buite die koloniale grense is veroorsaak deur die willekeurige gebruik van die woorde ‘Zuid-Afrika’ en ‘deze Volksplanting’” (Van der Watt 1973:83). Die afgevaardigdes van buite die koloniale grense het in 1852 vir die eerste keer sitting geneem tydens die sinode. Onmiddellik was die reaksie uit die sinode van so aard, dat daar besluit is om eers ’n regsmening in te win. Die probleem was die bewoording van seksie 2 van Ordonnansie 7 wat verwys het na “binnen de Kolonie”. Die prokureur-generaal, William Porter, wat instrumenteel was in die formulering van Ordonnansie 7 het ten guste van inlywing geadviseer. Hy skryf onder meer: “The Ordinance appears to me to contemplate the Church as a Spiritual Body, unconfined by territorial, or, to speak more accurately by colonial limits. It designates that Spiritual body as the Dutch Reformed church in South Africa.” Volgens Porter het aardrykskundige of koloniale grense nie vir die kerk bestaan nie, juis omdat dit ’n “spiritual body” was.

Tydens die vergadering van die Sinode van 1857, is die vraag na sittingsreg van gemeentes buite die grense weer gevra, maar het dit tot ’n vraag beperk gebly. Die tafel is egter gedek vir ’n hewige stryd in die kerk wat tydens die sinode van 1862 op ’n spits gedryf sou word.

Die persoon wat in die geskiedenis bekend geword het as die een wat die samestelling van die kerkverband soos wat dit sedert 1824 ontwikkel het, tot ’n einde gebring het, was Hugo Hendrik Loedolff (Van der Watt 1973:90). Loedolff het reeds tydens die sinode van 1857 die vraag gevra of gemeentes uit die Vrystaat sittingsreg op die sinode het (Handelingen 1857:64). Op dag 21 van die vergadering het hy op ’n punt van orde gevra: “of ingevolge Ordonn. No.-7 1843. Sect. 4.7 en de preamble, de Vergadering wettiglijk te zamen is gesteld en vergaderd, en vooral daar de Oranje Vrijstaat een onafhanlijk is verklaard in 1854, en dus na de gegeven opinie van den Procreur-Generaal in 1852” (Handelingen 1857:64). Die saak het oorgestaan tot die volgende dag, Maandag 9 November 1857 waartydens die vergadering die saak breedvoerig bespreek het. Die saak is vir eers tot ’n einde gebring deur ’n voorstel van die actuarius wat soos volg gelei het en aanvaar is: “De Synode acht niet noodig verder te treden in deze bedenking van den Oudeling van Zwartland” (Handelingen 1857:65). Loedolff was egter nie tevrede nie en sou in aanloop tot die sinode van 1862 die kerk dikwels in die publieke arena aanval.8 Van der Watt is van mening dat die stryd om die samestelling van die sinode oor veel meer as blote kerkregtelike sake gehandel het. Hy skryf: “By nadere ondersoek word dit duidelik dat die stryd teen die samestelling van die Sinode, soos dit sedert 1852 was, opgekom het uit liberale geledere. Bewys hiervoor vind ons in die feit dat dit sonder uitsondering die vrysinnige element in die Kaapse Sinode was, wat teen die ortodokse predikante en ouderlinge van die Transgariep opgetree het (Van der Watt 1973:94). Hierdie stelling van Van der Watt is belangrik wanneer in ag geneem word waarom gemeentes in die NGK tans nuwe verbande wil vorm.

4.2 H.H. Loedolff vs die Ned Geref Kerk9

Met die aanvang van die sinode van 1862 het Loedolff die saak op die spits gedryf. Op die eerste sittingsdag het hy beswaar gemaak teen die sittings-reg van die afgevaardigdes van die gemeente Pietermaritzburg (Handelinge 1862:5). Met die verkiesing van die moderatuur het Loedolff weer beswaar gemaak teen die stemreg van die afgevaardigdes buite die grense van die Kaapkolonie. Albei sy besware, wat van die hand gewys is, was gebaseer op die feit dat geen ander persone as slegs diensdoenende predikante en ouderlinge uit “deze Kolonie” sitting en stemreg in die sinode gehad het nie (Van der Watt 1977:110) en dat die Sinode van 1852 geen reg gehad het om die regulasies te verander deur die woorde “deze Volksplanting” met “Zuid Afrika” te vervang nie. Met die afwysing van hierdie besware van Loedolff het hy hom uit protes teen die Sinode se besluit tot die burgerlike hof gewend. Op 18 November 1862 het die aansoek om ’n interdik teen die sittingsreg van ds. A.A. Louw van Fauresmith op die Kaapse Sinode voor die Hooggeregshof gedien (Van der Watt 1973:102). Hierdie aansoek is deur die hof van die hand gewys. Dit sou Loedolff egter nie keer nie en op 26 November 1862 het die tweede fase van die hofsaak ’n aanvang geneem. Die aansoek wat deur adv. C. Brand voor die hof gebring is, word deur Van der Watt soos volg aangehaal: “on al hetwelk genoemde klaers, die leden zijn der Nederduitsch Gereformeerde Kerk van deze Kolonie, verzoeken dat het besluit der Synode, gedateerd 18 October 1852, ter inlijving van de Transvaal gemeenten, en de wijziging gemaakt in Art 11, 12 en 13 dier wetten en bepalingen, als van nul en geener warden wordt verklaard; en dat genoemde Andries Adriaan Louw verklaard word niet geregtigd om zitting te nemen, te beraadslagen en te stemmen op de bijeenkomsten van genoemde Synoden, of aan hare handelingen deel te nemen” (Van der Watt 1973:104). Brand se hele betoog was gegrond op die feit dat die woorde “Nederduitsch Gereformeerde Kerk in Zuid Afrika” in Ordonnansie 7 niks anders beteken het as die Ned Geref Kerk in die Kaapkolonie nie (Van der Watt 1973;104). Die regters het dieselfde dag hulle uitspraak gelewer. Van der Watt haal die beslissing soos volg aan: “that the said Andries Adriaan Louw be declared not entitled to sit, deliberate, and vote at the meetings of the said Synod, or to take any part in their proceedings. No costs” (Van der Watt 1973:109).10

4.3 Kerkregtelike gevolge van die Loedolff-saak

Die kerkregtelike gevolge van die hofuitspraak word deur van der Watt soos volg beskryf: “Dit was op kerkregtelike gebied dat die gevolge van hierdie uitspraak ingrypend sou deurwerk met die verbreking van die kerkverband tussen gemeentes van die Ned. Geref. Kerk binne en buite die Kaapkolonie” (Van der Watt 1973:129). Hierdie gebeure sou aanleiding gee tot die konstituering van drie nuwe sinodes, naamlik: Oranje-Vrystaat 1864, Natal 1865 en Transvaal 1866.

Twee belangrike sake staan uit in die kerkregtelike gevolge van die
Loedolff-saak:

Die eerste belangrike saak is die feit dat die staat politieke grense op die kerkverband afgedwing het en die kerkverband tot die Kaapkolonie
begrens het. Dit het die gemeentes van die kerk gedwing om te her-organiseer. Adv. Watermeyer wat namens die kerk in die hof verskyn het, het volgens Van der Watt tereg die denkbeeld bestry dat die kerk se grense verbind is aan, of afhanklik was van die staat se grense (Van der Watt 1973:106). Dit was ook in lyn met die uitspraak van Porter toe hy die kerk ’n “spiritual body” genoem het. As in ag geneem word dat kerkverband tot stand kom wanneer gemeentes op grond van gemeenskaplike belydenis met mekaar in verband tree, is die logiese afleiding dat die verband wat so tot stand kom haar eie grense bepaal en dat hierdie grense teologies van aard is. Hierdie is ’n belangrike beginsel wat ook in die huidige debat oor grense binne die verband van die NG Kerk in gedagte gehou moet word. Die gebeure rondom die Loedolff-saak daag die kerk uit om eerstens van uit ’n ekklesiologiese vertrekpunt na kerkverband te kyk. In die Loedolffsaak is die kerk de jure beskou as ’n blote vereniging net soos enige ander menslike genootskap (Van der Watt 1973:120). Dit het beteken dat die betrekking tussen die kerk en sy lidmate dieselfde beskou is as die betrekking tussen twee kontrakterende partye. Kerklike en geestelike sake is volgens hierdie ooreenkoms gereël. Die kerk is egter veel meer as ’n blote vereniging. Die kerk moet gesien word in verband met, of as deel van die geheel van God se handelinge met die mens in die wêreld. Dit is God wat handel en die kerk in die wêreld konstitueer (Heyns 1981:352). Hoe die verstaan van die kerk die kerkreg in ’n kerk beïnvloed, word deur Koffeman soos volg beklemtoon: “Kerkrecht is altijd verankerd in een theologische visie op de kerk die in een bepaalde gemeenschap, meer of minder expliciet, bepalend is of althans bepalend was ten tijde van het aanvaarding van die kerkorde” (Koffeman 2009:11).

Hy is verder tereg van mening dat ekklesiologie en kerkreg aan mekaar verbind is, en beklemtoon dan: “Kerkordes maken keuzes -en moeten die maken- met betrekking tot fundamentele ecclesiologische vragen” (Koffemann 2009:12) wat spesifiek dan ook die grense van die kerk insluit. Wanneer daar daarom binne die NG Kerk besluite geneem word oor kerkverband en grense van die verband, moet die vertrekpunt in die eerste plek ekklesiologies en nie juridies van aard wees nie. Dit is God wat sy kinders in gemeentes versamel en dit is gemeentes wat onder leiding van die Gees saamkom om kerkverband te vorm. Dit beteken dat die gesag van die Skrif en belydenis die grondslag moet wees vir die vorming van nuwe verbande.

Tweedens bevestig die gebeure wat na die Loedolff-saak buite die grense van die Kaapkolonie afgespeel het die gereformeerde standpunt dat dit gemeentes is wat hulleself organiseer om verband te vorm en dat die verband wat so gevorm word haar eie grense bepaal.

Nadat die Hooggeregshof op 26 November 1862 ten gunste van Loedolff beslis het, en die uitspraak aan die Kaapse sinode voorgehou is, moes die afgevaardigdes van buite die kolonie die vergadering verlaat (Handelingen 1862:105). Van der Watt interpreteer die gebeure soos volg: “Dit was ’n hartroerende gebeurtenis toe die oomblik aangebreek het, waarin die werklikheid en gevolge van die uitspraak gestalte gekry het en die moderator namens die vergadering die lede wat deur die uitspraak geraak was, versoek het om die sinode te verlaat (Van der Watt 1973:109). In die afskeidswoorde van die vertrekkende leraars is onder meer melding gemaak van die groot wond wat die sinode toegedien is en die smart en teleurstelling wat lede belewe het by hul vertrek uit die vergadering (Van der Watt 1973:110).

Minder as ’n jaar later, het die gemeentes in die Vrystaat hulleself begin organiseer om ’n nuwe verband te vorm. ’n Kerkvergadering is op 11 September 1863 in Bloemfontein saamgeroep waar die toekomstige posisie van die kerk in die Vrystaat bespreek is. ’n Volgende kerklike konferensie het op 9 November 1864 te Smithfield saamgekom en op 15 November is “in naam des drieënige God de Synode van den Oranjevrijstaat wettig geconstitueerd” (Van der Watt 1973:130). Van der Watt is van mening dat hoewel die eerste sinodale byeenkoms eers op 10 Mei 1865 in Bloemfontein saamgekom het, 15 November 1864 die datum is waarop die Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Oranje-Vrystaat totstand gekom het. (Van der Watt 1973:130)

Tydens die sitting van die Ring van Natal in 1863 te Utrecht, is besluit om in ’n eie sinodale verband te organiseer. Op 7 Junie 1865 het die eerste Sinode van die Natalse gemeentes in Pietermaritzburg gekonstitueer (Extrakt van Notule 1865:1). Die koms van ds. F. Lion Cachet na Utrecht het ook nuwe hoop aan die gemeentes in Transvaal gebring. Na oorleg met die kerkrade van ander gemeentes het die kerkrade van Utrecht en Lydenburg die ander gemeentes in Transvaal opgeroep tot ’n algemene vergadering te Utrecht op 3 Desember 1866. Op die vergadering is besluit dat: “al de gemeenten der Nederduitsch Gereformeerde Kerk in de republiek nu hier verteenwoordigd, vereenigd worden, onder een kerkbestuur als de Nederduitsch Gereformeerde Kerk in de Z.A. Republiek” (Handelingen 1866:7). Die uitspraak in die Loedolff-saak het dus veroorsaak dat die gemeentes buite die Kaapkolonie hulleself in drie afsonderlike sinodale verbande georganiseer het. Vir die doel van hierdie artikel is hierdie gebeure van uiterste belang. Dit is nie van buite of deur ’n meerdere vergadering op hulle afgedwing nie, maar het spontaan gebeur net soos wat dit met die ontstaan van die Kaapse Sinode in 1824 gebeur het. Die ontstaan van die sinodes van die Oranje-Vrystaat, Natal en Transvaal bevestig die feit dat verband gevorm word wanneer gemeentes saamkom en dat die verband wat so ontstaan haar eie grense vorm.

  1. Gevolge van die Loedolff-saak:
    ’n Rigtingwyser 200 jaar later

Die gevolge van die Loedolff-saak was ingrypend. Tog bied dit bepaalde rigtingwysers aan die NG Kerk in die huidige nadenke oor kerkverband:

Eerstens is die NG Kerk as gevolg van die hofsaak gedwing om te herorganiseer. Dat dit kon gebeur sonder dat daar van kerkskeuring sprake was, is belangrik. Die kerk het haarself in drie nuwe sinodes georganiseer, maar steeds NG Kerk gebly. Die feit dat nuwe verbande totstand gekom het, is nooit as kerkskeuring beskou nie. Dit was nie nuwe kerke wat totstand gekom het nie, maar nuwe sinodes. Van der Watt beklemtoon: “Die gemeentes buite die Kaapkolonie het egter die weg opgegaan van ’n afsonderlike kerkverband vir die Ned Geref Kerk in die verskillende provinsies, wat in die verloop van jare ’n besondere stempel geplaas het op die kerklike lewe. In besonder is daar geen afsonderlike kerke gestig nie, maar in die praktyk het dit dikwels die skyn aangeneem asof die weg opgegaan word. Dit was so ongelukkig as wat dit onnodig was. Die hofbeslissing het nie die kerk nie, maar die kerkverband geraak” (Van der Watt 1973:132). Hierdie beginsel moet ook vandag in ag geneem word. Indien nuwe verbande as gevolg van herorganisasie van die kerkverband onstaan beteken dit nie noodwendig kerkskeuring nie. Dit is presies wat die woord sê: “herorganisasie” wat net soos in die verlede met die verband en nie met die kerk self te doen het nie.

Tweedens was dit gemeentes buite die Kaapkolonie wat besluit het om saam te kom en nuwe verbande te vorm. Die inisiatief het van gemeentes uitgegaan en die gemeentes het die grense van die verband bepaal. Daarom is daar afsonderlike sinodes in die Vrystaat, Natal en Transvaal gevorm. Hierdie beginsel dat gemeentes saamkom om verband te vorm is in lyn met die Gereformeerde verstaan van kerkverband. Van der Watt is korrek wanneer hy skryf dat een sinode Noord van die Garieprivier voldoende sou wees (Van der Watt 1977:119). Dat dit nie so gebeur het nie, was eerder te wyte aan politieke faktore. Eksterne faktore, het dus ’n baie groter rol gespeel as teologiese belydenis. Daarteen moet gewaak word in ’n moontlike herorganisasie van die sinodale verbande van die NGK.

Derdens is die feit dat die grense van die nuwe verbande bloot met die
politieke grense van die tyd saamgeval het, tekenend van die onderhandelbaarheid daarvan. Sinodale grense is in die verlede deur die konteks wat geografies of selfs polities kon wees, bepaal, wat beteken dat
dit kan verander namate die konteks van die gemeentes verander. Gemeentes wat wil saamkom om nuwe verbande te vorm of om by ander verbande binne die NG Kerk aansluiting wil vind, moet gehelp moet word om dit so naatloos as moontlik te doen. So word die eenheid van die kerk gedien.

Laastens was teologie ’n belangrike rolspeler agter die gebeure van 1862. Alhoewel die hofbeslissing op Ordonnansie 7 berus het, en die saak deur die hof beslis is, het teologiese verskille ’n belangrike rol gespeel in die
aanloop tot die hofsaak. Van der Watt beklemtoon die feit dat die stryd agter die hofsaak ’n stryd tussen die voorstanders van leervryheid met die ortodokse rigting in die kerk was (Van der Watt 1973:95). Dit bevestig die feit dat teologiese verskille in die kerk ook kan bydra tot die ontstaan van nuwe verbande sonder dat dit as kerkskeuring getipeer hoef te word.

Indien van die standpunt uitgegaan word dat gemeentes verband vorm soos wat na die Loedolff-saak gebeur het, is die volgende resente voorbeeld uit die NG Kerk, ’n voorbeeld van hoe so ’n proses kan verloop: In 2012 het die NG Kerkgemeente Monumentpark-Wes versoek om deel te word van die Ring van Pretoria-Oos. Die gemeente was histories deel van die Ring van Lyttelton en die Oostelike Sinode van die NG Kerk. Aansluiting by die Ring van Pretoria-Oos het beteken dat die gemeente ook voortaan in die Noordelike Sinode van die NG Kerk sou tuiskom. Die proses wat gevolg is, word duidelik uit ’n brief van dr. G. Cloete aan die Algemene Sekretaris van die NG Kerk, dr. K. Gerber. In die brief skryf hy: “Die gemeente Monumentpark-Wes het versoek om by die Ring van Pretoria-Oos gegroepeer te word. Die twee betrokke ringe (Pretoria-Oos en Lyttelton) het reeds die versoek hanteer en goedgekeur. Die sinodale diensrade van die Noordelike- en Oostelike Sinodes het dit ook goedgekeur. Indien die gemeente by die Ring van Pretoria-Oos inskakel, bring dit onvermydelik ’n wysiging in sinodegrense mee. Volgens KO art 32 is die goedkeuring van ’n wysiging ’n funksie van die ASM. Hiermee dan die formele versoek vanaf die sinodale diensrade van die Noordelike- en Oostelike Sinodes dat die ASM die grens tussen die Noordelike- en Oostelike Sinodes so sal wysig dat Monumentpark-Wes by die Noordelike Sinode gegroepeer word” (Cloete 2012).

Hierdie versoek is op 1 Maart 2012 tydens die vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen goedgekeur en so het die gemeente nie
net deel geword van ’n nuwe ring nie, maar ook aansluiting gevind by ’n nuwe sinode. (Noordelike Sinode 2012)

Indien die proses wat gevolg is, geanaliseer word, word die volgende duidelik:

In die proses is ook besluit dat die gemeente se finansiële en ander verpligtinge teenoor die Oostelike Sinode oor ’n tydperk van drie jaar uitgefaseer sou word en in dieselfde tydperk by Noordelike sinode ingefaseer sou word (Van der Schyff 2011).

Die verloop van die proses was van gemeente (kerkraad) na ring na sinode na Algemene Sinode. Dit is ’n eenvoudige proses wat ook die ekklesiologiese verstaan van wat die kerk is, honoreer. Die herorganisasie wat so plaasgevind het, het volgens Artikel 32 van die Kerkorde van die NG Kerk verloop. Dit beteken dat gemeentes nog altyd volgens Artikel 3211
kon versoek om by ’n ander verband in te skakel – wat in wese die her-organisasie van die kerkverband behels. Wat nou deur baie gemeentes versoek word, is dat dieselfde proses net op groter skaal plaasvind.

  1. Slot

Tweehonderd jaar het verloop sedert die eerste “Algemene Synode” van die Nederduitse Gereformeerde kerk op 2 November 1824 in Kaapstad gekonstitueer het. Dit was ’n waterskeidingsoomblik in die geskiedenis van die kerk in Suid-Afrika. Vir die eerste keer kon gemeentes in verband met mekaar tree. Die verband wat so ontstaan het, is in 1862 deur die Loedolff-saak verwoes en gemeentes moes noodgedwonge hergroepeer om nuwe verbande te vorm. Dit het nie die kerk geskeur nie, maar bloot gelei tot nuwe sinodes in die Vrystaat, Natal en Transvaal. Die NG Kerk is weer by ’n waterskeiding wat kerkverband betref. Die gevolge van die Loedollf-saak kan die kerk help om die proses want tans uitspeel so te bestuur dat dit eenheid binne die NG Kerk gedien word. Ten einde dit te bewerkstellig kan gemeentes volgens ’n eenvoudige bestaande prosesse (Kerkorde artikel 32) toegelaat word om self te besluit met wie en waar hulle in verband wil tree. Die enigste vereiste behoort Skrif en belydenis te wees. Dit sal nie net die kerk se eie ekklesiologie honoreer nie, maar die pad oopmaak vir ’n kerk wat anders lyk, maar steeds een bly.

Bronnelys

Brown, W. 2002. 1824. Die eerste sinode vestig ’n kerkverband. In 350 jaar Gereformeerd. Kaapstad: Lux Verbi.

Cloete, G. 2012. Brief gedateer 27 Februarie 2012 gerig aan die Algemene Sekretaris van die NGK: Persoonlike korrespondensie van die outeur.

Coertzen, P. 2024. Kerkverband. In Christelike Kernensiklopedie. [Intyds]. Beskikbaar: https://ecke.co.za/kerkverband/ [Besoek: 15 April 2024].

Eybers, J. 2024. Rapport, 18 Februarie 2024. Krisis-uur breek aan vir die NG Kerk. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.netwerk24.com [Besoek: 12 April 2024].

Extrakt van Notulen van de Algemene Kerkvergadering te Pietermaritzburg 1865. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/ KN_Notule_1865 [Besoek: 20 April 2024].

Handelingen van der Eerste vergadering van de Algemene Synode der Nederduitsch Gereformeerde kerk van Zuid-Afrika. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/WK _Notule_1824.pdf [Toegang: 20 Februarie 2024].

Handelingen van der sevende vergadering van de Algemene Synode der Nederduitsch Gereformeerde kerk van Zuid-Afrika. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/WK _Notule_1847.pdf [Besoek: 10 Maart 2024].

Handelingen van der negende vergadering van de Algemene Synode der Nederduitsch Gereformeerde kerk van Zuid-Afrika. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/WK _Notule_1857.pdf [Besoek: 10 Maart 2024].

Handelingen van der tiende vergadering van de Algemene Synode der Nederduitsch Gereformeerde kerk van Zuid-Afrika. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/WK _Notule_1862.pdf [Besoek: 15 Maart 2024].

Handelingen der Kerkvergadering van de Nederduitsch Gereformeerde kerk der Zuid -Afrikaanse Republiek. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/TVL _Notule_1866.pdf [Besoek: 10 Mei 2024].

Heyns, J.A.1981. Dogmatiek. Pretoria: N.G. kerkboekhandel Transvaal.

Kleynhans, E.P.J. 1973. Die Kerkregtelike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1795-1962. ’n Kerkhistories-kerkregtelike studie. Stellenbosch: Ongepubliseerde proefskrif Universiteit van Stellenbosch.

Kleynhans, E.P.J. 1985. Gereformeerde Kerkreg, Deel 3. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal

Koffeman, L.J. 2009. Het goed recht van de Kerk. Kampen: KOK.

Koinonia sinode. [Intyds]. Beskikbaar: https://koinoniasinode.org.za/ [Besoek: 10 April 2024].

NGK 2019. Agenda van die Algemene Sinode. Sl.sn.

NGK 2023. Agenda van die Algemene Sinode. Sl.sn.

NGK. 2019. Kerkorde.Sl.sn.

NGK in Namibië. 2023. Brief van Moderamen. 8 November.Sl.sn.

Noordelike Sinode van die NGK. 2021. Nuusbrief: Verskil. 30 Maart 2012.Sl.sn.

Oostelike Sinode van die NGK, 2021. Notule. Sl.sn.

Porter, W. 1886. The Porter Speeches. Cape Town: Trustees Estate Saul Solomon.

Van der Watt, P.B. 1973. Die Loedolff-saak en die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1862-1962. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

Van der Watt, P.B. 1976. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652-1824. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel.

Van der Watt, P.B. 1977. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1834-1866. Pretoria: N.G.Kerkboekhandel.

Van der Schyff, H.J. 2011. Brief: 6 Desember 2011. Persoonlike korrespondensie van outeur.


1 https://www.kerkargief.co.za

2 Dit val buite die fokus van hierdie artikel om die belangrikheid van Skrif en belydenis in die vorming van kerkverband in diepte te bespreek. Dié tema is ’n onderwerp vir verdere navorsing en moontlike verdere artikels.

3 Alhoewel die verstaan van die ekklesiologiese identiteit van die NGK kernbelangrik is, val die bespreking daarvan buite die fokus van hierdie artikel.

4 In die Gereformeerde tradisie word die verskillende vergaderings nie hiërargies georden nie. Dit is daarom nie ’n proses van onder na bo nie, maar wel van die die kern waar gemeentes is, na buite waar meerdere vergaderings wat meerdere verteenwoordiging behels, saamkom.

5 Dit is soos volg verwoord: “His Excellency’s entire approbation of proposed measure.”

6 Gemeentes teenwoordig was: Kaapstad, Stellenbosch, Paarl, Tulbach, Zwartland, Graaff-Reinet, Swellendam, Caledon, George, Uitenhage, Somerset-Wes en Worcester. Afwesig: Cradock en Beaufort-Wes (Van der Watt 1976:41).

7 Die Algemene Sinode van die NGK word uit sinodes saamgestel en nie uit gemeentes nie.

8 Vir detail in die verband sien Van der Watt (1973:93).

9 Vir ’n gedetaileerde bespreking van die Loedolffsaak, Sien van der Watt (1973:104–119).

10 Vir ’n meer volledige opsomming van die uitspraak, sien: Porter (1886:87).

11 Artikel 32 van die Kerkorde van die NGK lui soos volg: Die sinode word saamgestel uit afgevaardigdes van gemeentes wat geografies ’n eenheid vorm en maklik vergader. Die groepering kan deur die Algemene Sinode/Algemene Sinodale Moderamen gewysig word op versoek en met goedkeuring van die betrokke sinode(s)/sinodale kommissie (Kerkorde 2019:10).